PDF WEERGAWE

VIDEO-OPNAME:      https://youtu.be/RDm8aQpiKCA

 

"Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die Seun van God glo." (1Joh 5:13, DAV).

Wat op aarde is 'n Christen? Daar is beswaarlik 'n meer brandende vraag wat ons kan vra.

            Amper driekwart van Suid-Afrika se mense vul op sensusvorms in dat hulle Christene is. Wêreldwyd, word gesê, is daar 2,4 biljoen Christene. Maar kyk hoe lyk ons wêreld! Praat van 'n Babelse verwarring!

            As almal wat hulleself in hierdie land Christene noem, inderdaad Christene sou wees, kan daar maar één slotsom wees: Christenskap is minder werd as 'n twaksak saagsels.

            Kom ons sê dit reguit: nie naastenby almal wat op Christenskap aanspraak maak, is inderdaad Christene nie - in elk geval nie in die Bybelse sin van die woord nie.

            Dit is wesentlik belangrik om die verwarring op te klaar!

#          Vals Christene is 'n struikelblok vir derduisende ongelowiges.

#          Tot die mate wat daar vals Christene in 'n gemeente is, tot daardie mate sal so 'n gemeente minder wees as wat dit moet (Vgl. NGB29).

#          Die onsekerhede oor hierdie saak open deure vir talle dwalinge en kultusse.

#          Skrikwekkend baie mense leef in die waan dat hulle met God versoen is, terwyl hulle in werklikheid steeds onder Sy toorn verkeer.

#          Belangrikste van alles: God se Naam word skreiend onteer deur mense en gemeentes wat onder Sy vlag vaar, terwyl hulle gladnie aan Hom behoort nie.

'n Paragraaf van die teoloog, John Murray, in sy klassieke boek, Redemption — Accomplished and Applied (p.153):

            "Die Skrif leer ons dat dit moontlik is om 'n opwindende, lewensveranderende en veredelende ervaring van die krag en waarheid van die evangelie te hê — sónder om werklik saligmakende geloof te hê. Dit is moontlik om so naby te kom aan die bonatuurlike kragte wat in God se koninkryk van genade werksaam is, dat dit effekte op jou het wat beswaarlik onderskeibaar is van dit wat God se wederbarende en heiligmakende genade voortbring — sonder om 'n deelgenoot van Christus en 'n erfgenaam van die ewige lewe te wees. 'n Leerstuk van geloofsvolharding wat nie deeglik rekening hou met die moontlikheid en realiteit van sulke gevalle nie, moedig 'n laksheid aan wat volharding alles behalwe bevorder. Trouens, dit is hoegenaamd nie die Bybelse leer van die volharding van die heiliges nie" (my vertaling).

            As daar één saak op die kerk se agenda behoort te wees, dan is dit om na die Woord van God terug te keer ten einde hierdie verwarring (en ander) op te klaar.

Enkele fundamentele vertrekpunte

#          Die eerste uitgangspunt is dat die Bybel die enigste norm is in ons soeke na wat 'n Christen is. Sonder so 'n objektiewe, vasstaande standaard, dryf ons ankerloos in 'n see van menslike opinies rond.

#          As 'n Christen gedefinieer moet word, is die eerste neiging om dadelik te begin beskryf wat hy alles doen en nalaat. Dis egter 'n onfeilbare resep om gou-gou in 'n doolhof van haarklowery te beland.

            Wat en hoeveel is genoegsaam om 'n Christen te word, om een te wees, om een te bly? Waar is die grens tussen die egte en die namaaksel? Hoeveel hare maak 'n baard?

#          As ons ons vraag reg wil antwoord, moet ons begin waar die Bybel begin: nie by die mens nie, maar by God — by Sy soewereine en genadige inisiatief. Dis Hy wat 'n sondaar in 'n Christen verander.

            'n Sondaar word nie 'n Christen deur in God se lig in te beur nie; hy word 'n Christen as God sy duisternis soewerein binnetree.

#          Vra mens dus vir die Bybel hóé iemand 'n ware Christen word, gebruik die Bybel veral twee begrippe, "roeping" en "wedergeboorte". Dis twee kante van dieselfde saak: "roeping" laat die klem val op dit wat God doen en "wedergeboorte" op die lewendmakende effek daarvan in die betrokke persoon. Kom ons fokus op "wedergeboorte".

#          Wedergeboorte is nie bloot 'n morele verandering nie; dis in die volste sin 'n herskepping. Dis nie gewoon om jou godsdienstige en morele sokkies 'n raps hoër op te trek nie. Ons moenie dink in terme van die Comrades Marathon se elfuur-pistoolskoot nie: die laaste een maak dit met 'n halfsekonde; die een na hom mis dit met 'n halftree. Nee!

            Die Christen en die nie-Christen behoort tot twee verskillende kategorieë, hulle leef in twee verskillende skeppinge. Iemand is óf wedergebore óf nog 'n natuurlike mens; hy is óf "in Christus" óf "in Adam".

#          Die sleutelvraag is dus nie wat 'n Christen doen nie, maar wat hy is. Iemand is nie 'n Christen omdat hy op 'n bepaalde manier leef nie; hy leef op 'n bepaalde manier, omdat hy 'n Christen is.

#          As daar dan 'n wesensverskil tussen Christene en nie-Christene is, beteken dit die Christen moet sekere eienskappe hê wat hoegenaamd nie in 'n nie-Christen bestaan nie. En hieroor swyg die Bybel nie. Dit verkondig klokhelder dat God se herskeppingswerk in sondaars 'n diep-ingrypende hartsverandering meebring. Dit het lewensveranderende gevolge.

1 Johannes

In sy eerste brief gee die apostel Johannes presies die antwoorde wat ons soek! Hy spel vir

ons 5 merktekens in eksakte terme uit waarna ons een-een in volgende opnames sal kyk. Só definieer God se Woord vir ons onmiskenbaar duidelik wat 'n Christen is. Beantwoord jy hieraan - aan ál vyf - is jy 'n Christen. Is dit nie waar van jou nie, is jy nie 'n Christen nie!

            Net ten slotte, gaan lees versigtig in die volgende dae deur hierdie kort briefie, en kyk of jy die merktekens raaksien

            As jy dan na die NGB, Art. 29, gaan kyk, sal jy dit ook daar vind.

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

http://www.imagodei.co.za/