Video-opnames:
Jes 6:3
Hulle het na mekaar geroep en gesê: "Heilig, heilig, heilig is die HERE, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid."
Van al God se attribute wat in die Skrif genoem word, is Sy heiligheid die enigste wat, by wyse van spreke, tot die mag drie verhef word. In sowel die Ou Testament as die Nuwe Testament roep die engele van God uit dat Hy "heilig, heilig, heilig" is (Jes 6:3; Op 4:8).
In die Skrif vind mens dat God se heiligheid as 't ware Sy ander karaktertrekke versier. Van elke attribuut kan mens sê dat dit heilig is. Dit sou gesê kan word dat dit meer as enigiets anders die skoonheid van die Here God se wese is.
Keer op keer, as mense in die Bybel 'n besondere ervaring van God se persoon en karakter beleef het, was hulle oorweldigend onder die indruk die van Sy heiligheid – hoewel sy heiligheid nie altyd uitdruklik genoem word nie. Dink maar aan die ervarings van Moses, Job, Jesaja, Esegiël, Paulus en Johannes.
Dit word bevestig deur die ondervindings van duisende mense deur die kerkgeskiedenis – veral die wat die voorreg gehad het om herlewings te beleef.
Mens ken God slegs tot die mate wat jy Hom in Sy heiligheid ken – nie meer nie.
Die begrip "heilig" in die Bybel
# Geleerdes is nie honderd persent eenstemmig oor die betekenis van die Hebreeuse woord (qadosh) wat ons met "heilig" of "heiligheid" vertaal nie.
Sommige meen dit kom van 'n Babiloniese wortel wat beteken om te skyn. Dit sou dan die verband tussen God se heiligheid en Sy heerlikheid beklemtoon – en veral sy morele volmaaktheid.
Uiteraard is so 'n vertolking volledig in pas met wat die Skrif oor God leer.
# Waarskynlik is dit egter korrek om soos die meeste geleerdes die begrip eerder in verband te bring met 'n Semitiese wortel wat dui op sny, skei, afsonder, eenkant sit.
Kyk mens hoe die begrip in die Ou Testament gebruik word, bevestig dit eerder hierdie vertolking – naamlik dat heiligheid op afsondering of afskeiding dui.
So word die woord dan gebruik om onder meer kledingstukke (Eks 28:2), plekke (Eks 29:31), aanbiddingstoebehore (1Kon 8:4) en instrumente (Num 31:6) te beskryf – dat dit afgesonder is vir God, afgeskei van die besoedeling van 'n gevalle wêreld. Die begrip kwalifiseer ook sekere dae en feeste.
Uiteraard het hierdie dinge se heiligheid niks te doen met morele reinheid nie. Dit beteken gewoon dat dit toegewy is aan, of afgesonder is vir die Here.
Hierdie vertolking word voorts bevestig as mens daarop let dat die begrip dwarsdeur die Bybel dui op die teenoorgestelde van die gewone en die alledaagse. So byvoorbeeld sê die Here in Lev 20:26 dat Hy Sy volk afgesonder het van die heidenvolkere om hulle. En in Eseg 22:26 word die priesters verwyt, omdat hulle die heilige dinge ontheilig deur geen onderskeid te maak tussen dit wat gewyd en dit wat nie gewyd is nie.
God se heiligheid dui op Sy afsondering:
Sy transendensie, Sy verhewenheid bo Sy skepping, Sy gansandersheid.
Hy is vergelykbaar met niks of niemand anders nie.
Hy is in 'n klas van Sy eie – volkome uniek.
Hy leef buite die sfeer van die menslikgewone en begryplike.
Hy is verhewe en onpeilbaar.
God is volkome in Homself, van niemand afhanklik nie, ver bó alles in ewige, oneindige heerlikheid en majesteit. Hy is heilig, heilig, heilig!
Dis presies waarop Jes 40:25 sinspeel: "Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige."
# Bogenoemde beteken nie dat die begrip nie ook morele implikasies het nie – inderdaad het dit.
Positief dui dit op etiese suiwerheid en volmaaktheid.
Negatief dui dit op die afwesigheid van enige sonde, op afgeskeidenheid daarvan.
Só sterk word God se morele heiligheid in die Skrif beklemtoon, dat dit, ten spyte van wat hierbo gesê is, dalk tog voorop is in die Skrifopenbaring van Sy heiligheid.
Die Here God is die somtotaal van alle morele skoonheid. Hy is volmaak in karakter, motiewe, gesindhede, woorde en dade. Hy is volmaak in wat Hy doen, en wat Hy níé doen nie. Hy is dus van ewigheid tot ewigheid volkome en absoluut afgeskei van sonde, en vry van enige morele onsuiwerheid.
# Veral is dit belangrik dat ons aan sowel sy transendensie[1] as sy immanensie[2] vashou in ons verstaan van hierdie karaktertrek. God is nie net bokant ons nie, Hy leef ook tussen Sy kinders; trouens deur Sy Gees ín hulle.
Jesaja 57:15 bring dit sterk na vore: "So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ’n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes."
+ As God se heilige transendensie ten koste van Sy immanensie oorbeklemtoon word, lei dit tot 'n amper deïstiese Godsbeeld. Dan beleef mense Hom as 'n veraf en onbetrokke God.
+ As, aan die ander kant, God se immanensie ten koste van Sy transendensie oorbeklemtoon word, lei dit tot 'n sondige familiariteit met Hom. Spoedig begin mense dan met Hom omgaan asof Hy hulle tjom is, selfs hulle lakei.
Wesenstrekke van God se morele heiligheid
God is ewig heilig in Sy wese, in Sy natuur.
Hy kan nooit meer of minder heilig wees as tans nie. Was hy 'n honderd jaar gelede heiliger as nou, of sou Hy oor 'n eeu meer heilig wees as nou, is Hy tans nie absoluut heilig nie. Nee, Hy is van ewigheid tot ewigheid volmaak heilig.
Sy Woord, Sy Persoon, Sy spreke en swye is heilig. Dit dra die stempel van heiligheid; adem dit; en bevorder dit (Ps 119:140; 12:7). Sy dade en nalatings is heilig (Ps 145:17). God is heilig, heilig, heilig!
God se heiligheid is oorspronklik.
Hy het Sy heiligheid nêrens anders gekry nie. Hy slaag nie 'n volmaaktheidstoets wat van buite af op Hom aangelê word nie. Hy en Hy alleen is van ewigheid af die wese en norm van heiligheid. Wat God is, is per definisie heilig en so sal dit tot in ewigheid wees.
As sodanig is God die oorsprong van alle ander uitdrukkings van heiligheid (Lev 20:8; Jk 1:17) – selfs al is dit tans, in die geval van die mens vanweë menslike gebrokenheid nie volmaak nie. Maar dit is tydelik. Ook die mens in Christus se ewige toekoms is een van absolute heiligheid.
God se heiligheid is uniek, en ons s'n as gelowiges relatief.
Dit is so dat ons opgeroep word tot 'n heilige lewe. Maar geen skepsel kan ooit die volkomenheid van God se standaarde bereik nie (1Sam 2:2).
Meer nog, afgesien van ons gebrokenheid in hierdie lewe, wissel ons relatiewe heiligheid as gelowiges ook steeds van oomblik tot oomblik. Maar laat ons nooit ophou dankbaar wees nie, aangesien die Here belowe om Sy uitverkorenes enduit te lei en te bewaar.
Die Skrif leer ons dat die verlostes in hulle verheerlikte staat aan Jesus Christus gelyk sal wees (1Joh 3:2). Dit geld egter net Sy menslike volmaaktheid (Fil 3:20-21). Hy is immers ook volkome God, maar die verlostes bly tot in ewigheid skepsele.
Teologiese, morele en praktiese implikasies van God se heiligheid
1. Die Bybel gebruik baie sterk simboliek om sowel God se heiligheid as sy afsku van sonde te beklemtoon.
# Veral tydens die woestyntrek van Israel word God se heiligheid besonder sterk beklemtoon.
Neem byvoorbeeld die voorhangsel in die tabernakel. Die ark daaragter, simbool van God se heilige teenwoordigheid in die midde van Sy volk, was totaal ontoeganklik. Slegs die Hoëpriester kon eenmaal per jaar toetree tot die allerheiligste. Hy moes met die offerbloed by hom, op sy gesig onder deur die swaar gordyn kruip om die bloed op die versoendeksel te gaan sprinkel ten einde vir die volk versoening te doen. En sonder twyfel was dit elke keer 'n skrikwekkende ervaring vir hom.
Toe die Here by Sinaï afgekom het om Hom en Sy wil aan die volk te openbaar, moes Moses die berg afsper om die volk op 'n afstand te hou.
En toe Israel die Beloofde Land binnegaan, moes hulle agter die verbondsark aantrek – maar nie nader as 'n duisend tree daaraan kom nie (Jos 3:4).
Die doel van al hierdie voorskrifte was om by die volk in te prent dat God heilig is, en dat Hy die sonde wat aan mense kleef geensins sal duld nie.
# Om God se afsku van sonde uit te druk, word sterk in die Ou Testament beklemtoon. Meermale word gesê dat Hy sondaars sal "uitspoeg" (vgl bv. Lev 18:25-28; 20:22). Die Hebreeus beteken eintlik om te braak. Om op te gooi, is waarskynlik die liggaam se heel sterkste reaksie teen iets wat jy verwerp.
Ook die Nuwe Testament, ná Christus se versoeningswerk, beklemtoon hierdie waarheid op 'n treffende wyse. Betekenisvol is Openb 3:15-16 – en skrikaanjaend. Die Here Jesus waarsku die gemeente van Laodisea dat Hy hulle sal uitspoeg as hulle hul nie van louheid bekeer nie (ook die Griekse woord beteken om te braak).
Die Bybelse boodskap is dus duidelik: Die Here kan sonde, huigelagtigheid en louheid hoegenaamd nie verdra nie – Hy kan dit, trouens, nie inhou nie. Nee, Hy eis heilige gehoorsaamheid, ywer en vuurwarm harte van Sy gemeente.
2. God kan nie afsydig staan teenoor sonde nie. Hy móét dit straf.
Die mens se sonde is algeheel onversoenbaar met God se persoon en karakter. As Hy sou ophou om sonde te haat, sou Hy ophou om heilig te wees. En as Hy sou ophou om heilig te wees, sal Hy ophou om God te wees. Afsydigheid teenoor sonde sou neerkom op kondonering daarvan, aangesien Hy alwetend en almagtig is. Dit sou morele onvolmaaktheid beteken.
Heiligheid en sonde is per definisie onversoenbaar.
Aangesien geen mens algeheel vry van sonde is nie, kan niemand God sien en bly lewe nie. Ja, as jy baie toegewyd lewe, mag jy begenadig word om soos Moses Hom "van agter" te sien. Want: "Niemand mag my gesig sien nie" (Eks 33:20-23).
Ten spyte van bogenoemde het enkele begenadigdes al iets van die driemaal heilige God gesien. Vir almal van hulle was dit ‘n amper vernietigende ervaring wat 'n onuitwisbare indruk gelaat het. Dink maar aan Moses (Eks 3:6), Jesaja (Jes 6:5), Job (Job 42:6), Esegiël (1:28), Daniël (Dan 10:9) en Johannes (Op 1:17).
3. 'n Heilige God kan nooit tevrede wees met ons eie, onafhanklike pogings om Hom te behaag nie.
# Beswaarlik kan 'n mens méér aanmatig voor God wees, as om te dink dat jy deur jou goeie werke gered kan word nie.
Geen eie menslike poging, hoe edel en opreg ook al, kan aan 'n heilige God se volmaakte standaarde voldoen nie. Dit kan nie ons skuld uitdelg nie. En dit kan nie die afstootlikheid van sonde voor Hom bedek nie.
Baie grafies stel Jes 64:6 dit só: Bloot menslik-godsdienstigheid, met die idee om God se guns daarmee te wen, is "soos 'n besoedelde kledingstuk" (2020). In 'n voetnota word dan verduidelik dat die Hebreeuse woord verwys na die doeke wat 'n vrou een maal per maand weggooi.
+ 'n Man wat op eie werke en verdienste staat gemaak het om gered te word, was Kornelius. Sy uitsonderlike vroomheid word só beskryf: "Hy, en sy hele huis, was godsdienstig en godvresend, het baie liefdadigheid aan die volk bewys en gereeld tot God gebid" (Hand 10:2).
Maar hy was op die trapmeul van eie verdienste. Hy het Jesus Christus nie werklik as Verlosser geken nie. Die Skrif sê immers uitdruklik dat hy nie gered was nie (11:14). Daarom was dit nodig dat Petrus eers die evangelie van God se vrye genade in Christus aan hom moes verkondig – wat Kornelius toe in die Here se genade omhels het. Hy is gevolglik gered, en het daarna sy geloof bely deur hom te laat doop.
+ Ook Fil 3 is insiggewend: As Fariseër het Paulus weergalose godsdienstige ywer gehad (v.4-6). Tog beskou hy na sy bekering tot Christus hierdie pogings om die saligheid te verdien as "vullis" (v.8; 2020). Nee, sê hy, al wat saak maak, is om in Hom gevind te word, nie met eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met dit wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof (v.9).
"Ons is die besnydenis" – m.a.w. die ware Godsvolk – ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op Christus Jesus beroem, en nie op liggaamlike dinge vertrou nie (v.3).
# Uit bogenoemde volg dat 'n godsdiens van gepoogde verlossing deur eie werke nie net onaanvaarbaar vir God is nie, maar inderdaad afstootlik. Dit stink van menslike selfbedrog, voorbarigheid en arrogansie. En dit skat God se heiligheid gering – want dit maak daarop aanspraak dat dit inderdaad self aan Sy standaarde kan voldoen.
Dwarsdeur die Skrif verwerp God sonder meer alle selftevrede godsdienstige praktyke.[3] Die goeie werke waarop Hy elke keer aandring, is die uitvloeisels van nederige harte wat rééds deur Hom herskep is, wat diep dankbaar is vir Sy groot verlossing, wat Hom wil behaag oor ontvange genade, en wat Sy eer bo alles soek.
Nêrens word hierdie fundamentele waarheid met groter erns beklemtoon as in die Galasiërbrief nie. Selfs 'n mespunt eie verdienste wat daarop aanspraak maak dat dit Christus se middelaarswerk aanvul, soos seremoniële besnydenis (Hand 15:1), is diskwalifiserend vir redding (Gal 5:2-4).
Hier is ons ook by die diepste rede vir die Here Jesus se veroordeling van die huigelagtige godsdienstigheid van Sy dag. Hy kon rustig saam met prostitute en tollenaars eet (hulle het immers geweet hulle is sondaars), maar nooit was Hy skerper in Sy woorde as in Sy talle konfrontasies met die Fariseërs en skrifgeleerdes nie.
Vergelyk Matt 23, veral v.8-12, asook die opeenstapeling van weë-uitsprake.
4. Die Christelike geloof verskil radikaal en wesentlik van alle godsdienste.
Die evangelie is die goeie nuus dat God in Christus afbuig om onverdienstelike sondaars soewerein te red.
Daarenteen is al die godsdienste se boodskap dat die mens teen 'n leer van menslike verdienste na God toe moet opklim – op die sporte van moraliteit en seremonies.
Een van die grootste godsdienste van ons dag is Churchianity – bloot formalistiese gewoonte-kerkgang en vroomheid van mense wat hulle vertroue stel in eie godsdienstige verdienste en kerklike rituele. En dis minder as niks werd voor die Here; trouens, dis diskwalifiserend.
Hoe opreg mense se religieuse pogings ook al is, God se oordeel rus op hierdie godsdienstige en vroom "Christene" en al hulle religieuse pogings. Nee, niemand sal ánders as deur soewereine genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen gered word nie!
5. Net 'n volkome heilige Middelaar-mens kan God se heiligheid bevredig en ons met Hom versoen.
God oorbrug die kloof tussen Sy heiligheid en die mens se sondigheid deur 'n Middelaar en Plaasvervanger in die Persoon van Sy Seun te voorsien – die mens-geworde Christus Jesus.
Die Seun het Homself volkome kom identifiseer met die sondegevalle mens toe Hyself mens geword het; daarbenewens het Hy as mens hier op aarde volkome heilig voor Sy Hemelse Vader geleef. Die díé geregtigheid en gehoorsaamheid wat aan elkeen toegereken word wat sy volle vertroue in Christus se verdienste alleen stel.
6. Wat beklemtoon die Drie-enige God se ononderhandelbare agting vir Sy eie heilige karakter en standaarde méér, as die prys wat Hy bereid was om vir die handhawing daarvan te betaal?
Eers as dit teen die dekor van God se heiligheid en toorn verstaan word, word Christus-begrip wat dit moet wees.
Ook ons moet saam met Paulus uitroep: "Ek het besluit om by julle van niks anders te weet nie as van Jesus Christus, en Hom as gekruisigde" (1Kor 2:2).
+ Te veel predikers verstaan onder Christus-prediking 'n bloot eensydig simplistiese en moralistiese verkondiging van Jesus se voorbeeld vir ons, en God se aanneming van alle sondaars in Hom – sonder om die agtergrond en motivering vir die kruis te verreken. Dan word hulle boodskap onvermydelik 'n goedkoop evangelie: "Moenie bekommerd wees nie; Jesus het vir ons almal gesterf; alles sal wonderlik uitwerk!"
+ As vergiffenis in die normale gang van sake een van die maklikste van ons pligte is, is vergiffenis – in respek gestel – sekerlik God se heel grootste "probleem" (natúúrlik het Hy geen probleem nie!). Hoe kry Hy die sondaars gered wat Hy van voor die grondlegging van die aarde af innig lief het, sonder om Sy heiligheid en toorn geweld aan te doen? In die woorde van Jes 45:21: Hoe kan Hy terselfdertyd 'n regverdige én 'n reddende God wees?
Ons het dit hieroor gehad hierbo, en die leser ken die antwoord goed, nie waar nie. Maar dit mag dit nooit vir ons 'n gemeenplaas word nie. God het – mag ek dit nogeens beklemtoon – in die persoon van Sy geliefde Seun Sélf Sy onmeetlike aanstoot en toorn teen ons sonde kom verduur. Jesus Christus het as ons strafdraende Plaasvervanger op Golgota gesterf.[4] In daardie paar uur het God se verskriklike toorn oor die sonde van miljoene mense deur die eeue op Hom ingebrand!
Só sien ons op Golgota God se wonderlike liefde vir Sy uitverkorenes, enersyds, en Sy skrikwekkende toorn oor hulle sondes, andersyds, in 'n intieme omhelsing.
+ Nou mag die vraag ontstaan, het Hy dan sondegevalle mense méér lief as Sy eie Seun? Nee! Natuurlik nie. Maar die Vader het geweet dat Sy Seun – anders as gewone mense – die oordeel van die kruis sou kon verdra, sonder om finaal onder dit te vergaan. In elk geval sou die Vader, sonder om Sy geregtigheid geweld aan te doen, Sy sondelose Seun weer kom opwek uit die dood.
Trouens, die vernedering van sy menswording en onbedinkbare lyding wat daarmee gepaard gegaan het, was die bruidskat wat die Here Jesus meer as gewillig betaal het vir die wonderlikste van skatte: 'n Bruidsgemeente vanuit alle eeue en vanuit alle nasies!
Tot die mate wat mens rekening hou met God se heiligheid, tot daardie mate sal dit ingrypende effekte ten goede op en in jou hê.
1. Een van die eerste effekte is dat die vrese van die Here in jou begin vestig.
Dit dring jou om die heiligmaking te begin nanajaag. En dis lewensveranderend. Dit help mens om die futiliteit van ons godsdienstigheid as begronding van redding des te beter te begryp. As sodanig laat dit ons groei in dankbaarheid vir genade en maak dit ons beter diensknegte en aanbidders.
Dis baie belangrik, want die gevaar van afgodery staar ons steeds in die gesig. As ek 'n God volgens my eie onheilige en vleeslike voorkeure optower, begin ek 'n God volgens mý beeld aanbid. En dis rou afgodery!
Só gesien, pak die skrik jou beet oor die toestand van groot dele van dit wat deurgaan as die kerk. Want soveel "goeie Christenmense" hou vandag beswaarlik rekening met God se heiligheid en die geweldige implikasies daarvan. Tot so 'n mate neem mense aanstoot aan die Bybelse Godsopenbaring – omdat hulle Godsbeeld dié van 'n bloot gemoedelike oupa is – dat baie predikers nie meer kans sien om die feit en implikasies daarvan te preek nie.
2. Vanuit bogemelde vrese van die Here volg dat selftevredenheid verplaas word deur 'n diepgaande bewussyn van sondigheid en geringheid.
Diep en blywende verskuiwings vind plaas in sulke mense se innerlike en hulle word nederiger as ooit voor die Here.
Lees mens die Bybel en biografieë van die Here se gunsgenote, sien jy dieselfde ding weer en weer. Die getuienis is elke keer dieselfde: Dit verinnig 'n mens se aanbidding!
Tot die mate wat mens God leer ken, tot daardie mate sal jy 'n ware aanbidder word.
3. 'n Ware aanbidder se gebedslewe neem uiteraard altyd 'n prominente plek in sy of haar lewe in.
So 'n persoon kan eenvoudig nie meer sonder gereelde en getroue gebed nie. Hy of sy ken die diep verlange na gemeenskap met God en die wonderlike vervulling wat dit meebring.
Dit beteken egter nie dat diep en intieme gebed altyd asof vanself kom nie. Steeds verg dit selfdissipline en 'n feitlik daaglikse inbeur teen jou vlees, die aansprake van die wêreld, en die weerstand van die duiwel. En helaas ervaar mens gereeld nog gebedsmislukking.
Maar wanneer die Heilige Gees jou wel opraap, soos die wind 'n veertjie, word jy weggevoer na innige gebedsgemeenskap met die driemaal heilige God. En dan staan die tyd as't ware stil. Helaas sal meeste eerlike gebedsmanne en -vroue vir jou sê dat dit selde 'n dááglikse ervaring is, maar dat dit tog ook meer of minder dikwels gebeur, tot die mate wat gemeenskap met God vir jou 'n saak van erns is, al dan nie.
Sulke ervarings, ongeag die intensiteit en frekwensie daarvan, lei altyd tot 'n meerdere intimiteit met die Vader. Dit word gekenmerk deur diep nederigheid en eerbied, en word na elke sodanige gebed gevolg deur vrede, vergenoegdheid en innige Godsliefde.
4. Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate sal ons harte brandende van dankbaarheid en liefde teenoor Hom wees.
Niemand kan God in Sy heiligheid ken, sonder om ook iets van Sy toorn te verstaan nie. As so 'n persoon dan begryp dat hy nie sy verdiende loon nie, maar God se genade ontvang het – en elke dag steeds ontvang – is diep dankbaarheid en liefde vir sy hemelse Vader en sy Verlosser 'n noodwendige gevolg. Vanuit hierdie liefde vloei dan die diep verlange om God steeds beter te ken, en die gevolglike en gereelde gebed: "Toon my, ter wille van Christus, U heerlikheid!"
5. Tot die mate wat ons God in Sy heiligheid ken, tot daardie mate sal ook ons dit najaag om heilig voor Hom te leef.
Hoe kan iemand die skoonheid van die Here se heiligheid sien, sonder om die res van sy of haar lewe daarna te verlang – om dit steeds duideliker te sien, en om dit toenemend te ervaar?
Dit laat mens sonde al hoe meer haat, omdat dit die Here, en in die besonder Sy Gees bedroef; omdat dit Sy Naam oneer aandoen en die koms van Sy Koninkryk belemmer; omdat dit mense vernietig wat na Sy beeld geskape is; omdat dit gemeenskap met Hom vertroebel.
6. Ware Christene verstaan Spr 8:13: “Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is ...” (OAV).
Mens sien dit byvoorbeeld duidelik in Jesaja se lewe. Die oomblik as hy iets van God se heiligheid sien, word hy gretig om die Here se Woord aan die in sonde gevalle volk te gaan verkondig (Jes 6:5,8). Omdat hy God se heiligheid gesien het, het hy iets van Sy toorn teen sonde begryp. Traak-my-nie-agtigheid oor die volk se ewige staat en die Here se eer, sou neerkom op hardvogtigheid – en vir 'n gebrokene is dit nie meer moontlik nie.
Luister na 2Kor 5:11: "Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig ..." (OAV).
Vir iemand wat iets van die Here se heiligheid verstaan, is dit onhoudbaar dat Hy nie verheerlik word nie. En aangesien God se eer ten nouste gekoppel is aan die welsyn van Sy kerk, brand so 'n persoon se ywer dat die kerk waarlik kerk moet wees. Waar 'n gemeente die Here eer en vrees, is Hy in hulle midde. Hier lê een rede waarom soveel mense tydens herlewings tot bekering kom.
En laat ons onthou wat A.W. Tozer gesê het: "The popular notion that the first obligation of the church is to spread the Gospel to the uttermost parts – is false. Her first obligation is to be spiritually worthy to spread it!"
7. Hoe meer en hoe inniger jy met die heilige God verkeer, hoe meer neem jou sondebesef toe, asook jou bewussyn van jou algehele afhanklikheid van die Here se genade.
Dis 'n noodwendigheid en vanselfsprekend. Hoe kan dit anders? Dit behaag en verheerlik die Here, want dit laat jou Christus net stywer vasgryp. En tot die mate wat dit gebeur, tot daardie mate word jou geloof meer en meer wat dit moet wees. Want geloof is om met jou volle gewig aan Christus te hang. En beswaarlik is daar iets wat die Here meer behaag as só 'n geloof in Sy kinders.
Hoe meer jy God as die driemaal heilige leer ken, hoe meer beheers dit die diepgang en inhoud van jou gebede.
Waarom tog, tydens gemeentelike gebedsbyeenkomste, kan die gebede so oppervlakkig wees! Dikwels kom dit niks verder nie as skoolkinders en studente se eksamenprestasies, Antie Truia se liddorings, en .... kom ons laat dit maar daar.
Maar wie diep onder die indruk is van God se heiligheid, kan nie meer so bid nie. Nee, jou gebede raak al hoe meer diepsinnig en Godgesentreerd. En jy soek al hoe meer die Gewer; eers daarna Sy gawes. Voorop in jou gebede is jou verlange om Hóm beter te ken. Jou gebede word toenemend gekenmerk deur verering, lof en dank. Jy bid nie "met skoene aan nie".
8. Daar is 'n hemelsbreë verskil tussen vrymoedige en voorbarige gebed.
Voorbarige gebed is mensgesentreerd, familiêr, en aanvaar die voorreg om voor die troon van genade te verskyn amper as 'n vanselfsprekendheid.
Vrymoedige gebed, daarenteen, is inderdaad openlik, nie bang of beskeie of terughoudend nie – maar tóg diep bewus daarvan dat so 'n voorreg volledig berus op die verdienste van die Plaasvervanger. En in elke gebed kom dit eers wérklik tot uitdrukking as die Koning, by wyse van spreke, "Sy septer uitsteek" – as 't ware Sy toestemming gee dat mens maar nóg nader aan Sy troon mag beweeg.
9. Hoe meer jy God as die driemaal heilige leer ken, hoe groter is jou agting vir Sy Woord.
Jy "bewe" as' t ware vir God se Woord en waarheid (Jes 66:2). Dit beteken gewoon om 'n respek en ontsag vir die Skrif te hê. Jy matig jou nie aan om Skrifkrities die Bybel uitmekaar te trek nie. Dis vir jou belangrik om die Woord te verstaan soos dit verstaan moet word. Jy vat dit kinderlik-gelowig soos dit kom.
10. Iemand wat God in Sy heiligheid ken, het geen geduld met mensgesentreerde prediking en Skrifverdraaiing nie.
Die suiwer leer is nie vir hom of haar onderhandelbaar nie – nie bloot ter wille van die suiwer leer op sigself nie, maar ten diepste ter wille van die Here self, wie se Woord dit is.
11. Tot die mate wat jy God as heilig ken, tot daardie mate het jy 'n hartstog vir Sy eer.
Hiervan is Pinehas, wat vir die Here geywer het, 'n uitnemende voorbeeld (Num 25:1-13). Hierdie jong Leviet kon dit eenvoudig nie verduur dat die Israelitiese jongmanne met die Moabitiese vrouens flankeer en hulle afgode aanbid nie. As hy dan 'n Israelities jongman en een van die meisies teregstel, dra dit die Here se goedkeuring weg en sluit Hy met Pinehas 'n vredeverbond.
12. As iemand God as heilig ken, hoor mens dit in die trant waarop hy oor en met God praat.
Party "Christene" is vandag meer familiêr met God as wat die Here Jesus, Sy eie Seun, dit ooit gewaag het.
Maar 'n ware aanbidder ken sy geringheid voor die Here. Dit word vinnig duidelik as jy na 'n persoon se gebede luister.
13. As iemand God as heilig ken, kom dit tot uitdrukking in 'n sekere vreesloosheid voor mense.
Sulke mense verdedig God se eer met alles in hulle. Dis waarom Moses meteen die sagmoedigste man op aarde kon wees (Num 12:3), en terselfdertyd keer op keer soos 'n eikeboom voor die opstande van die hele volk kon bly staan.
Dit laat mens ook dink aan Dan 11:32: "... die volk wat hulle God ken, sal sterk weerstand bied." (Vgl. ook Dan 3:17-18).
Dit kan dus bevraagteken word of iemand wat 'n vloermat, 'n papperd, 'n ja-broer is, werklik God as die heilige ken. Nee, as iemand anderpad kyk wanneer die Here se eer geweld aangedoen word, dui dit bes moontlik daarop dat hy God nie in Sy heiligheid ken nie.
Ten slotte
Kennis van God as die driemaal heilige en die gepaardgaande ontsag vir die Here, lê aan die wortel van alle ware godsvrug. Goeie werke waarvan dit nie gesê kan word nie, is ten minste dikwels bloot wetties en formalisties – dooie werke in God se oë.
Dit is voorts waar dat sulke mense 'n diep ontsag vir God het en die ligsinnigheid en selfgesentreerdheid in talle kerklike en pseudo-kerklike kringe vandag, nie kan verduur nie. Luister maar na God se Woord: Mal 3:16-4:2 (OAV): "Toe het die wat die Here vrees, met mekaar gespreek; en die Here het dit opgemerk en gehoor, en daar is 'n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die Here vrees en sy Naam eer. En hulle sal My tot 'n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos 'n man medelyde het met sy seun wat hom dien. Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie. ... Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers ..."
Voeg daarby 1Pet 1:13-25 (OAV): "... soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig .... wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap ... omdat julle weet dat julle ... losgekoop is ... deur die kosbare bloed van Christus ...".
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E:
W: www.imagodei.co.za
[1] Dit wat bo-sinnelik is, wat die grense van menslike ervaring en deurgronding oorskrei.
[2] Dit wat binne-wêrelds is; die menslik-ervaarbare en begryplike.
[3] Vgl. o.a. Jes 1:11-18; 58 en Amos 5:21-24.
[4] Hou ook in gedagte dat Christus dwarsdeur Sy lewe gely het en dat dit deel van Sy versoeningswerk was. Maar natuurlik het Sy lyding aan die kruis 'n verskriklike klimaks bereik.