VIDEO-OPNAME: https://youtu.be/QtTkv9pjKqI
"No one born of God makes a practise of sinning,
for God's seed abides in him,
and he cannot keep on sinning because he has been born of God."
(1John 3:9; ESV).
Sonde is nie die tipiese van 'n wedergebore mens se lewe nie; veeleerder gehoorsaamheid aan die Here — ten spyte van nog baie gebrokenheid en worstelinge met oorblywende sonde, oftewel die vlees.
Uit die struktuur van 1Joh 3:9 is dit duidelik dat die sleutel tot 'n lewe van heerskappy oor sonde die "saad van God" is wat in 'n wedergebore mens bly. Die wedergeboorte bring dus 'n nuwe lewensbeginsel sodat hy of sy begeer om klaar te kry met sonde.
# Maar ook hier kan die valse maklik vir die egte aangesien word.
+ Ware bekering is méér as bloot goeie voornemens, hoe opreg ook al; meer as die blote erkenning dat ek 'n sondaar is; meer as selfveragting, selfverwyt, trane, vrees.
Hoeveel beloftes is nie al vanaf siekbeddens aan die Here gemaak nie — beloftes wat op niks uitgeloop het nie! Legioene soldate het al hulle sondes bely terwyl die kartetse om hulle bars, net om die volgende dag eens so erg in sonde aan te gaan.
Thomas Watson: "Trust not a passionate resolution; it is raised in a storm and will die in a calm." Ons ken die gesegde: "Die pad na die hel is geplavei met goeie voornemens."
Daar is talle voorbeelde in die Skrif van sogenaamde bekerings wat op niks uitgeloop het nie. 'n Tragiese voorbeeld is díé van Agab (1Kon 21:17-19; 25-29). In v.27-29 kom hy "tot bekering". Die Here reageer daarop deur die oordeel uit te stel tot ná sy lewe. Maar net in die volgende hoofstuk lees ons hoe hy drie jaar later onder die toorn van God sterf, net soos aanvanklik geprofeteer is. Waarom? Omdat sy berou en bekering nie ég was nie!
+ Ware bekering is selfs méér as die los van sékere sondes.
Mense los party sondes, net om in die plek daarvan ander te omhels. Of hulle los openlike sondes, maar wat hulle agter geslote deure doen, skrei ten hemele. Of hulle los sosiaal-skandelike sondes, maar die aanvaarbares woeker voort. Of hulle los skadelike sondes, maar die sogenaamd onskadelikes gaan voort.
# Ware bekering kom uit 'n nuwe, herskepte, wat alle sonde haat.
Nege dinge kenmerk 'n egte herskeppingswerk van die Gees. Niemand ervaar dit hééltyd ewe intens nie. Maar élke wedergeborene ken iets daarvan proefondervindelik.
1. Ervaringskennis van my skuld, my verdorwenheid en my magteloosheid om dit in eie krag te oorkom. Esra 9:6: "My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sondes is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog."
2. Oorblywende sonde en wat daarmee saamhang is my grootste vyand. William Cowper: "I hate the sin that made Thee mourn, and drove Thee from my breast!"
3. Ek weet my sonde is ten diepste teen die heilige, liefdevolle en volmaakte God. Dis Sý wette wat ek keer op keer oortree. Dis Hóm wat ek in oneer bring.
John Bunyan: "Sonde is om God se geregtigheid uit te daag, om Sy genade geweld aan te doen, om Sy geduld te bespot, om Sy krag te minag; om Sy liefde gering te skat."
Ps 51:6: "Teen U alleen het ek gesondig; ek het gedoen wat verkeerd is in U oë. U uitspraak is dus reg en U oordeel regverdig." (NIV: "Against you, you only, have I sinned ..").
4. Ten spyte van my mislukking is daar tog ook die belewing van God se barmhartigheid en genade in Jesus Christus. Dit bring dan ook die dankbaarheid en vrymoedigheid om te volhard op die pad van heiligmaking.
5. Ek begeer opreg om klaar te kry met sonde — wat altyd sal lei tot opregte voornemens wat dit betref, maar ook tot gebed vir krag om daarin te volhard en te oorwin.
6. As hierdie dinge enigsins eg is, móét my lewe mos verander, moet ek mos groei in heiligmaking. Luther het gesê: "To do so no more, is the truest repentance."
7. Sekere dinge wat ek gedoen het, los ek. Ander dinge wat ek nagelaat het, begin ek doen. Ek begin my gedagtes, gesindhede en motiewe oppas. Ek plaas 'n wag voor my mond. Ek vermy gevaarlike terrein. Ek flankeer nie met Jak 1:13-15 se prostituut nie. Ek pluk die vyand se vurige pyle uit my klere uit; ek kap die hand af wat my laat struikel.
8. Ek leer my Achilleshiele ken. Ek doen restitusie; loop terug op my spore om reg te maak waar ek verbrou het; vra maklik om verskoning (Matt 5:23-24).
9. As ek na verloop van tyd terugkyk, kan ek tóg groei sien — al beleef ek dikwels presies die teenoorgestelde. En al kan ék dit nie sien nie, kan die wat my goed ken wel.
Opsommend
Iemand wat wedergebore is, se lewe word nie deur sonde gekenmerk nie,
maar deur oorwinning oor sonde.
Die stryd gaan egter nooit verby nie,
die gevegsfront verskuif net geleidelik.
Elke ware Christen ken die hartseer van mislukking in hierdie stryd.
In boks kan mens punte, rondtes en gevegte verloor.
Selfs hulle wat uit God gebore is
verloor dikwels punte,
selfs rondtes.
Maar die geveg uiteindelik
nooit nie!
1Johannes 1:8-2:2
Iemand wat waarlik uit God gebore is, veg sóós en ás 'n wenner
en word uiteindelik as kampioen gekroon.
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E: