PDF WEERGAWE

VIDEO-OPNAME:      https://youtu.be/4y0xdpCetjc

Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is,

is uit God gebore ..."

1Joh 5:1a

Ons moet lank en diep nadink oor wat reddende geloof is

Aangesien dit van wesenlike en deurslaggewende belang is, sal ons meer as een keer aandag aan die eerste merkteken gee. Kom ons begin dus daarmee. Só stel die OAV dit in 1Joh 5:1: "Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore ... "

#          Dis van lewensbelang dat ons nie onnadenkend oor die Bybelse gebruik van die begrip "geloof" sal glip nie. Die Skrif is duidelik: God se vryspraak en regverdigverklaring word alleen deur geloof 'n werklikheid in iemand se lewe. Maar dis nie enige geloof nie. Daar is baie soorte geloof; trouens, daar is niemand wat níé glo nie. Menslike lewe is onmoontlik daarsonder. Jy beoefen geloof as jy geld in 'n bank deponeer — dat jy dit weer sal kan terugkry.

#          Maar saligmakende geloof is iets baie spesifiek! Hier durf mens nie mis te trap nie.           Omdat dit skrikwekkend maklik is om jou lewe lank in die waan te leef dat jy die ware Jakob beet het, terwyl jy dit totaal mis het, waarsku die Bybel keer op keer met dringendheid teen vals geloof, teen tevergeefse geloof, teen selfmisleiding en rasionalisering.

            Dit is selfs moontlik om 'n baie regsinnige geloof te hê — sonder dat dit ég is (Jak 2).

#          In die Bergpredikasie (Matt 7:21-23) sê die Here Jesus daar is mense wat Hom as Here en Koning bely, maar wat nogtans verlore sal gaan. Dit is selfs moontlik dat hulle in Sy Naam profeteer, duiwels uitdryf en wonderwerke doen. Hy beskryf hulle as aktiewe werkers, trouens, kragvervulde werkers. Hulle werk "in Sy Naam" (drie keer beklemtoon!). Hulle is absoluut oortuig hulle is gered. Dis waarom hulle stomgeslaan is as hulle uiteindelik die Here se verwerpingswoord hoor. En, let op, dit geld nie net vir enkeles nie; daar is "baie" sulkes.

            Die Here noem hulle "werkers van ongeregtigheid" (lett.), dus sondaars.

            Hulle sonde is nooit vergewe nie! Hulle is nooit geregverdig nie! Hulle geloof was vals!

#          In sy gelykenisse waarsku Jesus weer en weer teen selfbedrog wat hierdie saak betref. Ons is mos almal geneig om ons self te bluf.

            Huise lyk dikwels dieselfde — totdat die storm van oordeel kom (Matt 7:24-27). Koring en onkruid kan dieselfde lyk — totdat die oesdag kom (Matt 13:24-30). Tien meisies word genooi na 'n troue; almal wag opgewonde — net vyf word ingelaat (Matt 25:1-13). 'n Saaier saai. Maar nie al die saad val in goeie grond nie. Party beland tussen onkruid; ander op rotsbanke. Hulle begin belowend groei, maar dit hou nie lank nie (Mark 4).

#          Ware en vals geloof kan op 'n haar na en verraderlike baie dieselfde lyk:

            Ware geloof fokus op Christus; vals geloof kan koorsagtig opgewonde oor Hom wees (Joh 2:23-25).

            Ware geloof breek los uit die greep van hierdie wêreld se besoedelings. Vals geloof kan dit ook vir 'n tyd lank doen (2Pet 2:20-22).

            Ware geloof word gewerk deur die Gees. Vals geloof kan gepaard gaan met uitsonderlike werkinge, op die oog af tipies van die Heilige Gees se werk — en dalk soms inderdaad van Hom. Dink maar aan Saul, Judas Iskariot en ander voorbeelde in die Bybel.

            Dis skokkend om in die Skrif te sien hoeveel die Heilige Gees in en deur mense kan werk — alles duskant Sy wederbarende werk!

 #         Hebreërs 6:4-8 is baie betekenisvol. Die belewinge en ervaringe dui nie sonder meer op redding nie. Dit getuig nie noodwendig van innerlike herskepping nie.

#          Waarlik, enige mens wat begaan is oor sy ewige bestemming — en dit geld veral ware Christene — sal in die vrese van die Here erns maak met bogemelde Skrifuitsprake.

            Laat ons onsself maar gereeld ondersoek — of ons nog in die geloof is en of ons nog besig is om te volhard in die geloofswedloop.

#          John Murray, skryf in sy klassieke boek, Redemption, accomplished and Applied (p.153):

            "Die Skrif leer ons dat dit moontlik is om 'n opwindende, lewensveranderende en veredelende ervaring van die krag en waarheid van die evangelie te hê — sónder om werklik saligmakende geloof te hê. Dit is moontlik om so naby te kom aan die bonatuurlike kragte wat in God se koninkryk van genade werksaam is, dat dit effekte op jou het wat beswaarlik onderskeibaar is van dit wat God se wederbarende en heiligmakende genade voortbring — sonder om 'n deelgenoot van Christus en 'n erfgenaam van die ewige lewe te wees. 'n Leerstuk van geloofsvolharding wat nie deeglik rekening hou met die moontlikheid en realiteit van sulke gevalle nie, moedig 'n laksheid aan wat volharding alles behalwe bevorder. Trouens, dit is hoegenaamd nie die Bybelse leer van die volharding van die heiliges nie".

            Murray was 'n Skot wat vir dekades professor was aan die Westminster Seminary in die VSA. Hy was 'n hoogs gerespekteerde teoloog, deur en deur regsinnig, godgesentreerd en Bybelgelowig. Hy het onder meer 'n baie bekende en standaard Romeine-kommentaar geskryf.

            Oor wat hy sê moet ek en jy gewis ernstig en eerlik besin.

            Maar laat ek dadelik waarsku. Die antwoord lê nie in nóg harder probeer nie. Nie in nog méér goeie werke nie. Nie in vromer godsdienstigheid nie.

            Dit lê in algehele geloofsvertroue en afhanklikheid wat lewenslank vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid, in Jesus Christus as groot Profeet, Priester en Koning skuil. Dít — net dít — is reddende geloof.

            En as dit enigsins ég is, sal goeie werke sonder twyfel daaruit voortvloei. Dus — en dit maak ál die verskil — nie werke wat tot redding lei nie, maar redding wat tot werke lei.

#          Om te kan onderskei tussen ware en vervalste geld, word inspekteurs geleer hoe egte geld voel — deur oor en oor aan regte note te voel. Dan weet hulle dadelik as hulle vervalste, onegte note hanteer.

            Ons wil dus vra wat presies die Bybel ons leer oor ware, saligmakende geloof.

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

http://www.imagodei.co.za/