PDF WEERGAWE

PREEK 1https://www.antipaspretoria.org.za/preke/episode/229e745f/god-het-gespreek-deel-1-met-gemeente-toewyding-en-nagmaal

 

PREEK 2https://www.antipaspretoria.org.za/preke/episode/285f2d04/god-het-gespreek-deel-2

Inleiding

Die skrywer se doel met hierdie brief is pastoraal van aard. Sy lesers is Joodse Christene wat besig is om moeg te word in die geloofswedloop en oorweeg om weg te draai van Christus af, terug na die Ou Testamentiese seremoniële godsdiens.

            Wat hy met sy skrywe aan hulle wil toon, is dat so 'n ommekeer nie net onsinnig is nie, maar inderdaad fataal. Die Ou Testament is vervul in Christus — wat beteken dat hulle wil terugdraai na iets wat eintlik nie meer bestaan nie. Nog meer, aangesien al die Ou Testamentiese seremonies vooruit gewys het na die komende Messias, sal so 'n besluit neerkom op 'n skreiende belediging vir Christus. Dit sal 'n versaking wees van die Middelaar van die genadeverbond — en sonder Hom is daar geen verlossing nie.

            Hierdie waarskuwing word oor en oor in die res van die brief herhaal — en in taal wat mens laat sidder.

#          In hierdie eerste verse[1] val die bybelskrywer met die deur in die huis. Wat ons moet verstaan, sê hy, is dat die koms en optrede van Jesus Christus nie maar net nóg 'n stap in die ontwikkeling van God se raadsplan was nie — met die gevolg dat mens bloot een tree sou agter raak as jy terugkeer na die Ou Testamentiese bedeling.

            Nee, jy verpas geheel en al alles waaroor dit gaan!

            God se verlossingsplan en Sy openbaring aan die mens het in Sy Seun tot afrondende en finale klimaks gekom. Dus troon die Nuwe Verbond ver bo die Ou Verbond uit. Mens kán mos nie terugdraai na die voetheuwels toe, as die pieke vir jou wink nie!

#          In die verse onder ons vergrootglas vergelyk die skrywer die Ou en Nuwe

Testamente. En in die allerduidelikste taal beklemtoon hy dan dat God se openbaring met die koms en optrede van Jesus Christus tot finale en kulminerende klimaks gekom het. Hy het opgehou om een na die ander profeet te stuur om oor Hom te praat. Nee, nou het Hy sélf gekom en alles wat nodig is om oor Hom en Sy plan te weet, persoonlik aan ons gewys.

           Dis soos die skerp spits van 'n piramiede. Al die lyne van die Ou Testament loop na hierdie punt toe. En 'n hoër openbaring as wat in die Seun gekom het, is nie moontlik nie.

#          Nie alleen lê die Hebreërskrywer só die fondament vir die hele boek nie; wat hy sê, het enorme teologiese en praktiese implikasies.

'n Bietjie sinsontleding

Die eerste sin in die Grieks (Heb 1:1-2a) is swaar gelaai met betekenis van groot belang.

            Dit bestaan uit twee dele: 'n Voorafgaande bysin, gevolg deur 'n hoofsin.

            Let op, deur hierdie twee gedeeltes presies dieselfde te bou, belig die skrywer die verhouding tussen die twee Testamente — voorlopigheid destyds; vervulling nou.

Hierdie verhouding tussen die twee Testamente is van enorme belang

sodanig dat dit beswaarlik oorskat kan word!

#          Die bysin: God het gespreek!

            Hoe? Baie keer en op baie maniere. Dit was dus fragmentaries.

            Wanneer? In die verlede (in die tyd van die Ou Verbond).

            Tot wie? Tot die vóórvaders.

            Deur wie? Deur die profete.

#          Die hoofsin: God het gespreek!

            Hoe? Eenmalig.

            Wanneer? In hierdie laaste dae.

            Tot wie? Tot óns.

            Deur wie? Deur die Seun.

'n Aantal fundamentele waarhede

God hét tot ons gespreek.

Laat ons nooit die wonder daarvan vergeet dat die allerhoogste en enige God van hemel en aarde nie die veraf en onbekende God gebly het nie, maar dat Hy na ons toe afgebuig en Homself aan ons geopenbaar het.

            Hy het met ons gepraat!

Beide Ou as Nuwe Testament is God se spreke, oftewel openbaring aan ons.

#          Daardie deel van Sy openbaring wat God aan ál Sy kinders deur die eeue wou bekendmaak, het Hy deur die inspirasie van die Heilige Gees in die geskrifte van beide Testamente laat vaslê.

            +          Daar is 'n kontinuïteit of deurlopendheid tussen Ou en Nuwe Testament. Aangesien beide Testamente God se spreke is, kan ons verwag dat hulle mekaar nie sal weerspreek nie, maar dat die Nuwe op die verlenging van die Oue sal lê.

            +          Daar is 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Testament. Die skrywer impliseer onmiskenbaar 'n onderskeid tussen die twee Testamente: die Nuwe styg ver bo die Oue uit — soveel as wat die Seun heerliker is as die profete.

            Só stel die Hebreërskrywer dit in sy agste hoofstuk (v.7-13): "As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou 'n tweede nie nodig gewees het nie."

            Uiteindelik sluit hy so af: "Deur van 'n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn."

#          God se openbaring het 'n progressiewe of kumulatiewe karakter.

            Die teenstelling tussen die Testamente is dus nie 'n kontras tussen dit wat gedeeltelik vals is, enersyds, en dit wat volledig waar is, andersyds, nie.

            Dit gaan om beloftes wat vervul word, om die voorlopige wat gefinaliseer word, om die onvoltooide wat tot vervolmaking kom, om skaduwees wat tot substansie oorgaan.

            Die Nuwe Testament is in die Oue verborge; die Oue word in die Nuwe belig.

 

#          Herhaaldelik kom die woord "beter" in Hebreërs voor.

            Christus is beter as die engele (1:4), Hy bied 'n beter hoop (7:19) en waarborg 'n beter verbond (7:22). Dit alles is gegrond op beter beloftes (8:6) en 'n beter offer (9:23).

            Die verskil tussen Ou en Nuwe verbond is die verskil tussen dit wat goed is en dit wat beter is.

#          Die Nuwe Testamentiese openbaring het deur (lett. in) die Seun gekom, en as sodanig is Hy, presies Hý, God se hoogste openbaring aan die mens.

#          Só stel Johannes dit in sy evangelie: "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon ... Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak." (1:14, 18).

Waarlik, Jesus Christus is

die hoogtepunt, die piek, die afronding, die kulminering, die vervolmaking

van God se openbaring aan ons

Wie wíl, wie dúrf, wie kán iets by Hom voeg

#          Dit moet altyd onthou word dat God Homself primêr in Sy Seun aan ons geopenbaar het — in Sy persoon, lering en werk.

            Waar kom die Bybel dan in die prentjie? Daarin vind ons die neerslag van God se openbaring in Sy Seun — opgeteken sodat hierdie openbaring dwarsdeur die geskiedenis en regoor die wêreld weer en weer besoek kan word.

            +          Daarom is die belofte wat die Here Jesus vir Thomas in Joh 20:29 gee vir ons so kosbaar: "Glo jy omdat jy My gesien het? Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het."

            Jesus se gebruik van die verlede tyd in sy belofte moet ons herinner dat Hy ook die gelowiges van die Ou Verbond in gedagte het. Hulle kon Hom immers óók nie gesien het nie, en moes op grond van die profetiese getuienis gelowig vooruit kyk, verwag en vertrou.

#          Reg van die begin af antisipeer die Ou Testament die koms van die Seun. Meestal kan dit eers in die lig van die Nuwe Testament raakgesien word. Maar as jy eers gelowig — deur die lens van Nuwe Testament — só na die Ou Testament kyk, sien jy Hom orals.

#          Dit was die apostels as oog- en oorgetuies (en hulle medewerkers) se taak om hierdie finale openbaring in Christus vir ons eens en vir altyd finaal op skrif te stel.

Van die begin tot einde in Bybel is die Here Jesus Christus die Hoofkarakter.

In die OuTestament is Hy die Verwagting

In die Evangelies is Hy die Vertoning

In die Handelinge is Hy die Verkondiging

In die Briewe is Hy die Verduideliking

In die Openb is Hy die Vervolmaking

#          As gesê word dat God met ons gepraat het "deur die Seun", is dit die vertaling van

die Grieks wat bloot sê "in Seun" (sonder die lidwoord). Dit dra die idee: In so 'n persoon soos die Seun.

            Dit gaan dus vir die skrywer oor meer as net wat die Seun gesê het, dit gaan ook oor wat Hy was, sowel as oor wat Hy gedoen het.

Die Nuwe Testamentiese openbaring is God se finale en hoogste openbaring

aan die mens in hierdie lewe.

 

#          Laasgenoemde uitdrukking dui op die hele bedeling tussen die eerste en die wederkoms van Jesus Christus.

            +          Die woord vertaal met "in" hierdie "eindtyd" (2020) of "laaste dae" (OAV; NAV) dui op 'n tydperk waarbinne iets gebeur. Dus: God hét gespreek; dit blý Sy spreke; dwarsdeur hierdie bedeling spreek Hy op net een manier — deur Sy Seun.

Hy hét in Christus gespreek (afgehandelde verlede tyd).

En Hy spreek stééds in Christus dwarsdeur die "laaste dae".

#          Nog 'n woord wat die Hebreërskrywer dikwels gebruik, is "ewig". In Christus het ons nou reeds die ewige saligheid (5:9), 'n ewige verlossing (9:12), 'n ewige erfenis (9:15).

            Daar kom dus níé 'n beter bedeling in die toekoms nie. Wat ons nou in Christus het, is God se finale gawe — in terme van 'n ewige verbond (13:20). Dus vir tyd en ewigheid.

Dus, as die Nuwe Verbond die Oue by verre oortref

is daar eweneens niks wat ooit bó die Nuwe sal uitstyg nie.

Dis die finale en ewige reëling van die verhouding tussen Christus en Sy bruidsgemeente.

God se openbaring in Sy Seun is vir tyd en ewigheid genoegsaam.

#          As die Here dit dan onnodig ag om méér aan ons te openbaar, het ons sekerlik nie meer nodig nie. Ons het dus alle openbaring wat vir hierdie bedeling nodig is — om nóú godvrugtig volgens Sy wil en tot Sy eer te lewe, om alles te doen wat Hy van ons verg om uiteindelik salig te sterf.

Nie afgeskeep nie, maar uitnemend begenadig

#          As ons eers regtig begin verstaan wie die Een is deur wie God Sy laaste woord tot die mensheid gespreek het — en steeds spreek — sal ons besef waarom ons in geen opsig afgeskeep hoef te voel omdat daar nie verdere openbaring van God na ons toe kom nie.

            Hierdie finale en glasheldere Woord van God — gespreek toe Sy eie Seun, Jesus Christus, mens geword het en onder ons kom woon het — is reeds 2000 jaar oud. Tóg is dit tot vandag toe meer as genoegsaam. Diegene wat hierdie spreke verstaan, word lewenslank daardeur gefassineer, leer gou dat 'n leeftyd van studie nie genoeg is om dit te deurgrond nie, en is totaal vergenoegd daarmee.

            Behalwe vir vleeslike nuuskierigheid, kan hulle aan geen openbaring dink wat hulle nog vérder van God sou wou ontvang nie, behalwe om die Seun net nóg beter te leer ken. Want hulle weet, Hý is die helderste venster — eintlik die enigste — deur wie hulle die lewende God kan sien. En aangesien dit die summum bonum van hierdie lewe is om die lewende God te ken (Joh 17:3), lê God se spreke in Christus in die middelpunt van hulle lewens en hartstogte.

            En aan die hart van 'n Christengelowige se hoop, lê die vooruitsig om die Here Jesus Christus net nog béter te leer ken – sóveel beter en ál hoe meer – vir alle ewigheid.

#          Min is die wat híérdie waarheid beter verstaan het as die Hebreërskrywer. En hy weet dat sy lesers, tot die mate wat hulle dit ook begryp, alle geneigdheid sal verloor om terug te draai na Ou Testamentiese seremonies. Dis waarom hy onmiddellik voortgaan om die duiselingwekkende heerlikheid van Christus te besing. Die res van die brief is trouens 'n voortsetting daarvan, maar hier in Heb 1:2-3 word dit in ekstrakvorm vir ons gegee.

            En omdat die Heilige Gees uiteraard ook weet hoe dit werk, het Hy in Sy goedheid verseker dat dit in die tydlose Bybel vir ons opgeteken en vasgelê word.

Die Seun se heerlikheid — Hy deur wie God nou spreek (Heb 1:2-3)

#          In die lig van wie en wat Jesus Christus is, vervaag een na die ander Ou Testamentiese lig tot 'n dowwe skaduwee. Die openbaring wat deur iemand só verhewe kom, kan mos nie anders as om onbetwisbaar gesaghebbend, algeheel betroubaar, en onberekenbaar waardevol te wees nie. Vergelyk Hom met die profete ‒ en dis so duidelik soos daglig dat die rykdomme van die Nuwe Testamentiese openbaring soos 'n hoë bergpiek bokant die Ou Testament uittroon.

Op geen wyse kon God ons méér begunstig

as om deur só 'n verhewe Woord,

in só 'n verhewe Persoon,

tot ons te spreek nie.

#          In verse 2-3 is dit asof die skrywer homself nie langer kan bedwing nie: In jubelkrete bars hy uit om met sewe uitdrukkings te poog om die heerlikheid van Christus te beskryf.

1.         Hy is die Erfgenaam (Heb 1:2b).

#          God het Hom "aangestel as erfgenaam van alle dinge".

            Hy ontvang hierdie erfenis in Sy hoedanigheid as die Middelaar en Hoof van die nuwe skepping — as die mens Christus Jesus (1Tim 2:5). Dit is reeds aan Hom toegesê in die ewige raad van God en in die Verlossingsverbond tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid.

            As die "laaste Adam" (1Kor 15:45) was Hy onkreukbaar getrou aan sy Werkverbond met die Vader.

            En sy loon? Hy is nou die wetlike eienaar van alles (Kol 1:16). Hy het volkome regeringsvolmag daaroor (Matt 28:18). En tot in ewigheid sal Hy Hom daarin verlustig.

#          Die Messiaanse Psalm 2:8 is betekenisvol: "Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting."

            Sy erfenis uit die Vader se hand is in die eerste instansie 'n volk — nee, beter nog, 'n bruid — vanuit alle volke, nasies en tale (Heb 2:8-13; Op 11:15).

            En hierdie bruid sal sy innige liefdesverlustiging wees tot in alle ewigheid.

2.         Hy is die Skepper (Heb 1:2c).

#          God het "deur Hom ... die wêreld geskep"

            Luister na Joh 1:3: "Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie."

            Luister na Kol 1:16: "God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep."

#          Die spesifieke woord wat hier in Heb 1:2 met "wêreld" vertaal word (Gr. aion), is in die meervoud en dra ook die idee van tyd. Dit kan dus ook met eeue of bedelinge vertaal word (vgl. Ampl).

            Christus is inderdaad die Here van die geskiedenis, die Een deur wie God Sy raadsplan uitwerk. Hy is "die Koning van die eeue" (1Tim 1:17, OAV).

3.         Hy is die Openbaarder (Heb 1:3a).

#          "Hy is die uitstraling van God se heerlikheid en die ewebeeld van sy "wese.

            +          Soos die son se ligstrale, is die mensgeworde Seun die uitstraling van God (2Kor 4:6). Die geheimenisvolle en wonderlike eenheid en samewerking tussen die Vader en die Seun kan beswaarlik beter beskryf word.

            Net soos daar geen strale sonder die son sou wees nie, net so is die Seun ondenkbaar sonder die Vader.

            En net soos die son geen waarde vir ons sou hê, as dit nie was vir sy lewegewende strale nie, net so sou ons bloedweinig van God die Vader kon weet, en sou Sy liefde niks vir ons beteken het nie, was dit nie vir die Seun nie.

            Tóg is die son en die strale nie dieselfde nie – net soos die Vader en die Seun onderskei moet word as twee verskillende Persone (Joh 5:17; 8:42).

 

            +          Die woord wat met "ewebeeld" vertaal word, dui op die afgedrukte merk van 'n stempel of ring in seëllak. Al sien mens self nie die stempel nie, is die afdruksel 'n absoluut getroue weergawe daarvan.

            In Jesus Christus kan ons dus die essensiële elemente van God se wese sien – van wie en wat Hy werklik is.

#          Volgens 1Tim 6:16 woon God in 'n ontoeganklike lig. Geen mens kan Hom sien en bly lewe nie. Maar volgens Kol 1:15 is die Séún die beeld van die onsigbare God.            Ons kan nie na God toe opklim om Hom te bestudeer nie; ons is totaal afhanklik van Sy selfopenbaring aan ons. En dit hét Hy inderdaad gegee ‒ in Sy Seun, Jesus Christus!

            +          Let op, dis van die mensgeworde Seun wat hierdie dinge gesê word! As ons hoogste roeping dan is om God te ken, behoort ons met alles daaraan te werk dat die Here Jesus meer en meer van ons blikveld vul.

Christus is die sigbare, heerlike verskyning van God in Sy majesteit!

Sonder die son se uitstraling sou ons nie daarvan geweet het nie.

Sonder Christus was ons in die duisternis oor wie en wat God is.

Maar in die Seun openbaar God Homself aan ons

absoluut betroubaar.

4.         Hy is die Onderhouer en Heerser (Heb 1:3b).

#          "Hy hou alles in stand deur Sy magtige woord."

            +          Die werkwoord, om in stand te hou, dui op dinamiese handeling. Dit gaan dus nie net oor 'n passiewe en statiese verlening van steun nie, maar ook oor beweging, voortgang en doelgerigtheid.[2]

            Die Seun handhaaf nie net die status quo nie, Hy is aktief, dinamies en progressief besig. Hy dra die heelal voort op sy koers ‒ soos God dit verordineer het.

            +          Luister na Kol 1:17:    "Hy (die Seun) het voor alles bestaan, en in Hom hou alles stand."

            Hy was nie net God se agent tydens die skepping nie; Hy is ook die onderhouer daarvan.

#          "Hy hou alles in stand deur Sy magtige woord.

 

            +          Nooit is hierdie woord heerliker en kragtiger as in die vorm van die Evangeliewoord nie. Is die evangelie nie " 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo" nie (Rom 1:16)? Waarlik, God het, luister, "in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo" (1Kor 1:21).

            Daarom skryf Jakobus: God het ons "deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring" (1:18). En Petrus sê: "Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God" (1Pet 1:23).

Deur alle eeue word die ganse skepping,

in die besonder hierdie wêreld met al sy woelinge,

voortgestu deur die wil en woord van sy Erfgenaam.

 

5.         Hy is die Verlosser (Heb 1:3c)

#          Hy het "die reiniging van sondes bewerk".

            Die werkwoord is in 'n vorm wat beklemtoon dat die Seun sélf ons sondes gereinig het.[3] Hy het geen minderwaardige plaasvervanger gebruik nie.

            Verbysterend is dit dat Iemand so onuitspreeklik verhewe en heerlik, Sy lewe neerlê sodat verwerplike sondaars gered kan word!

            Ons sien hier God se onkreukbare geregtigheid wat kompromieloos daarop aandring dat alle sonde gestraf word.

            Ons sien sy onbeskryflike liefde wat dit moontlik maak dat Sy haters die teendeel kry van wat hulle verdien, naamlik genade.

            Ons sien sy onpeilbare wysheid wat Sy geregtigheid en Sy liefde so volmaak met mekaar versoen.

            Ons sien op Golgota God se geregtigheid en Sy liefde in intieme omhelsing.

6.         Hy is die Koning (Heb 1:3d)

#          Hy het "gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogtes.

#          Dat Hy gaan "sit" het, dui op die afhandeling van Sy werk.

            As die Here Jesus aan die kruis uitroep, "Dit is volbring!" (Joh 19:30), proklameer Hy triomfantelik dat die regsbasis vir sondaars se redding onbeweeglik en vir ewig in posisie geplaas is.

            Toe het Hy in triomfantelike waardigheid op sy heerserstroon gaan sit. Die beslissende stryd was afgehandel. Die losprys was volledig betaal. Sy werk was klaar –volkome tot bevredinging van die Vader se heilige geregtigheid – eens en vir altyd. Vir alle ewigheid

#          Dat Hy aan die "regterhand" van die Majesteit, die Vader, in die hoë hemel sit, dui op Sy uitvoerende gesag.

            +          Tot vandag toe, as 'n foto geneem word van 'n kabinet met sowel 'n seremoniële as 'n uitvoerende hoof (soos byvoorbeeld 'n Staatspresident en 'n Eerste Minister, soos in die ou Suid-Afrika), sal laasgenoemde altyd aan die regterkant sit. Hy is immers die een wat van dag tot dag die sweep klap en regeer.

            +          Die Seun is tans die aktiewe regeerder. Deur die eeue ná Sy kruisoorwinning werk Hy die implikasies daarvan uit. Hulle wat die Vader aan Hom toevertrou het, word kop vir kop vanuit die nasies gaan haal. En Sy vyande word een na die ander onderwerp – in hierdie genadetyd met herskeppingskrag.

7.         Hy is die Allerhoogste van die ganse skepping – ook die skare engele (v.4)

#          Waarom word die engele hoegenaamd hier genoem – en kry hulle soveel aandag ook hierna, dwarsdeur tot aan die einde van hoofstuk 2?

            Onthou, dis Jode vir wie hier geskryf word. En die Jode het vanuit die Ou Testamentiese geskiedenis 'n baie hoë agting vir hierdie hemelwesens gehad. By verskeie van die belangrikste momente destyds het die engele immers 'n prominente rol gespeel.

#          Selfs die Seun is, "... deur sy lyding tot in die dood vir 'n kort rukkie minder as die engele gemaak ... " (Heb 2:9)

            Maar, natuurlik, na die opstanding is Seun deur wie God dwarsdeur hierdie eindtyd praat by verre húlle meerdere.

#          In hierdie hoofstuk word nie nét Christus as 'n erfgenaam beskryf nie (v.4), maar ook elkeen wat met Hom verenig is, en gevolglik die finale verlossing sal beleef.

            Hoofstuk 1 sluit af met hierdie verstommende stelling: Die engele is "... almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om díé te dien wat die saligheid gaan beërf ..." (NAV).

            'n Drukfout?

            Nee, nee! Luister na 1Kor 6:3: "Weet julle nie dat ons oor die engele sal oordeel nie?"

Broers en Susters in Christus

laat ons nooit ooit ons voorreg

om erfgename van die saligheid te wees,

geringskat nie!

 

Dis 'n saligheid,

skryf Petrus in sy eerste brief

" ... waarin selfs engele begerig is om insig in te kry."

(1Pet 1:12).

 

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

W: www.imagodei.co.za

 

[1]           Terwyl ek aan hierdie studie gewerk het, het weer en weer gedink aan wyle Prof. Christi Coetzee — gewese professor in Nuwe Testament aan die Potchefstroomse Teologiese Skool. In sy skitterende klasse het ek vir die eerste maal kennis gemaak met die eksegese van Heb 1:1-3. Wat 'n dosent was hy nie! Ek is meer dank aan hom verskuldig as wat ek ooit onder woorde kan bring.

            Helaas het ek destyds nie die volle implikasies van, nie net die afgeslotenheid nie, maar ook die genoegsaamheid van die Godsopenbaring in Christus verreken nie. Dit het my 'n dekade in die teologiese en kerklike woestyn gekos. Maar tot vandag toe loof ek nog gereeld die Here dat my oë in die tweede helfte van 1990 vir hierdie waarheid oopgegaan het. Dit het — sonder om te oordryf — lewensveranderende gevolge gehad.

            Naas my aanvanklike bekering, was dit dalk die mees dramatiese ommekeer in my lewe!

[2]           Fritz Rienecker & Cleon Rogers, Linguistic Key to the New Testament, Zondervan, 1976, p.664.

[3]           Aoristus medium partisipium van poieo; Rienecker & Rogers, p.664.