PDF WEERGAWE

Augustinus het die Heilige Gees genoem,

die Liefde tussen

die Bruidegom/Minnaar en sy bruid/beminde.

 

Van die mees basiese openbaring oor die Heilige Gees word in Joh 14-16 aangetref (14:16-17; 14:25-26; 15:26-27; 16:7-14). Wie die hoekpenne verwaarloos wat hier ingeslaan word, loop spoedig skeef in sy beskouinge oor die Gees en Sy werk.

            Dis die aand voor die Here Jesus se kruisiging. Hy is alleen saam met Sy dissipels. Hulle weet dramatiese gebeure is op hande. Johannes 12-13 is vol aanduidings dat ingrypende veranderinge op hulle wag. Hulle is daarom diep bekommerd oor die toekoms. Wat gaan van hulle word as Hy nie meer by hulle is nie? Hoe gaan hulle regkom? Hoe gaan hulle hul roeping uitvoer? En hoe op aarde gaan hulle alles onthou wat die Here vir hulle geleer het?

            Die bovertrek staan gevolglik in die teken, nie net van bekommernis nie, maar ook van bemoediging en vertroosting. Kyk hoe troosryk begin Joh 14: "Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My."

            Dan verseker Jesus die dissipels dat Hy sal terugkom om hulle te kom haal, en dat Hy tydens Sy afwesigheid vir hulle plek sal gereed maak by die Vader.

            Maar wat van die periode tussen sy vertrek en sy terugkeer? Beloftes alleen sal hulle nie deurdra nie! Dis hierdie benoudheid van die dissipels wat aangespreek word in die lering wat volg. En in 'n neutedop is die trooswoord: "En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees" (Joh 14:16).

Die Gees is ons Parakleet

#          Vier maal verwys die Here Jesus na die Heilige Gees in die 2020 vertaling as die "Parakleet" (Joh 14:16, 26; 15:26; 16:7). Die NAV vertaal met die "Voorspraak" en die OAV met die "Trooster".

            Die betrokke Griekse woord is die moeilik vertaalbare Parakletos.

            +          Etimologies dui die woord op iemand wat jy roep om langsaan jou te kom staan. Dis verwant aan die werkwoord "om te bemoedig". Die basiese idee is dus die van iemand wat langs jou kom staan met die oog op ondersteuning, bemoediging, hulpverlening.

            In buite-Bybelse Grieks het die woord dikwels 'n regskonnotasie. Dan dui dit op 'n verdediger in 'n hofsaak — 'n advokaat, iemand wat jou bystaan. Vandaar sekere Engelse vertalings: "Helper" (ESV); "Counsellor" (NIV, RSV) en "Advocate" (NEB).

            Nou kan mens sien waarom die 2020 maar by die oorspronklike Griekse woord gehou het.

            +          In die Nuwe Testament word die begrip 5 maal gebruik: 4 maal hier in die bovertrek, asook in 1Joh 2:1 — waar dit na Christus as hemelse Hoëpriester verwys.

            In laasgenoemde het dit waarskynlik 'n regsbetekenis, aangesien die Here vir ons pleit op grond van Sy versoeningswerk waarin Hy aan God se geregtigheidseise voldoen het. Maar in Joh 14-16 is die juridiese afwesig. Die Parakletos word geskets as die dissipels se leermeester (14:26), hulle metgesel (14:16; 16:7) en die een wat hulle bystaan om van en vir die Here te getuig (15:26).

            Uiteindelik moet mens volstaan met die algemene idee van 'n simpatieke en bekwame helper vir diegene wat hulp nodig het — wat dit ook al mag wees.

            +          Deur hierdie begrip te gebruik, wil die Here Jesus dus Sy dissipels bemoedig. Hy druk hulle op die hart dat hulle nie op hulle eie sal wees na Sy vertrek nie. Die Heilige Gees gaan hulle kom bystaan en toerus in elke taak en uitdaging wat op hulle wag.

God se groot gawe

#          In die verse wat die beloftes oor die Gees voorafgaan, gee Jesus as 't ware die fakkel oor aan Sy dissipels. Aangesien Hy na Sy Vader toe gaan, sal húlle vorentoe die werke moet doen wat Hy tot op daardie stadium gedoen het (Joh 14:12). [1] Maar Hy laat hulle nie aan hulle lot oor nie. Deur gebed sal hulle steeds met Hom gemeenskap hê. En Hy belowe om hulle gebede te verhoor ‒ mits dit in Sy Naam gebid word, dus volgens Sy wil en in diens van Sy Koninkryk (14:13-14).

            Hierdie taak wat die Here hulle oplê, mag hulle nie geringskat nie. Daarom, as hulle Hom lief het, moet hulle Hom steeds gehoorsaam (v.15).

            Maar selfs dít is vir hulle te moeilik. Hoe op aarde sal hulle in hul swakheid Hom konsekwent en volhardend kan gehoorsaam? En hier is nou die onmiddelike aanleiding tot die wonderlike belofte van die Heilige Gees. Vir hierdie bedeling sal Hý God se heel grootste gawe aan die gemeente wees. Hý sal hulle in hulle swakheid kom toerus om waardige fakkeldraers te wees — bekwame medewerkers van Christus, getroue getuies van waarheid, skerp sekels vir die afhaal van die oes, skynende ligte in 'n wêreld van duisternis![2]

#          In Joh 14:16 maak Jesus dan 'n belangrike stelling: Hy sal die Vader vra om vir hulle 'n "ander" Parakletos te stuur.

            Grieks het twee woorde wat met "ander" vertaal word. Die eerste (Gr. heteros) dui op iets anders, van 'n ander aard; die tweede (Gr. allos) op iets anders, maar van dieselfde aard — soos in: Hier is 'n perske en hier is 'n ander vrug — 'n appel — nie 'n tennisbal nie.

            Hier in die bovertrek gebruik die Here Jesus laasgenoemde woord, allos, as Hy van die komende Heilige Gees praat. Daar sal dus geen wesensverskil tussen Hom as Helper, en die Heilige Gees as Helper wees nie. Hulle is van dieselfde soort.

            Dit beteken dat die Heilige Gees sou kom as 'n wonderlike en volmaakte plaasvervanger vir Jesus. Hy sou vir die dissipels word wat die Here vir hulle was. Trouens, sê Jesus: "Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur" (Joh 16:7).

            +          Natuurlik is die werk van die Here Jesus en die Heilige Gees nie in alle opsigte dieselfde nie. Die Seun se werk het baie unieke elemente — in die besonder Sy vleeswording en Sy middelaarskap. Ook het die Gees se werk 'n eiesoortigheid. Waar Jesus se bediening beperk was tot een plek en een groep mense, bewoon en bedien die Heilige Gees gelyktydig dermiljoene mense regoor die aarde.

            Tog stem die Seun en die Gees se werk baie ooreen. Beide is leraars vir die dissipels (Joh 7:14; 13:13; 16:13). Beide is waarheidsgetuies voor 'n ongelowige wêreld (Joh 8:14; 15:26). Beide oortuig die wêreld van sonde (Joh 15:24; 16:8-11). En terwyl dit die Heilige Gees is wat in die dissipels kom bly, kom Hy juis om die teenwoordigheid en gemeenskap van die Vader en die Seun te bemiddel (14:23) — sodat Jesus kan sê: "...  Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd" (Matt 28:20). 

#          Waarom sê die Here dat die Gees 'n beter bedeling vir die dissipels sou bring as wat hulle saam met Hom geniet het (16:7)? Dit lê veral in twee waarhede:

            +          Die Heilige Gees verwerklik die volheid van ons erfenis in Christus vir hierdie lewe. Mens hoef net die dissipels se lewens voor en na Pinkster te vergelyk om te besef watter ingrypende verskil Hy kom maak het.

            Nou was daar lig en begrip; hulle het die geheimenisse van die Koninkryk verstaan.         Nou was daar vuur en ywer; hulle het onwrikbaar geweet wie Christus is en wie hulle in Hom is.

            Nou was daar krag; strome van lewende water het uit hulle gevloei.

            Nou was daar 'n nuwe toewyding, gehoorsaamheid en volharding; God se wette is op die tafels van hulle harte gegrafeer.

            +          Die Heilige Gees het nuwe dimensies van gemeenskap met die Drie-enige God gebring. Anders as voor Pinkster geld hierdie gemeenskap nou onafgebroke vir alle dissipels enige plek ter wêreld.

            Daarbenewens het hierdie gemeenskap met die Here verinnig. Meer as ooit tevore kom ware gelowiges se liefdestoewyding nou uit hulle harte.

#          Die gemeente van die Here het dus twee Paraklete, twee Helpers ‒ Jesus Christus in die hemel by die Vader, en die Heilige Gees in die gelowige hier op aarde.

            Hoewel daar 'n groot verskil is tussen hulle onderskeie aktiwiteite, is beide se werk noodsaaklik vir die voortgang van die Koninkryk en die vervolmaking van ons redding.

            Geseënd is die mens wie se saak deur twee súlke Advokate behartig word!

            +          Dis wesentlik belangrik om God nooit op te hou dank vir hierdie twee Paraklete nie — en om steeds bewustelik en begripvol vanuit beide se bediening te leef. Vir redding en godsvrug is die een se werk so onontbeerlik soos die ander s'n.

Die Heilige Gees het gekom om Christus in die middelpunt te plaas.

Dit is Hy wat ons weer en weer teruglei na die eerste een toe.

As Christus genoem word Immanuel, God met ons,

kan ons van die Heilige Gees praat as die Parakleet, Christus met ons.

Die Gees bemiddel God se teenwoordigheid

#          Een van die merkwaardigste openbaringe in die Skrif is die inwoning van die Drie-enige God in gelowiges. In die bovertrek kry dit besondere aandag (Joh 14:15-24). Trouens, dit werp belangrike lig daarop: Dis deur die Heilige Gees wat hierdie inwoning geskied.

            Joh 14:16-17 sê dat die Gees sal kom om by en in die dissipels te wees.

            Joh 14:18 sê dan dat die Here Jesus weer na Sy dissipels sal terugkeer. Weliswaar kan hierdie belofte dui op Sy opstanding, of op Sy wederkoms. Maar waarskynlik praat Hy van Sy terugkeer deur die Heilige Gees. Die hele gedeelte het immers betrekking op hierdie bedeling. Dit word ook deur v.23 bevestig.

            Joh 14:23 belowe dat die Vader en die Seun by die dissipels sal kom woon.

#          Dis belangrik dat ons hierdie fundamentele Skrifopenbaring en belewingsrealiteit reg verstaan. As ons van die Drie-enige God se inwoning praat, moet ons nie ruimtelik dink nie, maar relasioneel. Per slot van rekening is Christus in die hemel by die Vader. En Sy wederkoms is nog toekomstig.

            As die Skrif dus sê dat die Vader en die Seun by ons inwoon, word bedoel dat dit deur die Heilige Gees geskied — en spesifiek dat dit oor die verhouding met die Vader en die Seun gaan.

#          Reeds in die Ou Testament is God se inwoning by Sy kinders — oftewel Sy verhouding met hulle — 'n belangrike tema. Maar dit staan grootliks in die teken van voorlopigheid en die hoop op 'n veel heerliker volheid in die toekoms.

#          Die verbysterende waarheid van God se inwoning en gemeenskap word talle kere in die Nuwe Testament onderstreep.

            +          Die Here Jesus beloof onder meer: "Want waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde" (Matt 18:20). En: "En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd." (Matt 28:20).

            +          Paulus skryf aan die Korintiërs: "Want ons is die tempel van die lewende God — soos God gesê het: 'Ek sal onder hulle woon en saam met hulle wandel; en sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees' " (2Kor 6:16).

            Vergelyk ook 1Kor 6:19; 2Kor 13:5; Kol 1:27; Heb 3:6; 1Joh 4:12.

            +          Dat God se inwoning in die gemeente deur die Heilige Gees geskied, word meermale beklemtoon. Vir die Efesiërs bid die apostel dat die Heilige Gees hulle innerlik sal versterk sodat Christus deur die geloof in hulle harte sal woon (3:16-17). Vergelyk ook Rom 8:9-11; 1Kor 3:16; Ef 2:22.

            +          Let ook op dat bg. Skrifgedeeltes dit duidelik maak — net soos Joh 14:15-24 — dat hierdie inwoning nie net in die gemeente korporatief geskied nie, maar ook van die individuele gelowige waar is (vgl. 1Kor 3:16 en 6:19). Dis waarom die Here, as Hy buite die gemeente van Laodisea staan, 'n beroep op individue kan doen om die deur van gemeenskap vir Hom oop te maak (Op 3:20).

#          Hierdie gemeenskap met die Drie-enige God deur die inwerking van die Heilige Gees is die hart van die ewige lewe en van ons erfenis in Christus. In Sy Hoëpriesterlike gebed stel die Here Jesus dit so: "En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het — Jesus Christus" (Joh 17:3). En om God te ken, is meer as bloot intellektuele begrip; dis ten diepste om met Hom gemeenskap te hê.

            Dit is wat die Here in die laaste gedeelte van Joh 14:19 bedoel as Hy sê dat Sy dissipels sal lewe omdat Hy lewe. Hy sal uit die dood opstaan, na die hemel opvaar en die Heilige Gees op die gemeente uitstort. Gevolglik sal Sy dissipels gemeenskap met God geniet — wat die essensie van ware lewe is.

            +          Ons belewing van gemeenskap met God is nou nog ten dele — hoewel in beginsel reeds onwankelbaar vas. Vervolmaking daarvan sal geskied met die wederkoms van die Here Jesus Christus en ons gepaardgaande verheerliking. Dán sal 'n stem uit die hemel roep: "God se woonplek is by die mense. En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of 'n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan" (Op 21:3-4).

            +          Maar inderdaad smaak ons nou reeds iets van die komende heerlikheid. En dis die Heilige Gees wat dit moontlik maak. Geen wonder nie dat Hy genoem word God se eerste gawe (Gr. aparge; Rom 8:23), asook die waarborg — die deposito en versekering — van ons uiteindelike volle erfenis in Christus (Gr. arraboon; 2Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14).

            +          Hoewel belewing van gemeenskap met God in hierdie lewe nog voorlopig en ten dele is, beteken dit nie ons kan maar selftevrede agteroorsit, sonder om na méér te soek nie. Inteendeel! Die Skrif leer dat God se inwoning 'n groeiende karakter het. En ons móét daaraan werk.

                        ~          In Ef 3:14-21 bid Paulus vir die gemeente in Efese — dus vir gelowiges in wie die Here reeds woon. Tog bid hy dat die Gees hulle innerlik sal versterk sodat Christus deur die geloof in hulle harte sal woon. Hoe bid hy dan vir iets wat reeds waar is?

            In Grieks is daar meer as een woord wat inwoning beteken, onder meer paroikeo en katoikeo. Eersgenoemde woord is 'n swakker begrip: om soos 'n reisiger oor te bly. Maar die tweede woord is veel sterker: Om te vestig en as 'n permanente inwoner te leef.

            Die woord wat Paulus in sy gebed gebruik, is die laasgenoemde, katoikeo. Daarmee impliseer hy dat daar graadverskille is wat Christus se inwoning betref. Sy bede is dus dat die Here al hoe meer in hulle harte sal vestig, dat hulle gemeenskap met Hom steeds inniger sal groei (vgl. Ef 2:19-22, veral die progressiewe karakter van v.21-22).

            Dis soos iemand wat 'n huis koop en intrek. Maar soos hy dit algaande inrig volgens sy smaak, raak hy al hoe meer tuis. Sy huis word sy woning, sy tuiste.

                        ~          Insiggewende lig op hierdie saak vind ons in Op 3:20. Laodisea is op die punt om uitgespoeg te word as hulle hul nie bekeer nie. Tog word hulle steeds as "gemeente" aangespreek (v.14). Die Here Jesus praat dus nie met 'n klomp ongelowiges nie. Tog staan Hy búite. Vers 20 is dan 'n oproep om die deur van gemeenskap weer vir Hom oop te maak.

            Dit gaan oor die verhouding tussen Christus en die gemeente. Die Here Jesus is nie meer die middelpunt van die Laodisense se lewens nie. Hy is nie meer in hulle harte nie — bedoelende dat hulle toewyding aan Hom nie meer uit hulle diepste wese kom nie. Hulle is lou, nie warm nie (v.15-16). Hulle gemeenskap met Hom het grootliks afgekoel. En dís wat reggestel moet word.

            Hoe word die deur oopgemaak? Dit word in v.18-19 beskryf: besef die erns van die situasie en bekeer julle! Wat is die sonde waarvan Laodisea se Christene hulle moet bekeer? Hulle geestelike louheid, hulle ongeërgdheid oor gemeenskap met Christus! (v.15-16).

            Maar let verder op: hulle louheid het 'n oorsaak (die 2020 en OAV is korrek, naamlik dat v.17 met "omdat" of "want" begin). Niks bedroef die Gees gouer as selftevrede hoogmoed nie. Niks laat ons harte gevolglik vinniger afkoel nie. Waarom? Geestelike gearriveerdheid loop altyd hand aan hand met 'n hoë dunk van my eie godsdienstige meriete, en gaan dus altyd gepaard met 'n relativering van die absolute noodsaak van Christus se middelaarswerk. En omdat die Seun se verheerliking die sentrale hartstog van die Gees is (Joh 16:14), sal Hy altyd ernstig aanstoot neem aan so 'n aantasting van die Here Jesus se eer.

            Kortom: dis sónde wat die Heilige Gees bedroef (Ef 4:30) — in die besonder sonde wat die werk en plek van Jesus Christus afwater. Tot die mate wat dit gebeur, tot daardie mate taan die Gees se werk in ons. En tot daardie mate lei ons gemeenskap met die Here skade.

#          Die Christelike geloof het tydlose, universele en onveranderlike waarheid as inhoud. Dit berus op die middelaarswerk van Jesus Christus búite my. Dit het dus 'n baie sterk leerstellige karakter. Maar so noodsaaklik soos die objektiewe aard van ons geloof ook al is, so fataal is dit om te vergeet dat dit gepaard móét gaan met 'n persoonlike liefdesverhouding met die Drie-enige God.

            Terwyl ons dus kompromieloos moet bly aandring op die suiwer leer as lewensbelangrik, mag die belewingsdimensies van ons geloof nooit in die slag bly nie. Dis ewe fataal.

            +          Johannes 14:17 is in hierdie verband betekenisvol. Die Here sê dat die Heilige Gees by die dissipels bly en in hulle sal wees. Hoe moet dit verstaan word? [3]

            "By" suggereer teenwoordigheid en gemeenskaplikheid; terwyl "in" op 'n meer intieme inwoning dui.

            Dis uiters belangrik om beide hierdie waarhede steeds vas te hou. Eensydigheid na enige kant toe lei tot Godonterende en misleidende skeeftrekkings wat helaas dwarsdeur die eeue, maar ook vandag in ons land, tragiese en omvangryke afmetings aanneem.

                        =          Indien God se inwoning deur Sy Gees verwaarloos word, is die gevolg mettertyd 'n droë, rasionele Christenskap. Maar Hy is ook ín my. Daarom word egte Christenskap intens beleef, en is dit nie nét 'n stel idees of beginsels nie.

                        =          Indien net gekonsentreer op die Gees se teenwoordigheid in jou, gly jy spoedig in mistisisme in. Die onderskeid tussen my en die Gees vervaag dan. Spoedig word my eie begeertes en wil vertolk as aandrange van die Gees. Nee, die Heilige Gees is ook buite my. Daar is 'n wesensverskil tussen my en Hom.

#          Les bes mag ons Joh 14:15-24 se aandrange op gehoorsaamheid aan Christus nie miskyk nie (v.15, 21, 23-24). Uitlewing van Sy gebooie, enersyds, en gemeenskap met God, andersyds, is onlosmaaklik verbonde — dit loop hand aan hand. Waarom? Ten diepste omdat die Gees vir beide verantwoordelik is. En Hy gee nie die een sonder die ander nie.

Wil jy dus groeiende gemeenskap met die Here beleef

en Hom steeds behaag en verheerlik?

Positief:

Bid gereeld om die volheid van die Gees,

en jaag dit na om Christus in alles te gehoorsaam.

Negatief:

Waak teen sonde,

dus teen ongehoorsaamheid aan Christus,

aangesien dit die Heilige Gees bedroef,

en gevolglik die verhouding met die Here ernstig vertroebel.

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

W: www.imagodei.co.za 

[1]   Die "groter werke" van Joh 14:12 het te doen met die verkondiging van die evangelie en die inbring van die oes.

[2]    Joh 20:21-23 is betekenisvol. Daar is 'n onverbreekbare kontinuïteit tussen Jesus se sending, en die van die dissipels. En Hy rus hulle toe met die krag van die Gees vir hulle grootse taak.

[3]   Vir meer as een tegniese rede moet ons nie te veel maak van die teenwoordige en toekomstige tye in hierdie uitspraak nie. Lesers kan enige goeie kommentaar hieroor raadpleeg.