Video-opnames: (1) https://www.youtube.com/watch?v=7AzeZciBz-w
(2) https://www.youtube.com/watch?v=H1zgmqYrcRQ
Die aanloop
Die plek en die persoon
Op 'n dag, baie eeue gelede (1446 v.C.; dus 3470 jaar gelede)[1] pas 'n man skape en bokke op. Dis 'n ruwe en woestynagtige wêreld, naby aan die suidelike punt van die Sinaïtiese skiereiland. Dis net noord van die Rooisee en omtrent halfpad tussen die Golf van Suez aan die westekant en die Golf van Akaba aan die oostekant. Dis aan die voet van die hoë berg Horeb, oftewel Siniaï.
Die herder is al 80 jaar oud, maar nog baie, baie sterk en gesond. Hy sou nog 40 jaar langer leef. Sy naam is Moses. Hy is 'n Israeliet, uit die stam van Levi, maar het in die huis van die Farao groot geword. Gevolglik was hy een van die mees geleerde mense van sy tyd.
Waarom bevind hy hom dan hier in eensaamheid, so ver van Egipte af, en besig met so 'n nederige taak? Hy het in 'n oomblik van woede 'n Egiptenaar dood geslaan, en moes vir sy lewe vlug!
Die brandende bos
Een dag sien hy 'n merkwaardige verskynsel: 'n doringbos is aan die brand, maar brand nie uit nie. Hy stap dan nader om te kyk wat aan 't gang is. Wat dan volg, is van die mees gewigtige momente in die ganse Ou Testament:
Eksodus 3:4-10
Toe die HERE sien dat hy afgedraai het om dit van nader te bekyk, het God na hom geroep uit die doringbos: "Moses! Moses!" Hy het geantwoord: "Hier is ek!" 5 Toe sê die HERE: "Moenie nader kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond." 6 Daarop sê Hy: "Ek is die God van jou voorvader, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Moses het sy gesig bedek, want hy was bang om na God te kyk. 7 Die HERE sê toe: "Ek het die ellende van my volk wat in Egipte is, duidelik gesien. Hulle noodkreet oor hulle slawedrywers het Ek gehoor. Ja, Ek ken hulle lyding. 8
Ek het afgekom om hulle uit die hand van Egipte te red en hulle uit daardie land te laat optrek na 'n goeie en uitgestrekte land, na 'n land wat oorloop van melk en heuning, die woonplek van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. 9 En nou, kyk, die noodkreet van die Israeliete het My bereik. Ek het ook die verdrukking waarmee Egipte hulle verdruk, raakgesien. 10 Gaan dan nou! Ek stuur jou na die farao om my volk, die Israeliete, uit Egipte uit te lei."
Die historiese agtergrond
# Jakob se nageslag, die Israeliete, verkeer al vir baie lank in die ellende van slawerny.
# Al die volkere het hulle eie afgode gehad. Dit was as 't ware stamgode. Bekendes in daardie tyd was Ashera en Baal en Moleg. In Egipte self het hulle 57 sulke gode gehad, met nog 'n klomp minderes.
Máár hulle het ook geweet, in elk geval die wat enigsins gedink het, dat daar 'n ware, lewende Skeppergod is, wat oor alles regeer. Sekerlik moes hulle besef het dat 'n gewone boomstomp, of 'n gemaakte beeld, of wat ook al, níé die hemel en die aarde geskep het nie. Elke afgod was net 'n verteenwoordigende simbool wat aan hulle 'n sintuiglik-waarneembare kontakpunt met die ware God sou gee – wie Hy ook al sou wees.
Maar die ware, lewende Skeppergod het geen heidenvolk persoonlik geken nie.
# Selfs Abraham en sy nageslag se kennis van hierdie Skeppergod was uiters beperk.
Ja sekerlik het die aartsvaders Hom verreweg beter geken as die heidene. Hulle het per slot van rekening persoonlike ontmoetings met Hom ervaar.
Maar hierdie aarsvaders se nageslag, eeue later daar in Egipte, het Hom nie persoonlik self geken nie. Sekerlik sou hulle die verbond wat Hy met Abraham-hulle gesluit het nog onthou het – sommige vaagweg, en 'n klompie dalk nog met 'n lewende verwagting. Máár Hy het tot 'n groot mate steeds vir hulle die vêraf Allerhoogste gebly.
+ Dink vir 'n oomblik aan die situasie van die Israeliete daar in Egipte in Moses se tyd. Hyself het sy opvoeding in 'n totaal heidense huis gekry. En die res van die volk is al vir vier eeue – dink jou in! – 'n slawegespuis in 'n totaal heidense land. Sonder twyfel was die verbond van die lewende God destyds met hulle voorvaders maar baie, baie vaag.
# So gesien, maak Eks 6:1-3 nou sin: "... Ek is die HERE. Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige (Hb. El Sjaddai), maar met my Naam 'HERE' het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie ...". [2]
Híérdie punt moet mens nou deeglik vasvat:
By die brandende bos maak God dit baie, baie duidelik
Hy is nie bloot net nóg 'n stamgod is nie
Hy wat met Moses praat is die allerhoogste en lewende God van alle gode
# Dit word in die hoofstukke wat volg oor en oor beklemtoon, en om die waarheid des te duideliker tuis te bring, word dit soos klokslag bevestig met verstommende wonderwerke. Lees byvoorbeeld Eks 7:5 en 14:4 (vir die Egiptenare); 7:17 en 8:22 (nogeens vir Moses); 10:2 (vir die Israeliete en hulle nageslag).
# Dit dan is die agtergrond waarteen ons Moses se vraag in Eks 3:13 moet verstaan: "... Kyk, as ek by die Israeliete kom en vir hulle sê, 'Die God van julle voorvaders het my na julle gestuur,' en hulle vra my dan, 'Wat is sy naam?', wat moet ek vir hulle sê?"
Dit bring ons by ons drie verse
Eks 3:13-15
Moses het vir God gesê:
Kyk, as ek by die Israeliete kom en vir hulle sê
Die God van julle voorvaders het my na julle gestuur
en hulle vra my dan
Wat is sy naam?
wat moet ek vir hulle sê?
God sê toe vir Moses: Ek is Wie Ek is
Hy sê toe ook:
So moet jy die Israeliete antwoord:
Ek Is het my na julle toe gestuur
God het weer vir Moses gesê:
Só moet jy vir die Israeliete sê
Die HERE (Hb: JHWH)
die God van julle voorvaders,
die God van Abraham die God van Isak die God van Jakob
het my na julle gestuur
Dit is my Naam vir altyd
dit is my gevierde Naam van geslag tot geslag
'n Nadere kyk na Eks 3:13-15
# As die 7 Hebreeuse woorde van Gen 1:1 die tweede mees basiese uitspraak in God se Woord is ("In die begin het God die hemel en die aarde geskep"), kan ek beswaarlik aan 'n ander Skrifuitspraak dink wat selfs nog méér fundamenteel in die ganse Bybel is, as hierdie drie verse. En dit geld in die besonder die vier Hebreeuse konsonante, die sogenaamde tetragram: JHWH.
Dit is geen wonder nie dat dit ongeveer 6000 keer in die Ou Testament voorkom.
# Kom ons probeer die drie verse bietjie uitpluis:
Vers 13 is 'n vraag van Moses aan God (Hb. Elohim). As hy by die Israeliete kom, hoe moet hy antwoord as hulle vir hom vra wat die naam is van hulle voorvaders se God wat hom (kwansuis?) gestuur het?
Duidelik verwag Moses dat die klomp Israeliete nou sal dink dat hy van húlle stamgod praat. En bes moontlik sit dieselfde vraag ook maar steeds in sy eie agterkop.
Verse 14-15 is dan God se antwoord. Dit het drie komponente.
+ Eerstens, v.14a: "Ek is Wie Ek is". Dis nog nie God se Naam nie. Moses moet allereers goed begryp dat Hy nie net nóg 'n stamgod is nie. Hy het nie sy bestaan aan 'n nog hoër skepper te danke nie. Hý is die Een wat nog altyd was, en wat nooit verander nie. Wat Hy van ewigheid af was, is Hy steeds, en sal Hy tot in ewigheid wees.
Met ander woorde: God praat nie hier oor Wie Hy is nie, maar oor Wat Hy is.
Hy sê dus vir Moses: Jy het nou met die God van alle gode te doen; met die Here van alle here. Jy praat met die Ewige Absolute; met die onveranderlike en ongeskape Skepper van alles buite Homself. Jy staan voor die "Ek is Wie Ek is!"
+ Tweedens, in v.14b sê God nie soseer iets méér oor sy wese nie. Met die verkorte vorm van van sy wese bou hy 'n brug na die Wíé Hy is: "So moet jy die Israeliete antwoord, 'Ek Is het my na julle gestuur' ".
+ Derdens, in v.15 kom ons uiteindelik by God se Naam: Ons lees, Hy het weer vir Moses gesë: "So moet jy vir die Israeliete sê, 'Die HERE ... het my na julle gestuur' ..."
Die Hebreeuse teks lees net: "JHWH" het my gestuur.
= Afgesien daarvan dat antieke Hebreeus nie klinkers gebruik het nie, het die Israeliete ook uit ontsag nooit die naam uitgespreek nie. Óns ken dus nie met absolute sekerheid die uitspraak daarvan nie. Maar God het dit sekerlik self by hierdie geleentheid uitgespreek, en dus het minstens Moses die voorreg gehad om dit te hoor.
Vir bepaalde redes is daar vroeër aanvaar dat die uitspraak JeHoWaH is. Tog word dit vandag allerweë aanvaar dat dit eerder JaHWeH is (ek voeg in beide gevalle die klinkers in kleinletters by ter wille van die uitspraak).
Die meeste vertalings vertaal JHWH met "HERE" (Eng. "LORD"). Dit gebruik hoofletters om dit te onderskei van ander Godsname wat as "Here" geskryf word.[3]
# Dis betekenisvol dat die Bybel hierdie benaming (Jahweh) vir al drie Persone van die goddelike Drie-eenheid gebruik.
Dit verwys spesifiek na die Vader (Ps 2:7; 110:1).
Dit verwys spesifiek na die Seun (Jes 6:1,3 en Joh 12:41 saam).
Dit verwys spesifiek na die Heilige Gees (lees Ps 95:6-11 en Heb 3:7-9 saam).
Wat openbaar God hier oor homself?
Onontkombaar is nou die vraag: Waarom spesifiek híérdie Naam? Wat wil God daarmee openbaar? Wat moet ons van Hom weet?
Ons staan op heilige grond. Maar ek wil dit tóg waag om dit só te verduidelik: My naam, Nicholas, is bloot my persoonlike noemnaam – maar dit het ook 'n betekenis: "oorwinnaar van mense"
In die antieke wêreld was die idee dat jou noemnaam 'n tipering moes wees van jou karakter. Terwyl dit in mense se geval meestal, en helaas, níé so uitwerk nie (vir seker nie in myne nie!) – geld dit in God se geval absoluut.
Die naam JHWH openbaar dus aan ons
die essensie van wie en wat
die allerhoogste God van hemel en aarde is
én
om Hom te ken
is die essensie van jou en my ewige lewe
Hier is ons by die hart, die essensie van wie en wat God is.
Wat leer dit ons? Hiervoor moet ons nie soseer na sy Naam self kyk nie, maar na dit wat Hy is. Dus nie soseer na sy Naam nie, maar na die betekenis daarvan. Ons moet dus fokus op "Ek is Wie Ek is."
Geen mens kan die diepgange van God se wese deurgrond nie, maar onderstaande is 'n poging om iets daarvan kortliks te verwoord.
1. "Ek is Wie Ek is" beteken dat Hy die God van alle gode is
Teenoor die klomp denkbeeldige en self-geskepte gode van die heidene[4], is Hý die ware God, die Skepper van hemel en aarde – die Allerhoogste. Hy is die Een wat was, en ís, en sal wees – die Een wat régtig bestaan. Die allereerste Oorsprong van alles wat buite Hom bestaan.
Dis die Een wat Paulus baie eeue later in Athene aan die heidene sou verkondig (Hand 17:22-28): "Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: 'Atheners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Want toe ek deur die stad gestap het en noukeurig gekyk het na julle voorwerpe van aanbidding, het ek ook 'n altaar gevind waarop geskryf staan, 'Aan 'n onbekende god.' Wat julle dan onwetend aanbid, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Hy word ook nie deur menslike hande bedien, asof Hy aan iets behoefte het nie – dit is Hy wat aan almal lewe en asem, ja alles, gee. Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal, sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom sou uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie."
En aan die Christene in Korinte skryf hy in 1Kor 8:4-6: "Wat die eet van afgodsoffers betref, weet ons 'Daar bestaan geen afgod in die wêreld nie,' en 'Daar bestaan geen god nie, behalwe Een.' ... daar (is) een God, die Vader, uit wie alles is, en ons vir Hom, en een Here, Jesus Christus, deur wie alles is, en ons deur Hom."
2. "Ek is Wie Ek is" beteken dat Hy nooit 'n begin gehad het nie
Hy was van alle ewigheid af daar. Hy het nooit ontstaan nie. Hy is die ewige, ongeskape, en dus onveroorsaakte Skepper of Oorsaak van alles buite Homself.
Onontkombaar logies is dit dat bloot die feit, dat ek en jy hier is, en op die aarde woon, reeds 'n onomstootlike Godsbewys is. Want daar is geen meer-diepliggende feit, as dat niks uit niks kan ontstaan nie. Elke molekule bewys God se bestaan as Skepper.
Daar is 'n ewige ongeskape Skepper – daar móét wees, want anders was alle syn onmoontlik!
3. "Ek is Wie Ek is" beteken dat Hy nooit sal ophou bestaan nie
Die uidrukking kan ook vertaal word, "Ek sal wees wat Ek sal wees". Hy is die ewig-onveranderlike, die ewig-onverganklike. Hy word nie oud nie, Hy verloor nie belangstelling nie. En Hy verbeter nie – want hoe kan volmaaktheid beter word?
4. "Ek is Wie Ek is" beteken dat Hy die skepper is van alles wat buite Hom bestaan
Voor die skepping was Hy daar – nét Hy. Hy bestaan bo die dimensies van tyd en ruimte waaraan óns so algeheel onderworpe is.
Daar was van alle ewigheid af geen realiteit búíte Hom nie – nie ruimte, oftewel spasie nie; nie materie nie; nie tyd nie; nie energie nie. Daar was geen lig, geen orde, geen lewe nie. Daar was geen stof, of plant, of dier, of mens nie. Sonder Hom het niks, maar níks van hierdie skepping bestaan nie – niks, niks, niks!
Toe het Hy gespreek. En dit was daar – vanuit niks. En alle syn buite Homself het uit Hom voortgekom!
Niks, maar niks in Sy skepping kan met Hom vergelyk word nie. Hy is volkome uniek. Hy is verhewe bo alles in Sy skepping. Hy is die gansandere. Die ganse heelal lê by wyse van spreke in die holte van Sy hand.
5. "Ek is Wie Ek is" beteken dat Hy geheel-en-al soewerein is
Hy het die reg en vermoë om as Skepper en Onderhouer – en dus as onbetwisbare Eienaar – die ganse heelal en alle skepsele (in die hemel en op aarde) te regeer net soos Hy wil, sonder enige aanspreeklikheid hoegenaamd aan iemand anders. Hy beskik oor alle wysheid, mag, en reg om dit wat Hy besluit het tot in die fynste besonderhede uit te voer. Niks kan Hom stuit, of pla, of verras, of verwyt nie. Hy gaan onverstoorbaar voort.
Niemand kan Hom voorskryf nie. Hy is niemand enige verskoning of verduideliking verskuldig nie. Hy is die Pottebakker; ons die klei. En "het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?" (Rom 9:21).
Óf ek aanvaar dit en onderwerp my daaraan, óf ek verset my daarteen – tot my eie ondergang en ewige verdoemenis. So ís en bly dit vir alle ewigheid. Geen mens kan hierdie realiteit ontkom nie! En niemand kan dit verander nie. En niemand durf dit kritiseer nie.
6. "Ek is Wie Ek is" beteken dat Hy onbeperk-almagtig is
As Hy dan alles geskape het vanuit niks, het Hy gewis ook die vermoë, en krag, en gesag om enigiets te bewerkstellig en te bereik – wat Hy ook al wil, wat Sy wysheid mag voorskryf, wat Sy liefde mag begeer, en wat Hy in Sy heiligheid mag nodig ag.
7. "Ek is Wie Ek is" beteken dat Hy algeheel onafhanklik is van alles buite Homself
Hy is die Algenoegsame. Hy is van niks of niemand buite Homself afhanklik nie. In Homself het Hy alles wat Hy ooit mag nodig hê. Nogtans is alles daar ter wille van Hom – in die besonder ter wille van Sy eer. "Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen" (Rom 11:36).
8. "Ek is Wie Ek is" beteken dat alles wat nie God is nie, totaal afhanklik van Hom is
Dit is wat Paulus daar in Athene op die Areopagus sê: "Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons ..." (Hand 17:28). Elke asemteug, elke krummel op ons borde, elke gram water en suurstof, elke sent in ons beursies, elke kilometer wat ons veilig ry – kom in die finale analise vanuit sy goedheid en sy hand.
9. "Ek is Wie Ek is" beteken dat Hy die onbevraagtekenbare norm is vir wat reg, en goed, en heilig is
Vuur is simbool van hierdie heiligheid. Daarom moet Moses sy skoene uittrek.
Jahweh is die somtotaal van alle morele skoonheid. Wie en wat Hy is, en doen, en beveel, is altyd en onbetwisbaar rég. Hy is die oorspronklike en finale definisie van geregtigheid en moraliteit. Hy is heilig, heilig, heilig!
En daarom moet ook sy skepsele heilig wees. As hulle ná die sondeval hoegenaamd nie meer daartoe in staat is nie, bewerkstellig Hy dit self in hulle – in God die Seun wat mens geword het. Só radikaal is dit waarvan ons praat – om heilig te wees soos Hy heilig is – dat dit 'n diep-ingrypende en lewenslange herskeppingsproses vereis om te bewerkstellig. Dit strek van 'n begenadigde persoon se wedergeboorte af, en en kom eers tot vervolmaking wanneer hy of sy finaal heerlik gemaak word – en heilig sal wees soos Hy heilig is (1Kor 15:35-58 ).
Opsommend
Die Godsnaam Jahweh
dui op sy ewige en algeheel-onafhanklike self-bestaan en self-bepalende karakter
In alles wat Hy is en doen
is Hy van-binne-gedrewe en algeheel onafhanklik van enige buite-invloede
Dit is die hart van wat ons sy soewereiniteit noem
Waarlik
die ganse skepping is in vergelyking met Hom
soos niks, maar niks nie
Ek is ... Hy is
# Mens kan verstaan dat God Sy ewige algenóégsaamheid met Sy Naam, "Ek is wat Ek is", beklemtoon.
Máár die verkorte vorm van Sy Naam bly half vreemd, nie waar nie. Dis asof dit 'n onvoltooide sin is: "Ek is ....".
# In die res van die Ou Testament kry ons egter 'n wonderlik-verhelderende sleutel.
Op verskeie plekke, stel dit by wyse van spreke maar só, voltooi die Here self vir ons die "halwe sin". As Hy sy verbondsgoedheid teenoor Sy volk openbaar, heg Hy 'n tweede begrip aan Sy verbondsnaam. So sê Hy dan wát "Hy ís ..." vir sy gunsgenote is.
+ JaHWeH Rapha: Hy is ... genesing (Eks 15:26). Die HERE herstel en vertroos ná Sy tugtiginge – anders as in die Egiptenaars se geval.
+ JaHWeH Nissi: Hy is ... banier (Eks 17:15). Die HERE stry die stryd vir Sy gunsgenote. In Hom is hulle oorwinning gewaarborg.
+ JaHWeH M'Kadesh: Hy is ... heiliging (Lev 20:8). Die HERE werk heiligend in Sy volk, sodat hulle uiteindelik heilig word soos Hy.
+ JaHWeH Shalom: Hy is ... vrede (Rig 6:24). As die besef van hulle nietigheid en die belewing van verlorenheid Sy geliefdes wil oorweldig, bewerkstellig die HERE vrede tussen Hom en hulle, en verseker hulle dan daarvan.
+ JaHWeH Ro-ih: Hy is ... herder (Ps 23:1). Die HERE lei Sy skape op die regte pad en beskerm en versorg hulle.
+ JaHWeH Tsidkenu: Hy is ... geregtigheid (Jer 23:6). Reeds in Ou Testamentiese tye openbaar die HERE die heerlike waarheid van regverdiging deur die geloof alleen; trouens, was dit alreeds 'n werklikheid.
+ JaHWeH Shammah: Hy is ... dáár (Eseg:48:35). Die profesie van Esegiël word op die wonderlikste wyse denkbaar afgesluit met die versekering dat die HERE tot in alle ewigheid tussen Sy geliefde gunsgenote wil, en inderdaad sál woon.
+ JaHWeH Sebaoth: Hy is ... van die leërskare (talle plekke). Terwyl die HERE baie vyande het, hou nie een van hulle – of hulle gesamentlik – vir Hóm, of vir hulle wat aan Hom behoort, enige bedreiging in nie.
Gaan ons té ver as ons dit só verstaan?
Een en elkeen wat in die genadeverbond vasgeknoop is aan Hom
wil Hy verseker:
Wat jy ook al regtig, maar régtig mag nodig hê
verbind Ek my om daarin te voorsien!
# Hy wil dus met hierdie Verbonsnaam vir Sy geliefdes sê: "Ek wil persoonlik vir julle alles wees wat julle ooit wérklik mag nodig hê. Vertrou My! Ek wil vir julle in die volste sin van die woord 'n Vader wees – 'n Vader wat Sy verantwoordelikheid teenoor Sy kinders ken. Op My liefdesorg kan julle peil trek!"
# Daar is nóg een van hierdie uitgebreide Verbondsname van God – die heel eerste een in die Ou Testament. En nooit kan ons ophou om Hom daarvoor te dank nie.
Ons praat van Gen 22:14. Abraham noem die plek waar die HERE die offerram in sy seun, Isak se plek voorsien: JaHWeH Jireh: Hy is ... voorsiening.
So duidelik soos daglig is hier reeds vroeg-vroeg in die openbaringsgeskiedenis 'n sinspeling op Christus, die Lam van God wat namens God se geliefdes geslag sou word!
Waarlik, hierdie Gawe van die HERE se verbondsliefde laat ál Sy ander gawes – wonderlik kosbaar soos hulle mag wees – tot dowwe skaduwees verflou.
Al sou ek al die ander hê, maar nie híérdie een nie, het ek nog niks nie.
En al sou ek ál die ander verbeur, maar ek het wel híérdie een, het ek reeds en steeds alles wat ek ooit mag nodig hê – vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid!
Die "Engel van die Here"
# Het jy opgelet wat staan daar in Eks 3:2?
Dis die "Engel van die HERE" wat daar in die woestyn aan Moses verskyn. Maar dis ook terselfdertyd vir Hóm wat Moses twee verse verder – as hy later as hy hierdie gebeurtenis beskryf – "die HERE" noem (3:4-5).
# Die uitdrukking, "Engel van die Here" kom talle kere in die Ou Testament voor. Soms dui dit bes moontlik gewoon op die hemelwesens as uitgestuurdes van God. Maar meermale dui dit onteenseglik op God self, soos hier in Eksodus 3 (o.m. Gen 16:7-11,13; Jos 5:13-6:5 (let op 6:2); Rigt 6:11-12a,12b-26; 13:3-22).[5]
# Terwyl, bloot Ou Testamenties gesproke, nie 'n klinkklare saak daarvoor uitgemaak kan word nie, word dit algemeen aanvaar dat alreeds die ou Kerkvaders waarskynlik reg was – naamlik dat die uitdrukking "Engel van die Here" meermale in die Ou Testament spesifiek dui op 'n voor-vleeswordingsverskyning van God die Seun.
Hierdie beskouing word uiteindelik sonder twyfel bevestig deur die Nuwe Testament; trouens, deur die Here Jesus self.
"Ek Is", die pratende met jou
# In Joh 4 lees ons dat Jesus by die dorp Sigar in Samaria aankom. Daar sou baie Samaritane tot geloof in Hom kom. Die eerste helfte van die hoofstuk word gewy aan sy ontmoeting en gesprek met 'n vrou by 'n put.
Dis 'n baie betekenisvolle gesprek. Jesus praat met haar oor haar sonde en haar dringende behoefte aan die water van die lewe. In die proses maak Hy meer as een uiters belangrike uitspraak (vgl. bv. v.13-14; v.21-24).
Ook maak Hy baie akkurate uitsprake oor haar sondige lewenstyl oor jare heen. Gevolglik móét die vrou erken: "Meneer, ek sien dat u 'n profeet is."
Maar dan probeer sy uit haar verleentheid glip met haar vraag oor wáár aanbid moet word – op die berg Geresim, waar die Samaritane aanbid; of in Jerusalem, waar die Jode aanbid. Dit lei dan tot die Here se belangrike uitspraak oor ware aanbidding – in gees en in waarheid (Joh 4:21-24).
Die vrou wend uiteindelik 'n laaste poging aan om Jesus te systap. Sy probeer die gespreksfokus verskuif na die komende Messias toe.
Dit lei dan tot van díé mees uitstaande woorde in die ganse Nuwe Testament: "Jesus sê vir haar: "Ek Is, is die Een wat met jou praat."
# Hierdie eenvoudiggeklede, moeë en dors man, Hy, ja presies net Hý, is die beloofde Messias (v.26).
Die opskrif hierbo is 'n letterlike weergawe van die Grieks. En die 2020 vertaling verstaan kennelik die gewigtigheid van die Here se aanspraak – aangesien beide woorde met hoofletters begin: "Ek Is".
Duidelik soos daglig verklaar Jesus hier dat dit Hy, presies net Hý is wat destyds aan Moses in die woestyn verskyn het as Jahweh.
# Baie inhoudryke name word deur die Nuwe Testament vir die Seun van God gegee. Daar is onder meer: die Woord van God; die Lam van God; die Seun van God; die Seun van die mens; die Verlosser; die Lig van die wêreld; die Here; die Geliefde; ons Hoëpriester; die Oorwinnaar; die Koning. Elkeen van hierdie name is wonderlik betekenisvol. Maar dalk kan ons sê dat geen naam groter en meer gewigtig is nie, as hierdie "Ek Is".
# Het die Here Jesus Christus die feit dat Hy waarlik en ten volle God is, ooit méér uitdruklik, maar ook diepsinnig verklaar? Terwyl Hy oor en oor in die Nuwe Testament onderskei word van God die Vader en God die Heilige Gees, laat Hy terselfdertyd geen twyfel daaroor nie dat ook Hý waarlik en ten volle God is.
Die "Ek is"-uitsprake
Maar daar is méér
# Net soos in die Ou Testament, gaan die Here Jesus in die res van die Johannesevangelie voort om die sogenaamde onvoltooide naam hier in hoofstuk 4, verder aan te vul. Hy doen dit 7 keer.
Joh 6:35: "Ek is ... die brood van die lewe"
Joh 8:12; 9:5: "Ek is ... die lig van die wêreld"
Joh 10: 9, 7: "Ek is ... die deur"
Joh 10:11, 14: "Ek is ... die goeie herder"
Joh 11:25: "Ek is ... die opstanding en die lewe"
Joh 14:6: "Ek is ... die weg en die waarheid en die lewe"
Joh 15:1, 5: "Ek is ... die druiwestok"
Maar daar is nóg meer
# Die Hebreeuse woord wat ons as "Messias" vertaal, is "mashiach". Die ooreenstemmende Griekse woord is "Christus" (Joh 4:25).
In die Ou Testament het die woord basies verwys na 'n man wat God gekies het tot 'n bepaalde funksie. Hy is dan ingesweer met 'n gewigtige seremonie, waartydens hy gesalf is met olie. So is hy dan afgesonder as iemand wat deur God geroep is vir 'n bepaalde taak.
'n Koning is byvoorbeeld só afgesonder tot sy verantwoordelike roeping (bv. die seun, Dawid in 1Sam 16:12-13 v.v.).
'n Hoëpriester is so ingehuldig (bv. Eks 28:41 en konteks).
Profete is soms so afgesonder (bv. Elia wat in 1Kon 19:16 vir Elisa salf as opvolger).
# As al die voorafgaande nou saamgeknoop word, sien ons wat die Here Jesus ten diepste in sy ontmoeting met die Samaritaanse vrou oor Homself verklaar:
Hy is die tweede Persoon van die goddelike Drie-eenheid
dus ware en volkome God
Én
Hy is ook meteen volkome Mens
die "Laaste Adam"
die Hoof van God se nuwe die nuwe mensheid.
In Hom trek al drie die Ou Testamentiese middelaarsampte tussen God en sy volk saam.
As sodanig is Hy meteen:
Én Profeet! Én Priester! Én Koning!
Nee, nee, méér:
Díé Profeet! Díé Priester! Díé Koning!
Nee, nee, nóg meer:
God se finale en ewige Profeet!
God se finale en ewige Priester!
God se finale en ewige Koning!
Dis vir Hóm wat Abraham se nageslag vir baie eeue gewag het.
Uiteindelik hét Hy op sy verordineerde tyd gekom!
Dis op Hóm wat die Samaritane se geestelike nageslag uit alle nasies al vir 20 eeue wag.
Uiteindelik sál Hy op sy verordineerde tyd kom!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Oor hierdie datum is daar twee beskouinge: 'n vroeër datum, en 'n later datum (1446 v.C. of 1291 v.C.). Eersgenoemde datum word waarskynlik meer algemeen aanvaar. Vir ons doel is die verskil van 155 jaar nie werklik nou van belang nie. Die punt is: Ons praat van baie, baie lank gelede.
[2] Die Naam word wel talle kere vroeër in die Bybel gebruik (alreeds in Gen 2-3 'n stuk of 20 maal). Hoe moet ons dit verstaan? Sonder twyfel só: Toe Moses die grootste gedeelte van die eerste vyf boeke geskryf het (Gen-Deut), het hy dit ná Eks 3 se ervaring gedoen. En duidelik het hy hierdie Godsnaam, wat sekerlik ná sy ervaring by die brandende bos absoluut beheersend in sy lewe was, as 't ware teruggeskryf in die vroeëre geskiedenis. Daar is egter wel minstens twee verse wat tog die indruk skep dat hierdie Godsnaam dalk nie vroeër algeheel onbekend was nie. In Gen 9:26 lyk dit of Noag dit dalk geken het, en in Gen 15:2 Abraham self. En hoewel dit nie uitdruklik gesê word nie, wonder mens of dit nie ook van Henog waar was nie (Heb 11:5). Maar dis te betwyfel of hulle die dieptebetekenis daarvan sou verstaan het, soos dit híér in by die brandende bos na vore kom.
[3] Ongelukkig volg die NAV nie hierdie standaardpraktyk nie.
[4] Sien o.m. die veragtende en spottende beskrywings in Ps 135:15-18 en Jes 44:9-20.
[5] Vir 'n goeie artikel hieroor: http://tinyurl.com/y2w27z96