Video-opnames: https://youtu.be/F5s41l6RSoE (1) https://youtu.be/l0qVQntWJi0 (2)
https://youtu.be/vvHK4GXDVLc (3) https://youtu.be/5hoe7croH4k (4)
2Thess 2:1-12
Wat die koms van ons Here Jesus Christus en ons ontmoeting met Hom betref, vra ons julle, broers, 2om nie skielik kop te verloor en verontrus te word deur 'n geestesuitspraak of 'n woord of 'n brief, wat skynbaar van ons af sou kom, en waarvolgens die dag van die Here reeds aangebreek het nie. 3Laat niemand julle op enige manier op 'n dwaalspoor bring nie;
want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf, 4die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die tempel gaan sit en hom as God voordoen. 5Onthou julle nie dat ek herhaaldelik met julle oor hierdie dinge gepraat het toe ek nog by julle was nie?
6En nou weet julle wat dit is wat hom terughou, om op sy eie tyd geopenbaar te word. 7Want die wetteloosheid is reeds in die geheim aan die werk, maar net totdat hy wat hom nog terughou, uit die weg geruim is. 8En dan sal die wettelose mens geopenbaar word, die een vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis – ja, Hy sal hom deur die glans van sy verskyning vernietig.
9 Deur die werking van Satan, sal die koms van die wettelose mens gepaard gaan met volle magsvertoon, met bedrieglike tekens en wonders, 10en met elke vorm van goddelose misleiding vir hulle wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het om verlos te kan word nie. 11En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, 12en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word.
Inleiding
# Voordat ons na ons teks kyk, wil ek net 'n opmerking oor my aanslag sê.
Daar is honderde boeke oor ons onderwerp op winkelrakke beskikbaar. Alle nuwe Christene is nuuskierig oor ons tema. En wat doen diesulkes dan? Hulle val die eerste die beste Christelike boekwinkel op die hoek binne en spandeer meer as wat hulle behoort op boeke oor die eindtyd. En omdat meeste van hierdie winkels grootliks, indien nie uitsluitlik nie, op winsbejag uit is, is meeste van die boeke op hulle rakke sensasioneel van aard en nie die koopbelasting op die boek se prys werd nie. As daar een area van Christelike oortuiging is waaroor daar 'n veelheid en wye spektrum van oortuigings bestaan, dan is dit die eskatologie. En as mens net op die oog af boeke koop, is jy gou-gou so deurmekaar soos 'n blik vol erdwurms. Ek praat uit persoonlike ervaring.
Selfs as jy alreeds besluit waar jou oortuigings lê m.b.t. hierdie moeilike studieveld (of jy pre- of post- of a- is) is die meeste boeke van 'n meer tematiese aard. Maar dan lees jy eintlik niks meer nie, as wat die betrokke skrywer oor die saak glo.
Daar is net één manier om tot jou eie vaste oortuigings te kom: om by die oog van die fontein te drink. Dus, die Woord self! En jou studiebenadering moet so ver as moontlik 'n eerlike en versigtige omgang met die teks van die Woord self wees.
In hierdie proses wil ek die leser probeer help. Jy sal oplet dat ek baie naby aan die teks van die Skrif self bly – sover moontlik. Ek volg dus 'n detail-eksegetiese benadering. In die proses het ek baie geskep by van die mees betroubare en deeglike eksegete van die afgelope tye.
Maar uiteindelik berus die verantwoordelikheid by elke leser self of hy dit wat volg kan aanvaar of nie. Toets dus elke sin en stelling en konklusie wat volg aan die hand van die Woord.
Maar net 'n laaste opmerking: Ons praat van seker die moeilikste studieveld in die teologie. Daarom skryf ek wat volg met opgehoue asem; alles wat ek sê bly steeds toetsbaar.
Die laaste van die laaste dae
# Die hele bedeling tussen Christus se eerste koms en sy tweede koms word in die Bybel "die laaste dae" genoem. Hierdie lang tydperk word volgens die Woord op 'n baie besondere en klimaktiese wyse afgesluit, direk voordat die Here Jesus terug kom. Kom ons verwys na hierdie laaste tydperk as "die laaste van die laaste dae".
Ons het begin om na hierdie "laaste van die laaste dae" te kyk, en soos ons reeds gesien het, het onder meer die profeet Daniël al eeue voor Christus daaroor geprofeteer. Terwyl ons eintlik die boek van 'n kant af moes deurgewerk het, het ons grootliks net op die laaste hoofstuk daarvan gefokus (Dan 12).
Die Nuwe Testament gee op meer as een plek aandag aan hierdie dramatiese tydperk, maar in die besonder is die briewe aan die Thessalonisense uitstaande, veral 2Thess 2:1-12. En voordat mens Openbaring aanpak moet ten minste hierdie verse eers iets van 'n raamwerk en basis vorm.
Die struktuur van ons teks (2Thess 2:1-12)
# Die gedeelte val uiteen in twee groot paragrawe:
+ Eerstens, Paul se waarskuwing teen dwaalleraars wat hierdie finale drama van die wêreldgeskiedenis betref (2:1-3a).
+ Tweedens, skryf hy in uitdruklike terme oor die afval en rebellie van daardie tyd (2:3b-12).
Hierdie gedeelte verdeel op sy beurt weer in 3 dele.
= Die rebellie en die leier daarvan (v.3b-5).
= Terughouding en loslating van die rebellie – én bemoediging (v.6-8).
= Meer oor die aard en afloop van die rebellie (v.9-12).
Die waarskuwing teen dwaalleraars (2:1-3a)
# Die dwaalleringe in Thessalonika het veral oor die laaste van die laaste dae gegaan: " ... die koms [1] van ons Here Jesus Christus en ons ontmoeting [2] met Hom ..." (v.1).
Aan hierdie saak het die apostel reeds in sy eerste brief aandag gegee (4:13-5:11). [3]
+ Die eerste brief spreek die bekommernis onder die Thessalonisense aan dat die Here Jesus so lank talm om terug te kom. Hulle kwelling was veral die feit dat sommige van hulle alreeds heengegaan het en die vraag gevolglik ontstaan het of diesulkes nie dalk die wonder van die wederkoms sal misloop nie – selfs dalk die voorreg van die opstanding.
+ Hier in die tweede brief spreek die apostel egter 'n omgekeerde kwelling aan – dat Christus alrééds gekom het (v.2).
# Ook op hierdie tweede dwaling reageer Paulus sterk en sonder om doekies om te
draai (v.2): "om nie skielik kop te verloor [4] en verontrus te word [5] deur 'n geestesuitspraak [6] of 'n woord of 'n brief, wat skynbaar van ons af sou kom, en waarvolgens die dag van die Here reeds aangebreek het nie."
+ Duidelik het die vals profete aanspraak gemaak op sogenaamde openbaring(e) deur die Heilige Gees wat hulle kwansuis sou ontvang het – met die implikasie dat húlle uitsprake dieselfde gesag dra as díé van Paulus, en dit selfs kon weerspreek. Dit sinspeel op die charismata waarvan elders in die Nuwe Testament gepraat word.
# Paulus ontken egter kategories wat hulle sê (v.3). Dis 'n "dwaalspoor" [7]
Enkele implikasies op hierdie stadium
1. Die soort charismaties-profetiese aansprake wat die apostel hier aanspreek, is nie nvandag vir ons té vreemd nie, is dit! Waarskynlik het meeste van ons dit al teëgekom – hetsy
persoonlik, hetsy mense wat ons ken. En die internet is vol daarvan.
Afgesien daarvan dat meeste van hierdie aansprake so vaag en in algemene terme gestel word dat die inhoud daarvan beswaarlik in die lig van God se Woord beoordeel kan word, blyk meer spesifieke "voorspellings" soos klokslag vals te wees.
Talle naïewe gelowiges het al ernstig seergekry te wyte aan sulke misleiding. Sommige het selfs al die geloof versaak.
Ergste van alles, is dat ongelowiges – wat noodwendig nie die onderskeidingsvermoë tussen outentieke christenskap en kwasichristenskap het nie – 'n minagting ontwikkel vir die geloof, die Wóórd van die geloof, en die Gód van die geloof.
Daarom is dit so tragies dat mens selde, indien ooit, 'n apologie hoor vir 'n vals "profesie". En het jy al ooit 'n publieke gebed van belydenis daaroor gehoor?
Is dit dus verbasend dat die apostel hierdie verskynsel in Thessalonika in so 'n ernstig-afwysende lig beskou? Dit lyk my dieselfde gesindheid hoort steeds in alle Bybelgelowiges tuis.
2. Daarenteen, op Bybelse, dus geïnspireerde profesieë kan ons peiltrek.
Gaan toets maar die honderde profesieë wat reeds vervul is – en let op hoe eksak dit gebeur het. Kyk na die groot getal messiaanse profesieë wat in Jesus Christus vervul is. En kyk na historiese profesieë wat in die inter-testamentêre en Nuwe Testamentiese tyd wáár geword het.
Persoonlik, soos ek voortgaan om die Skrif en die antieke geskiedenis te lees, vul dit my met al hoe meer verwondering.
3. Getrouheid aan apostoliese lering is steeds, tot vandag toe, die toets van waarheid en waarborg teen misleiding.
Ons praat dus van die normatiewe gesag van sowel die Ou Testament (wat Jesus en die apostels onvoorwaardelik as betroubaar aanvaar en as sodanig aangehaal het – en inderdaad tot 'n groot mate beleef het), asook van die Nuwe Testament (die apostoliese, oftewel die kanoniese geskrifte, asook geskrifte wat medewerkers onder apostoliese leiding geskryf het).
Die ware geloof – en daarom ware gelowiges – staan en val dus by die kwessie van Skrifgesag (én die betroubaarheid én die genoegsaamheid van die Woord).
Dis iets wat baie in die branding is in ons dag. Maar dis 'n hoekpen-beginsel waarvoor ek en jy bereid moet wees om te sterf. Daarsonder is ons immers so koersloos soos kurkproppe op die see! Dan is ons uitgelewer aan, op sy beste deïsme en relativisme.
Die rebellie en die leier daarvan (v.3b-5)
Vers 3b-4
# Waarom is die apostel so verontwaardig?
Omdat die wederkoms níé sal plaasvind voordat "die afvalligheid" [8] nie eers 'n werklikheid word nie (v.3b).
Let op die uitdruklike kwalifikasie, "eers". Die Here Jesus sal níé terugkom voordat dit wat die apostel nou gaan sê, gebeur nie.
Deur die eeue was daar tallose rebellies van 'n gevalle mensheid teen God, maar híér word van iets spesifiek gepraat. Dit word bevestig deur die enkelvoud wat gebruik word.
Die implikasie is dat dit duidelik vir die Christene van daardie dae onderskeibaar sal
wees.
# Wat sal die afvalligheid meebring? 'n Sekere persoon sal verskyn.
Daar word op 2 maniere na hom verwys:
+ Eerstens, is hy "die mens van wetteloosheid" (v.3c).
= Hierdie karakter is die personifikasie van radikale weerstand teen God se Wet. Nog meer, hy sal hom duidelik aan geen gesag of samelewingsorde steur nie. Deur die geskiedenis was dit nog altyd een van díé kenmerke van elke rebel of tiran. Hierdie figuur sal kennelik die ergste van diesulkes wees. Hy sal onaantasbare mag vir homself toe-eien, wat hy inderdaad – veral in die lig van wat hierná van hom gesê word – vir 'n tydlank sal uitoefen.
= Hoewel Paulus nie die woord gebruik nie, word hier onmiskenbaar van dieselfde karakter gepraat as die een wat Johannes "die Antichris" noem. Hy alleen gebruik die woord in die Nuwe Testament (1Joh 2:18; 22; 4:3; 2Joh 7).
Slaan mens die verse na, sien jy dat duidelik ook van vóóraf "antichriste" gepraat word, maar wel dan ook van "die Antichris" (vgl. veral 2:18). Soos dit klokslag met profetiese uitsprake in die Skrif gaan, is daar ook in hierdie geval voorafskaduings – en 'n uiteindelik 'n finale figuur.
+ Tweedens, is hy "die seun van die verderf". [9] Die ESV vertaal baie letterlik, "the son of destruction" (v.3d).
Dit lyk dus asof hy min of meer alle ordes, waardes en tradisies sal sloop – wat noodwendig 'n toestand van bandelose morele anargie sal meebring.
Hy sal die finale Judas Iskariot wees, aangesien Jesus ook van hóm sê dat hy "die seun van die verderf" is (Joh 17:12; sien ook Matt 23:15).
Hierteenoor noem die apostel diegene in Christus "kinders van die lig en kinders van die dag" (1Thess 5:5).
# Wat sal hierdie hierdie "mens van wetteloosheid", hierdie "seun van die verderf" se karakter en optrede karateriseer? Twee dinge word genoem.
+ Eerstens is hy "die een wat teenstand bied [10] en hom verhef oor [11] alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word" (v.4a).
Duidelik sal hy in alliansie met Satan wees – díé groot teenstander. Eintlik sal hy Satan se lakei wees (1Tim 5:14-15). En waaroor sal hy hom verhef? Nie net oor die ware
God[12] nie, maar ook oor alle afgode en vorms van aanbidding (sowel Christelik as heidens).
Sy verwerping sal dus nie nét teen Christene gerig wees nie, maar ook teen alle ander godsdienste wat ter sprake mag wees. Dit beteken dat hy alle, maar álle lojaliteite, verering en aanbidding vir homself sal opeis en afdwing. Daar sal geen godsdiensvryheid van watter aard ook al wees nie.
+ Tweedens sal hy "selfs in die tempel gaan sit en Hom as God voordoen" (v.4c). Dit bevestig ons verstaan van die vorige punt. Hy sal aanbidding van homself opeis en sekerlik afdwing.
Die begrip "voordoen" sê meer as bloot dat hy homself net sal verbeel dat hy God[13] is. Die betrokke woord dra ook die idee van bewys lewer, demonstreer, proklameer.[14] Dit word bevestig deur v.9-10. Hy sal dus nie bloot in sy eie fantasiewêreld leef nie; hy sal inderdaad alle religieuse verering afdwing.
Luister na Lenski: "... the Antichrist's lawlessness is described as being worse than that of the worst pagans." Nadat hy dan verwys na party van die mees afgryslike despote van die antieke geskiedenis, gaan Lenski verder: "... the Antichrist shall be worse, much worse, than these deified rulers".[15]
= Op watter "tempel" word hier gesinspeel? Paulus het meermale van Christus se gemeente as sy "tempel" gepraat (1Kor 3:16; 2Kor 6:16; Ef 2:21). Die implikasie is dan duidelik dat hierdie finale tiran die institusionele kerk sal kaap en verlei in sy diens – hy sal dit as orgaan vir sy bose agenda gebruik.[16]
Indien korrek, sinspeel dit op die verskriklik-subtiele misleiding waaraan Christene in daardie tyd blootgestel sal wees. Was dit nie vir die uitdruklike ontmaskering en waarskuwing hiervan wat 2000 jaar gelede al vir ons in die Woord van God opgeteken is nie – en natuurlik die Here se onwankelbare bewaring van sy bruidsgemeente – sou bloedweinig Christene hierdie noodlottige misleiding kon onderskei en weerstaan.
Hierdie sal 'n verskriklike tyd vir Christene wees, want één van die pynlikste dinge sal wees dat ván diegene wat naby aan ons is, moontlik ook deur die stroom van misleiding meegesleur sal word. Dit laat mens onwillekeurig dink aan die Here Jesus se woorde oor die oomblik van die wederkoms: "Daardie nag sal twee mense op een bed wees – die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word" (Luk 17:34).
Vers 5
# Hierdie vers is maklik verstaanbaar, maar dit lei tot 'n verrassende, maar baie betekenisvolle gevolgtrekking: Ons onderwerp is 'n baie belangrike saak – tot so 'n mate dat Paulus alreeds tydens sy eerste besoek aan Thessalonika dit "herhaaldelik" op die splinternuwe gelowiges se harte wou druk. Volgens Hand 17:1-10 was die apostel self maar baie kort daar, dalk so min soos drie weke, of 'n raps meer.
Dis voor die hand liggend dat hy in hierdie tyd die mees basiese waarhede van die geloof sou wou tuisbring. Hoeveel van óns sou, indien ons in sy posisie was, herhaaldelik 'n moeilike saak soos hierdie hoegenaamd aangesny het – en dan nog "herhaaldelik"?
Dit lyk my dit spreek boekdele!
Nog meer, as dit vir alreeds 2000 jaar gelede vir nuwe dissipels belangrik was om goed oor hierdie komende waarheid ingelig te wees, hoeveel te meer geld dit nie vandag nie?
Persoonlik vind ek as leraar hierdie, vir my nuwe perspektief, beskamend.
# Maar dalk sit in hierdie vers ook 'n ligte vermaning: Onthou julle dan niks van wat ek vir julle gesê het toe ek by julle was nie? Hoe leen julle dan nou sowaar weer julle ore uit aan hierdie beterweteriges?
Sien ons nie ook in óns dae dieselfde ding oor en oor nie. Eerder as om erns te maak met die eenstemmige getuienis van die kerk deur die eeue, gaan mense soos klokslag op loop met dit wat elke lieplapper oor die Bybel weet te sê het.
'n Paar opmerkings oor v.3b-5
1. In my uitleg van die Skrif tot hiertoe het ek ten alle koste probeer om nie sensasioneel te wees nie. Ek het elke teks so goed ek kon en so akkuraat moontlik vanuit die oorspronklike taal eksegeties probeer ontleed – net die teks. In die proses het ek van die mees gerespekteerde kommentare (meer as een) van hoogskundige, verantwoordelike en Bybelgelowige kommentatore geraadpleeg.
2. Let daarop dat ons nie na moeilike en dikwels amper onbegryplike apokaliptiese literatuur kyk nie, maar na gewone op-die-man-af lering. Dit praat reguit en net soos dit is.
3. Die vertolking hierbo is heeltemal in harmonie met wat van die bekendste kerkvaders oor hierdie verse gesê het. Die kommentator, William Hendriksen, haal meer as een van hulle aan.[17]
Onder meer het Augustinus in sy De Civitate Dei geskryf: "There can be no doubt that what is said refers to Antichrist and the day of judgement, or as Paul calls it, the day of the Lord ...".[18]
4. Lees mens ons teksgedeelte saam met die profesieë van Daniël, word dit onmiskenbaar duidelik dat Paulus diep gedrink uit hierdie Ou Testamentiese boek. Hy was per slot van rekening een van destyds se mees briljante en skrifgeleerde Fariseërs – uitnemende studente van die Ou Testament.
Keer op keer werk die apostel met kategorieë uit Daniël – veral met profesieë oor "die klein horing" (Dan 7:8; 7:19-25; 8:9-14; 8:23-27; 9:26-27). In die proses maak hy onmiskenbaar duidelik dat daardie profesieë – wat primêr betrekking gehad het op die Medo-Persiër, Antiogus Epifanes (215–164 vC) – uiteindelik tot volle vervulling sal kom in die "mens van die wetteloosheid" van wie 2Thessalonisense praat.
6. Die Skrif leer duidelik dat die koms van Christus totaal onverwags vir die ongelowige wêreld sal plaasvind – "soos 'n dief in die nag" (1Thess 5:2). In Matt 24:31 sê die Here Jesus: "Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie, en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen."
Hierdie uitsprake moet egter gebalanseer word deur 1Thess 5:4-5a: "Maar julle, broers, is nie in die duisternis nie, sodat díé dag julle nie soos 'n dief sal oorval nie. Julle is immers almal kinders van die lig en kinders van die dag."
Hoe kry mens die kloutjie by die oor? In 'n neutedop: Soos reeds gesê, ware Christene sal in daardie tyd "die afvalligheid" en die "die mens van wetteloosheid" herken as die finale tekens dat die wederkoms op hande is. Ja, hulle sal nie presies dag en datum weet nie, maar hulle sal elke dag met versugting in afwagting daarop bedag wees – in die wete dat die toneel finaal reggeskuif word en dat dit enige oomblik kan plaasvind. Dit is dus voor die hand dat hulle elke dag sal seker maak "hulle tasse is gepak" – geestelik.
9. Terwyl hierdie rebellieleier se haat direk op die ware kerk gefokus sal wees, moet ons verstaan dat hy éíntlik niks anders as net 'n instrument in die Satan se hand sal wees nie. En, ja, Satan haat die kerk – maar ten diepste omdat dit die bruid van Christus is, en die instrument van die Heilige Gees, en die huishouding van die Vader.
Ten diepste speel die drama van die geskiedenis af op die verhoog van die kosmiese stryd tussen Satan en die drie-enige God. Dis Satan se onheilige ambisie om nie net sóós God te wees nie, maar om inderdaad finaal "Díé God" te wees.
Terughouding en loslating van die rebellie – én bemoediging (v.6-8).
# Die apostel spreek nou die vraag aan wat die vorige verse vir seker in sy lesers se gemoedere laat ontstaan het: Wanneer sal dit alles plaasvind; wanneer sal hierdie "mens
van wetteloosheid" verskyn?
+ Paulus antwoord nou die vraag. Dat dit die geval is, blyk duidelik uit sy tydsaanduidings: "nou"; "sy eie tyd" (v.6); "reeds"; "totdat" (v.7); "dan" (v.8).
+ Voordat hierdie "mens van wetteloosheid" uiteindelik verskyn, is twee prosesse alreeds gelyktydig aan't werk: "die wetteloosheid is reeds ... aan die werk" (v.7), maar terselfdertyd word hy "teruggehou".
= Die "wetteloosheid" en rebellie teen God is nog altyd sedert die sondeval af daar. Maar dit gebeur "in die geheim" (v.7); nog subtiel – en op 'n beperkte skaal – omdat dit terug gehou word. Dit sal egter uiteindelik oopbars soos 'n sweer.
Dis presies wat Johannes in 1Joh 2:18; 4:3 skryf: "... nou is daar reeds baie antichriste ...", maar ook, "... die gees van die Antichris van wie julle gehoor het dat hy kom, en wat nou reeds in die wêreld is."
= Die uitdrukking "in die geheim" [19] het in die Nuwe Testament niks met die misterieuse te doen nie. Dit dui op iets wat God verordineer het, maar wat verskuild is vir die mens – in díé sin dus 'n geheimenis. Spesifiek gebruik die Nuwe Testament dit om te praat van 'n waarheidsgeheim wat vir 'n tyd lank onbekend was vir die mens, maar tog wel mettertyd aan ons deur God geopenbaar is.
As sodanig is dit 'n tegniese en gelaaide woord in die Skrif. Kol 1:26 is 'n duidelike voorbeeld van so 'n gebruik van die begrip: "Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy heiliges bekend gemaak."
= Máár nie alle geheimenisse is al ten volle aan ons geopenbaar nie. Hier in v.7 is die wettelose reeds subtiel in ons tyd aan 't werk. Dit is wel herkenbaar vir diegene met onderskeidingsvermoë. Maar die vólle openbaring daarvan is nog toekomstig, wanneer "die wettelose mens geopenbaar word" (v.8).
+ Dan word gesê wánneer die ontknoping van die geheim sal plaasvind. Dit sal gebeur as hierdie terughouding mettertyd "uit die weg geruim is". Dan sal twee dinge gebeur.
= Eerstens sal die "mens van wetteloosheid" "geopenbaar" word.
= Tweedens, sal die "Here Jesus" se "verskyning" en "koms" plaasvind.
# Dit bring ons nou by 'n vraag waaroor daar al baie gewonder is, en waarop die finale antwoord nog nie gegee is nie: Presies wát is dit wat al sedert destyds hierdie finale drama steeds terughou?
Hieroor 'n klompie opmerkings:
+ Die lesers weet wat die antwoord is (v.6). Paulus het dit kennelik vir hulle
gesê toe hy by hulle was. Maar óns weet dit nie.
+ Daar was uiteraard al baie pogings om die vraag oor wat presies vir die huidige weerhouding verantwoordelik is te antwoord. Maar voordat mens verantwoordelik daaroor kan besin, moet jy die volgende stewig vashou:
= Een, dit was die afgelope 2000 jaar effektief om die uitbreek van die finale rebellie te keer.
= Twee, daar word sowel onsydig as manlik na die weerstand verwys: "dit" en "hy" [20] Dit is dus sowel iets as iemand.
= Drie, op die regte tyd sal hierdie "dit" of "hy" verwyder word, en dit sal die laaste fase van hierdie ou wêreld se geskiedenis sneller: eers die openbaring van die Antichris, en dan die openbaring van die Christus.
= Vier, daar moet waarskynlik, bo en behalwe die feit dat die Thessalonisense alreeds geweet het wat die weerhouding is, 'n spesifieke rede wees waarom die apostel in sulke kriptiese terme oor die weerhouding en die verwydering daarvan praat.
+ Stott stel dit só: "The 'restraint' must be socially effective, capable of a personal manifestation, historically removable, and delicate enough to be talked about in whispers and enigmas." [21]
# Daarom, wát is dit wat die finale Antichris terughou om geopenbaar te word – destyds en deur die eeue tot vandag toe?
Natuurlik is die allerantwoord die sowereine regering van God almagtig. Maar Hy werk as 'n reël middelik. Wat of wie gebruik Hy dus?
Die mees algemene en aanvaarbare standpunt kan so gestel word: Dis die wet en orde wat deur die staatsowerheid in 'n samelewing gehandhaaf word.
Hendriksen wys daarop dat hierdie beskouing gerugsteun word deur 'n paar waarhede.[22]
+ Die "mens van wetteloosheid" word teruggehou deur die krag van die wet, oftewel die reg.[23]
+ Dit verklaar hoe Paulus sowel kan praat van dit wat bewaar, sowel as hy wat bewaar. So stel Hendriksen dit: "Think of the empire and the emperor; of justice and the
judge, of law and the one who enforces it."
+ Dit was 'n algemene beskouing van die ou kerkvaders. Onder andere het Tertulianus (155-220 n.C.), byvoorbeeld, die antwoord gesien in die wet en orde wat die Romeinse regering gehandhaaf het.
+ In Rom 13 praat Paulus van die staat of owerheid as "'n dienaar van God tot jou beswil, aangestel om die kwaaddoener te straf" (v.4). En, interessant, selfs dalk betekenisvol, is dat die Romeinse reg steeds grondliggend is aan moderne regstelsels.
+ Ook in óns tyd geld dit soos klokslag: Sodra 'n outokratiese regering greep kry op 'n samelewing, hang dit saam met die sloping van die regstelsel.
Sonder twyfel sal die finale Antichris 'n vernietigende stroper van alle reg en geregtigheid wees.
+ 'n Laaste vraag: As dit wat die apostel hier deurgee eintlik 'n bemoedigende beskouing oor die staat impliseer, waarom praat hy in sulke raaiselagtige terme? Dalk lê die antwoord in die feit dat hy dit eintlik het, nie oor die meriete van die Romeinse regstelsel nie, maar oor die anargistiese regering van 'n komende tiran. En dit sou nie goed geval het op die ore van 'n owerheid wat 'n premie op wet en orde stel nie.[24] En Paulus het sekerlik rekening gehou daarmee dat sy geskrif in die verkeerde hande kon val.
# Die tyd sal egter aanbreek wanneer die terughouding van "die mens van wetteloosheid" (v.3) tot 'n einde sal kom: "Dan sal die wettelose mens geopenbaar word ..." (v.8).
Hier word niks méér oor hierdie karakter gesê as wat ons reeds weet nie. Al wat tog betekenisvol is, is dat dit die derde keer is wat die woord, om te openbaar, [25] gebruik word (v.3, 6, 8).
Paulus wil dus iets hier onderstreep. Hierdie is nie maar net nóg 'n man wat op die toneel sal verskyn nie. Soos reeds gesien sal hy besondere vermoëns hê en 'n ontsaglik belangrike rol speel in die ontvouing, nee, in die kulminering van God se pad met hierdie wêreld en sy bewoners. Die Skrif laat die indruk (net 'n indruk, wat in die toekoms sal blyk hóé korrek) dat hy nie lank sal regeer nie. Maar 'n sentrale karakter tydens die laaste oomblikke van hierdie ou en gevalle wêreld, sal hy gewis wees.
# Die Skrif wil egter hier in v.8 die soeklig op die "Here Jesus" [26] fokus. Dis asof Paulus nie kan wag nie – sommer so in dieselfde asem, in dieselfde sin gaan hy voort: " ... vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis – ja, Hy sal Hom deur die glans van sy verskyning vernietig."
+ Toe Jesus die eerste keer gekom het, was die fokus op sy nederige diensbaarheid – en die veragting en verwerping wat Hy moes verduur. Nou egter sal Hy in sy heerlike majesteit gesien word en optree.
+ Met twee frases word beskryf wat die Hy aan die wettelose sal doen.
= Hy sal hom "uitwis" [27].
= Hy sal hom "vernietig" [28]
+ Opvallend is dat die Here Jesus sy oordele sonder enige inspanning sal voltrek. Hy sal nie eers, by wyse van spreke, 'n hand hoef te lig nie. Hy sal bloot met die "asem van sy mond" en die "glans[29] van sy verskyning[30]" die vonnis te voltrek. Hy sal gewoon oor hom blaas; Hy sal gewoon aan hom sy glansryke heerlikheid vertoon.
Afsluiting van ons bespreking van v.6-8
# In v.6 maak die apostel 'n baie betekenisvolle stelling: Die "mens van wetteloosheid", die "seun van die verderf" word teruggehou "om op sy eie tyd geopenbaar te word."
Die Antichris sal dus nie maar sommer lukraak verskyn nie – nie toevallig "soos die dice val" nie. Nee, néé! Hy sal verskyn sóós en wánneer God soewerein verordineer. Hy het 'n tyd, 'n eie tyd in God se raadsplan!
Die drie-enige God is en bly volkome in beheer die die geskiedenis se verloop. Die wettelose sal presies verskyn soos en wanneer die Here wil. En hy sal nie 'n minuut langer regeer as wat hy toegelaat word nie.
Selfs die verskriklike boosheid van die laaste van die laaste dae, en die onderdrukking van sy gemeente, sal God toelaat. Hoewel gewis nie deel van sy voorgeskrewe wil nie, is dit deel van sy verordeningswil.
Ja, die groot verdrukking sal iets skrikwekkends wees. Vir die Christene sal dit baie dae voel dat die Here alle beheer verloor het. Dit sal lyk asof Satan tóg uiteindelik triomfantelik is na die eeulange stryd.
Maar nee, die vervolging van Christus se kudde sal nie die breek van 'n dam wees nie; dit sal die gekontroleerde uitvloei deur die Groot Besproeingsboer se sluise wees.
+ Ek gebruik doelbewus die beeld van 'n besproeingsboer, want niks is méér nodig en bevorderlik vir 'n oorvloedige oes as oorspoeling deur swaarkry en vervolging nie. Of ons daarvan hou of nie, dit word oor en oor deur die geskiedenis uitgewys.
Daarenteen laat niks 'n oes so vinnig versuip en verrot soos oorstroming deur gemak en gewildheid en welvaart nie. Ook dit staan histories vas.
Op die vasgestelde tyd sal dit wat die Antichris terughou, "uit die weg geruim" word. En dit sal uiters swaar gaan met die Groot Bruidegom se bruid. Maar sy sal mooier word – baie mooier (en dalk heelwat gewig verloor!!!) – as enige tyd tydens die eeulange hofmakingsproses (om die beeld te verander).
# Maar daar is nóg 'n rede – selfs 'n belangriker rede – wáárom die kerk oënskynlik finaal oorrompel en uitgewis sal word in daardie dae. Dis sodat niemand ooit tot in alle ewigheid dit weer sal bevraagteken nie – dat Koning Jesus, en Hy alleen, ja Hy alléén, die almagtige Triomfator van die eeue is.
# Beswaarlik kan ek aan 'n meer gepaste Bybelvers as 1Kor 15:28 dink om hierdie paar verse waarna ons nou gekyk het mee af te sluit: "Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees."
Die einde? Nee, néé! Die eintlike begin!
Meer oor die aard en afloop van die rebellie (v.9-12)
# Nadat hy die Thessalonisense (en ook óns vandag) in v. 8 bemoedig het, keer die apostel nou weer terug na die laaste van laaste dae. In die besonder sit hy die beskrywing van die afvalligheid en die wettelose mens voort.
As v.4 op die Antichris se rebellie teen God fokus, is die klem nou op sy verhouding met die gevalle wêreld.
# Die rebellie sal openlik, duidelik onderskeibaar en op 'n bepaalde tyd na die oppervlak kom. Dit sal tot uitdrukking kom in 'n wêreldwye sloping van menseregte, wet en orde, en godsdiensbeoefening (van watter aard ook al).
Maar nou gaan Paulus voort om die ware dinamika agter die skerms te ontbloot. Verantwoordelik daarvoor sal twee groot en opponerende kragte wees: die onheilige ambisie van "Satan" (v.9) enersyds; en die soewereine regering van "God" andersyds (v.11).
# Dat daar 'n onmiskenbare nabootsing van Christus se wederkoms in die optrede van die wettelose mens sal wees, blyk onmiskenbaar duidelik in hierdie verse.
+ Kennelik doelbewus word dieselfde woord gebruik om óók van die Here se "verskyning" te praat (v.8; vgl. ook 2:1); en óók van die wettelose mens se "koms" (v.9).[31]
+ In 2Thess 1:7 word van Christus se "openbaring" gepraat, en in 2: 3, 6, 8 van die wettelose se openbaring.[32]
+ Christus kom in glans wanneer Hy verskyn (v.8; vgl 1:7, 8), terwyl die wettelose se koms gepaard sal gaan met "volle magsvertoon, met bedrieglike tekens en wonders" (v.9). Beide sal dus met heerlikheid en luister sigbaar wees. Net soos wat Jesus "bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens" wat God deur Hom verrig het (Hand 2:22), so sal die Antichris ook deur die duiwel bekragtig word om 'n "bedrieglike" wonderwerker te wees.
+ Sowel die Antichris se koms, asook Christus se wederkoms, sal persoonlik wees ('n verskyning); onmiskenbaar sigbaar ('n openbaring) en verstommend indrukwekkend (gepaardgaande met die bonatuurlike).
# Sataniese misleiding wat deur die Antichris manifesteer sal massas mense bedrieg. Waarom? Omdat "hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het om verlos te kan word nie" (v.10b).
En let op, dit sal te wyte wees aan hulle halstarrige weiering om "die waarheid" te aanvaar en lief te hê. Soos John Stott sê: "Behind the great deception there lay the great
refusal." [33]
# "En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo (v.11).
Wat is die dwaling? Dis enersyds die rugdraai op die waarheid (v.10, 12); en andersyds 'n omhelsing van die leuen.
+ Wat is die waarheid? Dis God se selfopenbaring in die evangeliewoord – selfs reeds in die algemene openbaring (Rom 1:18-32) – wat tot volle uitdrukking kom in Jesus Christus, as God se groot Profeet, Priester en Koning. En omdat hulle hierdie "waarheid" nie "aanvaar" nie, sal hulle nie "verlos" word nie. Hulle glo nie in Christus nie – en ook dus nie vir en in Gód nie!
+ Wat is die leuen? Dis "elke vorm van goddelose misleiding" (v.10). Dit kom dus op baie maniere tot uitdrukking. En dis reeds embrionaal, maar onmiskenbaar duidelik in die tallose uitmaselings van goddeloosheid deur alle eeue – asook in mense se halstarrige weiering om die evangeliewaarheid lief te hê ten einde gered te word.[34]
# Waarheen lei alles dan uiteindelik? Diegene wat "nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid", sal uiteindelik deur God "veroordeel" word (v.12).
Twee belangrike waarhede wat te dikwels verwaarloos word
# Let op die nóú verband tussen "liefde vir die waarheid" en "om verlos te kan word". Verlossing het onder meer twee attribute: "liefde vir die waarheid" en "liefde vir die waarheid".
Sonder "waarheid" is daar nie verlossing nie. Nooit mond dwaling en die leuen in verlossing uit nie. Ware waarheid – evangeliewaarheid – is 'n voorvereiste. Dis waarom ons die evangelie wêreldwyd moet verkondig
Mens kan egter die evangeliewaarheid van hoek tot kant ken, maar as daar nie liefde voor is nie, is dit te betwyfel of daar verlossing is.
Hoe kom die kloutjie by die oor? In 'n neutedop: Ten díépste begin redding selfs nie by waarheid en liefde sonder meer nie. Dit begin al by uitverkiesing voor die grondlegging van die wêreld (Ef 1:4), en mettertyd by roeping en wedergeboorte in mens se leeftyd (Joh 3:3, 5). En dis hierdie "weer-'n-keer geboorte" wat mens nie net die evangeliewaarheid laat verstaan nie; dit vul jou ook, sonder uitsondering, met 'n hartlike liefde daarvoor en 'n ywer vir die uitdra daarvan.
Ware redding word met kop én hart beleef!
Hierdie fundamentele waarheid word in te veel kringe verwaarloos.
# Let op die fundamentele beginsel wat in v.12 na vore kom. Die teenoorgestelde van geloof in die waarheid, is die "behae ... in die ongeregtigheid".
Hierdie is 'n lewensbelangrike Nuwe Testamentiese waarheid: Die teenoorgestelde van geloof, is liefde vir sonde en ongehoorsaamheid aan God (vgl. Joh 3:36). Anders gestel: Onsigbare geloof word sigbaar in gehoorsaamheid aan Jesus Christus en die najaging van 'n heilige lewe. Waar eersgenoemde teenwoordig is, sal laasgenoemde altyd volg. Waar laasgenoemde afwesig is, is eersgenoemde ook nie daar nie.
Presies dit is hoe Jak 2:24 en Rom 3:28 hand-aan-hand loop: "Julle sien dus dat 'n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie", maar eweneens, "Ons is immers daarvan oortuig dat 'n mens regverdig verklaar word deur die geloof, sonder die uitvoering van die wet".
Geloof wat nie uitgeleef word nie is eenvoudig nie reddende geloof nie!
Slot
God se woord skets in hierdie 12 verse in 2Thess 2 die laaste dae in 3 fases:
Die versameling.
Die verskrikking.
Die verskyning.
Waar is ons op die kalender? Hoe lank nog?
Ons mag wonder. Ons mag ons vermoedens hê.
Maar laat ons steeds konserwatief-versigtig daaroor bly.
Wanneer die wettelose breëbors op die verhoog stap, sal ons weet.
En ons sal nogiets weet:
Op hande is
DIE VERSKYNING.
En om die draai lê die ewige heerlikheid voor,
wanneer God alles in almal sal wees
vir ewig en ewig en ewig!
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E:
W: www.imagodei.co.za
[1] Gr. parousia: 'n teenwoordigheid; 'n koms; 'n aankoms – in die NT 'n tegniese term vir die wederkoms van Christus
[2] Gr. episynagōgēs:'n samekoms, 'n vergadering
[3] Verwys op my webwerf na: www.imagodei.co.za "Langer Studies no.049".
[4] Gr. saleuthēnai: om geskud te word; in die Grieks sit die idee dat hulle sonder meer daarmee moet ophou.
[5] Gr. throeisthai: Gr. om ontsteld, bang, selfs paniekerig te word; die Grieks suggereer dat hulle langer onrustig oor die kwessie moet bly nie.
[6] Gr. pneumatos: lett. uit die gees; of van die gees; hier feitlik vir seker 'n charismatiese openbaring deur die Gees.
[7] Gr. exapatēsē: Dis 'n sterk begrip – om te mislei, plus 'n intensiferende voorvoegsel. Dus: "hulle mislei julle totaal en al!"
[8] Gr. hē apostasia: die rebellie. Lett. 'n rugdraai op 'n voorafgaande standpunt, toestand, orde.
[9] Gr. apōleias: vernietiging.
[10] Gr. ho antikeimenos: om te opponeer, om te weerstaan.
[11] Gr. hyperairomenos epi: 'n Baie sterk uitdrukking: om tot bokant te verhef (verhef met die intensiferende voogvoegsel, hyper, plus nog verder, bo).
[12] Die 2020 sou beter vertaal het met "god", aangesien dit uitdruklik praat van "elke sogenaamde god" (panta legomenon theon)(verwys ESV). Dus word hier gepraat van, ja die lewende God, maar inderdaad ook alle afgode.
[13] Hier meen ek is die hoofletter, G, in die 2020 korrek.
[14] Gr. apodeiknynta: om te vertoon, te demonstreer.
[15] R.C.H. Lenski: The Interpretation of St. Paul's Epistles to the Colossians, to the Thessalonians, to Timothy, to Titus and to Philemon. Augsburg Publishing House, 1937; p.410.
[16] Sonder om nou te motiveer, meen ek dat so 'n verstaan presies deur Openbaring bevestig word as dit van "die dier uit die aarde" of die tweede dier praat (Op 13:11vv).
[17] New Testament Commentary, 1&2 Thessalonians; p.178-179.
[18] XX. xix.
[19] Gr. mystērion : Die basies betekenis in buite-bybelse Grieks: kennis bekend aan ingelyfdes.
[20] Die ESV bring dit korrek na vore: "And you know what is restraining him now (v.6) en "... he who now restrains ..." (v.7).
[21] John R.W. Stott: The Message of Thessalonians, The Bible Speaks Today, Inter-Varsity Press, 1973; p.168.
[22] William Hendriksen: 1&2 Thessalonians, New Testament Commentary, Banner of Truth. p.181-182.
[23] Ek meen dat ons vandag (2021) iets hiervan beleef in Suid-Afrika. Ongeag mens se opinie oor die politiese objektiwiteit van ons regstelsel, staan dit vas dat dit steeds 'n anker is wat ons land bewaar van ernstige verval en selfs anargie.
[24] Daar was wel van die keisers wat aanspraak gemaak het op goddelikheid, selfs hulle het 'n hoë premie gestel op 'n juridies ordelike samelewing.
[25] Gr. apokalyphthēsetai : lett. om 'n bedekking weg te neem – dus, om te ontbloot, om aan die lig te bring.
[26] Gr. Kyrios Iēsous : Uitgespreek "Kurios Jêsoes" (boerefonetiek).
[27] Gr. anelei : Lett. om weggeneem te word – vernietig, vermoor.
[28] Gr. katargēsei : om tot niks te maak, om te vernietig. Vine voeg egter by: "not loss of being is implied, but loss of well being." Maar vir seker is daar geen erger lot denkbaar nie.
[29] Gr. epiphaneia : 'n glansryke manifestasie
[30] Gr. parousias : 'n teenwoordigheid; 'n koms; 'n aankoms – in die NT 'n tegniese term vir die wederkoms van Christus. Die begrip word 3x in hierdie perikoop gebruik (v.1, 8, 9). Ook in 1Thess 2:19; 3:13; 4:15; 5:23.
[31] Gr. parousia. in al 3 verse.
[32] Gr. apokalupsis in al 4 verse.
[33] The Message of Thessalonians, p.172.
[34] Ek meen die ESV vat v.10 reg vas.