PDF WEERGAWE

PREEKOPNAME:               https://tinyurl.com/hmj5r7uu

Inleiding

#          Ons het gesien dat die beeld van God op drie maniere of dimensies in 'n ware gelowige tot uitdrukking kom:

            Eerstens, in sy of haar kennis van God, wat ook weer drie komponente het – begrip van God se selfopenbaring; gemeenskap met God; insig in sy wil en weë.

            Tweedens, in naasteliefde.

            Derdens, in 'n heilige lewenswandel.

#          Ons het reeds gekyk na die eerste dimensie.

            Nou fokus ons op die tweede: Naasteliefde. God se Woord is uiteraard boordevol oor hierdie onderwerp. Maar ek meen die locus classicus vind ons in die bovertrek, die aand voor die kruisiging. Daarna moet ons nou kyk.

Die Bybelse oproep tot naasteliefde

#          Om my naaste lief te hê volgens die opdragte van die Here Jesus, is gewis 'n saak van die allergrootste belang vir elkeen in Christus.

            Dis verstommend watter prominensie dit in die Skrif geniet. Weer en weer roep God se Woord ons daartoe op – dan op hierdie manier, dan op daardie manier.

            Dis iets waaroor ons baie gereeld en met groot erns moet bid. Dit moet 'n voorop-prioriteit in ons lewens wees. Ons moet ons daarin oefen. Dit moet 'n spontane lewensuiting vir ons word (ek vertrou die leser het dit beter onder die knie as ek).

#          Wat is die sentrale beginsel wat dit moet beheers? Wat is ware liefde vir jou medemens ten diepste – in die besonder jou broers en suster in die geloof?

            Is dit 'n gevoel? 'n Emosie? Om van iemand te hou? Vriendskap? Commitment?

            Wat is dit eintlik? Hoe kom dit prakties tot uitdrukking? Hierdie vrae kan uiteraard vermenigvuldig word.

            Sekerlik is dit vir elke dissipel van die Here van groot belang om die antwoord op hierdie vraag baie goed te verstaan ten einde dit uit te leef.

            Seker een van die bekendste gedeeltes in die Bybel is 1Kor 13. Dis immers die teks vir elke tweede of derde huwelikspreek. Maar volgens God se Woord is dit meer as bloot 'n paar sentimentele en morele gedagtes wat tannies hulle sakdoekies onder horlosiestreppies laat uittrek.

            Ja, geloof en hoop is onmisbaar, maar nóg groter is die liefde. Gewis lê dit aan die hart van Christelike godsvrug.

#          In die Skrif is dit meer as net 'n opdrag; dis inderdaad 'n innerlike aandrang van 'n wedergebore hart. Johannes se eerste brief sê vir ons dat naasteliefde een van díé merktekens van wedergeboorte, en dus van redding is. Dis dus 'n hartsgeneigdheid (1 Joh 3:14-18; 4:7-21).

            Maar 'n opdrag en 'n aandrang is één saak; hóé om dit uit te leef is iets anders.

#          As mens nou die vraag vra oor hóé die naasteliefde prakties tot uitdrukking kom, is die antwoord skielik nie meer so voor die hand liggend nie. Selfs Jesus se dissipels het behoorlik gesukkel om Sy opdrag hieroor onder die knie te kry.

            Kom ons besin hieroor.

#          Let op my aanslag in wat volg. Ek gaan nie bloot die dosyne Skrifgedeeltes wat van naasteliefde praat, soos krale aan 'n stringetjie probeer ryg nie. Dit sou seker nie verkeerd wees nie. Maar ek wil by die essensie van die saak uitkom.

            En inderdaad vind ons dit in die lering wat die Here Jesus vir sy dissipels gee en demonstreer. Lees ons deur die vier evangelies, word die hart, die beheersende beginsel van praktiese naasteliefde duidelik vir ons blootgelê.

#          Laastens, voordat ons na die Skrif kyk moet die leser daarop let hoe absoluut belangrik die Here die saak ag. Dis een van die dinge wat Hy die aand voor sy kruisiging – net ure voor die tyd – op 'n onvergeetlike wyse vir sy dissipels op die hart druk. Hy sou soveel ander uiters belangrike lesse vir hulle kon leer. Maar hierdie saak – híérdie saak – mag sy volgelinge nooit nalaat nie.

            Die manier waarop Hy dit doen, verseker dan ook dat geeneen van daardie klomp harde manne dit ooit sou kon vergeet nie.

            Ook op óns hartstafels moet dit onuitwisbaar ingegrafeer wees!

#          Jesus se lering oor die liefde daardie aand in die bovertrek, het 'n aanloop gehad.

Matt 16:15-16

#          As die Here Jesus vir Sy dissipels vra of hulle weet wie Hy is, antwoord Petrus namens hulle: "U is die Christus, die Seun van die lewende God."

            Hulle weet dus dat Jesus die Messias is – die Here, die Koning, die Seun van God.

#          Hulle Messiaanse verwagting was egter dat Hy sy nuwe koninkryk spoedig op hierdie aarde sou vestig.

            En hulle sou sekerlik verder gedink het: 'n koning het nie net onderdane nie, maar ook helpers, adjudante, 'n kabinet, ministers.

            Nog meer: Sonder twyfel was dit nie vir spek en boontjies dat Hy húlle twaalf uitgekies het om orals saam met Hom te wees nie – nou al vir 'n geruime tyd. Dis so duidelik

soos daglig: Húlle gaan vir seker Sy kabinet word as Hy eers die regering oorneem!

#          Maar daar is één tergende raaisel wat oorbly. In 'n kabinet is daar altyd 'n leier-minister! En wie gaan Jesus vir hierdie hoë amp aanwys? Hierdie vraag het gewis die ambisie hoog in hulle laat opvlam.

            Wie gaan Hy aanwys as die Premier?

Matt 18:1-4

In die komende dae en weke sou hulle baie oor die kwessie getob het. Sonder twyfel sou hy uit hulle geledere kom! Maar wíé gaan dit wees?

            Uiteindelik besluit hulle om die Here reguit te vra: "Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemele?"

            Jesus roep dan 'n klein kindjie om by hulle te kom staan. "Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel." Trouens, sê Hy, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle nie eers in die koninkryk kom nie – wat staan nog die grootste daarin wees.

            Duidelik weet die Here wat in die dissipels se agterkoppe sit. Vandaar hierdie antwoord. Vergeet van die premierskap, sê Hy. Maak allereers seker dat julle inderdaad die saligheid beërf. Dis tog sekerlik die belangrikste!

            Waarlik, hierdie is 'n uitspraak van die Here Jesus wat ons nie ligtelik durf opneem nie! Maar hiervan verstaan die klompie dissipels op hierdie stadium nog bloedweinig.

Mark 9:33-37

Dis 'n ruk later. Hulle is op pad. Dan kry die dissipels stry oor wie van hulle die belangrikste is.

            In Kapernaum begin die Here hulle dan met groot geduld leer: As iemand die eerste wil wees in die koninkryk van die hemel, moet hy nie omgee om laaste te wees nie. En hy moet bereid wees om almal se dienaar te wees.

            Hier wil Jesus dus beklemtoon dat daar in Sy koninkryk 'n baie hoë premie op diensbaarheid gestel word.

            Hy laat dan weereens 'n kindjie tussen hulle staan en sê: "Elkeen wat so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My ... ook vir Hom wat My gestuur het."

            Hierdie is 'n sprekende voorbeeld. Kindertjies gee nie om as grootmense hulle rondstuur nie. Trouens, hulle is baie trots daarop as 'n oom of tannie hulle só vertrou. Selfs meer as vandag het kinders in die wêreld van destyds geen status gehad nie. En allermins het hulle opdragte gegee. Nee, hulle het opdragte ontvang. Dit was vir hulle 'n eer om die grootmense se stuurjongens te wees.

            Maar oënskynlik het die dissipels steeds nie verstaan nie, want onmiddellik hierna lees ons van nog 'n voorval.

Matt 19:13-15; Mark 10:13-16; Luk 18:15-17

As die mense hulle kindertjies na Jesus toe bring sodat Hy aan hulle kan raak, neem die dissipels aanstoot. Maar Hy sê, nee, Hy wil juis hê hulle moet na Hom toe kom, want die koninkryk van God is vir mense soos díé. Trouens, dis 'n absolute voorwaarde vir ingang in die koninkryk. Mens wil amper wonder of Jesus homself nie verspreek nie. Maar nee, Hy gebruik die voorbeeld weer en weer.

            Sonder twyfel stel die Here 'n hoë premie op die voorbeeld van hierdie geen-statusmensies. Hoe moet mens dit vertolk?

Christus se koninkryk is 'n andersom koninkryk!

Tipies van hierdie koninkryk is opregtheid en diensbaarheid, asook ongeërgdheid oor kleur en titels en aansien en rykdom. Dis hoe kinders is. Presies só moet ook ons wees. En ons moet al hoe meer so word. Waarlik, niks is meer strydig met die koninkryk van die hemel as snobisme, ambisie, hooghartigheid, rassisme, naywer nie.

            Maar steeds het die dissipels nie verstaan nie. En kennelik het hulle bly wonder wie van hulle nommer één gaan word in die komende koninkryk. Wie gaan as eerste minister aangestel word?

Matt 20:20-28

Dis omtrent ses maande na die vorige insident. Jesus en Sy manne is op pad na Jerusalem (Matt 20:17-19). Die dissipels is opgewonde: Nou gaan die dinge begin gebeur. In die hoofstad gaan die poppe dans!

            Jakobus en Johannes se ma is ook saam met hulle. Sy besef die tyd raak min en sy sal vinnig moet spring. Met ambisie wat in haar brand, gaan sy na Jesus toe.

            Reguit vra sy vir Hom of haar seuns nommer een en nommer twee in Sy koninkryk kan wees. Of nóg beter, nommer een-a en nommer een-b. Jesus moet darem in gedagte hou dat hulle 'n ryk pa het (Mark 1:20).

            Nog meer, haar twee beweeg lankal reeds saam met Petrus in Jesus se binnekring. En as daar een man is wat sy wil voorspring, dan is dit die voortvarende Petrus.

            In v.22-23 lees ons hoe Jesus haar antwoord – en vir die twee seuns, wat duidelik geweet het wat hulle ma vir die Here gaan vra. Hulle was bes moontlik net 'n halftree agter haar. Nee, sê die Here, dis sy Vader se prerogatief om te besluit oor mense se posisie en status in die koninkryk van die hemel.

            Duidelik verstaan die dissipels steeds híérdie basiese beginsel van die omgekeerde koninkryk nie:

Prominensie in die koninkryk van Christus word uitgemeet

met die maatstok van nederigheid en diensbaarheid

As Hy dus voortgaan om met eindelose geduld hierdie beginsel wéér 'n keer op hulle harte te druk (teen hierdie tyd luister ál die dissipels), praat Hy in meer uitdruklike terme as ooit vantevore.

            Elkeen wat in Sy koninkryk groot wil wees, moet allermins baasspelerig en grootmeneer wees, maar veeleerder diensbaar by uitnemendheid. Nou draai Jesus nie meer doekies om nie: Mens moet 'n "dienaar" wees (Gr. diakonos, 'n bediende) (v.26). En as jy die eerste wil wees, moet jy almal se "slaaf" wees (Gr. doulos, 'n slaaf) (v.27).

            Onthou, in die antieke wêreld het 'n slaaf geen regte gehad nie; uiters dalk 'n paar voorregte (Luk 17:7-10). Iets soos werksure, jaarlikse verlof, byvoordele, vakbonde en waardering het, indien wel, beswaarlik bestaan.

            Die les van hierdie stukkie interaksie tussen die Here en Sy dissipels kan dus só saamgevat word:

Grootheid in die koninkryk

word gemeet met die maatstok van diensbaarheid

Luk 22:24-27

Dis 'n dag voor die kruisiging. Die dissipels is vol afwagting. Hulle ambisie bereik breekpunt. In Jerusalem is spanning en druk besig om rondom Jesus op te bou. Iets móét nou begin gebeur!

            Dan ontstaan daar weer 'n gestry tussen die dissipels oor wie van hulle die belangrikste is. Kan jy dit glo! Verstaan hulle dan nie wat die Here al hóé lankal by hulle wil tuisbring nie?

            Baie geduldig leer Hy nóg 'n keer vir hulle dieselfde les as vantevore. Mens kan jou indink hoe elkeen van hulle baie verleë en kop onderstebo na Hom luister: "die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is soos die een wat dien ... Ek is in julle kring soos die een wat dien."

Joh 13:1-17

Daardie selfde aand – die aand voordat Jesus enkele ure later gekruisig gaan word – is Hy en Sy dissipels in 'n bovertrek saam om die paasmaaltyd te vier. Judas is ook daar, hoewel hy reeds besluit het om Jesus te verraai

#          Eensklaps staan Jesus op, trek Sy bokleed uit en bind 'n handoek om sy lyf. Dan gooi Hy water in 'n wasskottel. Die dissipels se oë is vasgenael op Hom en die atmosfeer kan met 'n mes gesny word.

            +          Hulle verstaan maar té goed wat aan die gang is.

            Mense het destyds sandale gedra. En in daardie dorre wêreld, met sy snuifgetrapte stofpaaie, was jou voete behoorlik vuil as jy by jou bestemming aankom. Dit was dus die gebruik dat gaste hulle skoeisel by die voordeur los, om dit eers weer aan te trek as hulle vertrek.

            Aangesien mens toe nie aan 'n tafel gesit het vir ete nie, maar op jou sy en elmboog gelê en eet het, het dit beteken dat jou voete nie ver van jou buurman se gesig af was nie. Daarom was dit gebruik om gaste se voete te was voordat hulle plek inneem by die lae "tafel".

            In die geval van 'n vermoënde man, sou een van sy slawe die gaste se voete gewas het. Dit was gewoonlik die mees junior slaaf, aangesien dit as 'n baie nederige werk geag is.

            Was daar nie 'n slaaf beskikbaar nie, sou een van die gaste dit doen – as 'n reël die een met die minste status (dalk die jongste of die armste).

            Kennelik was daar daardie aand nie so 'n slaaf nie.

#          Die Here stap dan na die naaste dissipel toe, kniel by hom, was sy voete, en droog dit rustig af met 'n handoek. Dan tel Hy die skottel op en beweeg na die volgende man toe en begin om díé se voete te was. En so hou Hy aan.

            As Hy egter by Petrus kom, reageer die impulsiewe karakter op 'n tipiese manier: "Here, gaan U mý voete was?" Die implikasie is, ek kan dit nooit toelaat nie!

            "As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie", is Jesus se respons. Petrus verstaan kennelik iets waarvan die Here praat, en roep daarom uit: "Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig!" (v. 6-10).

            Uiteindelik voltooi die Here Jesus die sirkel.

            +          Laat ons goed verstaan, vir Jesus het dit vir seker nie oor skoon voete op sigself gegaan nie. Dit lyk immers asof Hy self die ete met stofbesmeerde voete genuttig het, want daar word nie gemeld dat iemand Sý voete gewas het nie.

#          As Jesus Sy bokleed aantrek en weer Sy plek inneem, hou twaalf paar oë Sy elke beweging in doodse stilte dop. "Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?" (v.12).

            Dan, in v.13 bevestig Jesus eers Sy gesag om lewensbepalende lering vir hulle te gee. En inderdaad is die opdrag wat Hy nou vir Sy dissipels gee rigtinggewend vir elkeen wat gehoorsaamheid aan Hom ernstig opneem en erns daarmee maak om daarvolgens te leef. Trouens, dit is van súlke fundamentele belang vir elkeen wat bely dat hy of sy 'n navolger van die Here is, dat dit nie oorskat kan word nie.

#          Dan kom die Here met 'n opdrag in v.14 wat ons nie moet onderskat nie – en nooit, maar nóóit mag vergeet nie:

"As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is

dan julle voete gewas het

behoort julle ook mekaar se voete te was"

Die opdrag in die Grieks beklemtoon dat dit nie 'n eenmalige aksie moet wees nie, maar 'n gereelde handeling, weer en weer – 'n lewensgewoonte.

            Hulle was waarskynlik verras. Amper vir seker het hulle verwag dat Hy sou sê: "As Ek, julle Here, dan julle voete gewas het, behoort julle nou ook Mý voete te was."

            Maar wat Hy egter wel vir hulle sê, moes hulle in hulle fondamente geskud het.

Sy dissipels moet as respons op sy wassing

mekáár se voete was

Só "was" jy sý voete

#          In v.15-17 gee die Here die bevel uitdruklik, onontkombaar en in soveel woorde. Hierin moet Sy dissipels Hom gewis navolg: "Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dit verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie."

 

Daar kan geen misverstand hoegenaamd wees nie

Dit, presies net dít

is die sleutel tot 'n lewe van saligheid

(vgl. OAV)

Wat sê dit vir ons?

1.        Hier is die essensie, die fundamentele beginsel van die tweede van die twee groot gebooie

Dis die hart van naasteliefde. Dis hoe dit tot uitdrukking kom.

            En, as sodanig, is dit 'n uitdrukking van die beeld van God, in húlle wat 'n tweede keer gebore is en deel gekry het aan die nuwe skepping! (vgl. 1Joh 4:7; 5:1b).

2.        Laat niemand egter in diensbaarheid en gehoorsaamheid aan die wet se tweede tafel enige begronding van redding sien nie!

Daardie begronding is volmaak in posisie geplaas toe die Here Jesus diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het se voete gewas het op Golgota.

            Nee, ons praat hier van 'n vrug van redding – 'n noodwendige uitvloeisel. Dis een van die watermerke daarvan. Daarom kan Hebreërs dit baie reguit sê, sonder heiligmaking is daar net één afleiding: So 'n persoon het nie reddende geloof nie, is dus nie geregverdig nie, en sal dus nie die Here sien nie! (12:14).

3.        Mag ek die leser nogeens wys op die absoluut strategiese moment waarop Jesus die les waarna ons kyk onvergeetlik in sy dissipels se gemoedere vaslê

Dis die laaste aand voor die kruisiging (v.1). Die voetwassing is soos sterfbedwoorde. Dit word absoluut bedoel. Dis gewigtig en baie, baie belangrik!

            Soek jy na 'n – dalk kan ons selfs praat van díé – sigbare merkteken van Christelike egtheid? Hier het jy dit.

            En wil jy weet hoe lyk 'n geloofshuigelaar? Dis 'n "Christen" wie se knieë te styf is om voor 'n medemens se voete te buig.

4.        Het jy behoorlik kennis geneem hoe gereeld die Here Jesus hierdie opdrag herhaal het?

Kan mens daaroor twyfel dat Hy hierdie beginsel baie, baie goed in sy dissipels se harspanne wou vaslê?

5.        Die feit dat Jesus spesifiek voete gewas het, is betekenisvol

Soos reeds gemeld, was dit een van die nederigste take wat 'n slaaf opgelê kon word.

            'n Ander se voete kan mos maar grillerig wees, veral dáárdie dissipels s'n. Hulle was sandaal-draers. Hulle was lewenslank maar arm, en het vir seker nie volstruisleerskoene gedra en gereeld vir 'n pedikuur gegaan nie.  

            Ware dissipels is nie neus-optrekkerig, of uitsoekerig, of snobisties oor wat hulle doen, of vir wie hulle dit doen nie.

            As Jesus kon kniel, wie is ek en jy om enige dienswerk as benede ons te beskou? My status, geleerdheid, welvaart, voorkeure, emosies, of gevoelens, durf geen rol speel as dit kom by die roeping om diensbaar te wees nie.

            En die wêreldse status van die een wie se voete gewas moet word speel geen rol nie. Álle gaste se voete, deur die bank, is destyds gewas. Want almal se voete was vuil.

            Dis dalk maklik om belangrike mense te dien. Maar wat van die eenvoudiges en die geringes? Ons mag hulle eenvoudig nie verbygaan nie. "Status" is in die liggaam van Christus geheel-en-al irrelevant, onvanpas – en mag ek byvoeg, ongehoorsaam aan die Here Jesus en as sodanig God-onterend.

            Luister na Jesus se opdrag in Matt 23:8-12: "Maar julle, julle moet julle nie as 'rabbi' laat aanspreek nie; want net Een is julle Leermeester, en julle is almal broers. En moet niemand op aarde as julle 'vader' aanspreek nie; want julle het net een vader, Hy wat in die hemel is. Julle moet julle ook nie as leraars laat aanspreek nie, omdat net Een julle Leraar is, naamlik die Christus. Die belangrikste onder julle moet julle dienaar wees. Wie homself verhef, sal verneder word, en wie homself verneder sal verhef word" (2020).

            Bogenoemde ten spyt, is die gemeentes maar min waar hierdie woorde van Jesus ernstig opgeneem word – om nie van die kansels te praat nie! Is dit 'n wonder dat die ongelowige wêreld óm ons, met minagting die kerk as 'n versamelnaam vir huigelaars beskou? Want ons "laaik" ons titels, nie waar nie.

As Jesus selfs Judas Iskariot se voete gewas het – die verraaier het eers ná die voetwassing geloop (Joh 13:18-30) – wie is ek en jy om neusoptrekkerig te wees oor wie ons dien?

6.        Die voetewasbeginsel is lewensveranderend en permanent in die apostels se harte vasgelê

Na die aand in die bovertrek was die dissipels se lewens nie weer dieselfde nie. Die knielende Jesus kon hulle nooit vergeet nie!

            Só radikaal gehoorsaam het hulle hierdie roeping tot diensbaarheid, dat die lewens wat hulle van toe af gelei het die wêreldgeskiedenis verander het. En tot vandag toe, tweeduisend jaar later, is hulle name steeds aan dermiljoene mense bekend.

7.        Die voetewas-opdrag gaan sekerlik oor 'n gerigtheid, in die eerste plek op ons huisgenote en mede-gelowiges. Maar dit het gewis óók betrekking op alle mense met wie ons te doen kry

Om broers en susters te dien is dalk nie té moeilik nie. En dit ís so dat Jesus daardie aand spesifiek Sy dissipels se voete gewas het. Maar ons kry ook heeldag met wêreldlinge en ongelowiges te doen – by ons werk of waar ook al. En ook húlle voete moet ons was as die geleentheid daarvoor opduik en 'n situasie dit vereis. Is dit nie een van die waarhede wat die Here Jesus se gelykenis oor die barmhartige Samaritaan vir ons wil leer nie?

            Dis 'n manier om ons getuienis uit te dra. Só versier ons die evangelie. Só skep ons geleenthede om die evangelie in die wêreld te verkondig.

            Miskien is daar nou iemand wat vir hom- of haarself sê, as ek dit by die kantoor doen gaan hulle my as kruiperig beskou. Natuurlik is dit 'n gevaar. Mens moet daarteen waak. Maar as jy dit op die regte manier, met die regte gesindheid en in opregtheid doen, sal mense jou integriteit aanvoel.

            'n Sleutel is om dit nie net sporadies te doen nie – vandag stroperig, en môre knorrig.  Dit moet 'n konsekwente lewenstyl wees. Dit moet ingebed wees in die liefde wat 1Kor 13 beskryf. En bowenal moet dit opreg wees – van harte soos vir die Here (Kol 3:23). Wees 'n konsekwente demonstrasie van Rom12:9-21.

            Laat ons gou wees om te doen, en stadig om te praat. Onthou, in 'n werksomgewing (of waar ook al) moet ons met 'n godvrugtige lewe die voorreg verdien om te getuig. Gróót skade word gedoen deur Christene wat "preek" sonder om te "leef".

Die regte orde is:

éérs jou voorbeeld

dan jou preek

en ook nie te gou nie

Opregte, konsekwente en swygsame voetwassers ervaar dikwels dat hulle nie hoef uit te gaan om op die straathoeke te preek nie, maar dat "Nikodemusse in die nag" na húlle toe kom met die regte soort vrae.

8.        Voetewas kom op 'n duisend maniere tot uitdrukking in ons lewens

            Elke apostel – en dissipel in die algemeen – se lewenspad het destyds 'n eie koers ingeslaan. Elkeen se dienswerk het anders uitgemond. Elkeen het voete gewas op 'n ander manier.

            Daar is immers baie, baie verskillende gawes, en roepinge, en geleenthede, en vermoëns

9.        Inderdaad bring gehoorsaamheid aan Jesus feitlik altyd tot 'n mindere of meerdere mate lewensontbering mee

Daar is nie soiets soos 'n Christen (ek bedoel die ware soort) wat nie in Jesus se voetspore 'n "kruis" dra nie.

            Onthou, in die Here se tyd was 'n kruis nie iets wat jy om jou nek gedra het, of op jou voorarm laat tatoëer het nie. Dit was 'n bloederige en morsige vloekhout van wrede en stadige teregstelling. Niemand het ooit lewendig van 'n kruis afgekom nie.

Dissipelskap bring altyd tot 'n mindere of meerdere mate

selfneerlegging, swaarkry en selfs soms armoede mee

En soms, net soms, bring dit uiteindelike martelaarskap voort. Dit kan tog seker nie sonder betekenis wees nie dat elf van die twaalf apostels volgens betroubare oorleweringe as 'n martelaar gesterf het (net Johannes is in sy ouderdom dood. Maar, hy het wel sy ballingskap gehad).

            Ja, natuurlik ken elke Christen ook blydskap, vrede, vergenoegdheid en lewensgeluk. En daar is soiets soos heerlike gemeenskap met mede-gelowiges. Daar is soiets soos vreugde in die Here, en die volheid van die Heilige Gees.

            Kruisdraende volgelinge van die Here Jesus nie smartvrate nie.

            Trouens, moet bygevoeg word, in elk geval gee min dinge 'n Christen meer vervulling as dienswerk – as voetewas. Só "herprogrammeer" die wedergeboorte 'n mens.

            En, laat ons in dieselfde asem sê, om gedien te wórd is óók deel van Christenskap. ons mag immers nie mede-gelowiges die voorreg ontsê nie.

10.      Hier het ek en jy 'n lakmoestoets vir die egtheid van ons geloof

Wonder jy soms of jy gered is? Vra jouself eenvoudig af of jou knieë maklik en gereeld langs 'n waskom buig! Beswaarlik is daar 'n meer betroubare toets.

Slot

#          Ure ná die aand in die bovertrek het die Here Jesus op 'n mees radikale wyse mý voete gewas – ongeëwenaard tot vandag toe. En tot in ewigheid sal dit nie herhaal hoef te word, of oortref kan word nie.

            Ek praat natuurlik van Sy kruiswerk toe hy Homself oorgegee het om die verdoemenis wat dermiljoene sondaars toegekom het, aan die kruis te dra.

            Kan jy sien, Hy verwag niks van ons wat Hy nie tot 'n onbeskryflik grootser en dieper mate self gedoen het nie.

            Wie is die dienskneg, die slaaf, die voetwasser by uitnemendheid? Kan daar enige twyfel wees? God die Seun! Die Here Jesus Christus! Die ewige tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid! Die Skepper van die ganse kosmos! Die volmaakte draer en demonstrasie van die beeld van God! (Joh 1:3; Kol 1:16-17; Heb 1:2; Op 3:14)!

            Hy, ja niemand minder as Hý nie, het Homself verneder deur 'n mens te word. Deur die grootste deel van sy lewe het Hy as 'n nederige skrynwerker gewerk. En uiteindelik het Hy sy lewe op die pynlikste wyse afgelê – sodat dermiljoene die ewige saligheid kan beërf.

            Waarlik, Jesus Christus was die Voetwasser by uitnemendheid!

            En Hy was steeds óns voete deur onvermoeid as Hoë Priester vir ons by die Vader in te tree.

Kan jy sien

as ek jóú voete was

en jy mýne

verkondig ons die Here Jesus Christus

die gekruisigde!

 

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev