PDF WEERGAWE

VIDEO-OPNAME:      https://youtu.be/xKT405Wq0sA

 

"Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie ... " (1Joh 3:9, OAV)

"dan weet julle dat elkeen wat die geregtigheid doen, uit Hom gebore is." (1Joh 2:29; NAV)

Bekering

#          Bogenoemde twee verse, oftewel twee merktekens van die geboorte uit God, loop hand-aan-hand. Dis in werklikheid twee kante van dieselfde saak — bekering.

            Daar is 'n negatiewe kant. Daar is 'n positiewe kant.

            Die geboorte uit God bewerkstellig dus enersyds 'n wegdraai van sonde; en andersyds 'n heendraai na geregtigheid.

            +          Bekering beteken omdraai, omkeer — deur 180 grade. Dit dui dus op die ingrypende koersverandering wat die geboorte uit God in 'n lewe meebring.

            Sowel 'n wegdraai as 'n heendraai is noodsaaklik om inderdaad van bekering Bybelse bekering te maak.

            Die een sonder die ander is tevergeefs.

                        =               As ons sê wedergeboorte bewerkstellig 'n wegdraai van sonde — dan is dit 'n rugdraai op die duiwel en sy verleidinge, op die wêreld en sy verlokkinge, op die vlees en sy verlustiginge.

                        =          As ons sê wedergeboorte bewerkstellig 'n heendraai na geregtigheid — dan is dit die geregtigheid wat "gedoen" word. Dit word dus uitgeleef (1Joh 2:29).

            Hier word dus nie bedoel die juridiese staat van toegerekende geregtigheid nie (dit wat deur die geloof alleen kom en wat saamhang met die eerste merkteken, naamlik geloof). Hier word gepraat van die geregtigheid wat uitgeleef word as die hart van heiligmaking.

            Dit hou in: gehoorsaamheid aan Christus se lering as Profeet; vertroue in sy verdienste as Priester; toewyding aan Hom as Koning.

Wortelbekering en voortgaande bekering

#          In beide verse hierbo dui die betrokke werkwoorde in die Grieks op voortgaande handeling. Elkeen wat uit God gebore is hou nie aan om sonde te doen nie; trouens, hy hou daarna aan om die geregtigheid te doen. Dit gaan dus oor 'n volhardende manier van lewe.

            Hierdie tweede vrug van die geboorte uit God, hierdie noodwendige karaktertrek van 'n Christen, het só 'n dramatiese effek in 'n lewe dat die Skrif kan sê dat die ou dinge verbygegaan het en dat alles nuut geword het (2 Kor 5:17).

#          God se Woord leer, en ervaring bevestig, dat daar twee soorte bekerings is — onskeibaar, maar tog onderskeibaar.

            Daar is soiets soos aanvanklike bekering wanneer iemand 'n Christen word. En daar is iets soos daaglikse of voortgaande bekering. En ons durf nie een van die twee verwaarloos nie indien ons die godstad wil bereik — die Pilgrim's Progress se "celestial city".

 

#          'n Illustrasie:

            'n Vlootskip vaar in die rigting van Antarktika. Dan word hy teruggeroep Simonstad toe. Daar is twee moontlikhede, afhangende van omstandighede.

            As oorlog uitgebreek het, sal hy so kort en vinnig moontlik draai om by sy basis te kom.

            As hy bloot genoeg suid is en wil terugkeer, sal hy wyd en geleidelik draai.           

            Maar vanweë seestrominge, dwarswinde en deinings wat hom van koers af druk, moet so 'n skip voortdurend kleiner koersaanpassings maak.

            Om by die hawe uit te kom, is per slot van rekening waaroor dit gaan!

#          Netso maak dit uiteindelik min saak of 'n aanvanklike bekering dramaties of geleidelik plaasvind. Al wat van belang is, is of iemand inderdaad gedraai het, nou in die regte rigting op pad is en bly, en uiteindelik oorwinnend deur die wenlint sal breek.

Slegs súlke oorwinnaars

— wat in hierdie lewe twee keer gebore is —

sal uiteindelik triomferend op die wennerspodium staan.

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

http://www.imagodei.co.za/