PDF WEERGAWE

Preekopname:        https://tinyurl.com/3hp4dkfb

 

Na die Here Jesus se doop en versoeking (Luk 3:21-22; 4:1-13) begin Hy dadelik met Sy openbare bediening. Matteus en Markus beskryf Sy prediking in algemene terme soos volg: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom" (Matt 4:17; vgl. Mark 1:15).

            Maar Lukas werp meer spesifieke lig op die inhoud daarvan.

#          Jesus preek in Nasaret, die dorp waar nog tot kort tevore vir drie dekades gewoon het. Almal ken Hom.

            Op die Sabbat het Hy 'n spreekbeurt in die sinagoge. Hy haal dan aan uit Jes 61:1-2, en maak aan die hand daarvan uitdruklik aanspraak daarop dat Hy die langverwagte Messias is: "Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig ... Vandag is hierdie Skrifwoord ... vervul" (Luk 4:18-21).

Die aanhaling van hierdie messiaanse profesie van Jesaja

vat Jesus Christus se sending

na die wêreld toe in 'n neutedop saam

Dis wat Hy sou verkondig, sou uitleef, sou leer

Dis waarvoor die Vader Hom gestuur het

Dis waarvoor die Heilige Gees Hom sou toerus

 

Dit was die hart van Sy missie

Hy het gekom om restorasie te bring

Dis egter ook wat Hy van sy dissipels deur alle eeue sou vereis

Dis wat sy Gees in sy volgelinge sou bewerkstellig

Let verder op: Die laaste gedeelte van die aanhaling is 'n verdere samevatting – 'n konsentraat van die voorafgaande. Christus se hele taak kan só opgesom word:

Hy het die Here se genadejaar kom afkondig en verwerklik!

#          Wat beteken hierdie begrip, die Here se genadejaar? Dit word algemeen aanvaar dat dit 'n sinspeling is op die Ou Testamentiese Jubeljaar.

Die Sabbats- en Jubeljaar

Die Sabbatsjaar

#          Die Here God het deur Moses, omvattende voorkrifte vir die verbondsvolk se kalender gegee (Eks 21:1-6; 23:10-11; Lev 25:1-55; Deut 15:1-18).

            +          Ses dae se werk moes deur 'n sewende dag van rus gevolg word – die Sabbat. Dit ken ons steeds goed.

            +          Maar benewens die week van dae, is 'n week van jare voorgeskryf. Na ses

jaar se werk, was daar 'n sewende jaar van rus – die Sabbatsjaar.

            +          Selfs dit was nie al nie. Na sewe sabbatsjaar-siklusse – en dus die nege-en-

veertigste jaar se sabbat – moes ook die vyftigste jaar 'n tyd van rus wees – die Jubeljaar.

            +          Die Sabbatsjaar het veral drie fokuspunte gehad:

                        =          Die landerye moes nie bewerk word nie. Die natuurlike opslag was vir die armes en die diere. God het ook belowe om die oes van die sesde jaar só te seën dat daar genoeg kos vir twee jaar sou wees.

                        =          Alle skuld in die voorafgaande jare gemaak is en nog nie afbetaal was nie, moes kwytgeskeld word. Dit het selfs gegeld vir skuld wat in die sesde jaar gemaak is.

                        =          Die slawe – diegene wat tydens die voorafgaande jare deur skuld die eiendom van hulle skuldeisers geword het – moes vrygelaat word. Wat meer is, hulle base moes hulle materiëel weer op die voete help (Deut 15:13-14).

Die Jubeljaar

#          Die Jubeljaar het ook nog 'n verdere fokuspunt gehad:

            +          Alle grond wat in die voorafgaande vyftig jaar vervreem is omdat mense nie hulle skuld kon betaal nie, moes aan die oorspronklike eienaars teruggegee word. Sodoende het geen permanente verryking of verarming van families plaasgevind nie. Een maal elke geslag of twee het restorasie, oftewel gelykmaking, plaasgevind.

            Hierdie reëling het ook gegeld vir grond wat gekoop is. Dis betekenisvol dat die koopprys vasgestel is volgens die aantal oeste wat oorgebly het tot en met die Jubeljaar. Eintlik was dit dus nie 'n kooptransaksie nie, maar 'n huurooreenkoms.

Onderhouding

#          Dis onseker tot watter mate Sabbats- en Jubeljare deur die volk onderhou is. Die Skrif is egter duidelik dat die volk se ernstige versuim in hierdie verband een van die ballingskap se oorsake was. Die ongeveer sewe dekades moes onder meer dien om die land die rus te gee wat dit a.g.v. die volk se ongehoorsaamheid verloor het (Lev 26:32-35, 43; 2Kron 36:21; Jer 34:13-14).

#          Een van Nehemia se hervormings was om die Sabbatsjaar af te dwing (Neh 10:31). En buite-Bybelse bronne getuig dat die Jode bes moontlikdie instelling gehandhaaf het ná die ballingskap.

Die Sabbats- en Jubeljaar se betekenis

1.         Alles behoort aan die Here

Waarom mag grond nie permanent verkoop word nie? Omdat dit die Here s'n is: "Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My" (Lev 25:23).

            Waarom mag mede-Israeliete nie permanent verslaaf word nie? Hulle behoort aan die Here: "Omdat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het, is hulle my dienaars. Daarom mag hulle nie as slawe aan iemand verkoop word nie" (Lev 25:42).

Mense, alle mense, selfs die rykstes

is net rentmeesters, bestuurders

nooit eienaars in die ware sin van die woord nie

  2.       God is 'n God van wonderlike barmhartigheid – veral teenoor die swakkes en armes

Die jubel-beginsels spreek die drie belangrikste faktore in sosio-ekonomiese onreg aan: natuurlike hulpbronne (die land); menslike hulpbronne (die slawe); ekonomie (die skuld).     Misbruik van hierdie dinge het aanleiding gegee tot feitlik alle rewolusies in die geskiedenis. Daarenteen wou God se instelling gereeld 'n normalisering en ontspanning hiervan in Sy volk te weeg bring. Die speelveld moes gereeld gelyk gemaak word.

Die armes moes nie te min hê nie

die rykes nie te veel nie

3.         Die Here se volk moes Hom in Sy barmhartigheid navolg

Veral die rykes en magtiges was verantwoordelik om die speelveld gelyk te maak.

            Politieke rewolusies begin altyd onder in die sosiale piramiede. Die oomblik as die gewig van getalle die gewig van die mag oortref, is geweld op hande.

Máár in die Here se volk

moet die normaliseringsproses andersom geskied

van bo af – onder toe

Dan geskied dit altyd vreedsaam!

Dan bring dit altyd waardering en harmonie!

4.         God se oproepe tot vrymaking tydens die Sabbats- en Jubeljare is begrond in Sy groot verlossingsdade

Levitikus 25:55 spel dit uit: "Dit moet gedoen word omdat die Israeliete my dienaars is. Hulle is my dienaars omdat Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God."

            Weereens onderstreep Deut 15:15 dit: "Jy moet onthou jy was self 'n slaaf in Egipte en die Here jou God het jou bevry. Dit is daarom dat ek jou vandag hierdie bevel gee."

Vrymaking, kwytskelding, herstel moet blymoedige dankbaarheidsrespons wees

Dis waarom sowel die Sabbats- as Jubeljare begin het op die Groot Versoendag

die dag van sondevergiffenis en -verwydering

5.         Die Here sorg vir sy geliefdes wat hierdie voorskrifte gehoorsaam

Nie alleen was die opslag van die onbewerkte lande tot armes se beskikking nie; ook gehoorsame rykes is van God se versorging verseker.

            Die laaste oes van 'n jaarweek was genoeg om twee jaar te oorleef (Lev 25:20-21).

            En gehoorsames het welvaart geniet: "Gee vryelik aan jou broer wat arm is, en moenie sleg voel omdat jy vir hom gegee het nie, want juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy doen en aanpak" (Deut 15:10; vgl ook v.4-5).

Nuwe Testamentiese implikasies van die jubelbeginsel

In Nasaret sê Christus dat die beginsels van die Sabbats- en Jubeljaar Sy Messiaanse koninkryk sal karakteriseer. Dit sal nie net vir 'n jaar so wees nie, ook nie net vir Sy tyd hier op aarde nie. Sy koninkryk het vir ewig gekom – en hierdie beginsels sal tot in ewigheid daarin geld.

            Hierdie waarheid laat nie net talle Nuwe Testamentiese uitsprake in plek val nie, dit het ook verbysterende implikasies vir ons wat bely dat ons volgelinge van die Here Jesus is.

1.         Diegene in Christus is vrygemaak

Hulle is nie meer slawe van die vlees, die wêreld en die Satan nie. Nou leef hulle in vryheid – van die trapmeul van godsdienstige verpligtinge, van die  heerskappy van sonde, van die vrees vir die dood en die oordeelsdag.

            Galasiërs 5:1 (2020): "Vryheid is waarvoor Christus ons bevry het! Staan dan vas, en laat julle nie weer onder 'n juk van slawerny indwing nie!"

2.         Ons moet die oorvloed van ons verlossing jubelend aangee na ander – in die besonder diegene in nood

Laat ons mense wees wat met dankbare blymoedigheid vrymaak, en kwytskeld, en uitdeel. Niks behoort immers in die absolute sin aan ons nie. Dis ons Vader s'n.

            Hierdie Ou Testamentiese agtergrond gee mens die bril waarmee jy 'n Skrifgedeelte soos Luk 6:27-38 moet lees. Let veral op v.36: "Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is."

            Is dit nie onverantwoordelik om so te leef nie? Sal mens nie finansiëel ten gronde gaan nie? Sal jy nie spoedig gebrek lei nie? Luk 6:38 is Christus se antwoord: "Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word."

            En laat ons nie vergeet nie, oor en oor het die Here Jesus voorskrifte soos hierdie op sy dissipels se harte gedruk. Dis trouens een van die uitstaande kenmerke van sy oproepe aan sy dissipels. Uiteindelik doen Hy dit die aand voor sy kruisiging op 'n onvergeetlike wyse – toe Hy sy dissipels se voete was.

3.         Hierdie jubel-koninkryk van Christus is 'n universele koninkryk

Ja, die Ou Testamentiese wortels is deur en deur Joods. Maar die Messiaanse vervulling daarvan is wêreldwyd. Trouens, omdat die Jode in hulle selfsug 'n koninkryk volgens hulle eie sin wou hê, sou húlle, van alle mense, die seën daarvan grootliks mis.

            Dit is presies wat Jesus ná Sy Messiaanse aanspraak daar in Nasaret vir Sy hoorders sê. Die Jode sal net belangstel in genesings – en soortgelyke persoonlike voordele – maar aan die koninkryk se ware aard en verantwoordelikhede sal hulle geen erg hê nie (Luk 4:23-24). Daarom sal die koninkryk vir die heidene gegee word. En dit was nie anders in die tyd van Elia en Elisa nie (v.25-27).

            Hieroor is die Jode woedend en probeer hulle om die Here Jesus te vermoor (v.28-30). Meer as tragies!

4.         Dit gaan in die Messiaanse koninkryk om volkome herstel van alles wat die sondeval vernietig het

Aan die hart van die Ou Testamentiese sabbats- en jubeljare was die beginsel van herstel.

            Christus, God se Laaste Adam (1Kor 15:45, 47), het gekom om dit wat Adam en Eva verloor het te herwin. Trouens, Hy het die loon wat Adam sou kry vir volgehoue gehoorsaamheid, reeds in beginsel verwerf. En Hy sal dit uiteindelik volkome verwerklik. En daarom sal almal wat met Hom verenig is, vrylik toegang hê tot die Boom van die Lewe (vgl. Gen 2:9; 3:22-24; Eseg 47:7, 12; Op 2:7; 22:2, 14).

Nou reeds leef ware gelowiges in beginsel in 'n voortgaande jubeljaar

Maar 'n ewige jubeljaar

waarin al bogenoemde beginsels

'n ononderbroke en volkomebelewingswerklikheid sal wees

wag op hulle!

><(((*>

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt – Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev