VIDEO-OPNAMES: 1. https://youtu.be/IWJoCiTxbGA
2. https://youtu.be/fYp1TrvZAh0
3. https://youtu.be/DEENAlyiyY8
OORSIG
Daar is sprake van 3 groot verbonde in die Bybel.
# Eerstens is daar die Verlossingsverbond tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid — om tot hulle selfverheerliking saam te werk in die verlossing van sondaars (ook die Vredesraad of Pactum Salutis genoem).
# Tweedens is daar die Werkverbond tussen God en Adam, asook daarna tussen God en die Laaste Adam — sodat die mens deur gehoorsaamheid sy beloofde erfenis verwerf.
# Derdens is daar die Genadeverbond tussen God en die gevalle mens — dat elke sondaar wat hom bekeer en in algehele afhanklikheid sy geloofsvertroue in die verdienste van Christus alleen stel, deur God regverdig verklaar word. Dit gebeur sonder enige verdienste aan menslike kant; wél op grond van die verdienste van die mensgeworde Seun.
Die Genadeverbond het 2 fases: die Ou Verbond en die Nuwe Verbond.
# Die begrippe "verbond" en "testament" is in werklikheid alternatiewe vertalings van 'n enkele woord in sowel Hebreeus en Grieks. Mens kan dus, i.p.v. Ou en Nuwe Verbond, om 't ewe praat van Ou en Nuwe Testament.
# 'n Verbond kan in die algemeen soos volg gedefinieer word:
Dis 'n onderlinge en baie gewigtige ooreenkoms tussen twee partye,
wat hulle absoluut en gewoonlik permanent verbind
om sekere dinge vir mekaar te wees en te doen
met spesifieke beloftes, eise en verantwoordelikhede aan beide kante.
+ Die Skrif bevat talle beskrywings van sulke verbonde tussen mense (Gen 21:22-34; 31:44-55; Jos 9; 1Sam 18:3; 2Sam 3:6-21; 5:3; 1Kon 5).
# God het hierdie algemene begrip in die antieke wêreld geneem om Sy ewige en onverbreekbare raadsplan vanuit die ewige verlede tot in die ewige toekoms in, te omskryf en te reguleer. Dit loop soos 'n ruggraat dwarsdeur God se raadsplan.
Mens kan daaraan dink as die konstitusie van God se reddingsplan.
As jy eenmaal hierdie drie verbonde en hulle verband in plek het in jou verstaan van God se Woord, help dit grootliks om die Woord in sy verbande en ontwikkelingsgang te verstaan. Daarsonder bly alles tot 'n mindere of meerdere mate deurmekaar en verwarrend.
Dit word dan soos 'n legkaartdeksel waarsonder jy beswaarlik die prentjie gepak kry. Dan bly dit 'n gesukkel en dikwels net 'n klomp stukkies.
Daar is méér sulke "legkaartdeksels" oor God se raadsplan in die Bybel; almal ewe belangrik. Maar daar is baie Skrifkenners wat die Verbondsleer as dalk die mees fundamentele daarvan beskou.
# Hoewel die eerste twee van bogenoemde verbonde die hele verloop van die openbaringsgeskiedenis oorsigtelik beheers, word verreweg meer detail-aandag aan die genadeverbond gegee.
# Ons kyk agtereenvolgens na hierdie drie verbonde. Ek plaas dit in 'n enkele studiestuk ter wille van die geheelprentjie.
-o0o-
DIE VERLOSSINGSVERBOND
Hierdie verbond is gesluit tussen die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid. Dit gaan oor iets wat hulle ter wille van hulleself doen. En dis in die ewigheid voor die begin van die tyd vasgemaak.
Soos reeds gesê, tradisioneel word soms na hierdie verbond verwys as die "Vredesraad van God" (Lat. Pactum Salutis).
Die plan van die eeue
# God se Woord leer onmiskenbaar duidelik dat die verlossingsplan inbegrepe is in God se ewige raadsplan. Ons volstaan met twee verwysings.
+ Efesiërs 1:3-6 (OAV): "Geseënd is die God en Vader ... wat ons geseën het ... in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde".
+ En 2Timoteus 1:9 sê dat God op grond van Sy eie besluit van ewigheid af genade aan ons geskenk het in Christus Jesus — nie op grond van ons dade nie.
Die Seun se betrokkenheid in die verlossingsverbond
Skrifgetuienis
# Daar is onmiskenbare Skrifuitsprake oor 'n taak wat deur die Vader op die Seun gelê is vóór Sy menswording, sowel as oor beloftes wat aan Hom gemaak is.
+ In Joh 6 sê die Here Jesus dat Hy nie ter wille van Homself gekom het nie, maar om die Vader se wil te doen, naamlik om elkeen wat die Vader aan Hom toevertrou het uiteindelik op die laaste dag te laat opstaan (v.37-40).
+ In Sy hoëpriesterlike gebed verwys die Here oor en oor na Sy taak om die ewige lewe te gee aan die mense wat aan die Vader behoort het, en toe vir Hom gegee is (Joh 17:2, 6, 9, 24; ook Joh 5:30, 43; 10:26-30).
En in Joh 17:4, aan die einde van Sy lewe, vind ons die vergenoegde woorde: "Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U my gegee het om te doen."
+ In Rom 5:12-21 en 1Kor 15:22 word dit uitdruklik gestel dat Christus as verteenwoordigende Hoof optree van diegene wat gered word — en dis glasheldere verbondstaal.
+ In Ps 2:7-9, ook volgens die Nuwe Testament Messiaans, (Hand 13:33; Heb 1:5; 5:5), is daar 'n besluit (DAV: "vaste besluit"; NIV: "the decree"), partye (die Vader en die Seun), sowel as 'n belofte (die nasies as erfdeel en die eindes van die aarde as besitting).
+ In Ps 40:7-9, wat nogeens deur die Nuwe Testament as Messiaans verklaar word (Heb 10:5-10), is daar weer 'n formele besluit wat in 'n boekrol opgeteken is. Hiervolgens belowe die Seun om met Sy hele hart die wil van die Vader te doen — om Homself as vervanging en vervulling van al die Ou Testamentiese offers, waarin die Vader in elk geval geen behae het nie, te offer.
Ter wille waarvan doen Hy dit? Sodat óns eens en vir altyd vir God afgesonder kan word deurdat Hy werk maak van ons sondeskuld.
+ In die eerste Kneglied in Jes 42: 6, word gesê: "... Ek ... Jou bestem tot 'n verbond vir die volk, tot 'n lig vir die nasies." (DAV).
Die Kneg van die Here wys ongetwyfeld vooruit na Christus.
Duidelik gaan dit hier oor verbond.
Waar daar partye is wat ooreenkom om sekere dinge vir mekaar te wees en te doen,
waar beloftes van beloning gemaak word,
en waar voorwaardes geld vir die vervulling van die beloftes,
daar is 'n verbond.
Die Seun se verantwoordelikheid en rol
# Volgens die Nuwe Testament het Jesus Christus veral twee funksies in die uitwerk van hierdie verbond. En Hy doen dit met liefdevolle oorgawe, soos Ps 40:8-9 dit stel: "Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrewe is. Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe." (vgl. ook Heb 10:5-10).
+ Eerstens is Hy die borg: "Daarvolgens het Jesus ook borg van 'n beter verbond geword" (Heb 7:22; OAV; NAV; DAV).
'n Borg is iemand wat vooraf daarvoor instaan dat 'n ander se wetlike verantwoordelikhede nagekom sal word. In die verlossingsverbond het die Seun onderneem om vir die sonde van díé mense wat die Vader aan Hom toevertrou het, versoening te doen, en om die vereistes van God se wet namens hulle te vervul.
+ Tweedens word Hy die verbondshoof van die mense wat Hy verlos.
Soos wat Adam die hoof is van die oorspronklike mensheid en hy hulle verteenwoordig, so verteenwoordig Christus die nuwe mensheid. Hy tree namens hulle op. Daarom word Hy in 1Kor 15:45-47 genoem "die tweede mens" en "die laaste Adam".
# Ons kan dit só opsom:
As Borg en Hoof van diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het,
moes die Seun,
eerstens, hulle sondeskuld kom vereffen,
tweedens, kom doen wat húlle nie kon nie,
naamlik om namens hulle God se wet volmaak te onderhou
sodat hulle kan kwalifiseer vir die ewige saligheid.
# Dit het 'n paar dinge vereis:
+ Die Seun moes volkome mens word.
In terme van sy werkverbond as God se nuwe Adam, moes Hy as volkome mens die wet in die fynste besonderhede onderhou. Daarom was dit nodig dat Hy uit 'n vrou gebore word en Homself onderwerp aan al die beperkinge van menswees — uitgesonder sonde.
+ Die Seun moes Homself noodwendig onder die wet kom plaas (Matt 5:17-18; Fil 2:6-8).
In sy verbondstrou het die Seun volkome geslaag en nooit gesondig nie (Gal 4:4-5; Heb 2:10-11, 14-15; 4:15). As sodanig het Hy gekwalifiseer vir die verbondsloon — die nuwe skepping met die nuwe mensheid sentraal daarin.
+ Die Seun moet die vrug op sy werk in sy mense tot vergestalting bring.
Sy besitname van hierdie loon doen Hy deur die werk van die Heilige Gees. Só verheerlik Hy die Vader. Dit gebeur reeds in hierdie bedeling, maar kom tot kulminering in die hiernamaals (Joh 10:16; 17:19-22; Heb 2:10-13; 7:25).
Die Seun se loon
# Die Vader "bemaak" (NAV; DAV) aan Hom 'n koninkryk (Luk 22:29).
Die woord, "bemaak" (Gr. diatithemi), is betekenisvol. Dis naby verwant aan die woord vir verbond (Gr. diatheke), en beteken meermale om in 'n testament of verbond iets aan iemand te bemaak.
Wat is hierdie koninkryk? In die besonder die mense wat die Vader vir Hom gee as bruid, asook hulle erfenis (Joh 17:6, 9, 24).
# Wanneer alles uiteindelik aan die Seun onderwerp is — alle heerskappy, gesag, mag, al God se vyande, en uiteindelik die dood — sal Hy alle koningsheerskappy weer aan die Vader oorgee. Dan sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het en sal God alles in almal wees (1Kor 15:24-28).
Die Vader se rol in die uitwerk van die verlossingsverbond
# Volgens die verlossingsverbond het die Vader uiteraard ook 'n rol om te speel. Hy het immers sekere beloftes aan die Seun gemaak.
+ Hy het 'n liggaam vir die Seun berei — sodat Hy, die Seun, as volkome mens onder ons kon leef en namens ons kon sterf. (Luk 1:35; Heb 10:5).
+ Hy het die Seun toegerus met al die nodige gawes om Sy taak te volvoer.
+ Hy het die Seun verlos van die krag van die dood, en Hom sodoende in staat gestel om die mag van die Satan te verbreek en die Koninkryk van God te vestig (Ps 16:8-11; Jes 42:1-7; 49:8; Hand 2:25-28).
+ Hy het die Seun beloon vir Sy afgehandelde werk.
Wat is hierdie loon? Hy gee aan die Seun 'n bruid uit alle nasies, stamme, volke en tale — so talryk dat hulle nie getel kan word nie (Ps 22:28; Ps 72:17-19).
+ Hy gee aan Sy Seun alle krag en gesag om die ganse wêreld en Sy kerk te regeer (Ef 1:20-23; Fil 2:9-11).
+ Uiteindelik sal die Vader die Seun beklee met die heerlikheid wat Hy van ewigheid af gehad het (Joh 17:5).
Die Heilige Gees se rol in die uitwerk van die verlossingsverbond
# Ook die Heilige Gees is intiem betrokke by die uitwerk van die verlossingsverbond.
+ Die Gees het sonder maat op die Seun gerus. Dit het in die besonder 'n aanvang geneem toe Jesus gedoop is (Jes 42:1; 61:1; Joh 3:31).
+ Voorts versamel die Gees die mense vir wie die Seun Sy lewe neergelê het.
+ Die Gees is intiem betrokke by die uitwerk van die herskepping en instandhouding van hierdie mense. Hy bou, bewaar en rus die kerk toe (Hand 2:33).
Opgesom
Volgens die verlossingsverbond sou die Vader die Seun éér
deur Hom na hierdie wêreld te stuur om as laaste Adam en strafdraende plaasvervanger
'n ontelbare skare mense te red van die krag en gevolge van hulle sonde.
Dit sou lei tot die Seun se universele regering,
waarvan die sentrale aktiwiteit sou wees om deur die werking van die Heilige Gees
hierdie bevoorregte mense te versamel en in te lei in die erfenis wat Hy vir hulle verwerf het.
Deur Sy Heilige Gees sou die Seun hierdie begenadigdes só lei en toerus
dat hulle Sy Vader gehoorsaam, vertrou, liefhet en verheerlik,
volgens die model wat Hý tydens Sy lewe van volkome gehoorsaamheid daargestel het.
Enkele leerstellige en praktiese implikasies
1. God se verlossingsplan was nie 'n paniekerige plan B nie.
Menslike sonde het God nie onverhoeds betrap nie. Dis van ewigheid af voorsien; meer nog, verordineer.
+ Petrus het dit op die Pinksterdag verstaan. Hy verwys na Christus as "Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is ..." (Hand 2:23, OAV).
+ In Hand 4:26-28 bid die vroeë gemeente: "Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het" (4:26-28).
Herodus én Pilatus én die Jode én die Romeine het as verantwoordelike mense opgetree. Hulle was skuldig en sal daaroor verantwoording doen. Máár die kruisiging was van voor die tyd af vasgelê in God se raadsplan.
Lukas 22:22 stel dit so: "Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!"
2. Laat ons altyd onthou waar die oorspronge van ons redding lê.
My kindskap van God het nie ten diepste te doen met die feit dat ek Christus aangeneem het nie. Ja, dit was nodig. Maar dít was net nog één van die stappe in my proses van redding. Die aanvang en wortels van redding lê baie dieper en verder terug.
En die inisiatief was vir seker nie myne nie. Dit was God s'n toe Hy my voor die grondlegging van die aarde uitverkies het (Ef 1:4), en dit verbondsmatig vasgemaak is dat die Seun alles sou kom doen wat vir my redding nodig sou wees.
Laat ons voortdurend vreugde put uit Christus se woorde: "Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee."
3. God bly dus 'n God van onkreukbare geregtigheid.
Elke stukkie loon moet verdien word. Watter loon ek ook al sal kry, sal ten diepste volkome te danke wees aan Christus se verdienste.
En nie 'n enkele sonde van enige mens word bloot oorgesien of onder die mat ingevee nie. Nee, élke sonde word gestraf, maak nie saak hoe gering nie — óf aan die sondaar self, óf aan Christus. God se geregtigheid is nie in die minste in gedrang nie.
4. My redding is dus nie bloot 'n guns wat op die ingewing van die oomblik aan my betoon word nie.
My redding is 'n hoogs ordelike, logiese, formele, juridies-korrekte gebeurtenis wat reeds voor die grondlegging van die aarde verordineer is.
Die redes waarom spesifiek ék begenadig word, ken ek nie. Al wat ek weet, is dat God my liefgehad het en besluit het dat ook ék aan die Seun toevertrou sou word.
5. In die verlossingsverbond gaan dit ten diepste oor God, en nie oor die mens nie.
Hierdie verlossingsplan het as eindoel die verheerliking van die Drie-enige God.
Die mensgesentreerde en verdraaide persepsie dat die Here eintlik maar ter wille van óns die hele verlossingsproses aan die gang gesit het, is Godonterend en bybels onwaar.
6. Die liefde van die Vader, die Seun en die Heilige Gees is gesamentlike liefde wat in volmaakte harmonie werk.
Daar is geen sprake van die idee dat 'n liefdevolle Seun 'n iesegrimmige Vader se toorn moes kom afwend nie. Hierdie idee wat in sommige mense se agterkoppe vassit, is niks minder as skreiende godslastering nie.
7. Hierdie dinge is proefondervindelike en waarneembare werklikhede.
Sommige mense het die idee dat die dinge waaroor ons praat, vergesogte teorieë en drome is — bloot serebrale teologie.
Nee, néé! Mense wat hierdie waarhede in die geloof en met begrip omhels en vashou en steeds beter verstaan, se lewens word ingrypend daardeur geraak.
Ek vertrou ek het jy ken dit proefondervindelik. Inderdaad ken miljoene hierdie realiteit en herskeppingskrag — dwarsdeur die eeue en dwarsoor die wêreld.
En vir almal wat enigsins kan onderskei
tussen egte Christenskap en valse Christenskap
is dit dáár vir almal om te sien.
En om dit te vertoon,
is ons onontkombare roeping.
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E: