VIDEO-OPNAME: https://youtu.be/IRmKjdwCJCw
"Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is,
is uit God gebore ..."
1Joh 5:1
Vertroue is die sluitstuk van reddende geloof
# Vertroue en geloofsekerheid moet nie verwar word nie.
Hoewel laasgenoemde gepaard behoort te gaan met ware geloof, ervaar sommige Christene tog korter of langer tye van vertwyfeling. Hoewel dit 'n "pastorale ongesteldheid" is, is dit ook so dat die krag van geloof in swakheid en afhanklikheid lê.
Seisoene van twyfel berei mense gewoonlik voor vir 'n nóg dieper waardering van en dankbaarheid vir God se soewereine genade in Christus — wanneer die sonskyn van die Heilige Gees se versekerende werk uiteindelik weer deurbreek.
# Daar is geen ware geloof sonder kennis en oortuiging nie. Maar kennis waarborg nie ware geloof nie. En oortuiging is nog nie vertroue nie.
Ware Geesgewerkte oortuiging gaan egter altyd oor in vertroue.
Dit "gaan aan boord" — dit bly nie by die hekke staan nie! (om by ons illustrasie van 'n vorige keer te bly).
# So 'n handeling het ten minste twee kante:
+ Een, om die Evangelie-aanbod persoonlik toe te eien.
+ Twee, om jouself aan Christus toe te vertrou om jou saak met God reg te stel.
# As Jesus in Matt 5:3 sê dat "armoede van gees" die drumpelvereiste vir toetrede tot die Koninkryk van die hemel is, praat Hy van geestelike bedelaarskap (Gr. lett.; OAV; DAV).
Dis geestelike bankrotskap. Jy het aan die einde van jouself gekom. Tevergeefs, weet jy, is jou patetiese pogings om God se geregtigheidseise te slaag.
'n Bedelaar probeer nie meer werk nie; hy staan bloot bakhand.
# Vertroue is om God se genadegawe in Christus vir jouself toe te eien. Dis om totaal tot rus te kom in sy volkome middelaarswerk.
Hierdie vertroue is soos díé van 'n drenkeling wat aan 'n lewensboei vasklou.
Dis soos díé van 'n rotsklimmer wat met sy hele gewig aan 'n enkele staalpen hang.
# Johannes gebruik tipies 'n unieke Griekse konstruksie om die dinamiese karakter van geloof in Christus te beklemtoon. Letterlike sê hy, dis om "om in Christus in te glo". Dis as 't ware 'n handeling wat die sondaar uit homself en die ou Adam uithaal, en in Christus die laaste Adam inplant.
Saligmakende geloof is dus om God se genadegawe in Christus vir jouself toe te eien. Dis om jouself vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid aan Hom toe te vertrou — as Groot Profeet, Priester en Koning.
Dis 'n sterwende se kyk na die koperslang! (Num 21:4-9).
# Só besing Toplady dit in Rock of Ages:
Nothing in my hand I bring,
Simply to Thy cross I cling;
Naked, come to Thee for dress;
Helpless, look to Thee for grace; Foul, I to the fountain fly:
Wash me, Saviour, or I die.
Saligmakende geloof is afhanklike vertroue!
Presies dít is die Evangelie: "Kyk! kyk! kyk! — en word gered!"
Dit kyk elke dag óp, weer en weer — sonder om uitgekyk te raak!
# Hoe kan só 'n geloof dan anders as om ook lewenslank toe te wy?
# Jy sê, jou geloof is so klein, so weifelend, so pateties!
Daar is 'n wêreld se verskil tussen swak geloof en vals geloof.
Die Here beloof Hy sal die geknakte riet níé breek nie en die rokende lamppit níé uitblus nie (Matt 12:20).
God se beloftes word nie aan sterk geloof gegee nie, maar aan egte geloof.
Al wat swak geloof hoef te doen, is om afhanklik te kýk, te bly kyk — enduit te kyk.
# Dis nie die geloof wat moet sterk wees nie, dis die Verlósser — en dit is Hy gewis!
Sal Sý Naam op jou lippe wees as jy sterf?
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E: