PDF WEERGAWE

PREEKOPNAME:      https://tinyurl.com/37rhmfuj

"God het die mens geskep na sy beeld,

na die beeld van God het Hy hom geskep,

manlik en vroulik het Hy hulle geskep "

Genesis 1:27 (2020)

Enkele inleidende opmerkings

# [1]       Ons wil nou kyk na een van die belangrikste en mees fundamentele temas in die Woord van die Here. Mens sal dalk 'n saak daarvoor kan uitmaak dat dit in 'n sin die hartstema van God se Woord is – in elk geval één van die hartstemas.

            God het nog nooit afgesien van sy oorspronklike skeppingsdoel nie. Wat is dit? Om die kosmos te skep tot sy eer en verheerliking. Hiervan sou die aarde die fokuspunt wees, met die mens as bestuurder daarvan. Nog meer, Hy het die mens geskep om vir alle ewigheid vanuit sy hart in 'n heilige liefdesverhouding met Hom te leef. Hierdie mensheid sou vir Hom 'n onderling-verknogte gesin wees; vir sy Seun 'n ewige en hartstogtelik-verliefde bruid; vir sy Heilige Gees 'n heilige tempel.

            Hiervoor was dit nodig om die mens na sy beeld te skep.

            In die studies wat volg wil ons spesifiek op die beeld van God fokus, asook die herstel daarvan in die mens nadat dit ernstig gebreek het te wyte aan die sondeval.

#          Sonder enige twyfel is die skepping van die mens die hoogtepunt van die skepping in Gen 1-2. Verreweg die meeste aandag word daaraan gegee in Gen 1, en veral in Gen 2.  En aan die hart van die mens se skepping is die feit dat hy na die beeld van God geskep is. Niks belangriker word van die mens gesê nie. In Gen 1:26-27 lei die Heilige Gees Moses om dit 3 maal direk na mekaar te herhaal!

            Dit wil vir ons sê dat ons baie, baie goed daarvan moet kennis neem.

#          As ons besin oor presies wat die mens is, is die feit dat hy na God se beeld en gelykenis geskape is sekerlik aan die hart van die antwoord. Dít is wat hom totaal onderskei van, en uitlig bo die res van die skepping. Dit maak die mens uniek, uniek, uniek in God se skepping.

            Dit sit in die spesifieke woorde wat gebruik word, die beeld en gelykenis van God. Waarom hierdie spesifieke woorde? Waarom word nie ander begrippe gebruik nie?

            Dis omdat daar iets wáár is van die mens, wat ook waar is van God. Die mens is 'n afskynsel van God! Nog meer, hoewel ek dit met huiwering, en daarom baie gekwalifiseerd sê: In die mens sit 'n vonk van goddelikheid!

 

            +          Presies hier, meen ek, het ons die verskil tussen Adam en Eva en hulle nageslag, enersyds, en die sg. "oermense" wat volgens die paleontologie so lank terug soos 2,8 miljoen jaar gelede reeds geleef het, andersyds.[2] Adam en Eva is na die beeld van God geskep. Van laasgenoemdes glo ek nie was dit waar nie. Ja, ja, hulle het in sekere opsigte toenemend tipies soos mense geraak, maar niks daarvan dui op die beeld van God soos ons dit algaande sal verstaan nie.[3]

            Daar mag nou lesers wees wat glo dat daar nie soiets soos oermense was nie. Ek meen egter dat daar in Genesis dalk wel sprake mag wees van sulke wesens. Daar word bloedweinig oor hulle gesê. Mens kan dus nie seker wees van my stukkie spekulasie so pas nie. Maar lees jy Genesis kry jy wel die indruk dat hulle bes moontlik nie van Adam en Eva se nageslag was nie. Neem byvoorbeeld Gen 6:1-4 wat praat van die "Nephilim" (ESV), oftewel "reuse" – die "geweldiges uit die ou tyd" – wat in daardie dae op die aarde was. Dis Kain, die éérste seun van Adam en Eva, wat teen hulle gewaarsku word. Wie was hulle, waar het hulle vandaan gekom? [4]

#          Terug na Adam en sy nageslag wat na God se beeld geskape is. Mens dink onwillekeurig aan Ps 8:6: "U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon" (OAV). So stel die 2020 dit: "U het hom net minder as 'n hemelse wese gemaak; U het hom met eer en majesteit gekroon."

'n Nadere kyk na Gen 1:26-27

#          Genesis 1:27 lig een van die gereelde poëtiese elemente in die Bybel uit. Só bring die 2020 die versvorm uit:

God het die mens geskep na sy beeld

                               a                   b

na die beeld van God het Hy hom geskep

        b'                                          a'

manlik en vroulik het Hy hulle geskep

         b"                                     a"

    

#          Sowel man as vrou is na God se beeld geskep (Gen 1:27; Gen 5:1-2).

#          Genesis 1:26 gebruik 2 woorde om oor hierdie saak te praat: "beeld" en "gelykenis" (ESV: "image"; "likeness").

            +          Die woord "beeld" (Heb. tselem) dra die idee van verteenwoordiging. In die antieke wêreld was dit tipies dat 'n koning of vors 'n beeld of afgod van homself iewers geplaas het om sy soewereiniteit in daardie gebied te simboliseer. Hierdie woord wil dus sê dat God die mens op die aarde geplaas het om Hom te verteenwoordig.

            En aangesien die woord kóningskap impliseer, wil hierdie tipering van die mens sê dat God die mens in die skepping geplaas het om namens Hom te regeer.

            +          Die woord "gelykenis" (Heb. demuth) praat van 'n patroon of 'n vorm – 'n afbeelding van iets oorspronklik. Hier in Genesis wil dit vir ons sê dat die mens volgens die patroon van God geskape is. Mens hoor soms dat mense van 'n seun sê dat hy op 'n haar na sy pa trek – wat persoonlikheid en gedragspatrone betref. Dit word byvoorbeeld in Gen 5:3 van Set gesê dat hy 'n "gelykenis" en "ewebeeld" van sy pa, Adam was.

            So was die ongevalle mens 'n gelykenis van God.

 

            +          Calvyn is waarskynlik reg as hy geen noemenswaardige teologiese verskil tussen beeld en gelykenis sien nie. Hulle word as sinonieme ter wille van beklemtoning gebruik.

Wat presies is die beeld van God in die mens?

#          Hierdie is geen maklike vraag om te antwoord nie. Baie is deur die eeue al daaroor gespekuleer en geskryf. En uiteenlopende opinies daaroor is aan die orde van die dag.

            Wat onderskei die mens van die dier? Daar is sóveel ooreenkomste, veral met sekere diere. Maar die beeld van God lê nie in voorkoms nie; ewe min is dit anatomies of fisiologies. Dit gaan oor iets veel dieper.

#          Baie Skrifuitlêers poog om 'n antwoord op die vraag in die onmiddellike konteks te vind. Dis 'n baie gesonde beginsel van Skrifuitleg, maar in hierdie geval help dit ons nie baie nie. Ons sal wel weer terugkeer na Gen 1-3 toe. Maar eers sal ons wyer in die Skrif moet kyk om 'n antwoord te kry op die vraag: Presies wat is die beeld van God?

Ou Testamentiese openbaring

#          Kyk ons na die res van die Ou Testament, kry ons nog nie die antwoord waarna ons soek nie. Mens kan dit beswaarlik glo, maar die ganse Ou Testament verwys net nog twee keer in soveel woorde uitdruklik na God se beeld (Gen 5:1-3; 9:6).

#          Net een nuwe, maar belangrike waarheid kom wel hier na vore.

            +          Die beeld van God het na die sondeval steeds tot 'n mindere of meerdere mate behoue gebly in alle mense. Die sondeval het dit wel ernstig beskadig, maar dis nie heeltemal uitgewis nie.

            Dis soos 'n spieël wat geval het en van hoek tot kant gekraak is, maar mens kan jou beeld darem nog steeds daarin uitmaak, weliswaar nie naastenby akkuraat en in besonderhede nie (Gen 5:3; 9:6; vgl. ook Jak 3:9).

            +          Duidelik is die beeld nie in alle mense ewe veel gekraak nie. Onder gevalle mense is daar talle wat besonder ordentlik en moreel is. En dikwels is dit te danke aan die feit dat die mens ongeneeslik godsdienstig is. Hoeveel diesulkes is daar nie in ons land nie; trouens, kerkbanke kreun Sondag na Sondag onder baie van hulle. Cornelius in Handelinge is 'n uitnemende voorbeeld (Hand 10:2; 11:14).

            Dan is daar díé aan die ander kant, diegene in wie die spieël amper totaal versplinter is. Is die Bybel, geskiedenis en koerante nie van hoek tot kant vol oor diesulkes nie?

#          Laat die feit dat ons uitdrukking so selde in die Ou Testament voorkom – en hier baie vroeg in Genesis (Gen 5:1; 9:6) – ons waarsku om nie sonder meer die belangrikheid van 'n Bybelse begrip te meet aan hoe dikwels die Skrif daaroor praat nie.

#          Die feit dat die uitdrukking, die beeld van God, so skraps voorkom in die Ou Testament, moet ons nie verlei om te dink dat die res van die Ou Testament die feit as sodanig verwaarloos of ignoreer nie. Die teendeel is waar! Terwyl die definisie afwesig is, word die saak van die godsbeeld oor en oor aangespreek.

Die Nuwe Testamentiese openbaring

#          As ons nie ons antwoord in die Ou Testament kry nie, is daar wel 'n paar Nuwe Testamentiese uitsprake wat ons help.

#          Die beeld van God word gesien in die herskepping van die gevalle mens na die beeld van God. Dit gebeur uiteraard in Christus en slegs so. Dis iets wat elke wedergeborene proefondervindelik ken, want in sulke begenadigde mense het die Here God sy geruïneerde beeld herskep. Weliswaar is dit nog in die proses van ontwikkeling.

            Laat ons só daaroor dink: 'n Pasgebore baba is reeds volwaardig mens, maar nog nie volwasse mens nie. Vanaf geboorte tot en met volwassenheid lê nog baie groeiwerk voor. In hierdie lewe is alle Christene nog besig om te groei.

            Net so ontwikkel volwassenheid na die beeld van God gelydelik en moeisaam in 'n gelowige. Trouens, dit word eers afgerond ná hierdie lewe.

            Daar is dus 'n reeds en 'n nog nie wáár van my lewe as gelowige.

Drie sleutelverse

#          2Kor 3:18: "En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in 'n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees."

#          Ef 4:24 (Gr. baie letterlik): "... en trek aan die nuwe mens, volgens God geskep, in geregtigheid en heiligheid van die waarheid" Die ESV vertaal: "... and to put on the new self,created after the likeness of God in true righteousness and holiness." [5]

#          Kol 3:9-10 (NAV): "... moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek, en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God." (vgl. NIV; ESV)

#          Wat sien ons in bogenoemde verse? Die beeld van God kom op 3 intiem verweefde maniere tot uitdrukking.

            +          Eerstens dui dit op kennis (Kol 3:10; Gr. epignosin). Vir seker lê dit nie in kennis sonder meer nie. Daaraan het die gevalle en ongelowige wêreld geen gebrek nie.

            Neem ons die Skrifopenbaring in sy geheel in ag, kan jy tot geen ander gevolgtrekking kom as dat dit van Godskennis praat nie. Meer as enigiets anders is dit waarvoor die apostel Paulus hom in die gemeentes beywer het (vgl. Kol 2:1-3).

            Die sentraliteit hiervan word ook onderstreep in Joh 17:3 as die Here Jesus in sy hoëpriesterlike gebed sê: "En dit is die ewige lewe dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus."

            Dit gaan oor gemeenskap met God, oor 'n liefdesverhouding met Hom. Laat ons elke dag hiervoor bid.

            +          Tweedens praat dit van ware geregtigheid (Ef 4:24; Gr. dikaiosunē). Hierdie woord  kom baie algemeen in die Nuwe Testament voor (92x). Dit verwys na een van God se attribute. Máár hier dui dit kennelik op 'n lewenswyse wat God behaag en verheerlik – spesiek naasteliefde en -diens. 

            Die Here Jesus gebruik die woord baie dikwels in laasgenoemde sin:

            Dit wat volgens God se wil is (Matt 5:5,6,10,20; Joh 16:8,10).

            Dit wat Hy voorgeskryf het en dus deur die mens gehoorsaam moet word (Mat 3:15; 21:32) – die somtotaal van van God se opdragte (Mat 6:33), en die mens se godsdienstige pligte (Mat 6:1 ens.).

            Ook die apostels gebruik die woord so.

            Hier in Ef 4:24 word geregtigheid dus in 'n etiese sin gebruik.

                        =          'n Gerespekteerde Amerikaanse teoloog stel dit só: "moral rectitude toward one's neighbour." [6] Kortom, die hart van hierdie geregtigheid is naasteliefde en alles wat dit volgens die Skrif inhou.

            +          Derdens praat dit van heiligheid (Ef 4:24; Gr. hosiotēs). Hierdie spesifieke Griekse woord kom slegs tweemaal in die Nuwe Testament voor. Dit is dus nie die gewone woord wat gebruik word vir heiligheid nie.

            Die ander voorkoms daarvan is in Lukas 1:75, waar dit vir ons 'n aanduiding gee hoe ons dit moet verstaan. Dit praat van heiligheid "voor die Here" (2020).

            Ek meen dis in orde om te dink in terme van heiligmaking.

             

#          Die bekendste belydenisskrifte verwoord dit presies soos ons dit hierbo verstaan.

             

            +          So stel die Heidelbergse Kategismus dit: Vraag 6: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep? Antwoord: Nee, God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.

            +          Die 1689 Baptistebelydenis (4.2) en Westminster Confession (4.2) is soortgelyk.

#          Let op dat kennis van God, oftewel gemeenskap met Hom, en liefde vir Hom baie na aan mekaar lê. Tot die mate wat ek Hom ken, tot daardie mate sal ek Hom liefhê. Tot die mate wat ek Hom liefhet, tot daardie mate sal ek gemeenskap met Hom hê. Die dinge loop hand-om-die-lyf.

            En nou kan ons duidelik sien: Tot die mate mate wat ek groei in geregtigheid en kennis (naamlik liefde vir my naaste, asook gemeenskap met en liefde vir God), tot daardie mate kom Jesus se opsomming van die wet in my tot uitdrukking (Matt 22:37-40) – en dit lê aan die hart van 'n heilige lewe.

            En tot daardie mate sal die beeld van God in my tot uitdrukking kom!

            Sien jy die geïntegreerdheid van die godsbeeld in 'n mens. Mens het nie net een of twee dimensies daarvan nie. Óf al drie is teenwoordig in 'n mens, óf jy is nog nie herskep daarna nie.

Die beeld van God in die mens, Christus Jesus

  

#          God begin met 'n nuwe skepping as die tweede persoon van die Drie-eenheid volkome mens word. Ook hierdie nuwe skepping het 'n hoof: Jesus van Nasaret – "die tweede mens"; "die laaste Adam" (1Kor 15:45-47).

            Wanneer het die nuwe skepping dus 'n aanvang geneem? Veertig weke voordat Maria in Bethlehem gekraam het! Of, as jy wil, 9 maande voor wat ons nou kersdag noem.

            Uiteindelik was daar weer 'n volmaakte beelddraer van God!   

  

+          Daar is 'n rede waarom Hy nie die tweede Adam genoem word nie. Sy menswording was nie 'n weer-probeer, in die hóóp dat Hý nou suksesvol sou wees nie. Nee, nee! Hy was die allerantwoord om 'n gevalle skepping te red. As Hy nie sou slaag nie – ondenkbaar! – sou niemand anders dit kon doen nie. Hy was en is die "lááste Adam" – die finale Adam – wat sonder enige twyfel sou slaag. God kan nie in die uitwerk van sy raadsplan misluk nie!  

  

#          Dit beteken nie dat Jesus nie versoek is om sy sending die rug te keer nie. Hy is 'n duisend maal meer intens as die eerste Adam getoets. Dwarsdeur sy lewe moes Hy volkome heilig en gehoorsaam aan sy Vader leef, ten spyte van die ergste weerstand. Sy versoeking in die woestyn was 'n openlike en meedoënlose aanslag van die duiwel – ses weke lank (Mat 4:1-11; Mark 1:1213; Luk 4:1-13).

            Maar uiteindelik het alles tot 'n verskriklike klimaks gekom toe Hy Homself moes oorgee om gekruisig te word. Waarlik sy "proefgebod" was 'n duisend maal erger en werkliker as die van die eerste Adam. Laat ons nie die intensiteit daarvan onderskat nie. In Getsemane het Hy bloed gesweet!  

  

#          Maar, die laaste Adam het nie misluk nie! Hy het sy toets geslaag! Versterk deur die Heilige Gees, het Hy volmaak gehoorsaam aan die Vader gebly!  Nooit kan ons dankbaar genoeg wees vir Jesus se getrouheid aan sy roeping om die  Hoof van God se nuwe skepping, en Verlosser van die uitverkorenes te wees nie!  In Hom het die nuwe skepping 'n ewig-onwankelbare werklikheid geword.  

  

#          As ons dus wil weet hoe die beeld van God in ongebrokenheid en volmaaktheid in 'n mens hier op aarde lyk, moet ons na Jesus kyk.  

  

             +          Joh 14:9: Jesus sê: "Wie My gesien het, het die Vader gesien."  

              +          Kol 1:15 : "Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die Eersgeborene oor die hele skepping." Die Grieks wat vertaal word met "beeld" hierbo, is eikon. Die ooreenstemmende Hebreeuse begrip in die Ou Testament is tselem. Die woord dra die idee van verteenwoordiging en manifestasie. God is gees, en is as sodanig onsigbaar vir die menslike oog, maar Jesus was God wat mens geword het. Hy het God aan ons kom openbaar.  

  

            +          Heb 1:3: "Hy is die uitstraling van God se heerlikheid en die ewebeeld van sy wese." Die Griekse woord vir "ewebeeld" is charakter. Dit dui, baie betekenisvol, op die afdruksel van 'n vorm in klei of op 'n muntstuk. Jesus het baie presies en betroubaar vir ons kom wys wat die onsigbare God wil hê ons oor Hom moet weet – sodat ons dit kan verstaan en Hom mag ken.  

  

#          In die lewe van die Here Jesus hier op aarde sien ons by uitnemendheid die beeld van God gedemonstreer. In Hom sien ons hóé die beeld van God volmaak in 'n mens in hierdie lewe tot uitdrukking kom. Hy het dit uitgeleef en vertoon.  

  

+          Dis waarheen ons in wie God se beeld aan 't vorm is op pad is! Dis waarop ons heiligmaking gerig is. Dis 'n belangrike deel van ons hemelse Hoëpriester se voorspraak vir elkeen wat aan Hom behoort. Dis die fokus van die Heilige Gees se heiligmakende werk. Dis wat ons moet najaag – om meer en meer soos Jesus te word. Hierop moet ons heiligmakingsvisier deurgaans korrel. Dis by uitnemendheid die Here se wil vir sy kinders.

Wie dit mis, mis iets wat aan die hart van die ware Christelike lewe lê.   

  

             +         2Kor 3:18: "En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou soos in 'n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees".  

  

            +           Kol 3:9-10: "Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het en die nuwe mens wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word, aangetrek het".   

  

            +          Kan jy sien, dis waarom die Skrif ons oproep om in Jesus se voetspore te volg, want Hy was die uitnemende en volmaakte voorbeeld, en demonstrasie van God se beeld in 'n mens. Hy is ons standaard, ons voorbeeld. En ons mikpunt en strewe is om dit meer en meer te beleef en te vertoon. En mag ek weer herinner: Dit gaan oor liefde vir, en gemeenskap met God Drie-enig. Dit gaan oor 'n heilige lewe; oor naasteliefde en diensbaarheid.  

  

#          Ja, ja, laat ek nogeens sê: Anders as in sy geval, is God se beeld in óns nog nie, noem dit maar, volwasse nie. Ons is nog in 'n hewige stryd met die vlees gewikkel. Oorblywende sonde is nog 'n tragiese werklikheid in ons lewens.  

        Ons is nog onderweg. Elke ware Christen weet dit baie, baie goed.

  

#          Maar dít staan eweneens vir seker vas: 'n Sekere en inderdaad toenemende gelykvormigheid aan die beeld van Christus is 'n werklikheid in elke wedergebore mens.

            +          Volgens 1Joh 3:9 is oorwinning oor sonde nou reeds die tipiese van egte Christenskap (die ESV en NIV vertolk die Grieks reg: "No one born of God makes a practise of sinning ... he cannot keep on sinning ..."). En daar is vordering. Steeds. Dag na dag; jaar na jaar. Moeisaam inderdaad. Stampe en stote, en mislukkings, terleurstellings, trane – helaas baie. Máár, word bemoedig hierdeur: Dis omdat die pad opwaarts is – hoër en hoër en hoër. Ja, dit kan baie steil raak. Maar, as jy voel dit raak te moeilik, onthou dan: Elke dag kom die voltooide en volmaakte beeld van Christus al hoe nader! 

Gemeenskap mét God!

Heiligheid vóór Hom!

Liefde ván Hom!

Na bo

Na binne

Na buíte

Non posse pecare!

Eeue gelede al is die waarhede waarvan hierdie studie praat, reeds verstaan. Dis so lank terug dat dit vir die eerste keer in Latyn gesê is – op die man af (so tipies van Latyn!).

Vir Adam het voor die sondeval gegeld:

posse pecare; posse non pecare

(die vermoë om te sondig; die vermoë om nie te sondig nie)

Vir die gevalle mens, die een wat nog in die eerste Adam is, geld:

posse pecare; non posse non pecare

(die vermoë om te sondig; nie die vermoë om níé te sondig nie)

Vir die wedergebore mens, die een wat met die laaste Adam verenig is, geld:

posse pecare; posse non pecare

(die vermoë om te sondig; die vermoë om nie te sondig nie)

Vir die verheerlikte mens geld:

posse non pecare; non posse pecare

die vermoë om  nie te sondig nie; nie die vermoë om te sondig nie

Terug na Genesis vir 'n aantal laaste perspektiewe

    

1.         Voor die sondeval was Adam en Eva se gemeenskap met hulle Skepper sekerlik die hoogtepunt van hulle bestaan

Volgens Gen 3:8-10 wandel God na die sondeval nogeens vroegaand in die tuin. Hy mis dan die mens en roep hulle. Hulle kruip gevolglik uit hulle skuiling uit, en bieg dat hulle ongehoorsaam was en gevolglik bang en skaam en sku is vir Hom.  

Die mens se liefde vir en gemeenskap met God het helaas tot 'n einde gekom. Sy beeld in hulle het gebreek! Hulle liefde vir Hom, en gemeenskap met Hom, is noodlottig geskaad.  

            +          Maar let op, hulle kon steeds op 'n manier met Hom kommunikeer. Sy beeld in hulle is nie heeltemal vernietig nie (Gen 3:9vv).

            Onwedergebore mense kan sekerlik op 'n manier in gees (in opregtheid) en waarheid (volgens die Woord) bid (Joh 4:20-24). Wanneer dit egter gebeur, hang dit bes moontlik alreeds saam met 'n voorbereidende en oortuigende werk van die Heilige Gees.

  

            +          Is dit 'n oorspanning van hierdie verse as mens sou aflei dat die aandwandeling voor die sondeval 'n gebruiklike tyd van saamstap vir die Here en die die kroon van sy skepping was – 'n tyd van innige liefdesgemeenskap? Is dit waarom God na hulle geroep het? Dit maak alle sin om dit af te lei – veral as ons dit lees in die lig van dit wat ons reeds tot nou toe gesien het.  

  

2.        Soos gesien is naasteliefde deel van God se beeld in die mens  

  

Gewis kom die hoogste en intiemste uitdrukking van naasteliefde in hierdie lewe tot uitdrukking in die huweliksverhouding tussen man en vrou (mits dit natuurlik is wat dit moet wees; sekerlik so voor die sondeval). Dit kom na vore onmiddellik nadat gesê is dat God die mens na sy beeld geskep het (Gen 1:27).  

            +          Die liefdeseenheid in die huwelik kom in 'n besondere sin tot uitdrukking in Adam en Eva se seksuele eenwording. Ons lees in 2:24: "Daarom sal 'n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word."  

            Hier kom die gewigtigheid van die sewende gebod en die huwelik ook na vore. As mens bogenoemde verstaan, maak dit soveel meer sin van God se ernstige veroordeling deurgaans in die Skrif van sondes soos egbreek, egskeiding, homoseksualisme, hoerery en perversiteit. Selfs in die gevalle mens doen dit geweld aan dit wat van die beeld van God in hom oorgebly het.  

  

            +          Net 'n laaste opmerking oor die man en die vrou. Hulle gelykwaardigheid blyk onder meer in die wyse waarop die vrou geskep word – uit die man se ribbebeen, uit sy eie liggaam. Hulle is van dieselfde soort. Beide is na God se beeld geskep.

            Tog verskil hulle. Hoewel Adam geweet het die vrou het uit sy liggaam voortgekom, kon hy sien dat sy anders is as hy. En wanner hy haar sien, bars hy uit in die heel eerste liefdeslied in die geskiedenis. Die ESV onderstreep die poëtiese in Gen 2:23: 

"This at last is bone of my bones and flesh of my flesh;

she shall be called Woman, because she was taken out of man."

  

            Benewens die versvorm blyk die poëtiese voorts in die oorspronklike woorde vir die vrou (ishshah) en die man (ish).  

            Hoeveel gedigte is daar nie sedertdien oor die liefde tussen man en vrou geskryf nie!  

  

3.        Ons vertoon God se beeld as ons met die regte gesindheid werk, van harte soos vir Hom 

  

Skaars word beklemtoon dat God mense na sy beeld geskep het, dan gee Hy vir hulle werk. Hulle moet heers oor die diereryk (Gen 1:26). Ek meen ons sal nie mistrap as ons die reikwydte daarvan uitbrei na die hele natuur toe nie.

            Die mens is rentmeester van die aarde en alles wat daarby inbegrepe is.  

            Laat ons dus voor God se aangesig werk, ten diepste tot sy eer. Miskien haal ek Kol 3:17 ietwat buite konteks aan, maar ek meen die beginsel is ook van toepassing op ons elke dag se arbeid: "En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank."  

  

            +          Ook God werk. Hy is die pottebakker wat die mens uit klei maak (Gen 2:7). Hy is die boer wat 'n tuin plant (2:8).

            +          Daar sit waardigheid in werk. Dis nie straf ná die sondeval nie. Ons is geskep om produktief te wees. Die mens moet die aarde vul, en onderwerp, en daaroor heers (1:28). Ons verteenwoordig God as 't ware hier op aarde. Dis soos 'n plaasbestuurder wat namens die eienaar boer. Adam begin hierdie mandaad uitoefen as hy die diere name gee (2:19-20). 

            Dit impliseer sy gesag en uitvoeringsvolmag.  

            Om te werk is 'n seën en 'n roeping; nie 'n vloek nie! Ja, ja, te wyte aan die sondeval het arbeid dikwels veeleisend geword (Gen 3:17-19). Maar op die nuwe aarde gaan ons vir seker weer volkome vervulling uit ons arbeid put.  

            Dit sal één manier wees waarop die beeld van God tot uitdrukking kom!  

  

4.        Op die sewende dag het God gerus (Gen 2:2-3)

Ook óns moet nie net werk nie.

            As ons rus soos Hy voorskryf, vertoon ons God se beeld. Mits ons rus ter wille van meerdere Godskennis en toegespitse liefdesgemeenskap met, en verheerliking van Hom. Mits dit ter wille van verdere toerusting tot 'n heilige lewe is. Mits dit ter wille van die gemeenskap van die heiliges is. Mits dit ter wille van diensbare naasteliede is.

God se beeld in die hiernamaals

  

#          Destyds moes Adam en Eva, deur volgehoue gehoorsaamheid aan die proefgebod, nog die móóntlikheid van mislukking oorkom. Hulle het nog nie God se einddoel met hulle bereik nie. Volmaaktheid as loon was nog net potensiëel.

            Volgehoue gehoorsaamheid aan die proefgebod tydens 'n proeftydperk sóú die mens by hierdie einddoel uitgebring het. Wat dit sou behels het, word egter nie in Genesis vir ons gesê nie.

       Tog word dit gesuggereer as Gen 3:22-24 van die "boom van die lewe" praat – waarna onsspoedig weer verwys.

 

#          Vir sy gehoorsaamheid is Jesus wonderlik deur die Vader beloon. Hy het ontvang wat die eerste Adam sóú ontvang het indien Hy die proefgebod enduit gehoorsaam het. Drie dae na sy dood het die tweede mens, die laaste Adam reeds die eerste groot paaiement gekry – die opstanding uit die dood, met 'n verheerlikte liggaam. En hierdie liggaam kan tot in ewigheid nie meer sterf nie.  

  

#          Wat sê dit vir die van ons wat deur die geloof met Jesus Christus verenig is? As die eerste Adam sy toets geslaag het, sou ook sy nageslag presies geërf het wat hy sou geërf het. Hy was immers hulle verbondshoof wat sy nageslag verteenwoordig het. Dis waarom die erfsonde as die resultaat van die sondeval tot vandag toe 'n aangebore realiteit in die lewens van alle mense is.  

            Baie dikwels verteenwoordig een persoon, of 'n klein groepie mense, 'n hele volk. Dis 'n verskynsel wat ons goed ken. Net so was en is die "laaste Adam" die Verbondshoof van sy ligaam. Ek is deur die wedergeboorte en geloof met Hom verenig, en deel dus in sy loon   

  

#          Op die laaste dag sal ook die Here se ander liggaam – sy gemeente – in heerlikheid opstaan. Daaroor is die Woord glashelder duidelik. En elkeen van hierdie begenadigdes sal na sy opstanding soos die opgestane Here Jesus wees.  

  

+          Rom 8:29 (NAV): "Die wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die eerste is".  

  

            +          Fil 3:21: "Hy sal ons nederige liggaam verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam, deur die krag wat Hom in staat stel om alles aan Hom te onderwerp."  

            +          1Joh 3:2: "Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is."

            Ontelbaar baie verrassings wag tot in ewigheid vir elkeen wat nou reeds deel het aan die nuwe skepping.

#          Terwyl ons bogenoede gelykheid aan Hom nie moet onderspeel nie, moet ons eweneens dit nie oorspan nie. Hy is en bly ook vir ewig volkome God. Hy sal steeds die Hoof bly; óns sy liggaam.

#          Een van die troosrykste beloftes in die Woord, is die van die "boom van die lewe" wat  op die nuwe aarde elke maand sal vrug dra tot genesing vir die nasies (Op 2:7; 22:2,14,19). Dit beteken nie in die eerste instansie dat daar geen siekte sal wees nie, maar beklemtoon, positief, die ewige en volkome gesondheid (met alles wat dit impliseer) wat die saliges sal geniet.

En daar sal nie meer 'n proefgebod wees nie!

Want díé toets is alreeds 2000 jaar gelede geslaag

volkome, finaal en afgehandel geslaag

Enkele opsommende opmerkings en persoonlike implikasies

 

#          Ons het na die hart van Christenskap gekyk. Enige ander beklemtoning mis dit; dis nie die ware Jakop nie. Waarvan ons gepraat het is Christelike outentisiteit.

            So lyk dit as Christus hoëpriesterlik vir jou versoening gedoen het, en steeds vir jou by die Vader intree. So lyk dit as die Heilige Gees in jou werk – wederbarend, heiligmakend, toerustend.

            Ja, ja, hierdie dinge hang saam met wilsbesluite, selfdissipline, inspanning – maar dis ten diepste uitvloeisels vanuit 'n herskepte hart waarop die wet van God geskryf is. Dis God wat in ons werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Fil 2:12-13).

Eers die hartsverandering

dan die lewe!

+          Ons praat dus van iets radikaal anders as 'n opstapeling van goeie werke om God se guns te probeer wen. Dit lei nie tot redding nie. En dit getuig ook nie daarvan nie. Inteendeel! Inteendeel!

            Natuurlik is daar nog baie gebrokenheid, baie mislukkings. Natuurlik is my hart nie elke dag ewe brandend nie. Maar as jy getrou is in beoefening van die genademiddele, en die beeld van God in jou aan 't vorm aanneem is, sal jy dit weet. En as jy soms daaroor twyfel, sal die mense om jou dit weet. Hoe kan 'n nuwe hart anders as om te wys? Jy het mos omgedraai. Jy volg en gehoorsaam Jesus immers.

            Ja, ons verloor meermale 'n rondte, ons oogbanke mag oopgeslaan word – maar ons lê nooit die volle telling nie. As jy waarlik herskep is en die Godsbeeld aan 't groei is in jou, verloor jy uiteindelik nooit die geveg nie!

            +          Ten spyte van die nog-nie in hulle lewens, is ware Christene, wat die drie dimensies van die godsbeeld betref, totaal anders as die mense van hierdie wêreld – diegene wat nog deel is van die gevalle mensheid.

            En daarom is die ware gemeente anders.

            +          Dooie en wêreldgelykvormige gemeentes is gewoon vals – en daarom Godonterend en onder sy oordeel. As die kandelaar verwyder is, het jy nie meer 'n kerk nie (Op 2:5). Dan het jy 'n lykshuis. En lykshuise word mettertyd rowerspelonke. Sulke mense – want 'n gemeente bestaan uit mense – word uiteindelik deur die Hoof van die kerk uitgespoeg (Op 3:16). Dis 'n uitdrukking wat die ergste veragting uitdruk.

            +          Daar mag dalk lesers wees wat dink ek maak die pap bietjie dik aan. My enigste antwoord daarop is – die allerantwoord: Gaan lees die Nuwe Testament! Luister na Jesus se oproepe tot dissipelskap. Kyk deur vars-gepoleerde lense na die opdragte van die sendbriewe. Werk versigtig deur die eerste brief van Johannes en onderstreep die merktekens van wedergeboorte – van wat die geboorte uit God in 'n mens meebring. Lees weer die sewe briewe in Op 2-3.

            Dis waarvan ek praat. Dis onontkombaar duidelik!

#          Oor sy of haar groei in die godsbeeld behoort 'n gelowige elke dag te bid. Bid oor jouself – jou verhouding met Hom, en jou getuienis teenoor die wêreld. Want in my en jou verheerlik en behaag niks die Here méér as godsvrug nie. En voor 'n kritiese wêreld lewer niks 'n kragtiger getuienis nie.

#          Net 'n paar laaste opmerkings. Sien jy die wonderlike logika, volmaakte geïntegreerdheid en eeue-oorspannende raadsplan van God raak? Alles pas soos 'n legkaart ineen – met wiskundige eksaktheid en logika! In hierdie stuk lering het ons na die prent op die legkaartboks se deksel gekyk.

             Hoe totáál anders is dít as die naïewe godsdienste van die gevalle mens wat probeer om met patetiese en mensgesentreerde rituele God te beïndruk!

             Hoe radikaal anders is dit as die mensgesentreerde, formalistiese, liturgiese en wettiese uitdrukkings van "christenskap" en "kerk-wees" wat in so 'n groot deel van die christendom deur die eeue en steeds dwarsoor die wêreld beoefen (gepleeg?) word!

            Hoe onmiskenbaar verskil dit nie van Bybelse aanbidding in gees en waarheid nie! Daar is geen, maar géén vergelyking nie!

#          Herken jy jouself hierbo? Waarskynlik wens jy dit was duideliker. Dis in orde so. Trouens, dis dalk juis 'n aanduiding van die ware Jakob. Waarom? Deel van toenemende heiligmaking is toenemende sondebesef. Die twee loop hand aan hand.

            Dit het die wonderlike effek dat jy al hoe dieper in Christus skuil. 

            Moenie toelaat dat die bewussyn van oorblywende sonde jou laat twyfel aan jou redding nie. Die begeerte om al hoe meer klaar te kry met mislukkings in, en oortredings van God se wil, is 'n teken dat jou Hoëpriester vir jou voorspraak doen en die Heilige Gees in jou aan 't werk is.

            As 'n wedergebore mens eerlik na homself kyk, verstaan hy John Newton se gevleuelde woorde:

I am not what I ought to be

I am not what I want to be

I am not what I hope to be in another world

but still I am not what I once used to be

and by the grace of God I am what I am

 

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]          Let op hoe ek te werk gaan: 'n Hoofparagraaf word gemerk met #. 'n Onderafdeling van so 'n hoofparagraaf, word dan gemerk met +. En 'n verdere uitbreiding van so 'n onderafdeling word gemerk met =. Tensy 'n leser dit in gedagte hou, sal hy of sy die voortgang en logika van die uiteensetting dalk moeilik volg.

[2]          My aanname is dat die wetenskap hieroor korrek is. Dit hoef in elk geval nie in stryd te wees met die Skrifopenbaring nie (reg verstaan). Groot getalle sulke skelette en gedeeltes daarvan is reeds ontdek.

[3]          Daar word soms verwys na die mens wat na God se beeld geskep is, as "Homo Sapiens Divinitas".

[4]          Vergelyk ook Gen 4:14-15,17. Mens wonder wie het in laasgenoemde vers se "stad" gewoon.

[5]          Die Griekse teks praat nie eksplisiet van God se "beeld" nie. Maar dis waarskynlik wat die apostel in gedagte het (histories so verstaan), en indien wel die geval, parafraseer die NAV korrek.

[6]          Robert L. Reymond: A New Systematic Theology of the Christian Faith; T. Nelson; 1998; p.429.