PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/yc2mym68

'n Belangrike rede waarom Paulus hierdie brief aan die gemeente in Korinte geskryf het, was om meer as die helfte daarvan te wy aan antwoorde op 'n aantal pastorale vrae wat hulle vir hom gevra het: Oor die huwelik (7:1-40). Oor afgode en offervleis (8:1-11:1). Oor die samekomste van die gemeente (11:2-34). Oor die geestelike gawes (12:1-14:40). Oor die opstanding uit die dood (15:1-58). Oor insameling vir die armes (16:1-12).

#          In 1Kor 7 antwoord Paulus sekere van die Korintiërs se vrae oor die huwelik – spesifiek oor die wenslikheid al dan nie daarvan.

            +          In kort kom die apostel se argument hierop neer: Aangesien egbreek en onsedelikheid totaal buite perke vir die Christen is, bly daar maar twee opsies vir hom of haar oop:

            Een, die huwelik, waarbinne seksuele behoeftes op 'n gesonde manier bevredig kan word.

            Twee, die selibaat en gepaardgaande 'n lewe van totale seksuele onthouding.

                        =          Vir die met die vermoë tot laasgenoemde, en wat nie gedurig van wellus brand nie, is dit die beste om ongetroud te bly (v.7-8; 25-27; 32-35) – gesien in die lig van al die eise wat 'n lewe van dissipelskap aan mens stel (v.29-31).

            Paulus noem dit in 1Kor 7:7 'n genadegawe, 'n charisma.

            Vgl. ook Jesus se uitspraak in Matt 19:12.

                        =          Die res moet, indien enigsins moontlik die pad van die huwelik loop. Dis die normale gang van sake. Dis nodig "om onsedelikheid te voorkom" (v.2; 2020).

            Daarom moet huweliksgenote hulle huweliksplig teenoor mekaar nakom; hulle moet hulleself tot mekaar se beskikking stel. Tensy hulle sáám ooreenkom dat dit vir 'n tyd nodig is, moet hulle mekaar nie omgang weier nie (v.3-5).

                        =          Oor die verskynsel van saamwonery – wat glad nie so 'n moderne saak is as wat party maak nie – spreek Paulus per implikasie hier die laaste woord. Sy hele argument is gebaseer op die voorveronderstelling dat legitieme seks slegs binne die huwelikskonteks kan geskied. Natuurlik sou ons 'n hele Bybelstudie oor die saak kon aanpak (vgl. bv. Deut 22:13-21). Maar wat ons tot hier gesien het behoort die sakkie in ons gemoedere toe te knoop: Voorhuwelikse seks – as dit dan streng tegnies nie egbreuk is nie, omdat geen huweliksverbond aangetas word nie – is onsedelikheid, en as sodanig oortreding van die Sewende Gebod.

                        =          En aan hierdie getroudes herhaal Paulus dan die Here Jesus se opdragte met betrekking tot huwelikstrou: Moenie skei nie! (v.10). Hy gaan dan verder – soos Jesus – en sê dat as 'n gelowige tóg skei,[1] moet hy of sy nie weer trou nie (v.11).

            Die apostel sê allermins hier dat dit maar in orde is as gelowiges skei, solank hulle net nie weer trou nie. Egskeiding – behalwe wanneer dit in Bybelse terme geoorloof is – is en bly sonde wat gelowiges ten alle koste moet vermy. Maar Paulus weet ook dat egskeidings, vanweë ons gebrokenheid en swakheid, inderdaad steeds plaasvind. En dis so 'n geval wat hy hier aanspreek.

            +          Daar is egter ook 'n ander stel omstandighede wat die Here Jesus nie aangespreek het nie (Sý uitsprake het Hy in die konteks van die verbondsvolk gemaak – voorskrifte dus vir gelowiges). Sedert die kerk in die heidenwêreld begin wortel skiet het, het ander probleme begin opduik. Een van die moeilike situasies wat algemeen voorgekom het – soos vandag nog – is die geval waar 'n man of vrou vanuit die heidendom tot bekering kom, maar nie die eggenoot nie. Hieroor gee Paulus nou geïnspireerde lering (v.12-16).[2]

            Dit gaan spesifiek oor die vraag: Vereis 'n heilige lewe nie van die nuwe bekeerling om hom of haar van die ongelowige eggenoot af te skei nie? Nee, sê die apostel, moenie skei nie, byt vas! Wie weet, heel waarskynlik wil die Here jou gebruik in die bekering van jou huisgenote – sowel jou ongelowige eggenoot as jou kinders (v.14,16).

                        =          Vers 14 is die begronding vir v.16 se moontlikheid. Eén gelowige in 'n gesin heilig die res van die gesinslede – die ongelowige eggenoot, sowel as die kinders.[3] Dit beteken dat hulle afgesonder is vir besondere voorregte. Wat is dit?

            Eerstens rus die Here se seën op so 'n huis.

            Tweedens het sowel die ongelowige eggenoot as die kinders die geleentheid om die evangelie eerstehands te hoor uit die mond van die een wat naaste aan hulle is.

            Derdens kan hulle God se genade "in aksie" sien. En omdat God organies en middelik werk, gaan dit heel moontlik die weg wees waarlangs hulle tot bekering kom.[4] 

            Daarom, sê Paulus, hou uit en hou aan! Wat sal van jou ongelowige eggenoot word as jy hom los? Hy sal gaan troos soek by die heidene. En wat gaan van jou kinders word? Hulle sal in 'n heidense huis groot word!

                        =          Dis belangrik om hier te let op Paulus se trant. Eerder as om 'n onbuigbare verbod te plaas op egskeiding in die situasie onder ons vergrootglas, het hy 'n veel sagter aanslag. Die gelowige moet alles in sy of haar vermoë doen om hierdie uiters ongemaklike huwelik te laat werk – indien ook die óngelowige kans sien om dit te probeer (v.12-13). Maar as alles wat menslik moontlik is dan gedoen is, en die ongelowige besluit hy of sy het genoeg gehad – is egskeiding 'n aanvaarbare opsie (v.15).

            Dit is egter  belangrik om op te let dat Paulus nie die inisiatief hiervoor aan die gelowige gee nie. Die een wat gaan, neem nie net die verantwoordelikheid nie, maar dra ook al die skuld.

                        =          In so 'n geval is die geskeide gelowige "nie gebonde nie" (v.15).

    "Gebonde"  impliseer letterlik, "om verslaaf te wees" (Gr. douloō).

            Paulus sê nie uitdruklik dat hertroue van die agterblywende nou in orde is nie. Maar dit lyk tóg vir my dat iemand wat huldig dat hertrou steeds verbode is, die bewyslas dra om dit aan te toon. Persoonlik is ek oortuig dat hertrou, veral as so 'n agterblywende man of vrou "van begeerte ... brand" (v.9), wel in orde is in hierdie geval.

            Uiteraard moet so 'n huwelik dan met 'n gelowige wees (v.39) – wat, lyk dit vir my, hertrou met die vorige eggenoot uitsluit (tensy daar natuurlik bekering was sedertdien).

                        =          V.15 sluit af met 'n stelling wat dikwels misgekyk word: "God het julle egter geroep om in vrede te leef".

            Wat wil die apostel hiermee sê? Selfs 'n egskeiding in hierdie geval is beter as 'n onverkwiklike toutrekkery en bakleiery. Uit soiets moet die Christen uitbly. Hy of sy moet in sagmoedigheid en waardigheid die ongelowige eggenoot laat gaan en berus in God se soewereine wil.

            Veral as daar kinders by betrokke is wat nou in 'n ongelowige huis gaan groot word, kan so 'n saak hartverskeurend wees.

            Maar nooit kan hulle buite bereik van die gelowige ouer se gebede wees nie!

#          Net 'n laaste pastorale woord aan julle wat kinders het wat nog nie gered is nie – of jy hulle deels verloor het deur 'n egskeiding, en of jy steeds getroud is; of hulle nog klein is, en of hulle al volwassenes is:

Onthou dit, en vergeet dit nooit nie:

God is 'n hoorder van gebed!

Onthou verder:

Nie alle gebede word dadelik verhoor nie.

Dit mag jare se getroue en volhardende smekinge verg.

En dikwels word ons eers ná ons heengaan verhoor.

Gaan dus bemoedig huis toe – en opnuut aangespoor om te bid –

julle wat nog ongelowige kinders het

><(((*>

Nico van der Walt

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Dit gaan nie hier oor sg. bed-en-tafel-skeiding nie. Dit is 'n konsep wat nêrens in die Bybel voorkom nie. Die woord wat hier gebruik word, dui op formele egskeiding. In elk geval maak dit nie sin om vir iemand wat net uit die huis uitgetrek het – en dus nog nie formeel geskei is nie – te sê dat hy nie weer mag trou nie. Hy is mos nie on-getroud nie.

[2]      Paulus se woordgebruik toon duidelik dat hy nou 'n heel ander groep of klas mense aanspreek: "Maar aan die ander sê ek ..." (v.12).

[3]           Die NAV beweeg op 'n onverantwoordelike – trouens, duidelik bevooroordeelde – wyse weg van die Griekse teks. Die OAV is veel beter. Let op dat die idee van heiliging of geheiligdheid drie keer voorkom. Vergelyk daarenteen die 2020, wat letterlik vertaal.

[4]           Hierdie is natuurlik nie ál wat oor ongelowige eggenotes en kinders se bekering te sê is nie. Benewens die feit dat God organies en middelik werk, is daar twee verdere beginsels wat op die situasie inspeel: Die van menslike verantwoordelikheid. Die van God se soewereiniteit.