VIDEO-KLANKOPNAME: https://youtu.be/K2jXWaZOViQ
"... elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God."
(1Joh 4:7 OAV; 2020)
Omtrent almal leef vir liefde. Dit word bepraat, bestudeer, besing, beskryf, beoefen — en gepleeg. Talle uitdrukkings van wêreldse liefde is edel, maar die perverse word ook dikwels geregverdig in die naam van liefde.
Christelike liefde (Gr. agape) is egter iets baie uniek. Nét wedergebore mense het dit. As hierdie merkteken verstaan wil word, moet "natuurlike liefde" (2Tim 3:3), hoe verhewe ook al, nie vir die egte aangesien word nie.
# Waarskynlik die mees unieke van Christelike liefde lê in die dubbele gerigtheid daarvan (1Joh 5:1-2).
Enersyds kom dit tot openbaring in gehoorsame liefde teenoor God.
Andersyds kom dit tot openbaring in dienende liefde teenoor die medemens (veral broers en susters in die Here).
Hierdie twee komponente is 'n siamese tweeling in elke herskepte lewe.
Die vertikale sonder die horisontale komponent is huigelagtig. Dit word dan tiendes van speserye sonder geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid (Matt 23:23).
Die horisontale sonder die vertikale is menslike moralisme. Verhewe en edel soos die uitdrukkings hiervan ook al soms is, is dit op sigself níé 'n merkteken van wedergeboorte nie. Aanhangers van vals godsdienste en ateïste handhaaf dikwels hoë morele standaarde.
# Liefde, in sy tweërlei gerigtheid, is die hart van Christelike etiek. (Matt 22:34-40; Mark 12:28-34). As sodanig is daar niks wat God meer behaag nie (1Kor 13:13).
Liefde vir die naaste
# 1Joh 3:14-18 is baie verhelderend (vgl. ook Jak 2:14-17).
+ Broederliefde is 'n definitiewe merkteken van redding (v.14-15).
Jesus Christus se volmaakte voorbeeld is terselfdertyd die definisie daarvan. En die essensie daarvan lê in die aflê van jou lewe vir die broers en susters (v.16).
+ Hoe lê ons ons lewens af vir ander?
Ons hoef uiteraard nie weer gekruisig te word of vir ander sterf nie. Dit gaan oor die aanwending van wat ek beskikbaar het in belang van ander (v.17).
Johannes gebruik 'n praktiese voorbeeld om die punt tuis te bring: Materiële uitdeling en versorging.
Maar dit gaan oor enigiets, wat ook al (bv. vermoëns, kennis, ervaring, tyd ens.), wat ek beskikbaar het om iemand anders mee te seën.
Só kan ook die arme liefde aan die ryke betoon. Hy het, sê maar, uitstekende praktiese vaardighede, terwyl die ryke dalk met tien duime gebore is.
+ Christelike liefde is dus uiteindelik iets wat ek doen, eerder as iets wat ek sê of voel. Maar dis selfs meer as dit — dit kom uit die hart uit, dis opreg (v.18).
# Ook Fil 2:1-7 leer dieselfde: self-aflegging is die wesenstrek van naasteliefde.
Vers1 baseer sulke liefde op die onpeilbare genade wat 'n mens in Christus ontvang.
In vers 2-4 beskryf hy hoe hierdie liefde lyk en gaan dan in vers 5-7 voort om, soos Johannes, die Here Jesus se selfverloëning as hulle model voor te hou.
# Die dissipels het hierdie sentrale waarheid natuurlik by die Here self geleer. Die ambisie om die vernaamste te wees, was 'n voortdurende strydpunt tussen hulle (Matt 18:1-4; 20:17-28). Selfs die aand voor die kruisiging was dit weer 'n kwessie (Luk 22:24-27).
Wat egter later daardie aand in die bovertrek gebeur, moes sonder twyfel 'n onuitwisbare indruk op hulle gemaak het.
In Joh 13:1-17 word die voetwassing beskryf. Dis 'n handelingsgelykenis van die Here. Hy sinspeel in die eerste instansie op sy eie dienswerk aan die kruis (vers 8). Hy gaan egter onmiddellik voort om Sy dissipels op te roep tot soortgelyke self-afleggende diensbaarheid (vers 12-17).
Dan vat Hy hierdie hart van die Christelike lewe en Christelike etiek vas in v.34-35: Dis 'n onmisbare element is dit van die Christelike lewe; 'n merkteken van egtheid.
# Só belangrik ag die Here dit dat dit op die oordeelsdag die ewige bestemming van mense sal bepaal (Matt 25:31-46).
Die Here Jesus leer nie hier dat mense op grond van goeie werke gered word nie, maar dat goeie werke die noodwendige uitvloeisel van redding is — en as sodanig die watermerk daarvan is.
Christelike liefde vir die naaste is 'n dienende, voetwassende liefde
ingestel op die welsyn van ander.
En dit is geen randsaak in die Nuwe Testament nie;
inteendeel! Allermins!
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E: