VIDEO-OPNAME: https://youtu.be/gtH2p66aKxw
"Dit het ek aan julle geskryf
sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het,
julle wat in die Naam van die Seun van God glo."
(1Joh 5:13, DAV).
Tot nou toe is 'n sterk klem laat val op God se soewereine inisiatiefneming in 'n mens se wedergeboorte. Dis reg so, want dis 'n feit en 'n Bybelse beklemtoning.
Die Bybel het egter 'n ewe sterk klem op die mens se verantwoordelikheid en betrokkenheid by sy redding!
# In elke ware Christen het God deur die Heilige Gees en sy evangeliewoord 'n wonderlike herskeppingswerk gedoen. Vanuit die nuwe hart, die nuwe natuur in hom of haar, vloei dan sekere optredes en gedragspatrone voort — dinge wat tipies is van elke gelowige.
# So 'n persoon raak nie net bewus van die Here se genadige en reddende bemoeienis nie, hy raak ook volledig by hierdie nuwe lewensuitinge betrókke. Geloof, bekering, heiligmaking en volharding word nou deel van sy lewe. En hoewel al hierdie dinge genadegawes van God is — 100%, is die Christen terselfdertyd en onteenseglik 100% daarby betrokke.
Trouens, dis die gelowige wat dit doen. En dis ervaarbaar, bewustelik en waarneembaar — vir die persoon self, en diegene om hom — en hy is beswaarlik bewus daarvan dat dit ten diepste die Heilige Gees is wat in hom werk.
Fil 2:12-13 knoop hierdie geheimenisvolle samewerking tussen God en mens pragtig ineen: ".... werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae."
# Verstaan dit goed: hoewel hierdie nuwe karaktertrekke en lewenspatrone nie anders kan as om vanuit 'n herskepte hart te ontspring nie, kom dit nie maar sommer vanself en maklik-maklik nie; trouens, dit gaan dikwels met inspanning, persoonlike dissipline en selfs stryd gepaard. En helaas is gereelde mislukkings ook 'n pynlike werklikheid.
Die Nuwe Testament maak nie 'n geheim daarvan dat die Christelike lewe geen sondagskool-piekniek is nie — dis 'n nóú bergpad (vgl. bv. Matt 10:22; Luk 13:24; 21:19; Joh
16:33; Hand 14:22; 1Kor 9:24-27; Ef 6:12; 2Tim 2:3; Heb 12:1).
# Dit is híérdie oortuigingsoptrede, lewenswyse en selfs stryd waaraan 'n Christen uitgeken moet word.
Dít is die merktekens waarmee gewerk moet word as mens ons vraag wil antwoord. En dit is presies wat Johannes in sy eerste brief doen.
Die apostel Johannes se merktekens van wedergeboorte
Ja, 1 Johannes tot 'n groot mate daaraan gewy om ons vraag te antwoord. Hiermee sal ons nou vorentoe werk.
# Volgens die apostel is ten minste vyf dinge wáár van enige ware Christen.
1. Hy of sy glo in Jesus Christus (5:1).
2. Hy of sy heers oor sonde. Dit is dus iets negatief (3:9; 5:18).
3. Hy of sy heers oor die God-vyandiggesinde wêreld — ook iets negatief (5:4).
4. Hy of sy lewe 'n regverdige lewe — dus positief (2:29).
5. Hy of sy leef die liefdesgebod uit — nogeens iets positief (4:7; 3:14-18).
'n Paar algemene opmerkings oor bogemelde Skrifuitsprake
# Hierdie merktekens geld van diegene wat "uit God gebore is". Dit is net 'n ander manier van Johannes om van wedergeboorte te praat. Die Ou Vertaling en nuwe Direkte Vertaling is 'n letterlike weergawe van die Grieks; die NAV se "is 'n kind van God" is 'n parafrase.
# Elkeen van hierdie merktekens geld van "elkeen" wat opnuut gebore is. Die implikasie is dat sulke begenadigdes, en net hulle, élkeen van hierdie merktekens sal dra.
# Die Nuwe Testament maak dit duidelik dat hierdie merktekens geleidelik ontwikkel soos so 'n persoon toeneem na die beeld van Christus.
Ook ontwikkel elke merkteken nie noodwendig ewe vinnig in 'n bepaalde persoon nie.
Maar selfs al is dit aanvanklik net embrionaal, sal elke watermerk inderdaad in beginsel en kwalitatief teenwoordig wees in elkeen vanaf die oomblik van wedergeboorte.
# Die werkwoord ("is gebore") is betekenisvol:
+ Dit is elke keer passief, wat daarop dui dat dit nie iets is wat deur die betrokke persoon self bewerkstellig is nie — hy of sy het dit ondergaan.
+ Ook is dit elke keer in 'n werkwoordstyd (die perfektum) wat daarop dui dat die effekte van so 'n herskepping se effekte steeds voortduur.
Jesus Christus hou hom of haar immers vas (5:18; NAV; DAV). Julle mag oplet dat hierdie vertalings verskil van die OAV. Dis op grond van talle méér betroubare Griekse manuskripte van die Nuwe Testament wat in moderne tye ontdek is.
Maar wat ons moet vasvat en vashou is dít: Hierdie herskepping — die geboorte uit God — is permanent en strek in die ewigheid in. Hierdie is een van die wonderlike en troosryke versekerings van God se Woord.
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E: