PDF WEERGAWE

Nico van der Walt

Die dissipels wil meer weet oor die wederkoms. Veral wonder hulle oor wanneer dit sal  plaasvind (Matt 24:3).

            Hierop gee Jesus vir hulle eintlik net één antwoord: net die Vader weet wanneer dit sal wees! Al wat Hy dus vir hulle kan sê — want Hy weet self ook nie, in elk geval nie op daardie stadium nie (Matt 24:36) — is dat hulle moet waak en sorg dat hulle elke en enige oomblik gereed is (Matt 24:42).

            Belangrik en fundamenteel soos Jesus se antwoord is, skep dit nou 'n volgende vraag: Hóé waak 'n mens; hóé verseker jy dat jy gereed sal wees?

Vier gelykenisse

Op die dissipels se vrae reageer die Here met 4 gelykenisse.

#          Die eerste gelykenis waarmee Hy begin (Matt 24:45-51; Luk 12:42-48) — Die getroue en verstandige slaaf — is die basis van sy antwoord. Die volgende drie gelykenisse is verdere uitbreidings daarvan.

#          Die tweede gelykenis (Matt 25:1-13) — Die tien meisies — handel dan oor verstandigheid en dwaasheid.

#          Die derde gelykenis (Matt 25:14-30) — Die muntstukke — handel oor die ander begrip, getrouheid, want dit vertel van muntstukke wat aan mense toevertrou is en hoe hulle dan óf getrou óf ontrou bevind word.

#          Die vierde gelykenis (Matt 25:31-46) — Die skape en die bokke — is Jesus se antwoord op nóg 'n vraag of twee wat noodwendig uit die vorige gelykenisse ontstaan: As verstandigheid dan is om gereed te wees en gereed te bly, en as getrouheid dan beteken om met dit wat die Here aan jou toevertrou na die beste van jou vermoë te woeker — hoe kom dit prakties tot uitdrukking? En hoe belangrik is dit régtig?

            Dit is wat die Jesus in die laaste gelykenis aanspreek (Matt 25:31-46). As Hy tot nou toe miskien kripties was in Sy uitsprake, kan niemand enige twyfel hê oor presies wat Hy in hierdie laaste gelykenis bedoel nie. Verstandig en getrou is hy wat homself in die Naam van Christus gee, en bly gee, vir selfneerleggende dienswerk en liefdesorg. Só belangrik is dit dat jou ewige lot daarmee saamhang. Of meer korrek gestel: Jou uitlewing van hierdie gelykenis sal toon dat jy inderdaad die ewige lewe ontvang het.

 

 

Die eerste gelykenis — die getroue en verstandige slaaf

Matt 24:45-51

Inleiding

Hierdie is nie een van die bekendste gelykenisse nie, maar kennelik is dit van die allergrootste belang. Nie alleen is dit die beheersende gelykenis in die gedeelte waarna ons kyk nie; die Here Jesus het dit oënskynlik ook meermale vertel. Ons vind 'n variasie daarvan in Luk 12:35-48 — waar dit weliswaar nie deel van Lukas se weergawe van Jesus se profetiese rede is nie (Luk 21).

            Lees mens deur die gelykenis, besef jy dadelik dat Jesus met getrouheid en verstandigheid nie iets passief bedoel nie — soos 'n man wat deur die nag regop sit om sy huis te bewaak. Nee, die begrippe loop hand aan hand met aktiwiteit.

            Rasegte Christenskap weet goed dat mens nie die ewige saligheid op 'n binneband kan binnedryf nie. Nee, dit lê stroom-op en daarom moet daar sterk geswem word. Te veel goeie kerkmense dink jou redding is gewaarborg as jy bloot elke Sondag doodstil in die kerk sit. Nee, slegs 'n lewe van aktiewe, gehoorsame en doelgerigte dissipelskap — sewe dae 'n week — lei in die regte rigting. Dis omdat ware redding gepaard gaan met 'n diep hartsverandering. En so 'n nuwe hart het geen rus of duurte as sy aandrange nie uitgeleef word nie.

            Die gelykenis — trouens, die Bybel in die algemeen — is egter duidelik daaroor dat dit nie oor besigwees sonder meer gaan nie. Dit gaan oor uitlewing van die eienaar se opdragte — gedring deur die regte hartsmotiewe. Dis vanselfsprekend, nie waar nie. 'n Bediende is tog daar om sy baas se opdragte uit te voer, en om dit met die regte gesindheid te doen. Net so eis die Here van ons Bybelgetroue gehoorsaamheid.

            Ook is die gelykenis duidelik: dit gaan oor volhardende besig-wees en gehoorsaamheid, end-uit. Só moet die Eienaar jou aantref as Hy eendag terugkom.

            Wonderlik is die loon wat die Here Jesus hier voorhou aan positiewe, getroue, gehoorsame en volhardende diensknegte. 'n Reuse bevordering is wat Hy hier beloof, as Hy sê dat so 'n persoon oor al die eienaar se besittings aangestel sal word (Matt 24:47).

            Die belofte van loon is prominent in die res van die profetiese rede. Die verstandige meisies gaan saam met die bruidegom fees vier. Die woekeraars met hulle talente sal groot vreugde put uit die meerdere verantwoordelikhede wat hulle sal kry. En in die laaste gelykenis gebruik die Here nie meer simboliese taal nie; Hy sê dit reguit: diegene wat hulle lewens wy aan onselfsugtige liefdesdiens, sal deur die Vader geseën word en die koninkryk beërf — wat sedert die skepping van die wêreld vir hulle voorberei is.

Oor die ontroue slaaf word heelwat gesê

Hy het vir homself gesê: "my eienaar bly lank weg" (v.48). Hy het dus 'n lewensinstelling wat nie begaan is oor die komende afrekening nie. Hy neem dit gevolglik nie ernstig op nie. Hy bly uitstel om die verantwoording wat onontkombaar voorlê in die gesig te staar. Hy lewe nie in die lig daarvan nie.

            Voorts lewe hy vir homself, ten koste van ander (v.49). Dis presies die teenoorgestelde van die lewe wat die Here Jesus in die laaste gelykenis aanprys — die lewe wat hongeriges voed, armes klee, vreemdelinge huisves en siekes besoek.

            Sulke ontroue mense se eindbestemming is die ewige verdoemenis, waar hulle tot in ewigheid sal huil en op hul tande kners (v.51).

            Dis 'n toestand van onbeskryflike en onomkeerbare ellende wat William Hendriksen só in sy kommentaar beskryf: "Inconsolable, never-ending wretchedness, and utter, everlasting hopelessness. The accompanying grinding or gnashing of teeth denotes excruciating pain and frenzied anger."

 

 

Die tweede gelykenis — die tien meisies

Matt 25:1-13

Hierdie gelykenis handel oor verstandigheid en dwaasheid.

            Die beheersende feit oor die wederkoms is die feit dat niemand, behalwe die Vader, weet wanneer dit gaan plaasvind nie (24:36). Daarom moet Jesus se dissipels waak ten einde seker te wees hulle is gereed wanneer Hy wel terugkeer (24:42, 44).

            Hoe waak mens? Hoe kan jy verseker dat jy gereed sal wees? Jy moet getrou en verstandig lewe (24:45)! Wat die Here daarmee bedoel, verduidelik Hy in die tweede en derde gelykenisse.

            Nou kyk ons na die tweede  —  dié oor verstandigheid (25:1-13).

Die huweliksgebruike van destyds

Mens moet iets van die huweliksgebruike van destyds weet om te verstaan wat Jesus hier skets.

            Eérs het die voornemende huwelikspaar verloof geraak. Dan gaan maak die bruidegom 'n blyplek vir hom en sy toekomstige vrou reg. En uiteindelik, as die tyd vir die troue aanbreek, gaan hy en 'n klomp vriende die bruid haal vir die huweliksfees. Sou dit in die aand gebeur, het elke uitbundige jongman 'n fakkel gedra.

Die gelykenis

Hierdie bruid het tien vriendinne gehad om haar te help en te vergesel. Hulle het opgewonde

met hulle lampe buite die huis gaan wag vir die mans om op te daag. Tipies van jongmense, nie waar nie.

            Hier in die gelykenis word dit 'n lang gewag, aangesien die manne eers teen middernag opdaag. Die meisies raak gevolglik aan die slaap. Maar dis nie die groot probleem nie, want as daar geskreeu word dat die manne aan't kom is, is almal dadelik helder wakker. Die krisis is egter dat die helfte van hulle nie die moontlikheid van 'n vertraging in ag geneem het nie, en gevolglik nou sonder lampolie sit. Die ander wat wel ekstra olie saamgebring het, sien geensins kans om dit met hulle te deel nie, want dan sou hulle self gevaar loop om sonder olie te raak voordat hulle by die fees aankom.

            Die nalatige klompie meisies moet dus gaan kyk of hulle iewers olie in die hande kan kry. Dit bring uiteindelik mee dat, as hulle uiteindelik by die huweliksfees opdaag, die deure reeds gesluit is en hulle nie kan ingaan nie.

            Sonder twyfel sinspeel die tien meisies op die sigbare kerk. Miskien moet ons dink in terme van 'n gemeente — enige gemeente — want die meisies is kennelik vriendinne.

            Let op hoe hulle ooreenstem: Al tien is genooi (sekerlik is nie almal in die dorp genooi nie). Al tien het die uitnodiging aanvaar (sekerlik nie almal wat genooi is kon of wou die troue bywoon nie). En almal wag gretig op die bruidegom (baie kerkmense dink egter selde of ooit aan die dood of die wederkoms). Duidelik was hulle vriendskap met die bruid belangrik vir hulle.

            Maar let ook op die lotsbepalende verskille tussen die vyf met genoeg olie en die vyf met te min. As die bruidegom aankom, het vyf olie, en vyf nie; vyf is gereed, vyf hoegenaamd nie; vyf gaan uiteindelik in na die fees, vyf moet buite bly. En dis omdat vyf verstandig is, en vyf dwaas.

            Na aanleiding daarvan sê Jesus: "Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie." Sorg dat julle altyd genoeg olie het! (v.13).

Wat was die dieper verskil tussen die twee groepe?

Waarin lê vyf se verstandigheid, en die ander vyf se dwaasheid? Die enigste verskil tussen die twee groepe is op die oog af bloot dat die wyses ekstra en daarom genoeg olie gehad het, terwyl die ander vyf nie só voorsiening gemaak het vir die bruidegom se vertraging nie.

            Die lewensbelangrike vraag is dus nou, wat verteenwoordig die olie? Hierom draai die gelykenis; hier lê die punt. Hieroor is al baie gespekuleer. Maar om hier met allerlei spekulasies te werk, gaan mens eerder mislei as help.

            Die gelykenis moet homself vertolk. Dan is dit duidelik: om olie te hê, is om gereed te wees wanneer die Here terugkom, en dis verstandigheid wat dit meebring.

            In hierdie gelykenis dui die olie op verstandigheid! (v. 2, 3, 4, 8, 9).

            +          Dink só daaroor: die vyf onverstandige meisies het wel geweet hulle moet gereed wees. Maar hulle was oortuig daarvan dat hy vroeg sou kom, soos dit tipies altyd gebeur het. Die bruidegom was mos 'n verstandige en stiptelike man. Nooit sal hy eers op 'n onmoontlike tyd opdaag nie! Gevolglik het hulle nie daarvoor voorsiening gemaak nie. Hulle het verkeerde verwagtinge gehad. Hulle was onverstandig!

            Onverstandigheid kan op twee maniere manifesteer.

            Dit kan só behep wees met die wederkoms se nabyheid, dat jy gevolglik nie ingestel is op die langtermyn nie.

            Of dit kan die wederkoms só ver die toekoms instoot, dat jy vergeet om rekening te hou met die onverwagsheid daarvan en mettertyd daarvan vergeet.

            +          Daarenteen het die wyse meisies wel daarvoor voorsiening gemaak dat die bruidegom dalk vertraag kon word. Gevolglik vat hulle ekstra olie saam — net in geval.

            Dis soos die Voortrekkertjie wat nie sonder lig wil sit nie, en daarom ekstra flitsbatterye saamvat as hy gaan kamp. Dis soos die voetslaner wat op die onbekende skof ten alle koste nie wil dors lei nie, en daarom eerder te veel water saamdra as te min.

            Híér is dus die punt: dis wanneer iets absoluut belangrik vir jou is, wanneer dit 'n allerprioriteit is, dat jy voorsiening maak vir alle gebeurlikhede. Die vyf verstandige meisies wou ten alle koste gereed wees wanneer die bruidegom kom!

Wat sê die gelykenis van die tien meisies vir ons

Ons moet die les wat die Here hier aan ons voorhou, nie geringskat nie.

            As die gelykenis leer dat die vyf onverstandige meisies buite moes bly, beteken dit dat hulle die ewige saligheid ontsê is. Dis wat die woorde in v.12 impliseer: "Ek ken julle nie!" Die Bruidegom sê sê dus, "Ek het geen verhouding met julle nie; Ek het niks met julle te doen nie!"

            Die uitdrukking was onder meer Rabbynse taal wanneer 'n leermeester 'n slegte leerling geskors het. Dit het hierop neergekom: "Vat jou goed en loop!"[1]

                        Dit laat mens dink aan Luk 13:22-28: "Here, is die wat gered word min? En Hy antwoord hulle: Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie. ... En Hy sal sê: ... Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!"

            Jesus se antwoord op die vraag of min mense uiteindelik gered sal word, is dus glashelder en skrikwekkend. Talle wat altyd geglo het hulle is gered, sal op daardie dag die verwerpingswoord hoor,"Ek ken julle nie!".

            Dit is nie nodig om in kru sonde te leef om verlore te gaan nie. Al wat nodig is, is om die ewigheid sonder die nodige erns tegemoet te gaan — fluit-fluit in jou wêreldgelykvormigheid.

1.         Die olie van die lewe is nie oordraagbaar nie

Niemand sal op grond van 'n ander se gereedheid gered word nie. In 'n soortgelyke stuk lering oor die wederkoms sê Jesus dat twee op dieselfde bed sal wees en dat een aangeneem sal word, terwyl die ander agtergelaat sal word (Luk 17:34). Duidelik word hier van 'n egpaar gepraat.

            Mens kan hierdie olie dus nie eers by jou man of vrou kry nie. Ook kan kinders dit nie by hulle ouers kry nie. Ewemin lidmate by hulle predikant. Nee, net die Here kan gereedheidsolie gee. Met Hom alleen moet elkeen self dit uitmaak.

            Ja, ons moet getuig, maar net die Heilige Gees kan oortuig!

2.         Toe die bruidegom opdaag, was dit te laat om olie te gaan koop  —  onherroeplik

Die vyf dwase meisies se mislukking was finaal. Die deur was vir ewig gesluit. Die vrolike geluide van feesvreugde agter die deur was so naby, en tog so onbereikbaar ver!

            Sekere dinge in die lewe kan eenvoudig nie op nommer nege-en-negentig gedoen word nie. Mens kan dalk nog vir 'n geskiedeniseksamen "blok", maar allermins vir 'n wiskunde- of musiekeksamen. Nee, sekere dinge verg deeglike voorbereiding, oefening en tyd.

            Dit verg tyd om in heiligmaking te groei. Dit verg tyd om jou rentmeesterskap uit te leef. En dís dié dinge — gegee dat jy getrou was — wat die dag van afrekening die wonderlikste dag van jou bestaan sal maak.[2]

            Ja ja, daar is die geval van die misdadiger aan die kruis wat gered is. Maar in die kort tydjie wat aan hom gegun is, het wonderlike dinge in hom gebeur! Voorwaar dwaas is iemand wat geloof en bekering uitstel, omdat hy daarop staat maak dat hy finaal op nommer 99 gewaarsku sal word!

            Dit laat mens dink aan 2Kor 6:2: "Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding." Waarom "nóú"? Omdat die Here onverwags kom! Ons sal die oggend opstaan, sonder om te besef dat die laaste dag van ons lewe aangebreek het.

            Só maklik maak 'n ongelowige homself wys dat daar baie tyd oor is om reg te maak met die Here. En selfs al sou daar nog jare of dekades of baie langer verloop voor die wederkoms, weet niemand van ons wanneer die oomblik van jou dood gaan aanbreek nie. En selfs al het ek nog lank om hier op aarde te leef, mag my genadetyd stil-stil verbyglip. Sommige mense kry breinskade, sommige raak seniel. Die oomblik van God se heil kan op 'n dag kom, sonder om ooit wéér op te daag.

3.         Ons kan hierdie lewe nie beter deurbring, as om dit te gebruik om ons vir die ewigheid voor te berei nie

Dink dikwels oor jou rentmeesterskap: hoe kan jy jou gawes, geleenthede, kragte, middele en tyd beter tot eer van die Here en heil van jou naaste aanwend? Bly die lig van "die koninkryk van God en sy geregtigheid" steeds voor in pad vir jou brand? (Matt 6:33).

            As jy eendag op jou sterfbed lê — en terugkyk oor jou lewe — wat sal jy as nikswerd ag, en wat sal jy as die hoogste goed beskou? Gewis sal jy oor niks méér dankbaar wees nie, as oor die dinge wat jou voorberei het om vrymoedig, vreugdevol, verwagtend en vol vrede heen te gaan.

'n Uitsondering soos geen ander nie

Ons het gesê dat niemand olie by 'n ander kan kry nie; dat niemand op grond van 'n ander se getrouheid gered kan word nie. Dis absoluut waar — en tog ook nie heeltemal nie. Daar is één uitsondering. Trouens, alles, maar alles hang van hierdie uitsondering af.

            Niemand word ánders as op grond van Christus se getrouheid gered nie!

            By Hom alléén is die olie te kry. Presies net hier lê die antwoord op die groot dilemma wat hierdie gelykenis vir ons skep. Want wie van ons is altyd "verstandig"? Wie van ons is elke oomblik van elke dag gereed om die Here te ontmoet? Sê nou net Hy kom my haal terwyl ek in die greep van my sondige vlees ver van die Here af is. Miskien is ek so woedend vir iemand, miskien so gefrustreerd met 'n gesukkel, dat ek nie drie woorde in gees en waarheid kan bid nie — wat staan nog die bruidegom ontmoet!

            Helaas ervaar ons soms sulke oomblikke, nie waar nie — in elk geval die gewone sterflinge onder ons. Wat gaan van my word as die Here my in so 'n toestand moet aantref?

            Mag so iets nooit met my gebeur nie! Maar, hoe ook al, my heel diepste sekuriteit in hierdie verband lê nie in my eie selfbeheersing, my eie erns, my eie getrouheid dag en nag nie. Dit lê in die offer en voorspraak van my hemelse Hoëpriester wat sonder ophou by die Vader vir my intree!

            Laat dit dus ons voortdurende erns en gebed wees om voortdurend in Christus te skuil Dan sal my olievoorraad nooit opdroog nie. Dan sal ek elke dag gestewel en gespoor wees om die bruidegom met 'n helder-vlammende lamp te ontmoet  — want héél ten diepste is die middelaarskap van Jesus Christus en die inwoning van Sy Heilige Gees die olie!

 

 

Die derde gelykenis — die muntstukke

Matt 25:14-30

 

Die gelykenis in 'n neutedop

Hierdie gelykenis handel oor getrouheid en ongetrouheid.

            'n Ryk man gaan op 'n lang reis. Hy vertrou sy besigheid toe aan drie slawe, aan wie hy verskillende verantwoordelikhede aan die hand van hulle vermoëns gee.

            As die eienaar na 'n lang tyd weer tuis kom, moet die slawe verantwoording doen. Dit blyk dan dat die een wat 5 muntstukke ontvang het, daarmee gewoeker het en nou 10 het. Net so het die een wat 2 munte gekry het, dit verdubbel. Die een wat net 1 geldstuk gekry het, was egter bang hy verloor dit, en begrawe dit gevolglik. Uiteindelik is hy net in staat om die één muntstuk wat hy gekry het weer terug te gee.

            Die eerste twee slawe ontvang lof van die baas. Maar die derde een — die een wat sy muntstuk begrawe het — word veroordeel, sy verskonings ten spyt.

Waarop sinspeel die talente, oftewel die muntstukke?

Ongelukkig het die idee in ons taalgebruik posgevat dat talente daardie uiteenlopende bekwaamhede is wat ons almal het  — die een só en die ander weer sús. Met hierdie vermoëns sal flukse en ambisieuse mense dan woeker. Veral is dit in ons skole aan die orde dat kinders so aangemoedig word. Die een wat vinnig kan hardloop, moet hard oefen sodat hy provinsiale kleure kan kry. Die slim enetjie moet probeer 6 onderskeidings kry in graad twaalf. En die een wat kan sing, moet presteer by die kunsfees.

            Natuurlik moet kinders aangemoedig word om te presteer. Maar dis nie waarvan die Here hiér praat nie. Dit word duidelik in v.15: elkeen het "vólgens sy bekwaamheid" ontvang. Die "talente" op sigself kan dus nie bekwaamhede of gawes self wees nie."

            Die talente verteenwoordig bepaalde take of verantwoordelikhede of roepinge wat aan elkeen toevertrou is. 'n Talent is nie jou gawe nie; dis jou roeping. Jy moet daarmee, daarin woeker!

Nog opmerkings oor die gelykenis

Wanneer die baas terugkom, sê hy dat die getroue slawe oor "min" getrou was (v.21, v.23).

            Aan die ander kant gebruik die Here egter doelbewus die idee van 'n "talent" (OAV; DAV), vir dit wat aan die slawe toevertrou is.

            'n Talent was in die eerste instansie 'n gewigsmaat  —  ongeveer 30 kg — goud of silwer of koper. Die waarde het uiteraard afgehang van die betrokke metaal, maar selfs 'n talent koper was baie werd, om nie te praat van silwer of goud nie. Mens sou dit rofweg kon kwantifiseer. Destyds het 'n tipiese arbeider 1 denarius per dag ontvang. Dit het 3,64 gram silwer verteenwoordig (die woord wat in v.18 met "geld" vertaal word, beteken letterlik silwer). Dit beteken dat 'n talent silwer meer as 8000 daglone werd was, oftewel meer as 20 jaar se salaris. G'n wonder nie dat die Nave's Topical Bible sê: "Five talents would make one a multi-millionaire."

            Was dit wat aan die slawe toevertrou is dus baie of min? Die antwoord is eenvoudig. In vergelyking met hierdie wêreld se waardes is enige taak wat die Here aan jou toevertrou, enigiets wat ewigheidswaarde het — hoe gering ook al — fabelagtig baie werd.

            Maar selfs die kosbaarste roeping wat die Here in hierdie lewe op 'n mens kan lê, is soos niks in vergelyking met die getrouheidsloon wat jy in die hiernamaals daarvoor sal ontvang nie.

            "Na 'n lang tyd" het die baas gekom en van die slawe "rekenskap gevra" (v.19). Die Here gebruik 'n standaard handelsterm hier: om die boeke te laat klop, om uitstaande skuld te betaal of te vorder.

            Die eerste twee slawe kry lof en loon. Hulle word goed en getrou genoem. As loon kry hulle groter verantwoordelikhede. En soos die Here Jesus se loon aan die einde van Sý wedloop "vreugde" was (Heb 12:2), so gaan ook hierdie getroue slawe "vreugde" binne.

            Let op dat die idees van meerdere verantwoordelikheid en vreugde in die hiernamaals nie teenstrydig is nie; inteendeel. Die vreugde sal juis in die meerdere verantwoordelikhede lê. Om nóg meer vir die Here te kan doen, sal die hoogste vervulling wees.

            As die ontroue slaaf egter gekonfronteer word oor sy luiheid, is hy vol verskonings — tipies van alle lyfwegstekers. Maar sy probleem verskil nie veel van die vyf dwase maagde nie. Waar die meisies nie ingestel was op God se toekoms nie, was hierdie dienskneg nie ingestel op God se hede nie — maar ook nie begaan oor Sy toekomstige afrekening nie. Nog meer, hierdie man glo aanval is die beste verdediging, want hy voer aan dat dit eintlik die baas se persoonlikheid en onredelike verwagtinge is wat hom daarvan weerhou het om sy roeping uit te leef (v.24).

            Hierdie man se ontrou is duidelik net 'n simptoom van 'n dieperliggende probleem. Hy is selfsugtig en dislojaal. En iemand wat só met sy baas praat, het nie respek vir hom nie. Want hy beskuldig die eienaar dat hy 'n veeleisende man is, sonder begrip of geduld, en dat hy vat wat hom nie toekom nie.

            Ons moet dus nie verbaas wees as diegene wat in die regte lewe soos hierdie ontroue slaaf is, in die verdoemenis eindig nie. Al is hulle voor die wederkoms in die kerk — selfs in diens van die Eienaar, ken hulle nie die Here nie. Want wie Hom in Sy heiligheid ken, kan nie só oor Hom dink of só met Hom praat nie.

            Ons mag dit nie miskyk dat dit hier oor die ewige saligheid en die ewige verdoemenis gaan nie. Al vier stories eindig met 'n skrikwekkende waarskuwing, soos hierdie gelykenis dit stel: die nuttelose slaaf is uitgegooi in "die diepste duisternis daarbuite", waar mense "huil en op hulle tande kners."

Wat sê hierdie gelykenis vir ons?

1.         Hier is troos vir ons met ons gebrekkige gawes

Eerstens vra die Here nie van ons méér as waartoe ons in staat is nie. Ons roeping is immers in direkte verhouding met ons vermoëns.

            Tweedens kry die eerste twee slawe presies dieselfde loon, al het een meer as twee maal meer los gewoeker as die ander. Jesus gebruik identies dieselfde woorde as Hy hulle loon beskryf (v.21, v.23). Dis natuurlik presies wat die Here hier wil tuisbring. Dit gaan nie oor prestasie, produktiwiteit en resultate nie; maar oor getrouheid. Ons kan vir seker aanvaar dat die een-talenter, as hy maar getrou was aan sy relatief beskeie roeping — bes moontlik as gevolg van beperkte gawes — presies dieselfde woorde van waardering en loon sou gehoor het.

            Diegene met groter vermoëns en meer geleenthede is dus nie in 'n beter posisie nie.

            Het jy al gewonder waarom dit kwansuis die eentalenter is wat misluk? Miskien wil die Here dit by ons inprent dat getrouheid nie net ter sprake is in die sogenaamde belangrike en groot take nie. Trouens, dis juis die klein dingetjies wat so maklik deur ons nagelaat word.

2.         Laat ons die erns van die roeping wat die Here op ons plaas, nie onderskat nie

Die vyf-talenter het vyf ekstra talente losgewoeker, terwyl die ander man net twee ekstra gemaak het. Sekerlik het die eerste man 'n klompie dinge in sy guns gehad. Hy het van meet af meer vermoëns gehad, en hy het meer talente gehad om mee te woeker. Maar daar is nog iets wat ons moet raaksien. Hy het "dadelik" aan die werk gespring (v.16, NAV). Hy het nie gras onder sy voete laat groei nie; hy het die tyd uitgekoop; hy het die dringendheid van sy roeping ernstig opgeneem.

            Min dinge in ons Christenskap is belangriker as die erns waarmee ons dit bejeen. As ons waarlik glo wat die Bybel ons leer oor ons toekomstige verantwoording aan die Here — oor ons lewe hier en nou — móét ons mos ernstig wees oor ons roeping. Só onlosmaaklik is die verband tussen geloof en gehoorsaamheidserns, dat die Bybel laasgenoemde aan ons voorhou as 'n lakmoestoets vir die egtheid van ons geloof en redding. Is dit nie presies wat die vorige gelykenis ook op ons hart wil druk nie?

3.         Hierdie gelykenis vernietig die idee van ledige Christenskap en 'n domineeskerk

Soos oor en oor in die Skrif, word hier nogeens beklemtoon dat daar nie iets soos 'n passiewe Christen is nie. Elkeen van ons het 'n roeping. En daarin moet ons getrou wees as ons die lot van die derde slaaf wil vermy.

            Luister wat sê die Here van blote kerkgangers en selfvoldane banksitters: hulle is sleg en lui en nutteloos (v.26, v.30).

            Kan ons regtig die gelykenis só op passiewe kerkmense toepas? Wel, dink vir 'n oomblik oor slaaf drie. Hy was nie boos nie; hy het nie sy talent op vrouens, dobbel en drank verkwis nie; trouens, hy het dit versigtig opgepas om dit ongeskonde aan sy baas terug te besorg. Hy was so vroom soos enige goeie kerkmens. Nog meer, hy was deel van die eienaar se werksmag.

            Mens hoef bloot níks te doen nie, om as sleg, lui en nutteloos deur die Here bevind te word!

4.         Wat as ek moeg word in en vir my roeping?

Die antwoord is eenvoudig: Byt vas! Hou aan! Volhard!

            Dit word vertel dat 'n elfde eeuse Duitse koning, Henri III, totaal uitgekuier geraak het vir die eise en intriges van sy troon. Hy doen toe aansoek by 'n klooster met die oog op 'n lewe van rustige bepeinsing. Die hoof van die klooster was baie skepties. "U Majesteit, verstaan u dat u 'n eed van gehoorsaamheid sal moet aflê? Vir u as koning sal dit uiters moeilik wees, indien nie onmoontlik nie".

            "Vir die res van my lewe sal ek nooit u gesag bevraagteken nie; ek sal u in alles puntenerig gehoorsaam", was Henri se reaksie. "Goed", sê die priester toe, "ek sal u sê wat, gaan terug na u troon en dien getrou waar die Here u geplaas het!

            Presies dit het Henri gedoen — hy het mos onderneem om gehoorsaam te wees aan die kloosterhoof — en op sy grafsteen is uiteindelik geskryf: "Deur gehoorsaamheid en volharding het die koning geleer om te regeer."

5.         Die pad van getrouheid is 'n pad van groei

Ons het nog nie na v.29 gekyk nie. Hierdie is 'n koninkryksbeginsel wat ook in Matt 13:12 uitgespel word: Getroue werkers van die Here groei in genade en vrug; maar ontroues verloor ook wat hulle gehad het.

            Mens verloor wat jy nie gebruik nie; stilstand is agteruitgang; niksdoen is kwaaddoen. Getroue volharding lei tot steeds méér vrug!

            As ek en jy maar kan beleef wat ons in die Here se lewe sien: meer en meer vrug tot die einde toe! Dwarsdeur Sy lewe was Hy absoluut getrou aan Sy hemelse Vader. Maar Sy dienswerk het op 'n verbysterende hoogtepunt geëindig. Nooit was Hy getrouer, en nooit het Hy grootser werk gedoen, as op Golgota nie. Sonder die kruis sou al Sy wonders en heerlike lering bloedweinig vir ons beteken het. Maar dis eers toe Hy uitgeroep het, "Dit is volbring!", dat ons verlossing finaal bewerkstellig en verseël is. En 'n wonderliker klimaks kan mens nie bedink nie.

            O Here, help ons om in ons dienswerk van heerlikheid tot heerlikheid te groei!

 

 

Die vierde gelykenis — die skape en die bokke

Matt 25:31-46

Hierdie gelykenis onderstreep vir ons nogeens hóé belangrik die verstandigheid en getrouheid is wat in die vorige gelykenisse beklemtoon is. En veral gaan dit oor hóé dit prakties tot uitdrukking kom.

            Waarom is dit so noodsaaklik om te waak en gereed te wees vir die wederkoms? Waarom moet mens getrou en verstandig leef? Waarom moet ons Christenskap ons allererns wees? Waarom moet ons ons roeping met alles in ons vermoë uitleef?

            Daar kom 'n dag van afrekening!

            Hoe leef ons getrou en verstandig? Hoe kan ek weet wat my roeping is; en hoe leef ek dit uit? Dis die vrae wat die Here Jesus in hierdie laaste gedeelte van Sy profetiese rede aanspreek.

Die struktuur

Die 16 verse val uiteen in 4 gedeeltes:

Matt 25:31-33: Die skeiding van die skape en die bokke.

Matt 25:34-40: Fokus op die skape.

Matt 25: 41-45: Fokus op die bokke.

Matt 25:46: Die ewige straf en die ewige lewe.

Die skeiding (25:31-33)

God se Woord is onontkombaar duidelik dat daar 'n finale oordeel aan die einde van die geskiedenis sal wees. Jesus Christus sal terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel (2Tim 4:1).

            Maak nie saak of jy dit ontken of ignoreer nie — jy sal daar wees. Lag dit af as jy wil -– maar op daardie dag van hartverskeurende smarte én onuitspreeklike blydskap sal elke mens óf 'n skaap óf 'n bok blyk te wees. "Al die nasies" — álmal — sal daar wees.

            Ons hoef nie bang te wees dat die Here 'n fout sal maak nie. En Hy sal geeneen wat aan Hom behoort, vergeet nie. Hy sê mos in Joh 10:14: "Ek ken my skape."

Die fokus op die skape (25:34-40)

Let op die uitnodiging: "Kom, julle wat deur my Vader geseën is!"

            Die bevelsvorm in die Grieks beklemtoon dat dit dadelik moet gebeur: Kom onverwyld hier! Kom vat dit! Dit waarvoor jy so lank gewag het, is nou joune!

            Voorts keer die Here nie Sy skape op die ingewing van die oomblik uit nie. Die koninkryk wat hulle gaan kry, is "van die skepping van die wêreld af" vir hulle voorberei. Petrus sê dat ons nou reeds 'n lewende hoop het op 'n "onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word" (1Pet 1:34).

            Die koninkryk wat ons op daardie dag as erfenis in besit sal neem, bestaan reeds. Dis soos 'n huis wat klaar gebou is. Net die afrondingswerk moet nog gedoen word. Het die Here nie gesê dis een van Sy groot take om in hierdie tyd ná Sy hemelvaart en voor Sy wederkoms vir ons plek gerééd te maak nie? (Joh 14:2). Al wat vir die getroue dissipel van Christus oorbly eendag, is om in te trek.

Wat is die maatstaf wat die Here aanlê?

Die Here Jesus gee nie 'n ingewikkelde en tegniese uiteensetting nie. Sy oordeel is gebaseer op wat mense gedoen het, en klaar. Hulle lewens en dade is die norm. Dis omdat redding wýs! Nie ons woorde nie, maar ons werke wys wie ons werklik is.

            J.C. Ryle: "Evidence, evidence, evidence will be the one thing wanted when the great white throne is set ... I can find no evidence that will be admitted in that day, except sanctification." En met laasgenoemde woord dink hy vir seker ook aan verstandige getrouheid lewenslank.

Die aard van die werke

Die werke het direk met Jesus Christus te doen!

            Deurgaans word alles ten diepste vir die Here gedoen (v.35-36). Dis gedring deur liefde vir Hom. Jesus noem hierdie mense "regverdiges" (v.37, OAV). Waarskynlik is die NAV reg as dit parafraseer met "dié wat die wil van God gedoen het." Hierdie is dus nie mense wat hulle eie koppe volg nie. Hulle maak erns met die Hére se opdragte. Sy Woord is hulle rigsnoer.

            Dis liefdeswerke, barmhartigheidswerke. Dis bewoënheid oor diegene in nood — van watter aard ook al. Wat Jesus hier noem, is net voorbeelde van enigiets wat jy in belang van ander doen. Dis om mense op die punt van hulle nood te ontmoet. Dis géé-liefde — maar in gehoorsaamheid aan die Here, ter wille van Hom, in sy Naam, om Hom te verheerlik.

            Dit is werke wat amper onbewustelik tot uitdrukking kom. Só spontaan is dit dat die mense stom verbaas is: Here, wanneer het ons dit gedoen? (V.37, 39). Dis opregtheid wat hier beskryf word. Dis spontane liefdesuiting van die Here se wette wat Hy op hulle harte geskryf het. Hierdie is wedergebore mense! Hulle goeie werke kom amper vanself — wat nie beteken dat hulle wil nie betrokke is nie.

            Dis dikwels klein dingetjies, hierdie goeie werke. Kennelik is dit die uitinge van 'n lewenswyse. Per slot van rekening, wat jy in jou hart is, dit ís jy  —  amper spontaan, heeldag, aldag, lewenslank. Dit kom uit jou hart en daarom amper vanself.

            Mens hoef nie 'n multimiljoener te wees vir hierdie liefdeswerke nie. Ook nie superbegaafd nie. Dit gaan oor wat jy beskikbaar het. Dis tog wat Jesus in die gelykenis van die talente leer. Mens se roeping is in ooreenstemming met jou vermoëns.

            Dis liefde wat veral betoon word aan Sy "broers", sê die Here (v.40). Waarskynlik is dit wat Paulus in Gal 6:10 in gedagte het: "Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges." Sekerlik moet broers en susters eerstens in ons visier wees, maar sekerlik het ons nie die reg om ongelowiges wat nood het te ignoreer nie. Jesus het nie enige nooddruftige verbygegaan, omdat hy nog nie geglo het nie; trouens, talle het juis te danke aan sy liefdesguns in Hom geglo.

Die fokus op die bokke (25:41-45)

Die feit dat hierdie verse die spieëlbeeld is van die fokus op die skape, moet ons waarsku om nie vas te steek by 'n bloot enkelvoudige vertolking van hierdie verse nie. Hierdie is voorbeelde wat die Here gebruik om 'n beginsel by ons tuis te bring. Dit gaan oor 'n helpende hand na diegene met nood om ons — enigeen — wat ook al daardie nood mag wees.

            Maar híérdie mense oor wie Hy dit nóú het, leef vir hulleself. En Hy sê veral 3 dinge vir hulle.

            Een: Hy beveel hulle: "Gaan weg van My af ..." (V.41). Hulle het gekies vir 'n lewe sonder Christus en ver van Sy mense af. Hulle wou hê die Here moet hulle uitlos. Nou kry hulle wat hulle gekies het.

            Twee: Jesus noem hulle "vervloektes" (v.41). Hulle is finaal deur God verwerp. Geleentheid vir omdraai is verby. Genade is daar nie meer vir hulle nie.

            Drie: Hulle bestemming is die ewige vuur wat vir die duiwel en sy demone voorberei is (v.41).     Hierdie is 'n verskriklike vonnis! Net so min as wat ons die heerlikheid van die hemel onder woorde kan bring, kan ons die angs en smart en lyding van die hel beskryf. En ergste van alles, dis 'n onomkeerbare en ewige lot.

Die rede vir hierdie mense se lot (v.42-45)

Betekenisvol is wat die Here Jesus nié sê nie. Sekerlik sou Hy alle soorte sondes kon noem.

            Hy sou allerlei teologiese dwalinge en kettery kon noem. Hy sou kon sê dat hulle nooit uitverkies was nie — en dit sou sekerlik waar wees. Hy sou hulle kon verwyt oor hulle ongeloof en dat hulle Hom verwerp het. Noem maar enige sonde op wat in ons kaste mag hang.

            Maar ál wat Jesus noem, is sondes van nalating. Hulle word verdoem (net soos die ontroue dienskneg in die vorige gelykenis), omdat hulle gewoon niks gedoen het nie!

            Waarom doen die Here dit so? Om die regverdigheid van die oordeel te onderstreep. Hulle word nie veroordeel omdat hulle die menslik-onmoontlike nie kon regkry nie. Nee, wat hulle moes doen, was basiese medemenslikheid en naasteliefde. Wat kan eenvoudiger en makliker wees —  en meer voor die hand liggend — as 'n beker water, of 'n sny brood, of een van jou dosyn truie?

            Al sonde van hierdie mense was dat hulle niks gedoen het nie. Hulle het net vir hulleself geleef!

            Soos die een-talenter is ook húlle vol verskonings. Kamtig bang vir die baas! Kwansuis nie geweet nie! Regtig? Enigeen van ons kan met 'n stok aanvoel dit gaan nie op nie.

            Wat is meer vanselfsprekend, voor die hand liggend, vir enigeen met net 'n greintjie gevoel vir sy medemens, as die voorbeelde wat Jesus noem? Wat is meer eenvoudig as die geringe medemenslikheid en liefdesdade wat Jesus hier noem.

            Dit gaan hier oor uitlewing van die liefdesgebod — op welke wyse ook al.

            Is daar enigeen van ons wat hierdie gelykenis kan lees sonder om in diepe ootmoed voor die Here te kom? Ja, daar is vergiffenis. Maar laat ons onthou: Jesus vertel dit sodat ons dit sal uitleef.

            Indien wel, laat dit ons dring om ons sondes van nalating reg te stel!

Die ewige straf en die ewige lewe (Matt 25:46)

Selfs 'n kind kan hierdie gelykenis begryp.

#          En tog, en tóg, mens kan dit liederlik verkeerd verstaan! Miljoene hét deur die eeue en doen dit steeds. En, neem tog kennis, baie baie goed, die Woord van God leer glashelder duidelik dat so 'n mistasting noodlottig kan wees. Dit het immers ewigheidsimplikasies!

            Redding geskied nie op grond van goeie werke en gehoorsaamheid nie — nooit tot in ewigheid nie!

#          Reg? Verkeerd — noodlottig verkeerd!

            Daar is een en net één uitsondering. En dit maak ál die verskil.

            Jesus Christus was in terme van sy werkverbond dwarsdeur sy lewe hier op aarde volmaak gehoorsaam aan sy Vader. En tot in ewigheid sal niemand gered word ánders as op grond van hierdie gehoorsaamheid nie.

'n Sondaar word gered as die "laaste Adam" se geregtigheid aan hom of haar toegereken word!

            Daar is géén ander manier om die ewige verdoemenis te ontkom nie. Dit, net dit, is God manier om te red. Onfeilbaar.

            Laat ons goed verstaan en dit nooit vergeet nie: Bo en behalwe die vergiffenis, die vryspraak, wat ons op grond van sy straf ontvang, het ons regverdiging nodig.

            Dis wanneer Jesus se volmaakte en heilige verbondsgehoorsaamheid aan sy Vader, aan elke sondaar wat gelowig in Hom invlug en lewenslank bly skuil, toegereken — gekrediteer — word.

            Presies dit is waarom die Nuwe Testamentiese boodskap die "evangelie" genoem word — die goeie nuus. Geen nuus kan beter as dit wees nie.

            Dit is waarom stilswye daaroor in hierdie gevalle en verlore wêreld krimineel in die ergste graad is.

#          Jy sê, wat het nou van die gelykenis van die skape en die bokke geword?

            Goeie vraag! Baie goeie vraag!

            Ware geloof lei altyd, sonder uitsondering, tot goeie werke. En presies dit is waarvan die Here Jesus in hierdie gelykenis praat.

            Trouens, as heiligmaking en gehoorsaamheid en goeie werke afwesig is in 'n lewe — onder meer die werke waarvan Jesus in die gelykenis praat — is dit gewoon 'n bewys dat daar nie reddende geloof — en dus regverdigmaking — is nie.

            Om hierdie waarheid op ons harte te skryf, staan onder meer Jak 2:14-26 in die Bybel. Gaan lees dit. Trouens, ons kan dit nooit genoeg lees nie. Daar is baie Skrifgedeeltes wat op ons harte gegrafeer moet wees, maar vir seker is hierdie een daarvan.

            Mag ek jou weer herinner aan die klokheldere evangelieboodskap?

Ons word gered uit genade alleen.

Ons word gered op grond van Christus se verdienste alleen.

Ons word gered deur geloof alleen.

Ons word gered tot goeie werke.

Ons word uiteindelik gered volgens goeie werke.

 

Indien jy skoueroptrekkend kan omdraai en fluit-fluit wegstap,

weet dan dat Jesus in die laaste 6 verse van jóú gepraat het

en van jou ewige lot.

Maar dis nie ál wat ek moet sê nie.

Die Bruidegom se uitnodiging staan immers nog wawyd oop.

Neem dus 'n kwaliteitsbesluit om onverwyld in Jesus Christus

as God se groot profeet, priester en koning in te vlug.

Moenie uitstel nie!

Maar besef ook baie, baie goed,

ja, verlossing in Christusis nie duur nie;

trouens, dis gratis;

maar góédkoop is dit nooit nie.

Dit hou immers enorme implikasies vir jou in — lewenslank.

Háás jou! Máár haas jou langsaam!

-o0o-

[1]           Bauer, Arndt, Gingricht, A Greek-English Lexicon of the New Testament, oida, §2.

[2]           Is dit nodig dat ek daarop wys dat ons hier praat van die noodwendige uitvloeisel van regverdigmaking. Ons praat uiteraard nie van die grond daarvan nie.