Vandag is Geloftedag. Ek is gevra om spesifiek 'n preek by hierdie leentheid te lewer – maar met die kwalifikasie daarby dat dit betrekking sal hê op die geleentheid. In my voorbereiding moes ek dus 'n kompromie maak tussen Skrifuitleg en 'n "toespraak". Terselfdertyd moet die inhoud my hartgrondige oortuiging wees.
Vir my as 'n lerende evangelieprediker is dit geen maklike opdrag nie, maar ek vertrou dat dit wat nou volg, min of meer sal beantwoord aan die verwagtinge.
# Ons leef in 'n tyd van aanslae teen die histories-christelike geloof. Afgesien van aanslae van buite af, vind die mees meedoënlose ondermyning binne die laer plaas (om maar 'n gepaste uitdrukking op hierdie dag te gebruik). Ek sinspeel op predikers en teoloë wat uitasem poog om in pas te bly met die tuimelgang van die gevalle wêreld waarin ons leef – in die besonder met die huidige post-modernistiese lewens- en wêreldbeskouing wat die toon aangee. Onvermydelik suur dit vinnig deur na die derduisende lidmate wat grootliks die vermoë om te onderskei tussen die waarheid en die leuen verloor het, te wyte aan mensgesentreerde, ryswater-prediking oor jare heen.
En helaas neem dit ook wyd-verspreide, tragiese en noodlottige afmetings aan in die kerk onder Afrikaners – om vandag dan spesifiek op húlle te fokus.
Dít, presies net dít, glo ek van harte, is ons heel grootste bedreiging.
Níé ons wêreldwye verstrooing deur die emmigrasie van tienduisende,
of wydverspreide kultuur-, insluitende taalversaking nie.
Laat ek dadelik kwalifiseer: My besorgdheid gaan nie primêr oor die behoud van die Afrikaner en sy kultuur nie, maar oor die eer van Jesus Christus, die koms van sy koninkryk, en die behoud van sy kerk. Sou eersgenoemde vir ons voorop staan, slaan ons die bal totaal mis, en sal dit as sodanig tot ons spoedige ondergang dien.
# Wat is my betoog dus by hierdie geleentheid?
Die huidige wydverspreide ontbinding in die kerk onder Afrikaners, het nie gister of eergister kop uitgesteek nie. In plaas van die deformasie wat aan die orde van die dag is (ek verf met 'n breë kwas; daar is uiteraard baie uitsonderings) – is reformasie dringend noodsaaklik.
Wat is reformasie?
Wat is dit níé? Dis nie aanpassing nie!
Reformasie is om terug te keer na eerste beginsels toe.
Algaande raak enige stroom water immers al hoe meer besoedel.
Die antwoord lê in terugkeer na die oog van die fontein toe.
Ad Fontem!
En hiervoor is waarheidsprediking onontkombaar noodsaaklik. Voordat mense reg kan glo en leef en doen, moet hulle eers reg verstaan.
Waar sal genoeg sulke predikers, diep gelowig en vol gloeiende ywer vandaan kom? Net die Hoof van die kerk kan hulle voorsien. Hy het dit dikwels in die verlede gedoen. Hy kan dit weer doen.
En óns taak? Persoonlik terug na die Fontein toe – die drie-enige God en sy Woord waarin ons sy selfopenbaring het. Dis die Fontein!
Wysheid in 'n tyd soos hierdie
# Die befaamde negentiende eeuse prediker in Londen, C.H Spurgeon, se lidmate het op 'n slag na hom toe gekom met 'n kwelvraag: "Mnr. Spurgeon, hoe kan ons weet die evangelie wat jý preek is die waarheid – as daar so baie predikers in hierdie stad is wat 'n ánder boodskap verkondig?"
# As dit destyds 'n brandende vraag was, hoeveel te meer nie vandag nie? Ons tyd word gekenmerk deur hóéveel stemme wat elkeen daarop aanspraak maak dat hý die waarheid beet het. Geloofsbakens word aanmekaar verskuif. Daar is 'n sug na die nuwe. Sóveel is vloeibaar.
Verwarring en onsekerheid is gevolglik aan die orde van die dag.
# Is dit 'n wonder dat die kerk (ek sê weer, ek praat in algemene terme) in duisende gemoedere 'n patetiese voorwerp van bespotting is? Ons maak aanspraak daarop dat ons 'n boodskap van ewige heil verkondig, maar op ons pad daarheen is ons so deurmekaar soos 'n konfytblik vol erdwurms – want soveel hoofde, soveel sinne.
# Spurgeon se antwoord aan sy jongmense, in 'n tyd toe ongeloofsteologie net so aan die orde was in Europa soos vandag hier by ons, getuig van nugtere wysheid: "As ek deur die gange van die tyd terugstap, staan een na die ander man en vrou van God op en skud my hand." En toe noem hy 'n hele rits name van bekende en gerespekteerde gelowiges deur die eeue, vanuit talle denominasies, wie se teologie en arbeidsvrug vas bly staan het – ten spyte van 'n duisternis aanslae.
Spurgeon het hom beroep op die kerk se oortuigings- en waarheidskonsensus deur die eeue. Hy het hom beroep op die historiese Christelike geloof! "Meet my aan die geskiedenis", het hy per implikasie gesê, "en kyk of ek iets nuuts verkondig." Hy het nie voorbarig en ambisieus sy eie teologiese wielletjie probeer ontwikkel nie. Hy was tevrede om presies dieselfde evangelie as die Puriteine en die Reformatore, die kerkvaders en die martelare, die Apostels en Jesus Christus te verkondig.
# Wat Spurgeon verstaan het, moet ons almal verstaan: Al leef ons in 'n wêreld wat gedurig verander, is daar sekere dinge wat nóóit verander nie. Dis vaster as die berge. God verander nooit nie, ook nie Sy waarheid nie. Die mens het sedert die sondeval moreel niks gevorder nie. Die vorige eeu het die bloedigste oorloë van alle tye opgelewer. En kyk maar na die wêreldtoneel vandag. Dis omdat mense se sonde en verlorenheid nie verander het nie. Dus het God se verlossingsplan en evangelie nie verander nie. En daarom verander die kerk se roeping en verlossingsboodskap ten diepste ook nie!
# Terwyl tallose dinge vir die Christen, asook die Bybel totaal om 't ewe is, is daar sékere waarhede en norme wat kompromieloos vasgehou moet word.
Sewe hoekpenne of bakens
Hoekpen 1
# Binne die groot spektrum van Bybeluitsprake is daar sekere dinge wat belangriker is as ander. Die Bybel is nie oor alles ewe duidelik nie. Maar op ander dinge dring die Skrif met groot nadruk aan – sodanig dat jy daarsonder nie 'n Christen, of waarlik kerk kan wees nie. So, byvoorbeeld, spel die Skrif nie glashelder uit presies hoe die kerk georden en geregeer moet word nie. Maar oor God se verlossingsplan en die hóé van ons redding kan daar nie die minste twyfel of willekeur wees nie. Dit gebeur op één manier, en net so. Wyk slegs net effens daarvan af – en jy tuimel die donker dieptes van verlorenheid in!
Vir baie eeue reeds is daar 'n wonderlike gesegde in die kerk:
In necessariis unitas
In nonnecessariis et dubiis libertas
In omnibus caritas
Ons kan die Latyn vry só vertaal:
In die noodsaaklike dinge moet daar eenheid wees
in die nie-noodsaaklike en onsekere dinge, vryheid
In alles liefde
# 'n Merkwaardige eienskap van die ware en gespierde evangelie is die tydloosheid en universele rerelevansie daarvan. Ongeag die eeu of kultuur: die evangelie bly prakties en ter sake vir een en elkeen. In die groeibodem van ryk en arm, geleerd en ongeletterd, oud en jonk ontkiem en groei die kerk ewe goed. Die absolutes, die noodsaaklikes, is en bly universeel en tydloos. Dit spreek die nood en vrae van álle mense aan.
Hoekpen 2
# Dis nodig dat die hoekpenne van ons geloof presies in posisie vasbeton moet wees. Sonder vaste "benchmarks" weet ons eenvoudig nie hoe om hedendaagse leringe en praktyke te beoordeel nie. Sonder die onbeweeglike ankers van universele, absolute en objektiewe waarheid, is ons soos kurkproppe op die see van 'n duisend menslike opinies.
Nee, die noodsaaklik hoekpenne verseker dat mens se geloof presies in plek vasbeton word. Sonder sulke uitdruklike vaste bakens is dit onmoontlik om hedendaagse leringe en praktyke te beoordeel.
# Dekades se prediking in groot dele van die kerk onder Afrikaners het lidmate beswaarlik toegerus om die absolutes van reddende geloof te ken. Onderskeidingsvermoë vereis dat mens vanuit eerste beginsels sal dink. Dit alleen rus toe met onderskeidingsvermoë om die geestesstrominge in jou kultuur te onderskei.
Die elledige toestand vandag veroorsaak dat mense beswaarlik in staat is om vaste Bybelse spyse te verteer. Suspisie, selfs vyandiggesindheid teenoor sg. "dogma" is aan die orde van die dag. Mense is onseker wat hulle moet glo of nie glo nie.
In hulle soeke na vastigheid, lees hulle min of meer alles wat voorkom (helaas help talle sogenaamde Christelike boekwinkels meermale alles behalwe)
Die gevolg? Mense raak al hoe meer deurmekaar en onseker. En tot daardie mate verdwyn alle koninkryks-bruikbaarheid. Die tipiese Christen (of sogenaamde Christen) is vandag allermins toegerus om die relativisme van postmodernisme die hoof te bied.
'n Verdere God-onterende ellende is dat sóveel gemeentes elke nuwe resep uitprobeer in die hoop dat dít dalk die allerantwoord op hulle insekuriteite en kwyning sal wees. As mens vir niks staan nie, val jy immers vir alles.
Dit kan nie oorbeklemtoon word nie:
Lidmate moet toegerus word om die hoekpenne
van die ware geloof duidelik te verstaan.
Vanaf die vroegste tye af het die ware kerk gepoog om hierdie ononderhandelbares te formuleer. Die noodsaaklike moes onderskei word die nie-noodsaaklike.
Die neerslag hiervan is vasgelê in die talle reformatoriese belydenisskrifte wat deur die eeue ontstaan het. Bestudeer mens hierdie geskrifte versigtig, kom jy spoedig onder indruk van die insig en versigtigheid waarmee die essensiële so akkuraat moontlik gedefiniëer is.
Voorts kom jy gou agter hoe gering die verskille dwarsoor 'n breë denominasionele spektrum is. Dit geld selfs van díé wat aan verskillende kante van die spektrum lê – soos die Anglikane se 39 Articles enersyds, en die Baptiste se 1689 Belydenis andersyds. Eintlik loop die paaie net uiteen as dit oor kerkregering en die doop gaan.
Ja, ons praat van menslike geskrifte – uiteraard feilbaar, en steeds toetsbaar aan die absolute norm, die Woord van God. Maar dat dit baie waardevol en nuttig is, selfs noodsaaklik, staan vas.
Hoekpen 3
# Die Skrifopenbaring is progressief, en kulmineer uiteindelik in Jesus Christus (Heb 1:1-4 et al). Dis soos 'n piramiede. Die hoeklyne, en ook die drie of vier vlakke kom al hoe nader aan mekaar, totdat alles regbo in 'n skerp spits piek – en hoër kan dit nie.
Wat God se selfopenbaring aan die mens betref,
is hierdie spits
Jesus Christus
as God se groot, genoegsame en finale Profeet, Priester en Koning
Die messiaanse openbaring begin onmiskenbaar, alhoewel baie vaag, alreeds direk ná die sondeval (Gen 3:15). Algaande word dit dan al hoe duideliker – Abraham, die seremoniële wette, Dawid, Jesaja, byvoorbeeld.
Uiteindelik blom dit finaal oop as die Messias kom.
Eenvoudig gestel: wat die Christus-openbaring betref, is:
Die Ou Testament verwagting
Die Evangelies vervulling
Die res van die Nuwe Testament verduideliking
# Wat Christus se volkome werk betref, mag ons niks, maar niks byvoeg nie – die piramiede het gepiek! Dis waarom die apostels – dus die Skrif – kompromieloos daarop aandring : Jesus Christus en Hy alleen! Doen hierdie beginsel geweld, en jou ewige lewe kom vir seker in die gedrang!
Dis waarom Paulus soos 'n "ton bakstene op die Galasiërs afgekom het", want hulle wou die besnydenis bý geloof in Christus alleen voeg (Gal 1:6-10 ; 5:2-4; Hand 15).
En as dit vir iets so "gering" soos besnydenis geld, hoeveel te meer nie vir die honderd ander "Christus plus fads en fancies", wat so aan die orde is in groot dele van die kerk in ons dag nie!
Dit lei dan tot:
Hoekpen 4
Sola et tota Scriptura
(alleen die Skrif, maar die hele Skrif);
Sola gratia
(alleen genade);
Solus Christus
(alleen Christus);
Sola fide
(alleen geloof);
Soli Deo gloria
(alleen die eer van God).
Hoekpen 5
Ons word gered uit genade alleen
op grond van Christus se verdienste alleen
deur geloof alleen
tot goeie werk,
en daarom volgens goeie werke
Geen regsinnige Christen sal bogenoemde drie "alleens", of die "tot" misken nie. Maar baie gelowiges sal verbaas wees oor die laasgenoemde stelling (die "volgens"), en selfs verontwaardig daarteen beswaar maak.
Maar dis presies wat wat die Bybel herhaaldelik sê! Luister na die Nuwe Testament.
Hoe lees mens die duidelike boodskap van die gelykenis van die skape en die bokke in Matt 25:31-46 anders as presies só.
Matt 12:36-37: "Dit sê Ek vir julle: van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word" (NAV).
Matt 16:27: "Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom ... en (Hy) sal elkeen volgens sy dade vergeld" (NAV)
Rom 2:6-11: "Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan die wat goed doen ... elke mens wat kwaad doen ..." (NAV).
2Kor 5:10: "Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn,
sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad" (OAV).
1Pet 1:17: "Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld" (NAV).
Op 20:12: "Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook 'n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het" (NAV).
Die uitlewing van ons geloof is belangrik
baie belangrik
lewensbelangrik!
Hoekpen 6
Ons geloof moet
Woordgefundeerd
Godgesentreerd
Christusgefokus wees.
Dit alleen veranker kuddes in die allerheiligste geloof? Stories mag vermaak; sentimentaliteit mag trane laat biggel; sambokprediking mag verskrik; kort prekies ("sermonettes") mag vleeslikes aanstaan. Maar niks hiervan lei tot outentieke bekering nie. Ewe min bou dit op.
Nee, Godverheerlikende opbou kom slegs deur gespierde Skrifuitleg – en spesifiek Christus-prediking.
Jan Alleman assosiëer die uitdrukking "om te preek" met moets en moenies ("Moenie vir my préék nie!"). Aan prediking word gedink in moralistiese terme. Waarom? Daar is net één rede: dis hoe tipies gepreek word. En nie net predikante is dikwels skuldig nie – ook ouers en onderwysers ("'n Kindjie van Jesus doen nie dit nie!")
Prediking – volgens die Skrif – is om die groot dade v. God te proklameer, veral sy grootse verlossingswerk in Jesus Christus. En daarmee hou die ware prediker nie op nie, selfs al val Eutgusse soms van vensterbanke af (Hand 20)!
Daarom kan die apostel in Gal 3:1 skryf dat hy: "Jesus Christus voor hulle oë afgeskilder het (OAV) sodat hulle Hom as 't ware aan die kruis kon sien hang"
# Charles Spurgeon se Christus-gesentreerdheid blyk uit die eerste woorde wat hy gesê het in die nuwe Metropolitan Tabernacle in Londen – wat gebou is om die skares te huisves wat soontoe gestroom het: "Mag die tema van die prediking in hierdie gebou altyd die persoon van Jesus Christus wees. Ek is nooit skaam om te sê dat ek 'n Calvinis is nie; ek maak geen geheim daarvan dat ek 'n Baptis is nie; maar as iemand my vra wat my diepste geloofsoortuiging is, kan ek net één antwoord gee: Jesus Christus, en Hy alleen!"
Hoekpen 7
In sy boek, The Great Evangelical Disaster, vertel Francis Schaeffer van 'n skerp rotsrif bo in die berge naby sy tuiste in Switserland. Weerskante van hierdie rif is daar twee diep valleie. Wanneer dit swaar sneeu, word die rif heeltemal bedek. Die bank sneeu bo-oor is dan ononderbroke en aaneenlopend. Die eenheid daarvan is egter net 'n illusie. Want die rif is 'n waterskeiding. Dit beteken dat een deel van die sneeu, as dit smelt, in die een vallei afloop, en 'n ander deel, in direkte kontak daarmee, in die teenoorgestelde vallei.
Dit is egter nie al nie. Die een vallei is deel van die Rynrivier se opvanggebied. Dit beteken dat water wat aan daardie kant afvloei, mettertyd in die Ryn beland, en uiteindelik in die yskoue water van die Noordsee. Sneeu wat 'n tree daarvandaan smelt, beland egter in die Geneefse meer, daarna in die Rhonerivier, en uiteindelik in die warm waters van die Middelandse See – 'n duisend-en-'n-half kilometer vanaf die Rynmonding.
Dis wat 'n waterskeiding doen:
Dit sny, dit verdeel, dit bepaal bestemmings
Waterskeidings is lotsbepalend
Schaeffer gaan dan voort om aan te toon dat die kerk se Skrifbeskouing so 'n waterskeiding is. Inderdaad! Wat ons glo oor die Bybel is in elke opsig lotsbepalend. Die effekte daarvan kring baie ver uit – tot geslagte ná ons.
Maar wat van hierdie fundamentele saak geld, geld uiteraard ook van die ander absolutes van ons geloof. God se waarheid is 'n waarheid in ekwilibrium. Verskuif die hoekpenne dus net 'n halftree, versteur die hoekpenne net effens – en kantelinge vind plaas wat die lewens en bestemmings van tallose mense ingrypend raak.
Laat ons nooit vergeet nie:
die kerk wat ons kinders en kleinkinders op ewigheidspaaie moet lei
word vandag gevorm
'n Enorme roeping rus op ons!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev