Nico van der Walt
Die Here Jesus lewer die profetiese rede[1] op Woensdag, 12 Nisan, twee of drie dae nadat Hy Jerusalem triomfantelik op 'n donkie binnegery het, en twee dae voordat Hy gekruisig sou word. Ons vind hierdie stuk lering in die drie sinoptiese evangelies in Matt 24:1-25:46; Mark 13:1-37 en Luk 21:5-36.
Ons sal primêr na Matteus se weergawe kyk en bloot na Markus en Lukas verwys as dit meer lig werp op Matteus.
Talle vind hierdie verse baie moeilik om te begryp
# Met min Skrifgedeeltes sukkel gelowiges meer as met hierdie stuk lering van die Here Jesus in Matt 24.
Talle kan glad nie v.15-35 en v.36-44 met mekaar gerym kry nie. Dis omdat aanvaar word dat eersgenoemde verse, ten minste gedeeltelik, die tyd direk voor die wederkoms van Christus beskryf. Maar dan kom die probleem: hoe op aarde kan die dramatiese gebeure van eersgenoemde gerym word met die laaste klompie verse — verse van vrede en welsyn wat baie duidelik die einde van die wêreld beskryf? [2]
Die sleutel wat die raaisel oopsluit, is vers 34: "Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie." (DAV).
# Die Here sê uitdruklik dat "ál hierdie dinge" (OAV) — verwysende na die voorafgaande verse — nog in die leeftyd van "híérdie geslag" sal plaasvind. Hy praat dus van iets wat binnekort sal gebeur, gebeure wat sy tydgenote nog sal beleef.
Ek meen dis so duidelik soos daglig. "Destyds?", sê jy. Ja, destyds, in die eerste eeu.[3]
Het Jesus dit mis gehad? Baie kritiese teoloë sê dit sonder huiwering. Hulle voer byvoorbeeld aan dat Hy gedink het Hy is die Joodse Messias wat binnekort alle heerskappy sou oorneem. Toe die volk Hom egter verwerp, sê die mense, het Hy in Sy ontnugtering die kruis as uitkoms omhels.
Nuurlik probeer talle meer regsinnige Skrifuitlêers die dilemma Bybels oplos, maar om een of ander rede sonder om die nodige erns te maak met v.34. As 'n reël word dan aangevoer dat 'n ander uitleg as die letterlike vir Matt 24:34-35 die antwoord bied. Gewoonlik word die verse voor v.34 dan na willekeur in een van twee kassies gegooi: dié wat slaan op die val van Jerusalem, en dié wat die wederkoms sal voorafgaan. En uiteraard het elke teoloog sy eie opinie oor die verdeling. Asof die Here onseker en onsamehangend gepraat het!
Kom ons pak die uitdaging aan! Kom ons kyk net na hierdie profesie en probeer agter die kap van die byl kom.
# In ons ondersoek in volgende Heroute sal ons vind dat die Bybel self keer op keer die antwoorde bied. Die ou en beproefde hermeneutiese reël, om Skrif met Skrif te vergelyk, sal soos klokslag tot ons redding kom.
Hiermee samehangend is nog 'n reël belangrik: as 'n bepaalde tema op verskillende plekke in die Skrif bestudeer word — veral as dit 'n moeilik verstaanbare saak is — is dit kardinaal belangrik om eers te begin met die duideliker gedeeltes en eers daarna die moeiliker gedeeltes in die lig daarvan te lees. En nooit is dit belangriker as in die geval van die profesieë oor die toekoms nie.
Net 'n laaste en voor die hand liggende opmerking. Moenie 'n gedeelte soos hierdie deur die bril van een of ander bevooroordeelde dogmatiese model lees nie. Moenie 'n Skrifgedeelte laat buikspreek nie. Laat God se Woord self die praatwerk doen.
# Uiteindelik sal bogenoemde benadering 'n heeltemal bevredigende en betroubare oplossing vir ons bied. Maar eers moet sekere waarhede in hierdie verse goed verstaan word.
Die dissipels se vraag (Matt 24:3)
# Dis hulle vraag in v.3: "Wanneer sal hierdie dinge plaasvind en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?"
Hulle vra dit na aanleiding van die Here Jesus se finale en verdoemende oordeelsuitspraak oor die Joodse bestel in v.2.
# As die Here Jesus die tempel verlaat (v.1), is dit die laaste keer. So pas het Hy in Matt 23 'n finale oordeel daaroor en oor Jerusalem uitgespreek. Sewe keer hehaal Hy dat ellende op die Jode en hulle leiers wag (Matt 23:13, 15, 16, 23, 25, 27, 29). Sy verdere oordeelsuitsprake is skrikwekkend (v.15, 23, 27, 33). Die stad gaan 'n puinhoop word!
Laat ons hierdie oordele in gedagte hou wanneer ons nader na Matt 24 kyk, spesifiek v.15vv.
# Maar tog is daar 'n onmiskenbare genade-ondertoon en -belofte in Matt 23:37-39: "Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie. Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Want Ek sê vir julle, van nou af sal julle My beslis nie weer sien nie, totdat julle sal sê, 'Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.'"
# Dis begryplik dat die dissipels hewig ontsteld is oor die Here se oordeelsuitspraak. Hulle is immers ook Jode. Na aanleiding daarvan is dit asof hulle vir Jesus wil sê, "U is seker nie ernstig nie!" Hulle vestig dan Sy aandag op die indrukwekkende tempelgeboue. Sekerlik sal Ú tempel darem bly staan!
Sy antwoord is skokkend en baie uitdruklik: "Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word" (24:2).
# As hulle by die Olyfberg aankom, vra die dissipels gevolglik vir Jesus 'n vraag - 'n tweeledige vraag.
+ Eerstens wil hulle weet wanneer die tempel vernietig gaan word.
En tweedens wil hulle weet watter tekens gepaard sal gaan met Sy wederkoms en die einde van die wêreld.
Veral Lukas se weergawe van die vraag maak dit duidelik dat die dissipels gedink het die twee sake hang ten nouste saam: "Meester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur en wat is die teken wat sal aandui wanneer dit gaan gebeur?" (Luk 21:7, DAV).
Die dissipels se verwarring
# Ons weet vandag dat die vernietiging van die tempel en die wederkoms twee verskillende gebeurtenisse is – baie eeue uit mekaar. Maar vir die dissipels was dit nie so voor die hand liggend nie.
Die Jode het verwag dat die tempel in die tyd van die Messias die permanente sentrum van aanbidding sou wees vir die hele wêreld. Van aanbidding "in gees en in waarheid" het hulle bloedweinig verstaan. Dis daarom haas onmoontlik om ons in te dink hóé skokkend, amper lasterlik, Jesus se profesie oor die vernietiging van Jerusalem en sy tempel op die Jode se ore moes geval het.
Die Here Jesus se uitsprake in 23:39 en 24:2 het die dissipels aan die wonder. Vandaar hulle vraag in v.3.
Twee afsonderlike antwoorde
# Die Here antwoord die dissipels se dubbelloop-vraag in twee gedeeltes.
Eers gee Hy aandag aan die vernietiging van Jerusalem (24:4-35).
Dan praat Hy oor Sy wederkoms (24:36-25:46).
+ Nie almal aanvaar vandag dat Jesus Sy antwoord se twee dele so uitmekaar hou nie — dat Hy eers aandag gee aan die een vraag, en daarna aan die ander.
Kyk mens na 24:15vv verstaan jy waarom soveel Christene deur die eeue oortuig was dat dit reeds hier oor die wederkoms gaan, en nie bloot oor die vernietiging van Jerusalem en sy tempel nie. Kan sulke dramatiese woorde op iets minder as die einde van alles dui?
Vers 34: "hierdie geslag"
# Een van die argumente wat gebruik word om v.34 se verdeling van die hoofstuk in twee te ontkom, is om die uitdrukking, "hierdie geslag", anders as letterlik te verstaan. Dan word aangevoer dat Jesus eintlik daarmee die Joodse "volk" bedoel, en gevolglik sê dat húlle as nasie tot en met die wederkoms sal bestaan. Die feit as sodanig mag waar wees, maar dis nie wat die Here Jesus hier wil sê nie.
Die probleem is dat die woord eenvoudig nie "volk" beteken nie. Matteus gebruik die woord (Gr. genea) 12 keer elders in sy evangelie — vier maal in 1:17; 11:16; 12:39, 41, 42, 45; 16:4; 17:17; 23:36. En deurgaans dui dit op mense wat in dieselfde tyd leef — op tydgenote, 'n bepaalde geslag.
+ Die gevierde teoloog, D.A. Carson, sê in sy Matteuskommentaar: "This generation can only with the greatest difficulty be made to mean anything other than the generation living when Jesus spoke."[4]
+ Maar, afgesien van die woord se betekenis, is Jesus nog meer spesifiek: Hy praat van "hierdie" geslag m.a.w. die mense wat op daardie oomblik lewe.
Voorts is daar ander uitsprake in Matteus wat presies dieselfde sê as hierdie vers wanneer mens dit op sigwaarde neem (Matt 10:23; 16:28; 23:36).
= Matt 16:28: "Amen, Ek sê vir julle dat sommige van dié wat hier staan, die dood beslis nie sal smaak voordat hulle die Seun van die Mens in sy koningsheerskappy sien kom het nie."
= Matt 23:36: "Amen, Ek sê vir julle: Al hierdie dinge sal op hierdie geslag neerkom." Let ook op die konteks.
# Laat ons ook nie die uitdrukking "al hierdie dinge" miskyk nie (24:33, 34). Twee keer sê Jesus dus dat al die voorafgaande gebeure gesamentlik as teken sal dien.
# Om alles te kroon, sluit die Here die gedeelte af met 'n gewigtige en onwankelbare versekering dat alles gewis nét so sal gebeur (24:34-35).
Die duidelike verskille tussen die twee gedeeltes
# As ons die naat tussen die twee gedeeltes dan as tussen v.35 en v.36 aanvaar, word 'n paar onmiskenbare verskille tussen die twee gedeeltes baie duidelik.
+ Eerstens, teenoor Jesus se beklemtoning dat alles tot en met v.35 in daardie geslag se leeftyd sal plaasvind, stel Hy dadelik in v.36 die wederkoms aan die orde. Die uitdrukking "daardie dag en uur" is wederkomstaal in die Nuwe Testament (Matt 7:22; Joh 5:28-29; 1Tess 5:2; 2Tess 1:10; 2Tim 1:12, 18; 4:8).
Hy antwoord dus nou die tweede deel van die dissipels se vraag.
+ Tweedens is die eerste gedeelte opvallend spesifiek van aard. Detailbeskrywings van komende tekens word gegee: vals christusse, oorloë, hongersnode, peste, aardbewings, vervolgings, vals profete, geloofsafval, verduistering van die son en maan, en vallende sterre. En dan natuurlik is daar die baie spesifieke gruwel van verwoesting in die heilige plek (Matt 24:15).[5]
Daarenteen is die tweede gedeelte deurgaans vaag. Niemand weet wanneer dáárdie dag en uur kom nie — geen mens of engel, of selfs die Seun nie. Net die Vader weet dit (Matt 24:36). Daarom waarsku Jesus Sy dissipels — ook ons — oor en oor om steeds waaksaam te wees, aangesien hulle nie vooraf gaan weet wanneer Hy uiteindelik sal kom nie (Matt 24:42, 44, 50; 25:13).
+ Derdens skets die twee gedeeltes tye wat radikaal verskil. Die eerste deel praat van die verskriklikste onheil en lyding; die tweede van 'n rustige samelewing, soos in die tyd van Noag (24:37-39). Mense sal gewoon met alledaagse take voortgaan (24:40-41).
+ Vierdens, teenoor die eerste tyd se gebeure wat op hande is, sal vertragings en lang tye die tweede tydperk kenmerk (24:48; 25:5, 19).
# Les bes, let op die "maar" waarmee v.36 begin wat 'n teenstelling impliseer — tussen destyds en die wederkoms.
'n Oorsigtelike kyk na die wederkoms-gedeelte (Matt 24:36-44)
# Oor die wederkoms sê die Here eintlik baie min (net 9 verse). Hy vertel daarna wel vier gelykenisse waarmee Hy dit op Sy dissipels se harte druk hoe om op die wederkoms te wag en hoe om seker te maak dat hulle gereed sal wees daarvoor. Hierdie gelykenisse dra 'n boodskap wat lewensbelangrik is. Maar daarna kyk ons mettertyd.
# 'n Beheersende feit m.b.t. die wederkoms is dat niemand vooraf sal weet wanneer dit gaan plaasvind nie! Net die Vader sal dit weet; geen mens nie, nie die engele nie; selfs nie die Seun self nie (Mark 13:32). En hierdie feit bepaal alles wat volg.
# Daar gaan hoegenaamd nie sulke dramatiese tekens wees soos in die geval van Jerusalem se val nie. Die mense sal besig wees met hulle alledaagse dinge wanneer dit gebeur, net soos voor die sondvloed (Matt 24:38-39). Gelowig en ongelowig, gered en ongered, sal besig wees om rustig saam te werk wanneer die wederkoms op hulle daag (24:40-41). Tyd vir besinning en bekering sal daar nie wees nie. Een sal geneem, en 'n ander sal gelos word.
# Dit lei dan tot 'n lewensbelangrike slotsom. Omdat ons nie weet wanneer die Here terugkom nie, moet ons "waak". Omdat die Seun onverwags gaan kom, moet ons daarmee erns maak om altyd gereed te wees (Matt 24:42, 44).
+ Dit sal gaan soos met 'n inbraak, sê Jesus. Mens weet nie vooraf wanneer die dief gaan kom nie. Daarom vang dit jou soos klokslag onverhoeds (Matt 24:43; vgl ook 24:50; 25:13). Dit is betekenisvol hoe dikwels die Nuwe Testament hierdie selfde beeld gebruik om die onverwagsheid van die wederkoms te beklemtoon (Luk 12:39; 1 Thess 5:2-4; 2 Pet 3:10; Op 3:3; 16:15).
+ Terwyl mense rustig lewe, sal die wederkoms onverwags op hulle daag. Daarom moet gelowiges getrou volhard en elke dag waak.
# Soos hier in Matt, skets óók 1Tess 5:1-11 'n toestand van "vrede en veiligheid" (v.3). Die Here sal onverwags kom! Daarom moet gelowiges "waaksaam en sober" wees (v.6, 8).
Laat ons die betekenis hiervan nie miskyk nie. Wanneer die wederkoms uiteindelik plaasvind, sal daar geen sprake wees van die dramatiese tye wat in Matt 24:15vv beskryf word nie — en waarop baie mense vertrou om hulle betyds te waarsku.
# Hierdie baie duidelike beskrywings van die tyd voor die wederkoms is vir seker baie betekenisvol as ons besin oor hoe dit sal wees voor en wanneer dit plaasvind.
Wat sê dit alles vir ons?
1. Dis nodig om die profesieë reg te verstaan.
Dikwels is die presiese verdeling en struktuur van Bybelgedeeltes nie belangrik nie. Maar ander kere is dit wel uiters belangrik om dit reg te verstaan. Dit geld by uitstek hier. Want dit gaan oor die wederkoms van die Here en Hy maak dit baie duidelik dat mens gereed daarvoor moet wees. Dis dus belangrik om te weet dat daar geen onmiskenbaar duidelike en eksakte vooraftekens sal wees nie.[6] Dit beteken dat ek en jy voortdurend in 'n staat van gereedheid moet leef.
Wag mens op spesifieke tekens, wat nooit gaan gebeur nie, kan dit jou baie duur te staan kom. Dit kan baie maklik daartoe lei dat jy hoegenaamd nie gereed is om die Here te ontmoet wanneer Hy wel kom nie. Dan mag die lot van die vyf dwase meisies jou tref. Jy mag sonder olie gevang word. Óf jy kan vals en oorverhitte verwagtinge hê, terwyl 'n lang trek in werklikheid nog voorlê. Dit lei dikwels tot twyfel, ontnugtering en geloofsverlammende terleurstelling.
Hoe bespotlik word die geloof nie gemaak nie deur mense wat só vas glo dat die Here se wederkoms op hande is (en dan koppel hulle meermale nog dag en datum ook daaraan), dat hulle dit sonder huiwering uitbasuin! En keer op keer loop dit op niks uit nie. Tragies, eintlik skandelik, is dit dat mens amper nooit 'n apologie ná die tyd hoor nie.
Waarlik, dit maak die geloof bespotlik in die oë van die wêreld en bring oneer oor die Naam van die Here! En, ewe tragies, meermale word sulke "profete" se eie geloof in die proses vernietig.
Nee, die Here Jesus se wederkoms kom gewis, maar dit sal onverwags wees.
2. Laat ons met erns bid dat die Here ons help om Sy Woord reg te verstaan.
Ons kan die Woord van God maklik verkeerd verstaan. Dit geld nie net die dinge rondom die wederkoms nie, maar die Woord van God in die algemeen. Hoeveel miljoene mense wat hulleself as ernstige Christene beskou, slaan nie op een of ander punt die bal heeltemal mis nie! Meermale het dit implikasies vir hulle ewige saligheid! Maar selfs al raak dit nie jou redding nie, raak dit feitlik sonder uitsondering die eer van God en Sy Christus, asook die welsyn en aantreklikheid van die kerk en die wêreld se respek vir die evangelie.
Daarom moet ek en jy met al die erns waaroor ons beskik, en met opregte en afhanklike nederigheid weer en weer bid dat die Gees van God ons in die waarheid sal lei. Daarsonder is ons gedoem om op allerlei sielsvernietigende dwaalweë te beland. En, skrikwekkend tragies, dikwels besef mens self dit glad nie.
Nog altyd was dit belangrik om hiermee erns te maak, maar des te meer in hierdie tyd van geloofsafval en leerstellige uitrafeling.
3. Dit beklemtoon weereens die belangrikheid van die historiese Christelike geloof.
Dit lê voor die hand dat die Gees van die Here alle ware gelowiges deur die eeue in dieselfde waarheid sal lei, in elk geval wat die noodsaaklike dinge betref — die dinge wat onontbeerlik is vir die saligheid. Per slot van rekening het niks verander wat die fundamentele waarhede betref nie: Wie en wat God is — alleen-skepper, onbetwisbaar soewerein, driemaal heilig, almagtig, alomteenwoordig. Wie en wat die mens is. Die feit en aard van sonde. Die noodsaak en manier van redding in Christus. Die lewe wat God behaag en verheerlik. En so meer.
Waarlik, daar sit groot sekuriteit en gemoedsrus in om in pas en in lyn te leef met die geloof van die godvrugtige kerk deur die eeue.
Baie in vandag se kerk het egter die historiese geloof versaak. Dit het mode geword om 'n god vir ons tyd te soek. Dis natuurlik rasegte postmodernisme.
Of daar 'n objektiewe, transendente, selfstandig-sowereine, onveranderlike God buite my is, maak hoegenaamd nie meer saak nie. Maar tog soek baie mense 'n god (dalk die meeste) — maar hul eie een, want dis lekker en cool. Dis soos elke seuntjie wat 'n eie hond móét hê. Natuurlik, as hy tevrede is met bloot 'n hondjie in sy verbeelding, is dit des te beter. So 'n brakkie mors ten minste nie op die sitkamermat nie.
Daar is egter net een probleem met so 'n eie god vir ons tyd — Hy is nie werklik nie! Hy bestaan nie! Hy is 'n illusie! As die lewenskrisisse op jou daag — en dit kom vir seker vir elkeen — dan is hy niks werd nie.
Dan praat mens nie eers van die dood en die ewigheid wat vir elkeen van ons wag nie.
Slot
Laat ons nederig bly as dit gaan oor die verstaan van God se toekoms. Maar hierop kan ons peil trek: Hy self sal sorg dat Sy uitverkorenes se oë sal sien en onderskei wanneer dit nodig is (wat nie ons verantwoordelikheid, in die besonder ons gebede en bestudering van Sy Woord ophef nie!). En op daardie dag, dink ek, sal ons meermale verbaas uitroep: "Is dít toe wat daar en daar bedoel is! Hoe kan dit wees dat ons dit nie presies só verstaan het nie. Dit lyk dan nou so voor die hand liggend!"
-o0o-
[1] Hierdie stuk lering van die Here staan in Engels bekend as "The Olivet Discourse"
[2] Hierdie verwarring is meermale te wyte daaraan dat mense hul ore uitleen aan sensasie-predikers wat 'n vreemde en obskure vreugde daaruit put om hoorders die vrees op die lyf te jaag oor "die eindtye".
[3] Ek beoog om in diepte aandag te gee aan v.15-35 in 'n volgende studie.
[4] D.A. Carson, The Exositor's Bible Commentary, Volume 8, p.507.
[5] Hierop sal ons in 'n volgende Herout let.
[6] Ja, daar is so iets soos tekens van die tye, maar dit stel niemand in staat om presies te weet wanneer Jesus Christus gaan terugkom nie.