VIDEO-OPNAME: https://youtu.be/CD7nTOJx9xw
Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word,
aan hulle wat in sy Naam glo;
wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie,
maar uit God gebore is (Joh 1:12-13).
Die geboorte uit God
Wedergeboorte is sonder uitsondering die begin van bewustelike, ervaarbare en waarneembare Christenskap. Aan hierdie oorsprong van Christenskap moet eers behoorlik aandag gegee word, anders sal ons skeefloop in ons denke.
Die Goddelike inisiatief
Johannes 1:12-13 is rigtinggewend.
In die voorafgaande verse beskryf die apostel hoe die mense van hierdie wêreld Jesus Christus verwerp. Daarenteen is daar tog diegene wat Hom "aanneem" (v.12) en sodoende kinders van God word. Hulle neem Hom aan, omdat hulle "in Sy Naam glo". En hulle glo in Hom, omdat hulle 'n wonderlike geboorte ondergaan het. Dis nie 'n natuurlike geboorte nie, nie 'n geboorte uit die mens nie, maar 'n "geboorte uit God".
Om gered te word, is dit noodsaaklik om Jesus Christus aan te neem (met alles wat dit impliseer). Dit is uiteraard iets wat die méns doen. Maar so 'n persoon word daartoe in staat gestel word deur 'n bonatuurlike geboorte — en dis iets wat God doen.
Dis dus duidelik: die oorsprong van daardie eerste handelinge van die mens, wat hom 'n kind van God laat word en as Christen kenmerk, lê ten diepste in 'n werk van God self. En hierdie werk van God noem Johannes 'n "geboorte uit God", oftewel die wedergeboorte.
'n Naggesprek
Die Here Jesus se naggesprek met Nikodemus gee belangrike perspektiewe (Joh 3:3,5,7).
+ Eerstens beklemtoon Hy die noodsaak daarvan ten einde die koninkryk van God in te gaan. Vers 7 moet nie as 'n bevel (vgl. Joh 3: 3, 5) verstaan word nie, asof die mens sy eie wedergeboorte kan bewerkstellig. Jesus praat van die noodsaak: dit is nodig
om wedergebore te word ten einde gered te word.
Dit onderstreep 'n waarheid wat regdeur die Skrif as vanselfsprekend aanvaar word: alle Christene is wedergebore en alle wedergeborenes is Christene.
Die uitdrukking dat iemand 'n "wedergebore Christen" is, is onsinnig; dis misleidend, aangesien dit kan impliseer dat daar so iets soos 'n nie-wedergebore Christen is.
+ Tweedens gee die Here Jesus antwoord op die vraag waarom die wedergeboorte dan so noodsaaklik is. Dit is noodsaaklik omdat die mens self magteloos is om die koninkryk in te gaan — hy "kan nie" (v.3,5). Waarom nie? Jesus gee twee antwoorde.
Enersyds kan hy nie die koninkryk "sien" nie (v.3). Hoe kan iemand ingaan deur die Deur (Joh 10:7,9) as hy Hom nie sien nie? Elders leer die Skrif dat die natuurlike mens se nood selfs erger is. Hy is nie net blind nie, hy leef ook in duisternis (Ef 5:8,11; Kol 1:13). Is daar 'n erger duisternis as blindheid in donkerte?
Andersyds is die natuurlike mens "vlees" (v.6). Dit beteken dat hy nog in Adam is, dat hy nog deel van die gevalle en sondige mensheid is. Vir diesulkes is daar geen plek in 'n heilige God se koninkryk van geregtigheid nie. Net 'n nuwe geboorte kan iemand bevry van 'n Adamserfenis wat soos 'n rotsblok om sy nek vasgeketting is en hom die dieptes insleep!
+ Derdens openbaar Jesus iets van die aard van die wedergeboorte. Dis 'n geboorte "uit water en Gees" (v.5). Dis 'n geboorte wat die Heilige Gees bewerkstellig.
Waarop sinspeel die water? Daar is meer opinies, maar dit word algemeen aanvaar dat dit hier oor reiniging gaan (vgl. Tit 3:5; Ef 5:26; Eseg 36:24-27). Só sou Nikodemus dit waarskynlik verstaan het. As skrifgeleerde sou Esegiël 36 baie na aan sy hart gelê het.
# Esegiël 36 is insiggewend oor die aard en rykdomme van die Nuwe Verbond. Die twee elemente van Joh 3:5 kom sterk na vore. In v.25 belowe God dat Hy Sy volk met water van sonde sal reinig en in v.27 belowe Hy die groot gawe van die eindtyd, die Heilige Gees.
Tussen hierdie twee beloftes is 'n vers wat van die allergrootste belang is vir ons soektog na begrip en dus 'n antwoord op ons vraag na wat presies 'n Christen is.
Vers 26 belowe 'n "nuwe hart" — een van vleis wat die ou hart van klip vervang. Die Bybelse begrip "hart" dui op die sentrum van 'n mens se persoonlikheid. Dis dus die beheerkamer wat sy hele lewe bepaal (Spreuke 4:23).
Elke mens leef onder die dwang van sy eie hart. Wat in sy hart aangaan, dit is hy.
Illustrasie: Waarom vlieg swaels noordwaarts in die herfs en kom elke lente terug — meermale na presies dieselfde waar hulle vantevore gebly het. Dis in hulle aangebore natuur. Aan hulle genetiese trekinstink móét hulle gehoorsaam wees; hulle kán dit nie weerstaan nie. Só is elke mens onontkombaar aan sy eie hart gehoorsaam.
'n Hartsverandering bring dus onvermydelik 'n gedragsverandering mee. So sal die Here "maak" dat ons volgens Sy voorskrifte leef (v.27).
Die ou hart is van klip (v.26). Dit is dood vir die Here en Sy dinge. Dit is koud en hard, dus belangeloos en gevoelloos teenoor God, Sy eer, Sy wil en Sy Koninkryk.
Die nuwe hart, daarenteen, is van vleis. Dit is lewend vir die Here en Sy dinge. Dit is
warm en sag, dus ywerig en vormbaar m.b.t. God, Sy eer en Sy koninkryk.
# In Jer 31 word 'n ander beeld gebruik wat dieselfde belofte dra: Hy sal Sy wette op mense se harte skryf (v.33).
# Hierdie hartsverandering bring dus 'n nuwe lewensbeginsel, 'n nuwe geaardheid, 'n nuwe geneigdheid, 'n nuwe ingesteldheid. Dit bring nuwe prioriteite, nuwe ambisies, nuwe verlangens, nuwe hartstogte. Daarom bring dit 'n totaal nuwe lewe — 'n lewe gedring deur die begeerte om God Drie-enig te ken, soos Hy te word en baie vrug tot eer van Sy Naam te dra.
Esegiël 36 belowe die wedergeboorte!
Wedergeboorte in 'n persoon se lewe
is God se soewereine en diep-ingrypende lewendmakende werk deur Sy Heilige Gees, waardeur so 'n persoon verander word
vanuit 'n toestand van geestelike dood en 'n gevolglik God-vermydende hartsgesteldheid
tot 'n toestand van geestelike lewe en 'n gevolglik God-soekende hartsgesteldheid.
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E: