VIDEO-OPNAME: https://youtu.be/SDLpeccwaiM
"Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is,
is uit God gebore ..."
1Joh 5:1
Laas keer het ons na die eerste onmisbare element van reddende geloof gekyk: Kennis. Nou moet ons na die tweede element kyk: Oortuiging.
Geloof is oortuiging
Dit is moontlik om baie oor 'n onderwerp te weet, sonder om oortuig te wees dat jou kennis die waarheid is.
Enige sendeling in die Midde-Ooste moet 'n grondige kennis van Islam hê. Hy werk egter juis daar, omdat hy glo dat Islam nie die waarheid dra nie, maar die leuen.
Meer as kennis is dus nodig. Sonder oortuiging is geloof nog nie reddend nie.
# Saligmakende geloof is van harte van twee dinge oortuig:
+ Dat dit wat ek weet wáár is.
+ Dat dit ook op mý van toepassing is.
# Die oorgang van kennis na oortuiging is te danke aan die werk van die Heilige Gees. In hierdie verband is Joh 16:8-11 deurslaggewend. Die Gees oortuig van "sonde", "geregtigheid" en "oordeel" (v.8).
Die betrokke werkwoord (om te oortuig) wil méér sê as net dat die Heilige Gees dit doen; dit laat die klem val op die effektiwiteit van Sy handeling. Hy beskuldig dus nie net die bepaalde persoon nie; Hy oortuig hom van harte, sodat hy in sy bínneste weet dis wáár.
Hy oortuig "van sonde (v.9)
Van watter sonde? Dat die betrokke persoon nie in Jesus Christus glo nie.
Dit bring dus die innerlike wete — oortuiging — van persoonlike geestelike bankrotskap en ongeloof; van God se volmaakte oplossing daarvoor in Jesus Christus die Gekruisigde; en van skuld aan die ergste van sondes, nl. verwerping van God se liefdesgenade in Christus vir sondaars.
Hy oortuig "van geregtigheid" (v.10)
Wat word bedoel? Dit het te doen met die feit dat Jesus na die Vader teruggekeer het.
Dit verwys na Jesus se opstanding en hemelvaart. Dit is dus oortuiging dat die Seun aan ál die Vader se se eise van die "laaste Adam" se werkverbond voldoen het.
Na die sondeoortuiging en gepaardgaande wete dat jy nooit aan God se standaarde kan voldoen nie, is hierdie wete uiteraard wonderlike goeie nuus!
Dit gaan dus hier oor die innerlike wete dat my eie geregtigheid nooit, maar nooit God se toets kan slaag nie en dat my enigste hoop lê in die geregtigheid wat God voorsien — díé van Jesus Christus wat aan my toegereken (gekrediteer) word.
Hierdie waarheid lê aan die hart van die evangelie.[1]
Hy oortuig "van oordeel" (v.11)
Wie se oordeel? Die duiwel se oordeel.
Satan se aanklagte wat jou aan 't twyfel wil hou en só van geloof wil weerhou, is vals; dit hou geen grond nie. Hy is die vader van die leuen.
Sy vonnis is die doodstraf; hy wag as't ware in die dodesel vir die dag van voltrekking in die poel van vuur en swael (Op 20:10).
Dit gaan dus oor die oorwinning en triomf van Christus. Dit gaan daarom ook oor die een wat uit God gebore is, en deur geloof met Christus verenig is, se onwankelbare en ewige sekuriteit.
Daarom is die Christen se belewing een van dankbaarheid en sekerheid en verwagting.
Hierdie oortuiging bring 'n lewe van hoop — 'n lewe op die voorvoet.
'n Laaste woord
Hierdie element van ware geloof — oortuiging — maak die outentieke Christelike lewe een van blydskap, positiwiteit, sekerheid en sekuriteit.
Kennis op sigself ontkom die twyfel nooit heeltemal nie, maar oortuiging dra jou deur 'n duisend aanslae.
Die volwasse geloofslewe word dus met doelgerigtheid en vaste tred geleef.
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E:
[1] Rom. 1:16-17; 10:1-4; Fil 3:9