Klankopname: https://youtu.be/uiz6XbpBx1Q
"... elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld;
en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin
– ons geloof" (1Joh 5:4; DAV).
Die Christen woon in vyandelike gebied.
# Die begrip "wêreld" (Gr. "kosmos") dui op 'n onderling-samehangende stelsel of sisteem. Daarom gebruik die Nuwe Testament dit om die skepping, asook die mensdom te omskryf.
Máár meestal het dit 'n meer gelaaide betekenis: Die Godvyandelike wêreldstelsel waarvan die gelowiges onder geen omstandighede deel mag word nie.
# In 1Joh 2:15-17 sê dat hierdie bose stelsel deur "begeertes" (2020) voortgedryf word (vgl. 2Pet 1:4). Die gevalle mens is behep met eiebelang en selfbevrediging.
Soos rondloperhonde soek mense hierdie vervulling in die asblikke van die wêreld.
Dis hierdie rustelose, nooit-bevredigde soeke wat die wêreldstelsel laat "tick"
# Volgens 1Joh 2:16 (2020) dryf veral drie dinge hierdie begeertes (of vlees).
+ Dit wat "wat die liggaam begeer". Dit dui waarskynlik op daardie dinge in die wêreld wat 'n appél op die begeerlikhede en laere drifte van die mens maak.
+ Dit wat "die oë begeer". Dit dui waarskynlik op daardie dinge in die wêreld wat 'n appél op die estetiese sensitiwiteit en behoeftes van die mens maak.Dit gaan immers vir baie ongelowiges nie primêr oor die begeerlikheid van die vlees nie, maar hulle beheptheid is veeleerder die sogenaamde mooi en verhewe en intellektuele dinge in die wêreld.
+ Die "arrogante spoggery oor besittings".
Die NAV vertaal: "gesteldheid op besit". En die ESV: "pride in possessions".
# Weliswaar is die besig-wees met baie van bg. (veral die hoëre dinge van die lewe)
nie op sigself sonde nie. Maar dit hou meeste mense só besig dat dit effektiewe afgodery word. En dit vervul hulle dikwels só dat hulle nooit na die ware, lewende God soek nie.
Wedergebore mense wat noodwendig met díé dinge besig móét wees, sal nooit hulle hoogste vervulling daarin vind nie, en hulle sal trouens steeds daarteen waak (soos 'n dieretuinwerker wat slange of leeus moet kos gee).
# Geld stel mense in staat om die dinge van hierdie wêreld te bekom. Daarom is die najaging van geld die brandstof waarop hierdie wêreld loop. Daarom is dit 'n wortel van alle euwels (1 Tim 6:10, OAV).
Die verleiding en bedreiging van die wêreld mag nooit onderskat word nie. Subtiel palm dit mense in. Die saad wat tussen die dorings val, is juis versmoor deur "die sorge van hierdie wêreld, die verleidinge van rykdom en die genietinge van die lewe" (Matt 13:22).
Jakobus 1:13-15 verduidelik hoe begeerlikheid tot sonde en uiteindelik die dood lei. Mense se vleeslike begeertes verlok hulle en sleep hulle saam, soos 'n slegte vrou 'n man verlei. Dan word sy swanger, en uiteindelik word 'n baba gebore — sonde. Sonde word ewe sleg groot en baar uiteindelik die dood.
# God verafsku wêreldgelykvormigheid. "Wie 'n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy 'n vyand van God is" (Jak 4:4).
Hierdie wêreld is die God-vyandige wêreldstelsel
waarin trots, die sug na eiebelang en selfbevredigin
die gevalle mensheid aandryf
en sódoende verlei om die rug op God, Sy gebooie, Sy waarheid te draai
veral op Sy Seun
Só word allerlei kragte ontketen wat voortdurend dreig om die kerk op aarde saam te sleur en in die proses te vernietig.
Christene loop egter stroom-op
# Elkeen wat uit God gebore is, "oorwin" die wêreld (1Joh 5:4). Die woord beteken om ná 'n hewige stryd seëvierend met die oorwinning weg te stap. Die Christen weerstaan die sleurkragte van hierdie wêreld, hy is trouens sterker as dit!
Die Grieks onderstreep dat hierdie oorwinning die normale, die tipiese van 'n Christen se lewe is. Ja, hy swig soms voor wêreldgelykvormigheid. Maar dis nie die reël nie; dis die uitsondering. 'n Christen se lewe word nie daardeur gekenmerk nie.
# Die oorwinning geskied deur die "geloof" (1Joh 5:4b-5) — geloof wat die Here Jesus se afgehandelde oorwinning toe-ëien: Hý het oorwin; ek is in Hóm; dus kan en sal ek oorwin!
Dis nie iets wat ek opwerk soos 'n gewigopteller hiperventileer voordat hy die ysters gryp nie; dis 'n lewe vanuit die afgehandelde oorwinning van my Verlosser.
Geloof gaan nie primêr oor iets wat ék doen nie,
maar oor iets wat Jesus Christus gedoen het.
Dis die heel belangrikste waarheid van my bestaan. Dit lê aan die hart van my oortuigings. En ek werk die implikasies daarvan in my lewe uit. Presies dít is wat my stroom-op voer.
# Die persoon wat uit God gebore is, lewe dus nie volgens die behepthede, waardes en prioriteite van hierdie wêreld nie. Hy laat hom nie daardeur intimideer en manipuleer nie. In elk geval is sulke kleinlike ambisies benede sy waardigheid.
Nee, hy sien die onsienlike! Hy is op pad na 'n ander wêreld, 'n ewige vaderland.
Híér is hy 'n "bywoner en vreemdeling" (1Pet 2:11) — en 'n pelgrim op pad deur.
Vir hom is "die lewe Christus en die sterwe wins" (Fil1:21).
"He marches to a different drummer"; hy is op die "smal pad" (Matt 7:14); hy let sorgvuldig op hoe hy leef (Ef 5:15 DAV).
Daarom raak hy keer op keer tussen wêreldlinge — selfs tussen wêreldgelykvormige "Christene" — bewus dat hy 'n "square peg in a round hole" is.
Iemand wat uit God gebore is, is 'n vreemde fenomeen in hierdie wêreld
Hy is eenvoudig anders as Jan en alleman.
Hy is 'n burger van 'n ander koninkryk!
Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie,
want Hy het vir hulle 'n stad voorberei" (vgl. Heb 11:16).
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396