Uiteenlopende idees oor presies wat die doop met die Heilige Gees is, is alledaags. Dikwels berus mense se opinies op allerlei vreemde ervaringe en die simplistiese hantering van Skrifgegewens. Verwarring is aan die orde van die dag
Hierdie verwarring is nie net onnodig nie, dis tragies, aangesien die doop met die Heilige Gees aan die hart lê van Jesus Christus se regering in die Nuwe Verbond.
Hieroor lewer die Godsopenbaring in die Skrif 'n klokheldere getuienis.
DIE BELOFTE VAN DIE VADER
Die Ou Testament is vol beloftes van 'n komende Messias. Op Hom sou die Gees in matelose volheid rus (Jes 11:2; 42:1; 61:1. Vgl. ook Luk 4:18-21; Joh 3:34).
Voorts sou Hy die Heilige Gees in ongekende oorvloed op al Sy diensknegte uitgiet (Jes 29:17-24 en 32:15-20; 44:1-5; Eseg 36:24-28; 37:1-14; Joël 2:28-32).
Dit lê voor die hand dat die verbondsvolk met opgewonde afwagting uitgesien het na die vervulling van hierdie beloftes. Tereg het hulle verstaan dat dit nie bloot 'n randaspek van die Messiaanse regering sou wees nie, maar sentraal daarin sou wees. As die Here Jesus dus praat van "die Vader se belofte" — en die apostels Hom daarin navolg — het almal wat gewag het op die volheid wat die Messias sou bring, begryp Hy praat van die uitstorting van die Gees (Luk 24:49; Hand 1:4; 2:33, 39; Gal 3:14; Ef 1:13).
Hierdie belofte se vervulling vind dan inderdaad op die Pinksterdag plaas. Daaroor twyfel Petrus geensins nie; hy sê dit uitdruklik (Hand 2:16-21; 33-36; 39). Die verheerlikte en verhoogde Seun het "die belofte" as beloning van die Vader ontvang en Hom op Sy Nuwe Testamentiese gemeente uitgestort.
Die groot gawe van die bedeling tussen eerste en wederkoms het gekom!
JOHANNES DIE DOPER
As wegbereider vir die Messias is Johannes die uitstaande oorgangsfiguur tussen Ou en Nuwe Testament. Gevolglik is sy prediking van die allergrootste openbaringshistoriese betekenis.
Sy verkondiging het volledig te doen met die komende Koning en Sy regering. As mens die vier evangelies se weergawes daarvan vergelyk (Matt 3:1-12; Mark 1:1-8; Luk 3:2-20; Joh 1:19-34), sien jy dat één tema deurgaans herhaal word. Trouens, dis die fokuspunt van Johannes se boodskap.
Dit kan só opgesom word:
Bekeer julle, want die Koning se koms is op hande!
Waarom?
Hy gaan die Godsvolk deeglik kom suiwer!
Die dubbelslagtigheid van ou Israel sal iets van die verlede wees.
Die vermenging van heiliges en onheiliges sal nie langer geduld word nie.
God se boord sal van nou af net bome hê wat vrug dra.
In Sy skure sal geen kaf meer te vinde wees nie, net koring.
Hoe gaan die Koning dit doen? Hy gaan op twee maniere werk:
Positief gaan Hy die wáre Godsvolk ver uitlig bo dit wat tipies in die Ou Testament ervaar is — deur hulle te doop met die Heilige Gees!
Negatief gaan Hy diegene oordeel wat weier om voor Sy Messiaanse regering te buig,
deur hulle te doop met vuur — die vuur wat die uitgekapte bome en die kaf verbrand!
Enkele opmerkings
❏ Hoewel die Nuwe Testamentiese aksent sterk op die positiewe werk van die Messias val, is ook die negatiewe kant daarvan vol betekenis, maar ook tragies. Ons fokus egter op die positiewe.
Een opmerking oor die negatiewe — die doop met vuur — is nietemin noodsaaklik: As die Messiaanse oordele in die vernietiging van Jerusalem en sy tempel tot 'n verskriklike klimaks kom (70 n.C.), staan ook dÍt in diens van die Gees se wêreldwye werk. Waarom? Dit bring 'n einde aan die versmorende en uitgediende seremonies van die Ou Testament, en dit deurbreek finaal die kniehalter van Joodse eksklusivisme!
❏ Sekerlik is dit hoogs betekenisvol dat Johannes die Doper die positiewe aspek van Christus se werk só saamvat: Hy gaan doop met die Heilige Gees.
Soos klokslag — in al vier evangelies, let op — neutedop hy die heerlike Messiaanse werk in die godsvolk van die Nuwe Verbond met hierdie uitdrukking.
Wat sê dit?
Die gawe en oorvloedige werkinge van die Heilige Gees
lê aan die hart van die Messiaanse heilsregering!
❏ Die Griekse uitdrukking, "om met die Heilige Gees gedoop te word" [1], kom sewe keer in die Nuwe Testament voor.
+ Die Doper gebruik dit vier keer (Matt 3:11; Mark 1:8; Luk 3:16; Joh 1:33).
+ Die Here Jesus haal hom een keer aan, net voor Sy hemelvaart: "Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word" (Hand 1:5; NAV).
+ Dan haal Petrus die Here aan as hy in Jerusalem verduidelik waarom hy nie-Jode gedoop het (Kornelius-hulle): "Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: 'Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word' " (Hand 11:16; NAV).
+ Les bes sê Paulus in 1Kor 12:13 dat die doop met die Gees die liggaam van Christus in sy eenheid tot stand bring. Letterlik sê die Grieks: Want ons is almal met een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jood is of Griek, slaaf of vry — ons is almal van een Gees gegee om te drink (vgl. goeie Engelse vertalings soos die ESV, NASB, NIV en NKJV).
❏ "Doop" is 'n oorvloedsbegrip. Dit dui op onderdompeling in, of oorspoeling met iets — in hierdie geval die Heilige Gees. Om met die Gees gedoop te word, is dus om met die Gees oorspoel te word. En hierdie oorvloed is presies wat die Ou Testamentiese Messiaanse beloftes oor die komende Heilige Gees, asook dié van die Here Jesus, keer op keer onderstreep (vgl. Joh 7:37-39).
❏ In 'n primêre en aanvanklike sin het die doop met die Gees op die Pinksterdag plaasgevind. Dit was die uitstorting van die Heilige Gees. Dit was vervulling van die belofte waarop eeue gewag is. Dit was die finale deurbraak van die Messiaanse regering. Dit was die aanvang van die bedeling van die Gees.
As sodanig was dit 'n eenmalige gebeurtenis.
Maar die uitkringende effekte van Pinkster raak gelowiges daarná ook ingrypend. Tot vandag toe beleef ons immers die oorvloed van God se Nuwe Testamentiese heil in Christus — gewerk deur die Gees. Terwyl Pinkster dus 'n sterk unieke en eenmalige dimensie het, het Christus se gemeente steeds — weliswaar in 'n sekondêre sin — deel aan die doop met die Gees.
Die doop met die Heilige Gees
is Jesus Christus se oorvloedige skenking van Sy Gees
aan die gemeente van die Nuwe Verbond
sodat Hy (die Gees) die heerlike en omvattende redding
wat reeds deur hulle Middelaar vir hulle verdien is
volledig in hulle kan uitwerk
individueel en gesamentlik.
'n Aantal gevolgtrekkings
❏ As Johannes die Doper verkondig dat die Groot Koning Sy volk gaan doop met die Heilige Gees, sê hy dat Christus Sy Nuwe Testamentiese gemeente gaan oorspoel met die Gees. Sy regering sal dus gekenmerk word deur oorvloedige werkinge van die Gees —kwalitatief en kwantitatief. So het die Ou Testamentiese profete dit al voorsien.
+ Presies so het dit inderdaad gebeur. En so gebeur dit steeds. Dit kom veral op die volgende vyf maniere tot uitdrukking:
Ware gelowiges vanuit alle eeue, nasies, stamme, volke en tale het deel aan die Gees se wederbarende werk: hulle word herskepte mense, met nuwe harte en lewens.
Hulle het deel aan Sy verligtende werk: hulle begryp die geopenbaarde geheimenisse van die nuwe Verbond.
Hulle het deel aan Sy versekerende werk: hulle ken die Here en het 'n innerlike sekerheid dat hulle aan Hom behoort.
Hulle het deel aan Sy heiligmakende werk: hulle het 'n hartsywer vir God se eer en groei in gelykvormigheid aan die beeld van Christus.
Hulle het deel aan Sy toerustende werk: hulle word bekragtig om ewigheidsvrug voort te bring en om God te verheerlik.
+ In Joh 4:10-14 beloof die Here Jesus dat elkeen wat van die water drink wat Hy gee, in alle ewigheid nooit weer sal dors kry nie. Trouens, hierdie water sal 'n fontein wees wat opborrel en die ewige lewe bewerk.
'n Paar hoofstukke later gee Hy dan meer klarigheid: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei." En in die volgende vers verduidelik Johannes dat Jesus van die Heilige Gees praat wat ná Sy heerlikmaking vir gelowiges gegee sou word (Joh 7:37-39; NAV).
Dit is waarskynlik waarop Paulus in 1Kor 12:13 sinspeel as hy sê dat ons almal van een Gees gegee is om te drink.
❏ Niks wat ons van God ontvang, kom ánders as op grond van Christus se versoeningswerk nie. Maar — ewe waar — niks wat ons kry, word anders as deur die Heilige Gees in ons lewens verwerklik nie.
Hierdie twee waarhede lê onlosmaaklik aan die hart van egte Christelike belewing. Eers gee God Sy Seun; dan gee Hy Sy Heilige Gees. Sonder die Seun kon die Gees nie kom nie; sonder die Gees was die koms van die Seun tevergeefs.
Die gawe van die Gees is gewortel in die werk van die Seun; die Seun se werk blom oop in die koms en werk van die Gees.
❏ Ons moenie die waarheid miskyk dat die persoonlike teenwoordigheid en werk van die Heilige Gees die besondere en sentrale kenmerk is van God se Nuwe Verbond nie. Die doop met die Gees — Sy oorvloedige werk — is die hart van God se seën in Christus.
Die Gees is die groot gawe van die Nuwe Verbond!
+ In teenstelling met die bedeling van die Sinaïtiese wet, tipeer Paulus die nuwe verbond as die heerlike en vrymakende "bediening wat deur die Gees geskied" (2Kor 3:8, en konteks).
+ Romeine 8:23 noem die Heilige Gees God se "eerste gawe" (Gr. aparge) aan Nuwe Testamentiese gelowiges. Dit sinspeel op die Ou Testamentiese eerstelingoffer wat deur die volk aan die begin van die oestyd geoffer is. Hierdie offer was verteenwoordigend van die hele oes. Daarmee het die Israeliete bely dat alles van die Here kom, en dat hulle dit op hulle beurt weer aan Hom toewy.
As die Here só oor die Gees praat, wil Hy ons verseker dat ons uiteindelik ons volle erfenis in Christus sal kry — net so seker as wat ons nou al, in hierdie lewe, die Gees ontvang. En vir ons huidige bespreking is die punt dít: Ons ganse erfenis in Christus vir hierdie lewe word saamgevat as die eerstelingawe van die Gees.
+ In 2Kor 1:22; 5:5 en Ef 1:14 vind ons die versekering dat die Gees as "waarborg" (Gr. arrabōn) aan gelowiges gegee word. Dit dui op 'n pand, of 'n deposito, of 'n borg — dus 'n waarborg — en dra dieselfde boodskap as hierbo.
+ Nog 'n bevestiging dat die Heilige Gees die groot gawe van die Nuwe Verbond is, kry ons in Gal 3:14. Paulus skryf dat selfs nie-Jode op grond van Christus se kruisdood "deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het", en sodoende "deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het."
Dit wat diegene in Christus in hierdie lewe ontvang, word dus nogeens saamgevat as die gawe van die Gees.
❏ Uit bogenoemde volg dat die belofte van die Heilige Gees deel is van die evangelie — die goeie nuus — wat ons aan 'n gevalle wêreld moet verkondig.
Dis 'n algemene probleem dat mense bang is om Christus as Saligmaker en Koning aan te neem, omdat hulle bang is hulle sal nie aan die eise van dissipelskap kan voldoen nie. Aan hulle moet met groot vrymoedigheid die versekering gegee word dat God nie net sondaars red nie, maar hulle ook bekragtig om end-uit gehoorsaam te volhard.
Dis één rede waarom ons die Heilige Gees so dringend nodig het — waarom Hy gestuur is.
Presies dit is wat Petrus op die Pinksterdag doen (Hand 2:38-40).
❏ Elke Nuwe Testamentiese gelowige het deel aan die doop met die Gees, oftewel die oorspoeling met die Gees.
+ Op die Pinksterdag belowe Petrus die gawe van die Gees aan almal wat hulle bekeer en laat doop — aan "almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep" (Hand 2:38-39).
+ Benewens verse waarna reeds gekyk is, voorveronderstel talle Skrifuitsprake dat die gawe van die Gees aan alle ware gelowiges gegee word (Rom 5:5; 8:9-11; 1Kor 6:19; Gal 5:16vv; 1Tess 4:7-8; 1Joh 3:24; 4:13).
Geen enkele werking van die Gees in 'n gelowige is die doop met die Gees nie.
Ons praat van die oorvloed en volle omvang van die Gees se werk in die Nuwe Verbond.
Daarom is élke egte werk van die Gees in 'n Christen
'n uitdrukking of manifestasie van die doop met die Gees.
Die doop met die Gees
is dus nie 'n spesifieke en nuwe ná-bekeringservaring
waarna gesoek moet word nie.
Nêrens beveel die Skrif om soiets na te jaag nie.
# Daar is inderdaad verskillende strominge wat op 'n na-bekerings doop met die Gees ingestel is.
Sommige sê dit bring volkome heiligmaking.
Vir ander gaan dit oor die charismata en bekragtiging in die Here se diens.
En vir nog ander gaan dit oor geloofsekerheid.
Sekerlik bring die Heilige Gees hierdie dinge, maar Hy bring ál drie in elkeen in wie Hy werk — en nog meer.
Elkeen van bogenoemde leringe is dus 'n oorvereenvoudiging, 'n verskraling en 'n skeeftrekking van dit wat die Nuwe Testament die doop met die Gees noem.
+ Dit beteken nie dat gelowiges nie besondere deurbrake en werkinge van die Gees — met gepaardgaande ingrypende gevolge — in die loop van hulle Christelike lewens kan en selfs behoort te ervaar nie. Die Skrif leer dit inderdaad. En die geskiedenis (veral dié van herlewings) bevestig dit oor en oor.
= Die mense wat in Hand 4:31 so dramaties met die Gees vervul is, was reeds gevestigde gelowiges in Jerusalem. Waarskynlik het van hulle die gebeure op Pinkster beleef — wat sou beteken dat hulle vantevore al sulke ervaringe gehad het.
+ Dit beteken nie dat alle gelowiges tot dieselfde mate vol van die Gees is nie. Geesvervuldheid was immers 'n kwalifikasie vir die apostels se eerste helpers in Jerusalem (Hand 6:3, 5) — wat impliseer dat nie almal in die gemeente tot dieselfde mate vol van die Gees was nie.
+ Dit beteken nie dat 'n bepaalde gelowige altyd tot dieselfde mate vol van die Gees is nie.
= Die apostels is spesiaal deur die Gees in krisissituasies bekragtig. In Hand 4:8 praat Petrus "vol van die Heilige Gees" met die Joodse Raad, en in Hand 13:9 is Paulus "vol van die Heilige Gees" as hy die towenaar, Elimas, bestraf.
In beide gevalle dui die passiewe verlede deelwoorde waarskynlik op spesifieke vervullings met die Gees ter wille van die betrokke situasie se eise.
= Omdat die volheid van die Gees nie sonder meer 'n blywende en onveranderlike gegewe is nie, beveel Ef 5:18 mense wat reeds gelowiges is: "Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul" (OAV).
Die bevelswerkwoord is spesifiek in 'n vorm wat voortgaande handeling beklemtoon. Hierdie is dus 'n oproep om nie onder die invloed van drank nie, maar steeds te waak dat ons onder die invloed, oftewel die heerskappy van die Gees sal leef.
+ Dit beteken nie dat ons nie om die volheid van die Gees hoef te bid nie. Die Skrif leer die teendeel.
= Met handoplegging is daarvoor vir gelowiges gebid: na bekering en die doop (Hand 9:17; 19:6), asook met die oog op dienswerk (1Tim 4:13-14; 5:22; 2Tim 1:6-7).
= Die Here Jesus beveel ons ook uitdruklik om steeds om die volheid van die Gees te bid (Luk 11:5-13).
= Sekerlik was gebed een van die maniere waarop Timoteus sy genadegawe moes aanblaas (2Tim 1:6).
= Die Heidelbergse Kategismus (v&a 116) stel dit só: God gee Sy genade en Sy Heilige Gees "alleen aan diegene ... wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank."
❏ Die verskraalde beskouinge oor die doop met die Gees, vandag so algemeen, dra ellendige pastorale en Godonterende vrug. So gaan dit altyd met simplistiese en eensydige teologiese beklemtonings.
+ In sommige kringe word die doop met die Heilige Gees beperk tot 'n enkele na-bekeringservaring.
= Dis 'n ernstige verskraling van die Gees se werk en doen Hom gevolglik oneer aan. Ook ontneem dit Jesus Christus, die Doper met die Gees, van die eer wat Hom toekom.
= Christene raak enkelvoudig ingestel op 'n spesifieke ervaring. Natuurlik is die Christelike lewe nie sonder sy belewinge nie, maar dis uiters ongesond om op ervaringe te konsentreer. Dit lei dikwels tot ontnugtering. En dit stel mense bloot aan 'n duisternis van misleidinge.
= Oorbeklemtoning van 'n spesifieke na-bekeringservaring veroorsaak 'n onbybelse en pastoraal-skadelike twee-deling onder Christene — die wat hét en die wat níé het nie. Die gevolg is selfbedrog en hoogmoed in sommige, en daarenteen gevoelens van minderwaardigheid in hulle wat kwansuis nog te kort skiet.
1Kor 12 leer presies die teendeel!
= Nee, ons roeping en wedergeboorte, ons geloof en bekering, ons heiligmaking en volharding, ons dienswerk en vrug — alles wat die Christelike lewe uitlig bo die vlakke van tipiese Ou Testamentiese ervaring — is uitdrukkings van die Gees se oorvloedige werkinge in ons.
+ In ander kringe word die doop met die Gees beperk tot die wedergeboorte — of veronderstelde wedergeboorte. Dit lei algemeen tot 'n gearriveerdheid wat nie gereeld met afwagting bid om meerdere en diepere werkinge van die Gees nie.
= Gevolglik bring dit mee dat gelowiges maklik van die Heilige Gees vergeet en in selfgesentreerde en selftevrede gearriveerdheid verstar: Ek is mos nou gered! So word die kerk gestroop van voortdurende geloofsafwagting en die soeke na meerdere en kragtiger werkinge van die Gees.
= In sulke kringe word 'n hartstog dat God verheerlik sal word, en sondaars gered word — dat die koninkryk toenemend sal sal kom — baie skaars.
Vergelyk daarteenoor 'n Geesvervulde Paulus se passie in Rom 9:1-5.
= Dit lê voor die hand dat hierdie verskraling die Gees en die Here Jesus ontneem van die eer wat hulle toekom.
Slot
Die geloofsvaders het méér verstaan as waarvoor hulle dikwels krediet kry:
Heidelbergse Kategismus — Sondag 45
Vraag en antwoord 116
Waarom is die gebed vir die Christene nodig?
Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis (a)
En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee
wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou
daarom bid en daarvoor dank (b).
(a) Ps 50:14. (b) Matt 7:7; Luk 11:9, 13; 1 Thess 5:17.
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E:
[1] Die Griekse voorsetsel kan vertaal word: met, in of deur. Ons bly egter by die gewone vertaling.