Preekopnames:
R045.01 God se Algemene Genade - 01 https://youtu.be/GQwK8u3sy3s
R045.02 God se Algemene Genade - 02 https://youtu.be/_HChhFvRXoE
Niemand kan deur die bril van God se standaarde na homself kyk, na die wêreld rondom hom, na die verloop van die geskiedenis, sonder om diep onder die indruk te kom van die universele en verderflike feit van sonde nie.
Die gelowige behoort natuurlik nie verbaas te wees nie, want dis presies wat die Bybel leer. Kyk maar na gedeeltes soos Rom 3:9-20 en Ef 2:1-3. Trouens, die Woord bevat soveel openbaring hieroor, dat die erfsonde en die radikale verdorwenheid van die mens deel is van die mees basiese leerstukke van die Christelike geloof. Dit is dan ook waarhede waarsonder die Bybel nie verstaan kan word nie.
Dit lei egter tot allerlei vrae in die gemoedere van denkende Christene. Dikwels sukkel gelowiges om die kloutjie by die oor te kry. Hoe is dit dat mense wat in hierdie wêreld in swetsende rebellie teen God leef, steeds deur Hom geduld word? Hoe is dit dat diegene wat onder Sy toorn verkeer en na die ewige verdoemenis onderweg is, nog soveel goeie gawes uit Sy hand ontvang? Hoe is dit dat miljoene wat nie deur die Gees vernuwe is nie, soveel wonderlike gawes en kwaliteite kan hê? Wat van die mens se prestasies in wetenskap, tegnologie en kuns? Wat van die adel en medemenslikheid wat tog ook oral onder ongelowiges voorkom?
Dus: Hoe geniet 'n sondeverrotte en helgedoemde mensheid soveel guns en goedheid uit die hand van 'n heilige en regverdige Skepper?
Die oplossing
Die antwoord op bogenoemde vrae lê grootliks in die feit van God se algemene genade — te onderskei van sy besondere of reddende genade.
Die Bybel openbaar dat God se Gees óók in en vir ongelowiges en nie-uitverkorenes werk. Dis weliswaar nie 'n reddende werk nie — nie wederbarend of heiligmakend nie — maar hierdie algemene genade is nogtans 'n genadewerk van die Here, want eintlik verdien almal onmiddellik die teendeel. En dit geld algemeen, want álle mense het op een of ander wyse daaraan deel, hoewel tot 'n mindere of meerdere mate.
God se algemene genade
is Sy liefde, barmhartigheid, goedheid en geduld teenoor die gevalle skepping,
in die besonder die mensheid,
soos dit tot uitdrukking kom in Sy bewaring van en voorsiening aan almal.
Omdat dit grootliks in die Bybel om God se reddingsplan in Christus gaan — Sy besondere genade — is gelowiges geneig om van Sy algemene genade te vergeet. Maar dis 'n uiters belangrike Skrifwaarheid. Dit help ons om God beter te ken, om die wêreld om ons beter te verstaan, om ons plek daarin te vind, en om op 'n gesonde wyse daarmee om te gaan.
Mag onderstaande perspektiewe die leser help om met groter gemak die balanse van 'n godvrugtige lewe in hierdie wêreld te handhaaf. Per slot van rekening worstel ons almal met die reeds-nog-nie spanninge van ons verlossing. "Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie", is makliker om te sê as om uit te leef.
Uitdrukkings van God se algemene genade
Die Woord gee duidelike aanduidings dat algemene genade twee kante het: die negatiewe kant wat tot uitdrukking kom in weerhouding, bedwang en tempering, en die positiewe kant van versorging en voorsiening.
Die negatiewe kant van God se algemene genade.
1. God weerhou die mens se verdorwenheid om tot ekstreme verrotting te ontaard.
Die gevalle skepping, in die besonder die gevalle mens, dra die kiem van selfvernietiging. Sonde is destruktief van aard. Maar die Here hou die leisels stewig vas, sodat dinge nie totaal die loop neem nie.
Hierdie aspek van God se algemene genade moet duidelik onderskei word van sy heiligmakende werk in Sy kinders — wat op die terrein van Sy besondere genade lê. Nee, algemene genade wil bloot die wêreld leefbaar hou. Dit beteken nie dat mense goed gemaak word nie, bloot dat hulle weerhou word om in die volle potensiaal van hulle boosheid in te tuimel.
+ Rom 1:18-32 is baie insiggewend in hierdie verband. Drie maal word gemeld dat God mense wat hulle teen Sy algemene openbaring in hulle gewetens bly verhard (v.19-23), oorgee — aan liggaamlike onreinheid, aan oneerbare drange, aan verwerplike denkwyses (v.24, 26, 28).
Hoewel die aksent hier nie op genade lê nie, maar op oordeel, sinspeel die verse tog onmiskenbaar op God se kontrole oor die morele vlak van 'n samelewing. As dit nie vir die Here se goedheid en geduld was nie, sou niks ons daarvan weerhou het om nét so erg soos die gevalle engele, die demone, te word nie. Hierbenewens is die verse duidelik dat God se beheer ook wisselend van aard is. Dis waarom die morele peil so van mens tot mens, van samelewing tot samelewing en van tydvak tot tydvak kan wissel.
+ Ps 81:12-13 praat van dieselfde ding: "Maar my volk het nie na My geluister nie, Israel wou My nie gehoorsaam nie. Ek het hulle aan die verstoktheid van hulle harte oorgelaat; hulle het hulle eie raad gevolg.
+ Wonderlik geseënd is hulle wat in 'n tyd leef as God die leisels stewiger vasvat en intrek. Wanneer Hy dit egter laat skiet, is dit een van die verskriklikste dinge wat met 'n individu of samelewing of kultuur kan gebeur.
2Tessalonisense 2 beskryf so 'n afval — waarskynlik die ergste van alle tye — onmiddellik voor die wederkoms van die Here Jesus Christus. "Laat niemand julle op enige manier op 'n dwaalspoor bring nie; want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie" (v.3). "Want die wetteloosheid is reeds in die geheim aan die werk, maar net totdat hy wat hom nog terughou, uit die weg geruim is." (v.7). "Deur die werking van die Satan sal die koms van die wettelose mens gepaard gaan met volle magsvertoon, met bedrieglike tekens en wonders, en met elke vorm van goddelose misleiding vir hulle wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het om verlos te kan word nie. En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word." (v.9-12).
2. God verhoed die vernietigende kragte in die fisiese kosmos om heeltemal hande uit te ruk.
Die mens is ergste deur die sondeval getref, maar die breëre skepping is nie onaangeraak nie, inteendeel (Gen 3:17-18).
Rom 8:19-22 bied 'n fassinerende perspektief hierop. Te wyte aan die sondeval is die skepping nie net aan " 'n sinlose bestaan" onderworpe nie, maar ook aan " 'n verslawing aan die verganklikheid". Die "ganse skepping" word hier gepersonifiseer. Daarom "sug" dit en verkeer in "geboortepyne".
Hierdie uitdrukkings sinspeel op 'n frustrasie van die skepping, omdat dit nie sy oorspronklike en eintlike doel kan bereik nie. Dis onontkombaar onderworpe aan die beginsel van ontbinding.
+ Vanweë die sondeval is daar 'n onnatuurlike disharmonie tussen mens en dier. Hoewel nie meer so aktueel in vandag se makgemaakte wêreld nie, bied Gen 9 'n baie interessante perspektief op hierdie saak. Na die sondvloed sou mense steeds deur wilde diere bedreig word (v.5), maar God sou dit beperk deur 'n mensevrees in hulle te plaas (v.2).
+ Vir elke siekte-epidemie, elke tierende sikloon, elke verwoestende aardbewing, elke uitbarstende vulkaan, trek ons Skepper in Sy goedheid 'n grens: Tot hier toe en nie verder nie!
+ Dat God voortdurend die sterwensbeginsel in die menslike liggaam temper, word duidelik in Gen 6:3 gesuggereer: "Die Here het toe gesê: 'My Gees sal nie vir altyd in die mens bly nie, omdat hy ook vlees is. Sy lewensdae sal honderd-en-twintig jaar wees' ".
3. God onthou Homself daarvan om Sy volle en finale Goddelike toorn oor die gevalle skepping uit te giet — totdat Sy verlossingsplan afgehandel is.
Ons leef in genadetyd. Die bedeling tussen die eerste koms en die wederkoms is oestyd. Uit elke nasie word mense gered. Maar, en ons vergeet dit té maklik, die dag sal aanbreek dat die uitnodiging tot die groot maaltyd nie meer staan nie. Dit sal die verskriklike dag van God se groot oordeel wees (2Pet 3).
+ Talle Skrifuitsprake herinner ons aan hierdie faset van God se algemene genade. Vgl. ondermeer: "God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om hulle te bekeer ..." (Hand 17:30). "Of verag jy die rykdom van sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie?" (Rom 2:4). "Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom" (2Pet 3:9).
Die positiewe kant van God se algemene genade.
1. God versorg Sy hele skepping — in die besonder alle mense.
Aangrypend mooi is Ps 65:10-14 (NAV): "U sorg vir die land en gee oorvloed, U maak dit baie vrugbaar. Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan. Alles is u werk! U maak die ploegvore vol water en die kluite nat, U laat hulle sag word van die reëns, U laat alles welig groei. U kroon die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed! Daar is volop weiding in die woestyn; die bulte juig, die velde wemel van die kleinvee, die vlaktes staan vol koring; hulle juig en hulle sing" (Vgl. ook Ps 104).
Matt 5:44-45 roep ons op om selfs ons vyande lief te hê, want ons Hemelse Vader laat "... immers sy son opkom oor slegte en goeie mense en Hy laat dit reën oor wetsgehoorsames en wetsverbrekers."
Ook Hand 14:16-17 is glashelder: "Al die heidennasies het Hy in vorige geslagte toegelaat om op hulle eie paaie te gaan, maar tog het Hy geen onduidelike getuienis van Homself gegee nie, deur goeie dinge te doen: Hy het uit die hemel aan julle reën en vrugbare seisoene gegee en julle liggame met kos en julle harte met vreugde gevul."
+ Sommige sal nou vra hoe rampe, met al die gepaardgaande ellendes, in die lig van bostaande, dan vertolk moet word?
Wat ons moet begryp, is dat God se algemene genade nie die gevallenheid van hierdie wêreld ophef nie. Wat dit wel doen, is om te sorg dat 'n bepaalde landstreek of samelewing nie heeltemal vernietig word nie, en ook nie hééltyd in ramptoestande verkeer nie — in elk geval nie vir onhoudbaar lank nie. En dis genade, want sou God se oordele nie ons verdiende loën gewees het nie?
Die eintlike vraag wat mens moet vra, is: Waarom het die ramp nie laas jaar óók gekom nie - en die voriges? En veral moet ons vra: Waarom het dit óns nie ook getref nie?
2. God gee 'n ryke verskeidenheid van voortreflikhede en vermoëns aan die mens, gelowig én ongelowig.
Gaan dwarsoor die aarde — en menslike voortreflikhede lê dik gesaai. Kyk na die kunste, die wetenskappe, die tegnologie — en verwonder jou dat die gevalle mens tot sulke dinge in staat is. Ja, daar is baie ellende, maar op hoeveel plekke heers daar nie ook wonderlike vryheid, medemenslikheid, integriteit, gesinsharmonie, adel en lojaliteit nie?
Agter alles is God se algemene genade!
+ Meermale sê die Bybel van mense wat nie deel het aan God se reddende genade nie — dat hulle goed doen (2Kon 10:29-31; Matt 5:46; Luk 6:32-34; Rom 2:14-15). Natuurlik beantwoord dit nie aan die absolute standaarde van God se Wet nie. Wat motivering, beginsel en doel betref, kan dit God nooit behaag nie. Maar in 'n relatiewe sin kan 'n ongelowige moreel uitnemend lewe en selfs kragtig deur die Here gebruik word in die uitwerk van Sy raadsplan.
Neem byvoorbeeld die tragiese geskiedenis van Saul.
En wat van die geheimenisvolle heidense koning, Kores — die Here se "gesalfde"? (Jes 45:1vv). Nie alleen het hy God behaag toe hy die ballinge bevry en ondersteun het nie; hy is spesifiek deur die Allerhoogste daarvoor opgerig en toegerus.
Jehu, koning van Israel, en Joas, koning van Juda, het allermins die Here met onverdeelde harte gedien. Tog word van beide gesê dat hulle goed gedoen het in die oë van die Here (2Kon 10:29-31; 12:2).
Beteken dit dat al hierdie mense gered is? Dis te betwyfel. Die Bybel gee geen sodanige aanduidings nie.
Die doel van God se algemene genade
❏ Sekerlik, altyd, is Sy verheerliking die finale doel van God se algemene genade.
Uiteindelik sal alle mense, ook hulle wat hier en nou Sy goedheid ignoreer, misbruik en verag, weet dat elke asemteug, elke krummel op hul tafels, elke oomblik van vrede en voorspoed — 'n gawe uit Sy hand was. Hulle sal toegee dat Hy oneindig meer vir hulle gegee het as wat hulle ooit toegekom het. Trouens, hulle sal erken dat hulle eintlik die teenoorgestelde verdien het van wat hulle hier op aarde gekry het. Hulle sal met gebuigde knieë (Rom 14:11) bely dat Hy 'n God van liefde, barmhartigheid, geduld en trou is.
❏ God se algemene genade het ook 'n meer onmiddellike doel. Terwyl niemand die opregtheid van Sy goedheid teenoor 'n gevalle wêreld moet bevraagteken nie, staan dit sekerlik ook in 'n baie besondere sin in diens van Sy verlossingsplan.
Hierdie wêreld, en die voortgang van die geskiedenis, is die verpakking waarbinne die evangelie verkondig en die oes ingebring word. Totdat die laaste uitverkorene gered is, sal hierdie wêreld in stand gehou word. Die oomblik as so 'n laaste begenadigde in Christus invlug, is die geskiedenis se dae getel! Per slot van rekening word die onkruid ter wille van die koring gespaar (Matt 13:24-30, 36-43). Vergelyk ook 1Tim 2:2 en konteks.
Enkele opmerkings
1. Sekerlik moet ons eerste beklemtoning God se besondere genade wees, maar té maklik vergeet evangeliese Christene van sy algemene genade.
Gee ons genoeg aandag aan die feit dat God óók onderweg is na 'n "nuwe hemel en 'n nuwe aarde" (Op 21:1)?
As ons geneig is om dit te vergeet — in elk geval nie genoegsaam verreken nie — vergeet die skepping self dit nooit nie! Onthou jy nog dat ons reeds kennis geneem het van Rom 8:19-22 — van die "ganse skepping" wat "sug" en in "geboortepyne" verkeer om weer sy oorspronklike en eintlike doel te bereik. Sonder twyfel dra dit 'n gewigtige ekologiese boodskap vir Bybelse Christene!
Natuurlik praat ons nie van die patologies panteïstiese beheptheid van soveel hedendaagse post-christelike ongelowiges nie. Maar waarom tog is ernstige Christene só dikwels geneig tot oorreaksies wat hulle keer op keer aan die anderkant van perde laat afval?
Sekerlik is daar óók soiets soos 'n gesonde en Bybelse begaandheid oor die natuur!
+ In die Ou Testament vind ons 'n baie betekenisvolle perspektief wat hierdie saak betref.
Die Here het sy verbondsvolk se kalender in veelvoude van sewe opgedeel. Nie net was daar 'n week van dae nie — reg van die begin af 'n skeppingsverordening (Gen 2:1-3). Daar was ook 'n week van jare. Elke sewende jaar was 'n sabbatsjaar — 'n jaar van rus vir mens en dier en land. Maar daar was méér; na sewe sabbatsjaar-siklusse, het God die vyftigste jaar as 'n jubeljaar verordineer — weereens 'n jaar van rus. Daar moes dus elke halfeeu twee opeenvolgende jare van rus vir mens en dier en land wees (Lev 25:1-4; 25:8vv; 26:34-35; 27:16-25; et al).
Sekerlik is Dan 9:24-27 se sewentig weke-profesie een van die mees fundamentele eskatologiese profesieë in die Woord van God — en dit word volledig beheers deur die genoemde sabbats- en jubelbeginsels (Jer 25:11-12; 29:10).
Maar, let op — en dis waarom ek hierna verwys — dit het nie net oor die mense gegaan het nie. Spesifiek is een van die redes dat ook die diere en die land moes rus — dus die natuur! (vgl. 2Kron 36:21).
2. God werk middellik, Hy gebruik instrumente.
In hierdie weerhouding van totale morele disintegrasie, is drie van Sy belangrikste stukke gereedskap die owerheid, die ouerhuis en kultureel-maatskaplike groepsdruk.
+ Ons moet nooit vergeet dat die owerheid 'n gawe van God se algemene genade is nie. Die Nuwe Testament stel dit in die allerduidelikste terme (Rom 13:1-7; 1Pet 2:13-14).
Ten spyte van elke regering se gebreke, bly dit eenvoudig 'n feit dat selfs 'n slegte regering amper altyd beter is as géén regering nie. Desondanks die gruwels van sovele regimes, is dit 'n feit dat enige samelewing spoedig tot barbarisme en anargie verval sonder 'n staatsmasjinerie.
+ Die rol van toegewyde ouerlike opvoeding en dissipline in die handhawing van orde en morele standaarde in 'n samelewing, kan beswaarlik oorskat word. Toe Dr. Spock die Spreukeboek (13:24; 22:15; 23:13-14; 29:15,17) in westerse huishoudings vervang het, het die beskawingsdoodsklok begin lui. Om 'n kind te "bederf", beteken presies wat die woord sê. Los hom, en sy aangebore verdorwenheid sal sorg dat hy, wat eintlik 'n olyfboom moes word (Ps 128:3), in 'n stuk wilde onkruid ontaard!
In hierdie verband speel die skool — en kerklike jeugbediening — uiteraard ook 'n uiters belangrike rol. Dit hef egter nooit die primêre verantwoordelikheid van ouers op nie; trouens, dis bloot verlengstukke van en hulpmiddels vir die ouerhuis.
+ "Wat sal die mense sê?", word vandag dikwels verag — en sekerlik kan dit versmorend raak. Maar enige denkende mens sal weet dat die samelewing se gemeenskaplike norme van reg en verkeerd 'n wonderlik behoudende rol speel. In God se algemene genade is hierdie stem van die volk normaalweg bewarend.
Hoe werk dit? Rom 2:14-16 dra die antwoord: "Want wanneer die heidene, wat nie oor die wet beskik nie, van nature tog die vereistes van die wet nakom, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle nie die wet nie. Hulle wys duidelik dat die uitvoering van die wet in hulle harte geskryf staan, en hulle gewetens bevestig dit; en hulle teenstrydige gedagtes sal hulle soms aankla, en soms verontskuldig, op die dag wanneer God die verborge dinge van die mens, volgens my evangelie, deur Christus Jesus sal oordeel" (2020).
= Waarom begin morele verval gewoonlik in stede? Ek meen die antwoord lê hier: Vanweë menslike opeenhoping kan ons natuurlike ingesteldheid op ons medemens eenvoudig nie bybly nie. Oorbelading van hierdie fakulteit lei tot die ineenstorting daarvan — met die gevolg dat ons mekaar nie meer ken en konsidereer nie. Vandaar die tipiese lewensingesteldheid: My buurman, met sy opinies oor mý sedes — of gebrek daaraan — kan gaan doppies blaas!
3. Dikwels vloei God se algemene genade deur Sy kinders na hierdie wêreld toe.
# As God vir Abraham roep om Vader van die verbondsvolk te wees, belowe Hy: "Ek sal jou 'n groot nasie maak; Ek sal jou seën en jou naam groot maak; sodat jy 'n seën sal wees. Ek sal hulle seën wat jou seën; maar wie jou verwens, sal Ek vervloek. En deur jou sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees." (Gen 12:2-3, OAV).
Natuurlik dui hierdie seën vir die nasies eerstens op God se verlossingsplan in Christus (Gal 3:8), maar dit sluit nie sy algemene genade uit nie. Gelowiges is op talle maniere instrumenteel in die vloei van die Here se goedheid na die wêreld toe.
+ Soms word die ongelowiges ter wille van die gelowiges geseën.
So kon Laban vir Jakob sê: "As jy my tog net goedgesind sal wees! Ek het uit voortekens te wete gekom dat die Here my geseën het om jou ontwil (Gen 30:27).
So ook is Potifar se huis ter wille van Josef geseën (Gen 39:5).
Was Paulus nie op die skip wat hom Rome toe geneem het nie, wonder mens hoeveel die skeepsramp sou oorleef het (Hand 27:24, 42-44).
+ As gelowiges hulle geloof uitleef, het hulle 'n veredelende invloed op hulle omgewing — hulle is "sout vir die aarde" en "lig vir die wêreld" (Matt 5:13-16). Uit die konteks is dit egter duidelik dat dit slegs gebeur indien hulle lewens lyk soos die saligsprekinge dit beskryf (5:3-12).
Is dit waarop Jesaja sinspeel wanneer hy sê dat Juda soos Sodom en Gemorra sou gewees het, as die Here nie 'n klein klompie ware gelowiges laat oorbly het nie (Jes 1:9)?
+ Gelowiges word ook geroep om aktief en doelbewus hulle Hemelse Vader se liefde en versorging aan 'n gevalle wêreld te bedien. Hoeveel maal roep Jesus nie Sy dissipels op tot barmhartigheid teenoor die armes — en selfs hulle vyande nie? (Matt 5:44-48; Luk 6:35-36).
+ Hier het ons belangrike Bybelse lig vir hoe Christene hulle beroepslewe moet beskou. In bykans enige beroep kan 'n gelowige homself as 'n bedienaar van die Here se algemene genade uitleef. Medici, onderwysers en maatskaplike werkers, byvoorbeeld, kan dit sekerlik maklik raaksien. Maar hoeveel Christenwerkgewers besef dat hulle gawes en ondernemingsgees meewerk in die versorging van werknemers en hulle gesinne? En hoeveel boere dink in hierdie terme oor hulle oeste?
# Een van die merkwaardigste illustrasies van hierdie waarheid is te sien in die ontwikkeling van die westerse beskawing sedert die sestiende eeuse reformasie.
Wie kan die omvangryke en opheffende effek van Calvyn en sy Institusie betwyfel? Wat sou Engeland sonder die Puriteine gewees het, en Amerika sonder die Pelgrimvaders?
Historici stem saam: sonder die evangeliese herlewing van die agtiende eeu sou Engeland die weg van die Franse Rewolusie gevolg het. In plaas daarvan was die kerk in die Britse Eilande vir bykans twee eeue daarna op die voorpunt van die sendingontploffing — en die gepaardgaande maatskaplike versorging en opheffingswerk — wat steeds vir die wêreld vandag 'n riglyn is en ten diepste raak.
# Die omgekeerde is helaas óók waar. Skaars begin die kerk verval — en morele ontbinding begin in die wêreld rondom hom intree. Sonder twyfel het ongeloofsteologie veel te doen, nie net met die deformasie van die kerk in Europa (en wyer) nie, maar ook met die huidige dekadensie van die westerse samelewing.
Presies dieselfde is ook so duidelik soos 'n paal bo water in Suid-Afrika. Wat sê ons huidige morele neusduik oor die regsinnigheid en getrouheid van die Suid-Afrikaanse kerk die afgelope jare? En is dit nie ironies nie, dis ten spyte van die "social gospel" wat in die plek van die suiwer leer gekom het (die enigste bestaansalternatief, en dus prediking, wat vir sulke ongeloofskerke oorbly).
4. Miskenning en misbruik van God se goeie gawes sal eendag die grond wees van 'n strenger oordeel oor diegene wat verlore gaan.
"Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word ..." (Luk 12:48). Dis nie moeilik om te verstaan waarom vertrapping van die Here se barmhartigheid Sy toorn opwek nie. Só word die guns wat bekering moes hupstoot (Rom 2:4) eendag die meedoënlose aanklaer en basis vir oordeel. Dis hoekom dit vir Sodom draagliker sal wees in die oordeelsdag as vir Kapernaum — wat bevoorreg was om Christus se heerlike werke van liefde, goedheid en krag te beleef (Matt 11:20-24; Luk 10:13-15).
5. Dis noodsaaklik om die verhouding tussen God se besondere of reddende genade en Sy algemene genade reg te verstaan.
Enige denkende en verantwoordelike Christen spartel voortdurend om hierdie dinge in gesonde balans te hou.
# Die onderskeid tussen hierdie twee aspekte van God se genade moet steeds kompromieloos gehandhaaf word. Die twee verskil heeltemal. Die aard is anders, die uitdrukking uiteenlopend, en die doel pole uit mekaar.
# Dis hoogs naïef en Bybelse onsin om te reken dat iemand gered is bloot omdat hy of sy 'n goeie mens is. Natuurlik word ware Christenskap ook aan sy moraliteit geken, maar dit beteken nie dat dit nét Christene is wat moreel uitnemend lewe nie.
Die Fariseërs het hoë sedelike standaarde gehandhaaf.
En wat van Cornelius vóór sy bekering? In Hand 10:2 lees ons: "Hy, en ook sy hele huis, was godsdienstig en godvresend, het baie liefdadigheid aan die volk bewys en gereeld tot God gebid." Tog, as Petrus later verslag doen, vertel hy hoe 'n engel vooraf vir Cornelius gesê het: "Stuur manne na Joppe en laat haal Simon, ook bekend as Petrus. Hy sal vir jou ’n boodskap meedeel waardeur jy verlos sal word — jy en jou hele huis." (Hand 11:13-14).
Niemand word op grond van sy of haar moraliteit gered nie!
Mense word slegs op grond van Christus se middelaarswerk gered.
En dit realiseer deur ware geloof alleen.
# Máár, let op, geloof het inhoud.
Cornelius moes Petrus se boodskap hoor — die evangelie — voordat hy gered is. (Vgl. Joh 17:17-20; Rom 10:13-17; 1Kor 1:21; 2Tess 2:13-14; 1Tim 4:16; Jak 1:18; 1Pet 1:23).
Ja, geloof sonder werke is dood (Jak 2:14-26),
maar werke sonder geloof (met "ware waarheid" as inhoud)
is tevergeefs wat ewige redding betref.
# Tog moet ons versigtig trap vir 'n vals teenstelling — asof God se reddende genade die goeie gawes van Sy algemene genade buite perke plaas. Per slot van rekening kom ook laasgenoemde van die Here self.
God se reddende genade in iemand se lewe werk heiligend in op die goeie gawes van Sy algemene genade. Want so 'n persoon leer gou-gou om hierdie gawes in te span in diens van die Here en heiligmaking en die uitdra van die evangelie.
Ware dissipelskap is nie wêreldmydend nie.
Dis wêreldreikend!
# Presies hier lê die sleutel tot die veredelende invloed van rasegte en gespierde Bybelse Christenskap. Want dit het 'n diep agting en waardering vir dit wat goed en edel en verhewe is in hierdie lewe. Dit weet mos vanwaar hierdie dinge kom.
Gespierde Bybelse Christenskap verlustig hom óók in die Skepper se vingerafdrukke;
op die wêreld van stof, en plant, en dier, en mens.
Dit omhels die Vader se eindelose mildadigheid in die alledaagse;
nie net Sy versorging nie, maar ook Sy traktering.
Dit verwonder hom oor die geskakeerdheid van menslike vaardigheid,
en harnas óók wetenskap, tegniek en kuns in diens van die Koning.
Om bykans elke nering hang dit 'n stralekrans.
Alles wat dit doen, doen dit van harte — soos vir die Here (Kol 3:23).
In Sy Naam skoffel, skaaf en skrop dit (Kol 3:17).
Om Hom te verheerlik, stel dit vas, steek dit af, stapel dit op, en stem dit in (1Kor 10:31).
Met oorgawe ontvang dit alles wat God geskape het as goed (Rom 14:14; 1Tim 4:4-5). Uit volle bors sing dit Ps 24:1: "Aan die Here behoort die aarde en die volheid daarvan, die wêreld en dié wat daarin woon ..."
+ Máár ware Christene is vreemdelinge en bywoners hier — op soek na 'n vaderland (Heb 11:10, 13-16; 1Pet 1:17; 2:11). Met geloofsoë sien hulle die pelgrimspad bestrooi met, ja, inderdaad goeie gawes van hulle Hemelse Vader. En hulle weet dis spatsels belofte — wat hulle weer en weer herinner aan die nuwe aarde waarheen hulle op pad is.
+ Ware Christenskap is veeleisend — baie! Om die koninkryk in te gaan, verg kragtige inspanning (Matt 11:12). En die pad loop deur baie verdrukking (Hand 14:22). Eintlik is dit oorlog, niks minder nie! (Ef 6:12).
# Wat God se algemene genade betref, beteken bogenoemde dat die Christen se smal pad aan weerskante gapende afgronde het.
+ Aan die een kant is hierdie oorlog só fel dat hy of sy nie kan bekostig om nog met verkeerde vyande óók te baklei nie. Te veel geestelike Don Quixotes veg teen God se goeie gawes — met die swaard van askese en die spies van onttrekking (Rom 14:17).
+ Aan die ander kant is dit eenvoudig 'n feit dat 'n mens sag en lui gemaak word deur 'n oormaat van die toelaatbare en die wellewende. Christenkrygers wéét dit. Hulle verstaan die ironie — dat selfs die Here se goeie gawes, uitsoekerig en gulsig misbruik, dodelik kan wees. Daarom kasty hulle hul liggame en ontsê hulleself allerlei dinge — ter wille van 'n onverwelklike oorwinnaarskroon (1Kor 9:24-27).
# Maar daar is 'n nóg groter rede waarom regte dissipels — die kruisdra-soort dus — nie so dikwels die goeie gawes van God se algemene genade geniet nie: Hulle kom eenvoudig nie daarby uit nie!
Só besig is hulle met die uitnemende, dat die goeie tweede viool moet speel. Hulle het altyd méér om te doen as wat hulle kan behartig. Soos Elisa se slaaf, is ook hulle oë oopgemaak om te sien waarvan andere nie eers weet nie. Óm hulle lewe dit van die Here se roeping en uitdagings.
Maar bo alles troon één hartstog vir hulle uit: Die koms van die koninkryk! En dís waarheen hulle tyd en middele en energie maar weer en weer grawiteer.
# Dis nie aldag vir hulle maklik nie. Tussen die goeie en die uitnemende weet hulle is daar nie 'n teenstelling nie. Máár die uitnemende verg alles!
Gevolglik moet die vriendelike uitnodigings van die goeie soos klokslag met dank van die hand gewys word.
Al behoort álles dus aan hulle (1Kor 3:22), bly die bykans verskeurende prioriteitspanning van 1Kor 7:29-31 'n belewingswerklikheid:
"Wat ek bedoel, broers, is dat die tyd kort geword het.
Wie 'n vrou het, moet van nou af so wees asof hulle nie 'n vrou het nie;
wie huil, asof hulle nie huil nie;
wie bly is, asof hulle nie bly is nie;
wie koop, asof hulle nie besit nie;
en wie betrokke is by dinge van die wêreld, asof hulle nie betrokke is nie
— want hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan."
# Dus, volwasse dissipels van die Here verstaan dat hulle vry is om hulle te verlustig in die goeie gawes van God se algemene genade. En wanneer hulle kans kry, geniet hulle dit — met dankbaarheid in hulle harte en lof op hulle lippe.
Máár
hulle harte, díé lê elders, hoër
— by die kennis van die Here,
by sy waarheidsevangelie,
by sy gemeente,
by die koms van sy koninkryk,
by sy verheerliking.
En by die kroon van die lewe!
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E: