PDF WEERGAWE

Is die Bybel is inderdaad genoeg as ons wil weet hoe om die Here ons God te behaag en te dien? Of het ek dalk méér nodig as ek wil uitvind hoe om te leef? Wat van die talle en talle besluite wat ek moet neem? Waar kry ek lig? Net in die Bybel? Of het ek meer nodig?

            'n Oomblik se nadenke sal onderstreep hoe kardinaal belangrik hierdie vrae is. Want die antwoorde wat ek daarop gee, gaan my hele lewe beïnvloed — ingrypend. En tensy ek soos 'n blaar koersloos in 'n rivier wil afdryf, móét ek eenvoudig hieroor standpunt inneem.

Luk 8:1-18: Niks het geheim gebly nie

Sekerlik kan na talle gedeeltes in die evangelies verwys word om die Here Jesus se diepe erns oor Sy roeping uit te lig, maar Luk 8:1-18 is besonder betekenisvol. [1]

            Hoewel alle Bybelvertalings hierdie gedeelte onderverdeel in 'n aantal los paragrawe, elkeen met sy eie opskrif, het ons eintlik hier met 'n eenheid te doen.

Jesus was 'n saaier

Die gedeelte begin met 'n beskrywing van Jesus wat van dorp tot dorp die evangelie van die koninkryk verkondig. Skares mense luister voortdurend na Hom. As Hy dan die bekende gelykenis van die saaier vertel, van 'n man wat die Woord van God saai (v.5-8; 11-15), is dit duidelik dat Hy in die eerste instansie van Homself praat. Só gaan dit nou maar eenmaal in Sy bediening: Baie in die groot skare luister sonder om te hoor; ander hoor oënskynlik, maar mettertyd blyk dit dat ook hulle nie regtig verstaan het nie; en dan is daar 'n handjievol wat régtig hoor en wie se lewens daarna baie koninkryksvrug oplewer.

Niks gaan langer geheim bly nie; álles gaan geopenbaar word.

 

Maar as net 'n klein klompie mense baat vind by Sy prediking, waarom sloof Jesus Homself so af om van plek tot plek te preek? Die antwoord op hierdie vraag word in die gelykenis van die lamp gegee (v.16-18).

God se lig vir die wêreld is aan 't kom in Sy persoon en prediking en werk. Hoe sou Hy dan soos 'n askeet Homself kon afsonder, God se waarheidswoord vir Homself hou, en dit wegsteek, sê nou maar onder 'n bed?

            Presies hoe belangrik die boodskap wat Hy dra werklik is, verduidelik Hy in vers 17. [2] Dís die rede waarom Hy elke dag onvermoeid preek. Dis waarom die lamp op 'n staander gesit moet word. Almal moet dit kan sien. Almal moet die boodskap hoor. Want die lig wat Hy bring, is 'n lewensbelangrike boodskap van God! Dinge wat tot nou toe verborge was, gaan bekend gemaak word; trouens, dit gebeur reeds.

            Die vers sê egter méér: God openbaar nie net nie, Hy openbaar álles! "Niks" van wat Hy aan die mens wil openbaar, gaan langer geheim bly nie. Dis waarom almal moet hoor. Dis lewensbelangrik. Dis God se finale woord aan die mens! Nou in hierdie dae praat Hy eens en vir altyd. Na dese gaan Hy niks verder sê nie.

Apostoliese ore

Die gewigtigheid van die saak word verder in v.18 onderstreep. Die Here druk Sy dissipels op die hart om noukeurig na God se openbaring te luister, want die feit dat hulle nou "het", dui daarop dat hulle ook ontvangers van die rés van God se nuwe lig gaan wees. Hierdie belofte geld nie vir alle mense nie, net vir diegene wat "het". Wat hét hulle? Die antwoord is in vers 8: Hulle het "ore" — ore wat kan "hoor"! (v.8).

            Hierdie vermoë om te kan hoor en te verstaan, is 'n genadegawe van God — Hy het dit aan hulle "gegee" (v.10). En wat hoor hulle met hierdie bonatuurlike ore? Hulle hoor "die geheime van die koninkryk". Daarsonder sou geen apostel — wat staan nog ander mense — die verborgenhede, geheimenisse van die koninkryk van God kon begryp nie. Selfs vir hulle wat elke dag saam met Jesus was, sou die diep waarhede van die koninkryk van die hemele versluier gebly het. [3]

'n Uiters belangrike tegniese begrip

Die Here Jesus gebruik 'n baie betekenisvolle woord in v.10 (vgl. ook v.17): "geheimenis" (OAV "verborgenheid"). Die bepaalde Griekse woord, musterion, word meer as twee dosyn keer in die Nuwe Testament gebruik. Dit het konsekwent 'n baie bepaalde betekenis. Dit dui op waarheid wat God geopenbaar het, waarheid waarvan geen mens sou gedroom het as Hy dit nie gedoen het nie. So word die woord dan 'n tegniese begrip wat dui op Nuwe Testamentiese openbaring. [4]

Opsommend

Die Here Jesus leer dus — weliswaar kripties, soos dit Sy manier is met die gelykenisse — 'n paar kardinaal belangrike dinge in hierdie verse.

            +          Eerstens, die oopbreek van 'n massa allerbelangrike koninkryksopenbaring is op hande.

            +          Tweedens, God gaan álles openbaar — die hele waarheid. Hy gaan niks terughou van wat Hy vir die mens wil sê nie.

            Natuurlik gaan Hy nie álle waarheid openbaar nie; daar bly immers baie oor om te openbaar met en na die wederkoms. Maar alles wat nodig is vir hierdie bedeling, gaan geopenbaar word!

            +          Derdens, hierdie openbaring geskied deur Jesus self. Dis te vind in Sy persoon, woorde en werk.

            +          Vierdens, só duiselingwekkend groots is die waarhede wat aan't kom is, dat 'n spesiale genadewerking van die Here in 'n mens nodig is voordat hy hoegenaamd iets daarvan kan begryp.

Openbaringsontploffing

Min het die dissipels besef hoeveel verbysterende openbaringslig in die volgende handjievol jare op hulle sou daag. Die kruis! Die opstanding! Die hemelvaart! Pinkster! Die Nuwe Testament! Kan één mens dit in 'n enkele leeftyd verteer? Nét as die Heilige Gees jou verlig. Nét as jy ore gekry het wat kan hoor.

Matteus 16:15-19: Die gesagvolle rots van Nuwe Testamentiese voorskrifte van God se openbaring en wil

Tydens Sy publieke bediening roep die Here Jesus 'n handjievol manne om orals saam met Hom te beweeg en by Hom te leer. Na Sy vertrek sou hulle as oog- en oorgetuies 'n kardinaal belangrike rol vervul: Hulle sou die openbaring wat deur Hom gekom het, vertolk en oopvou, dit orals preek, die jong gemeentes daarin vestig en sorg dat die essensie daarvan op Skrif gestel word — hetsy deur dit self neer te skryf, hetsy deur toe te sien dat medewerkers dit onder hulle toesig en met hulle leiding doen.

            In die verband is Matt 16:15-19 baie belangrik en insiggewend.

'n Belydenis wat uit die hemel kom

"Maar julle, wie, sê júlle, is Ek?" Simon, as leier van die dissipels, antwoord namens hulle met 'n belydenis wat die hart van Nuwe Testamentiese openbaring is: "U is die Christus, die Seun van die lewende God!"

            Met hierdie belydenis is die Here Jesus ingenome. Só akkuraat is dit, dat Hy vir Simon kan sê: "dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is." Dit kom met ander woorde nie van 'n mens nie, maar van God (v.17). Jesus bevestig dit dus as Nuwe Testamentiese openbaring.

'n Nuwe naam vir die leier van die apostels

Dan doen Jesus iets eienaardigs, maar kennelik iets wat vol betekenis is. Hy gee vir Simon

'n nuwe naam: "Jy is Petrus" (Grieks vir rots). Hy gaan dan voort: "op hierdie rots sal Ek my kerk bou" — onvernietigbaar en onstuitbaar.

            Wat of wie is hierdie rots? Die antwoord is onontkombaar: Petrus is die rots! Máár dan nie in sy persoonlike hoedanigheid nie, soos baie dit deur die eeue vertolk het, maar in sy hoedanigheid as instrument en kanaal van Nuwe Testamentiese openbaring. Per slot van rekening maak die Here hierdie belofte aan Petrus júís na aanleiding van die vorige vers, wat sê dat die apostel se belydenis vanuit die hemel geïnspireer is.

Dit geld vir al die apostels

Nog méér is hier ter sprake: Die belofte word aan Petrus gemaak in sy hoedanigheid as segsman en leier van die apostels. Deur hom word die belofte dus ook indirek aan die res van die apostels gemaak.

            Sou Paulus nie later skryf dat ál die apostels (en profete) — dus die Ou en Nuwe Testamentiese geskrifte sederdien — die fondasierots van die kerk is nie? Vir die Efesiërs skryf hy: "Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is" (2:20).

            Hulle bedieninge, veral hul prediking en geskrifte, sou die fondament van die kerk word. En na hulle dood sou die Nuwe Testament (saam met die Ou Testament) oorbly as die rots waarop die ware kerk deur die eeue gebou sou word.

 

Die sleutels van die koninkryk

Ons werk eintlik na vers 19 toe. Petrus word steeds aangespreek as verteenwoordiger van die apostels. Die Here gaan vir Petrus — en dus vir die apostels as groep — "die sleutels van die koninkryk van die hemel gee." En daarmee op die aarde sal hulle "bind" (die letterlike betekenis, soos in die OAV) of "toesluit" (DAV; NAV). En hulle sal "vrylaat" (DAV) of  "ontbind" OAV) of "oopsluit" (NAV). En wat hulle op die aarde sal oop- en toesluit, sal in die hemel oop en toe gesluit wees. [5]

            Wat op aarde bedoel Jesus? Die Griekse woorde wat die Here hier gebruik, was destyds algemeen bekend. Dit was Rabbynse uitdrukkings vir verbied en toelaat. [6] Met ander woorde, die apostels sou die kerk lei in wat reg en verkeerd is. Hulle sou die Here se wil vir Nuwe Testamentiese gelowiges uitspel. En hierdie leiding sou gesagvol wees.

            En wat bedoel die Here Jesus as Hy sê dit sal ook in die hemel so wees? Die Grieks is al op verskillende maniere verstaan, maar die mees voor die hand liggende vertolking is soos volg: Die apostels sal toelaat en verbied wat reeds vantevore in die hemel toegelaat en verbied is. Soos in Matt 18:18 en Joh 20:23, word ook hier in die Grieks perfektum passiewe deelwoorde gebruik. Die perfektum dui op 'n voorafgaande handeling wat steeds van krag is as die handeling van die hoofwerkwoord plaasvind.

            Die apostels sou dus nie sélf besluit oor wat toelaatbaar en ontoelaatbaar is nie; hulle sou bloot uitdrukking gee aan dit wat God rééds soewerein in die hemel bepaal het. [7] God, en God alleen, bepaal immers wat reg en verkeerd is ‒ maar die apostels sou die agente wees deur wie die Here Sy Nuwe Testamentiese beginsels van reg en verkeerd bekendmaak en proklameer.

 

Waarlik gewigtig

Hierdie verse in Matteus het teologiese implikasies wat beswaarlik oorskat kan word. Só fundamenteel is dit, dat die héél eerste woorde wat Jesus ooit met Simon praat, hierdie belofte embrionaal bevat: "Jy is Simon .... jy sal Sefas genoem word.". En let op hoe gretig is Johannes dat sy Griekssprekende lesers nie die punt mis nie, want hy verduidelik onmiddellik: "Sefas beteken dieselfde as Petrus" — Rots! [8]

            As 'n naamsverandering ooit gewig gedra het, dan is dit hierdie een. Kan jy sien wat die Here Jesus hier van die apostels se Nuwe Testamentiese geskrifte sê? Rots! Fondament! Kanon, oftewel, maatstaf en norm! Onbeweeglik! Betroubaar! Genoegsaam!                Die kerk wat daarop bou, en net daarop, sal deur die magte van die doderyk nóg oorwin nóg gestuit kan word — nóóit nie!

Joh 16:12-15: Beloftes in die bovertrek

Dis die aand voor die Here Jesus se kruisiging. Die dissipels weet Sy sending na hierdie wêreld toe haas ten einde. Geweldige gebeure is op hande.

Gees-geïnspireerde kanale vir die hele waarheid

Sekerlik was een van die dissipels se grootste kwellinge in die bovertrek, behalwe hulle bekommernis oor hoe hulle sonder Hom sou regkom, hulle onvermoë om ál die lering wat hulle van Jesus ontvang het te onthou. Hy sal nie meer daar wees om te vra nie?

            Dis teen hierdie agtergrond dat ons die beloftes oor die komende Heilige Gees — die Voorspraak, die Trooster, die Helper — moet verstaan. Hierdie beloftes oorheers immers die gesprek in die bovertrek daardie aand. Die Heilige Gees sou hulle probleem aanspreek. Hy sou hulle alles leer en hulle herinner aan alles wat Hy vir hulle gesê het. Só sou Hy hulle "in "die volle waarheid" lei" (Joh 16:13). En die neerslag daarvan vind ons in die evangelies. Trouens, onmiskenbaar word die inspirasie van die héle Nuwe Testament, wat essensieel 'n óópvou is van die openbaring wat deur Christus se gekom het, hier geïmpliseer.

            Ons kan aanvaar dat die apostels nie net besondere herinneringshelderheid beleef het tydens hulle prediking en skryfwerk ná Pinkster nie, maar dat hulle ook 'n besondere diepte-insig in die Here Jesus se lering en optrede ontwikkel het. Algaande is die geheimenisse van die Koninkryk vir hulle oopgebreek. Hulle kry 'n wonderlike greep op die universeel-reikende omvang van God se verlossingswerk, op die geïntegreerde samehang daarvan, en op die uiteindelike en asemrowende afronding daarvan.

            En so word die apostels instrumente deur wie God Sy besondere openbaring — Sy hele waarheid — aan die mens tot volle afronding en finale klimaks voer.

Die uniekheid van die apostels

In Joh 14:26 word 'n uiters belangrike waarheid geïmpliseer: die Gees sou die dissipels "in

alles onderrig en aan alles herinner" wat hulle by Jesus geleer het. Dis 'n belofte wat noodwendig net op die apostels van toepassing kon wees — hulle wat oog- en oorgetuies van die Here se lewe, lering en werk was. Mens kan tog nie herinner word aan iets wat jy nie geweet of beleef het nie.

            Maar dit het oor meer as goeie geheues gegaan. Die unieke roeping van die apostels — om instrumente te wees vir die Nuwe Testamentiese openbaring — het meegebring dat hulle sekere werkinge van die Gees ervaar het wat gelowiges daarná nooit weer beskore was nie.

            Afgesien van die direkte openbaringe wat hulle ontvang het, moes hulle hierdie waarheid ook verkondig. Dit was 'n boodskap wat niemand vooraf bedink het nie, wat eintlik té goed was om te glo. Daarom het die Heilige Gees hulle bekragtig om bevestigende "tekens en wonders en kragtige dade" te doen — "dit wat 'n apostel kenmerk" (2Kor 12:12).

            Die apostels (en hulle onmiddellike medewerkerskring) se wonderwerke het ten doel gehad om die Goddelike gesag en betroubaarheid van hulle prediking en geskrifte te bekragtig. Dit was God se stempel van gesag op die Nuwe Testamentiese openbaring!

            Dit is insiggewend dat wonderwerke in die Bybel konsekwent gepaard gaan met God se gee van openbaring. In die Ou Testament was daar twee seisoene van wonderwerke.          Eerstens, tydens die uittog- en intoggebeure — wat ook 'n tyd van besondere openbaring was: die Wet en ander geskrifte deur Moses.

            Tweedens, in die tyd van Elia en Elisa — wat ook die aanvang was van die profetiese bediening, waardeur God Sy openbaring in die volgende eeue sou gee.

            Net so word die inspirasie van die Nuwe Testament deur allerlei bonatuurlike werkinge van God gekenmerk.

            Sekere aspekte van die Gees se werk was dus beperk tot die apostels en hulle tyd.

Daar is 'n sekere diskontinuïteit tussen die apostoliese en die na-apostoliese kerk.

 

Dit beteken dat ons uiters versigtig moet wees om op 'n simplistiese wyse daarop aan te dring dat alles wat die vroeë kerk ervaar het ook in ons lewens en gemeentes móét plaasvind. Trouens, dis gewoon 'n historiese feit dat die bonatuurlike werkinge van die Gees, waarvan ons in die Nuwe Testament lees, vroeg-vroeg in die kerkgeskiedenis begin opdroog het. En in die lig van bogenoemde hoef ons geensins verbaas daaroor te wees nie. Dis dinge wat eie was aan die apostoliese tydvak.

Dalk het die vadere meer verstaan as wat ons dink

Hier lê die diepste rede waarom die regsinnige kerk deur die eeue uiters versigtig was —

indien nie summier afwysend nie — oor sommige Christene se aansprake op wonderwerke en allerlei buite-Bybelse openbaring. En inderdaad het die weiering om die diskontinuïteite tussen die apostoliese en na-apostoliese tydvakke te erken tot baie Godonterende skade en verwarring in die kerkgeskiedenis gelei.

            Sonder twyfel het die boek Handelinge baie riglyne wat tot vandag toe normatief is vir die kerk van Christus. Maar om ongekwalifiseerd te sê dat Handelinge die bloudruk vir kerkwees is, is om die bal mis te slaan. Baie mense redeneer só: Aangesien Handelinge normatief is vir die kerk, is enigiets minder as dit sub-normaal. Die waarheid is egter dat Handelinge 'n abnormale en unieke tydvak van die kerk beskryf, en dat die normale verloop van sake aansienlik minder triomfantelik en dramaties is.

            Eintlik moet 'n deurlees van Handelinge mens reeds tot versigtigheid maan. Die verhaallyn vertoon onmiskenbaar 'n afnemende tendens. Dit begin met Pinkster en drieduisend bekerings; dit eindig met 'n apostel in huisarres. Dis soos 'n rivier wat in hoogvloed is, maar dan geleidelik afloop tot meer beskeie en normale vlakke.

            As mens na die res van die Nuwe Testament kyk, word hierdie waarheid nog sterker onderstreep. Openbaring 2-3 se sewe briewe vertoon feitlik niks van Handelinge se triomfe nie. Trouens, die gemeentes wat geen kritiek by die Here kry nie, maar net lof — Smirna en Filadelfia — is beide arm, swak en vervolg.

            Uiteindelik bevestig die sending- en kerkgeskiedenis bogenoemde vertolking van Skrifgegewens. Dis 'n geskiedenis wat in bloed geskrywe is. En baie dikwels was die ware kerk swak en op die rand van uitwissing. Sommige se verduideliking hiervoor, naamlik dat dit te wyte was aan die kerk se ongeloof, hou nie steek nie. Van die geskiedenis se grootste geloofsreuse het ook die meeste gely in hulle navolging van Jesus.

            Die groot verskil tussen die apostoliese en die na-apostoliese kerk het dus ten diepste te doen met gesag en norm. Die kerk van alle eeue is gebou op "die fondament van die apostels en die profete" (Ef 2:20). Maar in die eerste eeu voordat die Nuwe Testament op skrif was, het alles gerus op hulle persoonlik.

            Sederdien rus dit op hulle geskrifte — die gesagvolle, betroubare, genoegsame en universeel-geldende Nuwe Testament.

'n Dieper fondasie

Ons praat oor die afgeslotenheid en genoegsaamheid van die Skrif — oor die feit dat God se besondere openbaring aan die mens tot finale sluiting en afronding gekom het. Wat ons tot nou toe gesien het, wys onmiskenbaar in daardie rigting. Maar die vraag ontstaan tog of daar nie 'n meer diepliggende beginsel is waarop mens hierdie uiters belangrike leerstuk kan staanmaak nie. Inderdaad! Ons hoef nie by 'n paar bewystekste, uiters belangrik en kosbaar soos hulle is, vas te steek nie.

Die fundamentele beginsel waarop die waarheid van die genoegsaamheid van die Skrif rus, is die feit dat God se openbaring aan die mens

in die menswording van Sy Seun tot afrondende klimaks gekom het.

Die geskrifte van die Nuwe Testament

is beskrywing, oopvouing en vertolking

van die koms van die tweede persoon van die Goddelike Drie-eenheid

na hierdie wêreld toe

as God se groot Profeet, Priester en Koning.

Reeds die Ou Testament is verwagtende vooruitskouing op hierdie ontsaglike gebeurtenis.

God het dus nie nét deur tussengangers met ons gepraat nie;

Hy het self gekom!

Aangrypend stel Johannes dit só in sy eerste brief: "Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees" (1:1-4; NAV).

            Ons is gewoond daaraan om in die eerste instansie aan die apostels te dink as die eerste sendelinge. En inderdaad beteken die woord apostel uitgestuurde.

            Maar hulle heel eerste roeping was nie om mense na die Here toe te lei en om die kerk te vestig nie, belangrik soos dit was. Nog meer fundamenteel was hulle roeping om oraloor getuies te wees van die feit dat God as een van ons tussen ons kom woon het, en wat die implikasies daarvan is. Dís ten diepste waarom hulle die besondere gawe ontvang het om wonderwerke te doen. Dit moes dien as bevestiging dat hulle getuienis betroubaar was. En sodat komende geslagte na hulle heengaan kon weet van hierdie getuienis, het sommige van hulle onder leiding van die Heilige Gees die essensie en implikasies daarvan op skrif gestel.

            Hiérdie roeping van die apostels is veral waaroor dit gaan in die bovertrek-beloftes oor die Heilige Gees. Afgesien van die verse waarna ons reeds gekyk het, is daar ook Joh 15:26-27: "Wanneer die Parakleet kom wat Ek van die Vader af vir julle sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig, omdat julle van die begin af by My is."

            In die eerste instansie sou die Gees hulle dus kom toerus om getuies te wees van wat hulle beleef en gehoor het en wat die betekenis daarvan is vir die kerk van alle eeue. Ja, die Heilige Gees het hulle ook kom toerus om die groot sendingopdrag uit te voer. Maar hierdie twee dinge moet ons nie teenoor mekaar stel nie; inteendeel. Wat het die apostels per slot van rekening in hulle sendingwerk gepreek? Hulle het Christus gepreek! Eintlik moet ons vra, Wíé het die apostels gepreek?

(((*

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

W: www.imagodei.co.za

[1]           Vergelyk ook Matt 13:1-23 en Mark 4:1-25.

[2]           Die vers begin in die oorspronklike taal met "want",'n redegewende voegwoord.

[3]           Dit is presies wat Paulus later in 1Kor 2:6-16 sê: Sonder die werk van die Heilige Gees bly 'n mens geestelik blind.

[4]             Vergelyk o.a. Rom 16:25-26; 1Kor 2:6-11; Ef 3:2-6; Kol 1:24-27; 1Tim 3:16; Op 10:7.

[5]           Die soortgelyke uitspraak in Mt 18:18 is in die meervoud.

[6]           William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew, The Banner of Truth Trust, 1973, p.651.

[7]           Die Amplified Bible laat volgens hierdie verklaring reg geskied aan die Griekse werkwoorde: "I will give you the keys of the kingdom of heaven, and whatever you bind ‒ that is, declare to be improper and unlawful ‒ on earth must be already bound in heaven; and whatever you loose on earth ‒ declare lawful ‒ must be what is already loosed in heaven."

[8]           Joh 1:42