PDF WEERGAWE

Preekopname:   https://tinyurl.com/32bucx8s

 

Die huidige polemiek in koerante oor die gesag van die Bybel het my net weer die vraag laat vra waarom ek die Bybel as God se geïnspireerde, gesagvolle, en genoegsame waarheid aanvaar. Het God m.a.w. inderdaad die Bybelskrywers gelei om Sy besondere openbaring aan die mens akkuraat en betroubaar neer te skryf? Is die historiese oortuiging en belydenis van die kerk dus korrek – of is ek besig met 'n gejaag na wind as ek my hele lewe daarvolgens inrig, en al my gawes, energie en tyd daaraan wy om die inhoud daarvan te verduidelik en so wyd as moontlik bekend te maak?

1.      Ek glo die Bybel is God se geïnspireerde Woord, omdat Hy self die geloof deur Sy Gees in my geplant het.

Dit was en bly 'n wonderwerk van Sy soewereine genade. Dit het net meer as veertig jaar gelede[1] gebeur na baie maande van wroeging. Ek het geweet dat die Bybel óf algeheel betroubaar is, óf die grootste bedrogspul van die eeue is. 'n Kompromie tussen hierdie twee uiterstes is nie moontlik nie, aangesien die Bybel van homself sê dat hy van A tot Z in alles God se gesagvolle Woord is. As een deel dus vals is, is alles onder verdenking.

            'n Wonderwerk het egter plaasgevind – en my stryd was permanent iets van die verlede! En dalk is dit nodig om te sê dat ek nie 'n naïewe sewentienjarige was wat 'n emosionele skoolverlaterskamp besoek het nie; ek het as natuurwetenskaplik en wiskundig skerp geslypte siviele ingenieur op die Oranjerivier-projek gewerk.

2.      Ek glo die Bybel is God se geïnspireerde Woord, omdat ek 'n enkelhartige navolger van Jesus Christus is.

Die Here Jesus het dit kinderlik gelowig geglo. Die Nuwe Testament is vol daarvan! Nooit het Hy die Ou Testament bevraagteken nie; inteendeel. En ek volg puntenerig in Sy spore.

3.      Ek glo die Bybel is God se geïnspireerde Woord, omdat die Bybel self vir my so sê.

Ek gaan dus nie skepties en wantrouig na die Skrif toe nie, maar met 'n oop en afwagtende gemoed. Só leef ek doelbewus. As 'n man vir my sê ek kan hom vertrou, dan doen ek dit. Ek gee hom die voordeel van die twyfel, tensy sy optrede algaande dit onmoontlik maak.

            Naïef en 'n sirkelargument? Nee. Dis wellewendheid. Wat meer is, aangesien daar geen hoër gesag is waaraan God (en dus die Bybel) se aansprake getoets kan word nie, moet Hy Hom per definisie op Homself beroep as dit oor sy gesag gaan (soos wat God noodwendig by Homself moes sweer in Heb 6:13-20).

4.      Ek glo die Bybel is God se geïnspireerde Woord, omdat baie jare se omgang daarmee my steeds meer en meer onder die indruk bring van die geïntegreerdheid en konsekwentheid van sy boodskap.

Dis ten spyte daarvan dat die ses-en-sestig boeke waaruit die Bybel bestaan, wat oor die strekking van plus-minus 'n millennium en 'n half deur 'n stuk of veertig skrywers van uiteenlopende kulture agtergronde geskryf is.

            Baie ongelowig-kritiese, maar eerlike denkers wat die Skrif bestudeer het – dikwels juis met die doel om dit as vals te bewys ­– het al in die proses tot bekering gekom.

            Voorts fassineer die onmiskenbare en onderlinge samehang van Ou en Nuwe Testament my toenemend!

5.      Ek glo die Bybel is God se geïnspireerde Woord, omdat die sentrale boodskap daarvan – die evangelie in Christus – uniek is, en lynreg indruis teen die benadering van alle godsdienste in hierdie wêreld.

Al die religieë (ook "vals churchianity", indien nie uitdruklik nie, ten minste per implikasie) preek dat ons na God toe moet opklim langs seremoniële en moralistiese lere.

            Die Bybel, daarenteen, verkondig dat God soewerein in Sy liefdesgenade reddend na sondaars toe afbuig. As die evangelie afgekook word tot sy wesentlike essensie, dan is dit die woorde: God red sondaars!

            Natuurlik dra die Bybel 'n etiese boodskap, natuurlik leer dit die mens se verantwoordelikheid voor sy Skepper, maar dit alles ontspring vanuit God se vrye genade in Christus alleen. Dis waarom Christene se gehoorsaamheid altyd ingebed lê in die wonderlike beginsel van vryheid.

6.      Ek glo die Bybel is God se geïnspireerde Woord, omdat soveel uitsprake en beloftes daarin sowel histories vervul is[2] – en ek en Soniah al vir dekades proefondervindelik die vervulling daarvan ervaar.

Dosyne Ou Testamentiese profesieë oor Christus is in die fynste besonderhede in Hom vervul. Jesaja 53, byvoorbeeld, is eeue voor Sy koms geskryf!

            En persoonlik ken ek en Soniah proefondervindelik die wáárwording van talle beloftes in die Bybel in antwoord op gebed.

            Vir dekades reeds vertrou ek en my vrou ons hemelse Vader, byvoorbeeld, vir al ons materiële behoeftes – en diegene wat ons ken sal getuig dat ons hoegenaamd nooit met borge of skimpe werk nie. Só ernstig is ons daaroor dat ons al vir dekades selfs nie enige formele "salaris" van enige gemeente verwag of aanvaar nie. En ek onthou eerlikwaar nie 'n maaltyd wat ons al moes oorslaan omdat daar nie kos was nie.

            Laat ek my haas om te beklemtoon, hierdie lewenswyse maak ons alles behalwe unieke "geloofsreuse". Sedert die apostels het derduisende predikers en sendelinge só geleef.[3]

7.      Ek glo die Bybel is God se geïnspireerde Woord, omdat dit my lewe onuitspreeklik verryk het.

Op my intellektuele en filosofiese vrae bied dit my weer en weer die lig wat ek soek. Trouens, daar is sekere fundamentele vrae waarmee ongelowige denkers deur die eeue stoei, wat nét deur die Bybel beantwoord word – en, wat my betref – totaal bevredigend.

            Die Bybel se norme en riglyne lei tot 'n lewe van sin en uitnemendheid, terwyl dit soos klokslag op katastrofe uitloop as jy daarvan afwyk. En, by verre kosbaarste van alles, dit het aan my die allerantwoord gegee op die vraag waarmee Job al geworstel het: "Hoe kan 'n skepsel regverdig voor sy Maker staan?"

8.      Ek glo die Bybel is God se geïnspireerde Woord, oor die onmiskenbaar-positiewe effekte daarvan.

Die Bybelse ordes lei altyd weer tot voorspoed – geestelik, emosioneel, moreel en selfs materiëel. Oor die jare heen het ek male sonder tal die opheffende vrug van Bybelgeloof in mense en families se lewens gesien. Ek het gesien hoe situasies van duisternis en wanhoop omskep is in lig en lewe en welsyn en sin. En sonder uitsondering het dit saamgehang met 'n kinderlike geloof in die gesag en betroubaarheid van die Woord – én die uitlewing daarvan.

            Waar is daarenteen die opheffende vrug van ongeloofsteologie? Trouens, teoloë wat die gesag van die Bybel aftakel, ondermyn baie se geloof en lewensgeluk, om nie van hulle ewige bestemming te praat nie.

9.      Ek glo die Bybel is God se geïnspireerde Woord, omdat dit die toets van die tyd deurstaan het.

Altyd geld dit: Tot die mate wat 'n samelewing die Bybelboodskap gelowig omhels, tot daardie mate veredel dit so 'n samelewing. Tot die mate wat daarvan afgewyk word, tot daardie mate tree maatskaplike verval en verrotting in.

            Meer nog, niks kon die Bybel deur die eeue doodmaak nie, of die geloof wat dit in sondaarmense verwek, onderploeg. Trouens, hoe feller die vervolging, hoe kragtiger het die ware kerk geword. En altyd loop dit saam met 'n nederige geloof in die betroubaarheid van die Bybel.

            Daarenteen bly geen twyfelaar in tye van aanslag staan nie. Ongeloofsteologie werk dus destruktief in op die toekoms van 'n samelewing. Die geskiedenis is daar vir almal om te lees.

10.    Ek glo die Bybel is God se geïnspireerde Woord, omdat dit my in pas lei met van die grootste denkers en edelste mense van alle tye.

Ja, daar was ongelukkig baie Christene, en veral "Christene", wat die Bybel oneer aangedoen het. Maar dan was dit omdat hulle dit nie regtig geglo het nie, of dit nie behoorlik uitgeleef het nie.

Waarlik, die historiese Christelike geloof

– ook sy Skrifbeskouing –

is my vreugde en heerlike sekuriteit.

Soos Spurgeon, kan ek sê:

"As ek in die gange van die tyd terugstap,

staan een na die ander man en vrou van God op en skud my hand."

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Hierdie is in 2013 of 2014 geskryf. Ek het in 1973 tot bekering en onmiskenbare herskepping gekom.

[2]           In die preek (skakel hierbo) vertel ek byvoorbeeld van merkwaardige historiese gevalle.

[3]           Oor sommige van die glasheldere Bybelbeloftes in die verband, en enkele van ons ervaringe daarvan, skryf ek op my webwerf: www.imagodei.co.za > Afrikaans (of Engels) > Allerlei > Oortuigings en Opinies