PDF WEERGAWE

VIDEO-OPNAMES:    1.   https://youtu.be/njJW_yzuoFY

                                    2.   https://youtu.be/sxR39-5S_74

#          God se genadeverbond met die gevalle mens loop soos 'n ruggraat dwarsdeur die Woord en kom oor en oor aan die orde. [1]

            Begrip en verrekening van hierdie verbond is nodig om die boodskap van die Heilige Skrif reg te verstaan; om God behoorlik te ken; om die evangelie te begryp en reg te verkondig; om die Christelike lewe te leef soos dit moet. En dis nodig vir die kerk om waarlik kerk te wees.

#          Die genadeverbond het 'n sterk ontwikkelingsgang in die Ou Testament; trouens, in die hele Skrif.

            Embrionaal is dit reeds in die moederbelofte (Gen 3:15) teenwoordig. Dan kry dit verdere gestalte in die verbond met Noag (Gen 9:1-17).

            Veral in God se verbondsluiting met Abraham kom dit behoorlik na die oppervlak (Gen 12:1-3; 15; 17; 22:1-19). Hierdie verbond word herbevestig met Abraham se nageslag, Isak (Gen 26:2-5) en Jakob (Gen 28:10-22).

            Verder word die verbond herbevestig en -bekragtig met Dawid, en natuurlik baie jare vroeër reeds met Moses en die volk by Sinaï tydens die uittog uit Egipte. Ongeveer veertig jaar later word dit herbevestig met hulle, net voordat die Israeliete Kanaän binnegetrek het.

            Laasgenoemde gebeurtenis is vervat in die Deuteronomiumboek, wat die struktuur vertoon van 'n tipiese verbondsdokument.

            Die Sinaïtiese verbond, naas die verbond met Abraham, is van die allergrootste belang en oorheers die lewe van die verbondsvolk daarna.

#          Die daarstelling van die verbond is eensydig. God, en Hy alleen neem die soewereine inisiatief daarin, en bepaal die aard van die verhouding eensydig.

            Die uitvoering of instandhouding van die verbond is egter tweesydig.

            Beide partye, God en mens, is dus aktief betrokke by die uitlewing daarvan. Die Here beloof immers sekere dinge aan die mens as voorregte (iets wat Hy doen), terwyl Hy ander dinge as verantwoordelikhede voorskryf (iets wat die mens moet doen).

#          Volgens die verbondsvoorskrifte is die verhouding tussen die twee partye nie bloot onpersoonlik, formeel en juridies nie. Dis 'n verhouding van eenheid en gemeenskap, gekenmerk deur wedersydse bande van intieme liefde en lojale trou.

            Veral twee alledaagse en baie sprekende beelde word gebruik om dit te beklemtoon:      

            +          Die verhouding tussen man en vrou binne die huwelik (Jes 54:5; Jer 31:31-32; Eseg 16:1-14; Hos 1:2; 3:1; Ef 5:24-25, 32; Op 21:9).

            Die verhouding tussen ouer en kind (Eks 4:22; Deut 1:31; 8:5; Hos 11:1; Rom 8:15; 2Kor 6:18; 1Joh 3:1).

            +          Die tipiese verbondsformule, "Ek sal vir julle 'n God wees, en julle moet vir My 'n volk wees", bring hierdie heerlike waarheid uitnemend na vore. Dit kom regdeur die Bybel voor en geld tot in ewigheid (onder meer Gen 17:8; Jer 24:7; 31:33; 32:38; Eseg 11:20; 14:11; 36:28; 37:23, 27; 2Kor 6:16; Hb 8:10; Op 21:3).

#          'n Paar verdere sake oor die genadeverbond is ter sake:

            +          Aan die hart van God se verbond met Abraham is die uitspraak van Gen 15:6: "En hy het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken" (OAV).

            Dit, sê die Nuwe Testament meermale, toon dat regverdiging en dus redding alleen deur geloof kom — en dat dit van die begin af so was (Rom 4:3, 9, 22; Gal 3:6; Jak 2:23).

            +          Hoewel God se morele wet, soos in die Tien Gebooie gekonsentreer, aan die hart van die Sinaïtiese verbond was, gee Hy daar ook 'n massa seremoniële voorskrifte wat die Israelitiese godsdiens daarna oorheers.

            Die Nuwe Testament beklemtoon dat die morele wet, as uitlewingsriglyn vir die verbondsvolk se dankbaarheidsliefde en gehoorsaamheidstrou, ewig geldig bly (o.a. Matt 5:17-20).

            Daarenteen dring dit kompromieloos daarop aan dat die seremoniële wette met die koms van Christus vervul is en nie meer betrekking op die verbondsvolk het nie. Veral Galasiërs en Hebreërs onderstreep dit — as ernstig gewaarsku word teen 'n voortgaande handhawing daarvan. Dis nie net onnodig nie; dis sondig, aangesien dit in die Ou Testament vooruit gewys het op die komende Christus — en as sodanig in die Nuwe vervul is (o.a. Gal 5:1-10; Heb 6:4-8; 10:26-31).

            +          In Gal 3 en 4 verduidelik Paulus dat God reeds 430 jaar voor Sinaï, tydens die verbondsluiting met Abraham, die fundamentele en onveranderlike verbondsbeginsel van regverdiging deur die geloof alleen vasgelê het (Gal 3:15-18). Die seremoniële wet was bloot gegee as 'n kinderoppasser (die sin van die Grieks in 3:24) wat die Godsvolk en die verbondsopenbaring moes bewaar totdat die geloof gekom het (Gal 3:23-25) — die volle openbaring van God in Christus. Israel was dus soos klein kindertjies wat nie na hulleself kon omsien nie. Maar die seremoniële wet het hulle opgepas en deur die eeue begelei.

            Met die aanbreek van die volheid van die Nuwe Verbond in Christus en die volwassenheid wat die gepaardgaande pinkstervolheid van die Heilige Gees meebring, het die noodsaak daarvoor egter verval (Gal 4:1-7).

            Die seremoniële wet het dus die funksie van steierwerk gehad tydens die oprigting van God se verbondsgebou. Dit was nooit 'n doel op sigself nie, maar bloot middel tot 'n doel. En toe die doel bereik is — toe die "gebou" voltooi is — moes die "steierwerk" weg.

            +          Die besnydenis was 'n baie belangrike deel van Israel se seremoniële verbondsverpligtinge. Dit was teken van die verbond, en ongehoorsaamheid was 'n uiters ernstige oortreding (Gen 17:14). Wat het dit beteken?

                        =          Die belangrikheid van verbondsgehoorsaamheid en opregte geloofsvertroue was waarop die besnydenis ten diepste gewys het. Daarom word meermale van die noodsaak van hartsbesnydenis gepraat (Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4).

                        =          Soos tipies by verbondsluitings, was dit ook 'n selfveroordelingseed: as ek my nie hou aan hierdie verbond nie, mag ook my bloed vloei en ek afgesny word uit die volk van God.

                        =          Waarom is spesifiek die manlike geslagsorgaan besny? Sekerlik het dit daarop gedui dat verbondsaanwas deur natuurlike geboorte sou plaavind. Nasionale Israel was immers die verbondsvolk. Mens is destyds in die verbond in gebore. Dat dit al vereiste was, is duidelik uit die feit dat die besnydenis al op die ouderdom van agt dae plaasgevind het.

           

                        =          Dit was waarlik 'n verbond van genade, want wie het enige beheer oor wie sy ouers is en in watter volk hy gebore word? Soos hieronder aangetoon, was dit wel genoegsaam vir heerlike voorregte in hierdie lewe. Máár die ewige lewe het nie sonder meer gevolg nie.

            Trouens, die meerderheid Israeliete is níé gered nie (o.m. 1Kor 10:1-22). "Nogtans het God in die meeste van hulle nie 'n behae gehad nie ..." (10:5; DAV).

            Redding was die voorreg van net 'n "oorblysel". En vergelyk die Nuwe Testament!

                        =          Die besnydenis was deel van die steierwerk wat met die koms van Christus afgetakel is. Niemand wat Paulus se briewe lees, kan daaroor twyfel nie.

            Maar dat dit al eeue voor Sinaï ingestel is, is sekerlik nie sonder betekenis nie. Waarom? God het dit as teken ingestel om Sy ontwikkelende volk van die heidene af te sonder. Kennelik het Hy 'n verbondsmerk as uiters belangrik geag.

            Daarom is dit nie verbasend nie dat ook die Nuwe Testament voortgaan met 'n uiterlike teken van verbondstoetrede — die doop.

#          Dis van die allergrootste belang om te verstaan dat God net één genadeverbond het.

            Gal 3:16 is in hierdie verband 'n sleutel: "God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie 'aan nakomelinge', meer as een nie, maar: 'en aan jou nakomeling, net een, en hierdie nakomeling is Christus'."

            Ten diepste is die verbond dus 'n verbond tussen God die Vader en God die Seun — en wel in Sy hoedanigheid as die mens Christus Jesus (1Tim 2:5), die Adam en Verbondshoof van die nuwe mensheid (1Kor 15:45,47).

            +          Hoe en wanneer kry 'n sondaarmens dan deel aan hierdie genadeverbond? As hy deur die geloof met Christus verenig word — en sodoende ook 'n kind van Abraham word (Gal 3:6-7, 29). Deur die geloof word hy dus uit die ou Adam uitgehaal en in die laaste Adam ingeplant (vgl. Rom 5:12-21). Hy of sy word uit die ou gevalle skepping uitgehaal en herskep in die nuwe een in.

            +          Belangrik om te verstaan is dat óók Ou Testamentiese gelowiges deur die geloof alleen gered is (Rom 4). Wat sê dit? Ook húlle moes met Christus verenig word ten einde deel te kry aan die verbond!

            Hulle moes glo in wat Hy sóú doen; ons moet glo in wat Hy gedoen hét.

            +          Wat het hulle geloof behels? Dit het tot uitdrukking gekom in onderhouding van die seremoniële wette.

                        =          Begripvol (volgens God se openbaring tot op daardie stadium).

                        =          Nederig (in die bewussyn van eie sondigheid).

                        =          Opreg (meer as bloot uiterlike ritueel)

                        =          Gelowig (in die vertroue dat die volmaakte Lam wat Gód sou voorsien, uiteindelik as volkome en finale offer vir sondaars sou sterf). En dit alles moes verpak wees in bekeerde en bekerende lewens voor die aangesig van hulle Verbondsgod — as demonstrasie van die egtheid van hulle geloof.

            Sedert die sondeval was daar gevolglik nog nooit sprake van enige redding, ánders as deur geloof in Christus nie, die Hoof van God se nuwe skepping en mensheid.

                        =          So 'n geloof sou uiteraard as inhoud hê die genade-openbaring wat tot op daardie betrokke stadium gegee is.

                        =          In Ou Testamentiese tye het hierdie geloof tot uitdrukking gekom in 'n vasgryp van God se beloftes oor die komende Lam en die gepaardgaande beoefening van die seremoniële wet.

                        =          Om met Hom deur die geloof verenig te word, was dus nog altyd die enigste manier om te ontvlug vanuit die gevalle mensheid in Adam en die oordele wat daarmee saamhang (Rom 5:12-21; 1Kor 15:21-22).

                        =          Die ou Puritein, Thomas Goodwin (1600-1680), het dit kostelik gestel: "There are but two men standing before God, Adam and Christ, and these two men have all other men hanging from their girdles."

'n Nadere kyk na die diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond

Die dubbele karakter van die Ou Verbond

#          'n Baie groot deel van die Ou Testamentiese verbondsvolk was ongehoorsaam aan die verbond. Die Nuwe Testament is duidelik: Die meerderheid van die Israeliete is nooit gered nie. Hulle het onder God se toorn gesterf (1Kor 10:1-5; Heb 3:7-11; Jud 5).

#          Die Ou Testament maak dit toenemend duidelik dat net die opregte gelowiges en gehoorsames die ewige lewe beërf het. Die bekeerdes en bekerendes was die ware verbondsvolk wat aan God behoort het. Hierdie mense was die die besnedenes van hart, die seweduisend wat Baäl nie aanbid het nie — die oorblyfsel (1Kon 18:18).

            Dis sekerlik ook nie sonder betekenis nie dat hierdie tema al hoe meer aandag kry soos die Ou Testamentiese openbaring vorder. Vgl. byvoorbeeld Deut 4:23-31; Jes 6:13; 10:20-22; Eseg 5:1-4.

Johannes die doper (Matt 3:1-12; Mark 1:2-8; Luk 3:1-9, 15-17;Joh 1:19-28)

#          Johannes was die Messias se wegbereider. Hy het as 't ware met die een voet in die Ou Testament gestaan, en met die ander in die Nuwe. As sodanig was sy prediking van die allergrootste openbaringshistoriese belang. Trouens, dit is 'n sleutel om die verhouding tussen die twee Testamente te verstaan.

            +          Matt 3:2-3: Bekeer julle! Waarom? Die Koninkryk van die hemele het naby gekom!

      'n Nuwe bedeling is op hande — die regering van die Messias.

            +          Matt 3:5-6: Diegene wat hierdie profesie in die geloof omhels, word deur hom gedoop — met sondebelydenis.

            +          Matt 3:7-9: Die eiegeregtige Fariseërs en ongelowige Sadduseërs wil ook gedoop word. As kwalifikasie hiervoor beroep hulle hul op afstamming van Abraham. Maar dis nie voldoende nie. Daar is maar één kwalifikasie: Bekeringsvrug!

            +          Matt 3:10 en 12: Die ou bedeling se einde is op hande. Nie langer gaan die dubbelslagtigheid van die Ou Testamentiese verbondsvolk voortduur nie! Die Koning gaan 'n skeiding bring!

                        =          Israel was tot nou toe soos 'n vrugteboord met twee soorte bome: die wat goeie vrugte dra, en die wat niks dra nie.

            Maar aan hierdie dubbelslagtigheid gaan die Koning 'n einde bring. Sy byl is reeds in Sy hand. Élke boom wat nie vrug dra nie (bekeringsvrug, vanuit die konteks) gaan uitgekap en verbrand word.

            Van nou af sou daar in die Koning se boord nét bome wees wat vrug dra!

                        =          Om seker te maak die punt word nie gemis nie, herhaal Johannes dit aan die hand van 'n ander beeld. Israel was tot nou toe, sê hy, soos 'n dorsvloer waarop sowel koring as kaf lê. Aan hierdie vermenging gaan die Koning 'n einde bring. Sy skop is reeds in Sy hand. Die koring gaan Hy bewaar en die kaf verbrand.

            Daar sal géén vermenging meer wees nie — Hy gaan die vloer deur en deur skoonmaak.

            +          Matt 3:11: Presies hóé gaan die Koning die skeiding te weeg bring? Ten einde dit volkome en finaal te maak, gaan hy dubbeld te werk gaan — negatief en positief.

                        =          Die bloot tydelike en uiterlike elemente van die Ou Verbond, asook diegene wie se verbondsonderhouding niks verder as dit gekom het nie, sal deur die vuur [2] van Sy oordeel vernietig word. [3]

                        =          Die ware Israel, diegene wat deur geloof met Hom verenig is, en hulle geloof met hulle gehoorsaamheid bewys, sal deur die Koning oorspoel word met die oorvloedige werk van die Heilige Gees — ten einde die Ou Testamentiese beloftes oor die Nuwe Verbond in hulle te verwerklik (onder meer Deut 30:6; Jer 24:7; 31:31-34; Eseg 11:19-20; 36:22-32; Hos 2:13-22; Joël 2:28-32).

#          Nog enkele opmerkings:

            +          Die mense wat hier gedoop is, was Jode — sowel besnedenes van hart, as onbesnedenes van hart.  Hulle almal (mans) was reeds besny, maar moet nou gedoop word.

            Het dit vrouens ingesluit? Bes moontlik, aangesien die doop wat die Here Jesus later as inlywingseël tot die nuwe bedeling instel, dit sonder twyfel gedoen het.

            Die voorwaarde is bekering. En die dóóp is die publieke verklaring en bevestiging van so 'n bekering.

            Alles in Johannes se optrede spreek van 'n nuwe bedeling wat ingelei word. Hy is daarvan die wegbereider.

            Só belangrik is dit dat al vier evangelies dit reg aan hulle begin beskryf.

            +          Let op die sterk beklemtoning van bekering as noodsaak.

            +          Sommige wil die doop van Johannes, en die doop wat Jesus later sou instel, losmaak van mekaar. Maar veeleerder is daar 'n onmiskenbare organiese verband tussen die twee. Ja, Johannes se doop is nog antisiperend, terwyl Jesus se doop van vervulling spreek. Maar Johannes praat oor die twee in dieselfde asem en is duidelik van die komende ontwikkelingsgang bewus (v.11-12).

            +          Let op hoe die Doper bekering en gehoorsaamheid tipeer in die evangelie van Lukas. Naasteliefde lê aan die hart van 'n bekeerde lewe, by uitstek liefdesbetoning aan mense in nood (Luk 3:10-14).

#          Die skeidingsproses in Israel tot op daardie stadium gaan dus dramaties en totaal wees. Diegene vir wie dit in die Ou Testament net om die uiterlike en tydelike gegaan het, gaan finaal verwyder word uit God se verbondsopset.

            En diegene wat inderdaad aan Hom behoort, gaan deur veel ryker begenadiging ver bó selfs die belewinge van die Ou Testament se wáre Israel, uitgelig word.

Die ware Israel (Rom 9:1-13)

#          In die eerste verse van Rom 9 antwoord Paulus 'n vraag wat hy by sy lesers antisipeer.

            In Rom 8 gee hy die versekering dat die volharding en redding van God se uitverkorenes gewaarborg is, want dit is in God se ewige raadsplan gewortel.

            Die vraag kom dan asof vanself: Wat dan van die Jode? Is hulle nie God se uitverkore verbondsvolk nie? Tog het hulle Christus verwerp en is hulle gevolglik onder God se toorn (v.4-5).

#          Dit beteken nie, skryf die apostel, dat God se verlossingsplan en genadeverbond verydel is nie. "Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie" (v.6).

            Daar is dus 'n ware en ewige Israel binne die uiterlike en tydelike Israel (nasionale Israel). En die verbondsbeloftes waarvan Rom 8 praat, geld nét vir hierdie ware Israel.

#          In v.7-13 verduidelik en illustreer die apostel sy skokkende stelling in v.6. Hy gebruik twee voorbeelde: in v.7-9 díé van Ismael en Isak, Abraham se kinders; en in v.10-13 díé van Esau en Jakob, Isak en Rebekka se kinders.

            +          Vers 7-9 oor Ismael en Isak: Daar is soiets soos 'n nageslag én 'n nageslag; kinders én kinders. En daar is die wêreld se verskil tussen die twee. Daar is 'n nageslag in die natuurlike sin; maar dan is daar óók 'n nageslag deur wie God se genadeverbond voortgedra word. Daar is die kinders van die vlees; maar daar is óók die kinders van die belofte — die kinders van God.

            As dit dus by die verbond kom, is net sekeres kinders. Ismael het geen deel aan die genadeverbond gehad nie; Isak egter wel — en in hóm, as God se uitverkorene en deel van die oorblyfsel, word die plan van God voortgedra.

            +          Vers 10-13: Paulus antisipeer 'n beswaar: Ja, maar Ismael en Isak het twee verskillende ma's gehad. Nog meer: In Ismael se geval het Abraham in die vlees opgetree.

            Goed, sê Paulus, kom ons kyk na Esau en Jakob. Hulle het dieselfde pa en ma gehad; trouens, hulle was 'n tweeling. Tóg, toe hulle nog in die moederskoot was, het God al 'n keuse uitgeoefen! Net Jakob sou deel hê aan die genadeverbond. In hóm word die plan van God voortgedra.

#          Dus, daar was 'n ware, uitverkore Israel binne die volk Israel.

            Almal was besny en volledig betrokke by die tydelike en uiterlike aspekte van die verbond, maar nét die ware Israel was gunsgenote van die verbond.

#          Ander Nuwe Testamentiese Skrifgedeeltes wat op dieselfde waarheid sinspeel, is Rom 2:28-29 en Fil 3:3.

Hebreërs (Heb 8:7-13)

#          In die Hebreërboek rig die geïnspireerde skrywer hom tot Joodse Christene (wat lam in die knieë is). Die eise van dissipelskap het te veel begin raak en hulle oorweeg dit om terug te keer na Ou Testamentiese seremoniële godsdiens — om só vervolging te ontkom.

#          Hebreërs se waarskuwings teen so 'n omkeer kom met 'n dringendheid en 'n heilige verontwaardiging wat beswaarlik elders in die Nuwe Testament geëwenaar word. Dit word op elke denkbare manier verduidelik dat die seremonies van die Joodse godsdiens in Jesus Chrisus vervul is. Die geadresseerdes wil dus terugkeer na iets wat nie meer bestaan nie!

#          Die ses pastorale waarskuwings in die boek vul enige Christen met die vrese van die Here (2:1-4; 3:7-4:13; 5:11-6:12; 10:26-39; 12:14-17; 12:25-29). So 'n terugdraai, word duidelik gesê, kom neer op 'n miskenning van wat God finaal en volmaak in Christus gedoen het.

            Dit word in skokkende sterk taal gesê. Dis so goed soos om die Seun van God weer te kruisig en te verag; om Hom openlik te bespot; om die bloed van die verbond te minag (Heb 6:6: 10:29).

            Só 'n ernstige saak is dit, dat diegene wat hulle daaraan skuldig maak, net een uiteinde het — die verskriklike toorn van God.

#          Hebreërs se hele argument is gebaseer op die onderskeid tussen Ou en Nuwe Verbond — en besonderlik op die feit dat Ou Testamentiese seremonies in Jesus Christus vervul is.

            Die skrywer werk sterk met die Messiaanse belofte van Jer 31 (Heb 8:7-13; 10:15-18) om te toon dat die koms van die Nuwe Verbond 'n einde gebring het aan die uiterlike en skaduagtige elemente van die Ou Verbond (Heb 8:13). Diegene wat aan die Nuwe Verbond deel het, het nou die morele Wet in hulle denke en harte (Heb 8:10). Hulle is vrygespreek en almal ken die Here [4] (Heb 8:11-12).

Opsomming en gevolgtrekkings

#          God het net één genadeverbond, en net één ewige Godsvolk — waaraan mens deel kry deur geloof in Christus, die Verbondshoof en Adam van die nuwe mensheid.

            Hierin lê die samebindende van God se raadsplan, van Sy verlossingsplan, en van die Woord as Sy besondere openbaring aan die mens.

Daar is dus 'n kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

#          Tog is daar 'n dramatiese en uiters betekenisvolle onderskeid tussen Ou en Nuwe Verbond — en daarom tussen die dubbelslagtige Ou Testamentiese verbondsvolk en die Nuwe Testamentiese gemeente van toegewyde gelowiges.

            Hierdie twee verbondsbedelinge word geskei deur die vleeswording en werk van Christus, en die daarmee gepaardgaande uitstorting van die Heilige Gees.

Daar is 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

            +          Die Ou Verbond het in die teken van verwagting gestaan; die Nuwe staan in die teken van vervulling.

            +          Mense het deur natuurlike geboorte deel gekry aan die Ou Verbond — maar dit het op sigself nie die ewige saligheid beteken nie. Daarvoor was besnydenis van die hart nodig — die Ou Testament se manier om na die wedergeboorte te verwys.

            Aan die Nuwe Verbond kry mens egter deel, nie deur natuurlike geboorte nie, maar deur die wedergeboorte — en dit, nét dit, waarborg terselfdertyd die ewige saligheid.

            Ou Testamentiese besnedenes van hart, en Nuwe Testamentiese wedergeborenes, word dus op presies dieselde manier gered.

#          Beide die kontinuïteit en die diskontinuïteit moet in ons geloof en uitlewing in 'n gesonde en Bybelse spanning vasgehou word.

            Eensydighede, óf na die een kant toe, óf na die ander kant toe, het allerlei ellendige gevolge — in sowel geloof as uitlewing daarvan.

Die Nuwe Verbond laat geen ruimte meer vir die dubbele karakter van die Ou Verbond nie.

#          As dit gaan oor die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Verbond, staar twee gevare ons in die gesig — gevare wat teologies verwringend is, en dus katastrofies vir prediking, pastoraat en praktyk.

            +          Enersyds, 'n verwaarlosing van die kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

            Diegene wat die wonderlike geïntegreerdheid van God se verlossingsplan en Woord miskyk, betaal 'n duur teologiese en pastorale prys daarvoor. Hulle kan geringskatting van die Ou Testament beswaarlik vermy, en mis sodoende groot stukke Godsopenbaring wat noodsaaklik is vir volwasse Christenskap.

            Ergste van alles is dat uiters belangrike aspekte van God se karakter en wese, wat net in die Ou Testament geopenbaar word, by hulle verbygaan.

            Uiteindelik masel hierdie dwaling uit in 'n eensydige beklemtoning van God se goedheid — ten koste van die ewe belangrike belewing van Sy gestrengheid, en die gepaardgaande vrese van die Here (Rom 11:22).

            +          Andersyds, 'n verwaarlosing van die diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.

            Hierdie is geen ligtelike teologiese mistasting nie. Dit bring 'n subtiele veroutestamentisering van talle Nuwe Testamentiese waarhede en realiteite mee.

            Nêrens het dit gevaarliker en meer Godonterende gevolge as in die soteriologie (verlossingsleer) en die ekklesiologie (die leer oor die kerk) nie.

           

Kardinaal belangrike implikasies

1.         Waar die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond reg verstaan word, sal die noodsaak van wedergeboorte — en dit wat daarmee saamhang — uiteraard sterk beklemtoon word (Joh 3:3-8). Ook sal die radikale, en inderdaad lewenslange en veranderende effekte daarvan verstaan word — dat ou dinge verbygaan en alles nuut geword het (2Kor 5:17).

            Die volle evangelie sal nie net na buite verkondig word nie, maar ook binne die gemeente. Gelowiges sal hulleself gereeld ondersoek of hulle régtig in die geloof lewe (2Kor 13:5); hulle sal hulle heil uitwerk met vrees en bewing (Fil 2:12-13; 2Pet 1:10-11, OAV). Die prediking sal huigelaars vir hulleself ontbloot. En gemeentekinders sal weet dat hulle nie op hulle ouers se geloof kan staatmaak vir redding nie, maar dat hulle sélf voor die Here aanspreeklik is.

2.         Die Nuwe Testament praat in die mees verhewe terme oor die sentrale en Godverheerlikende rol van die ware gemeente in die Here se raadsplan (vgl. onder meer Joh 17:20-23; 2Kor 11:2-4; Ef 1:23; 3:9-11, 20-21; 4:1-16; 5:25-27, 32; Op 1-3; 19:7-8).

            Die uitlewing van hierdie grootse roeping hang egter ten nouste af van die kerk se suiwerheid en getrouheid. Wat bring méér oneer oor die Here se Naam as 'n wêreldgelykvormige instituut wat homself die kerk van Christus noem?

            As die diepgaande verskille tussen die Ou en die Nuwe Verbond verwaarloos word, bring dit noodwendig 'n veroutestamentisering van die kerk mee. Gou-gou lyk die gemeente dan soos Ou Testamentiese Israel — met 'n groot komponent (dikwels die meerderheid!) ongeredde lidmate. As dit eers die geval is, is ware kerkwees per definisie onmoontlik, want mense sonder die Gees kan nie eers begin om Nuwe Testamentiese standaarde uit te leef nie.

            As die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Verbond egter reg verstaan word, word begryp dat die ware kerk 'n uit-die-wêreld-geroepte liggaam van gelowiges is — bekeerde mense, dissipels van Jesus Christus. Nog meer, dan word begryp hoe kardinaal belangrik ware kerkwees is vir effektiewe evangelisering; vir die opbou van gelowiges; en vir die eer van God.

            Natuurlik beteken dit nie dat daar nie steeds huigelaars in sulke gemeentes kan/sal wees nie. Selfs die Here Jesus het 'n Judas Iskariot gehad, en die apostels 'n Demas (2Tim 4:10). Maar dis één saak. 'n Gemeente bestaande uit 'n groot persentasie wêreldgelykvormiges is egter iets totáál anders.

            Waar die verskil tussen die Ou en die Nuwe verbond verwaarloos word, sal dit amper sonder uitsondering gepaard gaan met susprediking — en dikwels met dodelike dwalings soos die wederbarende werking van die doop (baptismal regeneration), en die veronderstelde wedergeboorte van verbondskinders (baie bekend in Suid-Afrika).

            Die gevolg is gou-gou 'n Godonterende Corpus Christianum ('n liggaam van Christelikes — 'n Christelike kultuur); in plaas van 'n Godverheerlikende Corpus Christi ('n liggaam van Christus). [5]

3.         Beide Ou en Nuwe Verbond het 'n verbondsteken wat volg na die deelkry aan die Godsvolk: die besnydenis en die doop onderskeidelik. Wat die besnydenis vir die Ou Verbond was, is die doop vir die Nuwe.

            Die doop het dus in die plek van die besnydenis gekom.

            Máár – as die diskontinuïteit tussen Oue en Nuwe verwaarloos word, word hierdie analogie verskraal tot 'n simplistiese gelykstelling — met die kinderdoop tot gevolg.

            As die verhouding egter rég verstaan word, lei dit glashelder duidelik tot die Nuwe Testamentiese doop — die doop van gelowiges, oftewel die belydenisdoop.

            Waar mens Ou Testamenties deel gekry het aan die Genadeverbond (in die ruimer sin) deur geboorte, kry jy nou daaraan deel deur die wedergeboorte.

            Dít is die kwalifikasie wat die analogie tussen doop en besnydenis beheers.

            +          Nooit kan die ondergáán van die Bybelse doop op sigself 'n persoon se redding verseker nie. Maar ewe waar is dit dat iemand wat die implikasies van die Bybelse doop verstaan en aanvaar, maar hom of haar tog nie laat doop nie, nie daarop kan peil trek dat hy of sy die finale oordeel van Christus met vertroue tegemoet kan gaan nie. Dis ongehoorsaamheid.

            Ewe min kan iemand wat hom of haar in die geheim laat doop en daarna voortgaan asof niks gebeur het nie, daarop staat maak dat hy of sy op daardie dag deur Christus voor Sy Vader bely sal word. [6] Om jouself skelm te laat doop, maar dan tog 'n lidmaat van 'n kinderdoop-gemeente bly, is huigelagtig en oneerlik.

            Nee, die doop is 'n openlike standpuntinname vir, en belydenis van Jesus Christus, en die eerste tree op die lewenspad van gehoorsaamheid aan Hom.

            'n Ware gelowige wat die belydenisdoop ondergaan, sal die gevolge daarvan rustig in die hande laat van die soewereine Koning van alle konings — ongeag of dit die brandstapel is (soos só dikwels in die kerkgeskiedenis); of bloot sosiale verwerping (soos baie van ons dit ken); of absoluut niks nie (soos talle ander).

Slot

Mag elkeen wat hier gelees het, begryp dat dit waaroor ons dit gehad het, nie 'n saak van mindere belang is nie. Mag dit hom of haar dring tot ernstige selfondersoek — en eerlike standpuntinname.

            Waarom is dit belangrik? Wel, dit gaan oor die waarheid; oor die suiwerheid van die kerk; oor gehoorsaamheid aan en die eer van Jesus Christus.

            Bowenal, mag díé van ons wat waarlik in Christus is, 'n nuwe en toenemende verwondering en dankbaarheid oor die grootse verlossingsplan van God beleef.

Grafiese voorstelling: Die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond

                Ou Verbond                                               Nuwe verbond

                                                       Christus

                                                               ↕

 

   Geboorte   ➔  Besnydenis

   Nog nie gered nie

       
     
 
   

 

   Besnydenis hart ➔ Die Oorblyfsel              Wedergeboorte ➔  Doop

                                    Die godsvolk deur die eeu

 

   Geboorte   ➔  Besnydenis

   Nog nie gered nie                                                                                                                                       

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

W: www.imagodei.co.za

[1]           Hoewel hierdie verbond verreweg die meeste aandag in die Skrif kry, word in hierdie studie net oorsigtelike aandag daaraan gegee. Oor en oor brei studiestukke op hierdie webwerf uit op hierdie verbond.

[2]           Vanuit die konteks wys vuur duidelik op oordeel (v.10, 12).

[3]           Die vernietiging van die bloot uiterlike en seremoniële komponent van die Ou Verbond word dramaties gedemonstreer en verseël as God die voorhangsel tydens die kruisiging skeur (Matt 27:51). Histories is dit finaal bekragtig toe Jerusalem en die tempel in 70 n.C. deur die Romeine vernietig is.

[4]           Afrikaans vertaal klein en groot, en Engels gering en belangrik. Taalkundig is beide moontlik.

[5]           Hiermee word nie gesê dat die beoefening van die "groot doop" noodwendig tot 'n Corpus Christi lei nie. Helaas is daar baie kringe waarin hierdie doop só goedkoop geword het, dat daar derduisende in ons land is (en wêreldwyd) wat hulleself wysmaak dat hulle "gered" is, terwyl dit alles behalwe die geval is.

[6]           Ek praat nie hier van situasies waar Christene aan felle vervolging onderworpe is nie. Dan sal mens die doop met die nodige diskresie ondergaan, maar wel, indien hoegenaamd moontlik, in die teenwoordigheid van broers en susters wat jy kan vertrou en saam met wie jy 'n geloofspad stap.