Nico van der Walt
In Matt 23 spreek die Here Jesus skrikwekkende oordele oor die Fariseërs en skrifgeleerdes uit. Per implikasie is dit meteen ook oordele oor die Jode, want wat die leiers was, het sekerlik deurgesuur na die volk toe. Dis mos maar hoe dit altyd gaan.
Dit lei dan tot Jesus se versugting in 23:37: "Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie."[1]
En dadelik volg Hy dit op met 'n profesie oor die hart van Jerusalem en die volk se godsdiens — die tempel: "Kyk julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Want Ek sê vir julle, van nou af sal julle My beslis nie weer sien nie, totdat julle sal sê, 'Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here'" (23:38-39).
Kort daarna herhaal die Here sy oordeelsuitspraak oor Jerusalem en die tempel in 24:2: "... Amen, Ek sê vir julle: hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie — alles sal afgebreek word."
Vir die dissipels — ook Jode! — moet dit ontstellende, nog meer, verskriklike woorde wees. Hulle vraag in 24:3 volg noodwendig: "Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge plaasvind en wat is die teken van U koms en van die voleinding van die wêreld?"
Dis hierdie vraag wat aanleiding gee tot Jesus se profetiese rede.
Die verse wat Jesus se lering oopsluit (Matt 24:34-36)
Deurslaggewend vir die vertolking van hierdie hoofstuk, waaroor daar sóveel verwarring en uiteenlopende opinies bestaan, is 'n glasheldere en uitdruklike uitspraak van die Here:
"Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie. Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemel nie en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen" (Matt 24:34-36).
Baie mense sukkel met die verstaan van hierdie hoofstuk, ten spyte van bg. verse. Dis omdat talle van die dinge wat die Here vóór hierdie verse beskryf vir ons gevoel nie anders kan as om saam te hang met die wederkoms nie. Dit sou beteken dat dit gebeure is wat selfs vir óns nog toekomstig is.
Maar 'n deeglike bestudering van Matt 24:1-35 toon sonder twyfel dat die verse 'n beskrywing is van die laaste dae van Jerusalem en die tempel. Dis 'n oorsig van dinge wat 'n jaar of vier voor 70 n.C. — toe Jerusalem en sy tempel vernietig is — sou gebeur.
As sodanig is die verse waarna ons kyk 'n antwoord van Jesus op die eerste deel van die dissipels se vraag in vers 3. Hulle wil weet wanneer die oordele wat die Here in Matt 23 uitspreek gaan realiseer.
Dis die verse waarna ons in hierdie Herout sal kyk.
Die beheersende gedagte: Moenie mislei word nie!
Dis opvallend dat al drie sinoptiese evangelies begin met 'n dringende waarskuwing teen misleiding: "Pas op ...!" (Matt 24:4-5; Mark 13:5-6; Luk 21:8). Volgens Lukas is daardie tyd naby, as Jesus praat.
Laat ons nie verbaas wees dat die Here sy dissipels so dringend teen misleiding waarsku nie. Hulle móés eenvoudig in die lewe bly.
Daar wag in die komende jare 'n paar uiters belangrike en strategiese take op hulle. En sekerlik is die heel belangrikste die ontvang en op-skrif-stelling van die Nuwe Testament, asook die vestiging van die jong kerk daarin. Onuitspreeklik katastrofies sou dit wees indien hulle prooi sou word van misleiding. Dit sou alles vernietig waarvoor die Here gekom het. 'n Kerk sonder 'n volledige en betroubare Bybel is so verdwaald soos 'n blinde tydens 'n stikdonker nag iewers in die wildernis.
Matt 24:4-14: Waarskuwings en 'n belofte
Rampe en vervolging (24:4-12)
# Die dekades wat voorlê gaan uiters moeilik vir die dissipels wees. Ek meen dat die Here in hierdie eerste klompie verse meer in die algemeen praat oor die volgende 4 dekades tot en met 70 n.c. — wat sekerlik tot 'n klimaks sal kom in die jare 66-70 tydens die beleg van Jerusalem.
# Dit sal 'n tyd van baie natuurlike katastrofes wees (24:7; Mark 13:8; Luk 21:1011).
Voorts sal vals profete baie bedrywig wees. Hulle sal baie mense mislei (24:5; Mark 13:5). Só oortuigend sal baie van hulle woorde en dade wees, dat selfs die apostels op hulle hoede moet wees om nie agter hulle aan te loop nie.
Sonde sal toeneem, en die liefde van baie sal verkoel (24:12).
Om alles te kroon, sal die dissipels deur almal gehaat word (Mark 13:13; Luk 21:17). Hulle sal vervolg word (Matt 24:9; Mark 13:9,12; Luk 21:12) — helaas ook deur hulle eie dierbares (Mark 13:12; Luk 21:16).
In die hele wêreld aan al die nasies (24:13-14)
# Bogenoemde omstandighede gaan groot volharding van die Christene vereis.
Maar Jesus het ook 'n bemoedigende woord vir hulle (Matt 24:13; Mark 13:13; Luk 21:19).
"Die einde" waarvan Hy praat, is nie die einde van die beleg en vernietiging van Jerusalem nie. Meeste van die dissipels wat hier na Jesus luister, sou immers voor die beleg en vernietiging van Jerusalem sterf.
Hy praat ook nie oor die einde van die wêreld nie — soos die dissipels veronderstel het toe hulle die vraag in v.3 gestel het.
Dit dui op die einde van elke Christen se lewe, elkeen wat getrou bly aan Hom — spesifiek destyds, maar steeds tot vandag toe.
Let op die passief van die Here se stelling in v.13: Hyself sal die Redder wees.[2]
# Anders as wat die dissipels aangeneem het, sal die smarte wat Jesus in die voorafgaande verse beskryf, nie "die voleinding van die wêreld" wees nie (24:3). Dan maak die Hy die duidelikste stelling in die vier evangelies oor die voleinding waaroor die dissipels wonder (v.14): die evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word tot 'n getuienis vir al die nasies. En dan — eers dán, maar vir seker dan — sal die einde (van die wêreld) kom.
+ Hier haal die Here die twee dele van die dissipels se vraag in v.3 duidelik uitmekaar. En vandag verstaan ons hóé ver hierdie twee gebeure uit mekaar lê. Ons begryp dit nie net omdat 2000 jaar reeds verloop het nie, maar omdat ons die omvang, die enormiteit, van die groot opdrag en uitvoering daarvan soveel beter as daardie dissipels begryp.
Matt 24:15-28: Die gruwel, 'n dringende opdrag, verskriklike ontbering, en weer 'n waarskuwing
Nou fokus die Here meer spesifiek op die val van Jerusalem. Hierdie paragraaf het vier fokuspunte, soos in die opskrif aangedui.
Die gruwel van verwoesting (Matt 24:15)
# Die dissipels moet vlug as hulle "ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan." Dis lewensbelangrik as hulle betyds wil wegkom: "wie dit lees, moet dit goed begryp" (Matt 24:15; NAV).
# Baie is al oor dié uitdrukking, "die gruwel van die verwoesting" gespekuleer (24:15). Talle glo die profesie is nog nie vervul nie. En fantasties is die verbeeldingsvlugte waartoe dit soms lei.
+ Sowel Markus as Matteus beklemtoon die belangrikheid van hierdie teken, en gevolglik moet ons ons bes probeer om dit reg te verstaan.
+ Uitdruklik verwys Jesus na die boek Daniël. Verantwoordelike eksegese sal dus dáár begin.
Daniël praat ten minste 4 keer oor hierdie gruwel (8:13; 9:27 11:31; 12:11). Die eerste en derde profesieë dui op die ontering van die tempel in Jerusalem deur Antiogus Epifanes in 168 v.C. — toe hy aanbidding van Zeus en die offer van varke daar laat plaasvind het.
Dit lyk of Dan 9:24-27 die verse is waarna ons moet kyk.
Om die verse te ontrafel, verg in-diepte eksegese. Ons kan sekerlik nie nou uitvoerig daaraan aandag gee nie. Maar die profesie is deur en deur Messiaans. En dit kan aangetoon word dat dit volledig vervul is in die eerste eeu. Trouens, as mens goed na die Here se profetiese rede kyk, word dit baie duidelik dat dit inderdaad die geval is.
# Letterlik praat die teks van die gruwel gekenmerk deur verwoesting, of wat verwoesting veroorsaak.
Wanneer dit in of op die "heilige plek" (Matt 24:15) staan, "waar hy nie moet wees nie" (Mark 13:14), is dit die finale teken vir die Christene om na die berge toe te vlug — die heel laaste geleentheid. "Heilige plek" dui tipies op die tempel, maar is ook soms vir die stad Jerusalem self gebruik. Ek meen hier word van die stad gepraat en nie van die tempel nie.
+ Net 'n terloopse opmerking. As die teks sê dat die gruwel "in" of "op" (DAV) die heilige plek sal staan, kan die bepaalde Griekse woord (Gr. en) ook vertaal word met "by" of "langsaan". Dit word byvoorbeeld so vertaal in Ef 1:20, waar gesê word dat Christus "aan" (Gr. en) die regterhand van die Vader sit — dus langs Hom. Ek is nie bewus van 'n vertaling wat v.15 só vertaal nie. Dus is my opmerking net terloops. Maar, in die lig van die konteks, maak so 'n vertaling baie sin. Die Christene kon immers, toe die woorde vervul is, veilig wegkom, sonder dat die Romeine hulle onderskep. Dit sou nie kon gebeur het as die vyand al in die stad was of dit volledig omsingel het nie — om nie van 'n beleg van die tempel self te praat nie.
# Waarna verwys Jesus met hierdie uitdrukking? Lukas stel dit uitdruklik. Die dissipels moet vlug as hulle sien dat leërs besig is om Jerusalem te omsingel (Luk 21:20).[3]
Die gruwel is dus die Romeine wat Jerusalem beleër het.
Daar is redelik betroubare oorlewerings dat die laaste Christene Jerusalem teen 68 n.C. verlaat het, so ongeveer teen die helfte van die beleg.
Die dringende opdrag aan die Christene (v.16-22)
# As hulle die eerste tekens van die "gruwel van verwoesting" sien — as die Romeine die stad begin beleër — moet die dissipels onverwyld vlug (v.16-18).
# Waarom moet die Christene so haastig vlug; waarom nie eers 'n paar kosbaarhede inpak nie? Die antwoord is voor die hand liggend: sodra die beleëring hoegenaamd in posisie is, sal dit onmoontlik wees om uit die stad weg te kom.
+ Maar sal dit só belangrik wees om te vlug? Om te vlug is immers geen ligtelike saak nie. Dink jou in: Hulle moes huis en besittings en familie en vriende agterlaat — finaal en vir altyd!
Hulle moet vlug, aangesien onuitspreeklike ontbering en smarte op die stad wag. Die inwoners sal amper heeltemal uitgeroei word.
Voorts wag daar 'n kardinaal belangrike roeping op hulle — om die evangelie in die laaste jare van die eerste eeu steeds verder uit te dra.
# Jesus is nie spesifiek in Sy voorskrif oor waarheen hulle moet vlug nie. Met "berge" bedoel Hy waarskynlik gewoon die bergagtige wildernis wat groot dele van Palestina beslaan. Dit gaan dus daaroor dat hulle moet wegkom van die hoofroetes en Jerusalem af, want dis waar die Romeinse leer hom sou toespits. Beswaarlik sou hulle moeite doen om 'n klomp vlugtelinge in die bergagtige woestynstreke met hul baie klowe en spelonke te probeer uitsnuffel.
# Die ontberinge en lyding tydens die vlugtog sal egter ook verskriklik wees (v.19-22).
+ Daarom moet hulle bid dat dit nie in die winter sal geskied nie. En met vrouens wat swanger is en die wat babas het, sal dit bitter swaar gaan (v.19-20).
+ Sal dit regtig so erg wees dat hulle moet bid dat die swaarkry hulle gespaar bly? Inderdaad! "Want" (v.21) die swaarkry sal erger wees as enigiets in die geskiedenis — verlede én toekoms (v.22). Trouens, só erg sal dit wees dat as daardie tyd nie ingekort sou word nie, sou geen mens dit oorleef het nie. Maar ter wille van sy uitverkorenes sál die Vader hulle gebede verhoor.
Waarskuwing teen misleiding (v.23-26)
# In Matt 24:23-26 waarsku die Here Jesus weereens Sy dissipels teen vals messiaanse
aansprake. Let op die tydsaanduiding in v. 23 ("dan", OAV, DAV; "daardie tyd", NAV). As daar vantevore sulke aansprake was, is dit maklik om te begryp dat dit tydens hierdie verskriklike tye toegeneem het.
Josefus Flavius, die Joods-Romeinse historikus (37 n.C.-100 n.C. of later), skryf dat daar talle sulke gevalle was. Blykbaar was die motief om die Jode tydens die beleg hoop te gee sodat hulle sou volhard. Een geval is 'n goeie voorbeeld. Iemand het daarop aanspraak gemaak dat God hom beveel het dat die mense by die tempel moes vergader, vanwaar hulle dan verlos sou word. Dit gebeur egter nie, en dra by tot die mense se ontnugtering en lyding.
Josefus beskryf ook merkwaardige tekens wat in daardie tyd sou plaasgevind het. Hy beskryf onder meer 'n swaardvormige ster wat vir 'n tyd lank oor die stad gehang het. By 'n ander geleentheid het 'n helder lig vir 'n halfuur oor die tempel geskyn. Is dit wáár? Wie sal weet?
Nogeens — in reaksie op die dissipels se vraag in v.3 — sê die Here uitdruklik dat Hy nié dan sal terugkeer nie (v.23, 25, 26). Nee, sê Hy, wanneer Hy uiteindelik wel sal kom, sal niemand daaroor twyfel nie. Dit sal wees soos weerlig wat die hele hemelruim verlig - universeel en kosmies (Matt 24:27). Julle moet onthou wat Ek vir julle sê, nou reeds voor die tyd. Moenie mislei word nie! Moenie glo wat elke slimjan vir julle vertel nie (v.25-26). Dis nie nou al die wederkoms nie!
Oor die wederkoms (Matt 24:27-28)
# Let op hoe begin v.27: "Want ...". Hulle hoef nie onseker oor die terugkeer van die Here Jesus te wees nie. Die wederkoms sal onmiskenbaar ánders wees as dit wat daar in die eerste eeu sou gebeur. Verskriklik soos Jerusalem se vernietiging is, dit vind net daar baie lokaal plaas. Maar die wederkoms sal universeel wees. Almal sal dit sien — en hulle sal wéét!
# Vers 28 is vir talle Bybellesers 'n probleem.
Dis nog 'n verskil tussen Jerusalem se val en die wederkoms.
+ Eerstens is die NAV se woord, "aas", die vertaling van 'n Griekse woord wat ook dooie liggaam of karkas beteken (DAV). Duidelik sinspeel Jesus óf op die liggame van dooie Jode, óf op die dooie karkas van die Joodse nasie en godsdiens as geheel.
+ Tweedens dui die woord wat ons Bybels met "aasvoëls" vertaal, op roofvoëls in die algemeen. Dit kan daarom ook met arend vertaal word (KJV, RSV, Amp).
Die Ou Testament gebruik soms die beeld van 'n arend om te praat van heidennasies wat die Here sal gebruik om Sy ontroue volk te straf (Deutr 28:49; Hos 8:1; Hab 1:8).
Hier verteenwoordig die arend natuurlik die Romeine.
+ Wat Jesus dus nogeens hier sê, is dat die verskrikkinge van daardie tyd nie tekens sal wees van Sy wederkoms nie, maar van Sy verskriklike oordele oor die Jode.
Daarenteen sal die tyd van die wederkoms 'n doodnormale tyd van vrede wees (24:37-39).
Matt 24:29-30: Die uitgieting van God se toorn
# Dit word baie algemeen aanvaar dat Matt 24:29-31 die wederkoms van Christus beskryf (vgl. die opskrifte in beide die OAV en NAV). En as mens nie op hoogte is met Ou Testamentiese simboliese, oftewel apokaliptiese taal nie, kan jy dit beswaarlik ánders verstaan. Maar die feit dat Jesus sê dat hierdie dinge "dadelik" (OAV) na v.15-28 sal plaasvind, behoort ons op ons hoede te plaas — soveel te meer omdat alles waarna ons reeds gekyk het daarop dui dat dit die beleg en vernietiging van Jerusalem beskryf.
# Hierdie verse moet nie letterlik verstaan word nie. Die Here gebruik hier beeldspraak wat reeds op talle plekke in die Ou Testament voorkom en verduidelik word.
Dit is so dat hierdie beelde dui op iets geweldig wat sal plaasvind. En vir seker was die vernietiging van Jerusalem 'n dramatiese wending in God se handele met Sy volk; trouens, 'n totale kanteling in die wêreldgeskiedenis. Hou in gedagte dat die Here nie bloot hier praat van die vernietiging van enige stad nie. Nee, Hy praat van die Sionstad. Nog meer: Hy praat van God se oordele oor Sy verbondsvolk; Hy praat van die beëindiging van meer as 'n duisend jaar se Ou Testamentiese godsdienstige seremonies. Hy skets die vernietiging van dinge wat eeue lank aan die hart van God se optrede in hierdie wêreld gelê het.
Nog meer, dit het groot implikasies ingehou vir die voortgang van die evangelie — trouens, dit was die laaste spyker in die doodskis van die ou bedeling en die begin van God se wêreldwye koninkryk onder al die nasies op aarde. Daarom skryf die apostel in Rom 11:11-12 dat die Jode se val 'n verryking vir die wêreld sou beteken.
Nou kon die koms van die koninkryk van God tot sy volle reg kom!
Die son en maan word donker, sterre val, en die hemele word geskud (Matt 24:29)
# Op verskeie plekke in die Ou Testament word soortgelyke beeldspraak gebruik om God se vernietiging van groot heidense ryke te beskryf. En as sulke dramatiese taal daarvoor gebruik word, hoeveel te meer is dit nie geregverdig in die geval van die Here se verbondsvolk nie?
+ Jesaja 13:10: "Die sterre en die sterrebeelde sal nie meer lig gee nie, die son sal al donker wees wanneer hy opkom, die maan sal ophou lig gee."
Hierdie hoofstuk begin: "Uitspraak teen Babel ...", en gaan dan verder om God se vernietiging van hierdie magtige stad te beskryf. Daar was 'n tyd toe Babel se heerlikheid geskitter het soos die son en die maan. Maar dis 'n glans wat minder as 'n eeu geduur het en toe onder God se oordele verdwyn het.
+ Jesaja 34:4-5: "Al die hemelliggame sal wegsmelt; die hemel sal soos 'n boekrol toegerol word en al die sterre sal hulle glans verloor soos die blare van 'n ... vyeboom wat verdroog ... my swaard ... sal ... afkom op Edom, op die volk wat Ek heeltemal wil uitroei ..."
Inderdaad is Edom vernietig, maar wie sou wou beweer dat hierdie verse letterlik vervul is?
+ Esegiël 32:7-8: "Wanneer Ek jou tot niet maak, maak Ek die hemel toe en laat Ek die sterre se lig nie deurkom nie, Ek maak die son toe met 'n wolk, en die maan sal nie skyn nie. Ek laat al die hemelliggame treur oor jou en maak dit donker op die aarde, sê die Here my God."
Hierdie hoofstuk beskryf God se oordele oor Egipte. Esegiël profeteer dat die koning van Babilon hierdie groot land gaan vernietig en sy heerlikheid gaan verduister.
# Vir ons doel is Joël 2 van groot belang. Dit maak gebruik van dieselfe soort beeldspraak as wat mens in Matt 24 kry. En nogeens het dit níé te doen met Christus se wederkoms nie. Dit handel onmiskenbaar duidelik oor die koms van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees.
Twee dinge word in Joël 2 geprofeteer: enersyds God se oordele en vernietiging; andersyds Messiaanse seën.
+ Verse 1-11 beskryf komende oordeel: die dag van die Here.
Let op die apokaliptiese taal in v.10-11: "Die aarde skrik vir hulle, die hemel bewe; die son en die maan word donker, die sterre verloor hulle glans ... Die dag van die Here is ... 'n verskriklike dag; wie is daarteen bestand?"
+ Verse 12-17 is dan 'n oproep tot bekering.
+ Verse 18-27 beskryf weer die Here se beloftes van wonderlike seën oor Sy volk.
= Nog iets moet ons hier raaksien. In die middel van die gedeelte wat handel oor God se seën, belowe v.23 volgens die OAV "die leraar tot geregtigheid" (sien NIV voetnota) wat, indien 'n korrekte weergawe van die Hebreeus, beslis op die komende Christus moet dui.
Daar is wel vertalings wat die Hebreeus met "vroeë reën" vertaal (wat sekerlik 'n moontlikheid is), maar daar kan 'n sterk saak uitgemaak word vir die vertaling van die OAV en ander vertalings (vgl. 2Kon 17:28; Job 36:22; Spr 5:13; Jes 9:15: 30:20; Hab 2:18).
+ Verse 28-32 som dan Joël se boodskap in hierdie hoofstuk op.
= Verse 28-29 beskryf die seën wat saamhang met die uitstorting van die Heilige Gees.
= Verse 30-31 beskryf God se oordele. Let weer op die apokaliptiese taal: "Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom."
= Uiteindelik word die hoofstuk afgesluit met 'n wondelike belofte in v.32.
= Dis baie betekenisvol dat Petrus Joël 2:28-32 aanhaal op die Pinksterdag. Die uitstorting van die Heilige Gees — so kort na die kruisiging, opstanding en verheerliking van die Here Jesus — is dus die dramatiese aanvang van die vervulling van Joël se profesie.
Hoewel die apostel net die laaste verse van Joël 2 aanhaal, is hierdie verse 'n opsomming van die hele hoofstuk — wat die oordele insluit. Hierdie aanname word ondersteun deur die feit dat Petrus die belofte van Joël 2:28vv volledig kwoteer — ook die oordeelsverse van Joël 2:30-31.
Die implikasie is onontkombaar: die Heilige Gees het nie net gekom om te seën nie, maar ook om te oordeel.
= As mens voorts in gedagte hou hoe strategies belangrik die vernietiging van Jerusalem en sy godsdienstige seremonies vir die voortgang van die evangelie en die oorgang na die Nuwe Verbond was, kan jy beswaarlik die gevolgtrekking ontkom dat Joël 2:30-31 in 'n besondere sin dui op die uitgieting van God se oordele oor Jerusalem. En moenie dit miskyk dat hierdie oordeelsverse en Matt 24:29 dieselfde beeldspraak gebruik nie!
Die teken van die Seun van die mens (Matt 24:30)
# Wat van Matt 24:30? Kan dit op enigiets anders as die wederkoms dui?
+ Allereers moet ons na v.30 se vertaling kyk.
Die meeste vertalings vertolk die Grieks as dat daar 'n teken in die hemelruim sal verskyn — die teken van die Seun van die mens (vgl. NAV).
Maar die Grieks kan ook anders verstaan word, naamlik dat daar 'n teken sal verskyn — dat die Seun van die mens in die hemel is (vgl. die 1901 American Standard Version). In hierdie tweede geval beskryf die frase "in die hemel" die lokaliteit van die Seun van die mens, en nie waar die teken sal verskyn nie.
Hierdie uitspraak wil dus nie sê dat die teken in die hemel sal verskyn nie, maar dat die vernietiging van Jerusalem sal toon dat die Seun van die mens op sy troon in die hemel is — en dis ook 'n troon van oordeel.
So verstaan, word hier dus gepraat van die regering van die Seun van die mens.
+ Let voorts op dat hier net gepraat word van 'n "teken", en nie van die persoonlike verskyning van die Seun van die mens self nie. As Christus van Sy persoonlike koms gepraat het, sou Hy na alle waarskynlikheid gewoon gepraat het van die verskyning van die Seun van die mens in die hemel
# Soos voorheen gee die Ou Testament nogeens verdere lig. Benewens die reeds genoemde voorbeelde, is daar nóg Ou Testamentiese gebruike van sulke apokaliptiese uitdrukkings.
+ Jesaja 19:1: 'n Uitspraak van die Here teen Egipte — wat niks te doen het met die wederkoms nie. Dit praat van oordeel: "Die Here ry op 'n vinnige wolk, Hy gaan na Egipte toe. Egipte se gode is bang vir Hom, die Egiptenaars se harte verstyf van angs."
+ In Psalm 104:2-4 beskryf die digter die Here se heerlikheid en almag — weereens met beeldspraak: "U is met 'n kleed van lig omhul. Dit is U ... wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind, U wat die winde U boodskappers maak, die weerligte U dienaars".
+ Twee van van Jesus se eie uitsprake in Matteus maak die punt bo alle twyfel vas.
= In Matt 16:24-28 roep die Here mense op tot radikale gehoorsaamheid en dissipelskap. Waarom is dit so dringend? "Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele (vgl. Matt 24:31) in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade. Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in Sy koninkryk sien kom het nie." (v.27-28, OAV).
Dis m.a.w. destyds al vervul.
= Tydens Sy verhoor verklaar Jesus aan die Joodse Raad, as die Hoë Priester Hom onder eed stel en vra of Hy die Christus, die Seun van God is: "Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel" (Mt 26:63-64).
Sekerlik praat Jesus nie hier van Sy wederkoms nie. Hy praat van Sy troonsbestyging ná die hemelvaart, en van die oordele wat Hy vanaf Sy heerserstroon oor die Jode wat Hom verwerp het sal bring. Sommige van Sy hoorders sal dit immers sélf in 70 n.C. beleef.
Presies dit is wat Daniël geprofeteer het: "Ek het gesien ... met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van 'n mens ... En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer ..." (Dan 7:13-14, OAV).
Toe Christus Sy Messiaanse troon bestyg het, is alle mag en gesag aan Hom gegee. En, soos die uitstorting van die Heilige Gees, is ook die oordele in 70 n.C. oor diegene wat Hom verwerp het, 'n uitdrukking van Sy status en mag, asook die deurbrake van die evangelie onder die nasies.
# Alles in ag genome, is ek baie oortuig dat hierdie uitleg geheel-en-al Bybels is. Daarbenewens bevestig dit ook die vertolking van die profetiese rede tot nou toe.ˆ
Mag ek weer herinner aan Matt 24:34-35:
"Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie".
Matt 24:31-35: 'n Nuwe bedeling sal vir seker kom
Die beskrywing van die oordele oor die Jode, hulle stad en die ou godsdienstige stelsel word eensklaps onderbreek deur 'n jubelkreet in v.31-32!
Daar gaan 'n einde kom aan die kniehalter van Joodse wettisisme en eksklusiwisme. Daar kom 'n wonderlike nuwe bedeling. Die jong gemeente van Christus gaan bevry word en oorspoel na die nasies toe. Die evangelie gaan vlerke kry. God se uitverkorenes gaan vanuit die uithoeke van die aarde versamel word. Die kerk onder Jood en heiden gaan saamvloei tot 'n stroom wat die geskiedenis onherroeplik sal verander!
Hierdie nuwe bedeling is op hande. Die vyeboom is aan't bot. Die somer is naby. Daar gaan baie vrugte wees. En dit gaan binnekort 'n werklikheid word.
Vandag weet ons, die aanvang van alles sou eers 4 dekades later 'n werklikheid word. Maar vir Hom vir wie 'n duisend jaar soos een dag is, is dit 'n oogwink.
Die engele
Hoe moet ons die "engele" wat uitgestuur word, verstaan? Sekerlik is daar talle uitsprake in die Skrif wat vir ons sê dat engele 'n prominente rol gaan speel tydens die wederkoms (Matt 13:41-42; 2Tes 1:7-10).
Máár die woord, "engel", verwys nie altyd in die Skrif na 'n hemelwese nie. Die Griekse woord beteken gewoon "boodskapper", en word as sodanig meermale in die Nuwe Testament gebruik (Matt 11:10; Luk 7:24, 27; 9:52; Mark 1:2; Jak 2:25). Bekendste is seker die sewe briewe van Openb 2-3, waar van die leraars van die gemeentes as "engele", oftewel boodskappers, gepraat word.
Die trompetgeskal
# Die trompetgeskal waarvan die Here in 24:31 praat, is vol betekenis. Dit is meer as die moeite werd om dit goed te bedink. Dis trouens noodsaaklik as ons die volle rykdom van hierdie beeld wil waardeer.
+ Ja, daar sal 'n trompet tydens die wederkoms en opstanding blaas (1Kor 15:52; 1Tes 4:16). Maar as ons voorafgaande Skrifuitleg korrek is, word híér gesinspeel op die trompetgeskal wat in Ou Testamentiese tye die Jubeljaar aangekondig het, asook die groot bevryding en heil wat dit gebring het. Die Hebreeuse woord wat gebruik is om van die Jubeljaar te praat, beteken trouens "die geskal van 'n trompet".
+ Die Here God het omvattende voorkrifte vir die verbondsvolk se kalender gegee — in die besonder vir die sabbatsjaar en jubeljaar:
Ses dae se werk moes deur 'n sewende dag van rus gevolg word — die sabbat.
Maar benewens die week van dae, is 'n week van jare voorgeskryf. Na ses jaar se werk, was daar 'n sewende jaar van rus — die sabbatsjaar.
Selfs dit was nie al nie. Na sewe sabbatsjaarsiklusse, en dus die nege-en-veertigste jaar se sabbat, moes ook die vyftigste jaar 'n tyd van rus wees — die jubeljaar (Eks 21:1-6; 23:10-11; Lev 25:1-55; Deutr 15).
+ Die instelling van die sabbats- en jubeljaar het veral vier fokuspunte gehad:
= Die landerye moes onbewerk gelaat word. Die natuurlike opslag was vir die armes en die diere. God het ook belowe om die oes van die sesde jaar só te seën dat daar genoeg kos vir twee jaar sou wees — of selfs vir drie jaar in die geval van die sabbatsjaar.
= Alle skuld wat in die voorafgaande jare gemaak is en nog nie afbetaal was nie, moes kwytgeskeld word. Dit het selfs gegeld vir skuld wat in die sesde jaar gemaak is.
= Die slawe — diegene wat tydens die voorafgaande jare deur skuld die eiendom van hulle skuldeisers geword het — moes vrygelaat word. Nog meer, hulle base moes hulle materiëel weer op hulle voete help (Deutr 15:13-14).
= Alle grond wat vervreem is, omdat mense nie hulle skuld kon betaal nie, moes in die jubeljaar aan die oorspronklike eienaars teruggegee word. Sodoende het geen permanente verryking of verarming van families plaasgevind nie. Een maal elke geslag of twee moes gelykmaking en restorasie dus plaasvind.
+ Die sabbats- en jubeljare was dus tekens van herstel, vrymaking, welsyn en oorvloed.
+ Reeds in die Ou Testament word hierdie beginsels nie net letterlik verstaan nie. Dit blyk uit 'n heerlike belofte in Jes 61:1-3, wat — so word dit algemeen aanvaar — 'n dieper betekenis aan die jubeljaar verleen: "Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep ... om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die Here ..." (OAV).
Laasgenoemde frase sinspeel op die vyftigste jaar.
# Gewis is dit hoogs betekenisvol dat die Here Jesus hierdie belofte in Jesaja — die belofte dat sy regering uitdrukking sal gee aan die jubelbeginsels — reg aan die begin van Sy publieke bediening aanhaal en nie net op Homself van toepassing maak nie, maar ook uitdruklik sê: "Vandag is hierdie Skrifwoord ... vervul" (Luk 4:18-21).
Hier in Nasaret vat die Here dus 'n hartselement van Sy sending na hierdie wêreld toe in 'n neutedop saam. Die Vader het Hom gestuur, en die Heilige Gees rus Hom toe, om dít waarvoor die sabbats- en jubeljare gestaan het hier op aarde 'n werklikheid te kom maak (let op die teenwoordige tyd van v.21). Dis waarom Hy "die genadejaar van die Here" (NAV) aankondig.
Sy missie is dus die vestiging van 'n nuwe bestel: vrymaking, welsyn en volheid in die lewens van mense wat swaar ly onder die gebrokenhede van 'n sondegevalle en wettisistiese wêreld.
# Wat Matt 24:31 daarom sê, is dat die Here in hierdie grootse en wêreldwye projek om die beginsels van die jubeljaar in Sy uitverkorenes se lewens te vestig, nie alleen en direk gaan werk nie. Nee, Hy gaan middellik werk. Hy gaan Sy "engele", Sy predikers, Sy kinders as gesante en instrumente daarvoor gebruik. En is die verkondiging van die evangelie nie inderdaad God se manier om sondaars te red, te heilig en op te bou nie — en om só die jubeljaar van sy regering te vestig (Rom 10:14-17; Jak 1:18; 1Pet 1:23)?
Presies só hét dit gebeur.
# Verse 34-35 handel die profetiese gedeelte oor die vernietiging van Jerusalem af.
+ Let op hoe sterk die Here Jesus beklemtoon dat alles wat Hy vir hulle gesê het sonder enige twyfel net so sal plaasvind.
Hy begin sy uitspraak met die woord "amen". Daarmee beklemtoon Hy dat wat Hy vir hulle sê, absoluut betroubaar is. Selfs die hemel en die aarde sal vergaan, maar sy woorde staan vir ewig vas.
+ Nog meer, vervulling van hierdie profesie is op hande. Dit sal nog in die tyd van daardie geslag gebeur.
En vandag weet ons dat dit inderdaad in die jare 66-70 n.C. net so gebeur het!
Wat sê dit onder meer vir ons?
Hou dit vas dat ons in die jubeljaar van God se heil leef — al sedert die Pinksterdag.
# Soos mense maar geneig is, is ook ons Christene baie maklik pypiekykers. Té veel gelowiges raak neerslagtig oor die verval van die kerk en die wêreld om ons. Té dikwels raak mense benoud oor die veld wat Islam wen. Té maklik wonder ons in ons agterkoppe of die Here ooit daarin gaan slaag om te doen wat Hy in ons teks beloof. Het 2000 jaar nie al verloop nie?
Maar laat ons in die geloof vashou aan wat hier belowe word. Laat ons onthou dat 'n duisend jaar by die Here soos een dag is. Petrus maak hierdie stelling juis as hy voorsien dat mense die Here Jesus se wederkoms in ongeloof gaan afmaak (2Pet 3:8).
En laat ons met 'n wye visie na die wêreldwye feite kyk. Geen vorige eeu het die sending- en bekeringsoes van die afgelope eeu opgelewer nie. Nog nooit was die kerk so getalryk soos vandag nie. Vergelyk maar die situasie in Afrika en Suid-Amerika en Asië 'n honderd jaar gelede met vandag. Tóé was die Christene op hierdie drie kontinente 'n druppel in die emmer; vandag woon tweederdes van alle Christene daar.
# Maar wat ek hierbo skryf moet helaas gekwalifiseer word. Dit word gesê dat daar 2,4 biljoen Christene op aarde is. Maar dis hoeveel mense op sensusvorms die blokkie by "Christen" merk. Het jy egter hoegenaamd Bybelse onderskeiding, weet jy dat 'n baie groot persentasie van hierdie "Christene" geen snars begryp van Bybelwaarheid nie. En nog minder leef hulle dit uit. En allermins is hulle met Christus verenig.
En laat dit ons harte breek: Is dit nie ook waar van die oorgrote meerderheid van die 75% Suid-Afrikaanse landsburgers wat sê dat hulle Christene is nie?
En wat hier geld, is sekerlik wáár in baie ander lande in die wêreld.
# Maar al sou bg. waar wees, bly daar steeds 'n enorme getal mense as ware Christene oor. En in elk geval het die Here meer as een keer gesê dat die wat gered sal word maar min is.
Gee jouself met alles wat jy is en het vir die uitdra en verbreiding van die Here se jubeljaar.
# Ons moet die oorvloed van ons verlossing jubelend aangee na diegene wat dit nog nie ken nie. Laat ons mense wees wat met dankbare blymoedigheid vrymaak en kwytskeld en uitdeel en seën. Lees maar die Nuwe Testament: Uitlewing van die jubelvoorskrifte lê aan die hart van die lewensvoorskrifte wat aan die burgers van die koninkryk gegee word.
# En vergeet dit nooit nie: ek en jy word geroep om "engele" te wees wat die jubelbeginsels verkondig en ons volle gewig ingooi om die Here se uitverkorenes dwarsoor die aarde in te samel. Laat díé wat jonk is, hulle lewens offer vir hierdie edelste van alle take. Laat hulle wat in die volle branding van die lewe staan, weier om 'n sent van die Here se geld op die bevrediging van hulle vlees uit te mors (Jak 5:1-3). Laat díé wat aftree-ouderdom bereik het, hulle ervaring, rypheid en laaste jare op welke wyse ook al gee vir die vye-oes van God se somer. En laat díé wat oud en afgeleef is, hulleself wy aan die die gebed, "Laat U koninkryk kom!"
Onthou die jubelbeginsels! Vergeet dit nooit nie!
# In ons selfbeoordeling wat hierdie saak betref, moet ons 'n Nuwe Testamentiese beginsel nooit vergeet nie: Hierdie beginsels kan op 'n honderd verskillende maniere uitgeleef word. Daar is 'n verskeidenheid genadegawes, 'n verskeidenheid dienste, 'n verskeidenheid aktiwiteite (1Kor 12:4-6; DAV). En mag ek byvoeg, 'n verskeidenheid van omstandighede, geleenthede en roepinge.
Mag die Here ons getrou bevind op daardie dag as ons voor Hom gaan verantwoording doen!
Voordat die kerk destyds die jubelbeginsels behoorlik kon beleef en uitdra, moes hulle nie net van Joodse wettisisme en seremonies bevry word nie, hulle moes ook 'n duur prys vir die voorreg betaal.
# Die voorregte van Christelike volheid en wasdom is gratis, maar dis baie selde, indien ooit, goedkoop.
Dink vir 'n oomblik oor die prys wat Jerusalem se Christene moes betaal voordat die jong kerk gereed was om hulle heerlike erfenis te beleef en uit te dra. Lees weer Matt 25:16-20. Hulle moes alle besittings, behalwe dit wat hulle kon saamdra, in die stad los. Die vlugtog na vryheid en veiligheid was een van onbeskryflike ontbering. En vorentoe sou hulle leef as ontworteldes — in 'n vreemde plek en kultuur. Al die kulturele tradisies waaraan hulle so verknog was, is van hulle gestroop.
# Vandag se kniehalters — dit wat ons weerhou om die voorregte van jubelchristene te smaak — mag totaal anders wees as destyds. Maar die beginsel het nie verander nie. Diep en radikale bekerings bring altyd hulle ingrypende lewensverstellings.
Dit lyk vir my die die pad na en van jubelvolheid is selde 'n vlakteroeping. Die hoogste hoogtes en vergesigte word langs smal en steil voetpaaie bereik; selde anders. Hoe kan ons die Here Jesus se oproepe om die kruis op te neem anders verstaan?
Waarlik, Dietrich Bonhoeffer se boek, The Cost of Discipleship, wat 83 jaar gelede verskyn het (ek skryf hier in 2020), is vandag nog net so aktueel soos destyds.
Christene is nie smartvrate nie, maar die navolging van Jesus behels kruisdra, self-neerlegging, en baie dikwels ontbering enlyding. Daar is 'n prys aan outentieke disselskap verbonde.
Bevoorregtes wat hulle rug op Christus se roeping draai, se oordeel sal erger wees as die van mense wat nog nooit sy roeping gehoor het nie.
Die lewende God heers algeheel soewerein oor die geskiedenis en lotgevalle van nasies. En so kosbaar soos Sy genade is, so verskriklik is Sy toorn. En nooit is Sy oordele erger as wanneer dit as vloek van die verbond tot uitdrukking kom nie — soos in die geval van die Joodse volk destyds (Deut 27-28).
Laat ons dit onthou as ons die wêreld en geskiedenis om ons probeer beoordeel. En onthou, die Here se heerskappy en oordele beheers nie net die makro-gebeure nie, maar ook die besonderhede van elke individuele lewe. Die beginsels wat in die Joodse situasie destyds gegeld het, geld ook in elke persoonlike lewe.
Nooit sal die vloek van die verbond erger wees nie as in die geval van diegene wat die evangelie ken, maar tog hulle rug daarop draai.
Aanhangsel: Die verwoesting van Jerusalem in 70n.C.[4]
Gessius Florus het geld liefgehad. En hy het Jode gehaat. Alhoewel hy Romeinse goewerneur oor Judea was, het hy hom min aan die sterk godsdienstige oortuigings van die Jode gesteur. Na 'n swak belastinginkomste, lê hy eenvoudig in 66 n.C. beslag op die tempel se silwer. Dit kan die Jode nie duld nie, en as Florus troepe na Jerusalem stuur om die opstand te onderdruk, sterf 3600 burgerlikes. Dis 'n vonk in 'n kruitvat. En skielik is die dreigende Joodse rebellie 'n verskriklike werklikheid.
Masada was 'n feitlik oninneembare bergvesting van die Romeine langs die suid-westelike kus van die Dooie See. Aangevuur deur die veragtelike optrede van Florus, besluit 'n klomp halfmal Selote (oftewel Joodse Yweraars) om dié vesting aan te val. Wonder bo wonder slaag hulle om dit in te neem. Die Romeinse garnisoen word summier van kant gemaak. Jerusalem self ontplof en die Romeinse soldate wat nie sneuwel nie, moet vlug. Asof oornag is die hele Judea in opstand, en kort op hulle hakke Galilea.
Cestius Callus, Romeinse bevelvoerder oor die gebied, ruk vanaf Sirië op met 20 000 troepe. Hy beleër Jerusalem vir 6 maande, maar sonder sukses. Na die dood van 6 000 manskappe en baie wapenverliese, blaas hy noodgedwonge die aftog. Keiser Nero stuur dan vir Vespasianus, een van sy senior generaals, om die Joodse rewolusie te onderdruk. Meedoënloos onderwerp hy gebied na gebied — voordat hy Jerusalem omsingel. Maar dan sterf Nero, en Vespasianus raak in 'n leierskapstryd gewikkel. Uiteindelik word hy keiser in Rome en stel sy seun Titus aan om die Joodse oorlog verder te voer.
Op hierdie stadium is Jerusalem reeds afgesny van die res van die nasie. En die stad self word geteister deur interne faksiegevegte. Soos die beleg voortduur, sterf meer en meer mense van honger en pes - en, helaas, in hulle onderlinge bakleiery. Die Hoëpriester se vrou, eens gebaai in weelde, moet soos 'n rondloperhond krummels kos in die strate soek. Die historikus, Josefus, vertel selfs van 'n ryk vrou wat haar eie baba geëet het.
Mettertyd is dit nie meer moontlik om al die lyke te begrawe nie. Die enigste oplossing word gevolg — om hulle oor die stadsmure te gooi. Soveel liggame lê uiteindelik om die stad, meeste van hulle dood aan die hand van mede-Jode, dat Titus die gode tot getuies roep dat hierdie massamoord nie sy skuld is nie.
Natuurlik het baie uit die stad probeer ontsnap. Die meeste is egter gevang en summier tereggestel. Sóveel is gekruisig dat daar nie genoeg kruise was nie; trouens, nie genoeg plek vir al die kruise nie. Sommige van hierdie vlugteling het probeer wegkom met goud wat hulle ingesluk het. Die Romeine het dit egter agtergekom en hulle gevangenes voor die voet begin oopsny. Een bepaalde nag, so word gesê, is 2000 Jode so dood.
Soos die beleg voortduur, word die stad se mure en skanse stukkie vir stukkie afgebreek. Bedags baklei die Joodse verdedigers en snags probeer hulle die mure herstel. Uiteindelik breek die Romeine deur die eerste muur, dan deur die tweede, dan deur die derde. Maar die verdedigers gee nie bes nie. Al vegtende trek hulle terug in hulle laaste loopgraaf -— die tempel. Hier sal Jahweh vir seker tot hulle redding kom! Nooit sal Hy toelaat dat Sy woonplek op aarde vernietig word nie! Min besef hulle egter dat dit ten diepste hul eie Verbondsgod is wat hulle agressor is!
Die antieke historikus, Josefus, beweer dat Titus die tempel graag behoue wou laat bly, maar dat sy manskappe so woedend was oor hulle opponente se hardnekkige weerstand, dat hulle dit summier afgebrand en vernietig het. En die Hebreërs wat nie afgemaai is nie, is soos diere vasgeketting en mettertyd as slawe verkoop.
So breek die einde dan vir die Jode aan, en vir hulle tempel - en vir Ou Testamentiese offerseremonies. So is dit in God se raadsplan vasgelê. Die groot en finale Lam van God is immers reeds geslag. Enige verdere offer sal God ernstig aanstoot gee; Sy Seun, wat Homself ten duurste opgeoffer het, skreiend beledig; en die Heilige Gees, wat nou 'n oop deur het om miljoene der miljoene vanuit alle nasies die ewige saligheid in te veeg, vertoorn soos niks anders nie.
Dit word beraam dat meer as 'n miljoen Jode tydens die beleg en verwoesting van Jerusalem gesterf het. Waarlik is Jesus se woorde vervul: "... in daardie tyd sal daar so 'n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie." (Matt 24:21).
In die bergvesting, Masada, het die klompie Joodse Yweraars vir nog drie jaar uitgehou. Op die punt van finale swigting het almal egter selfmoord gepleeg — eerder as om deur die klomp Romeinse heidene verneder te word.
So is die Joodse nasie dan, die van hulle wat oorgebly het, verstrooi. Hulle aanbidding sou as gevolg daarvan drasties verander. Dit was die einde van eeue se tempel- en offerdiens, asook van die Sanhedrin. Nuwe rituele is vir sinagoge en gesin ontwikkel.
Na amper twee millennia is daar eers weer die afgelope 70 jaar sprake van Joodse konsolidasie en 'n Joodse staat. Oor die eskatologiese betekenis hiervan is daar verskil van opinie in Christengeledere, en slegs die toekoms kan finaal hieroor uitspraak lewer.
Waar was die Christene met die val van Jerusalem? Uitstedig! Baie is oor die vorige dekades deur vervolging verdryf. Eusebius skryf dat die oorblywendes met die aanbreek van die beleg en kort daarna die stad verlaat en gevlug het. Het die Here hulle dan nie amper 40 jaar vantevore gewaarsku nie: "Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, want in daardie dae voltrek God sy straf." (Luk 21:20-22)?
So het die swaartepunt van die vroeë kerk finaal na die heidene geskuif — presies soos God se raadsplan dit wou hê. Die remmende effek van Joodse seremoniële beheptheid, so akuut deur Paulus beleef en so uitvoerig deur die Hebreërskrywer verduidelik, het finaal verdwyn.
Ook het die afwesige Joodse Christene se onbetrokkenheid by die rewolusie 'n wig ingedryf tussen hulle en hulle volksgenote. Gevolglik het hulle steeds nouer met hulle nie-Joodse geloofsgenote saamgeleef. Die nuwe bedeling, deur Pinkster ingelui, het finaal sy beslag kry. Die nuwe Godsvolk sou van nou af uit die nasies kom. Oplaas sou God in gees en in waarheid aanbid word! In elke stam, nasie, volk en taal sou Sy lof voortaan in honderde tale weerklink.
-o0o-
[1] In hierdie studie haal ek gewoonlik aan uit die nuwe amptelike Afrikaanse vertaling: "Nuwe Testament en Psalms — 'n Direkte vertaling; 2014. Soms kwoteer ek wel ook uit die OAV en NAV.
[2] R.C.H. Lenski: The Interpretation of St. Matthew's Gospel, Augsburg Publishinh House, 1943. p.935.
[3] Ek meen die NIV vertolk die Grieks korrek: "being surrounded". Jesus praat dus nie van 'n beleg wat behoorlik in posisie is nie. Die proses is nog aan die gang en die dissipels kan nog wegkom. Maar dit moet onverwyld gebeur (v.16-18).
[4] As die skryfstyl van hierdie gedeelte effens verskil van die res van hierdie studie, is dit omdat dit net so oorgeneem is uit 'n ander skrywe van my wat 'n ander skryfstyl vereis het.