Nico van der Walt
In Efesiërs vind ons 'n fassinerende vers.
"Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel." (Ef 2:10. Die OAV is meer letterlik vertaal).
'n Nadere kyk na Ef 2:10
# Letterlik staan daar: "Van Hom is ons 'n maaksel". Twee dinge staan dadelik uit.
+ Eerstens, "Van Hom" word beklemtoon, aangesien dit heel voor in die sin geplaas word — een van Grieks se maniere om iets te onderstreep. Niemand se Christenskap is 'n saak van eie inisiatief nie. Alles begin by die soewereine en drie-enige God.
+ Tweedens, die Griekse woord wat die OAV en DAV met "maaksel" vertaal, dui gewoon op iets wat gemaak of vervaardig, of voortgebring is — op 'n produk.
Die belangrike punt is dít: net so min as wat 'n geskapene enige eer met sy maker kan deel, net so min het 'n Christen iets om oor te spog — ons is bloot maaksels.
# Verse 1-6 beskryf 'n sondaar se redding as opstanding uit die dood, as bevryding uit slawerny en as verlossing vanuit oordeel.
Híér word gesê dat ons as Christene "geskape" is. Dit impliseer iets wat vanuit niks gemaak is. Dit sinspeel op God alléén se skeppingsinisiatief en -handeling.
# Dis 'n skepping "tót goeie werke". Die Griekse konstruksie is kategories: dis 'n skepping met die oog op goeie werke, met die doel dat goeie werke sal volg. Soos 'n wingerdstok geskape is om druiwe te dra, en 'n voël om te vlieg, so het God die Christen herskep om goeie werke te doen!
# Dis nie net bepaal dát die gelowige goeie werke sal doen nie, maar (verstommend!), die werke self is vooraf gereed gemaak. Dit is in besonderhede voorberei.
+ Hierdie werke is "voorberei". Dit is met ander woorde vooraf gereed gemaak. Dis verordineer presies hóé dit in elke individu se lewe tot uitdrukking sou kom.
+ Die aard en karakter van hierdie goeie werke is vooraf vasgelê — die wanneer en hoe en wat daarvan.
= Dis nodig om hierdie saak ook te verindividualiseer — anders hou Paulus se argument nie water nie. Sou dit hier bloot gaan om die algemene bepaling van wat goeie werke is, berus daar nog 'n wêreld se keuses en inisiatiewe by die individu, en sou die apostel se lesers goeie grond gee om aanspraak te maak op 'n sekere eer daarvoor.
# Dit is gedoen sodat ons "daarin kan wandel".
+ Paulus wil seker maak sy lesers verval nie, in die lig van God se soewereine inisiatiefneming, in die dwaasheid van passiwiteit en verantwoordelikheidsontduiking nie. Gelowiges is geskape "sodat" hulle in hierdie goeie werke sal "wandel" (OAV).
Die woord beteken gewoon om te stap, te loop, en word in die Nuwe Testament gebruik om op 'n lewenswyse te dui (vgl. 4:17; 5:2, 8, 15).
Oor hierdie laasgenoemde verantwoordelikheid — om in goeie werke te wandel — moet ons nou meer besin.
Die hart van ons Christelike roeping: 'n lewenswyse met as hart goeie werke
# Hierdie is 'n kardinaal belangrike waarheid wat ons baie goed onder die knie moet hê: Die gelowige is verantwoordelik om hierdie goeie werke uit te leef, bewustelik en aktief — hy of sy moet "daarin ... wandel".
Dit word onontkenbaar duidelik in die tallose imperatiewe (bevele) wat in die Skrif volg ná die indikatiewe (die heilsfeite).
Die mens is meer, baie meer as 'n wingerstok en 'n voël. Hy is beelddraer van God — spesifiek as herskepte in Christus. Die werke kom dus nie maar vanself, outomaties, meganies nie. Nee! Jou hele mens is daarby betrokke: wil, emosies, denke, vermoëns, ervaring, opleiding, gebrokenheid, kleivoete. Dis bewustelik, besluitnemend, inspannend, verantwoordelik, aanspreekbaar.
God beledig nie die kroon van Sy skepping deur hom soos 'n masjien te behandel nie — Hy gee hom wil en verantwoordelikheid!
# Hierdie vers bring iets na vore waaroor baie kerkmense verward is — selfs onkundig. Ons vind hier 'n lakmoestoets wat uitwys of ons geloof ég is, of dit inderdaad in die ewige saligheid sal uitmond.
+ Die logika van Paulus se argument is onontkombaar en dra 'n baie belangrike implikasie: God se skepping bring 'n maaksel voort; en hierdie maaksel bring goeie werke voort. Ware redding word gevolglik altyd sigbaar in goeie werke wat die tipiese van 'n lewe is! Is dit afwesig, was daar eenvoudig geen herskepping nie, geen wedergeboorte nie — geen redding nie (1Joh 2:29; 3:9).
Goeie werke red nie, maar daarsonder is daar geen redding nie!
+ Hier het ons 'n Nuwe Testamentiese aksioma. Presies dit is wat Jakobus in sy tweede hoofstuk wil tuisbring:
Daar is baie soorte geloof, maar net één wat redding bring:
die soort wat uitmond in goeie werke.
# Joh 3:36 is veelseggend. Dit word eers positief gestel: Geloof in die Seun bring die ewige lewe. Dan verras die negatiewe teenstelling: Nie "ongeloof" soos mens sou verwag nie, maar "ongehoorsaamheid" lei tot ewige oordeel.
+ Oor en oor beklemtoon die Woord van God: Nét diegene wie se lewens gekenmerk en beheers word deur gehoorsaamheid aan Christus, sal die Koninkryk beërf. En die omgekeerde staan net so vas: Hulle wie se lewens gekenmerk word deur ongehoorsaamheid en sonde sal die ewige lewe nooit smaak nie.
Vergelyk byvoorbeeld Matt 5:20; 25:31-46; Mark 10:23-31; Luk 6:46-49; 9:23-26; 13:23-28; 1Kor 6:9-10; Gal 5:19-21; Heb 12:14; 1Joh 2:29; 3:9-10; Op 21:7-8.
+ Dis die begronding vir een van die Reformatore se wekroepe: Sola fides justificat, sed non fides sola est! (Alleen geloof regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie).
Kom ons sê dit reguit: Hier is 'n onfeilbare lakmoestoets vir outentieke Christenskap, vir ware redding. Laat ons elkeen homself of haarself maar weer en weer toets — eerlik, nugter, volwasse (2Kor 13:5).
+ Charles Hodge was reg: "Die enigste bewys van ewige uitverkiesing is 'n heilige en gehoorsame lewe."
# Word die belangrikheid van goeie werke as 'n sine qua non in die reddingsproses nie dalk hierbo oordryf nie? Die teendeel is waar!
Niks onderstreep die gewigtige belangrikheid en prominensie daarvan in God se raadsplan beter nie as die feit dat dit eendag voor die regterstoel 'n deurslaggewende rol gaan speel. Dit gaan die maatstaf wees in die tweedeling van die mensheid in "skape" en "bokke" — in gered en ongered (vgl. die gelykenis van die skape en die bokke in Matt 25:31-46).
Goeie werke volgens God se standaarde sal die suurtoets wees wat sal uitwys of 'n persoon waarlik uitverkies is — of daar ware geloof was; of die organiese verbintenis met die eerste Adam en sy verbondsontrou afgesterf is; of 'n herskepping en eenwording met die laaste Adam plaasgevind het; of hy of sy dus inderdaad deel geword het van die huwe skepping.
Dit en dit alleen sal die toets van outentisiteit wees.
+ Let op die besondere Skrifbeklemtoning van híérdie suurtoets eendag: Matt 16:27; 25:14-30; 31-46; Rom 2:6-11; 2Kor 5:10; 1Pet 1:17; Op 19:7-8; 20:12-13; 22:14.
+ Die wêreldwyd-geagte skrywer van die negentiende eeu, J.C. Ryle, het dit só gestel: "Evidence, evidence, evidence, will be the one thing wanted when the great white throne is set ... I can find no evidence that will be admitted in that day, except sanctification." (Holiness, p.23)
# Kom ons som bogenoemde op en stel dit volledig en kernagtig só:
'n Sondaar word gered
uit genade alleen;
op grond van Christus se verdienste alleen;
deur geloof alleen;
tot goeie werke;
en daarom uiteindelik volgens goeie werke.
# Enige evangelie wat minder preek as bogenoemde, is minder as die volle en dus ware evangelie.
Verwaarloos hierdie omvangryke en "volle raad" van God — en die kerk vermank en verword spoedig liederlik.
Twee dwalinge van ons dag
# Twee noodlottige "ander evangelies", kan nou maklik ontmasker word.
+ Enersyds: "Easy-believism", oftewel "goedkoop genade". Dit is wetteloosheid, wat impliseer dat selfs geloof sonder werke kan red. Dit teister die kerk wêreldwyd.
Hierdie "evangelie" is nie reddend nie; dis 'n verdoemende dwaalleer. Lees Jakobus!
+ Andersyds: Die oorreaksie daarop is radikalistiese (noem dit maar) "dífficult-believism", oftewel "duur genade". Dit is wettisisme, wat aandring op allerlei verpligtinge — van watter aard ook al — saam met Christus se volmaakte werk.
Hierdie "evangelie" is nie reddend nie; dis 'n verdoemende dwaalleer. Lees Galasiërs!
# Die ware evangelie is "impossible-believism".
God se Woord duld geen goedkoop of duur genade nie; dit dra net een boodskap: "gratis genade"!
Máár, dis 'n genade wat, as dit op 'n lewe beslag lê, onmiskenbare, diep-ingrypende en lewenslange Godvererende gevolge het!
Dis die enigste evangelie wat red. Lees Romeine!
Wat is die aard van die goeie werke wat die Groot Regter se toets sal slaag?
# In enige verantwoordelike Bybelleser wat hoegenaamd erns maak met sy Christenskap, sal nou 'n vraag brand: Wat presies dan is 'n goeie werk? Mens kry sóveel hoogs morele ongelowiges wie se goeie werke ons Christene meermale in die skande steek.
# Ef 2:10 sê ten minste twee dinge om ons te antwoord:
1. God self het die werke voorberei.
Dit was dus Sy inisiatief, en Hý het die presiese aard daarvan bepaal.
Omdat óns dit moet doen (as mense, nie as masjiene nie), moes Hy dit aan ons openbaar — wat Hy inderdaad in Sy Woord gedoen het. Die Bybel is vol daarvan.
2. Dis nodig dat 'n mens herskep word voordat hy of sy so 'n werk kan doen.
Dis dus nodig om in 'n nuwe "maaksel" verander te word
# Wat onderskei 'n wedergeborene van iemand wat nog geestelik dood is?
+ Eerstens het hy 'n nuwe, herskepte hart (Jer 24:7; 31:33; Eseg 11:19-20; 36: 26-27; 2Kor 3:3; 4:6; Heb 8:9-13; 10:16).
Uit hierdie hart, hierdie sentrum van sy hele persoonlikheid, bring hy nou vrug voort. En dis noodwendig 'n stryd teen sonde, gehoorsaamheid aan die Here — góéie werke, want God se wette is op die tafels van die nuwe hart gegrafeer.
Hierdie werke het dus 'n bepaalde bron.
Dit kom uit 'n nuwe hart vol dankbaarheid vir die Here se reddingsgenade, 'n hart vol vertroue dat dit Hom sal verheerlik en dat Hy dit sal aanvaar en beloon.
+ Tweedens het hy 'n nuwe lewensdoel.
Hy leef nie meer vir homself nie, maar God se eer is die gerigtheid van sy bestaan. Dit sal noodwendig die karakter van sy werke bepaal.
Johannes 4:19-24
# Bogenoemde uiteensetting is in harmonie met wat Jesus in Joh 4:19-24 vir die Samaritaanse vrou sê.
Die Vader soek aanbidders wat Hom aanbid "in gees" (vanuit hulle harte) en "in waarheid" (volgens Sy Woord).[1]
+ Goeie werke, wat eendag sal dien as watermerk van egtheid, is dus baie spesifiek gekwalifiseerd.
= Eerstens: Om God se toets te slaag, moet 'n goeie werk "in waarheid" geskied. Dit moet volgens die waarheidswoord wees wát Hy beveel, en gedoen word sóós Hy beveel.
= Tweedens: Om God se toets te slaag, moet 'n goeie werk "in gees" geskied. Dit moet uit 'n mens se hart kom, 'n herskepte hart.
Dit sal vanuit innerlike waarheidsgeloof, en verlossingsdankbaarheid ontspring.
En dit sal gedring word deur 'n hartstog vir die Drie-enige God se eer — vir die koms van Sy koninkryk, die verbreiding van Sy evangelie, die welsyn van Sy kerk.
# Ongelowiges kan baie goeie dinge doen. Hulle kan merkwaardige vroom en onselfsugtige lewens lei. En laat ons hulle daarvoor respekteer en die Here daarvoor dank,
want dit geskied in Sy algemene genade.
Maar 'n goeie werk, soos hierbo gekwalifiseer, kan hulle nie doen nie — per definisie.
# Veel belangriker vir ons egter is die feit dat mens oor 'n lang tydperk baie aktief kan wees — volgens jou oortuiging in die naam van Christus — sonder om iets te doen wat in terme van Bybelse standaarde voor die regterstoel sal kwalifiseer (bv. Matt 7:21-23).
Hoeveel "vreemde vuur" het die kerk nie deur die eeue aan die Here gebring nie; hoeveel offers "wat Hy nooit beveel het nie"! (Lev 10:1-6, OAV). Hoe gereeld word die ark nie op 'n "nuwe wa" gelaai nie (soos die Filistyne), in plaas daarvan dat "die Leviete dit met draaghoute dra"! (2Sam 6:1-23; 1Kron 13:1-14; 15:1-16).
# Dis nodig, baie nodig, om gereeld voorraad op te neem!
+ Dis moontlik om jou vir jare besig te hou met dinge wat "in die gees" is, maar wat nie "in waarheid" geskied nie. Ywer en opregtheid is nie sondermeer genoeg nie. Die vraag bly altyd en steeds, beveel die Woord van God dit?
+ Dis ewe moontlik om baie besig te wees met dit wat Bybels is, sonder dat dit uit die hart kom. Dooie ortodoksie as sodanig weeg niks voor die Here nie, inteendeel.
+ Óf, natuurlik en nog meer tragies, is dat onsself afsloof met dit waarin nóg ons harte is, nóg deur die Here beveel word.
# Hoe kan ek ooit sê my werke sal vir God aanvaarbaar wees? Ja, die werke is wat die Bybel beveel; ja, dit kom uit my hart. Maar dis so verskriklik onvolmaak!
+ Ef 2:10 bevat nog 'n kwalifikasie: "... in Christus Jesus ...". Die Vader begenadig ons "... in die Geliefde ..." (Ef 1:6, OAV).
Gegee hartsopregtheid wat poog om Hom volgens sy Woord te dien, aanvaar Hy elkeen wat waarlik in Christus is se pogings om Hom te behaag en te verheerlik — ten spyte van baie oorblywende gebrokenheid!
+ Sien dit só: Jy het 'n baba van 'n jaar oud. Hy is gereed om te begin stap. Jy sit twee of drie treë weg van hom. En dan begin hy stap tot in jou arms. Hy het presies reggekry wat jy vir hom gesê het. Hy het dit gedoen met alles waaroor hy beskik — weliswaar strompelend en waggelend. Tóg aanvaar jy dit van harte. Trouens, daar is min dinge so lekker en opwindend vir 'n ouer as dit.
Ons Vader ken ons swakheid en onvermoë. As ons dit dus na die beste van ons vermoëns doen, en sover ons kan nét soos Hy sê, aanvaar Hy dit en het Hy vreugde daarin.
Omdat gehoorsaamheid en goeie werke nie die basis van regverdigmaking is nie, maar in die konteks van (onvolmaakte) heiligmaking geskied, hoef dit nie perfek te wees voordat ons Vader dit aanvaar nie. Solank dit genoemde merktekens van egtheid dra, ongeag hoe onvolmaak ook al in baie opsigte, behaag dit Hom tóg.
Hoe wándel mens in goeie werke?
# Die vraag kan meer of minder ruim vertolk word. Ons besin dit dus vanuit twee hoeke.
1. Wat is Christene in die algemeen se verantwoordelikheid om te verseker dat hulle lewe soos God wil?
2. Wat is my persoonlike verantwoordelikheid om te verseker dat ék in die goeie werke wat vir my as individu voorberei is, sal wandel?
# Veral hierdie laasgenoemde is 'n worstelvraag vir baie — die hele kwessie van persoonlike leiding ("guidance").
Laat ons die vraag eers algemeen en in die breë benader
# Die Bybelskrywers, veral Paulus, het meermale hulle briewe op 'n bepaalde manier
geskryf. Agter dit sit 'n wesensbelangrike beginsel.
+ Tipies begin dit met die God en Sy groot verlossingsdade in Christus. Dit stel dus die heilsfeite. Dis leerstellig van aard — die "indikatiewe" gedeeltes.
+ Daarmee klaar, het hulle dan voortgegaan met praktiese oproepe of bevele. Op grond van God se inisiatiefnemende en genadige ingrype in hulle lewens, rus daar immers 'n groot verantwoordelikheid op gelowiges om in heilige toewyding diensbaar aan die Here en ter wille van sy eer te leef.
Hoe om dit te doen, en wat, is waaroor die tweede helfte van die briewe dit dan het. Hierdie is die "imperatiewe" gedeeltes — die bevelsgedeeltes.[2]
# Efesiërs is baie interessant en insiggewend in díé verband.
+ Paulus beoog kennelik om met die imperatiewe gedeelte — op grond van die wonderlike indikatiewe vooraf — in 3:1 te begin (sien veral die NIV). Maar hy dwaal dan af in nog 'n stuk indikatiewe lering oor die nie-Jode.
Hy probeer wéér in 4:1-3, maar dwaal nogeens af — oor eenheid in die kerk.
Uiteindelik begin die volwaardige imperatiewe gedeelte, die praktiese bevele, dan vanaf 4:17. Let op die woord "wandel/leef" (4:1; 17; 5:2; 8; 15), wat dui op iemand se lewenstyl.
+ Die gedeelte Ef 4:17-5:14 word gekonkludeer met 5:15-17, veral v.17b: "... verstaan wat die wil van die Here is." (OAV; DAV).
# Die Griekse teks van die volgende verse is baie insiggewend (vgl. OAV).
+ Vers18 gee dan die sleutel tot 'n lewe volgens die wil van die Here: die volheid, oftewel die heerskappy en bekragtiging van die Heilige Gees.
Efesiërs 5:18-6:9 word hierdeur beheers. Dit beskryf hoe 'n lewe vol van die Gees lyk.
+ Vers18-21 is één sin wat begin met 2 bevelswerkwoorde in v.18 — een positief (word vervul); een negatief, (moenie dronk word nie), wat dan gevolg word deur 5 teenwoordige deelwoorde in v.19-21 (Grieks letterlik: sprekende, singende, psalmsingende, dankende, wesende onderdanig).
Hierdie verse beskryf m.a.w. hoe 'n Geesvervulde lewe tipies tot uitdrukking kom.
+ Dit is verder betekenisvol dat v.22 nie in die Grieks 'n werkwoord het nie, maar v.21 s'n veronderstel. Dit impliseer dat 5:22-6:9 illustreer hoe wedersydse onderdanigheid (v.21), wat op sy beurt die gevolg is van die volheid van die Heilige Gees, in die praktyk lyk — in die besonder in die huishouding. Dis immers waar mens se verhoudingslewe meer persoonlik en intiem ervaar word as elders in die lewe.
Spesifiek word die verhouding tussen mans en vrouens aangespreek; díé tussen ouers en kinders; die tussen werkgewers en werknemers.
# Aangesien die tweede tafel van die Here se wet oor naasteliefde gaan, kan ons sê die die antwoord op die ruimer vraag hierbo is: Ek wandel in goeie werke as ek in die volheid van die Gees gehoorsaam is aan die morele wet van God — soos in die Tien Gebooie in ekstrakvorm beskryf, en elders in die Skrif oopgevou en ontwikkel word.
Nou die meer persoonlike vraag
# Wat is my verantwoordelikheid om seker te maak ék wandel in die goeie werke wat God spesifiek vir mý voorberei het?
# Psalm 1 skets twee paaie:
+ Enersyds, die goddelose pad, oftewel lewenswyse, volgens die waardes van die God-vyandiggesinde wêreld.
+ Andersyds, die pad volgens die Wet van die Here.
Laasgenoemde pad is kennelik die pad wat die Here behaag, want Sy seën rus daarop. Dis die antwoord op die ruimer vraag hierbo.
+ Maar die NAV se v.6 gaan 'n stap verder en werp belangrike lig op ons tweede vraag: die regverdiges (m.a.w. diegene wat die pad van God se Wet bewandel) wórd dan gelei — sodat hulle húl spesifieke pad kan vind.
Mens sien hierdie waarheid ook in Ps 25:9. En let in Jes 58:8-14 op hoe "as jy" keer op keer gevolg word deur "dan sal".
# Handelinge is vol gebeure wat hierdie beginsel demonstreer.
+ Kyk byvoorbeeld na die tweede sendingreis. In Hand 15:36 doen Paulus wat voor die hand liggend is in terme van die Here Jesus se opdragte: hy stel voor dat hulle weer die gemeentes gaan besoek wat tydens die eerste sendingreis gestig is. As gevolg van 'n onderonsie gaan hy toe uiteindelik sonder Barnabas (v.37-40).
+ Volgens 16:6-10 gryp die Here dan in (let op, Hý inisieer en doen dit). Die sendelinge word op 'n pad gelei wat hulle allermins voorsien het. En die gang van die geskiedenis skarnier!
# Die Apostels het hulle lewens volgens die Here se opdragte ingerig — sy algemene opdragte aan almal. Hulle het gedoen wat hulle moes en wat voor hande was. Hulle het in rustige Godsvertroue geweet, en dit ook so ervaar, dat Hy sou ingryp wanneer en soos Hy wil (selfs deur hulle eie mislukkings, dwaashede en sonde), ten einde hulle op die pad te lei wat Sy voorsienigheid vir húlle persoonlik uitgemeet het.
Hierdie ingrypings, op watter wyse ook al, het hulle nooit strydig met Jesus se opdragte gelei nie. Dit het gegaan oor die persoonlike, detail-toepassing daarvan in hulle lewens — binne die grense van die Here se algemene wil.
# Hier is die tweede vraag se antwoord: God se spesifieke, persoonlike leiding neem gestalte aan in my lewe deur sy soewereinige detail-heerskappy in my lewensloop — terwyl ek lewenslank, biddend Sy Woord bestudeer; deur die implikasies daarvan dink; dit my eie maak; en met beslistheid en volharding my lewe daarvolgens inrig.
Terwyl ek beginselvas gehoorsaam volgens my waarheidsoortuigings leef, stuur Hy my soewerein op 'n duisend maniere in die mees alledaagse lewensuitinge tot soms die mees dramatiese en selfs onverwagse ontwikkelinge in my lewe.
# Ek ontdek dus God se wil vir mý lewe deur gehoorsaamheid aan Sy wil vir álle gelowiges!
Moenie in die eerste instansie vra nie: "Wat is God se wil vir mý lewe?" Vra: "Wat is God se wil — vir al sy kinders?" En leef dan daarvolgens.
Wie dit as lewenswyse doen, sal as 't ware binne-in die goeie werke wat God vir hom of haar spesifiek voorberei het, inloop!
# Wie bogenoemde benadering uitleef, sal 'n duisend slaggate vermy. En dit sal hom of haar neem op 'n waardige pad van beginselvastheid. 'n Innerlike vrede sal in diesulkes vestig. Hulle sal koersvas volhard en God in die proses verheerlik — deur te wandel in die goeie werke wat ook vir hulle voorberei is!
# Die beheptheid om "God se stem te hoor" en om "Sy wil vir my lewe" buite die geopenbaarde Skrifwaarheid te soek, neem vandag epidemiese afmetings aan. Dit gee aanleiding tot sieklike subjektivisme, patetiese naïwiteit, pastorale ellendes en Godonterende skandes sonder tal — en dit lei die kerk weg van die Woord en die historiese geloof. Dit doen baie skade. Dit veroorsaak baie ontnugteringe in naïewe Christene.
Slotwoord
Die Woord! Wy jou lewe daaraan om dit in die voetspore van Jesus uit te leef — biddend, nugter, toegewyd, opreg, volhardend — en kyk wat gebeur!
"Vertrou op die Here, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die Here;
dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.
Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom;
en Hý sal dit uitvoer;
en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag.
Swyg voor die Here en verwag Hom ..." (Ps 37:3-7, OAV).
-oOo-
[1] So 'n vertolking volg vanuit die konteks.
"Gees" koppel terug met v.20-21. Nie die uiterlike van aanbiddingsplekke nie, maar die innerlikheid van die menslike gees.
"Waarheid" koppel terug met v.22. Nie die onkunde van die Samaritane, wat net die eerste 5 boeke van die Ou Testament aanvaar het nie, maar die volle waarheid van God se hele openbaring aan die mens.
Ek aanvaar dus die OAV se vertolking, terwyl ek weet dat die NAV & DAV (?) dit anders vertolk.
[2] 'n Indikatief stel 'n feit; 'n Imperatief is 'n bevel.