PDF WEERGAWE

Dis die aand voor die Here Jesus se kruisiging. In Joh 16:12-13 sê Hy vir Sy dissipels dat daar nog baie dinge is wat Hy vir hulle wil sê, maar dat dit nie kan gebeur vóór die Gees se koms nie. Daar is ten minste twee redes hiervoor:

            Eerstens moet meeste van die Nuwe Testamentiese heilsgebeure nog plaasvind: kruisiging, opstanding, hemelvaart, Pinkster. Wat sal die dissipels nou al daarvan kan begryp?

            Tweedens is die dissipels in elk geval geestelik net té onvolwasse om die verhewe geheimenisse van die Nuwe Verbond te verstaan. Daarvoor is die verligtende werk van die Gees nodig (1Kor 2:10-16; 2Kor 4:3-6).

            Maar die dissipels kry wonderlike beloftes. As die Gees van die waarheid eers gekom het, sal Hy hulle in die volle waarheid inlei. Onmiskenbaar word die inspirasie van die Nuwe Testamentiese openbaring hier geïmpliseer.

Die Gees van die waarheid

#          In Joh 14-16 word drie maal na die Heilige Gees as "die Gees van die waarheid" verwys (14:17; 15:26; 16:13).

            +          Die uitdrukking onderstreep veral dat die Gees die oorsprong van waarheid is. In sy evangelie praat Johannes oor en oor van waarheid. En ten diepste is Christus die waarheid (14:6). Die begrip "die Gees van waarheid" wil dus beklemtoon dat Hy waarheid aan die dissipels gaan kommunikeer ‒ waarheid in die besonder oor die persoon en werk van die Here Jesus Christus.

            +          Wat die Gees dus ook al in die dissipels se lewens sou kom doen, sou wáár en ég wees.

                        =          Hy sou hulle kom inspireer om die Nuwe Testamentiese openbaring te ontvang, op skrif te stel, en die jong gemeentes daarin te vestig. En hierdie waarheidsopenbaring sou algeheel betroubaar wees, en Christus-gesentreerd.

                        =          Hy sou God se voortgaande teenwoordigheid en gemeenskap aan die dissipels bemiddel (14:16-18, 20-21, 23).

                        =          Hy sou ook teenoor die gevalle wêreld kom getuig en in die proses deur die dissipels as oog- en oorgetuies werk. En hierdie getuienis sou die waarheid wees, en Christus-gesentreerd (15:26-27; 16:8-11).

God se Nuwe Testamentiese openbaring

Onthou en verstaan

#          Sekerlik was een van die dissipels se grootste kwellinge in die bovertrek hulle onvermoë om al die lering wat hulle van Jesus ontvang het, te onthou. Wat sou hulle doen as Hy nie meer daar is om te vra nie?

            Maar die Gees sou hierdie probleem aanspreek (14:26) ‒ en die neerslag daarvan vind ons in die evangelies.

            Ons kan aanvaar dat die apostels nie net besondere herinneringshelderheid beleef het tydens hulle prediking en skryfwerk ná Pinkster nie, maar dat hulle ook 'n besondere diepte-insig in die Here Jesus se lering en optrede ontwikkel het.

            +          Dit word duidelik geïllustreer in Joh 2:18-22. As die Jode vir Jesus 'n teken vra, sê Hy hulle moet die tempel afbreek en dan sal Hy dit in drie dae herbou. Die Here praat oor Sy kruisiging en opstanding, maar niemand verstaan wat Hy bedoel nie.

            In v.22 voeg Johannes egter by: "Toe Hy later uit die dood opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woord wat Jesus gespreek het, geglo."

Die afgeslote en genoegsame "volle waarheid"

#          Die Heilige Gees het meer as net 'n herinneringsfunksie gehad. Hy sou die dissipels in "alles onderrig" (14:26), in die "volle waarheid lei" (16:13), en die "die toekomstige dinge" aan hulle "bekend maak" (16:13).

            En inderdaad het die apostels 'n diepte-begrip gekry in die Here Jesus se heilsdade wat ná hierdie aand gevolg het. Algaande is die geheimenisse van die Koninkryk vir hulle oopgebreek. Daarbenewens kry hulle mettertyd verbysterende insigte in God se heerlike toekoms. Hulle kry 'n wonderlike greep op die universeel-reikende omvang van God se verlossingswerk, op die geïntegreerde samehang daarvan, en op die uiteindelike en asemrowende afronding daarvan.

            En so word die apostels instrumente deur wie God Sy besondere openbaring aan die mens tot 'n finale klimaks voer.

#          As Jesus belowe dat die Gees "volle waarheid" vir die dissipels sal leer, dui dit op twee wesensbelangrike en onlosmaaklike waarhede: die afgeslotenheid en genoegsaamheid van die Woord as God se besondere openbaring aan die mens.

            +          Met die afgeslotenheid van God se besondere openbaring word bedoel dat Hy in hierdie bedeling ‒ voor die wederkoms ‒ niks méér aan die mens wil en sal openbaar as wat reeds in die Woord opgeteken is nie: Die Godsopenbaring het in Christus gepiek en as sodanig afgesluit!

            +          Die genoegsaamheid van die Woord volg logies hieruit. As die Nuwe Testament dan God se finale spreke is, is dit noodwendig ook genoegsaam. As Hy dit onnodig ag om meer aan ons te openbaar, het ons sekerlik nie meer nodig nie. Ons het alles om godvrugtig volgens Sy wil en tot Sy eer te lewe, om alles te doen wat Hy van ons verg, en om uiteindelik salig te sterf.

            Dis presies wat die apostel later skryf: "Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak" (2Tim 3:16-17).

            +          Die afgeslotenheid en genoegsaamheid van God se Woord bring enersyds alle aansprake op buite-Bybelse openbaringe ernstig onder verdenking, en andersyds plaas dit voorskrifte vir redding en vir Christen- en kerkwees waarop die Skrif nie aandring nie, buite orde.

            +          Lewensbelangrik soos bogenoemde twee waarhede is, mag dit nie oorspan word nie. Enkele kwalifikasies is daarom nodig:

                        =          Alles wat nodig is om te weet, is nie noodwendig eksplisiet in die Woord beskryf nie. Dikwels is geheiligde denke en ervaringswysheid nodig om dit "uit te myn". Soms moet die kerk dit gesamentlik doen; selfs oor geslagte heen. 'n Goeie voorbeeld is die groot belydenisskrifte van die geskiedenis. 'n Hoë waardering vir historiese kontinuiteit is daarom uiters belangrik vir die kerk wat in waarheid en wysheid wil bly leef.

                        =          Die Skrif is nie álgenoegsaam nie. Dit wil nie 'n ensiklopedie van alle kenbare feite wees nie. Dit is byvoorbeeld nie 'n wiskunde handboek nie. Nee, dit is genoegsaam vir die doel waarvoor dit gegee is. Dit staan vir hierdie bedeling voor die wederkoms in diens van God se heilsplan en die verheerliking van Sy Naam in die lewe van Sy mense en gemeente.

                        =          Dit wil ook nie sê dat daar geen verdere Godsopenbaring in die toekoms sal kom nie. Maar vir híérdie bedeling is dit afgesluit.

            Die heerlikste Godsopenbaring is sekerlik nog toekomstig. Wat 'n openbaring sal die verskyning van ons Here Jesus Christus nie bring nie! (1Pet 1:7-8; 1Joh 3:2; Op 22:4-5).

            Die hiernamaals sal 'n lewe van ewige en onuitputlike ontdekking wees!

Die uniekheid van die apostels

#          In Joh 14:26 word 'n uiters belangrike waarheid geïmpliseer: Die Gees sou die dissipels herinner aan wat hulle by Jesus geleer het.

            Dis 'n belofte wat noodwendig nét op die apostels van toepassing kon wees ‒ hulle wat oog- en oorgetuies van die Here se lewe, lering en werk was (Hand 1:21-22).

            Maar dit het oor meer as herinneringshelderheid gegaan. Die unieke roeping van die apostels ‒ om instrumente te wees vir die Nuwe Testamentiese openbaring ‒ het meegebring dat hulle sekere werkinge van die Gees ervaar het wat gelowiges daarná nooit weer beskore sou wees nie. Afgesien van die direkte openbaringe wat hulle ontvang het, het dit ook bevestigende "tekens en wonders en kragtige dade" ingehou ‒ die dinge "wat 'n apostel kenmerk" (2Kor 12:12; vgl. ook Mark 16:20; Hand 2:22; 14:3; 19:6, 11; Rom 15:18-19; 1Kor 2:4-5; Heb 2:3-4).

            +          Die apostels (en hulle onmiddellike medewerkerskring) se wonderwerke het ten doel gehad om die Goddelike gesag en betroubaarheid van hulle prediking en geskrifte te bekragtig. Dit was God se stempel van gesag op die Nuwe Testamentiese openbaring!

                        =          Wonderwerke gaan in die Bybel konsekwent gepaard met God se gee van openbaring.

            In die Ou Testament was daar twee seisoene van wonderwerke.

            Eerstens, tydens die uittog- en intoggebeure ‒ wat ook 'n tyd van besondere openbaring was: onder meer die Wet en ander geskrifte deur Moses.

            Tweedens, in die tyd van Elia en Elisa ‒ wat ook die aanvang was van die profetiese bediening, waardeur God Sy openbaring in die volgende eeue sou gee.

            Net so word die inspirasie van die Nuwe Testament deur allerlei bonatuurlike werkinge van God gekenmerk.

            +          Sekere aspekte van die Gees se werk was dus beperk tot die apostels en hulle tyd.

            Natuurlik is daar grootliks kontinuïteit tussen die apostoliese en die na-apostoliese kerk; maar as ons die diskontinuïteite verwaarloos, kan dit tot ekstreme en Godonterende uitwasse lei.

                        =          Dit beteken dat ons uiters versigtig moet wees om op 'n simplistiese wyse daarop aan te dring dat alles wat die vroeë kerk ervaar het ook in ons lewens en gemeentes móét plaasvind. Trouens, dis gewoon 'n historiese feit dat die bonatuurlike werkinge van die Gees, waarvan ons in die Nuwe Testament lees, vroeg-vroeg in die kerkgeskiedenis begin opdroog het. En in die lig van bogenoemde hoef ons geensins verbaas daaroor te wees nie. Dis dinge wat eie was aan die apostoliese tydvak.

                        =          Hier lê die diepste rede waarom die regsinnige kerk deur die eeue uiters versigtig was ‒ indien nie summier afwysend nie ‒ oor sommige Christene se aansprake op wonderwerke en allerlei buite-Bybelse openbaringe.[1] En inderdaad het die weiering om die diskontinuïteite tussen die apostoliese en na-apostoliese tydvakke te erken tot baie Godonterende skade en verwarring in die kerkgeskiedenis gelei.

                        =          Sonder twyfel het die boek Handelinge baie riglyne wat tot vandag toe normatief is vir die kerk van Christus. Maar om ongekwalifiseerd te sê dat Handelinge die bloudruk vir kerkwees is, is dwaas. Baie mense redeneer só: Aangesien Handelinge normatief is vir die kerk, is enigiets minder as dit sub-normaal.

            Die waarheid is egter dat Handelinge 'n abnormale en unieke tydvak van die kerk beskryf, waartydens die apostels 'n baie prominente rol gespeel het.

            Sederdien is die normale verloop van sake aansienlik minder triomfantelik en dramaties.

            Eintlik moet 'n deurlees van Handelinge mens reeds tot versigtigheid maan. Die verhaallyn vertoon onmiskenbaar 'n afnemende tendens. Dit begin met Pinkster en drieduisend bekerings; dit eindig met 'n apostel in huisarres. Dis soos 'n rivier wat in hoogvloed is, maar dan geleidelik afloop tot meer beskeie en normale vlakke.

            As mens na die res van die Nuwe Testament kyk, word hierdie waarheid nog sterker onderstreep. Openbaring 2-3 se sewe briewe vertoon feitlik niks van Handelinge se triomfe nie. Trouens, die gemeentes wat geen kritiek by die Here kry nie, maar net lof ‒ Smirna en Filadelfia ‒ is beide arm, swak en vervolg.

            Les bes bevestig die sending- en kerkgeskiedenis bogenoemde vertolking van Skrifgegewens. Dis 'n geskiedenis wat in bloed geskryf is. En baie dikwels was die ware kerk swak en op die rand van uitwissing.

            Sommige se verduideliking hiervoor, naamlik dat dit te wyte was aan die kerk se ongeloof, hou nie steek nie. Van die geskiedenis se grootste geloofsreuse het ook die meeste gely in hulle navolging van Jesus.

            +          Die groot verskil tussen die apostoliese en die na-apostoliese kerk het dus ten diepste te doen met gesag en norm. Die kerk van alle eeue is gebou op "die fondament van die apostels en die profete" (Ef 2:20).

            In die eerste eeu het alles gerus op hulle persoonlik; sederdien rus dit op hulle geskrifte ‒ die gesagvolle, betroubare, genoegsame en universeel-geldende Ou Testament (die profete) en Nuwe Testament (die apostels).

Één Godsopenbaring

#          Meer male het die Here Jesus Sy hoorders verseker dat Sy lering nie bloot Sy eie idees was nie. Dit was openbaring van Sy Vader (Joh 7:17; 12:49; 14:10).

            En presies net so sou die Gees voortgaan: "... Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor ... Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle bekend sal maak. Alles wat die Vader het, is ook myne. Daarom het Ek gesê: Wat Hy van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekend maak" (Joh 16:13-15).

            Waarop sinspeel Jesus hier? Die Vader, die Seun en die Gees praat in volmaakte harmonie met mekaar ‒ hulle praat uit een mond! Hier in die bovertrek gaan dit veral oor die komende Nuwe Testamentiese openbaring, maar uiteraard geld dit vir die ganse Godsopenbaring in Ou en Nuwe Testament.

            Hieruit volg nou 'n paar prinsipiële en praktiese implikasies waarvan die belangrikheid nie oorskat kan word nie:

            +          Die harmonieuse getuienis van al drie persone van die Drie-eenheid beklemtoon die Goddelike gesag van die Woord.

            +          Agter die paar dosyn Ou en Nuwe Testamentiese Bybelskrywers, wat oor meer as 'n duisend jaar en talle kulture versprei is, sit net één Outeur: Die Drie-enige God self!

            Omdat ons kan peil trek op die integriteit en konsekwentheid van die alwetende, alwyse en tydlose God, kan ons aanvaar dat elke gedeelte van die Woord in volle harmonie met elke ander gedeelte is.

            Natuurlik is daar 'n verskeidenheid literatuursoorte in die Bybel, asook 'n openbaringshistoriese ontwikkelingsgang wat verreken moet word, as mens die Skrifboodskap reg wil verstaan. Maar dit bring nie die eenheid in gedrang nie; dit dra by tot die wonder daarvan. En elke verantwoordelike Bybelstudent groei algaande in sy bewondering vir hierdie verbysterende geïntegreerdheid.

            +          Hier lê die begronding van 'n paar uiters belangrike reëls vir Skrifuitleg. Verwaarlosing van hierdie beginsels lei tot 'n duisend dwalinge.

                        =          Om seker te maak ons vertolk 'n bepaalde Skrifuitspraak reg, moet ons dit saam met ander Bybeluitsprake oor dieselfde saak lees. Ons moet Skrif met Skrif vergelyk! Daar staan immers geskryf, én daar staan geskryf.

                        =          Moeilike uitsprake moet verstaan word in die lig van ander makliker en daarom duideliker uitsprake oor dieselfde saak.

                        =          Daar is 'n wonderlike kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Testament. Die Nuwe is vervulling van die Oue; die Oue blom oop in die Nuwe.

                        =          Ou Testamentiese Skrifgedeeltes (veral die profesieë) wat nog deinserig en in mis gehul was vir destyds se mense, moet in die lig van Nuwe Testamentiese helder en uitdruklike openbaring vertolk word — nie omgekeerd nie.

            Laasgenoemde benadering (die Nuwe Testament in die lig van die Ou Testament) lei tot ernstige misverstaan van Nuwe Testamentiese uitsprake (veral die profetiese gedeeltes).

            +          Die aanname in talle teologiese kringe dat gedeeltes van die Bybel bloot 'n neerslag is van die skrywers se eie godsdienstige denke en subjektiewe belewinge, is nie so vanselfsprekend en onskuldig as wat dit vir naïewe ore mag klink nie. Aangesien niemand vir jou kan sê watter gedeeltes van God kom en watter gedeeltes slegs uit die mens is nie ‒ in elk geval is daar geen konsensus hieroor in die hooggeleerde kringe nie ‒ plaas dit die hele Bybel onder verdenking. En as mens nie meer weet wat jy kan glo en wat nie, móét dit jou in totale verwarring en onsekerheid dompel. Dit is presies die vrug van prediking wat nie gelowig met die hele Bybel as 'n geïnspireerde eenheid omgaan nie. Daar is geen logies-konsekwente vastrapplek tussen kinderlike geloof, enersyds, en agnostisisme, andersyds, nie.

Die fokus is Jesus Christus

#          In Joh 16:14-15 sê die Here Jesus twee keer dat die Heilige Gees nét dit sal verkondig wat Hy van die Vader oor die Seun ontvang. Daarmee wil Hy sê dat die Here Jesus se persoon, werk en woorde die onderwerp van die Gees se verkondiging sal wees. En inderdaad is Christus die saambindende tema van die Nuwe Testament.

            Miskien word dit nêrens méér kernagtig gestel as in Heb 1:1 nie: "In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun."

            Daarom was Christus die sentrale tema van apostoliese prediking (vgl. 1Kor 1:17-2:19, veral 1:18, 23-24, 30-31; 2:2).

            En let op die kardinale rol van die Heilige Gees in die verstaan van hierdie prediking ‒ hoe Hy oor en oor in 1Kor 2:10-16 genoem word.

            +          Die Die voorsetsel "uit" in die uitdrukking, "uit wat aan My behoort" (vgl. Joh 16:15 in OAV, wat die Grieks letterlik vertaal; Gr. ek), is van belang.

            Vanselfsprekend is Christus veel groter en meer as wat in die blaaie van die Nuwe Testament opgeteken is. Maar die Gees het vanuit die volle som waarheid oor Hom dít geneem wat vir ons nodig is (vgl. ook NASB).

            Hoewel al die vir ons noodsaaklike waarheid oor Christus geopenbaar is, is dit nie die volledige waarheid oor Hom nie.

#          Dis baie belangrik om te begryp dat Jesus Christus ‒ Sy persoon, lering en werk ‒ die piek, vervolmaking en kulminering van God se openbaring vir hierdie bedeling aan ons is.

            Dis waarom God se besondere openbaring tot 'n einde móés kom ‒ want wat is daar om by hierdie openbaring oor Christus te voeg? Dis soos die boonste spits van 'n piramide: hoër kán dit nie.

            Die apostels het niks bygevoeg by God se afgehandelde openbaring in die vleesgeworde Woord nie. Hulle het dit bloot beskryf, verduidelik, die implikasies daarvan ontwikkel en die gemeente daarin gevestig.

Christus word verheerlik

#          Die Gees se Christusgefokusde getuienis verheerlik die Here Jesus (Joh 16:14). Dis die hart van Sy werk; dis waarom dit destyds vir Hom gegaan het, en steeds gaan.

            Totaal afhanklik soos ons van die Heilige Gees se werk is, is dit so dat Hy in die Nuwe Testament 'n sekondêre plek inneem ‒ asook in elke Nuwe Testamentiese gemeente tot vandag toe.

            J.I. Packer verduidelik dit iewers min of meer só: Sy werk is as 't ware om met 'n kollig op Jesus Christus te lig en in mense se harte te fluister: "Glo in Hóm; kyk, gaan en luister na Hóm; dien en eer Hóm!" In respek kan mens sê dat die Heilige Gees die "skaam Persoon" van die Drie-eenheid is. Hy wil nie in die kalklig wees nie; Hy wil Christus daar hê.

Die tweede Parakletos lei altyd terug na die eerste;

en die eerste kom in die tweede na Sy gemeente terug

(Joh 14:18).

#          Niks bring meer verheerliking vir die Here Jesus hier op aarde nie as dat Sy dissipels hulle hoogste vreugde vind in die "volle waarheid" oor Hom. En dis waaroor die Heilige Gees se werk ten diepste gaan; dis Sy eintlike doel as hy ons innerlik verlig om die Nuwe Testamentiese geheimenisse te begryp.

            Maar dit strek nog verder: soos die evangeliewaarhede oor Christus meer en meer deur die Gees se werk in gelowiges se gemoedere gevestig raak, verander dit hulle lewens ‒ maak dit hulle tot eer van die Here steeds meer Christus-gelykvormig (2Kor 3:18).

            Dis noodwendig so: mens groei in die rigting van jou hoogste verlustiging en agting.

#          Waar die Heilige Gees werk, is Jesus Christus as Profeet, Priester en Koning dus in die sentrum van mense se denke, oortuigings, emosies, toewyding, gehoorsaamheid en verkondiging. Nie alleen het ons hier 'n fundamentele merkteken van outentieke Christenskap nie, dit is die heel eerste lakmoestoets vir die Gees se werk in 'n gegewe situasie. Waar 'n ander gees egter aan 't werk is, is die mens en sy belewinge in die middelpunt (vgl. Joh 7:18).

Die Gees van die waarheid

maak Christus altyd weer vir ons

wysheid van God, en regverdiging, en heiliging, en bevryding

(1Kor 1:30).

><(((*>

Nico van der Walt

T: 082 848 9396

E: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

W: www.imagodei.co.za

[1]   Uiteraard is hierdie 'n veel omvangryker tema as wat ons hier kan bespreek. Ten minste is dit nodig om te sê dat mens met hierdie afwysing geensins wil bevraagteken dat die almagtige God steeds 'n wonderlike hoorder van gebed is nie. Maar as ons dan steeds van tyd tot tyd bo-natuurlike ingrypings van die Here ervaar, is dit tog sekerlik nie die alledaagse reël nie. En ewemin lê dit kwalitatief op dieselfde vlak as die wonders van die Nuwe Testament.