PDF WEERGAWE

VIDEO-OPNAME:      https://youtu.be/uWUxZfen4Pw

"Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is,

is uit God gebore ..."

1Joh 5:1

 

Die Bybel leer twee oënskynlik teenstrydige waarhede.

            Enersyds: 'n Sondaar móét in Christus glo om gered te word.

            Andersyds: Geloof kan net van God kom.

            +          God self bewerkstellig die oplossing — deur die wedergeboorte.    Wedergeboorte is nie geloof nie. God wederbaar; die mens glo.

            Maar wedergeboorte mond altyd uit in geloof. As sodanig is geloof is 'n gawe van God!

 

            +          En ware geloof mond altyd uit in gehoorsaamheid en goeie werke.

           

            +          Die Woord waarsku: Daar is ook iets soos vals geloof.

                        Egte geloof en onegte geloof kan op 'n haar ná dieselfde tot uitdrukking kom.

           

            +          Die verskil is ten diepste 'n wesensverskil, nie 'n graadverskil nie.

            Die orde is: redding - werke. Nooit werke - redding nie.

            Die verskil is lotsbepalend!

Die elemente van saligmakende geloof

'n Illustrasie: Jy land vir die eerste maal op 'n groot internasionale lughawe. Jy moet vlugte verwissel. Eerste moet jy vasstel hoe laat jou vlug vertrek en deur watter hek jy moet gaan. Jy benodig dus inligting en begrip. Jy is egter bang jy maak 'n fout. Daarom klaar jy wat jy gesien het, by die intingstoonbank uit. Jy soek versekering en oortuiging. Al wat dan oorbly, is om aan boord te gaan — jou vlug en bestemming aan die loods oor te laat.

 

Reddende geloof bestaan uit kennis, oortuiging en vertroue

al drie is noodsaaklik.

Die eerste element: Geloof is kennis

Kennis is nie geloof nie, maar sonder kennis kan daar nie geloof wees nie. Saligmakende geloof het inhoud! En hoe kan die geloof eg wees, as die inhoud vals is?

            Ware geloof het "ware waarheid" as inhoud.

            Dis waarom die apostel skryf: "En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? .... Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus" (Rom 10:14,17).

            +          Maar geloof op sigself, geloof sonder meer, sal niemand red nie.

            Dan is dit geloof in geloof — vertroue op iets in jouself. Dis afgodery!

            Ware geloof nael sy oë vas op iets, nee, op Iemand — buite jouself.

            Nie die belewing van die subjek nie, maar die aard van die objek, is die bepalende.

 

            +          Dis kennis oor Jesus Christus en wat Hy gedoen het, steeds doen, sal doen.

 

            +          Dis meer as blote kopkennis. Dis regte waarheid wat in die ernstige soeke na sin en sekerheid deur die hart gebrand het.

            En dit word lewenslank omhels, vertrou, vasgehou en gekoester.

            +          Maar, onthou óók die misdadiger aan die kruis! Een is gered, sodat niemand sal wanhoop nie; maar net één, sodat niemand aanmatigend durf wees nie.

            Ware geloof kán egter nooit daarop staat maak nie. Áltyd kom saam met ware geloof 'n hartstog om steeds dieper in te myn in kennis van die Een in wie geglo word.

Wesenselemente van díé kennis wat deel is van reddende geloof

 

1.         Ek moet iets verstaan van wie God drie-enig is. In die besonder moet ek weet dat Hy 'n heilige God van geregtigheid is wat mense aanspreeklik hou, hulle oordeel in terme van Sý standaarde, en alle mislukking en rebellie met die ewige dood straf (Hand 17:30-31).

2.         Ek moet weet dat ek 'n noodlottige probleem het — dat ek nie eers kan begin om o.g.v. eie verdienste aan God se vereistes te voldoen nie. Ek het dus sonde- en skuldbesef nodig.

            Waarom? Daarsonder is die oplossing nie vir my belangrik genoeg nie. Dis híérdie kennis wat die evangelie werklik goeie nuus vir my maak.

3.         Ek moet ten minste 'n embrionale kennis van Christus en Sy werk te hê.

            3.1.      Sy persoon: Dat Hy die tweede persoon van die goddelike Drie-eenheid is wat mens geword het ten einde middelaar tussen sondaars en God te wees.

            3.2.      Sy middelaarswerk: Dat Hy sondaars wat waarlik glo se skuld voor God op Homself geneem het en God se se standaarde namens hulle volkome onderhou het.

            3.3.      Sy opstanding: Dat dit God se waarborg is dat Hy volkome aan sy geregtigheidstandaarde voldoen het, en daarom vir ewig persoonlik, histories, liggaamlik leef.

            3.4.      Sy wederkoms: Dat Hy my herskepping finaal sal kom afrond en vervolmaak.

Dit is waarom die apostels niks anders as Christus gepreek het nie.

 

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

http://www.imagodei.co.za/