VIDEO-OPNAME: https://youtu.be/F_utbn6G5ck
"As julle weet dat Hy regverdig is,
dan weet julle dat elkeen wat die geregtigheid doen,
uit Hom gebore is"
(1Joh 2:29 OAV; vgl. ook 2020).
Let op dat 'n Christen se "geregtigheid" sy of haar manier van lewe is (vgl. NAV). Dis 'n aan God toegewyde lewenswyse in navolging van die Here Jesus.
As die Eersgeborene van God se nuwe skepping 'n lewe van volmaakte geregtigheid geleef het, hoe kan die herskepping tot die beeld van God in 'n mens tot iets ánders lei?
# Wat iemand in sy hart is, dit ís hy; en wat hy ís, sal hy lééf (vgl. Spr 4:23).
Die wedergeboorte is ten diepste 'n hartsverandering. En op die tafels van hierdie nuwe hart "skryf God Sy wette". Dit beteken dat die wedergeborene vanuit sy binneste (dus in opregtheid) begeer om te doen wat reg is in God se oë — hy kan nie anders nie.
En as hy dit regtig wíl doen as 'n prioriteit, sal dit sy of haar hele lewe beheers.
'n Mens doen áltyd wat hy wil; trouens, hy doen nét dit.
+ Gestel 'n rower druk 'n rewolwer teen jou kop en jy weet: dis óf die banksak met lonegeld, óf jou lewe. Hoewel dit regtig nie jou begeerte is om 'n groot klomp geld weg te gee nie, kan jy die sak nie vinnig genoeg aangee nie. Waarom?
Jy het 'n gróter begeerte om te bly lewe as om die geld te behou!
Mens handel altyd, sonder uitsondering, volgens jou sterkste begeerte,
dus volgens jou wil,
jou hoogste prioriteit
en gevolglike besluit.
# Dit is daarom duidelik: As God se wette dan op die tafels van jou hart gegraveer is, móét jou lewe mos gekenmerk word deur geregtigheid — uitlewing van God se wil!
'n Lewe gekenmerk deur die afwesigheid van gehoorsaamheid, dui op ander begeertes en prioriteite, en dus op die afwesigheid van God se wet in die hart.
Dit dui daarop dat so 'n persoon nog nooit herskep is nie.
# Hierdie onlosmaaklike band tussen innerlike aard en uiterlike gedrag, word duidelik deur die Here Jesus geleer: " ... aan die vrugte word die boom geken" (Matt 12:33).
Jakobus skryf: " ... so is ook die geloof sonder die werke dood." (2:26 en konteks).
Vergelyk ook Joh 14:21,23,24; 15:14; 1Joh 2:3-4; 3:10.
Die onsigbare word herken aan die sigbare;
en as die sigbare afwesig is,
is die onsigbare ook nie daar nie.
# Daar is net een manier om seker te weet wat reg is in God se oë – wat dus Sy norm vir geregtigheid is: Sy Woord! Hy hét, vir seker, Sy wil en voorskrifte aan ons geopenbaar.
Dis in ekstrakvorm opgeteken in Sy morele wet – die Tien Gebooie – en word in die res van die Skrif (in die besonder die Nuwe Testament) oopgerol en verduidelik. [1]
# Die geregtigheid wat saamhang met wedergeboorte is dus baie spesifiek — en daarom uniek. Dis kwalitatief iets anders as blote moraliteit of filantropie.
# Die radikale, totale en omvangryke effek van die wedergeboorte sorg vir minstens vyf watermerke van egtheid.
+ Die hele mens is daarby betrokke — omdat dit uit die hart, die sentrum van die persoonlikheid voortkom. Dit beheers dus my denke, emosies, wil, oortuigings. Ek wy my kragte, tyd, vermoëns, finansies daaraan. Ons praat van die kenmerkende van 'n lewe.
En, uiteraard, waarvan my hart vol is, sal my mond oorloop.
+ Die volle spektrum van God se geopenbaarde wil is hierby betrokke. Per slot van rekening is ál God se wette op die tafels van die herskepte hart geskryf. So 'n persoon wil God dus in álles behaag. 'n Moraliteit wat vanuit die mens is, hou hom daarenteen besig met enkele behepthede wat gewoonlik ook sekondêr is in terme van Bybelse waarheid.
+ Hierdie heilige gehoorsaamheid groei in die bodem van dankbaarheid vir God se reddende genade in Christus en is gerig op die eer van God. Dit gaan dus nie in die éérste plek om die welsyn van mense (of diere!) nie – en allermins om eiebelang.
+ Ten spyte van baie mislukkings het hierdie geregtigheid – oftewel heiligmaking – oor die langtermyn 'n groeiende karakter.
+ Dis 'n permanente herskepping. Die lewe wat daaruit voortvloei, hou dus lewenslank. Die wedergeboorte is 'n integrale deel van God se ewige verlossingsplan.
+ Hierdie geregtigheid is die tipiese, die normale, die kenmerkende van 'n lewe. Dis nie altyd ewe voorop nie. Ons worstel nog met oorblywende sonde. Almal misluk nog.
Ons praat dus van 'n langtermynaard en -ontwikkeling — van die tipiese.
Maar
1Pet 2:21: Christus het "vir julle 'n voorbeeld [2] agtergelaat
... sodat julle in sy voetspore kan volg" (1Pet 2:21).
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E:
[1] Só belangrik is hierdie kwalifikasie dat al die groot belydenisskrifte dit aanspreek: Heidelbergse Kategismus v&a 91; Nederlandse Geloofsbeydenis, paragraaf 24; Westminster
Confession, paragraaf XVI; 1689 Baptist Confession, paragraaf XVI.
[2] Gr. hupogrammos. In klassieke Grieks onder meer gebruik vir die voorbeeld van 'n onderwyser se stilus-letters in klei. Die kleintjies wat moes leer skryf, het dan die groefies versigtig met hulle griffeltjies gevolg om die letters te leer maak (Rienecker & Rogers: Linguistic Key to the New Testament; p.755).