Preekopnames: (1) https://youtu.be/lE-Z5NUX_jU (2) https://youtu.be/fbUI1_Pqghw
"Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die ligga am van Jesus Christus, eens en vir altyd" (Heb 10:10).[1]
Oriëntasie
# In die vorige studies het ons na aanleiding van veral drie Nuwe Testamentiese uitsprake verstaan dat die beeld van God in die herskepte mens tot uitdrukking kom in drie dimensies of komponente: liefdeskennis van en vir God; liefde vir die naaste; heiligheid.
Ons het ook verwys na van die kerk se bekendste belydenisskrifte, wat so 'n vertolking bevestig.
Nou kyk ons na die derde komponent, heiligheid.
# Kyk mens na Nuwe Testamentiese uitsprake, merk jy op dat party daarvan sê dat iemand in Christus reeds afgehandeld geheilg is, en ander dat dit iets voortgaande is.
Neem bv. onderstaande drie uitsprake:
+ Efesiërs 4:24: "Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is." (Afgehandeld).
Dis 'n status of toestand.
+ 2Korintiërs 3:18: "En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou soos in 'n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees." (Ontwikkelend).
Dis 'n voortgaande proses
+ Kolossense 3:9-10: "Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het en die nuwe mens wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word, aangetrek het." (Ontwikkelend).
Dis 'n voortgaande proses.
# Bogenoemde waarneming mag by die eerste aanhoor daarvan verwarrend klink. Hét dit nou gebeur, of is dit nog áán 't gebeur? Hoe kry mens die kloutjie by die oor?
Gaan kyk mens deeglik na ons tema in die Nuwe Testament, val alles in plek.
Die begrip in die Nuwe Testament
# Streng gesproke is God die enigste wat in 'n absolute sin heilig is. Maar juis daarom maak Hy alles heilig waarmee Hy in aanraking kom.
Gevolglik kan ons ook praat van die heiligheid van 'n mens (of selfs voorwerpe) – nie as 'n natuurlike of inherente eienskap nie, maar in 'n afgeleide sin.
Dit is die heilige God wat mense heilig maak.
# Die woord "heilig, heiliging, heiligmaking, heiligheid" kom in die Skrif in verskillende nou-verwante Griekse vorms voor.
Eerstens beteken die begrip om afgesonderd en toegewyd te wees – behorende tot 'n ander kategorie of soort. Dit lei dan tot die idee om eenkant te wees of geplaas te word vir gebruik of bevoorregting.
Tweedens vloei dan die verdere idee van morele reinheid in 'n afgeleide sin
# Algemeen word gepraat van "heiligmaking" as dit oor ons tema gaan, maar sommige verkies die woord "heiliging" – soos ek dit dan ook sal gebruik.
+ As mense van heiliging of heiligmaking praat, dink hulle gewoonlik aan die proses van toenemende gelykvormigheid aan die karakter van Jesus Christus – 'n groeiende proses van gelykvormigheid aan die Hom. As sodanig is dit heeltemal korrek. Dit is inderdaad 'n essensiële komponent van die heilsorde, oftewel die reddingsproses.
Die aksent val hier op morele reinheid. Ek sal hierna verwys as "heiligmaking".
+ Maar die Bybel praat ook oor ons onderwerp in 'n ánder en ewe belangrike sin – as 'n eens-en-vir-altyd afgehandelde gebeurtenis, en daarom toestand. Dit kom duidelik na vore as mens die begrip in die Nuwe Testament ondersoek.
Die aksent val hier op afgesondering – om toegewyd en eenkant gesit te wees. Ek sal hierna verwys as "heiliging".
Hieraan, laasgenoemde, gee ons nou eers aandag, voordat ons in 'n volgende studie na heiligmaking kyk.
Heiliging in die Nuwe Testament
Die Griekse begrip wat van afgehandelde heiligheid praat
# In Hand 20:32; 26:18; Rom 15:16; 1Kor 1:2 en Heb 10:10 word van die gelowiges gesê dat hulle "geheilig" is.
Die Grieks dui op 'n gebeurtenis in die verlede wat steeds geldig is.
Die begrippe word voorts in die passief gebruik, wat dus beklemtoon dit iets is wat aan mens gedoen word – deur die Heilige Gees, volgens Rom 15:16.
'n Persoon word geheilig as die Gees op iemand beslag lê en hom of haar afsonder
– as 't ware eenkant neersit –
vir God se besondere genade en diens
# Aanvanklike heiliging gebeur dus wanneer iemand uit die "eerste Adam" uitgehaal en met Christus as die "laaste Adam" (1Kor 15:45) verenig word, ten einde hom of haar af te sonder vir die voorreg om deel te word van God se nuwe mensheid en skepping.
# Dit hang ten nouste saam met roeping en wedergeboorte, maar wil die aksent plaas op afskeiding, op toewyding, op afsondering – van die gevalle mensheid en vir die voorregte, verantwoordelikhede en praktiese implikasies daaraan verbonde. Wanneer dit gebeur, word iemand 'n Christen; of andersom gestel: As iemand 'n Christen word, ontvang hy 'n nuwe bevoorregte status, maar ook met die verantwoordelikhede daaraan verbonde.
As sodanig is dit 'n eenmalige gebeurtenis wat deur die soewereine Here God alleen gedoen word en ewig-permanent van krag bly. Dit gebeur met 'n mens; dit word aan hom of haar gedoen.
Plasing in die heilsorde
# Wat is die "heilsorde"? Dit staan algemeen bekend as die Ordo Salutis (Lat.). Dit beskryf die proses van redding in 'n begenadigde se lewe. Die Skrif opnderskei ongeveer 'n dosyn verskillende elemente in hierdie proses.
Ten minste praat ons van die volgende elemente: Uitverkiesing (ook soms verordinering of voorbestemming genoem); roeping; wedergeboorte; heiliging; geloof; regverdiging (regverdigmaking); aanneming; bekering; heiligmaking; volharding; heerlikmaking (die lys sou uitgebrei kon word).
Let daarop dat bogenoemde volgorde logies is, nie kronologies nie (hoewel daar weliswaar ook sprake van 'n sekere tydsopeenvolging is).
# Wat nou kardinaal belangrik is, is om dit in jou oor te knoop dat God alleen sekere van bg. elemente bewerkstellig: uitverkiesing; verordinering; roeping; wedergeboorte; heiliging; regverdiging (regverdigmaking); aanneming; heerlikmaking.
Maar ewe belangrik is dit om vas te vat dat by ten minste vier van genoemde elemente die betrokke mens óók volledig en verantwoordelik betrokke is. Ons praat van geloof (ék moet glo); bekering (ék moet my bekeer); heiligmaking (ék moet dit najaag); volharding (ék moet enduit aanhou in die geloofswedloop).
+ Ons kan van eersgenoemde groep as monergisties praat (Gr. mono, alleen plus energeo, om te werk), en van laasgenoemde groep as sinergisties (Gr. sun, gesamentlik plus energeo).[2]
+ Wat die sinergistiese elente betref, is dit belangrik om te verstaan dat ons níé moet dink in terme van 'n 50%–50% aandeel van elke party nie. Dit sou God en mens afhanklik van mekaar maak.
Nee! Ons moet dink aan 'n volledige genadewerk van God; maar dat daar óók 'n volledige verantwoordelikheid op die mens rus om dit uit te leef.
God is die onbetwisbare inisiatiefnemer, terwyl die mens die reageerder is. Gegee dat hierdie kwalifikasie in gedagte gehou word, kan mens dink aan 'n 100%–100% verantwoordelikheid.
Nêrens, meen ek, word dit beter in die Skrif onderstreep as in Fil 2:12-13 nie: "... werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae."
+ Hou nou in gedagte dat heiliging monergisties is; en heiligmaking sinergisties.
Heiliging is deel van 'n onlosmaaklike, en onderling-samehangende kompleks
van God se reddende handelinge
aan die begin van 'n begenadigde se reddingservaring:
roeping; wedergeboorte; heiliging.
Mens kan dit slegs logies ontbondel, nie kronologies nie.
Roeping is God se herskeppende handeling.
Wedergeboorte is dit wat in die betrokke mens gebeur a.g.v. roeping.
Heiliging is die gevolg van die roeping.[3]
Die verhouding tussen heiliging en heiligmaking
# As heiliging 'n afgehandelde en dus eenmalig-onherhaalbare herskeppende gebeurtenis is, is heiligmaking 'n lewenslange en progressiewe proses wat daaruit volg.
Hierdie twee elemente van die heilsorde is onlosmaaklik verbonde.
As heiliging afwesig is, is daar eenvoudig geen heiligmaking nie. En as heiligmaking afwesig is, was daar nooit heiliging nie.
In heiliging is die aksent op wat ek as Christen is;
in heiligmaking is die aksent op my roeping om meer en meer te word wat ek is.
Ek is nie 'n sondaar omdat ek sonde doen nie;
nee, omdat ek geheilig is, leef ek heilig.
Onervaarbare en onsigbare heiliging
word uitgewys deur ervaarbare en waarneembare heiligmaking.
# Omdat die betrokkene só subjektief by die proses betrokke is, is hy of sy dikwels nie eers bewus daarvan nie (want groeiende heiligmaking gaan gewoonlik ook gepaard met sondebesef). Dit is trouens so dat diegene wat nóú saam met so 'n persoon leef, meermale éérder bewus raak daarvan.
Nuwe Testamentiese lig op heiliging
# Die Nuwe Testament gee meermale diepte-aandag aan die belangrikheid van heiliging; aan die teenwoordigheid daarvan in elke ware Christen; die onlosmaaklike verbondenheid tussen heiliging en heiligmaking; asook aan die implikasies daarvan.
Omdat ek geheilig is, kan en moet ek heilig lewe.
Die apostel Paulus
# Romeine 6 is die Nuwe Testamentiese locus classicus oor ons onderwerp. Die belangrikheid van hierdie stuk openbaring kan nie oorbeklemtoon word nie.
# Dit moet gesien word teen die agtergrond van die vraag in v.1: "Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem?".
Die vraag ontspring asof vanself na die laaste verse van Rom 5: " ... namate die sonde toegeneem het, het die genade nog soveel oorvloediger geword. Dus: Net soos die sonde deur die dood geheers het, sal ook die genade deur die regverdiging heers en tot die ewige lewe lei deur Jesus Christus, ons Here" (v.20b-21).
Op sigself beskou, kan hierdie uitspraak maklik lei tot die gevolgtrekking dat mens maar in sonde kan voortgaan, aangesien daar meer as genoeg genade in God is om wat ook al te vergewe. Per slot van rekening sou geargumenteer kon word dat Hy immers al hoe meer verheerlik, hoe méér sonde Hy vergewe.
# Hierdie afleiding verwerp die apostel dan onmiddellik met verontwaardiging in Rom 6:2: "Hoegenaamd nie!" Hy gebruik 'n sterk uitdrukking. Die ou King James het vertaal: "God forbid!" Hy volg dit dan op: "Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef?"
+ Let op, die apostel sê dat die Christen "gesterf" het. Wanneer iemand dood is, is hy nie meer aktief in die sfeer waarin hy geleef het nie; hy het 'n nuwe dimensie betree. Hy het hoegenaamd geen rapport meer met die óú lewe nie; hy het 'n radikaal nuwe bestaan binnegaan.
Net so is daar 'n radikale en onomkeerbare breuk tussen die lewe vóór roeping en wedergeboorte, en die lewe daarná. Hy het gesterf vir die ou gevalle lewe; hy het opgestaan in 'n nuwe lewe.
# Hierdie totale breuk tussen die ou lewe en die nuwe lewe word oor en oor, en onmiskenbaar, in Rom 6 beklemtoon.
+ Die negatief: Die geheiligde het gesterf vir sonde! Inteendeel; hy of sy is geheilig. Sou hy dus voortgaan met sonde, beteken dit onmiskenbaar:
Hy is nog 'n slaaf daarvan (v.6,16,17,20).
Sonde beheers nog sy liggaam (v.12).
Sy ledemate is nog wapens van ongeregtigheid en tot beskikking van onreinheid en losbandigheid (v.13,19).
Hy is nog 'n gevangene van die ongeregtigheid (v.20).
Sonde heers nog in hom en hy is steeds onder die wet (v.14).
Kortom, leef hy steeds in sonde, staan dit onteenseglik vas: Hy het nooit gesterf nie; hy is nog deel van die gevalle wêreld – Hy is nie geheilig nie!
+ Die positief: Die geheiligde leef nou vir geregtigheid – hy leef 'n heilige lewe!
Die geheiligde het gesterf vir die sonde, die ou mens (die een steeds in Adam) is gekruisig – en daarom dien hy of sy nie meer sonde nie (v.6).
Hy is vrygemaak van sonde (v.7).
Hy is lewend en leef vir God (v.10,11).
In sy liggaam heers sonde nie meer nie (v.12,14).
Hy is 'n instrument van geregtigheid en heiligheid ; hy is onder heerskappy van genade (v.14).
Hy is van harte gehoorsaam aan die Christelike leer (v.17).
Hy dra vrug, die vrug van heiligmaking, waarvan die uiteinde die ewige lewe is (v.22).
Kan die diep-snydende en lewensveranderende kontras
tussen die lewe vóór en die lewe ná my lewendmakende heiliging
sterker beklemtoon word?
Die apostel Petrus
# Ons vind in 1Petrus 'n soortgelyke beklemtoning. Twee uitsprake is belangrik.
+ 1Petrus 2:24: Hy ... "wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir geregtigheid kan leef ...".
+ 1Petrus 4:1-2: "Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle ook julleself bewapen met dieselfde insig, naamlik dat iemand wat liggaamlik gely het, met die sonde klaar is. Daarom laat hy hom, gedurende die oorblywende tyd van sy liggaamlike bestaan, nie langer deur menslike begeertes lei nie, maar wel deur die wil van God."
# Waarop kom bogenoemde twee Skrifgedeeltes neer?
Die herhaling van die twee frases "liggaamlik gely" in laasgenoemde vers, impliseer dat diegene wat met Christus verenig is, óók gekruisig is en sáám met Hom gesterf het (aan die kruis). En soos Hý vir sonde gesterf het, het ook húlle vir sonde gesterf (vgl. Gal 2:20).
Hulle is gevolglik losgemaak van die eerste Adam se sonde en die gepaardgaande effekte daarvan.
Hulle is gevolglik nie meer juridies strafbaar aan Adam as verbondshoof se sondeskuld nie (die erfskuld). Eweneens is hulle moreel nie meer magteloos uitgelewer aan die effekte daarvan nie (die erfsmet).
Die juridiese is bepalend vir ons regverdigmaking.
Die morele is bepalend vir ons heiligmaking.
# Wat ons moet raaksien, is dat genoemde juridiese en morele komponente innig verbonde is; hulle hang onlosmaaklik saam.
Die eerste lei noodwendig tot die tweede
die tweede bewys onbetwisbaar die eerste
As één afwesig is, bestaan die ánder ook nie
# Dis waarom die apostel in 1Pet 4:2 kan sê dat iemand in Christus níé langer in hierdie lewe gelei word – soos die gevalle mens – deur menslike begeertes nie, maar deur God se wil.
# Let op – dis uiters belangrik – die apostel gee hier níé morele opdragte waaraan sy lesers gehoorsaam moet wees nie. Hy maak níé bloot 'n morele appél op hulle gewetens nie. Hy sê nie dat enige redelike mens met 'n gewete regtig sal wéét dat jy in antwoord op súlke genade mos nie anders kan as om positief te reageer nie. Hy sê selfs nie bloot dat mens uit dankbaarheid vir só 'n verlossing dit moet najaag om toegewyd en godvrugtig voor die Here en die wêreld te leef nie.
Hoewel dit wáár is, gaan die apostel verder, dieper as dit.
Petrus skryf dat iemand wat deur Here "geroep"; "gewederbaar"; "geheilig" is,
'n nuwe skepping is.
Hy of sy is heeltemal herskep en nuutgemaak
om sonde te haat en 'n Godbehagende en 'n Godverheerlikende lewe na te jaag
Trouens, so 'n persoon kan nie ánders as om heilig tot eer van die Here te leef nie.
Die ou dinge het vir suke mense verbygegaan; alles het nuut geword – eens en vir altyd.
Ek sê wéér:
Kan die diep-snydende en lewensveranderende kontras
tussen die lewe vóór en die lewe ná my lewendmakende heiliging
sterker beklemtoon word?
Die apostel Johannes
Ook hierdie apostel leer eenmalige heiliging, maar hierdie keer vanuit 'n ander hoek. Paulus en Petrus veranker hulle beredenering in die eenheid met Christus in sy dood en opstanding. Johannes werk met die noodwendige effekte van hierdie eenheid, naamlik die geboorte uit God: "Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is" (1Joh 3:9).
+ Mens moet die oorsig-gevolg relasie in bg. vers raaksien: "doen nie meer sonde nie" en "kan nie meer aanhou sonde doen nie".
Maar dit beteken nie dat hy algeheel vry van sonde is nie; daarom word gesê, sou dit tóg gebeur, sal hy eenvoudig nie daarmee volhou nie. Waarom nie? In die lig van wat ons reeds in die Skrif gesien het, is die antwoord voor die hand liggend: Só strydig is dit met sy herskepte natuur dat hy so gou as moontlik daarmee wil klaar kry.
+ Johannes stel hierdie waarheid ook positief: "As julle weet dat Hy regverdig is, weet julle dat ook elkeen wat die geregtigheid doen uit Hom gebore is" (1Joh 2:29).
# Maar, terwyl 'n heilige lewe die oorwegende van 'n wedergebore mens se lewe is – tot so 'n mate dat dit tipies van so 'n persoon is dat hy of sy nie meer sondig nie – het die apostel nóóit sondelose perfeksionisme verkondig nie.
Johannes is immers, sekerlik na aanleiding van sy waarneming, maar ook vanuit sy eie ervaring, pynlik bewus dat die stryd teen die sonde 'n meedoënlose realiteit in selfs die mees volwasse Christene se lewens is. Hy weet ook dat niemand altyd triomferend in hierdie stryd is nie. Daarom moet ons dankbaar wees vir sy troosryke woorde in 1:8-10. (let op v.8; 10): "As ons sê dat ons nie sonde het nie ... mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. ... As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie."
+ Hierdie verse in 1Joh 1 word egter meermale los van die konteks gelees – díé van die hele brief. Niemand mag in hierdie verse 'n subtiele goedkeuring van, of selfs net toegewing tot sonde inlees nie.
# Let op dat Johannes oor en oor die noodsaak van 'n geboorte uit God beklemtoon. Dis die absolute voorvereiste vir 'n lewe van heilige toewyding aan die Here.
Ek sê dit 'n derde keer:
Kan die diep-snydende en lewensveranderende kontras
tussen die lewe vóór en die lewe ná my lewendmakende heiliging
sterker beklemtoon word?
Saamgevat
# Na aanleiding van die basiese betekenis van die woord, om te heilig, en op grond van die apostoliese lering waarop ons gelet het, kan gesê word dat:
+ 'n Ware Christen is 'n bevoorregte wat deur die drie-enige God afgesonder is om tot sy eer vir ewig heilig voor Hom te leef.
Afgehandelde heiliging is 'n status.
+ 'n Ware Christen is 'n bevoorregte wat deur die drie-enige God se herskeppende roeping en wedergeboorte bekwaam gemaak is om inderdaad sy of haar status as geheiligde uit te leef
Afgehandelde heiliging is 'n vermoë.
# 'n Ware Christen is dus vanuit die sfeer van sonde na die sfeer van God se heiligheid oorgeplaas. Heiliging bevry van die slawerny van sonde deur iemand met Christus te verenig – in die besonder sy dood, sy opstanding en sy verheerliking.
Die toeknoop van ons sakkie
1. Dis uiters belangrik dat Christene die waarheid van aanvanklike en afgehandelde heiliging behoorlik in hulle denke verreken, in hulle oortuigings vestig, en die implikasies daarvan begin uitleef – in 'n lewe van heiligmaking.
Hoewel laasgenoemde eintlik nie anders kán as om tot uitdrukking te kom nie, word dit oor en oor as 'n imperatief – 'n opdrag – in die Skrif aan ons voorgehou.
2. Die wydverspreide verwaarlosing van heiliging laat gelowiges beslis armer.
Eerstens kan sekere belangrike skrifuitsprake nie reg verstaan word daarsonder nie. Hierdie waarheid is immers grondliggend aan die geïnspireerde apostels se oproepe tot 'n heilige lewe.
Tweedens, as heiliging (samehangend met lewendmakende roeping en die daaruit-volgende vrug van wedergeboorte), nie in plek is in Christene se denke en oortuigings nie, lei dit tot allerlei godonterende vrug, en meermale tot sielsverdoemende gevolge – die idee dat, solank mens "Jesus maar net aangeneem het", jy goedskiks maar met sonde kan flankeer.
Derdens, en ergste van alles, onteer hierdie verwaarlosing God se Naam. En dis geen denkbeeldige saak nie; dis helaas 'n realiteit in groot gedeeltes van dit wat deurgaan as die kerk in hierdie wêreld.
+ Soveel kansels se onderbeklemtoning (dikwels selfs 'n noodlottige swye) van die heilsfeit van heiliging – en gepaardgaande wedergeboorte – is 'n bydraende oorsaak van die epidemie van lamlendige en Godonterende "Christenskap" in ons dag. Wie kan ontken dat wêreldse gelykvormigheid aan die orde is in groot gedeeltes van dit wat deurgaan as die kerk? Beswaarlik is daar iets wat God méér onteer, en ontelbaar baie 'n weersin gee aan die kerk en sy boodskap.
+ Ja, dis waar, daar is wel ook kringe waar heiligmaking sterk beklemtoon word. Maar as dit nie in heiliging begrond is nie, word heiligmaking tipies beskou as 'n plig, en/of word dit misbruik as 'n sambok, en word dit helaas spoedig noodlottig verstaan as 'n verdienste.
+ Daarenteen, tot die mate wat die Bybelse hoekpen van heiliginging diep in my oortuigings ingeslaan is, tot daardie mate sal 'n hartstog vir outentieke heiligmaking my beheers. Ek sal begin najaag om meer en meer te word wat ek is.
Dit is dan nie meer iets negatief in mense se gemoed nie; dit word dan daadwerklik 'n voorreg wat ek positief en met verwagting op die voorvoet na strewe – onder dwang van my herskepte hart. Jy benader jou dissipelskap dan met die wete dat heerskappy oor sonde aan jou verleen is – en as sodanig die tipiese van jou lewe kan en moet wees. Dit bemoedig jou in die die stryd teen die vlees, die duiwel en die wêreld. Jy weet jy is op oorwinnaarsgrond. En hierdie geloofsoptimisme maak al die verskil.
3. Kom ons sluit opsommend en positief af.
3.1 Laat dit in ons oortuigings ingeprent wees: Die imperatiewe (die opdragte) van die Nuwe Testament is altyd begrond in die indikatiewe daarvan (die heilsfeite).
Die imperatief (die bevel) van heiligmaking
berus op die indikatief (die verlossingsfeit) van heiliging.
Vergelyk bv. Fil 2:1 se 4 maal "as" (ekwiwalent aan "aangesien" in die Grieks; vgl. NAV) en wat daarop volg: "Daarom, as daar enige aansporing in Christus is, as daar enige troos uit die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige meelewing en ontferming, maak dan my blydskap deur ...". En dan volg die imperatiewe.
Mens sien dit ook in Kol 3:1-4. Let op die "as" (oftewel "aangesien"; NAV) waarmee v.1 begin, en die "daarom" waarmee v.5 dan aangaan.
3.2 Die heerlike waarheid van eenmalige en afgehandelde heilging vorm dus die fondament van die leerstuk en najaging van voortgaande heiligmaking, waarop in die volgende studie gefokus sal word. Hierdie waarheid, meer as enigiets anders, verleen aan die gelowige die wete dat hy of sy die stryd teen oorblywende sonde vanuit 'n posisie van krag en oorwinning aanpak.
In hierdie oorlog is 'n ware Christen selfs meer as net die oorweldigende gunsteling
hy is die sekere oorwinnaar!
3.3 'n Welbekende illustrasie word ontleen aan die Tweede Wêreldoorlog. Die geallieerde magte het in Junie 1944 (D-dag) op die strande van Normandië geland. Elke oorlogstrateeg het toe geweet wie die oorlog gaan wen, want die Duitse magte was nou onomkeerbaar op die agtervoet. Tog het dit nog elf maande van die oorlog se bloedigste gevegte gekos voordat Berlyn geval het (V-dag, 8 Mei 1945).
Maar, en dis die punt, tydens hierdie veeleisende tydperk was die geallieerdes in 'n posisie van krag en was daar vir hulle net een pad – vorentoe!
4. Mag die Here in sy groot genade vir jou en my toenemende insig en geloof gee in ons eenheid met Christus en die implikasies daarvan. Mag ons die verbysterende realiteit daarvan beter as ooit verreken en beleef in ons wedloop vorentoe.
Christene kan en moet hulle eie heil uitwerk,
ja, inderdaad met vrees en bewing – maar op die voorvoet
wetende dat God self in hulle werk
om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae!
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Alle Bybelaanhalings, tensy anders vermeld, uit die 2020-Afrikaanse Vertaling (DAV).
[2] Dit is so dat daar in die geskiedenis geldige besware teen 'n verkeerde gebruik van hierdie uitdrukkings in sekere kringe was. Maar ek is van oortuiging dat dit tog sinvol gebruik kan word – gegee natuurlik dat dit die regte betekenisinhoud het.
[3] Mens sou redeneer oor die volgorde van wedergeboorte en heiliging. Ek sal met bg. logiese volgorde werk.