Die toestand van 'n gelowige in hierdie lewe is nie díé van 'n gearriveerde status quo nie; dis 'n groeiproses. Vanuit 'n juridiese status (heiliging) lei dit tot 'n morele lewenswyse (heiligmaking).
Voortgaande heiligmaking is die proses waarin jou morele toestand
al hoe meer ooreenstem met jou juridiese status voor God
Heiligmaking is om te word wat jy is
# 1Petrus 2:1-3 verskaf aan ons 'n insiggewende beeld om die verhouding tussen heiliging en heiligmaking te verstaan: "Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, noudat 'julle die goedheid van die Here gesmaak het'."
'n Pas-gebore baba is reeds volwaardig mens, maar nog nie volwasse mens nie. Vanaf geboorte tot en met volwassenheid lê nog baie groeiwerk voor – waarvoor baie liters "melk" nodig gaan wees. In hierdie lewe is álle Christene nog besig om te groei.
Heiliging is soos die geboorte van die baba
Heiligmaking soos die volwassewording daarvan
Daar is 'n rééds, en daar is 'n nóg-nie.
# Volwassewording van 'n baba is 'n natuurlike proses is; dit gebeur as't ware vanself.
Tóg gebeur dit nooit maklik-maklik nie. Baie insette is nodig. Opvoeding, dissipline, kos, terleurstellings, mislukking – noem maar op. En baie trane word oor die jare gestort.
Aanvanklike heiliging gebeur mét jou (dis monergisties – God doen dit alleen); maar by heiligmaking is jy volledig betrókke (dis sunergisties – God 100%; die gelowige 100%). En jou betrokkenheid is selde maklik!
Om op te som: Voortgaande heiligmaking in 'n neutedop
Voortgaande heiligmaking is die proses van ontwikkeling waarlangs 'n Christen lewenslank vanaf 'n pas-wedergebore staat (dus die onbeholpe en onkundige toestand as "geestelike baba") toeneem onderweg na gelykvormigheid aan die laaste Adam, Jesus die Christus – in wie die volmaakte beeld van God in 'n mens gesien kan word.
Hierdie proses is in híérdie lewe nooit afgehandel nie; dit sal eers met die opstanding tot vervolmaking kom.
Voortgaande heiligmaking is die proses waarin 'n wedergebore mens, negatief, toenemend van oorblywende sonde verlos word, en positief, meer en meer vernuwe word na die beeld van Christus – in hart, wil, insig, denke, oortuigings en gedrag.
Die Woord roep ons weer en weer op tot heiligmaking. Dis 'n integrale deel van die verlossingsproses.
Daar is dus dit wat afgesterf moet word; daar is dit wat ontwikkel en uitgeleef moet word. Daarom bevat die Nuwe Testament sowel "gebooie" as "verbooie" (!!!).
'n Pa kan vir sy seun sê: "Nee, nee, só doen 'n Van der Walt níé!" (negatief).
Maar hy kan ook sê: "Mooi so, só doen 'n Van der Walt dit inderdaad!" (positief).
# Die Skrif is van hoek tot kant boordevol uitsprake oor ons onderwerp – oor en oor, weer en weer. Ons beperk onsself tot veral twee Nuwe Testamentiese gedeeltes.
Galasiërs 5:13-26: In ons heiligmaking is ons 100% afhanklik van die Heilige Gees
# Die hoofaksent in die tweede helfte van Galasiërs is die vryheid wat elkeen in Christus geniet. Iemand in Christus is nie meer 'n gevangene van allerlei wetsvoorskrifte nie (v.13). Daarom die oproep in 5:1: "Vryheid is waarvoor Christus ons bevry het! Staan dan vas, en laat julle nie weer onder 'n juk van slawerny indwing nie!"
Maar terselfdertyd waarsku die apostel teen die verantwoordelikheid wat hierdie verlossingsvryheid meebring. Dit kan maklik "aanleiding gee vir die vlees". Hierdie vryheid mag nie losbandigheid word nie! (5:13). Nee, egte Christelike vryheid kom tot uitdrukking in selfbeheersing, dienende naasteliefde en gehoorsaamheid aan God.
# Hoe kan ons die misbruik van vryheid vermy; hoe kry ek dit reg om die verantwoordelikhede wat dit meebring uit te leef? Die allerantwoord is: Slegs deur die regering van die Heilige Gees.
Oor en oor word na die Heilige Gees verwys – sewe keer (v.v.16,17,18,22,25).
Heilige uitlewing van Christelike vryheid realiseer
deur die beheersing van die Gees
Die ervaringsfeit van Christelike konflik (5:16-21)
# Die meedoënlose opponente in hierdie stryd is "die vlees" en "die Gees" (v.16-17).
+ Die "vlees" in 'n Christen is die reste van die erfsmet [1] wat – selfs na heiliging – steeds in hom of haar vasskop. Dis 'n besoedeling en vyand wat elke ware Christen uit ervaring baie goed ken, en wat in die proses van heiligmaking uitgeloog moet word.
+ Die "Gees" verwys na die Heilige Gees.
+ Hierdie konflik wat alle ware Christene uit ervaring ken, is lewenslank 'n pynlike werklikheid.
Sekerlik ken nie-Christene ook tot 'n mindere of meerdere mate 'n morele konflik, maar dít waarvan Gal 5 praat, is uniek aan Christene. Dis trouens een van díé merktekens van outentieke wedergeboorte – hierdie onversoenbare konflik tussen Gees en vlees.
Die werke van die vlees (v.19-21)
# Die apostel noem 15 praktyke van die vlees. Dit was bekende sondes – soos vandag steeds – aangesien dit algemeen in die wêreld voorkom. Hy bedoel nie dat dit die enigste sondes is nie, want hy voeg in v.21 by "en hierdie soort dinge".
# Die genoemde sondes kan in 4 kategorieë ingedeel word.
+ Sondes van 'n seksuele aard: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid.
"Onsedelikheid" het te doen met alle vorms van sondige seksuele gedrag.
"Onreinheid" praat eweneens van genoemde sondes, met moontlik die dimensie van onnatuurlikheid by, soos homoseks, bloedskande, kindermolestering, bestialiteit.
"Losbandigheid" verwys na alle vorme van onwelvoeglikheid, dikwels met seksuele ondertone.
+ Sondes van 'n religieuse aard: afgodery, towery.
Afgodery is die aanbidding van vals gode, van watter aard ook al.
Towery verwys na okkultiese praktyke.
+ Sondes van 'n sosiale aard. Die apostel noem agt voorbeelde: vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns.
+ Sondes van losbandige aard: dronkenskap, gefuif.
# Sonder om doekies om te draai, skryf Paulus dan dat diegene "wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie."
Dis egter nodig om te kwalifiseer. Die Griekse vorm van die werkwoord wat met "doen" vertaal word, praat van tipiese en gereelde gedrag, eerder as van 'n geïsoleerde misstap (wat nie wil impliseer dat laasgenoemde maar sonder meer oorsienbaar is nie).
Die vrug van die Gees (v.22-23)
# Hierdie bekende uitdrukkings van godsvrug praat van die Christen se verhouding met God, met die medemens, en met hom- of haarself. Dis geen volledige en afgeronde lys nie (die sogenaamde "vrugte van die Gees").
Let daarop dat die meervoud nie gebruik word nie, maar die enkelvoud ("vrug"), wat beteken dat hierdie 'n lys van tipiese karaktertrekke is wat teenwoordig is in alle Geesvervulde mense.
+ "Liefde, blydskap, vrede" het ten diepste te doen met mens se verhouding met God. 'n Christen se eerste liefde is immers sy liefde vir God. Sy innigste blydskap en verlustiging is in God self. Sy diepste vrede is sy vrede met God in Christus.
+ "Geduld, vriendelikheid, goedheid" is sosiale, mensgerigte gerigthede.
Geduld is lankmoedig teenoor diegene wat jou treiter, tart, irriteer – en selfs vrervolg.
Vriendelikheid het te doen met 'n welwillende en simpatieke gesindheid.
Goedheid praat van jou optrede in woord en daad teenoor jou medemens.
+ "Getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing" is karaktertrekke wat te doen het met jouself.
Getrouheid dui daarop dat op jou peil getrek kan word; jy is iemand van jou woord.
Sagmoedigheid praat van selfbeheersing, van nederigheid (sagtheid) wanneer nodig – maar inderdaad ook fermheid, beslistheid, daadkrag, wanneer nodig (moedigheid). Jesus was sag in sy liefde vir ellendiges, maar kon eweneens beslis en vreesloos hom uitspreek, asook optree teen onreg en sonde. Hy het selfs soms verontwaardig, daadkragtig, en met heilige toorn opgetree as sy Vader se eer geweld aangedoen is (soos in die tempelreiniging) – hoewel dit nie naasteby die tipiese van sy lewenstyl was nie.
Selfbeheersing is die vermoë om jou emosies en optrede te bemeester.
# As die apostel sê "teen hierdie soort dinge is daar nie 'n wet nie" (v.23), bedoel hy waarskynlik dat owerheidswette grootliks te doen het met die weerhóúding van kriminaliteit.
# Bogenoemde totale kontras tussen die werke van die vlees enersyds, en die vrug van die Gees andersyds, beklemtoon dat hierdie twee maniere van lewe in radikaal verskillende rigtings trek. Hulle is totaal onversoenbaar. En die stryd tussen tussen hulle is pynlik, kompromieloos, meedoënloos. Dis 'n kwessie van lewe en dood!
Só intens en veeleisend is hierdie konflik dat 'n Christen
— al het hy deur afgehandelde heiliging die nuwe status van 'n heilige —
— al het hy deur afgehandelde heiliging die nuwe vermoë om heilig te leef —
sonder die bekragtiging van die Heilige Gees
steeds tot mislukking gedoem is
Die sleutel tot Christelike oorwinning (5:24-25)
Na die vorige verse, ontstaan twee vrae noodwendig. Hóé oorwin ek die "praktyke van die vlees"? Hóé dra ek die "vrug van die Gees"?
Die apostel se antwoord is kort:
Negatief: Ons moet die vlees met sy hartstogte en begeertes kruisig!
Positief: Ons moet deur die Gees leef; ons moet met die Gees in pas bly!
Ons moet die vlees kruisig (v.24)
# Vers 24 word dikwels misverstaan. Dis omdat die uitdrukking nie versigtig gelees word nie. Hier word nie gepraat van iets wat vir ons gedoen is nie. Dit gaan hier oor iets wat deur ons gedoen moet word (dis aktief).
+ Vergelyk daarenteen Rom 6:6, wat sê dat die ou mens saam met Christus gekruisig is (dis passief). Dis iets wat Christus gedoen het; dis vír ons gedoen.
Daarenteen, hier in v.24 is dit iets wat ék doelbewus en beslis moet doen.
Daar is 'n groot verskil tussen die twee.
# Wat beteken dit? Die Here Jesus het al só gepraat. Mark 8:34: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg."
'n Navolger van Jesus moet dus soos 'n veroordeelde misdadiger wees wat sy kruis na die teregstellingsplek toe dra.
# Waarom gebruik Paulus spesifiek die uitdrukking "om te kruisig"? Het hy hierdie uitdrukking sommer maklik-maklik gebruik. Nee, hy het presies geweet waarvan hy praat – uit ervaring baie goed geken.
As iemand "die vlees met sy hartstogte en begeertes gekruisig" het, impliseer dit ten minste drie dinge.
+ Dis genadeloos. Kruisiging was destyds beperk tot die heel ergste misdadigers. Dit was 'n uiterste skande. Die slagoffer het geen mindere lot verdien nie.
+ Dit was pynlik. Dit word deur sommige beskou as die mees pynlike en wrede teregstelling ooit.
+ Dit was finaal. Dit was 'n geleidelike dood, maar dit was 'n sékere dood. Niemand het ooit van 'n kruis af gekom nie. Niemand het dit ooit oorleef nie.
# Om jou vlees dus te kruisig, is om jouself te verloën. Dis om die feit van teregstelling te aanvaar, inderdaad te omhels. Dis om vir jouself te sterf – vir jou eie voorkeure en afkeure, jou belange en jou verliese.
Hierdie is Romeine 6 se manier om te praat van selfverloëning en bekering. Dis om jou rug op jou óú lewe van sonde en selfsug en eiebelang te draai. Dis om die Here Jesus Christus finaal, eens en vir altyd as die die een en die al van jou hele bestaan te omhels. Dis om van daardie oomblik af vorentoe "nee" vir jouself te sê, en vir Hom "ja".
# Net 'n finale opmerking. Die werkwoord "om te kruisig" in v.24 praat in die Grieks van 'n enkele besliste handeling toe ek tot bekering gekom het. Die ou lewe tot op daardie moment, is met besliste finaliteit gekruisig. Van daardie oomblik word nie gehuiwer en gewyfel nie. Van kompromie is daar geen sprake nie. Daar is geen terugkyk meer nie. Omdraai is ondenkbaar.
En dit word dan 'n lewenswyse. Daarom sê Jesus in Luk 9:23-24: "As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red."
Kan jy sien, Paulus se taal hier in ons teks is die taal van sy Here.
Ons moet met die Gees in pas bly (v.25)
# In ons paragraaf word ons verhouding met die Heilige Gees op twee maniere beskryf: om deur die Gees "gelei" te word (v.18), en om deur die Gees te "leef" (v.16 en 25).
Presies dieselfde skryfwyse word elke keer in die Grieks gebruik. Heel eerste word van "die Gees" gepraat. Dis 'n manier van beklemtoning. Daar is geen voorsetsel nie (soos in, of deur), en die werkwoord is in die teenwoordige tyd wat voortgaande handeling impliseer. Dit dui dus op 'n sekere ooreenstemming tussen die uitdrukkings.
Maar terselfdertyd is daar ook 'n verskil tussen die twee, want die eerste een is passief, en die tweede een aktief.
Dis die Gees wat lei (v.18); en ons wat gelei word – wat dit m.a.w. uitleef.
Dit het ten minste twee implikasies.
+ Een, Christene word gelei deur die Gees (v.18).
Die werkwoord, om gelei te word is betekenisvol. Dit is destyds gebruik vir 'n herder wat voor sy skape loop om hulle lei; van soldate wat 'n gevangene tronk toe vat; van die wind wat 'n skip voortdryf.
Die woord is ook gebruik vir die leiding, of van goeie geeste, of van slegte geeste.
So praat dit byvoorbeeld in 1Kor 12:2 en Ef 2:2 van Satan wat mense verlei. Maar dit word ook gebruik om te sê dat die Heilige Gees die Here Jesus tydens die versoekinge in die woestyn gelei het (Luk 4:1-2), asook Sy leiding van Christene (Rom 8:14).
As die Leier neem die Gees dus die inisiatief en leiding. Anders as die vlees wat teen die Gees begeer, begeer die Gees teen die vlees.
Wat is dan die Gees se gerigtheid? Hy werk in ons geregtigheid – dit wat God behaag.
Hy werk sagkens, maar ons moet ons daaraan oorgee – ons moet gehoorsaam.
In hierdie leiding gebruik die Gees sekere genademiddele, waaraan ons weldra aandag gee.
+ Twee, Óns moet "wandel" (OAV) (v.16,25).
Ons verantwoordelikheid behels dus meer as bloot 'n passiewe oorgawe aan die Gees se leiding. Ons moet sy leiding gehoorsaam en uitleef. Dit impliseer doelbewuste en inspannende handeling op die regte pad. Die Gees leer ons, maar óns moet dit doen.
# 'n Vergelyking van verse 16 en 25 toon die idee duidelik.
Die eerste gedeelte van elke vers dra dieselfde gedagte.
Tog is daar 'n subtiele, maar belangrike onderskeid. Twee verskillende werkwoorde word gebruik.
+ Die eerste woord (v.16) word in die 2020 vertaal met "leef" (Praes, akt, imperatief van peripateō: gewoon om te loop, maar dit verwys meermale na die hele omvang van mens se lewe).
Hier dui dit op 'n lewenswyse onder leiding van die Gees.
+ Die tweede woord (v.25) word in die 2020 vertaal met "in pas te bly". (Praes, akt, konjunktief van stoicheō: om reguit te loop – gewoonlik saam met ander, om in pas met 'n ander te loop, om in gelid te loop). In hierdie geval is dit om "met die Gees in pas te wees". In Rom 4:12 byvoorbeeld vat beide die OAV en 2020 dit raak: om in Abraham se voetspore te volg.[2]
Hier lê die klem dus op 'n gehoorsame lewe onder leiding van die Gees; op 'n versigtigheid om Hom te gehoorsaam en nie te bedroef nie.[3]
# Laat ons nooit die belangrikheid van die Heilige Gees in ons lewens onderskat nie! Dit gebeur gans te veel. Is ons nie almal geneig om dit te doen nie?
Is dit dalk 'n oorreaksie teen eensydige oorbeklemtonings in ander kringe?
Luister na die Nuwe Testament: Rom 8:5-6: "... diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees. ... die denke van die Gees bring lewe en vrede."
Rom 8:9-13: In ons heiligmaking is ons 100% verantwoordelik
# Terwyl Gal 5:13-26 beklemtoon dat ons in ons heiligmaking 100% afhanklik is van die die inisiatief en heerskappy van die Heilige Gees, herinner Rom 8:9-13 dat heiligmaking in werklikheid sunergisties is – wat beteken dat die gelowige eweneens 'n 100% verantwoordelikheid het om heiligmaking in sy of haar lewe te verwerklik. Hierop moet ons nou fokus. Aangesien die Skrif vol uitsprake hieroor is, is daar baie Skrifgedeeltes wat ons as vertrekpunt sou kon gebruik. Ons fokus egter op een paragraaf in die Romeinebrief, wat vol betekenis is. Ons kyk vinnig na Rom 8:9-13.
+ 'n Illustrasie mag help om iets van hierdie geheimenisvolle medewerking tussen die Heilige Gees en die mens te begryp:
Wind verskaf ál die energie wanneer 'n windpomp water vanuit 'n boorgat tot in 'n dam pomp. Daarsonder beland nie 'n druppel water in die dam nie. Op sy eie is die windpomp magteloos.[4]
Maar, soos in die geval van heiligmaking, is dit hier nie 'n geval van 'n vyftig-vyftig-vennootskap nie. Dis eenhonderd persent betrokkenheid aan weerskante. Sonder 'n windpomp wat goed werk, beland eweneens nie 'n druppel in die dam nie.
Daar is 'n "sunergistiese" vennootskap tussen wind en windpomp.
Rom 8:9
# Die apostel begin hier om die beginsels wat hy in die vorige verse gedek het, toe te pas. Om sy toepassing op sy leser persoonlik te fokus, begin hy nou om die tweede persoon te gebruik: "julle" oor en oor.
# Letterlik lees die Grieks: "Julle is nie in vlees, maar in Gees." En dan kwalifiseer hy: "as die Gees van God in julle woon" – wat Paulus aanneem. Die Grieks praat van 'n vervulde voorwaarde – dus "aangesien die Gees in julle woon". Paulus aanvaar dit.
Hy volg dit dan op met 'n radikale stelling: "As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie."
+ Die inwoning van die Gees in elke ware Christen staan Bybels vas. Dit word talle kere elders in die Skrif bevestig.
Ja, daar kan sekerlik meerdere ervaringe van die Gees se heerskappy ervaar word – soos meermale deur die Woord beskryf word. En 'n gelowige kan die Gees bedroef.
Maar dát die Gees oor die volle spektrum van sy werkinge tot 'n mindere of meerdere mate in elkeen in Christus besig is, staan Bybels bo alle twyfel vas.
# Let op dat ons verse meer as een uitdrukking gebruik vir die inwoning van die Gees. Om "in Gees" te wees, en "om die Gees te hê", blyk hier in v.9 as sinoniem.
In v.10 kry ons 'n parallelle uitdrukking: "Christus is in julle" (letterlik), wat kennelik op dieselde waarheid wys.
Let voorts op dat "die Gees van God" óók "die Gees van Christus genoem word".
Dit alles bevestig die Skrifwaarheid: Wat die Vader doen, doen Hy deur die Seun. En wat die Seun doen, doen Hy deur die Gees.
Dit alles bevestig dat elkeen wat aan die Vader behoort, in Christus is, en as sodanig die Gees het.
Vers 10-13
# Twee belangrike gevolge van die Gees se inwoning word nou onderstreep.
In v.11-12 beskryf hy dit in terme van lewe. En in v.12-13 in terme van verpligting.
+ Eerstens het ons "lewe" (v.10-11).
As Christus dan inderdaad in ons is, beteken dit dat die liggaam (Gr. sōma) dood is. Dit lyk asof hier verwys word na die liggaamlike dood wat ook Christene, ten spyte van hulle herskepping, nog moet sterf (v.10). Maar in v.11 verseker hy diesulkes in wie die Gees woon, dat "Hy wat Christus uit die dood opgewek het" sekerlik hulle liggame weer sal laat opstaan, net soos Christus opgestaan het.
+ Tweedens het ons 'n "verpligting".
Die voorreg van die lewe wat ons ontvang het, laat 'n verpligting op ons rus.
Negatief moet ons nie volgens die sondige aard (Gr. sarx) lewe nie – want dit loop uit op die dood (v.12-13a). Sekerlik word hier gepraat van die ewige dood.
Positief is daar 'n heerlike belofte: As ons "deur die Gees die praktyke van die liggaam (Gr. sōma) doodmaak", sal ons leef." (v.13).
Wat is hierdie lewe? Dit is reeds in v.11 uitgespel. Dis die opstanding uit die dood tot die ewige lewe in sy heerlike en ewige volheid.
= Hierdie verrassende uitdrukking, "doodmaak" gebruik hy ook soortgelyk in Kol 3:5: "Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid wat afgodediens is."
# Let op dat al drie persone van die Goddelike drie-eenheid intiem by die hele proses betrokke is.
Let verder op dat Christus se opstanding uit die dood die waarborg is dat diegene wat met Hom verenig is, gewis ook soos Hy in heerlikheid sal opstaan. Dieselfde Gees wat Hom volgens die wil van die Vader opgewek het, sal almal in Hom eweneens opwek. Dieselfde Gees wat nóú geestelike lewe gee, sal dán ook liggaamlike lewe gee.
Dit sal dieselfde liggaam wees, met dieselfde identiteit, maar met díé enorme verskil – dit sal 'n verheerlikte liggaam wees. Die verheerlikte persoonlikheid, sal gehuisves wees in 'n volmaakte en ewige liggaam wat daarby pas en tot beskikking daarvan is.
Wat bedoel die Skrif presies met die oproep, om die praktyke van die liggaam dood te maak?
# Die werkwoord, "doodmaak" (Gr. thanatoō) is 'n sterk woord. So, byvoorbeeld, gebruik Paulus dit as 'n sinoniem vir kruisiging: "Almal wat aan Christus Jesus behoort, het hulle vlees met sy begeertes en hartstogte gekruisig" (Gal 5:24).
Paulus eggo net die Here Jesus se uitspraak: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg" (Mark 8:34).Die Romeine het 'n veroordeelde wat gekruisig moes word gedwing om self sy kruis na die teregstellingsplek toe te dra – om daar tereg gestel te word. En dis waarop die Here sinspeel.
Dit gaan oor volhardende selfverloëning.
# Hoewel hierdie moord op "die praktyke van die sondige liggaam" 'n lewenslange verantwoordelikheid is, wat maar weer en weer gepleeg moet word, het die bevel in Kol 3 nie dít as klem nie, maar wel die erns en dringendheid daarvan (Gr. 'n bevelsvorm in die Aor Impt). Dit moet dus met beslistheid en sonder huiwering gedoen word. Mens moet nie éérs met die sonde flankeer voordat jy dit probeer doodmaak nie; dan gaan jy soos klokslag vind dat die versoeking jou alreeds ingekatrol het.
Dit laat mens dink aan die beeld wat Jakobus in sy eerste hoofstuk gebruik (1:13-15): díé van 'n slegte vrou (genaamd "begeerte") wat 'n man wil verlei. Dit gebruik die beeld van 'n man wie se luste geleidelik ontvlam soos die prostituut sy oë gevange hou. Sy katrol hom geduldig in. Nee, nee, jy kyk dadelik weg en draai jou rug die oomblik as jy bewus raak van haar verlokking, want spoedig kry jy dit nie meer reg nie.
# Laat ons dit baie goed verreken: Die gerigtheid, die mikpunt, van heiligmaking is niks minder nie as volkome uitroeiing van die sonde in jou lewe. Dis waarop ons dooierus moet vat. Niks minder as dit is versoenbaar met die uiteindelike bestemming van die gelowige nie: Gelykvormigheid aan die beeld van die Here Jesus!
Die Skrif gaan ook verder. Hierdie beeld is meteen van die Here Jesus en ook die beeld van God die Vader (Matt 5:48; 1Joh 3:3).
# Wat is die "praktyke van die liggaam"? Dis elke gebruik van die liggaam (ons oë, ore, mond, hande, voete, gedagtes, natuurlik dade, ens.) om onsself op 'n selfsugtige wyse te dien, in plaas van God en ons naaste.
Dis betekenisvol dat die apostel nie hier van die sondige vlees praat nie (Gr. sarx). Hy praat van die liggaam self (Gr. sōma). Sonde vind sy uitdrukking deur die liggaam.
# Om die praktyke van die liggaam dood te maak, is nie net om te sê dat jy tot sonde geneig is nie, maar om dit vierkantig te erken dat dit steeds 'n bedreigende en godonterende teenwoordigheid in jou lewe is; dat dit jou die ewige lewe kan kos as jy bloot maar weer weer daaraan sou toegee – en dat dit die Heilige Gees bedroef en die Here onteer.
Om dit dood te maak, is om dit meedoënloos te weerstaan. Dis om so ver jy kan alle selfsug en selfbevrediging met beslistheid wortel en tak uit te roei – om geen plek daarvoor in jou lewe te gee nie.
# Maklik? Dít sê niemand nie. Die teendeel is waar! Trouens, wie van ons kry dit elke keer reg. Dis immers oorlog. En in enige oorlog verloor mens soms 'n geveg. Maar dis iets anders as om aanmekaar te verloor – en uiteindelik die hele oorlog.
# Dis duidelik: Hier is iets wat ons nie ligtelik durf opvat nie. Laat ons gereeld bid vir die nodige erns in ons gesindheid. Ons – almal van ons – is maar té geneig om ons sonde te duld; té gereed om dit te regverdig; maklik-maklik goed te praat: "Ons is immers net mense; almal maar sondaars – tot niks goeds in staat nie" (hoewel wáár as jy nog nie gered is nie, maar 'n infame leuen in die geval van wedergebore mense).
Oppas, oppas, hierdie verskoning mag jou die ewige lewe kos!
Nee, 'n wedergebore mens word nie meer deur aanmekaar-sonde gekenmerk nie, maar deur tipiese geregtigheid. En ons is inderdaad tot goed in staat! Dis trouens die tipiese van ons lewens.
Hóé maak ek die praktyke van die liggaam dood?
# Eerstens, let op dat dit iets is wat ek sélf moet doen; dis nie iets wat aan of vir my gedoen word nie. Die werkwoord is aktief, nie passief nie. Dis mý verantwoordelikheid.
# Maar die apostel voeg dadelik by, ons moet dit "deur die Gees" doen. Waarom? Enigeen wat met hierdie oproep in die Skrif erns maak, sal weet dat mens dit nie naastenby in eie krag kan regkry nie.
Hoe dankbaar moet ons nie wees vir die groot gawe van die eindtyd nie – die Helper! (Gr. paraklētos). Slegs die Heilige Gees kan ons die nodige begeerte, erns, vasbeslotenheid en selfdissipline gee om dit reg te kry.
Ons kan eenvoudig nie sonder sy bekragtigende werk nie!
Dit laat ons egter nie toe om agteroor te sit nie. Ék moet hierdie noodsaaklike genadewerk van die Heilige Gees voortdurend by die Vader afsmeek.
# Daar is twee gerigthede – die een so noodsaaklik soos die ander:
+ Negatief moet ek alles verwerp wat ek weet verkeerd en sondig is. Ek moet myself dissiplineer om nie eers vir 'n oomblik hand-om-die-lyf daarmee te loop nie.
Luister wat sê die Here Jesus: "As jou regteroog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna gegooi word. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou weg. Want dit is voordeliger vir jou dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in Gehenna beland" (Matt 5:29-30).
Let op die woordelikse herhaling van die "want" redegewende bysinne. Sonder twyfel is dit ter wille van beklemtoning.
As dit gaan oor die begronding van redding is "raak nie, smaak nie" kettery
Máár
As ek eenmaal in die Here Jesus ingeplant is en in sy voetspore begin volg
is "nie raak nie, nie smaak nie" dikwels regsinnigheid
'n Christen kyk dikwels nie, raak dikwels nie aan aan, gaan dikwels nie
+ Positief moet ek "die dinge van die Gees" bedink (Rom 8:5). Ek moet "streef na wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit". Ek moet "die dinge daarbo" bedink; nie "die dinge wat op aarde is nie" (Kol 3:1-2); ek moet my gedagtes rig op "alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien" (Fil 4:8).
# Maklik? Nee, nee, dit sê niemand nie!
Maar dís waarvan ons praat as ons van Bybelse heiligmaking praat.
Waarom moet ons soveel erns daarmee maak om praktyke van die liggaam dood te maak?
# Jy sê, hierdie boodskap maak die evangelie uiters onaantreklik. Dit hou Christenskap voor as 'n pynlike besigheid. Dit sal sondaars afstoot, eerder as aantrek. Dit hou op om die evangelie goeie nuus te maak.
Het Christus dan nie vir sondaars gekom nie – vir "geestelike bedelaars"?
# Het jy opgelet dat ons tot hiertoe aanmekaar die Skrif aangehaal het? Onthou jy nog dat v.12 sê dat ons 'n "verpligting" het. En nou sê die Apostel nog vir ons dat die enigste pad na lewe 'n pad van afsterwe is!
Een van die mees effektiewe strategieë van ons vyand
is om ons te verlei om 'n goedkoop evangelie
— wat nie red nie —
aan te hang en te verkondig
# Het jy kennis geneem van die wonderlike belofte wat amper onopsigtelik in v.13 lê? Dit sit in 'n enkele Griekse woord: zēsesthe: "julle ... sal leef"!
# Wonderlik! Maar weerspreek Paulus homself nie dalk nie? Het hy nie minder as twee hoofstukke terug vir ons gesê ons moet bloot in Christus invlug nie: "die genade van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here" (6:23)?
Nou lyk dit egter of hy van loon vir selfneerlegging praat.
As ons egter let op die volgende verse ná ons teksgedeelte hier in Rom 8, praat die apostel steeds van die ryk, oorvloedige, bevredigende lewe van ware Christenskap (v.14vv).
Hoe kry mens die kloutjie by die oor?
Hierdie ryk, oorvloedige, bevredigende lewe,
kan slegs beleef word
langs die weg van die heilige teregstelling waaroor ons gepraat het!
Hierdie "doodmaak" van die "praktyke van die liggaam"
is nie net die vereiste vir die ewige lewe nie
dit sluit terselfdertyd nou reeds die deur oop
na die volheid van hierdie lewe
# Die beginsel van lewe deur die dood, lê aan die hart van die Christelike boodskap m.b.t. heiligmaking.
Slegs deur in vertrouensgeloof saam met Christus vir ons sonde te sterf (vir die gevolge en oormag daarvan), word ons skúld vir al ons sondemislukkings en -oortredings 'n erváringswerklikheid. Dán eers kom ons tot die besef van ons noodsaak aan 'n Middelaar. En presies dít, niks minder nie, is die ware evangelie wat tot die ware lewe lei.
Let op wat ek sê: Eers dán word ons opgewek in 'n lewe van vergiffenis en vryheid en oorvloed – nou al voorloping, maar eendag ten volle.
Sonder afsterwe kan daar nie sprake wees van opwekking nie.
Dit wat die wêreld "lewe" noem
— selfvertroue, selfbevrediging, selfverheffing, selfverheerliking —
lei tot vervreemding van God
en dít is die éíntlike dood
Maar God se Woord dring aan
op die doodmaak van alle selfsug en selfvertroue
as die enigste sleutel tot die wáre lewe
Dit gaan in die finale sin oor positiewe heiligmaking
# Selfs die volkome uitwissing van sonde bereik nog nie die einddoel van heiligmaking nie. Die negatiewe is in diens van die positiewe. Die positiewe is waaroor dit éíntlik gaan.
+ 2Korintiërs 7:1: "Aangesien ons hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons reinig van alle besoedeling van liggaam en gees (negatiewe heiligmaking), terwyl ons met diep ontsag vir God ons heiligheid verwesenlik" (positiewe heiligmaking).
+ Romeine 12:2: "Julle moet nie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie (negatief), maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is (positief)."
+ 2Korintiërs 3:18: "En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in 'n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees."
# Die Nuwe Testament praat op verskillende maniere van positiewe heiligmaking.
+ Filippense 1:9-11: " Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig, om die dinge wat saak maak, te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees, gevul met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God."
+ 2Petrus 3:18: "Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus."
# 'n Skrifuitspraak wat ryk is oor ons tema, is Ef 4:12-16 (veral as dit verstaan word in die lig van die hele brief se lering). Let op dat die korporatiewe dimensie van heiligmaking hier na vore kom.
Die klem val duidelik op die noodsaak van groei, spesifiek groei van die heiliges in hulle dienswerk in diens van die liggaam se opbou (v.12) – "totdat ... almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die Seun van God, en tot 'n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus" (v.13).
Die uiteindelike doel daarvan is dat "ons nie meer kindertjies sal wees nie, wat deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering" (v.14). Nee, ons moet in liefde aan die waarheid vashou, sodat ons "in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus is die Hoof ... " (v.15).
Dit noodsaak ons om nader te besin oor korporatiewe heiligmaking.
Gesamentlike of gemeentelike heiligmaking
# Ons dink tipies oor heiligmaking in persoonlike en individuele terme. En dis korrek so, want dis eerstens die Bybelse aksent. En tog, dink 'n mens vir 'n oomblik daaroor, besef jy dat hierdie roeping meermale die gemeentelike konteks van Christenskap veronderstel.
Heiligmaking moet dus nie uitsluitlik as iets intiem-persoonliks gesien word nie. Dit het dikwels alles te doen met ons verhoudingslewe saam met broers en susters.
Laasgenoemde kom op verskeie maniere tot uitdrukking.
+ Een, mens leef in vele opsigte jou heiligmaking uit in jou verhouding met jou broers en susters. Dink maar net 'n oomblik oor die vrug van die Gees – oor hoe dikwels dit te doen het met met jou saamleef, saamwerk en saamaabidding met mede-Christene.
+ Twee, daar is soiets soos gesamentlike gemeentelike "heiligmaking".
Dit gebeur as die gemeente saam groei na die beeld van God – in Godskennis, naasteliefde (na binne en na buite die gemeente) en heiligmaking.
Dit gebeur, byvoorbeeld, wanneer 'n gemeente of groep gemeentes saam eendragtig glo en bely – profeties teenoor die wêreld, en tot eer van God.
Dit gebeur as die gemeente saam as 'n span goeie werke doen – sê maar barmhartigheidswerk.
Dit gebeur as 'n gemeente saam besef hulle is korporatief op 'n sondige pad en dit lei tot, noem dit maar gemeentebekering.
+ Drie, 'n gemeente mag in die lig van beter Bybelse begrip 'n reformasie in oortuigings ondergaan. Ons kan hierna as "reformasie" verwys.
Daar is ook deur die eeue en wêreldwyd voorbeelde van besondere besoekinge deur die Heilige Gees wat dramatiese en radikale bekragtigings en bekerings en dieper heiligmaking meebring – tot so 'n mate dat dit ook die ongelowige wêreld beïnvloed. Gegee dat so 'n "herlewing" ég is, en gepaard gaan met Bybelse reformasie, is dit eintlik niks anders as korporatiewe bekering nie.
Die genademiddels
Vir die groei in my persoonlik, én die liggaam gesamentlik, werk die Heilige Gees grootliks deur die genademiddels. Dis kanale waardeur die Here se genade en seën in Sy kinders se lewens invloei.
Hy werk as 'n reël dus middellik – Hy gebruik kanale of instrumente.
Dis ons verantwoordelikheid om hierdie genademiddels getrou te gebruik. Dis soos waterpunte in 'n vlugtelingkamp – wie te lui is om water te dra, sal omkom van dors.
# Eerstens is daar persoonlike of privaat genademiddele – veral omgang met God se Woord en gebed. Elke ware gelowige weet hoe afhanklik hy daarvan is.
+ Die Heidelbergse Kategismus (V&A 116) noem gebed die vernaamste deel van die dankbaarheid wat God van ons eis.
Kan daar enige outentieke Christenskap wees sonder gedissiplineerde en gereelde gebed? Kan daar enige groei in heiligmaking wees daarsonder?
As die Here Jesus in sy hoëpriesterlike gebed sê dat die hart van die ewige lewe daarin lê dat jy God ken (in die besonder, om gemeenskap met Hom te hê), kan ons aanvaar dat gebed aan die hart daarvan is (Joh 17:3).
+ Voorwaar geseënd is hy of sy wat uit oortuiging en ervaring geleer het om die voedsel van die Woord net so noodsaaklik te beleef as sy daaglikse brood. Geseënd is hy of sy wat deel is van 'n gemeente waar Godgesentreerde, Christusgefokusde en Skrifgefundeerde waarheidsprediking 'n integrale deel is van Sondag-samekomste.
Ons omgang met die Woord kom natuurlik op talle verdere maniere tot uitdrukking.
# Tweedens is daar gesamentlike of publieke genademiddele. Hier gaan dit om die gemeentelike lewe – in die besonder die gepredikte Woord, gesamentlike gebed, die bediening van godvrugtige ouderlinge, die gemeenskap van die heiliges, en die sakramente.
Elkeen wat deel is van 'n ware en lewende gemeente van mede-gelowiges, sal weet hoe onmisbaar en waardevol hierdie dinge is.
Net nog 'n paar laaste opmerkings
1. Die ganse wese en lewe word deur heiligmaking geraak
Ál die fakulteite van die innerlike mens word verander: die verstand en oortuigings (Jer 31:33; Joh 6:45; Rom 12:1-2; Ef 1:18; 3:18; Fil 1:9-11; Kol 1:9-10; 1Pet 1:13); die wil (Eseg 36:25-27; Fil 2:13); die emosies (Gal 5:24); die gewete (Tit 1:15; Heb 9:14).
Onvermydelik kan die liggaam nie onaangeraak bly nie (Rom 6:12-13; 1Kor 6:15, 20; 1Tess 5:23). Dis die instrument waardeur die innerlike mens homself in hierdie wêreld uitdruk. Daarbenewens is die mens 'n psigosomatiese wese, en sy innerlike gesteldheid sal mettertyd 'n positiewe of negatiewe fisieke invloed hê – hetsy direk, hetsy indirek.
2. Toenemende sondebesef is 'n teken van groei in heiligmaking
Dis hoe die Gees ons nederiger maak en hou. So dring Hy mens om steeds dieper in Christus te skuil. En dít ís geloof. Beswaarlik is daar iets wat God méér behaag. En vir seker het dit 'n invloed ten goede op die gelowige.
3. Sonder 'n maatstaf word najaging van heiligmaking koerslose willekeur
As ons dus oor die Bybelse norm besin, is die diepste Bybelse beginsel dat die voorbeeld van Here Jesus in sy vernederde staat steeds ons maatstaf is. Ons moet puntenerig in sy voetspore volg (o.m. 1Pet 2:2vv)
Eintlik is dit voor die hand liggend. In heiligmaking gaan dit immers om die herstel van die beeld van God in sondaars. Hierdie waarheid kom uitnemend na vore in die herhaalde Bybelse formule: "Wees heilig, want Ek is heilig" (Lev 11:44-45; 19:2; 1Pet 1:15-16; en ook Matt 5:48).
4. Daar is egter 'n uiters belangrike en balanserende waarheid: Tussen God as God, en die mens as mens, bestaan 'n wesensverskil.
Dis die verskil tussen Skepper en skepsel – tussen die almagtige en onbevraagtekenbaar-soewereine en die totaal-afhanklike.
Gelykvormigheid aan die beeld van God is dus nooit absoluut nie; dis altyd gekwalifiseerd. Trouens, in 'n sin is die ambisie om soos God te wees die dieptepunt van sonde. Presies hier, immers, lê die punt waarop Satan die mens verlei het (Gen 3:5).
+ Daar is dus twee lewensbelangrike Bybelse waarhede wat in balans gehou moet word.
Enersyds is die mens se hoogste roeping om soos God te wees (in een sin).
Andersyds is die mens se gruwelikste sonde om soos God te probeer wees (in 'n ander sin).
+ Nou is dit duidelik dat as God nie self aan die mens openbaar waarin ons aan Hom gelyk moet word nie, en as Hý dit nie afperk en definieer nie, is ons gedoem om allerlei Godslasterlike grense oor te steek.
+ Die perfekte openbaring van God se beeld is in die persoon, lering en lewe van die Here Jesus te vind (Joh 1:18; 14:9; Heb 1:3). In 'n lewe hier op aarde, in 'n liggaam soos ons s'n, is die heiligheid wat God aan sy kinders voorhou volmaak gedemonstreer. Duideliker kon die Here Sy wil vir die mens nie maak nie.
+ Maar God het méér gedoen. Hy het óók sy wil formeel en sistematies aan die mens geopenbaar – só gewigtig en permanent dat Hy dit met sy eie vinger op kliptafels gegrafeer het – die Tien Gebooie.[5]
Presies hóé die uitlewing van hierdie gebooie lyk, het Hy dwarsdeur die Ou, maar veral in die Nuwe Testament se morele voorskrifte vir ons oopgevou.
En presies dít het die Here Jesus in sy lewe op aarde prakties gedemonstreer.
+ As ons laasgenoemde openbaring ernstig opneem en so puntenerig mootlik uitleef, sal dit ons nie net bewaar van die moeder van sondes nie – naamlik om soos God te wil wees – dit sal ons ook lei om heilig te wees soos Hy heilig is.
Dit is waarom verwaarlosing van die Tien Gebooie klokslag lei tot arrogante gedrag wat op die gebied van God se soewereine prerogatiewe oortree.
Slot
Terwyl die roeping tot heiligmaking baie sterk beklemtoon is in hierdie studiestuk, mag ons nóóit vergeet nie dat ons bloot "kinders" is wat onderwég is na die volmaakte beeld van Christus toe.
Ons "opgroei-proses" is pynlik. Ons navolging van die Here is male sonder tal onbeholpe en struikelend. En tipies voel dit vir ons dat daar geen vordering is nie
Maar laat ons bemoedig word deur 'n uitstaande man van God, John Newton (1725-1807), oor sý ervaring op die bergpad van Christelike heiligmaking:
"But alas! These my golden expectations have been like South Sea dreams.
I have lived hitherto a poor sinner, and I believe I shall die one.
I was ashamed of myself when I began to serve Him;
I am more ashamed of myself now;
and I expect to be most ashamed of myself when He comes to receive me to Himself.
But oh! I rejoice in Him, that He is not ashamed of me!"
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Let op, ons praat spesifiek van die erfsmet (die sondige aard, wat ervaarbaar aan Adam en sy hele nageslag toebedeel is); nie die erfskuld (wat in beginsel aan Adam en sy hele nageslag toegereken is).
[2] So ook die ESV, NASB, NIV. Vergelyk daarenteen die NAV om te sien hoe vry dit geparafraseer is – na my mening totaal onnodig. Dis waarom ek soms krities is oor die NAV.
[3] Nogeens is die genademiddele hier van belang, waarna ons weldra kyk.
[4] Betekenisvol is dat in sowel Hebreeus as Grieks die woord vir "Gees" ook "wind" beteken)
[5] Sien www.imagodei.co.za , en wel "Langer Studies" no's R028-R038