PDF WEERGAWE

VIDEO-OPNAMES:   4.  https://youtu.be/gRSu6WyqeU0   

                                      5.  https://youtu.be/zhrB1hIRoc4

Die aanvanklike verhouding tussen God en die pasgeskape mens

#          Nadat God die mens geskep het, het die verhouding tussen hulle twee fokuspunte gehad.

            +          Eerstens was daar hulle natuurlike verhouding — die tussen Skepper en skepsel.

            Omdat die mens sy hele wese, en alles waartoe hy in staat was, van God ontvang het, kon daar geen sprake wees van enige aanspraak op loon vir sogenaamde verdienste nie. As hy iets goed of reg sou doen, sou hy bloot kon sê: Ek is 'n onverdienstelike slaaf; ek het net my plig gedoen.

+          Tweedens was daar ook 'n verbondsverhouding tussen hulle. Dit is waarna ons nou spesifiek gaan kyk.

Die Verbond tussen God en die mens

#          In Gen 1-3 word daar op die oog af nie veel oor hierdie verbond gesê nie — in elk geval nie by name nie. Maar in die lig van die verdere ontvouing van die Woord, raak dit tóg duidelik dat inderdaad in hierdie openingsgedeelte teenwoordig is.

#          Die mens was in 'n werkverbond met God.

 

#          Al die elemente van 'n werkverbond is in Gen 2-3 teenwoordig.

            +          Eerstens was daar twee partye — God en mens.

            +          Tweedens was daar wedersydse ondernemings en verantwoordelikhede — God teenoor die mens en die mens teenoor God.

            In essensie was dit om in 'n liefdesverhouding met mekaar te leef.

                        =          God skep die mens na Sy eie beeld (1:26-27), en seën hulle (1:28). Hy voorsien alle lewensmiddele (1:29). Hy gee vir die mens 'n sinvolle lewensdoel (1:28; 2:15), asook rentmeesterskap en gesag (1:28; 2:19). As die mens eensaam is, word 'n lewensmaat wat by hom pas geskep (2:18, 20-25).

                        =          Die mens moet God gehoorsaam deur nie te eet van die boom van kennis van goed en kwaad nie (Gen 2:9, 16-17).

            +          Derdens was 'n uitkoms uitgespel.

                        =          Daar is loon vir gehoorsaamheid — om te mag eet van die boom van die lewe.

                        =          Daar is straf vir ongehoorsaamheid — die dood.

#          In hierdie verbond is Adam nie net as individu betrokke nie; hy verteenwoordig ook sy nageslag — die ganse komende mensdom. Adam is die stamvader van die mensdom.

            Dit is tipies van baie verbondsluitings, tot vandag toe. Byvoorbeeld, één persoon teken na 'n oorlog 'n vredesooreenkoms namens 'n hele volk.

            Voorbeelde kan uiteraard vermenigvuldig word.

Iets meer oor die proefgebod

#          Die mens mag nie geëet het van die boom van die kennis van goed en kwaad nie.

            +          Nooit sou Adam en Eva hulle Skepper kon verwyt dat die proefgebod onmoontlik moeilik was nie. Dit was trouens baie eenvoudig.

            Tog was dit 'n perfekte toets vir die mens se gehoorsaamheid.

            Dit was eenvoudig en maklik verstaanbaar.

            Dit was vlymskerp gedefiniëer, sodat geen twyfel oor gehoorsaamheid, al dan nie, kon ontstaan nie.

            Dit was maklik onderhoubaar, aangesien onthouding al vereiste was. En gehoorsaamheid, maar veral ongehoorsaamheid, sou 'n besliste wilsbesluit vereis.

            +          Die enigste vraag was: Sou Adam hierdie gebod, wat op die oog af so onsinnig gelyk het, gehoorsaam bloot omdat God so gesê het, of sou hy sy eie kop volg.

            Die vraag was dus wie die botoon in Adam se hart sou voer — Gód of sélf.

            En inderdaad is dit bo alle twyfel uitgewys.

            Dat God regverdig was in Sy oordeel ná die mens se ongehoorsaamheid, kan deur niemand bevraagteken word nie. Adam is uitdruklik gewaarsku. Die toets was eenvoudig en duidelik. En die oortreding daarvan was die gevolg van sy eie besluit. Op geen wyse is hy geforseer om te sondig nie.

Die loon vir gehoorsaamheid

#          Dit is so dat dat die loon vir verbondsgetrouheid nie eksplisiet genoem word nie. Maar daar word op gesinspeel — en in die res van die Woord duidelik bevestig.

            +          Sekerlik sou gehoorsaamheid op die lewe uitgeloop het. Dit word geïmpliseer deur die alternatief van die dood wat in die geval van ongehoorsaamheid sou intree. As die mens nie geëet het nie, sou hy nie gesterf het nie, maar bly lewe het.

            +          Die geheimenisvolle "boom van die lewe", is sekerlik 'n sleutel. Alles dui daarop dat die eet van hierdie boom die ewige lewe sou verwerklik.

                        =          Dis waarom Adam en Eva ná hulle sonde uit die paradys gesit is. As hulle tóé van hierdie boom sou eet — wat minagting vir God se straf sou impliseer — sou hulle wel tot in ewigheid lewe, maar in hul gevalle toestand (Gen 3:22-24).

                        =          Hierdie boom van die lewe word uiteindelik weer in Openbaring genoem (2:7; 22:1-2; vgl. ook as belofte in Eseg 47:7, 12). Dit dra elke maand vrugte en is tot genesing van die nasies. Sonder twyfel is dit een van die Openbaringboek se wonderlike simbole van die ewige lewe wat aan herskepte oorwinnaars in Christus belowe word.

Die sondeval: die duiwel en 'n vrou buite God se ordes

#          Die beskrywing van die sondeval begin dadelik met die listigheid van die slang. En Gen 3:1-5 toon dan hoe verstommend slinks die duiwel werklik is.

            +          Eerstens konsentreer die slang sy aanslag op die vrou, en nie op die man as gesagsdraer nie. Om in die voorste linies te veg, is nie haar skeppingstaak nie. Satan skiet op die swak plek in die mens se mondering. So doen elke aanvaller dit immers.

            Volgens v.6 was Adam "by haar" (DAV) toe sy geëet het. Bes moontlik was hy heeltyd teenwoordig. Hy abdikeer dus sy hoofskap; hy stoot lafhartig sy vrou voor. Daar is dus geen oomblik wat die vrou alleen in sonde is nie; in 'n sin sondig sy nie eerste nie.

            +          Tweedens benader Satan vir Eva baie, baie slinks, en duidelik met voorbedagte rade.

                        =          Dis asof hy sy vraag met stomme verbasing vra: "Is dit werklik so dat God gesê het...?" Die NAV en DAV vertolk die Hebreeus baie goed (sien ook NIV). Satan maak asof hy dit beswaarlik kan glo dat God so iets kon doen — iets só onredelik.

                        =          Voorts verdraai hy die feite op 'n subtiele manier — asof God sou gesê het dat die mens van gééneen van die bome mag eet nie (v.1). Die vrou stel dit weliswaar reg (v.2), maar reeds begin sy God se verbod as 'n onredelike beperking beleef. As sy nou daaraan dink, ontstaan die vraag vanself, wáárom kan hulle nie van een en elke boom eet nie?

                        =          Oënskynlik begin Eva nou skaam kry. Die verbod lyk skielik vir haar baie naïef en simplisties. As dit meer om die lyf gehad het, sou dit darem beter geklink het. Daarom dik sy bietjie aan: hulle mag ook nie aan die vrugte raak nie. Maar dít het God nooit gesê nie (v.3).

                        =          Onmiddellik kapitaliseer die duiwel op die situasie. "Julle sal beslis nie sterf nie. Maar God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan. Dan sal julle word soos God wat goed en kwaad ken" (v.4-5; DAV). God, impliseer die duiwel, dra nie hulle belange op die hart nie; Hy wil hulle gewoon onder Sy duim hou. Hy wil alleen regeer, en word bedreig deur die mens se verbysterende potensiaal.

                        =          As v.6 sê dat die vrou besef dat die vrug van die boom van kennis begeerlik is, impliseer die oorspronklike taal dat sy tot díé slotsom gekom het. Sy is dus nou op 'n punt waar sy die slang glo, eerder as vir God.

            Die res is geskiedenis.

Die essensie van die sondeval

#          Wat ons hier moet raaksien, is dat die oorsprong van die mens se val daarin lê dat hy sy ore uitleen vir 'n bevraagtekening van God se woord, gesag en soewereiniteit. Hy wil homself nie langer onderwerp nie. Nee, hy wil mondig word en vir homself dink. Hy word ongehoorsaam.

            Waarskynlik was die boom van kennis van goed en kwaad nie op sigself goed of sleg nie. Indien wel, sou dit nie 'n onfeilbare toets gewees het vir die mens se gehoorsaamheid nie. As dit giftig was, sou dít die rede vir onthouding kon wees. En as dit wonderlike effekte gehad het, sou dít die rede kon wees waarom die mens geëet het.

            Nee, dit moes bloot gaan oor gehoorsaamheid aan God, omdat Hy Gód is — niks meer nie, niks minder nie.

 

#          Dis betekenisvol dat, ná die sondeval, die mens se ongehoorsaamheid veral beklemtoon word: "Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?" (3:11; NAV). "Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek ..." (3:17; NAV).

#          Hieruit volg 'n fundamentele beginsel:

 

Gehoorsaamheid aan God se opdragte is die hartsbeginsel van geregtigheid; ongehoorsaamheid is die wese van sonde.

Die hart van Christus se genoegdoening

het dan ook in Sy volkome gehoorsaamheid aan die Vader gelê (Heb 10:5-10).

En dit is híérdie gehoorsaamheid

wat aan ware gelowiges tydens regverdiging toegereken word.

Die gevolge van die sondeval

Die mens verloor sy geregtigheid!

#          Nie alleen het die mens nou sondeskuld op sy rekening gehad nie (die sg. erfskuld), hy het ook 'n verdorwe en sondegeneigde natuur oorgehou (die sg. erfsmet).

            Laasgenoemde word dadelik duidelik.

            +          Die verhouding met God is verbreek.

            Adam beskuldig Hom: "Die vrou wat Ú my gegee het het my die vrugte gegee" (3:12).

            Dit kom ook tot uitdrukking in die mens skaamtegevoel en verwydering van hulle Maker. Die toegeneentheid en vertroue is geruïneer. Hulle bedek hulle met blare. Nog duideliker blyk dit as hulle vir Hom wegkruip (v.8-10).

            +          Die verhouding tussen mens en mens is geskaad. Elkeen is nie meer op die belange van die ander gerig nie; dis selfgerig. Dit masel onmiddellik uit in die feit dat hulle mekaar oor en weer beskuldig vir die eet van die vrug: "Die vrou wat U my gegee het ... het vir my van die vrugte gegee" (3:12).

            Nog iets wat subtiel in die Hebreeuse teks van v.8 sit, is dat Adam en Eva afsonderlik weggekruip het.

            Elkeen vir homself, het nou hulle leuse geword.

            +          Die beeld van God in die mens is gebreek – nie heeltemal vernietig nie, maar ernstig verinneweer en verwring. Laasgenoemde blyk uit latere uitsprake van die Skrif (vgl.Gen 9:6).

            +          Die waarskuwing dat die mens sou sterf sou hy sondig, word nou 'n werklikheid (2:17). Van nou af sou elke mens onontkombaar en sonder uitsondering sterf.

            Dit geld vir álle mense, want die eerste mens verteenwoordig sy nageslag. Almal word ontvang en gebore as deel van Adam se nageslag.

                        =          Dis waarom selfs klein babatjies sterf, selfs ongebore babas. [1]

#          Hierdie dood het drie komponente:

            +          Die fisiese dood wat oor 'n tydperk intree, soos die liggaam verouder en uiteindelik sterf.

            +          Die geestelike dood, wat onmiddellik ingetree het, en steeds die toestand is van elke mens in Adam.

            +          Die ewige dood wat uiteindelik permanente, ewige geskeidenheid van God en smarte sal meebring.

#          Die Skriftuurlike idee oor die dood, is ten diepste nie bestaansbeëindiging nie, maar geskeidenheid van die Bron van die lewe, en die ellende wat daaruit voortvloei. Dit beteken dus om van God afgesny te word — en presies so het Adam en Eva dit ervaar.

            Die heel grootste nood van elke mens sou sedert die sondeval God se reddende genade wees.

#          Reeds voor die mens finaal uit die tuin gesit word, kondig God egter die moederbelofte af (3:15). Hy doen dit selfs vóórdat Hy die mens se straf uitspel.

            Durf ons dit, met groot respek gestel, vertolk as opgewondenheid in God oor Sy duiselingwekkende reddingsplan wat nou in werking gestel gaan word?

Hierdie aarde is ernstig beskadig

#          Die grond is vervloek en sou dorings en dissels voortbring (3:17-18).

            +          Later sou Paulus in Rom 8 skryf dat die skepping "aan verydeling onderworpe" is, en in die slawerny van "verganklikheid" verkeer (20-21).

            +          Vorentoe sou Adam slegs deur harde arbeid hier op aarde 'n bestaan kon maak (v.17-19).

            En die vrou sou met smarte haar kinders in die wêreld bring en groot maak (v.16).

#          Net terloops: ek wonder soms tot watter mate dit vir die res van die kosmos geld. Die Bybel sê nie vir ons uitdruklik nie. Ek vermoed egter die skade het inderdaad wyer uitgekring as ons aarde.

Die voortgaande geldigheid van die werkverbond

#          Is die werkverbond ná die sondeval steeds geldig? Die antwoord is ja en nee.

#          Soos wat Adam namens sy hele nageslag opgetree het, het Christus namens die mense wat deur die Vader aan Hom toevertrou is, en versoening sou doen, opgetree.

            Dit word onmiskenbaar duidelik in Rom 5:12-21, waar Adam en Christus aan ons voorgehou word as hoofde van die onderskeie menshede wat hulle verteenwoordig (sien ook 1Kor 15:45-47).

Ja, die werkverbond is steeds geldig en hoogs betekenisvol!

#          Die lot van die ewige dood vir Adam se nageslag is 'n verskriklike werklikheid. Vir redding vereis God immers volmaakte gehoorsaamheid. Nog nooit het Hy 'n aks afgewyk van die oorspronklike voorwaarde vir ewige welgeluksaligheid nie.

            Hiervoor het Christus as verbondshoof van die nuwe mensheid volmaak ingestaan.

            +          In hierdie roeping was Hy volmaak gehoorsaam aan sy Vader!

                        =          In sy passiewe gehoorsaamheid (soos die teologie dit noem) het Christus die skuld vir een en elkeen van my sondes op Homself geneem en elke krieseltjie straf daarvoor verduur.

            Dus: Nie mý my straf nie, maar Christus s'n wat deur die geloof aan my toegereken (gedebiteer) word, verlos my van die ewige dood.

            Sonde word immers nie twee keer of dubbeld gestraf nie.

                        =          Die aktiewe gehoorsaamheid van Christus (soos die teologie dit noem) is nou die grond van my redding. Dus: Nie mý gehoorsaamheid nie, maar Christus s'n wat deur die geloof aan my toegereken (gekrediteer) word, verleen aan my die ewige lewe.

            Daar is dus nie meer 'n boom waarvan ons nie mag eet nie. Mens word gered as Christus se volmaakte verbondsgetrouheid aan jou toegereken word. Daar is nie 'n ander manier nie.

Nee, vir elkeen in Christus is die werkverbond is nie meer geldig nie!

Wat sê al hierdie dinge vir ons?

 

1.         Ons redding geskied volgens onkreukbare geregtigheidsbeginsels.

Daar is geen sprake van baantjies vir boeties vir God se uitverkorenes nie. God se heilige standaarde word nie in ons geval opgehef nie. Ons sonde word nie bloot oorgesien nie.

            My redding is nie 'n bloot arbitrêre, naïewe guns wat uit jammerte aan my betoon word nie. Nee, nee! Dis 'n hoogs ordelike, logiese, formele, juridies-korrekte gebeurtenis.

            Waarlik, God is 'n God van onkreukbare geregtigheid en orde. Wie sal Hom beskuldig van dubbele standaarde en inkonsekwentheid?

            Dit sal soveel beter na vore kom as ons na die genadeverbond kyk.

2.         Let op die tragiese toestand van die ongelowiges.

Hulle bly steeds in Adam, is steeds in die ewige dood, bly onder die vloek van die werkverbond.

            Hoe diep die sondeval gesny het, blyk uit hulle halstarrige weiering om na Christus toe te kom (sonder God se onverdiende genade sou dit natuurlik ook van my gegeld het!).

           Dis omdat hulle hierdie dinge nie glo nie. Maar die realiteit daarvan is onmiskenbaar duidelik vir enigeen wat wil dink. Wie kan die feit van die mens se sondegeneigdheid en die fisiese dood ontken? En hoe radikaal verander mense nie wanneer hulle die oorgang uit Adam in Christus in maak nie?

3.         Hierdie waarheid roep elkeen wat buite Christus is op om sonder verwyl in Hom in te vlug.

Hoe geskied dit? Mens moet jou gevallenheid erken, die goeie nuus van die evangelie glo, en jou geloof bewys deur jou van harte te bekeer. Jy moet Christus vir jouself persoonlik toe-eien, jou vir tyd en ewigheid aan Hom toevertrou, en jou enkelhartig en onomkeerbaar aan Hom toewy.

4.         Let op die tevergeefsheid van godsdiens.

As die mens in sy volmaakte toestand voor die sondeval nie eers die eenvoudige proefgebod kon onderhou nie, watter kans staan 'n gevalle mens om met moraliteit so uit te styg dat God nie anders kan as om hom te red nie!

            As daar ooit 'n oefening in futuliteit was, dan is dit die dermiljoene godsdienstiges van hierdie wêreld se pogings om met goeie werke en religieuse seremonies hulle Skepper te beïndruk. Helaas moet ek ook miljoene "Christene" hierby insluit — ook in ons land.

            Nee, nee! Die toegang na die boom van die lewe word steeds deur gerubs bewaak. Daar is maar één manier om die vrug van die ewige lewe te geniet — deur Hóm en in Hóm wat die werkverbond volmaak onderhou het.

5.         Let op dit wat vir ons wag — ons wat in Christus is.

Dink aan wat die mens vóór die sondeval geniet het. Die mooiste van alle tuine was sy tuiste, en behalwe vir die bome in die middel van die tuin, kon hy van al die bome eet. Vrede, harmonie, gemeenskap, liefde, versorging — noem maar op!

            Hy was volkome heilig en draer van God se beeld. En hy het die mees intieme gemeenskap met die lewende God geniet — en met mekaar.

            Dit en meer, báie meer, wag op elkeen wat met die Hoof van die tweede, nee, die laaste werkverbond verenig is.  Dis omdat Hy volmaak gehoorsaam was aan sý "proefgebod", naamlik volmaakte gehoorsaamheid aan God se Wet.

            Hulle sal tot in alle ewigheid kan eet van die boom van die lewe wat voortdurend vrug sal dra — elke maand (dus vars vrugte — 'n onbeskryflike verlustiging!).

            En die voorreg sal hulle nooit weer kan verloor nie!

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

W: www.imagodei.co.za

[1]           Dit beteken nie dat baba's noodwendig ongered is nie. Hoewel die Bybel wedergeboorte, geloof, bekering ens. vir ons voorhou as gepaardgaande met redding, geld dit die normale situasie.     Iets wat die mens doen, kan egter nooit die diepste voorwaarde vir redding wees nie. Nee, uitverkiesing en eenheid met Christus is die diepste voorwaarde — en dit kan uiteraard wáár wees van enige baba, gebore of ongebore (Dit geld dalk vir alle babas — maar daaroor swyg die Skrif).

            Laat ons egter onthou: As 'n baba wat sterf, gered word, is dit nie op grond van onskuld nie, maar op grond van God se reddende genade en Jesus Christus se verdienste. Per slot van rekening is alle babas deel van 'n mensheid in Adam en as sodanig onder God se toorn.

            Waarom sterf 'n geredde baba dan nog? Vir dieselfde rede waarom geredde grootmense nog 'n fisiese dood sterf. Dis die finale afskud van die sondeval se reste.

            God het verordineer dat dit só sou gebeur.