As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God, moet julle mekaar bedien, in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het: As iemand aan die woord is, laat dit soos woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig. Amen. (1Pet 4:10-11)
Daar is geen sprake van egte Christenskap sonder die werk van die Heilige Gees nie. Hy is aktief oor die volle spektrum van 'n Christen se geloof, lewe en belewing. Dit kom onder meer tot uitdrukking in Sy wederbarende, verligtende, versekerende, heiligmakende en toerustende werk. Laasgenoemde is daardie aspekte van die Gees se werk wat die dissipel van Jesus in staat stel om te doen wat hy moet, en om te leef soos hy moet. En 'n belangrike deel hiervan is die gawes van die Gees, oftewel die charismata (Gr. meervoud van charisma). Want dis waarmee ons by uitstek dien.
# Meningsverskil, verwarring en vrae oor ons tema is aan die orde van die dag. Hieraan sal ons egter nie in hierdie studie aandag gee nie. Ons wil bloot met 'n oop gemoed en in breë terme na die Skrifgetuienis oor die charismata kyk. Allereers is 'n onbevooroordeelde aanslag nodig ten einde 'n gebalanseerde Bybelse basis vir kerklike praktyk en beoordeling daar te stel. Ons ignoreer dus huidige vraagstukke ‒ en kyk na die onderwerp asof ons in die eerste eeu leef.
# 1Petrus 4:10-11 sny al die belangrikste fasette oor die saak aan. Ons sal dus bloot 'n klompie sleutelbegrippe in die twee verse bespreek.
"Genadegawe" (Gr. charisma)
# Die Nuwe Testament gebruik die woord 17 maal. Dit dui op 'n gawe of geskenk van genade vanuit God se onverdiende liefde.
+ Verskeie kere word dit in die algemeen gebruik vir die gawe van redding. Byvoorbeeld Rom 6:23: "Want die loon wat die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here".
+ Ten minste 7 keer word dit soos hier in 1Pet 4:10 gebruik:
Die spesiale bekwaamhede wat die verheerlikte Here Jesus Christus
aan elke lid van Sy liggaam deur die werkinge van die Heilige Gees gee
sodat hulle Hom daarmee kan verheerlik deur Sy liggaam op te bou en uit te bou
(Rom 12:6; 1Kor 12:4, 9, 28, 30, 31. Moontlik 1Kor 1:7; 7:7; 1Tim 4:14 en 2Tim 1:6).
# Die belangrikste Skrifgedeeltes wat oor die charismata handel, is Rom 12:3-8; 1Kor 12-14; en Ef 4:7-16 (die woord word nie hier gebruik nie, hoewel dit oor die saak handel).
Hierbenewens word op talle plekke beskryf hoe die geestesgawes beoefen is ‒ veral in Handelinge.
# Ongeveer 18-20 verskillende gawes word in bg. Skrifgedeeltes genoem. Die presiese getal is onseker, omdat verskillende woorde dalk gebruik word om dieselfde gawe te beskryf. Ook is dit nie maklik om presies te weet wat elkeen behels nie.
+ Ons moet dus nie dink in terme van 'n volledige, afgeslote en tegniese lys van gawes nie. Wat genoem word, is tipiese voorbeelde van wat destyds ervaar is. Die Skrif wil bloot by ons tuisbring dat die Here deur Sy Gees op talle maniere in en deur die gemeente werk ‒ soos elke situasie mag vereis.
+ Dis voorts duidelik dat sommige van die gawes ten nouste saamhang met mense se aangebore persoonlikhede (bv. die vermoë om onderrig of leiding te gee), terwyl ander weer bonatuurlik van aard is (bv. die praat in 'n vreemde taal, sonder dat dit vooraf geleer is, of die bediening van 'n wondergenesing).
+ Sommige gawes manifesteer eenmalig (bv. genesing, profesie en kennis), terwyl ander meer blywend van aard is en uiteindelik tot 'n staande bediening in die gemeente kan lei (voorbeelde hiervan is die apostels, profete, evangeliste, herders en leraars van Ef 4:11 ‒ begaafde mense wat dan as persone gawes aan die gemeente word).
# Sonder 'n waarde-oordeel oor hedendaagse verskynsels, kan dít gesê word:
Volgens die Skrif is 'n lewende gemeente per definisie charismaties [1] van aard.
Dis soos my liggaam met sy groot verskeidenheid ledemate
wat elkeen sy eie funksie het.
Die vrye, spontane en polsende beoefening van die priesterskap van alle gelowiges
is eie aan ware, Nuwe Testamentiese kerkwees.
# Christus deel deur Sy Heilige Gees hierdie gawes soewerein uit ‒ aan elkeen soos Hy wil (1Kor 12:11; 18).
"Elkeen"
# Die Skrif beklemtoon dat elkeen wat deel van die liggaam van Christus is, een of meer charismata ontvang (1Kor 7, 11, 18). Dit beteken dat elke dissipel 'n plek en funksie in die gemeente het. Elkeen is nodig; niemand is oortollig nie.
# Hierdie waarheid plaas 'n verantwoordelikheid op sowel lidmaat as voorganger.
'n Domineeskerk waar die voorganger min of meer 'n betaalde amptenaar is en omtrent alles doen, is nie Bybels nie. Voorgangers se taak is om die lidmate vir húlle dienswerk toe te rus (Ef 4:12). Hulle moet die priesterskap van die gelowiges aktief aanmoedig, stimuleer en kanaliseer. Hulle moet hulleself, by wyse van spreke, so gou moontlik probeer oortollig maak. Natuurlik kom dit nie oornag nie, maar leierskap wat nie uiteindelik hierin slaag nie, misluk. Daarom moet lidmate losgelaat word. Hulle moet vertrou word. En die Here moet met hulle vertrou word.
# Bogemelde kan net 'n werklikheid word in gemeentes wat uit ware gelowiges bestaan. Per slot van rekening kan slegs mense wat die Gees ontvang het, in die Bybelse sin van die woord, charismaties toegerus wees.
Dis veral volkskerke vol kultuur-christene wat domineesgemeentes voortbring.
"In ooreenstemming met" (OAV en NAV: "namate")
# Die betrokke Griekse woord dui op kwalitatiewe en kwantitatiewe verskeidenheid. [2]
Sommige is meer begaafd as ander. Party het meer gawes as ander; party se gawes is van 'n meer uitstaande gehalte as die gewone. Nie almal is ewe ervare nie.
Maar ewe belangrik is dit om te beklemtoon dat geen gawe meer verhewe of "geestelik" as 'n ander is nie. In Christus se liggaam is niemand minderwaardig of meerderwaardig nie (1Kor 12:14-25).
In die gemeente van die Here
kom eenheid nie tot uitdrukking in eendersheid nie,
maar in verskeidenheid wat in harmonie funksioneer.
Dis soos 'n simfonie-orkes. Elke instrument het sy eie klank en "sy eie wysie". Maar as almal in harmonie speel, is die gevolg grootser en aangrypender as enige instrument op sy eie.
"Bedien" (Gr. diakoneo)
# Die charismata is nie speelgoed of trofeë nie, maar gereedskap. Dit word vir ons gegee om die Here en ons broers en susters daarmee te dien. Dis presies in lyn met die eenstemmige oproep van die Nuwe Testament, naamlik dat dissipels van Jesus geroep word tot 'n lewe van diens ‒ 'n lewe in belang van ander, veral van medegelowiges.
Wat ons dienende verhouding met die wêreld óm ons betref, lê die hart daarvan in gehoorsaamheid aan die "Groot Opdrag" — wat uiteraard op baie maniere tot uitdrukking kan kom (Matt 28:18-20).
En wat ons verhouding met ons broers en susters betref, is ons "groot opdrag" om diende "voetwassers" te wees (Joh 13:1-17).
# Die laaste vers van 1Kor 12 is belangrik om die apostel se argumentasielyn daar te volg.
+ Dit is so dat die OAV en NAV 'n legitieme vertolking van die Grieks is: "Lê julle toe op die beste genadegawes" (NAV). Dit impliseer dan 'n oproep van die apostel, met die implikasie dat sekere gawes beter en belangriker as ander sou wees. Dit gaan dan voort om te sê dat die liefde eintlik nóg meer uitnemend as selfs hierdie beter gawes is.
Ek meen dit mis die bedoeling van die apostel.
'n Ewe legitieme vertaling sou kon wees: "Maar júlle begeer die groter gawes! Kom ek wys julle egter die uitnemende weg: ..." (sien NIV voetnota). Veeleerder is die 2020-vertaling dus in die kol: "Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg" (2020).
Dit, meen ek, pas baie beter in die hele trant van die drie hoofstukke, asook die res van die brief. Volgens hierdie vertolking wou die Korintiërs in hulle charismatiese beheptheid mekaar na die kroon steek. Hulle was in kompetisie met mekaar. Nee, nee, is Paulus se reaksie dan, die uitnemende pad is om die gawes — watter gawes ook al — in liefde, en onderlinge aanvaarding en respek te beoefen. Voor die Here is een gawe nie belangriker as 'n ander nie — maar dit móét in liefde geskied. Daarenteen, in julle beywering om kwansuis "belangriker gawes" te beoefen, bedroef julle veel eerder die Heilige Gees as om Hom te gehoorsaam!
Nou is die eintlike doel van hoofstuk 13 duidelik: Die gawes moet in liefde beoefen word ‒ agape-liefde wat die broeders en susters se belange hoër ag as jou eie. As dit afwesig is, is alles tevergeefs! Dan speel die orkes nie meer 'n simfonie nie.
Al praat ek die tale
van mense en engele,
maar ek het nie liefde nie,
dan het ek 'n weergalmende ghong a of 'n kletterende simbaal geword.
En al profeteer ek,
en begryp ek alle geheime,
en besit ek alle kennis,
en al het ek al die geloof
om berge te versit, maar ek het nie liefde nie,
is ek niks!
Al deel ek al my besittings uit, en gee ek my liggaam oor,
sodat ek my daarop kan beroem, maar ek het nie liefde nie,
baat dit my niks.
(1Kor 13:1-3) [3]
"Bestuurders" (Gr. oikonomos) (OAV en NAV: "bedienaars")
# Hierdie woord verwys na 'n slaaf wat verantwoordelik was om sy baas se eiendom, huishouding en belange te bestuur.
Van 'n bestuurder is altyd twee dinge waar. Een, hy het 'n bepaalde volmag, binne bepaalde grense. Twee, hy is aanspreeklik vir hoe hy sy taak uitvoer.
Hierdie twee dinge loop altyd hand aan hand — jy kan (durf) nie die een hê sonder die ander nie.
+ As ek 'n plaas sou hê, maar vanweë ander verpligtinge nie daar kan woon nie, stel ek 'n bestuurder aan. Ek sal noodwendig binne bepaalde grense aan hom volmag gee om sekere besluite self te neem. Hy het dus 'n sekere volmag.
Máár hy sal uiteraard aanspreeklik bly en sal gereeld aan my moet verslag doen.
# Elke Christen het baie vryheid oor die aanwending van sy gawes.
Enersyds moet hy self besluit hoe, waar en wanneer hy dit beoefen. Hy moet daaroor bid, sy gawes ontwikkel en duidelikheid kry oor die Here se roepinge in sy lewe (1Tim 4:14; 2Tim 1:6).
Andersyds moet hy versigtig wees om nie die Gees se werk in sy lewe uit te blus nie.
+ Hoewel voorgangers lidmate hierin moet bystaan en aanmoedig, moet hulle ook 'n sekere vryheid geniet. Ten minste mag mense se eie charismatiese verantwoordelikheid nie gemanipuleer en uitgebuit word nie. Dit impliseer egter nie vrye teuels nie. Die Here stel 'n baie hoë premie op goeie orde binne die gemeente.
# Die Nuwe Testament is duidelik daaroor dat elke Christen voor die Here verantwoording sal doen oor sy lewe ‒ wat gewis ook sy charismatiese rentmeesterskap insluit. Baie betekenisvol is 1Kor 3:9-15, waar die apostel skryf oor die Here se uiteindelike beoordeling van ons dienswerk. Hierdie gedeelte handel in die eerste instansie oor die apostels se werk, maar sonder twyfel het dit ook betrekking op elke individuele gelowige.
"Veelvoudige" (genade van God)
# Die sleutel tot hierdie interessante uitdrukking lê in die betekenis van die woord in die Grieks: "veelvoudige". Dit dui op 'n groot verskeidenheid, en in die besonder op 'n ryk en veelkleurige geskakeerdheid.
# Natuurlik was dit nie in Petrus se gedagtes nie, maar dit help ons om hierdie waarheid te verstaan as ons aan die gemeente dink as 'n prisma waarop God se genade vir Christus se liggaam soos 'n bundel wit lig val. As die hele gemeente dan ywerig hulle gawes oor en weer beoefen, word God se genade oop gepoustert tot 'n veelkleurige spektrum ‒ 'n Godverheerlikende skouspel.
Andersom gestel, tot die mate wat lidmate hulle gawes onder 'n maatemmer wegsteek, tot daardie mate bly die realiteit van die Here se genadige betrokkenheid by Sy gemeente verskuild vir ons en vir die ongelowige wêreld.
"Aan die woord is" en "dien" (v. 11)
# Die omvangryke verskeidenheid gawes word hier deur Petrus onderverdeel in twee groot kategorieë: spreek-gawes en doen-gawes.
Hier en daar kry jy iemand wat in beide areas ewe sterk is, maar gewoonlik is ons eerder praters as doeners, of omgekeerd.
Natuurlik moet die praters ook dikwels moue oprol. En die doeners moet ook soms hulle woord doen. Daar is immers so iets soos 'n mens se plig. Maar vir die meeste van ons is daar sekere aktiwiteite wat makliker en meer spontaan kom as ander.
# In beide areas word dit sterk beklemtoon dat ons daarop ingestel moet wees om Gód se woorde en praktiese liefde te bedien. Dit moet dus inderdaad die Hére se genade wees wat deur ons vloei. Uiteraard vereis dit van ons gebed, asook 'n puntenerige versigtigheid om ons dienswerk in harmonie met God se Woord, wil en karakter te beoefen.
+ As Petrus sê dat ons woorde "soos woorde van God" moet wees, bedoel hy waarskynlik daarmee dat ons gesprekke altyd in pas moet wees met dit wat God in Sy Woord sê. Dit moet dus opbou en bemoedig, en nie ligsinnig of afbrekend wees nie.
+ Wat ons dade betref, moet ons "dien vanuit die krag wat God voorsien". Die woord vir "krag" dui eerder op vermoë, as op krag in aksie. Party Christene het té super-geestelike idees oor die gawes ‒ asof ons amper willose stukke gereedskap in die Gees se hande is. Nee! Die Here rus ons toe deur Sy Gees, maar ons bly rentmeesters en volledig en verantwoordelik betrokke.
# Die doel van ons charismatiese aktiwiteit is dat "God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus". Té dikwels word met (sogenaamde) charismata gespog, en gaan dit oor vertoon, sensasie en belewing.
# Dit lei die apostel dan tot 'n lofuiting: "aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig."
Hierdie lof kom God toe tot in die aione van die aione (lett.) ‒ bedelinge vermenigvuldig met bedelinge. Dis die oortreffende trap tot sy hoogste orde gevoer.
# Die lofuiting word met "Amen" afgesluit. Dit beklemtoon die onbetwyfelbare waarheid van wat gesê is. Dis gewis en seker. Dis soos 'n seël van bekragtiging.
Opsommend
1. 'n Deel van God se genade vir die gemeente en die wêreld is aan mý toevertrou. Hierdie genade moet ek verantwoordelik bestuur. Ek moet dit soos 'n goeie slaaf puntenerig bedien. Ek moet dit as 't ware soos 'n goeie kelner smaakvol op die regte bord neersit Ek moet dit soos 'n versigtige posbesteller by die regte adres aflewer.
As ek dit nie doen nie, ontneem ek ander 'n deeltjie van God se genade ‒ wat beteken dat ek 'n slordige en ontroue dienskneg is.
As ek dit egter op die regte manier doen, dra ek my deeltjie by om mense die skouspelagtige skoonheid van God se genade te laat sien.
Dus, of ek praat en of ek doen, laat ek puntenerig toegewyd daarin wees, sodat die Here in en deur Sy gemeente verheerlik kan word.
2. Hier het ons liggaamslewe in 'n neutedop. Dit lê aan die hart van ware kerkwees. En dit is in 'n besondere sin die Here se manier om dinge hier op aarde gedoen te kry en om Homself te verheerlik. Hy werk feitlik altyd middellik ‒ en graagste deur Sy gemeente.
3. Dikwels wonder Christene wat hulle gawes is. Wie onderstaande riglyne volg, sal nie lank hoef te twyfel nie:
+ Soos met alles in jou Christenskap, wees Godgesentreerd en Christusgefokus. Die charismata gaan uiteindelik oor die Here se eer. Fokus dus op Hom, en die res kom asof vanself.
Konsentreer op die Gewer en die ontvanger, nie op die gawes as sodanig nie.
+ Bid oor jou charismatiese begaafdheid, jou plek in die liggaam, en jou roeping. Vertrou die Here om algaande vir jou duidelikheid te gee.
+ Vra jouself die volgende vrae: Wat geniet ek die meeste? Watter soort dienswerk kom vir my amper vanself? Watter leemtes in die gemeente sien ek voor ander raak? Wat kry ek goed gedoen ‒ beter as meeste? Wat is my mede-gelowiges se opinie oor my begaafdheid?
+ Doen wat voorhande is; doen jou plig. Dien jou broers en susters voluit. Wees 'n voetwasser. Eerder as om te vra wat jou gawes is, vra hoe, waar en wie jy kan dien. So sal jy amper vanself jou nis in die gemeente vind.
Mens sien die nood om jou raak deur die bril van jou begaafdheid. Indien die nodige gewilligheid, vrymoedigheid en vryheid bestaan, vul mens die leemtes om jou amper spontaan volgens jou charismatiese bedrading.
+ Onthou: As jy die visie het, het jy die werk.
+ Plaas jouself as 't ware in die pad van die gawes. Gooi jou gewig dáár in waar jy die Heilige Gees sien werk. Raak betrokke waar jy meen die Here genade wil laat aflewer. Val daar in waar jy 'n behoefte sien. Raak betrokke! Wees 'n dienskneg — waar daar ook al behoefte is.
+ Moenie bang wees om in die geloof uit te stap nie. Ondernemingsgeloof word gespel: doen, waag, verwag! Petrus sou nooit op die water geloop het as hy dit nie buite die boot gewaag het nie. Sommige mense is so bang hulle maak foute, dat hulle liewers niks doen nie.
Almal van ons maak soms — nee, dikwels — foute, maar as ons wil sink, is die Here altyd byderhand voordat ons onder die golwe verdwyn.
+ Onthou, dit neem soms jare vir sekere gawes en bedieninge om wasdom te bereik. Ons groei deur oefening, deur studie, deur gebed, deur ondervinding ‒ en deur ons foute.
+ Wag op die Here! Sekere bedieninge kan nie sommer beoefen word nie. Mens moet deur die gemeente daarin gestel word ‒ en voordat die gemeente jou nie roep nie, het jy nog nie die Here se groen lig nie.
+ Maak vrede met jou "nie-gawes". Dít het ons almal ‒ en sommer baie!
+ Ontspan! Wees net jouself. Wees opreg. Wees spontaan. En laat jou broers en susters toe om net hulleself te wees.
+ Les bes, as jou dienswerk en die beoefening van jou gawes nie in liefde geskied nie, beteken dit 'n ronde nul. Positief gestel, as jy jou broers en susters liefhet soos jy moet, sal die charismata amper vanself uit jou vloei ‒ soos uit 'n borrelende fontein.
1Korintiërs 13 is staan nie vir spek en boontjies tussen 1Kor 12 en 14 geskryf nie.
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E:
[1] Let op dat ek dit met 'n kleinlettertjie (c) spel.
[2] Kenneth S. Wuest, Word Studies in the Greek New Testament, Wm. B. Eerdmans, 1942.
[3] Paulus het dus nie sentimentele woorde met die oog op huwelikseremonies geskryf nie!