PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/4h6dzdxz

In 1Korintiërs spreek Paulus 'n aantal pastorale kwessies aan waaroor die Korintiërs oënskynlik aan hom geskryf het (7:1; 7:25; 8:1; 12:1; 16:1).

            Die 3 hoofstukke, 12-14, is so 'n antwoord. Die 3 hoofstukke is 'n eenheid. Presies wat die Korintiërs se vraag was, weet ons nie, maar die apostel spreek hier 'n probleem aan wat waarskynlik eie was aan hierdie gemeente. Oënskynlik het hulle 'n ongesonde beheptheid gehad met die gawe van tale en dit as dié merkteken van geestelikheid beskou.

Hoofstuk12: Enkele perspektiewe

#          Oor die gawes van die Gees wil die apostel nie hê dat sy lesers onkundig moet wees nie. Dit geld uiteraard ook vir ons.

#          Die Korintiërs was rou heidene voor hulle bekering, en was gevolglik bekend met allerlei geesteservarings (2). Daarom moet hulle weet om fyn te onderskei tussen demoniese aktiwiteite, en die openbaringe wat van die Heilige Gees kom. Wat Paulus dan essensiëel in v.3 vir hulle sê, is dat die verskil te doen het met wat oor Christus gesê word. Word Hy verheerlik of nie? Dis die eerste maatstaf.

#          Vanaf v.4 wil die apostel veral drie dinge oor die funksionering van die charismata in 'n gemeente beklemtoon. En dit volg vanuit die feit dat die Drie-enige God die oorsprong daarvan is (4-6).

            +          Eerstens, aangesien die gemeente die liggaam van Christus is, volg dit noodwendig dat die Heilige Gees deur die hele liggaam sal werk. Elke ledemaat het deel daaraan. Elke lidmaat het dus 'n gawe of gawes.

            +          Tweedens, is daar baie maniere waarop die gawes tot uitdrukking kom. 'n Sleutelgedagtes in hierdie hoofstuk is die begrip "verskeidenheid".

Eenheid in 'n gemeente

kom dus nie tot uitdrukking in eendersheid nie

maar in verskeidenheid wat in harmonie funksioneer.

            +          Derdens, aangesien al die gawes Christus wil verheerlik, en aangesien alles van God drie-enig kom, volg dit noodwendig dat geen gawe meer verhewe of geestelik as 'n ander is nie. Dus is niemand in die gemeente minderwaardig (14-20) of meerderwaardig (21-25) nie.

#          Maar (31), verskeidenheid is nie noodwendig in harmonie nie. Daar moet hard aan gewerk word  soos in die geval van 'n simfonieorkes of sportspan.

            Presies hier lê die Korintiërs se probleem. Hulle kompeteer met mekaar – hulle soek die sogenaamde beste gawes (sien NIV voetnota). En volgens hoofstuk 14 is hulle behep met tale.

Hoofstuk 13: Die kwalifikasie

#          Nee, nee, sê die apostel, die heel belangrikste ding in 'n gemeente is onderlinge liefde. Daar is geen plek vir kompetisie en naywer nie. Ook die beoefening van die gawes moet daardeur beheers word. Daarsonder is alles tevergeefs. Die spreek in tale is dan bloot 'n lawaai. Profesie, woorde van kennis, en geloof – beteken dan 'n ronde nul.

            Dit wat nie uit 'n hart vol liefde ontspring nie, baat absoluut niks nie.

Hoofstuk 14: In meer besonderhede

#          In hierdie hoofstuk spreek Paulus die spesifieke probleem in Korinte aan. Sy punt is dít: Een van die belangrikste funksies van samekomste is die opbou van die gemeente (3,4,5,12,17,26). En as die beoefening van die gawes nie dít bewerkstellig nie, is alles sinneloos en tevergeefs.

            Presies daarom is profesie by verre verkieslik bo tale.

#          Só beredeneer die apostelk dit in hierdie hoofstuk:

            +          Verse 1-5: Die argument in 'n neutedop.

            Profesie moet voorrang geniet bo tale, aangesien dit die gemeente opbou. Daarenteen beteken onverstaanbare tale net vir mens sélf iets – tensy, natuurlik, dit getolk word.

Die doel van die charismata

is die opbou van die gemeente

Daarvoor is egter minstens drie kwalifikasies noodsaaklik:

            +          Verse 6-20: As dit dan gaan oor die opbou van die gemeente, is verstaanbaarheid 'n eerste vereiste. Hieraan beantwoord profesie, maar nie tale nie – in elk geval nie as dit nie uitgelê word nie.

            Let onder meer op die volgende:

           

                        =          In v.7-11 gebruik Paulus drie illustrasies om die voor die hand liggende vereiste van verstaanbaarheid tuis te bring:

            Een, musiekinstrumente moet musiek maak, nie lawaai nie (7-8).

            Twee, die tong is daar vir intelligente spraak, nie net om geluide mee te maak nie (7-11).

            Drie, alle tale in die wêreld se doel is immers om te kommunikeer (10-11).

                        =          Paulus ontken nie dat glossolalie (die gawe van tale) 'n plek het in die Christelike lewe nie; trouens, hy self praat baie in tale. Maar as dit nie uitgelê word nie, het dit geen sin in die gemeente-byeenkoms nie (v.18,19).

                        =          Só voor die hand liggend is die logika van hierdie voorskrif, dat dit werklik kinderagtig is om op loop te gaan met die beoefening van tale in 'n gemeente-byeenkoms (20).

            +          Verse 21-25: 'n Tweede vereiste is welvoeglikheid. Dit is veral van belang met die oog op ongelowiges wat die byeenkoms mag bywoon. En destyds was daar omtrent altyd diesulkes.

            In die Ou Testament was die vreemde tale van die Babeloniërs 'n teken vir die ongelowige Israeliete dat God se oordele op hande is (Jer 5:15; Jes 28:11). Net so sal die Korintiërs se glossolalie vir die ongelowige besoekers 'n teken wees dat die klomp Christene mal is – so sal hulle noodwendig dink.

            Daarenteen kan verstaanbare profesie lei tot die bekering van ongelowiges.

            +          Verse 26-38: 'n Derde vereiste vir die charismatiese gawes om vir die hele gemeente waarde te hê, is ordelikheid.

                        =          Hoe groter die verskeidenheid van bydraes in 'n bepaalde samekoms, hoe groter is die noodsaak vir orde (26).

                        =          As daar tóg tale beoefen word, is drie dinge noodsaaklik (27-33):

            Eerstens moet hoogstens twee of drie mense 'n geleentheid kry.

            Tweedens moet dit beurtelings geskied.

            Derdens moet dit getolk word (dis wat die Griekse woord vir "uitlê" beteken). Só noodsaaklik is dit, dat as daar niemand in die byeenkoms is wat die betrokke taal verstaan en dus nie kan tolk nie, moet geswyg word.

                        =          Wat die beóórdeling van profesie betref, maak die apostel 'n verdere ordereëling: Vrouens mag nie hieraan deelneem nie (34-35).

            Waarom nie, sou ons kan vra. Hulle kon immers volgens 1Kor 11:5 en Hand 21:9 inderdaad profeteer? Dis die antwoord: Beoordeling van profesie, oftewel die beslissing oor wat die Here vir die gemeente sê, is 'n regeringsfunksie – en daarvan is vrouens uitgesluit.

            +          Verse 36-38: Geestelike mense sal besef, dat hierdie nie bloot Paulus se opinies is nie – dis inderdaad die Here se bevele.

            +          Vers 39: Daar is geen twyfel nie: Profesie is éíntlik die gawe wat waarde het in die gemeentelike samekoms. Daarop moet die mense hulle toelê.

            Tog moet tale nie summier verbied word nie. Dit is per slot van rekening ook 'n gawe van die Heilige Gees.

            Les bes: Laat alles smaakvol en ordelik verloop!

Vier opmerkings

1.         'n Voorvereiste vir liggaamsbetrokkenheid is dat elkeen sy verantwoordelikheid opneem

Paulus begin hoofstuk 14, en sluit dit dan weer af met die oproep tot die gelowiges om erns te maak met die beoefening van die gawes van die Gees (14:1,39). In beide gevalle dui die werkwoord op 'n voortgaande en ywerige ingesteldheid. Gemeentebetrokkenheid kan deur 'n voorganger gedemp word, maar nie bewerkstellig word nie. Almal moet die wa help trek.

       Dit beteken ten minste 3 dinge.

            +          Eerstens moet ek verstaan en glo dat die Here deur mý 'n stukkie genade vir my broers en susters wil gee. Volgens 1Pet 4:10-11 ontneem ek hulle van God se seën as ek nie my kant bring nie. Nog erger, ek veroorsaak dat die vertoning van God se veelkleurige genade deur die gemeente nie is wat dit moet wees nie (vgl. Epreek P007).

            +          Tweedens moet ek vrymoedigheid neem. Dikwels is mens lui of moeg of skaam, en wil net stil sit en luister (slaap?). Goed en wel. Maar terselfdertyd móét ek myself dikwels maar vasvat en doelbewus my kant bring.

            +          Derdens moet ek voorbereid na elke byeenkoms toe kom. Soms beteken dit inhoudelike voorbereiding, soos in die geval van 'n preek. Maar altyd moet ek sorg dat my ingesteldheid reg is. Ek moet as 't ware op die voorvoet byeenkoms toe kom – gereed en gretig om 'n sinvolle bydrae te lewer.

2.         Ons praat nie oor 'n opsionele en onbelangrike saak nie

Ons praat oor gawes wat die Drie-enige God vir ons voorberei, en aan ons toevertrou het (12:4-6). Ons praat oor die opbou en welsyn van die liggaam van ons Here Jesus Christus (12:12-13,27). Ons praat oor die verheerliking van die Here.

            Waarlik, die priesterskap van alle gelowiges het alles te doen met ons verhewe roeping hier en nou, en die verskil tussen valse en ware kerkwees.

3.         Onthou, ons het na hierdie hoofstuk op sigwaarde gekyk – asof ons in die eerste eeu leef

Dis my oortuiging  op grond van Bybelse argumente waarop ons nie nou kan insak nie – dat van die gawes wat in hierdie hoofstukke genoem word, sedertdien grootliks verander, of bykans heeltemal verdwyn het.

4.         Hierdie drie hoofstukke moet nie geïsoleerd vertolk en toegepas word nie

Die eerste brief aan die Korintiërs is in 54 of 55 n.C. geskryf.

            Paulus en Titus skryf hulle pastorale briewe, met voorskrifte vir die aanstelling van ouderlinge en diakens eers 8 of 9 jaar later, in 62 of 63 n.C.

            Hierdie historiese ontwikkelingsgang moet sekerlik in gedagte gehou word as mens ons drie hoofstukke verantwoordelik wil verstaan – en toepas op óns dag.

#          Daar kan min twyfel wees dat wye gemeentelike betrokkenheid, veral vóór die sestiger jare, aan die orde was in daardie eerste gemeentes. Waarskynlik, eintlik vir seker, was formele prediking dus nie so prominent in gemeentes nie.

            +          Onthou dat die Nuwe Testament, soos ons dit ken, nog nie beskikbaar was nie. Die gemeentes moes tussen apostoliese besoeke, wat selfs jare kon wees, self regkom.

            Die apostoliese geskrifte, oftewel Nuwe Testament, het egter algaande al hoe meer volledig beskikbaar geraak.

            +          'n Meer formele struktuur in gemeentes, kan ons aanvaar, het vanaf die sestiger jare toenemend meer vorm aangeneem. Al hoe meer gemeentes het dus 'n vaste voorganger en prediker, of predikers begin kry het. So sou formele prediking 'n meer prominente plek begin inneem het. Byeenkomste sou dus meer en meer die vorm begin aanneem het van dit wat alreeds van die begin af tydens apostoliese besoeke gebeur het. Dink maar aan Eutigus wat tydens 'n "enigsins lang" preek van Paulus (dwarsdeur die aand, tot die volgende oggend dagbreek toe) aan die slaap geraak en uit 'n venster geval het (Hand 20:7-12).

#          As ons dus die volle Nuwe Testamentiese prentjie wil hê, moet ons béíde hierdie perspektiewe vashou. Enersyds sou daar in sommige byeenkomste baie ruimte gewees het vir liggaamsdeelname. Andersyds sou in ander byeenkomste die gemeente se grootste rol gewees om doodstil na die verkondiging van die Woord te sit en luister.

Hoeveel skade word nie aan die Here se naam gedoen nie

omdat groot dele van dit wat deurgaan as die kerk

onder meer bogenoemde Nuwe Testamentiese perspektiewe buite rekening laat

naamlik dat daar

ja 'n oorwegend-sterk kontinuïteit tussen die apostoliese en die na-apostoliese kerk is

maar meteen ook 'n sekere diskontinuïteit

en gevolglik van die perd afval

óf na die een kant toe

óf na die ander kant toe

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev