PDF WEERGAWE

2Kor 13:13

"Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees."

Die openbaring oor God as die Drie-enige is gewis een van die diepste geheimenisse in die Bybel. Wie kan dit begin deurgrond?

            Uit die aard van die saak kan ons net soveel weet oor die wese van God as wat Hy self aan ons bekend maak. En miskien meer as enigiets anders, is God se drie-enigheid 'n openbaringswaarheid wat geheel en al buite die bereik van menslike denke of ervaring lê. Wanneer ons dus met hierdie onderwerp besig is, is daar geen ruimte vir menslike spekulasies of verbeeldingsvlugte nie. Nederig moet ons streng bly by die Bybelse openbaring en nie 'n millimeter daarvan afwyk nie.

#          In 'n neutedop openbaar God Sy drie-enigheid só aan ons:

God is een Wese, wat vir ewig bestaan as drie Persone [1]

Hierdie drie Persone ‒ die Vader, die Seun en die Heilige Gees is

enersyds, nie drie afsonderlike gode nie

maar ook, andersyds, nie bloot drie gestaltes of manifestasies van die een God nie

 

WESENSMATIG IS GOD ENKELVOUDIG; PERSOONSMATIG IS HY DRIEVOUDIG

#          Die Bybel lei ons om ten minste die volgende drie stellings oor God se drie-enigheid te maak:

            +          Eerstens, die enige en lewende God is vir ewig onveranderlik en onverdeelbaar één.

            +          Tweedens, die Vader, die Seun en die Heilige Gees is onderskeie persone.

            +          Derdens, die Vader, die Seun en die Heilige Gees is elkeen ten volle en gelykwaardig God.

Die Vader is nie die Seun nie

Die Seun is nie die Vader nie

Die Vader is nie die Heilige Gees nie

Die Heilige Gees is nie die Vader nie

Die Seun is nie die Heilige Gees nie

Die Heilige Gees is nie die Seun nie

Maar

Die Vader is waarlik en ten volle God

Die Seun is waarlik en ten volle God

Die Heilige Gees is waarlik en ten volle God

#          Aangesien God se drie-enigheid fundamenteel is in al Sy handele, bring dit mee dat hierdie waarheid feitlik alle ander leerstukke van die Christelike geloof beheers: Die goddelikheid en persoon van Jesus Christus, die menswording van die Seun, Sy versoeningswerk, ensovoorts. Sonder 'n deeglike verrekening van God se drie-enigheid kan hierdie lewensbelangrike waarhede glad nie verstaan word nie.

#          Dit is nie oordrewe nie om te sê dat die leerstuk van God se drie-enigheid een van dié kentrekke van die Christelike geloof is. Daar is sekere monoteïstiese godsdienste, en daar is talle politeïstiese gelowe, maar in nie een van hulle word die konsep van drie-enigheid aangetref nie. Dit is eenvoudig té verhewe bo die mens se logika en begrip.

#          Die openbaring oor God se drie-enigheid herinner ons daaraan dat God nie 'n onpersoonlike, emosielose, selfs eensame wese is nie. Dit help ons om te sien dat talle van Sy verhoudingsattribute in elk geval sou kon oopblom, al sou Hy niks of niemand buite homself geskape het nie. Daar is onmiskenbare aanduidings in die Skrif dat daar van ewigheid af tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid onderlinge liefde, gemeenskap, respek, vertroue en vreugde was.

Hoe God se drie-eenheid geopenbaar word

#          Die leerstuk oor die drie-eenheid van God is 'n groot struikelblok vir veral die Jode en die Moslems. Hulle beskuldig Christene van 'n radikale afwyking van Ou Testamentiese monoteïsme.

            Die vraag is dus of die drie-eenheid van God inderdaad in die Bybel geopenbaar word, en spesifiek of dit reeds in die Ou Testament na vore kom?

#          Hoewel die drie-eenheid van God 'n onmiskenbare openbaring dwarsdeur die Bybel is, moet ons verstaan dat dit nie in eksplisiete terme in die Skrif geopenbaar word nie. Dit word nie definisie-matig as 'n stel proposisies vir ons gegee nie. Nee, die openbaring dat die Vader, die Seun en die Gees elkeen ten volle en gelykwaardig God is, is fragmentaries en subtiel as 't ware regdeur die Woord gestrooi. Voorts word dit ‒ soos soveel ander Skrifwaarhede ‒ algaande duideliker soos die Skrifopenbaring vorder.

            Dit is dus noodsaaklik om hierdie los stukkies openbaring bymekaar te maak en te orden ‒ soos dit baie maal gaan as mens in die natuur en die Bybel die wondere van God en Sy werke ondersoek en probeer verstaan.

#          Om dit wat ons vind kernagtig en samevattend te omskryf, is dit nodig om soms woorde te gebruik wat nie in die Bybel voorkom nie.

            Voorts, omdat hierdie geopenbaarde waarheid nie ooreenstem met enigiets wat ons in hierdie lewe ervaar nie, is dit nie net moeilik — eintlik onmoontlik — om te verstaan nie, maar is dit ook 'n worsteling om dit onder woorde te bring. In die proses is selfs woorde geskep wat vir die nuweling vreemd is en beswaarlik sin maak. So het die uitdrukking "Drie-eenheid" byvoorbeeld ontstaan. Dis nie 'n woord wat in die Bybel voorkom nie, maar poog om met een greep vas te vat wat die Skrif oor God se diepste wese openbaar.

Die Ou Testament

#          Dis hoogs onwaarskynlik dat iemand wat vandag die Ou Testament sonder enige kennis van die Nuwe Testament sou lees, tot die insig van die drie-enigheid van God sou kom soos ons dit ken.

            Dit beteken egter nie dat die Ou Testamentiese openbaring nie trinitaries is nie. Dit is inderdaad die geval. Dit beteken ook nie dat die Ou Testamentiese heiliges totaal onkundig daaroor was nie. Maar daar was net nie genoeg openbaring nie, en net te min het nog in die uitwerk van God se raadsplan gebeur, om dit vir hulle moontlik te maak om die waarheid van die drie-eenheid naastenby so volledig te sien soos Nuwe Testamentiese gelowiges.

            +          Die vermaarde teoloog, Benjamin Warfield, illustreer dit só: Die Ou Testamentiese openbaring oor God se drie-eenheid is soos 'n skatkamer wat in sterk skemerte gehul is. Sonder goeie lig kan jy nie behoorlik agterkom wat aangaan nie. As iemand egter 'n sterk lig in die vertrek inbring, word die ryke inhoud daarvan eensklaps duidelik. Die lig voeg niks by dit wat nog altyd daar was nie; dit maak dit bloot sigbaar.

            Met betrekking tot die Drie-eenheid, was die Nuwe Testamentiese openbaring so 'n lig.

#          Die Nuwe Testament maak dit duidelik dat ten minste die volgende in die Ou Testament op God se drie-enigheid sinspeel ‒ meer of minder eksplisiet.

            +          Die Godsnaam, Elohim, wat ons reeds in Gen 1:1 aantref, en wat meer as 2500 keer in die Ou Testament voorkom, is 'n meervoudsvorm. Dit word egter altyd saam met werkwoorde in die enkelvoud gebruik. Soms word gesê dis 'n majesteitsmeervoud. Maar dit sinspeel sekerlik op God se drie-enigheid.

            +          Gen 1:26-27 is insiggewend. Eers word voornaamwoorde in die meervoud gebruik: "Toe het God (Heb. Elohim) gesê: kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld ..." Onmiddellik daarna word die enkelvoud dan weer gebruik: "God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep."

            Ook in Gen 3:22 kry ons dieselfde: "Toe het die Here God (Hb. Jahweh Elohim) gesê: 'Die mens het nou soos een van ons geword ...' ".

            En as die toring van Babel gebou word, staan daar dat die Here sê: "Kom laat Ons afgaan en verwarring bring ..." (Gen 11:7).

            Tydens Jesaja se roepingsvisioen sê die Here: "Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?" (Jes 6:8).

            Sommige stel voor dat ook hierdie majesteitsmeervoude is, maar daar is geen voorbeeld in Bybelse Hebreeus van enige wêreldse koning wat dit gebruik nie. Ander stel voor dat God hier met die engele praat, maar die probleem is dat die mens nie na die beeld van engele geskape is nie.

            +          In 'n aantal Ou Testamentiese uitsprake word selfstandige naamwoorde in die meervoud gebruik om na God te verwys.[2]

                        =          Ps 149:2: "Laat Israel hom verheug in sy Maker (lett. Makers), laat die volk van Sion jubel oor die Here hulle koning."

                        =          Pred 12:1: "Dink aan jou Skepper (lett. Skeppers) in jou jong dae voor die swaar dae kom ..."

                        =          Jes 54:5: "Want jou Maker (lett. Makers) is jou Man (lett. Mans); Here van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word" (OAV).

            +          In die Ou Testament is daar gedeeltes waar een persoon "God" of "Here" genoem word, terwyl Hy onderskei word van 'n ander persoon van wie óók gesê word dat Hy God is.

                        =          Ps 45:7-8: "U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer. U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle."

            Hier is dus twee persone wat beide "God" (Hb. Elohim) genoem word, en wat van hulle gesê word kan vir seker nie op 'n mens betrekking hê nie. Dit hoef ons dus glad nie te verbaas dat die Hebreërskrywer hierdie uitspraak op die Seun van toepassing maak nie: "Maar van die Seun sê Hy (dit is God die Vader): 'U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied' " (Hb 1:8, OAV).

                        =          Ps 110:1: "Die HERE (Hb. Jahweh) het tot my Here (Heb. Adonai) gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete" (OAV).

            Die Here Jesus werk hiermee in Matt 22:41-46 as Hy aan die Fariseërs toon dat Hy die Messias is ‒ en waarlik God. Hy haal Ps 110 aan en wys daarop dat Dawid na twee persone as altwee God verwys. En vir wie sou Jahweh sê, "sit aan My regterhand", anders as vir iemand wat self God is? Net 'n onwillige en halsstarrige sou ontken dat ons hier die Vader het wat die Seun aanspreek ‒ en dat die Here Jesus dit as sodanig vertolk.

            As verdere bevestiging gaan Dawid in Ps 110:4 voort met wat Jahweh vir Adonai sê: "Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: 'Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.' " En soos reeds gesien, maak die Hebreërskrywer hierdie belofte verskeie kere op Jesus Christus van toepassing (Heb 5:6, 10; 6:20; 7:17, 21).

                        =          Dit lei dus geen twyfel nie dat ten minste sommige van die Psalmdigters bewus was dat daar meer as een persoon in die Godheid is.

                        =          Jes 63:10: "Maar hulle het in opstand gekom en het sy Heilige Gees bedroef, daarom het die Here vir hulle ’n vyand geword en het Hy self teen hulle geveg."

            Hier word duidelik 'n onderskeid gemaak tussen die Here en Sy Heilige Gees. En voorts word die emosie van hartseer aan die Gees toegeskryf, wat Sy persoonlikheid impliseer.

                        =          Mal 3:1-2: "Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige. Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers."

            Hier maak die Een wat praat,"die Here (Heb. Jahweh) die almagtige", 'n onderskeid tussen Hom en "die Verbondsengel", "die Here (Heb. Adonai) na wie julle soek ...". En beide dra Godsname.

                        =          Hos 1:7: "Maar oor die huis van Juda sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die Here hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie."

            Hierdie Verlosser word met twee Godsname genoem: Jahweh en Elohim.

                        =          In Jes 48:16 sê die Kneg van die Here: "En nou, die Here God het my en sy Gees gestuur."

            In die lig van die Nuwe Testament is dit duidelik dat die profesie van die Here se Kneg in Christus vervul is. So gesien, besef mens dat hierdie vers duidelike trinitariese ondertone het: al drie Persone van die Drie-eenheid is hier ter sprake.

            +          Nog 'n duidelike Ou Testamentiese sinspeling op die drie-enigheid van God kom na vore in die geheimenisvolle figuur van die "Engel van die Here" (Heb. Malak Jahweh).[3] Op talle plekke in die Ou Testament word Hy onmiskenbaar as God geïdentifiseer, maar tog ook van God onderskei.

                        =          In Gen 16:7-13 verskyn die Engel van die Here aan Hagar. Die beloftes wat Hy aan haar gee, is onmiskenbaar beloftes wat net deur God gegee kan word: "Verder het die Engel van die Here vir haar gesê: 'Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle te veel sal wees om te tel' " (10). Hagar herken en erken Hom dan ook as sodanig: "Hagar het toe die Naam van die Here (Hb. Jahweh) wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: 'U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het' " (13).

                        =          In Gen 22 kry Abraham die opdrag om sy seun, Isak, te offer. Maar uiteindelik lees ons: "Maar die Engel van die Here het na hom van die hemel af geroep en gesê: 'Abraham, Abraham!' En hy antwoord: 'Hier is ek!' En Hy sê: 'Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God (Hb. Elohim) vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie' " (Gen 22:11-12, OAV).

                        =          In Gen 32:24-30 worstel Jakob by die Jabbok met 'n man wat hom uiteindelik seën en vir hom sê: " 'Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God (Heb. Elohim) en met die mense en het oorwin.' Daarop vra Jakob en sê: 'Maak tog u Naam bekend!' En Hy antwoord: 'Waarom vra jy tog na my Naam?' En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; 'want', het hy gesê, 'ek het God (Hb. Elohim) gesien van aangesig tot aangesig ...' " (28-30, OAV).

            Hier is daar weliswaar nie sprake van die Engel van die Here nie, maar in Hos 12:4-5 word van Jakob gesê: hy het "met God geworstel. Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry ..." (OAV).

                        =          In Gen 48 seën Jakob vir Josef. In die proses gebruik hy 'n lofgedig waarin die parallelisme (tipies van Hebreeus) onteenseglik op die gelykheid van die Engel aan God sinspeel: "Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het / die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe / die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het..." (15-16, OAV).

                        =          Tydens Moses se roeping in Eks 3 verskyn die Malak Jahweh aan Moses in 'n brandende bos (2), maar in die daaropvolgende gesprek met Moses vind ons dat dit God is wat Sy verbondsnaam, Jahweh, aan Moses bekendmaak.

                        =          Voorbeelde sou verder vermenigvuldig kon word. Vgl. ook: Gen 28:10-17 en 31:11-13; Eks 13:21 en 14:19; 23:20-23 en 33:14; 32:34; Jos 5:13-15; Rig 6:11-24; 13:3-22; 2Sam 24:16; Sag 12:8; Mal 3:1.

            +          In die Ou Testament is daar etlike uitsprake waarin die Messias as Goddelike gestuurde Homself onderskei van die Here en die Heilige Gees.

                        =          Jes 48:12-22 is betekenisvol. Onder meer sê Een wat die hemel en die aarde geskep het: "Luister na My, Jakob, luister, Israel, vir wie Ek geroep het: Ek is die Here, Ek is die eerste, en Ek is die laaste. Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê, deur my mag het Ek die hemelkoepel oopgesprei: Ek het hulle te voorskyn geroep en hulle het tot stand gekom (12-13) ... En nou, die Here God het my en sy Gees gestuur" (16).

                        =          Jes 61:1: "Die Gees van die Here my God (Heb. Adonai Jahweh) het oor my gekom; die Here (Heb. Jahweh) het my gesalf om ’n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is ..."

            In Luk 4:18-19 maak die Here Jesus hierdie woorde op Homself van toepassing.

                        =          Sag 2:10-11: "Juig, Sion, wees bly! Ek kom, Ek gaan binne-in jou woon, sê die Here (Heb. Jahweh). Daardie dag sal baie nasies hulle aan die Here verbind: hulle sal my volk wees, en Ek sal in jou woon, Sion. Wanneer dit gebeur, sal jy weet dat die Here die Almagtige (Hb. Jahweh Sebaoth) my na jou toe gestuur het."

            +          Die profeet praat in Jes 63:7-10 van die Here, van Sy Engel, en van Sy Heilige Gees as drie aparte Persone: "In al hulle benoudheid was Hy (volgens v.7, Jahweh) benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hy hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd. Maar hulle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ’n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry" (OAV; vgl. ook NIV).

Die Nuwe Testament

#          Lees mens egter die Nuwe Testament, vind jy die verrassende, amper verstommende feit dat die drie-enigheid van God orals veronderstel word. Daar is geen poging om dit te verduidelik nie; dit word eenvoudig aangeneem, asof niemand ooit daaroor onseker was nie (vgl. Matt 28:19; Mark 1:9-11; Joh 14:16-26; 15:26; 16:5-15; 1Kor 12:3-6; 2Kor 13:14; Ef 1:3-14; 2:18; 4:4-6; Gal 4:4-6; Rom 8:1-11; 2Tess 2:13-14; Tit 3:4-6; 1Pet 1:2; Jud 20-21; Op 1:4).

            Hoe moet ons dit verstaan dat die Ou Testament as 't ware geskryf is voordat die drie-enigheid van God uitdruklik geopenbaar is, en die Nuwe Testament oënskynlik daarna?

#          Die Nuwe Testamentiese openbaring oor God se drie-enigheid word nie soseer in woorde aan ons deurgegee nie, maar in handele. Die drie-eenheid word geopenbaar as God die Seun mens word en onder ons kom woon. Dit word geopenbaar as God die Heilige Gees op die Pinksterdag uitgestort word. Hiervoor is die Ou Testament 'n voorbereiding. En hiervan is die Nuwe Testament die resultaat.

            Van die begin af het God Homself per slot van rekening tot 'n baie groot mate in dade aan die mens geopenbaar ‒ dus in die vloeibedding van die geskiedenis.

            Wat die drie-eenheid van God betref, kom dit eers werklik na vore as die verlossingsplan sy klimaks bereik. Trouens, die kulminering van die verlossingsplan is op sigself die finale en onmiskenbare openbaring van God se drie-eenheid.

#          Die Nuwe Testamentiese gelowiges het die openbaring oor God se drie-enigheid verstaan, omdat hulle die evangelie verstaan het. Hulle het verstaan dat God die Vader hulle só liefgehad het dat Hy Sy eie Seun gestuur het om hulle te verlos. Hulle het verstaan dat hierdie Seun waarlik God moes wees om hulle verlossing te bewerkstellig. Hulle het verstaan dat die Heilige Gees wat volgens die Here Jesus se beloftes op die Pinksterdag na hulle toe gekom het, deur die Vader en die Seun na hulle toe gestuur is. Hulle het verstaan dat Hy 'n afsonderlike Persoon is, en dat dit wat Hy in hulle tot stand gebring het in geen opsig deur iemand minder as God gedoen kon word nie.[4]

#          Die basiese Nuwe Testamentiese openbaring van en bewys vir die drie-enigheid van God kom dus in die groot verlossingshandele van God ‒ in feite en gebeure, eerder as in woorde.

            Jesus Christus en die Heilige Gees is die Nuwe Testamentiese bewys van God se drie-eenheid.

            Ja, daar is baie verwysings na en sinspelings op die drie-eenheid van God, maar die éintlike bewys daarvan lê in die goddelikheid van die Here Jesus Christus en van die Heilige Gees. Só eenvoudig is dit:

As die Nuwe Testamentiese Jesus waarlik die Seun van God is, en God die Seun;

en as die Heilige Gees waarlik die Gees van God is, en God die Gees,

dan is die drie-enigheid van God 'n feit.

Indien nie, is daar nie so iets soos 'n drie-enige God nie.

 

Wat sê dit vir ons?

#          Hoe sal ons op God se drie-enigheid reageer? Só verhewe is die lewende God, só ver is wie en wat Hy is buite ons ervaringsveld, dat mens Hom in respons op Sy selfopenbaring as die Drie-enige net kan aanbid. En wat sê jy dan as jy Hom aanbid? Jy kan maar net terug eggo wat Hy reeds vir jou gesê het. As jy méér probeer sê, verval jy bes moontlik in onheilige spekulasie. En daarom sal mens voor Sy drie-enigheid dikwels net swyg, in stille verwondering.

            Maar presies dit is die eerste praktiese implikasie van hierdie Skrifwaarheid waarna ons kyk. Nooit kan ons met iets méér verhewe besig wees as aanbidding nie. Dis ten diepste waarvoor ons geskape is. Dis ten diepste waarvoor ons gered is. Dis ten diepste waarvoor ons die ewige lewe ontvang het.

            Peins dikwels oor hierdie dinge. Aanbid dan: una substantia tres personae. En as die woorde in jou keel stol ‒ swyg dan voor Hom, en buig laag. Dikwels is dit die heel hoogste aanbidding.

#          God is 'n God wat innige vreugde het in gemeenskap. Die onderlinge liefdesgemeenskap tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees, tref ons orals in die Bybel aan. Elke keer as die Vader met die Seun hier op aarde praat, verklaar Hy Sy liefde. Was die ingesteldheid om die Vader te gehoorsaam nie die Seun se sentrale hartstog tydens Sy vernedering nie? En wat wil die Gees anders doen as om die Seun te verheerlik (Joh 16:14-15)?

            En natuurlik ‒ heerlike, heerlike waarheid! ‒ gemeenskap met die drie-enige God is ons heel hoogste en ewige roeping (Joh 17:3). En hierdie voorreg geniet ons, omdat Hý dit so wil hê.

#          God is 'n God van samewerking. Het die Vader, die Seun en die Heilige Gees nie voor die grondlegging van die aarde reeds besluit om Hulleself te verheerlik in die redding van uitverkorenes vanuit 'n gevalle menslike ras nie? Het Hulle nie elkeen se rol in die verlossingsverbond onveranderlik en vir ewig vasgelê nie?

            En dan, natuurlik, is die Bybel boordevol van hoe God die mens medewerkend betrek by die uitwerk van Sy raadsplan hier op aarde.

#          Laat ons intens dankbaar wees oor God se drie-enigheid.

            +          Dit het dit moontlik gemaak dat, terwyl die Vader steeds die soewereine en regerende God in die hemel gebly het, die Seun mens kon word om onder ons te woon. Wat sou van ons geword het as Hy nie as groot Profeet, Priester en Koning na hierdie wêreld toe gekom het nie?

            As groot Profeet het Hy die essensie van wie en wat God is aan ons kom openbaar: vol genade en waarheid, vol ontfermingsbarmhartigheid en verbondstrou (Joh 1:14). Nou het ons gemeenskap met die Here God sinvolle en troosryke inhoud.

            As groot Priester het Hy Sy lewe as strafdraende Plaasvervanger vir ons kom aflê (Rom 3:25), waarsonder ons so hopeloos verlore sou gewees het soos die gevalle engele. En as Priester tree Hy voorts by die Vader in vir die onuitspreeklik begenadigde mense wat aan Hom toevertrou is (Rom 8:34; Heb 7:25; 9:24).

            As Koning sal Hy tot in ewigheid in geregtigheid oor ons regeer.

            +          Omdat God drie-enig is, kon die Heilige Gees deur die Vader en die Seun na ons toe gestuur word. En wat sou ons sonder Hóm gewees het ‒ sonder Sy wederbarende, verligtende, versekerende, heiligmakende en toerustende werk?

            En sonder Hom sou dit geheel en al onmoontlik vir ons gewees het om ons geliefde Verlosser te dien, te behaag en te verheerlik.

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

W: www.imagodei.co.za 

[1]   Die klassieke Latynse definisie is: una substantia tres personae.

[2]   Hierdie mag weliswaar ‒ soos dalk ook in die geval van Elohim ‒ majesteitsmeervoude wees, maar dis onseker, selfs dalk onwaarskynlik.

[3]   Hiermee sê ons nie dat elke verwysing in die Ou Testament na 'n engel, of selfs na die engel van die Here, noodwendig 'n verwysing na die Malak Jahweh as tweede persoon van die Drie-eenheid is nie.

[4]   Dit is wel waar dat die vroeë kerk in die eerste eeue baie geworstel het om die waarheid oor God Drie-enig onder woorde te bring. Maar dit het gegaan oor 'n gesofistikeerde formulering daarvan ‒ grootliks om dwaalleringe te besweer. Enige eerlike leser van die Nuwe Testament sal egter weet dat die apostels geen twyfel in hulle gemoedere gehad het oor die feit van God se drie-enigheid nie.