20 Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?”
21 Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei 'n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie?
22 As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak,
23 het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie?
Is daar sin in die lewe? Is daar koers in die geskiedenis? Alle denkende mense het deur die eeue met hierdie vraag geworstel.[1]
'n God van orde het 'n plan
# Dit is ondenkbaar dat 'n ewige God van onbeperkte wysheid, kennis en vermoë 'n heelal sou skep sonder 'n uitgewerkte plan en doel daarmee.
Dat so 'n plan en doel 'n werklikheid is, word in die allerduidelikste taal in die Bybel geleer.
# Selfs die mens, in al sy beperktheid, beplan voordat hy handel en bou. Iemand van wie dit nie waar is nie, is dwaas. Enige intelligente wese besluit éérs oor sy doelwit, oor wat hy wil bereik, en dán besin hy oor wat hy moet doen, en hoe hy te werk moet gaan om dit te bewerkstellig. En, uiteraard, hoe groter die saak ter sprake, hoe belangriker is deeglike beplanning.
# Enige mens, soveel te meer enige natuurwetenskaplike en ingenieur, weet dat daar verbysterende ontwerp, orde en planmatigheid dwarsdeur die geskape werklikheid is. Sover ons mikroskope en teleskope ook al kan tuur, is die indruk onontkombaar dat 'n onbeskryflik geniale, almagtige, sistematiese en ewig-ongeskape Skepper vir alles verantwoordelik is.
Só waar is dit dat ons, tot die mate wat ons die wetmatighede verstaan en matematies kan formuleer, in staat is om met verstommende akkuraatheid die kragte en prosesse van die skepping te antisipeer en te harnas.
Die standpunt dat die makro- en mikrokosmos toevallig ontstaan het, verg veel meer geloof – en 'n geloof is dit inderdaad – as dat 'n almagtige en alwyse God alles geskep het.
Nee, wie chaos soek, sal dit nie in God se handewerk vind nie! Waar daar wel wanorde is, is dit die bitter vrug van sondegevallenheid.
# God se Woord leer dat Sy rol nie tot die ontwerp en skepping van die heelal beperk is nie – Hy reguleer ook volledig die instandhouding en voortgang daarvan. Anders as die Deïsme, wat bloot 'n onpersoonlike en onbetrokke Eerste Oorsprong erken, leer die Skrif dat God dag na dag aktief regeer.
+ Hierdie planmatigheid en betrokkenheid van God geld nie net die natuur nie, maar ook die verloop van die geskiedenis. God se plan het 'n spesifieke einddoel (Ef 1:9-11). Die historiese gang van ons wêreld het dus 'n lineêre karakter, eerder as 'n sikliese. Daar is voortgang en gerigtheid.
= Die Spreukedigter het hierdie waarheid duidelik verstaan: "Die koning se hart is waterstrome in die hand van die Here: Hy lei dit waarheen Hy wil" (Spr 21:1).
+ Nog meer verstommend is die Skrifopenbaring dat God se plan en heerskappy nie net die globale raak nie, maar ook intens persoonlik is. Elke mens se lewensloop is daarby inbegrepe.
+ En dis nie ál nie. Sonder blik of bloos leer die Skrif dat God se plan die fynste besonderhede bestryk: "Word twee mossies nie vir 'n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel" (Matt 10:29-30. Vgl. ook Ps 135:5-7; Spr 16:33).
# Dalk die mees verstommende: Selfs sonde, asook die tragedie en lyding wat daarop volg, is inbegrepe in God se raadsplan!
Vergelyk bv. die volgende Skrifgedeeltes (om net eers by die Ou Testament te bly): Gen 45:7-8 en 50:19-20; Eks 7:2-5, 9:12, 9:16 (Rom 9:17); 2Sam 24:1, 24:10-15 en 1Kron 21:1; Klaagl 2:11 en 3:37-38; Deut 2:30; Rig 14:4; 1Sam 2:25b; 1Kon 22:19-23; Jes 45:7; Amos 3:6; Op 17:16-17.
Aktiewe verharding en passiewe verharding.
# By die lees van ons teks en bogenoemde Skrifgedeeltes ontstaan die vraag of God dan nie aanspreeklik is vir die mense se sonde is nie – selfs die Outeur daarvan?
# Die sleutel tot die antwoord lê in God se absolute geregtigheid en die radikaliteit van die mens se sonde.
Dit is nét God se algemene genade – te onderskei van Sy besondere of reddende genade – wat elke mens daarvan weerhou om tot die dieptepunt van sonde te versink. As God ons nie vasgehou het nie, sou niks ons daarvan weerhou het om so boos soos die demone te word nie.
+ Dis soos 'n klip wat aan 'n tou van 'n skip af hang. Laat skiet die tou en dit sink al hoe dieper. Los die tou en dit sink bodem toe. Maar vanself kom dit nooit na die oppervlak nie! (vgl. Rom 1:24, 26, 28).
# As van bogenoemde Skrifgedeeltes sou sê dat God sondaars verhard het om nog méér te sondig, sou ons kon dink in terme van aktiewe verharding, óf van passiewe verharding.
+ Indien Farao, byvoorbeeld, se natuurlike neiging was om goed te doen, maar die Here dan só in hom gewerk het dat hy al hoe meer sondig, sou dit 'n aktiewe verharding gewees het. En dit sou God verantwoordelik vir sy sonde gemaak het – 'n ondenkbare en lasterlike gedagte.
Nee, Farao was radikaal verdorwe – soos alle onwedergebore mense – en die neiging van sy hart was om al hoe dieper in sonde in te sink. Al wat dus gebeur het, is dat God hom meer aan sy sonde oorgegee het. Hy het as 't ware sy tou ietwat laat skiet. En dis 'n passiewe verharding – wat God nie die Outeur van Farao se sonde maak nie.
Die Egiptiese vors het sélf gesondig – omdat hy sélf wou, en sélf so gekies het.
# Die uitsprake in 2Samuel en 1Kronieke oor Dawid se sonde moet net so verstaan word. God wou die volk straf omdat die vólk sondig was. Maar Dawid het kennelik ook 'n groeiende trots en ambisie oor sy mag in hom omgedra. Die Here laat dan sy tou skiet.
Maar, let op, éérs het Hy Satan se tou laat skiet – sodat dié vir Dawid kon verlei (vgl. ook Job se ervaring).
# Twee belangrike waarhede kom hier na vore:
+ Eerstens, God werk normaalweg middellik – Hy gebruik instrumente.
+ Tweedens, Satan is nie God se opponent in 'n kosmiese skaakspel nie – hy is 'n pion op die skaakbord.
Christus is gekruisig volgens God se verordineerde en ewige raadsplan
# Van die mees dramatiese en sprekende Skrifuitsprake oor God se allesomvattende regering word in Handelinge aangetref – in enkele verse wat oor die kruisiging van Jesus Christus gaan. Golgota was nie net 'n skarnier waarop die wêreldgeskiedenis gedraai het nie, dit was metéén die verskriklikste sonde van alle tye:
+ "Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak" (Hand 2:23).
+ "En nou, broers, ek weet dat julle uit onkunde opgetree het, soos ook julle leiers, maar op hierdie manier het God in vervulling laat gaan wat Hy vroeër by monde van al sy profete aangekondig het, naamlik dat sy Christus sou ly. Bekeer julle en draai terug, sodat julle sondes uitgewis kan word ..." (Hand 3:17-19).
= Let op, al het hulle gedoen wat God verordineer het, was hulle optrede nogtans sonde wat vergewe moes word. Nooit hef die feit van God se soewereine raadsplan en regering die mense wat betrokke is in die uitvoering daarvan, se aanspreeklikheid op nie.
+ "Die konings van die aarde neem stelling in, en die leiers span saam teen die Here en teen sy Gesalfde. Want inderdaad, in hierdie stad, het hulle – Herodus en Pontius Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur" (Hand 4:26-28).
= Herodus, én Pilatus, én die Jode, én die Romeine, het as verantwoordelike mense opgetree. Hulle was skuldig en sal daarvoor gestraf word. Máár die
kruisiging was van voor die tyd af vasgelê in God se raadsplan.
= Lukas 22:22 stel dit so: "Want met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!"
# Dis onontkombaar duidelik, as die kruisiging van Sy Seun verordineer is in God se ewige raadsplan, geld dit ook van die sondeval! Die kruisiging se doel was immers om die effekte van die sondeval op te hef.
+ Ook ander Skrifgedeeltes impliseer hierdie diepsinnige waarheid: "... julle losgekoop met die kosbare bloed van Christus ... Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem ..." (1Pet 1:19-20, NAV). Vergelyk ook Ef 1:4; 2Tim 1:9.
Méér kan ons nie sê nie.
Ons durf nie probeer indring in wat God besluit het
om nié aan ons te openbaar nie.
God het "jammer gekry"
# In Gen 6:5-6 "was die Here jammer dat Hy die mens op die aarde gemaak het." (OAV: dit het die Here "berou").
Beteken dit dat God besef het dat Hy 'n fout gemaak het – dat alles totaal anders ontwikkel het as wat Hy beoog het?
# Allermins! Ten diepste is so 'n gedagte godslasterlik.
Nee, die Bybel praat dikwels oor God asof Hy 'n mens is. Tegnies word dit 'n antropomorfisme genoem. Dit beteken bloot dat sekere van Sy handelinge vir ons lyk na díé van 'n mens.
So, byvoorbeeld, word Hy beskryf as iemand met voete, hande, oë, ensovoorts. Dit beteken nie dat Hy werklik 'n liggaam soos ons het nie, maar Hy is só gansanders dat Hy dit nodig vind om in Sy selfopenbaring beelde te gebruik wat ons in ons tyd-ruimtelike beperktheid kan verstaan.
Hy praat dus met ons asof Hy self 'n mens is.
Genesis 6, hierbo, maak van so 'n antropomorfisme gebruik.
# 1Samuel 15 is verhelderend oor hierdie saak.
Eers sê v.10-11: "Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: Ek is spyt daaroor dat Ek Saul as koning aangestel het, want hy het van My af weggedraai ..." (vgl. ook v.35).
Maar dan sê een en dieselfde hoofstuk – as 't ware in dieselfde asem (v. 29): "... die Ewige van Israel breek nie sy woord nie, en Hy is nie spyt daaroor nie; Hy is immers nie 'n mens nie, dat Hy spyt sou kry nie" (vgl. Num 23:19).
+ In v.11 en 35 gee die Bybel vir ons belewingswaarheid (fenomenologiese waarheid). Dis soos die mens dit ervaar; dis hoe dit vir ons lyk; dis hoe God dit op 'n menslik-bevatlike wyse aan ons meedeel.
In v.29 het ons wesenswaarheid (ontologiese waarheid). Dis "die storie agter die storie".
# Hierdie twee maniere om waarheid te formuleer is goed bekend aan ons. As ek teen laatmiddag sê, "die son gaan onder", sal niemand my beskuldig van 'n leuen nie. Dis belewingswaarheid. Maar die feit van die saak is dat dit eintlik nie die son is wat sak nie, maar die aarde wat draai. En dis die wesenswaarheid.
Wat behels God se plan?
# Die vraag ontstaan nou onwillekeurig: Het ons hoegenaamd 'n idee waaroor hierdie plan van God gaan?
In 'n sin is dít die tema van die Bybel!
# Te min Christene lees die Bybel soos dit moet. En predikers is grootliks aandadig.
Almal weet dat mens nie finaal kan sê jy verstaan die boodskap van 'n boek voordat jy dit nie van hoek tot kant deurgelees het nie. Tog is dit alles behalwe hoe die tipiese gelowige van ons dag met die Bybel omgaan. Iewers het die ellendige idee ontstaan dat die Bybel nie 'n eenheid is nie, maar 'n onsamehangende versameling van stories, profesieë, gedigte, oordenkings en gesegdes. Die gevolg is dat dit lukraak en selektief gelees word – hier 'n stukkie, dan weer daar 'n stukkie. Groot gedeeltes word nooit aangeraak nie.
En die huidige stortvloed "Bybelse" dagboekies help beswaarlik om die probleem op te los! Nee, nee – 'n duisendmaal, nee – die Bybel is nie 'n kardoes vol Allsorts-lekkers waaruit mens soms 'n trosie kan opdiep nie!
Die Woord van God het één Outeur, één tema, één boodskap. En dis gerig tot rasionele wesens, mense met verstand. Daarom is dit 'n boodskap wat niemand ooit sal verstaan as hy nie 'n poging aanwend om die geheelbeeld onder die knie te kry nie – allermins as hy of sy te lui is om daaroor na te dink.
# In hierdie verband geld 'n wonderlike paradoks:
Enersyds is die Bybel so allesomvattend, so diepsinnig, so verhewe, dat niemand dit kan verstaan sonder diepgaande studie, en die verligtende werk van die Heilige Gees nie. En selfs dán is 'n leeftyd nie genoeg om by die bodem van die skatte uit te kom nie.
Andersyds is die essensie van die Bybelboodskap – dit wat nodig is om godvrugtig te lewe en salig te sterwe – so eenvoudig dat selfs 'n kind die hartsboodskap daarvan kan verstaan. Trouens, as jy nie kinderlik gelowig is nie, kan jy dit nie begryp nie.
'n Ou kerkvader het dit min of meer só gestel: "Die Woord van God is soos 'n groot rivier. In die middel kan die reuse swem; in die vlak watertjies kan die kinders speel."
# Wat vind mens as jy die Bybel as 'n eenheid lees?
Allereers dat God – en nie die mens nie – die Hoofkarakter is. Dit gaan oor Hóm. Dis 'n wonderlike kroniek van Sý werk in hierdie wêreld – verlede, hede en toekoms – met verduidelikende kommentaar deur geïnspireerde profete en apostels.
Selfs die redding van mense, soos gesê, is nie die hooftema nie.
Nee, nee, dit gaan allereers oor Sý grootse plan en handele om sý wil te volbring – naamlik dat Hý tot in alle ewigheid in en voor Sy skepsele verheerlik sal word (Rom 9:22-24; Ef 1:6,12,14).
Ja, natuurlik, die evangelie – dat God sondaars red – lê aan die hart van hierdie grootse plan. Maar Hy doen dit ten diepste nie ter wille van óns nie, maar ter wille van Homself en Sy eie eer (Ef 2:7).
+ Bid jy gereeld dat die Heilige Gees jou met sy verligtende werk dieper en dieper lei in die kennis van God? Onthou dit gaan nie bloot oor "die redding van my siel" nie; dit gaan oor God se verheerliking. En om Hom steeds beter te ken en lief te hê, is die hart van ons roeping. Dít mag ons nooit, maar nóóit vergeet nie!
# Hoewel hierdie plan soewerein deur God verordineer is en onstuitbaar deur Hom voortgestuur word, geskied dit nie sonder die mens se verantwoordelike, bewustelike en inspannende betrokkenheid nie.
Die mens se rol is op 'n wonderlike en grootliks geheimenisvolle wyse ingeweef in God se raadsplan. Dit is, trouens, nie oordrewe nie om te sê dat God tot 'n baie groot mate Sy kosmiese projek van selfverheerliking uitwerk deur die lompe gehoorsaamheid van Sy kinders, en die dwase rebellie van Sy vyande.
# Vervleg met die hooftema is die boodskap aan die sondegevalle mens dat hy uit pas is met God se plan. Deurgaans weerklink die oproep: Vlug vir die komende toorn, soek God, roep Hom aan om Sy genade.
En in die Nuwe Testament word dit dan glashelder dat hierdie genade in Christus gegee word. In Hom, en in Hom alléén werk God Sy plan uit. Slegs in Hom is die betekenis en sin van hierdie lewe te vind. Net hulle wat met Hom verenig is, kan regtig in pas wees met God se plan. En dit alles geskied uit genade alleen, op grond van Christus se werk alleen, deur die geloof alleen – sodat geen mens ooit tot in ewigheid in homsélf kan roem nie.
God se soewereiniteit
# Die soewereine heerskappy van God is die onderliggende uitgangspunt van die Bybelse boodskap. Gelowige omhelsing hiervan is 'n lopersleutel om die Bybel te verstaan.
God se soewereiniteit dui op Sy reg én vermoë om as onbetwisbare
Skepper en Onderhouer en Eienaar
die ganse heelal en al Sy skepsele
in die hemel en op aarde
te regeer net soos Hy wil
sonder enige aanspreeklikheid hoegenaamd aan iemand anders.
# Dis belangrik om te onthou dat God oor alle kennis en mag beskik om dit wat Hy besluit het tot in die fynste besonderhede uit te voer. Niks kan Hom stuit of pla of verras nie. Hy gaan onverstoorbaar voort.
# Wie nog oor God se almag twyfel, moet vir 'n slag goed na die ontsagwekkende skepping rondom hom kyk. 'n Mens is 'n stoffie op die aarde, wat 'n stoffie in die sonnestelsel is, wat 'n stoffie in die melkweg is, wat 'n stoffie in die heelal is – wat 'n stoffie in die palm van God se hand is.
# Hoewel God se soewereiniteit universeel en absoluut is, is dit nie bloot 'n blinde krag
nie. Dis gekoppel aan, en funksioneer altyd in volle harmonie met al Sy ander attribute – Sy volmaakte heiligheid, wysheid, liefde, alwetenheid, almag, onveranderlikheid, ensomeer.
Dit bring mee dat daar vir die gelowige geen bedreiging in God se soewereine regering is nie; inteendeel, hy of sy put wonderlike troos en sekuriteit daaruit: Dat só 'n God mý liefdevolle Vader is! Ek kan Hom vertrou, 'n duisend maal meer as myself!
# Elke mens moet een ding baie duidelik verstaan, en hom aan die onontkombaarheid daarvan onderwerp: As Skepper is God sy Eienaar – met die gevolglike reg en vermoë om met hom te maak net soos Hy wil.
Om 'n bekende Bybelse beeld te gebruik: God is die Pottebakker; ek is die klei.
Romeine 9:20-21: "Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: 'Waarom het jy my so gemaak?' Of het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde stuk klei 'n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie?"
# Dit is voorts God se soewereine prerogatief om te skep – of om nié te skep nie.
+ Elke geboorte is die gevolg van 'n bepaalde vroulike eiersel wat deur 'n bepaalde manlike spermsel bevrug is.
My genetiese samestelling hang deels af van wátter spermsel my moeder bevrug het. So 'n bevrugting vind nie elke keer plaas nie, maar as dit wel gebeur, is dit deur een van die ontelbaar baie spermselle wat by 'n gegewe geleentheid teenwoordig is – en elkeen van hulle sou dit eweneens kon doen. Dink daaraan – as dit 'n ander sperm was, het iemand anders met 'n ander genetika ontstaan! Selfs tweelingboeties en -sussies verskil.
+ In 'n proses van verbysterende presisie word 'n bevrugte eiersel d.m.v. chromosome en gene van 'n chemiese bloudruk voorsien wat die verdere ontwikkeling van daardie mens vorentoe grootliks beheer. Dit bepaal hoe die selle sal verdeel en vermenigvuldig, hoe hulle in weefsel, bene, ledemate, organe en sintuie sal ontwikkel. Dit bepaal of so 'n mens manlik of vroulik sal wees, wit of swart, groot of klein, slim of dom, atleties of lomp. Dit bepaal die persoonlikheidstrekke, besondere aanlegte, en temperamentele geneigdhede.
Dit maak van so 'n persoon die unieke, unieke, unieke mens wat hy of sy is!
+ Nog méér, wie en wat ek is, word nie slegs bepaal deur die fyn en eksakte detail van my bevrugting nie. Dink net aan alles wat dit moes vóóraf gegaan het sodat ek die mens kan wees wat ek is! As groot-oupagrootjie sy verlowing met groot-oumagrootjie verbreek het, om met 'n ander jeugliefde te trou, het ék nie vandag bestaan nie.
En niemand sou my gemis het nie!
+ Elke keer as een bepaalde spermsel 'n bepaalde eiersel bevrug, ontstaan 'n mens wat tot in ewigheid sal bestaan. Dit geld nie net die onuitspreeklik bevoorregtes wat die ewige saligheid sal beërf nie; dit geld ook (oorweldigend en skrikwekkend!) almal wat nie in Christus is nie (Joh 5:28-29).
By hierdie skepping van 'n mens is, soos reeds gesê, ander mense as medewerkers betrokke – die ouers (en voorouers!). Hoe hierdie menslike medewerking ook al geskied het, in heiligheid, of in sondige wellus – God regeer onverstoorbaar soewerein bo-oor alles!
# Op laasgenoemde werp die Here Jesus se geslagsregister in Matt 1 insiggewende lig. Slegs vier vrouens (voor Maria) word genoem, en oor elkeen hang 'n vraagteken van behoorlikheid: Tamar (Gen 38); Ragab (Jos 2); Rut (darem net 'n heiden); Batseba ("die vrou van Urija" – sodat ons nie vergeet nie) (2Sam 11).
Dit staan so vas soos die berge:
Óf God is volledig in beheer van alles tot in die fynste besonderhede.
Óf Hy moet met "krisisbestuur" probeer om die geskiedenis te stuur volgens Sy wil.
# Noodwendig kan die verloop van die geskiedenis net vasgelê wees indien één Soewerein regeer. Die oomblik as 'n tweede onafhanklik begin werk – wat staan nog miljoene – het selfs God nie absolute beheer oor die verloop van sake nie. En dan kan ook Hy nie presies weet waar en wanneer alles gaan eindig nie.
# Baie mense aanvaar dat God inderdaad die groot, histories-bepalende gebeure beheers. Dat Hy egter by die nietige betrokke is, kan hulle nie aanvaar nie. Maar uit bogenoemde volg dit onontkombaar: As Hy nie die geringe beheers nie, het Hy ook nie volkome beheer oor die groot dinge nie.
Iets so infinitesimaals klein soos die bymekaarbring van 'n bepaalde spermsel en 'n bepaalde eiersel kan immers enorme historiese betekenis hê.
Dink net: As in Adolf Hitler se geval 'n ander spermsel die bepaalde eiersel bevrug het – met Adolfina Hitler tot gevolg – het ons bes moontlik nie 'n Tweede Wêreldoorlog gehad nie. Hoe anders sou die geskiedenis nie verloop het nie!
Duiselingwekkend:
God se verbysterende detail-regering
strek terug oor die ontvangenis en lewens van ál my voorsate,
regdeur tot by Sy uitverkiesende raadsbesluit voor die grondlegging van die aarde!
# Hierdie dinge gaan ons verstand ver te bowe. Dit laat mens duisel. In die finale analise is dit 'n kwessie van geloof. Óf ek aanvaar die Skrifgetuienis kinderlik-gelowig, óf ek verwerp dit.
Maar as ek dit verwerp, bly daar maar 'n enkele alternatief oor: Om my knieë voor die god van toeval en noodlot te buig.
# Laat ons onthou wie ons is – skepsele, nie klein godjies nie. God se gedagtes is nie
ons gedagtes nie (Jes 55:9).
Daarbenewens het Hy ook nie alles aan ons geopenbaar nie (Deut 29:29). Ja, ja, Hy het alles geopenbaar wat nódig is om gered te word en tot Sy eer te lewe – en in hierdie sin is die Bybel genoegsaam – maar van Sy raadsplan en redes daarvoor weet ons nie naasteby alles nie.
+ Die boek Job is hier 'n ligpunt. Terwyl Job ly, is hy totaal onbewus van die drama wat in die hemelse sfere afspeel (Job 1:6-12; 2:1-6). Wat sy krisis betref, het hy net belewingswaarheid, nie wesenswaarheid nie – in elk geval nie volledig nie. Hy weet wel dat God liefdevol, regverdig en getrou is. En daaraan hou hy vir lewe en dood vas. Maar van die eintlike intrige agter die skerms het hy geen benul nie.
# In Sy soewereine alwysheid het God weliswaar besluit om die mens te skep as 'n denkende en verantwoordelike wese met 'n wil. Selfs die feit dat die sondeval hom ernstig "verbuig" het, hef nie sy aanspreeklikheid voor sy Skepper op nie.
Die Woord van God leer twee waarhede wat altyd in balans gehou moet word.
God is soewerein.
Die mens is verantwoordelik.
Eensydige beklemtoning van enige van hierdie twee waarhede ten koste van die ander, het katastrofiese gevolge – teologies, pastoraal en prakties.
+ Hier lê die verskil tussen die Bybelse waarheid oor die Soewereiniteit van God en Fatalisme. Lg. ontken dat die mens 'n vrye agent is wat kan kies wat hy wil. Dit misken dus menslike verantwoordelikheid.
+ Die Christen het 'n addisionele verantwoordelikheid. Hy is immers geestelik lewend gemaak, hy is wedergebore, hy is herskep. Die beeld van God is herstel in hom.[2] En deur God se genade verstaan hy dit. Daarom sien hy sy lewe as 'n stuk rentmeesterskap uit die hand van die Here. En wie dit regtig verstaan, se lewe word daardeur beheers.
Presies dit is wat die gelykenisse van die muntstukke in Matt 25:14-30 en Luk 19:11-28 onder meer wil beklemtoon. Daarmee wil die Here Jesus op ons hart druk hoe noodsaaklik dit is om in die lig van die ewigheid te leef – want ons sal aan ons Skepper en Herskepper moet verantwoording doen oor wat ons met hierdie rentmeesterskap gedoen het.
# Wat God se soewereine heerskappy in die lewens van die kroon van Sy skepping betref, beklemtoon die Bybel Sy volmag in veral drie areas:
+ Een, Hy is soewerein in die betoning van Sy barmhartigheid – Sy algemene,
versorgende en instandhoudende liefde vir álle mense. Sommige kry méér daarvan as ander. Party is ryk, ander arm. Party is begaafd, ander dom. Party leef lank, ander baie kort. Ensovoorts.
+ Twee, Hy is soewerein in die betoning van Sy genade – Sy besondere, reddende liefde vir die uitverkorenes. Of ons nou daarvan hou of nie, dis 'n onontkombare feit dat niemand gered kan word sonder God se inisiatiefnemende en herskeppende werk nie. Alle ware Christene wéét dit.
Dis waarom ons almal min of meer só bid vir 'n dierbare wat nog nie gered is nie: "Ag, Here, red hom asseblief! Per slot van rekening kan net Ú dit doen!"
+ Drie, Hy is soewerein in sy roepinge tot diens. Hý meet ons lewensbaan uit; Hý gee bekwaamhede en geleenthede; Hý het die goeie werke voorberei waarin elkeen van ons moet wandel (Ef 2:10).
Die finale doel: God se eer
# Daaroor kan geen twyfel wees nie. Die Woord van God leer ondubbelsinnig dat God alles geskape het, alles regeer, en alles toelaat – vir net een uiteindelike rede: Die verheerliking van Homself.
Dit is Sy doel met absoluut alles – voor die tyd, in die tyd, en na die tyd. "Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge" (Rom 11:36).
Hy bestaan nie ter wille van ons nie.
Ons bestaan ter wille van Hom.
# Ons vind dit nie maklik om hierdie allesoorheersende prioriteit van God te aanvaar nie. Is dit Hom nie onwaardig nie? In óns as mense is selfgerigtheid immers onaanvaarbaar.
Sulke vrae is nie net kortsigtig nie; dit raak maklik godslasterlik.
Dit is wel so dat dit sonde is as 'n méns vir homself lewe. Máár hy is 'n skepsel en nie God nie. In God se geval is dit anders. Hy en nét Hy is God – en daar is niks of niemand hoër as Hy wie se eer Hy nodig het om na te jaag nie.
Daarom is dit reg, trouens onvermydelik, dat Hy Sy eie eer moet en sal soek.
# Die Hebreeuse woord "heerlikheid" het oorspronklik gewig beteken. Op 'n persoon van toepassing gemaak, beteken dit dat hy gewigtig in andere se oë is. Hy het status en aansien. So word die woord gebruik om van Jakob se rykdom te praat (Gen 31:1) en van Josef se mag in Egipte (Gen 45:13). Dit was gewigtig.
Die woord het op twee maniere betrekking op God:
+ In Sy selfopenbaring toon God aan ons Sy heerlikheid.
So sien ons Sy majesteit in die skepping (Ps 19:1; Jes 6:3). Ons sien dit in Goddelike verskynings in Bybelse tye (Eks 40:34; Eseg 1:28 ens.). Ons sien dit in Jesus Christus (2Kor 4:6). Ons sien dit in Sy magtige dade in die geskiedenis; Ons sien dit in Sy attribute in aksie in ons lewens.
+ In ons godsdiensbeoefening eer ons God se heerlikheid.
Dit geskied in reaksie op die selfopenbaring van Sy heerlikheid. Dit gebeur as ons Hom loof (Ps 50:23; 96:8; Rom 15:9); as ons Sy Woord glo en Sy beloftes vertrou (Rom 4:20); as ons Christus as Here bely (Fil 2:11); as ons Hom gehoorsaam (Fil 1:11). Kortom, as ons in liefdevolle onderwerping met ons hele lewe dit najaag om Hom groot te maak.
# Nou kan ons verstaan wat dit beteken dat God Sy eie eer soek.
God wil tot in ewigheid die gewig en heerlikheid van Sy karakter en dade
aan Sy rasionele skepsele toon
sodat hulle Hom kan ken
en gevolglik ewig sal verheerlik
met vererende, dankbare en lojale liefde, lof, vertroue en gehoorsaamheid.
# Op geen wyse word hierdie allesoorheersende doel van God – naamlik om Homself te verheerlik – meer uitnemend bereik as in Sy reddingsplan nie. Hierin word van Sy
attribute gedemonstreer wat ons níé op 'n ander manier sou kon ken nie.
Wat het Adam per slot van rekening vóór die sondeval van God se genade geken – óf van Sy toorn, of van verskeie ander van sy karaktertrekke?
Genade is immers iets wat slegs aan mense betoon kan word wat die teendeel verdien – aan sondaars.
Hier gaan daar dus tóg 'n skrefie oop waardeur ons iets van die sondeval se sin kan begryp.
# Paulus stel dit onomwonde: Die soewereine God het die reg om in sowél redding as toorn Homself te verheerlik. En Hy doen dit inderdaad!
Luister na hierdie gewigtige woorde van ons uitgangs-skrifgedeelte in Rom 9:20-23. Waarlik, dis nie vir sentimentele ore bedoel nie!: "Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: Waarom het jy my so gemaak? Of het pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei 'n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie? As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak, het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie?"
+ Ook Ef 2:7 is insiggewend: God se groot verlossing in Christus (Ef 2:4-6) het 'n besondere doel: "sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus."
Vergelyk ook Ef 1:6,12,14 (OAV); 1Kor 1:26-31 en 2Kor 4:7.
# Sonder 'n sondeval sou ons niks begryp het van God se barmhartigheid, liefde, genade en verbondstrou nie. Selfs die eenvoudigste Christen verstaan vandag méér daarvan as Adam en Eva voordat hulle uit die tuin van Eden geban is – nie net teoreties nie, maar veral proefondervindelik.
En wat sou ons geweet het van God se geregtigheid, en Sy heilige toorn teen sonde?
Kortom, sonder die sondeval sou ons God steeds nie geken het soos dit moet nie. In elk geval sou ons niks van Sy kosbaarste en mees verhewe attribute begryp het nie. En gevolglik sou ons Hom nie naastenby kon verheerlik het soos ons moet nie.
# Bostaande geld nie net vir ons nie, maar selfs vir die engelewêreld:
+ "Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die kerk aan die owerhede en magte van die hemel bekend gemaak word, ooreenkomstig sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het in Christus Jesus, ons Here" (Ef 3:10-11).
+ In 1Pet 1:12 skryf die apostel dat die engele begerig is om insig te kry in God se groot verlossingsdade. Sy Grieks is baie ryk en beskrywend: Hulle leun intens-
geïnteresseerd en stip-starend vooroor [3] om meer te wete te kom van die Here se genade en verbondstrou in die lewens van Sy geliefdes hier op aarde.
Waar anders sou hulle immers iets oor God se genade kon leer? Soos die ou
Puriteine gesê het: Die kerk is God se universiteit vir die engele – dit rus hulle toe om Hom tot in ewigheid te verheerlik soos dit hoort!
Slotwoord
# Is jou lewe in pas met wat God besig is om te doen in hierdie wêreld en sy geskiedenis?
Is jy oor die volle spektrum van jou bestaan onderworpe aan Sy geopenbaarde wil?
Is die speerpunt van dit alles – naamlik Sy verheerliking deur middel van Sy Seun se volmaakte middelaarswerk as Profeet, Priester en Koning – die sentrale hartstog van jou lewe?
Is jy inderdaad deur 'n ware geloof met Christus verenig?
Word die egtheid daarvan deur 'n polsende dankbaarheidslewe vertoon?
As jy in geloofsekerheid met beslistheid kan antwoord, "Ek misluk op 'n duisend maniere, maar vir seker speel dit die oorheersende rol in my lewe!" – gaan dan voort om daar waar jy is, met jou gawes en geleenthede, die Here Jesus Christus se eer met alles in jou na te jaag.
# Wat van diegene wat verkies om God se roeping te ignoreer?
Hulle Skepper respekteer hul keuse. Hy gee hulle presies wat hul kies: 'n Lewe, 'n dood, 'n ewigheid – sonder God!
# Maar, in die Naam van die Here Jesus Christus mág en móét en wíl ek aan sulke mense een van die klassieke en dringende uitnodigings in God se Woord rig.
Dis een van talle soortgelyke oproepe in die Bybel – ewe opreg en dringend.
Deur die eeue het dermiljoene (insluitende híérdie skrywer, amper 50 jaar gelede) hierdíe oproep vanuit hulle geestelike bankrotskap omhels – en hulle lewens was nooit weer dieselfde nie. Inderdaad het ou dinge verbygegaan, en het alles nuut geword vir al sulke opregte en kloekmoedige gehoorsames aan die uitnodiging.
Jesaja 55:1-3; 6-7
Kom, almal wat dors is,
kom na die water!
En wie geen geld het nie, kom koop en eet!
Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk!
Waarom weeg julle silwer af vir wat nie brood is nie,
en bestee julle moeitevolle arbeid aan wat nie versadig nie?
As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig.
Maak julle ore oop en kom na My toe; luister, sodat julle kan leef!
Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit, getrou aan die bestendige liefde vir Dawid.
Soek die Here terwyl Hy Hom laat vind, roep Hom aan terwyl Hy naby is.
Die goddelose moet van sy pad afsien, en die boosdoener van sy planne.
Hy moet na die Here terugkeer, sodat Hy hom genadig kan wees,
en na sy God, want Hy vergeef oorvloediglik.
# Jy verstaan mos: Hierdie water is net in Jesus Christus te vind.
Let op, ek sê nie "by Hom" nie; ek sê "in Hom". Hy self, net Hy, is die water van die lewe!
Wat vind elkeen wat in hartsopregtheid in Christus invlug – en gehoorsaam in sy voetspore begin en bly stap?
Hulle het 'n sinvolle lewensdoel – die eer van God;
'n onfeilbare Vriend in lewe en dood – die Seun van God;
'n vreugdevolle lewensreël – die wil van God;
en in beproewing – 'n wonderlike troos.
Hulle weet dat God besig is om Christus se beeld in hulle tot volwassenheid te voer.
Hulle het die troosryke berusting dat God se belofte van die ewige lewe aan hulle behoort.
Kortom, hulle het die lewe wat ware lewe is
tot in alle ewigheid!
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E:
W: www.imagodei.co.za
[1] Vir die skryf van hierdie studie het ek baie geput uit die bekende artikel van J.I. Packer: The Plan of God.
[2] Weliswaar is almal van ons nog soos babas, peuters, kleuters wat aan 't opgroei is. Selfs die mees volwasse Christen is nog in sy prille jeug. En 'n duisend mislukkings – onder die aanslag van die duiwel, die wêreld en die oorblywende vlees – bly 'n realiteit. Volkome volwassenheid – gelykvormigheid aan die beeld van Christus – sal eers in die hiernamaals 'n werlikheid wees.
Maar, let wel, selfs 'n baba is al 'n wáre mens. Net so is iemand in Christus waarlik 'n beelddraer van God – sy talle onvermoëns te spyt.
[3] Wuest's Word Studies from the Greek New Testament, Vol 3 (Golden Nuggets, p. 32-33).