PDF WEERGAWE

Nie sommer enige geloof nie

#          Die Skrif is duidelik: God se vryspraak en regverdigverklaring word alleen deur geloof 'n werklikheid in iemand se lewe. Maar dit geld nie van enige geloof nie. Daar is baie soorte geloof; trouens, daar is geen mens wat nie glo nie. Menslike lewe is ondenkbaar daarsonder. As ek geld in 'n bank deponeer, gló ek - dat ek dit weer kan terugkry.

            Saligmakende geloof is iets baie spesifiek!  Dis lewensnoodsaaklik om nie hier mis te trap nie. En omdat dit skrikwekkend maklik is om jou lewe lank in die waan te leef dat jy die ware jakob het, terwyl jy dit totaal mis, waarsku die Bybel keer op keer dringend teen vals geloof, teen tevergeefse geloof. 

            Dit is selfs moontlik om 'n baie regsinnige, ortodokse, geloof te hê - maar tevergeefs (Jak 2:14vv).

#          In die Bergpredikasie (Matt 7:21-23) sê die Here Jesus daar is mense wat Hom as Here bely, maar wat nogtans verlore sal gaan. Dit is selfs moontlik dat hulle in Sy Naam profeteer, duiwels uitdryf en wonderwerke doen. Hy beskryf hulle as aktiewe werkers in Sy Naam (3x). Hulle is egter nie gered nie! Daarom is hulle stomgeslaan as hulle uiteindelik Sy verwerpingswoord hoor. En, let op, daar is nie net 'n paar nie, maar baie sulkes.     Jesus noem hulle werkers van ongeregtigheid (lett.), dus sondaars. Hulle sonde is nooit vergewe nie, hulle is nooit deur die geloof geregverdig nie.

            Hulle het dus nooit saligmakende geloof gehad nie!

#          Ook in die gelykenisse waarsku die Here weer en weer teen selfbedrog wat hierdie saak betref - teen die natuurlike neiging van die mens om homself wys te maak dat hy nie 'n probleem het nie:

            +          Voor die storm van God se oordeel lyk geestelike huise dikwels presies dieselfde (Matt 7:24-27).

            +          Koring en onkruid lyk soms so eenders dat die verskil eers te laat gesien word (Matt 13:24-30).

            +          Tien meisies ontvang 'n uitnodiging na 'n bruilofsmaal; al tien neem dit aan, al tien wag vir die Bruidegom - net vyf word ingelaat (Matt 25:1-13).

            +          Twee mense se geloof lyk presies dieselfde. Eers na verloop van tyd (dit kan jare wees) blyk dit dat die een s'n 'n namaaksel was as dit sonder wortel onder vervolging swig of deur die verleidinge van hierdie wêreld verswelg word (Mark 4:3-9; 14-20).

#          Ware en vals geloof lyk verraderlik eenders. Dit is, trouens, skokkend om in die Skrif te sien tot watter mate die Heilige Gees in en deur mense kan werk - alles duskant Sy wederbarende werk.

            +          Ware geloof verlustig hom in Christus alleen; vals geloof is dikwels koorsagtig opgewonde oor Hom (Joh 2:23-25).

            +          Ware geloof word gewerk deur die Gees; vals geloof kan gepaard gaan met uitsonderlike innerlike en verligtende werkinge van die Gees (Heb 6:4-6). [1]

            +          Ware geloof breek los uit die greep van hierdie wêreld se besmettinge; vals geloof kan dit ook vir 'n tyd lank doen (2Pet 2:20-22).

Ware geloof is 'n gawe van God

#          Wat presies is ware, saligmakende geloof dan? Die Bybel leer twee oënskynlik onverenigbare waarhede.

            Enersyds moet 'n sondaar in Christus glo as hy gered wil word. Dit is sy verantwoordelikheid en as hy in gebreke bly, is dit die dieptepunt van sy sonde voor God. 

            Andersyds kan geen sondaar in Christus glo nie, omdat hy nie werklik sy nood voor God begryp nie en omdat hy blind is vir die wonder van Christus se middelaarswerk.

#          God self bewerkstellig die oplossing - deur die genade van die wedergeboorte.     Wedergeboorte is nie geloof nie. Die Heilige Gees wederbaar; die mens glo. Maar wedergeboorte maak geloof moontlik; trouens, dit maak geloof 'n noodwendigheid.

            Die wedergeboorte is onskeibaar van sy effekte, en geloof is een hiervan. So maak  die Gees dus bekwaam om te glo en in hierdie sin is geloof 'n gawe van God (Ef 2:8; Fil 1:29; 2Pet 1:1).

#          Die eerste en diepste verskil tussen ware en vals geloof is dus 'n verskil van oorsprong en nie van manifestasie nie.

            Ons het reeds gesien hoe die manifestasie van die egte en die namaaksel kan ooreenstem. Wie dus by die belewinge en uitdrukkings van geloof begin in sy soeke na die onderskeid, is tot 'n eindelose haarklowery gedoem.

            Nee, vals geloof is uit die mens; ware geloof is uit God. En die verskil tussen die twee is 'n wesensverskil, nie 'n graadverskil nie.

#            Nou is die groot vraag: As God dan die skenker van geloof is, wat presies skenk Hy?

Die elemente van reddende geloof

#          'n Illustrasie kan dalk help: Jy beland vir die eerste maal in jou lewe op 'n groot internasionale lughawe in 'n vreemde land. Groot passasiersvliegtuie styg elke paar minute op na talle bestemmings regoor die wêreld. Jy moet halfpad om die aarde - New York toe. Heel eerste moet jy vasstel hoe laat jou vlug vertrek en deur watter een van die dosyne hekke jy aan boord moet stap. Jy benodig dus kennis. Maar, soos dit maar met sterflinge in so 'n situasie gebeur, pak 'n verskriklike vertwyfeling jou beet nadat jy die massas inligting op die groot elektroniese bord ontrafel het. Vertolk ek al die vreemde syfers en afkortings reg? Sê nou ek stap deur die verkeerde hek en beland in Tokio? En selfs al kom ek my fout agter, sal ek nog betyds wees vir die regte vlug? Soos 'n gewone mens kan jy op hierdie stadium nie die versoeking weerstaan om iemand te vra wat lyk of hy weet wat aangaan nie. Jy soek dus versekering, oftewel oortuiging. Hy verseker jou jy is op die regte pad. Nou bly net een ding oor: Om aan boord te gaan - om jou as't ware aan die loods en sy vliegtuig oor te gee, jou aan hulle toe te vertrou.

            +          Let op dat jy nóóit aan boord sal gaan en jou aan die loods en vliegtuig toevertrou, as jy nie oortuig is dis die regte vliegtuig nie. Maar nóg meer: Sonder die nodige inligting, die kennis, kan daar geen sprake van enige oortuiging wees nie.

            #          Ware geloof het dus drie noodsaaklike elemente: kennis, oortuiging en vertroue. Só lankal word dit begryp, dat daar spesiale Latynse benaminge hiervoor is: Notitia, Assensus en Fiducia.

Geloof is kennis

#          Kennis is nie geloof nie, maar daarsonder kan daar nie geloof wees nie. Geloof het inhoud!  En hoe kan die geloof ég wees, as die inhoud vals is? Ware geloof het ware waarheid as inhoud. 

            Hoe sal jy op die regte vliegtuig klim as jy nie die nodige inligting het en verstaan nie?  Dis waarom Paulus skryf: "En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?  ... Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus" (Rom 10:14,17). 

#          As die vraag gevra word hoeveel kennis nodig is, gee die Bybel nie 'n duidelike  antwoord nie. Hoeveel kennis het die misdadiger aan die kruis gehad? Miskien kan dit só gestel word:

            Daar moet genoeg waarheidskennis wees, hoe embrionaal ook al, om 'n persoon daartoe te bring om, met die oog op God se Regterstoel, homself algeheel aan die persoon en middelaarswerk van Jesus Christus toe te vertrou - sonder enige vertroue in eie verdienste.

#          So 'n kennis moet in beginsel ten minste drie elemente hê:

            +           Eerstens is dit nodig om iets te verstaan van wie God is. Dit gaan veral oor Sy heiligheid en geregtigheid wat mense aanspreeklik hou, hulle oordeel volgens Sý standaarde en alle mislukking en rebellie met die ewige dood straf (Hand 17:30-31).

            Hierdie kennis lei tot die volgende element.

            +          Tweedens moet ek weet dat ek 'n skrikwekkende probleem het, dat ek hoegenaamd nie Sy toets kan slaag nie. Ek moet my sonde en skuld ken.

            Waarom?  Daarsonder stel ek nie belang in God se oplossing vir my dilemma nie. Dis hiérdie kennis wat die evangelie werklik goeie nuus vir my maak. So lei dit tot die derde element - die kardinale een.

            +            Derdens moet ek 'n basiese kennis oor God se oplossing vir my probleem hê: Jesus Christus, wat as Middelaar my straf aan die kruis gedra het!

            Hoewel bg. waarskynlik genoeg kennis oor Christus is vir redding, is die evangelie beswaarlik genoegsaam verkondig voordat die volgende nie aandag gekry het nie:

                        =          Die evangelie gaan oor Sy Persoon - die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid wat mens geword het ten einde Middelaar tussen sondaars en God te wees (Joh 14:6; Hand 4:12; 1Tim 2:5; 1Joh 4:2).

                        =          Dit gaan oor Sy lewe van volmaakte geregtigheid - wat aan my toegereken (gekrediteer) word sodat ek aan God se volmaakte standaarde voldoen (Rom 1:16-17; 4:1-5:21).

                        =          Dit gaan oor Sy kruisiging - waar Hy, as strafdraende plaasvervanger my skuld voor God betaal het (Rom 3:25-26; 2Kor 5:21; Gal 3:13).

                        =          Dit gaan oor Sy opstanding - die Vader se proklamering dat Hy volmaak gehoorsaam gelewe het en Sy 'missie' suksesvol voltooi het (Hand 13:32-35; 17:31; Rom 1:4; 4:25; 1Kor 15:12-23). 

                        =          Dit gaan oor Sy wederkoms - wanneer Hy my verlossing finaal sal

afrond en my laaste vyand, die dood, sal vernietig (1Kor 15:24-26; 2Tim 1:10; Op 20:14)  deur my verstorwe liggaam in ewige heerlikheid op te wek (Rom 8:23-25; 1Kor 15:35-58;  1Thess 4:13-18).

Dis waarom die apostels niks anders as "Christus" gepreek het nie. (1Kor 1:17 - 2:5. Let veral op 1:17-18, 23-24, 30-31, 2:2).

Geloof is oortuiging 

#          Dit is moontlik om baie oor 'n onderwerp te weet, sonder om oortuig te wees dat jou kennis die waarheid is. Neem byvoorbeeld 'n sendeling se grondige kennis van die heidense  geloof waar hy werk.

            Ware geloof behels dus méér as feitekennis. Oortuiging is nodig - en wel van twee dinge: Een, dat wat ek weet wáár is. Twee, dat dit ook op mý van toepassing is.

#          Die oorgang van kennis na vertroue is die werk van die Heilige Gees. Wat die Here Jesus in Joh 16:8-11 oor Sy oortuigingswerk sê, is uiters betekenisvol:

            Let wel dat Hy presies oortuig van daardie waarhede wat hierbo as noodsaaklike kennis bestempel is.

            +          Die betrokke werkwoord dui op meer as blote beskuldiging; Hy oortuig die bepaalde persoon van harte, sodat hy in sy binneste weet dis wáár.

            +          Hy oortuig van sonde - omdat die persoon nie in Jesus Christus glo nie (v.9). Dit bring dus die wete van persoonlik geestelike bankrotskap, van God se volmaakte oplossing daarvoor in die Gekruisigde, en van skuld aan die ergste van sondes, nl. verwerping van God se genade-aanbod in Hom.

            +          Hy oortuig van geregtigheid - omdat Jesus na die Vader teruggekeer het (v.10). Dit verwys na die opstanding en hemelvaart (14:12, 28; 16:28), en die Vader se gepaardgaande proklamering dat Jesus aan alle eise van geregtigheid voldoen het. Dit gaan hier dus om die wete dat my eie geregtigheid nooit God se toets kan slaag nie en dat my enigste hoop lê in die geregtigheid wat God voorsien - dié van Christus wat aan my toegereken (gekrediteer) word.

            +          Hy oortuig van oordeel - omdat die Duiwel geoordeel is (v.11 en 12:31-33). Satan is gevonnis en wag as 't ware in die dodesel vir die poel van vuur en swael (Op 20:10). Dit gaan hier om die wete dat, as die owerste van die sondaars die oordeel nie kan ontkom nie, geen sondaar dit kan regkry nie - allermins ék wat skuldig is aan die ergste van sondes.

#          Dis hierdie oortuigingswerk van die Gees wat van blote kennis, ervaringskennis, hartskennis maak - kennis wat in die soeke na sin en redding en sekerheid deur die hart gebrand het en sedertdien kosbaarder as goud geag word.

Geloof is vertroue

# Sonder vertroue is daar geen sprake van saligmakende geloof nie. Dis die sluitstuk daarvan.

            Vertroue en geloofsekerheid moet nie verwar word nie. Hoewel lg. gepaard behoort te gaan met ware geloof, ervaar sommige Christene tog korter of langer tye van vertwyfeling. Hoewel dit 'n pastorale ongesteldheid is, is dit ook so dat die krag van geloof juis in swakheid en afhanklikheid lê.

            Trouens, geloof wat nooit twyfel nie, is onder verdenking. Seisoene van twyfel berei God se kinders voor vir 'n nog dieper waardering en dankbaarheid vir genade in Christus - wanneer die sonskyn van die Gees se versekerende werk uiteindelik weer deurbreek.

#          Vals geloof kan kennis hê. Selfs demone het dit (Jak 2:19). Dit kan selfs 'n sekere oortuiging hê (Saul, 1Sam 15:24; Judas Iskariot, Matt 27:3-4; Feliks, Hand 24:25). Maar Geesgewerkte oortuiging gaan altyd oor in vertroue; dit gaan aan boord en bly nie by die hekke staan nie!

#          Jesus sê in Matt 5:3 dat "armoede van gees", oftewel geestelike bedelaarskap (Gr. lett.) die drumpel-vereiste vir toetrede tot die Koninkryk van die hemele is. Dis wanneer iemand geestelik bankrot is voor die lewende God en weet dat sy patetiese pogings om genoeg verdienste bymekaar te skraap ten einde God se geregtigheidseise te slaag, nie net tevergeefs is nie, maar ook voorbarig.

            Geloofsvertroue is om vanuit so 'n geestelike bankrotskap Jesus Christus volgens die Evangelie aan te neem (Joh 1:12-13), om die Evangelie-aanbod vir jouself, persoonlik, toe te eien; en om jouself aan Hom toe te vertrou om jou saak by God reg te stel.

#          In sy Evangelie gebruik Johannes konsekwent 'n unieke Griekse konstruksie om hierdie innige geloofsvertroue te beklemtoon. Letterlik vertaal, is dit om in Christus in te glo (Eng. to believe into Christ).

            Dis as 't ware 'n handeling wat die sondaar uit homself en Adam uithaal - en in Christus inplant.

#          Saligmakende geloof is soos die drenkeling se vasgryp van 'n lewensboei, die rotsklimmer wat met sy hele gewig aan 'n enkele staalpen hang, die "kyk na die koperslang" (Num 21:4-9; Joh 3:1-15).

Ware geloof is "algehele afhanklike vertroue in Christus in en 'n volgehoue lewenslange skuiling in Hom

#          Het iemand dit ooit mooier as Toplady (1740-1778) gestel?

Nothing in my hand I bring; simply to Thy cross I cling;

naked, come to Thee for dress;

helpless, look to Thee for grace; foul, I to the fountain fly;

wash me, Saviour, or I die!'

#          Hoe kan só 'n geloof, 'n geloof wat waarlik toe-eien en toevertrou, anders as om dan ook lewenslank toe te wy?  Voorwaar is dit 'n drogteologie wat leer dat mense Jesus Christus reddend as Saligmaker kan aanneem, sonder om Hom daarna as Koning te dien.

#          Het jy ware geloof?  Is jou oë voortdurend vasgenael op Jesus Christus, die Begin en Voleinder van jou geloof (Heb 12:2)? Vul Hý jou hele blikveld?  Kyk jy elke dag, weer en weer - sonder om uitgekyk te raak? Is Hý jou enigste troos in lewe en in sterwe? Sal Sý Naam op jou lippe wees as jy sterf?

            "My geloof is so pateties, so weifelend", sê jy.

            Daar is 'n wêreld se verskil tussen swak geloof en vals geloof. Die Here beloof Hy sal die "geknakte riet" nie breek nie, die "rokende lamppit" nie uitblus nie (Matt 12:20).              Sy beloftes word nie aan sterk geloof gegee nie, maar aan égte geloof. Al wat swak geloof hoef te doen, is om te kýk.

            Nie die geloof nie, maar die Verlosser moet sterk wees - en dit is Hy gewis! O, wonder van wonders, die krag van ware geloof lê juis in sy swakheid, sy afhanklikheid, sy bankrotskap (2Kor 12:9-10)!

Dis die Evangelie: 'Kyk, kyk en bly kyk - en word gered.

><(((+>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

W: www.imagodei.co.za 

[1] Hierdie mense was op geen stadium regtig gered nie. Hulle harte is immers nooit verander nie en is ten spyte van die reën van God se seën steeds so hard en wild soos die grond in v.8. Daarom sê die skrywer vir sy lesers, van wie hy aanvaar dat hulle wél gered is, dat hy oor hulle "van beter dinge oortuig (is), dinge wat saamhang met die saligheid ..." (v.9, OAV).