PREEKOPNAMES: 1. https://tinyurl.com/2p8u8hbp 2. htt ps://tinyurl.com/39tb2ax7
(Die teks hieronder is jare ná die preke hierbo geskryf. Maar die boodskap is essensiëel dieselfde)
Die Here Jesus se ontmoeting met die ryk jongman kom in al drie sinoptiese evangelies voor: Matt 19:16-30; Mark 10:17-31; Luk 18:18-30.[1]
# Hierdie man is waarlik bekeringsmateriaal. Wat 'n voorreg vir 'n evangelis as so 'n persoon oor jou pad kom. Om hom die saligheid binne te lei, is so maklik soos om uit 'n boom te val!
Hy is nederig ‒ hy val op sy knieë. Hy is moedig ‒ hy kom nie in die donker soos Nikodemus nie. Hy is geestelik ‒ hy verlang oënskynlik opreg na die ewige lewe. Hy is moreel ‒ hy probeer met toewyding van kleins af die Wet onderhou. Hier het ons waarlik 'n model van 'n jongman. Voor ons sien ons leierskapmateriaal, 'n trofee vir elke gemeente.
# Ek sê weer, hy is 'n evangelis se droom. Enige hedendaagse sielewenner sou binne minute van hom 'n Christen kon maak. Hoe lank vat dit immers om 'n kort sondaarsgebed te herhaal? En as jy hom nog voorsê ook, kan jy die gebed van oorgawe kort hou – veral as daar 'n tou ander wag wat jy ook moet help om die koninkryk in te gaan.
Maar Jesus laat hom tussen Sy vingers deurglip!
# Hier is lesse wat ons nie moet miskyk nie. Kom ons kyk hoofsaaklik na Markus.
Sleutel 1: Die Evangelie begin by God
# Die eerste sleutel is in v.18. Jesus stel die jongman dadelik voor God. Voor mens oor die ewige lewe kan praat, sê Hy effektief vir hom, moet jy eers rekening hou met wie God is – en alles wat dit impliseer.
Die evangelie kan slegs na behore verstaan word as mens die skitterglans van God se volmaaktheid, en die tragedie van menslike verdorwenheid teenoor mekaar stel.
# Mense het baie probleme. Maar die oomblik as jy God sien, raak jy in 'n oogwink daarvan ontslae. Dan besef jy hoe gering en tydelik al jou "probleme" régtig is.
Maar onmiddellik kry jy dan 'n nuwe las, duisend maal swaarder ‒ die las van die ewigheid, en jou aanspreeklikheid voor God.
Al wat hierdie las kan verlig, is die evangelie en jou omhelsing van Christus.
As jy nie éérs die las van God se geregtigheid, enersyds, en jou doemwaardigheid, andersyds, ervaar het nie, bly Christus vir jou bloot van akademiese belang.
# Vir té veel goeie kerkmense is God beswaarlik meer as 'n welwillende en saghartige oupa. Ja, 'n duisend maal ja ‒ Hy ís 'n barmhartige God van vergiffenis en genade. Maar Hy is ook 'n God van heilige geregtigheid.
Onthou, en vergeet dit nooit nie:
As jy 'n denkbeeldige God dien,
sal jy tevrede moet wees met 'n denkbeeldige redding.
# Reddende geloof is wesentlik iets anders as 'n bloot intellektuele opinie oor God. Ja, geloof begin met kennis en oortuiging, maar word afgerond deur 'n radelose en persoonlike vlugtog in Christus in – in algehele vertroue in Hom as groot Profeet, Priester en Koning.
Maar dit lei nie tot die afronding en vervolmaking van redding, as dit nie 'n lewenslange skuiling in Hom is nie.
Trouens, tot die mate wat 'n mens God beter leer ken, en die evangelie al hoe meer verstaan – en nooit opgee in die stryd teen oorblywende sonde nie – tot daardie mate sal jy al hoe dieper skuil in die die Vader se genade in Christus.
Sleutel 2: Die Wet is 'n kragtige stuk gereedskap in Jesus se evangelisering
# Die volgende sleutel kry ons in v.19. Vir die meeste moderne evangeliste is dit 'n baie vreemde verwikkeling in hierdie verhaal.
Mens sou verwag dat Jesus sal begin praat oor regverdiging deur geloof alleen, en dat jy Hom bloot as persoonlike Saligmaker moet aanneem.
Maar Jesus beweeg in die teenoorgestelde rigting: Van alle dinge praat Hy oor die Wet!
# Twee maal lees ons in die evangelies dat iemand vir Jesus kom vra hoe mens die ewige lewe kan beërf. Benewens hier, vra 'n wetgeleerde die vraag ‒ wat dan tot die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lei (Luk 10:25).
Nou kan dit nie anders as uiters betekenisvol wees nie: In beide gevalle vat Jesus die vraagsteller na die wet toe – onderskeidelik die eerste en tweede tafels daarvan.
Waarom? Elders in die Nuwe Testament kry ons die antwoord: "... deur die wet ken ons die sonde" (Rom 3:20); "... sonde is is wetteloosheid" (1Joh 3:4).
Wat sê dit vir ons? Die konsep van sonde is inhoudloos sonder God se wet. En die man of vrou wat sonde nie kan verstaan nie, kan die kruis nie verstaan nie ‒ en daarom ook nie die evangelie nie, want redding is vir die wat desperaat is, en slegs vir hulle (Matt 5:3).
# Té dikwels is die hedendaagse aanbieding van die evangelie mensgesentreerd. Die verlossingsplan word aangebied as ten diepste ter wille van die mens: "Glimlag, God het jou lief en het 'n wonderlike plan vir jou lewe. Hy wil jou seën, en gelukkig en welvarend sien. Soek jy vrede en 'n vriend? Kom na Jesus toe ‒ Hy brand om jou behoeftes te vervul."
Natuurlik ervaar ware gelowiges baie van hierdie dinge. Maar in die reddingsplan gaan dit ten diepste oor God en Sy eer.
Ja, daar ís mense wat op so 'n skewe manier gered word. Maar, tensy die Here hulle op gesonder paaie lei, ontgroei hulle nooit hul doeke nie. En meeste verdwaal langs die pad.
# Hierdie tweede sleutel in 'n neutedop: Die wet toon mens jou sonde; en tot die mate wat jy jou sonde sien, tot daardie mate sien jy jouself as van God vervreemd, en tot daardie mate besef jy jou doemwaardigheid, en gevolglik jou dringende nood aan 'n verlosser.
Eers dan is jy gereed om in Jesus Christus as Profeet, Priester en Koning in te vlug.
# Dikwels word so 'n vlugtog eers voorafgegaan deur 'n periode van godsdienstige inspanning en vroomheid in 'n poging om jouself vir God aanvaarbaar te maak. Maar omdat niemand die wet sonder God se genade kan uitleef nie – in elk geval in hierdie lewe nooit volmaak nie – lei dit al hoe meer tot wanhoop. Algaande maak dit van jou 'n bedelaar om God se genade. En só kwalifiseer dit jou vir die koninkryk van God. Uiteindelik wys die Heilige Gees jou dan Jesus Christus die Gekruisigde.
Die Here begin sy saligsprekinge met: "Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele" (Matt 5:3). Baie betekenisvol is die woord wat Hy vir "arm" gebruik. Dit dui nie in die eerste instansie op iemand wat bloot min het nie. Dit dui op 'n armoede wat as enigste uitweg het om te bedel. Ons sou dit so kon parafraseer: Salig is die geestelike bedelaars – mense wat radeloos tot die besef gekom het dat God se genade-ingryping hulle enigste kans is om gered te word.
Die ou Puriteine het dit verstaan: "Die skerp naald van die Wet maak 'n pad vir die rooi garingdraad van die evangelie."
# Die ryk jongman het egter 'n baie oppervlakkige siening van die wet: "Meester, al hierdie dinge het ek van jongs af nagekom." (Mark 10:20).
Daarom vind die Here Jesus dit nodig om die wet toe te pas. En in die proses skiet hy op die man se Achilleshiel. Hy pas die hele tweede tafel van die wet toe, en veral die tiende gebod. Want die man is baie materialisties. "Gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. En jy, kom hier, volg My" (Mark 10:21)
Die ryke is hartseer daar weg, maar helaas nie oor sy sonde nie. Dis omdat hy besef hy moet 'n keuse maak. Maar om van sy besittings afstand te doen, is eenvoudig vir hom eens te veel.
Hierdie man is nog nie gereed vir die koninkryk nie. Die skeurploeg van die lewe, en van God se standaarde, het nog werk om te doen. Sy harde pad, sy klipbanke, sy doringvelde moet eers omgedolwe word voordat hy 'n navolger van Jesus kan wees.
# Let wel, die Here hardloop nie agter die ryk man aan nie. Hy weet sekere dinge in die lewe neem tyd. Dalk sal die ploeg hom besoek en hom gereed maak vir 'n volgende keer.
Jesus laat hom met ander woorde rustig oor aan die oortuigingswerk van die Heilige Gees. Hy weet dat hierdie werk van die Gees 'n einde maak aan alle selfvoldaanheid en argumente. As Hý eers in diepte met jou gewerk het ‒ jou oortuig het van sonde, geregtigheid en oordeel (Joh 16:8-11, OAV) ‒ is selfregverdiging en rasionalisering iets van die verlede.
# Wat leer ons hier by die Here Jesus oor evangelisering? Sonder ten minste twee fokuspunte, gaan dit ernstig mank.
Eerstens, evangelisering behels 'n oproep tot bekering, 'n wegdraai van sonde
# As die Here Jesus in Mark 10:21 vir die man sê om alles te verkoop en die opbrengs vir die armes te gee, konfronteer Hy hom reguit met God se uitdruklike standaarde.
Dus: Bekeer jou van jou afgod of afgode!
+ Op hierdie punt kan mens nou maklik redeneer: Vir seker het ook ek, soos alle mense, my grille en geite, maar vir seker is Mámmon nie een van my probleme nie. Nooit sal ek my siel verkoop vir geld en besittings nie! In elk geval is ek alles behalwe 'n miljoener; inteendeel.
Wag, wag! Dink weer 'n keer. Die wêreld waarin ons leef word grootliks deur die sug na geld en besittings gedryf. Dis waarom kapitalisme in 'n gevalle wêreld keer op keer uitwys dis die beste stelsel om 'n samelewing te laat funksioneer en floreer. Geld laat die wêreld waarin ons leef, "tiek".
Voorts is hebsug baie meer subtiel as wat meeste van ons dink. Selfs onder Christene is daar min wat dit nie voortdurend met hierdie speerpunt van die gevalle wêreldstelsel om ons moet stoei nie. En dit geld óók vir armes – dalk veral vir hulle.
Dis waarom die Skrif so oor en oor waarsku teen Mammon. Selfs in die Ou Testament alreeds vind mens al talle waarskuwings daarteen.
+ Presies dit is waarom Jesus sy dissipels so ernstig teen Mammon waarsku.
Luister na Hom: "Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie" (Matt 6:24).
Of Luk 16:13: "Geen huiskneg kan twee base dien nie, want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie."
+ Wat Jesus dus vir ons ryk jongman sê, is dit: "Jy vra My hoe om by die ewige lewe uit te kom? Wel, Ek, ja Ék, is die enigste pad en die enigste gids. Kom val dus by My in. Máár, en dit moet jy baie goed verstaan, Ek duld geen mededingers en dubbelhartigheid nie. Éérs moet jy dus werk maak van alle afgode wat jou nog vashou. En jóú probleem, spesifiek, is dat jou hart verkleefd is aan jou geld en jou besittings."
En die jongman het "bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad" (v.22).
# Weer en weer spel die Here Jesus die voorwaardes vir egte dissipelskap uit. Hy doen dit nie in fyndruk nie. Inteendeel, Hy doen dit openlik en reguit, op die man af: Verloën jouself, neem jou kruis op, en volg My.
God se genade is gratis;
maar dis nooit goedkoop nie.
Mens neem Hom tevergeefs aan as jy Hom net as Verlosser wil hê, maar jou nie volkome aan Sy koningskap onderwerp nie. Hierop kom dit neer: Onderwerp jou aan My voorwaardes, of gaan terug en geniet jou lewe voluit, solank jy kan. Daar wag immers 'n baie, baie lang ewigheid.
# Waarom sukkel soveel goeie kerkmense om te verstaan dat diepgaande bekering 'n ononderhandelbare Bybelse noodsaaklikheid is. En dis 'n oriënteringsdraai deur 180 grade. Bekering red nie, maar sonder bekering is daar geen redding nie.
Die koninkryk van die hemel is 'n skat in 'n saailand waarvoor mens alles moet verkoop om dit in besit te kry (Matt 13:44; vgl. ook Matt 6:19-21; Luk 12:22-34).
Die tragedie is dat almal van ons hierdie verse al soveel maal gelees het, en onsself keer op keer dan probeer wysmaak het dat die uitsprake nie op óns van toepassing is nie. Nee, nee – bluf mens jouself – dit moet nie té letterlik verstaan nie. Wie doen dit immers?
Tweedens, evangelisering behels 'n oproep tot 'n nuwe lewenstyl in die voetspore van Jesus
# Hierop is reeds gewys, maar dis nodig om dit spesifiek uit te lig. As 'n negatiewe wegdraai van sonde noodsaaklik is vir egte Christenskap, is 'n positiewe heendraai na, en navolging van die Here Jesus Christus ewe onmisbaar (vgl. 1Pet 2:21).
Dis twee kante van dieselfde munt. Die een kan nie sonder die ander nie.
# Waartoe roep Jesus hierdie man en elkeen van ons? Dit kom hierop neer: Kom, gee my jou hart, emosies, verstand en liggaam ‒ jou hele lewe. Gee My jou lojaliteite, jou energie, jou toewyding, jou drome, jou ambisies, jou potensiaal. Gee My jou besittings, jou geleerdheid, jou gawes, jou verlede en jou toekoms. Kom dan, dien My onvoorwaardelik. En Ek sal jou verliese honderdvoudig kompenseer. Én jy sal "die ewige lewe" kry (v.29-31;).
Wat 'n skrikwekkende opdrag!
Wat 'n opwindende uitnodiging!
# Elkeen van ons gaan eendag voor die Regterstoel van die Allerhoogste staan. Volgens die Bybel sal die Regter nie bloot konsentreer op my korrekte verstaan van, en geloof in die waarheid nie ‒ noodsaaklik soos dit is. Nee, dit sal gaan oor die uitlewing van Sy opdragte! Onder die loep sal geneem word my toewyding en gehoorsaamheid terwyl ek in hierdie lewe was. Ons gaan volgens ons werke geoordeel word! [2]
Maklik en dikwels word só erg oorreageer teen die dodelike dwaling van redding deur werke, dat in die slagyster van die ewe noodlottige kettery van redding sonder werke getrap word!
# Besef ons aldag hoe belangrik hierdie saak is? Navolging van Christus en gehoorsaamheid aan Hom is ononderhandelbaar. Luister net wat skryf Johannes: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Joh 2:6).
Uiteraard leef ons in 'n totaal ander wêreld as destyds, maar dit gaan steeds oor die beginsels en waardes en prioriteite wat Jesus se lewe beheers het.
Destyds kon Jesus nie dubbelhartiges verduur nie. Waarom sou dit vandag anders wees? Hy spoeg steeds die louwarmes uit (Op 3:15-16).
Nie een van ons het die gesag om die Here standaarde te verlaag nie. Tog word dit so dikwels gedoen. Die ryk jongman sou hom gemaklik kon tuismaak in feitlik elke gemeente van ons dag ‒ en spoedig sou hy in die kerkraad ook gedien het (kyk net sy bydraes!).
Maar aan Jesus Chrístus kan ons nie deel kry nie,
tensy ons die wêreld versaak.
# Iemand het Jesus gevra: "Sal min gered word?" (Luk 13:23vv). Wat antwoord Hy? "Span al jul kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie."
Sonder vrees vir teëspraak kan mens sê dat baie min kerkgangers afsydig staan teenoor hul ewige lot. Maar dit beteken nie dat hulle sonder meer gered is nie. Want
benewens hulle wat gered is, en hulle wat duidelik ongered is, is daar 'n derde kategorie ‒ 'n baie groot kategorie. Dit is die "baie" wat sal probeer ingaan, maar dit nie regkry nie.
Die kameel en die naald (Mark 10:23-27)
# Tot nou toe het ons gekonsentreer op Jesus se hantering van hierdie jongman, en op die implikasies daarvan vir ons evangelisering. Kom ons kyk nou na wat voortspruit uit hierdie ontmoeting en wat dit prakties vir ons inhou (Mark 10:24vv).
Die man is nou weg, en nou is dit 'n gesprek tussen die Here Jesus en Sy dissipels.
# Jesus sê weliswaar hier dat dit vir 'n ryk man baie moeilik is om die koninkryk in te gaan. Maar Hy kon net sowel gepraat het van 'n bitter en onvergewensgesinde persoon, 'n egbreker en wellusteling, 'n ongehoorsame kind, 'n oneerlike, 'n leuenaar, ensovoorts.
Híér gaan dit oor hebsug, maar die beginsels geld vir enige sonde waarin willens en wetens volhard word.
# Nou gaan die Here voort om te beklemtoon hóé moeilik dit vir 'n ryk man is om gered te word. 'n Kameel gaan makliker deur die oog van 'n naald, sê Hy!
Deur die eeue was daar talle pogings om hierdie verskriklike stelling van Jesus af te water, maar nie een daarvan het nog ooit werklik oortuig nie.
In elk geval verstaan die dissipels Jesus baie letterlik. "Wie kan dan gered word?", vra hulle. Dit kan hulle wel vra, want die illustrasie wat die Here gebruik, dui op iets wat algeheel onmoontlik is. 'n Kameel deur 'n naald se oog – vergeet daarvan!
Gaan alle ryk mense dus verlore?
# As ons net hierdie uitspraak van die Here in die Bybel gehad het, sou ons tot geen ander slotsom kon kom, as dat rykes geen kans staan om gered te word nie.
En tog vertel die Ou Testament meermale van rykes wat God se reddende genade geken het. Dink byvoorbeeld aan Abraham en Dawid. Ook die Nuwe Testament verwys na diesulkes. En die kerkgeskiedenis. En vandag is daar sekerlik diesulkes.
Hoe kry ons die kloutjie by die oor?
# Dis maklik om te verstaan, sê jy. God is soewerein. Hy kan doen wat Hy wil.
Al wat Hy hoef te doen, is om so 'n persoon eenvoudig kwyt te skeld ‒ om die sonde nie teen hom of haar te hou nie. Hy kan as Hy wil seker sy witbroodjies hê. Dit lyk hoeka dikwels of dit inderdaad so is. Wie kan Hom beskuldig as Hy vegewe wie Hy wil?
Iets hiervan is natuurlik waar. Maar heeltemal só eenvoudig is dit nie.
Hy doen dit nie sommer op die ingewing van die oomblik nie. Hy doen dit vanuit sy ewige besluit, baie ordelik en volgens absolute geregtigheidsbeginsels.
God red niemand ten spyte van sy sonde nie.
Hy red niemand met behoud van sy sonde nie.
Hy red vanuit sonde!
# As God 'n sondaar herskep, of wederbaar – ook 'n hebsugtige – loop dit altyd uit op bekering, op 'n haat vir die sonde in jou lewe. Sonder uitsondering word dit dan een van jou grootste begeertes, om eens en vir altyd klaar te kry met elke kriesel sonde. Presies dit is waarom jy so 'n voortgaande stryd daarteen voer.
Dis nie 'n stryd wat jy in 'n wêreldling kry nie – in elk geval nie standhoudend nie.
Tot vandag toe verstaan alle ware gelowiges iets van wat die apostel skryf: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword" (2Kor 5:17).
Saggeus (Luk 19:1-10)
# Die ryk jongman het sy boesemsonde gehad. Ek en jy mag op ánder fronte veg. Hoe verlos die Here ons daarvan? Hoe gee Hy ons oorwinning? Hoe kom dit tot uitdrukking?
Ons hoef nie ver te lees om 'n antwoord op hierdie vraag te kry nie. Lees ons die Evangelie van Lukas, lees ons dit direk in die volgende hoofstuk (Luk 18:18-43; 19:1-10).
Kort na die Here se gesprek met die ryk jongman, kom Hy in Jerigo. Daar loop Hy 'n baie welvarende man raak – ene Saggeus. Dan sien ons iets radikaal anders as in die geval van die jongman na wie ons kyk. Ons sien hoe hierdie skelm tollenaar, totaal strydig met sy lewenstyl tot nou toe, hom voorneem om restitusie te doen teenoor almal wat hy al in die verlede ingeloop het. Nie alleen wil hy dit veel deegliker doen as wat die Ou Testament vereis nie (om vierdubbeld terug te gee) – nee, hy wil die helfte van sy goed vir die armes gee.
As die Here Jesus dan sien dat die doodsgreep van hebsug in Saggeus gebreek is, herken Hy die herskeppende werk van die Heilige Gees in hom. Redding het gekom! Ook Saggeus is 'n kind van Abraham! (Luk 19:9).
Siedaar, die kameel is dwarsdeur die naald se oog!
Sien jy? Al weet ons dat ons deur God se genade alleen gered word, op grond van Christus se verdienste alleen, deur die geloof alleen, neem die Here se redding altyd 'n bepaalde vorm aan. Dit word sigbaar in bekering en 'n opregte standpunt-inname teen die sonde wat tot nou toe jou lewe beheers het. Dit lei tot 'n radikaal nuwe gerigtheid en lewenstyl.
Bekering is lewensveranderend;
so nie is dit vals!
Ook die dissipels was deur die naaldoog (Mark 10:28-30)
# Nou eers weer terug na Jesus se vroeëre gesprek met die dissipels nadat die ryk jongman weg is.
Waarskynlik verstaan hulle nog nie presies wat Jesus in voorafgaande verse bedoel het nie, maar hulle aanvaar wat Hy sê. En dan dink hulle met verligting daaraan dat húlle presies gedoen het wat Jesus vir die jongman gesê het: Ons het alles agtergelaat en U gevolg! (v.28).
# Die Here bevestig dit: "Amen". En na aanleiding daarvan gee Hy dan vir hulle een van die wonderlikste beloftes in die Skrif (v.29-30).
+ Dis betekenisvol dat Hy nou nie meer net van besittings praat nie, maar veral van dierbares wat agter gelaat word. Die implikasie is duidelik: Dit gaan oor méér as net materiële besittings. Enige opregte afstanddoening ter wille van die Here, word ryklik beloon.
Die loon (Mark 10:29-30)
# Gehoorsaamheid aan hierdie oproep tot dissipelskap gaan gepaard met 'n wonderlike belofte van seën
Moet mens baie agterlaat? Inderdaad!
# Is wat die Here Jesus se dissipelskapeis nie te veel gevra nie? Is die kool die sous werd?
Absoluut, absoluut! Kyk mooi na v.10:30-31.
Daar sit groot troos in hierdie belofte. Alreeds in híérdie lewe sal dissipels dit wel weer terug ontvang: Huise, broers en susters, ma's en kinders – selfs grond!
Trouens, jy sal baie méér terugkry – honderd maal meer! Met ander woorde baie, baie meer! (Matt, Mark).
Daarbenewens – om alles te kroon – uiteindelik die ewige lewe. En wat kan belangriker wees as dit?
# Maar, wag, wag – nie so vinnig nie. Dis nie ál wat Jesus sê nie.
Hierdie wonderlike belofte hou één kwalifikasie in – én een verrassing.
Nommer een: Dit moet "ter wille van die evangelie" wees V.29).
Nommer twee: Saam met al die heerlikhede kom ook "vervolging" (v.30).
+ Terwyl die dinge wat ons opgee op 'n manier na ons toe sal terugkom, is dit nie 'n geval van quid pro quo nie. Dis nie tit for tat nie. Dis nie 'n transaksie nie.
Ek het geen aanspraak op die Here se kompensasies nie. As dít is waaroor dit vir mens gaan, is jou motiewe nie suiwer genoeg nie.
+ Laat ons nooit, maar nóóit vergeet nie: Die Here Jesus het nooit iemand probeer omkoop om Hom te volg en te dien nie. En so is dit tot vandag toe. Jy val agter Hom in op Sý terme – of jy loop jou eie pad. En soos in die geval van die ryk jongman, sal Hy nie agter jou aan hardloop nie. Hy is oor niemand verleë nie!
+ Nee, Jesus het nie mense omgekoop om Hom te volg nie ‒ Hy het hulle uitgedaag. Ja, ja, het Hy gesê, daar is loon, maar dit gaan jou alles kos om dit in besit te kry. Die koninkryk is nie vir lafaarts en opportuniste nie.
Luister na wat Hy sê in Matt 11:12: "bestormers gryp dit met geweld" (OAV). Die NIV vertaal "forceful men lay hold of it". Die ESV praat van "the violent".
+ Dis waarom Jesus in Matt 18:8-9 sê, as iets dreig om jou die ewige lewe te kos, kap jou hand af of ruk jou oog uit, as dit dan nodig is om die ewige lewe te beërf.
Wat sê dit alles vir ons?
1. Daar staan geskryf én daar staan geskryf
Sien jy?
Ja, 'n duisend maal, ja!
Sondaars word deur God se genade alleen gered
op grond van Christus se verdienste alleen
deur algeheel afhanklike geloof alleen,
Maar:
Redding neem altyd 'n bepaalde vorm aan:
Dit gaan gepaard met bekering van alle sonde
wat tot op daardie stadium jou lewe beheers het
en
dit word verplaas met
'n radikaal nuwe voorkeur-gerigtheid en -lewenstyl.
2. Dit gaan nie oor geld en besittings sonder meer nie; dit gaan oor liefde vir geld en besittings
# Het dit jou opgeval – in Saggeus se geval is Jesus heeltemal tevrede as die tollenaar onderneem om bloot die helfte van sy besittings vir die armes te gee.
Wat vereis die Here dus? Nie armoede nie, maar offervaardige naasteliefde.
3. Onvermydelik het Jesus se vereiste implikasies vir sy dissipels se lewenstandaard.
# Dís die vraag: Is jou begaandheid oor die noodsaaklike lewensbehoeftes van die armes sterker as jou sondige wellus na besit en luuksheid, na status en gerief?
Uiteindelik kom dit hierop neer: Is jou begeerte om die Here Jesus te behaag en te verheerlik – want dit is wat 'n outentieke barmhartigheidslewe in sy Naam vir seker wil doen – sterker as om volgens die tromslag van hierdie wêreld te leef?
# Wie kan dit betwyfel dat die Here geheel-en-al ánders as die samelewing rondom geleef het – vir seker radikaal anders as die godsdienleiers van sy dag.
Om dit in 'n enkele woord te stel: Sy lewenstyl is gekenmerk deur eenvoud (Eng. simplicity).
# Nooit, maar nooit moet ons vergeet nie, die navolging van die Here Jesus vereis dat ek en jy in sy voetspore volg. En as dit dan selfneerlegging en opoffering verg, selfs 'n sekere ontbering, verdra 'n dissipel dit steeds met 'n blymoedige hart.
Luister na Petrus in 1Pet 2:20-21: "... as julle volhard terwyl julle goed doen, en dan tog ly – dit is genade by God. Julle is immers hiertoe geroep, want Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle 'n voorbeeld (Gr. hupogrammos)[3] nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg."
4. 'n Morsige lewe van sonde is nie nodig om verlore te gaan nie.
Nee, 'n enkele, net één boesemsonde waaraan mens onbekeerlik vasklou, en wat jou dus weerhou om jou kruis op te neem en in die Here Jesus se voetspore te volg – kan 'n mens in die ewige verdoemenis laat beland.
# Alles dui daarop dat die ryk jongman 'n uitnemende morele lewe gelei het. Ongelukkig was hy net baie lief vir sy goed. Só verknog was hy aan sy besittings dat dit vir hom belangriker was as om die Here Jesus as Verlosser te omhels – en radikaal, enkelhartig en lewenslank as Koning te dien.
Baie, baie mense is werklik opreg en ernstig bereid om alles op te gee vir Jesus, behalwe één boesemsonde, wat dit ook al mag wees. Maar daardie één ding mag hulle die ewige lewe kos.
Oordryf ek? Is ek alarmisties? Hoe verklaar mens ons gedeelte anders? En talle ander uitsprake van die Here Jesus – en sy apostels?
+ Ons lees dat Herodus 'n ontsag vir Johannes die Doper gehad het, sy woorde en vermanings ernstig opgeneem het, en gereeld in 'n tweestryd was wanneer hy na hom geluister het. Máár hy het nie kans gesien om hom te bekeer soos Johannes aangedring het nie. Hy wou nie afstand doen van Herodias, sy broer se mooi vrou nie.
Hulle is waarskynlik hand-aan-hand die ewige verdoemenis in (Mark 6:20).
# Mense is geneig om te dink, as hulle vroomheid darem net 'n bietjie swaarder weeg as hulle verkleefdheid aan die wêreld, sal hulle dit máák hemel toe.
Nee, nee, een lekkasie – net één – was nodig om die Titanic te kelder. Een sonde, net één, waarvan ek my nie wil bekeer nie, kan my my siel kos.
Laat ons vlymskerp eerlik wees met onsself!
# Let wel, die Bybel sê níé dat mense wat waarlik gered is, nie 'n stryd teen sonde sal hê nie. Die Skrif leer dat hulle elke dag in 'n intense en meedoënlose konflik met die wêreld, die duiwel, en die vlees gewikkel sal wees – en helaas meermale die onderspit sal delf in die stryd.
Maar wat die Bybel wél leer, is dat hulle die sonde sal haat, dit nooit sal goedpraat nie, en inderdaad as 'n reël daaroor sal heers.
5. Die geskiedenis van die dissipels en Saggeus leer ons die wonder van God se genade.
"Wie kan dan gered word?", vra die dissipels (Mark 10:26). Vir God is alles moontlik, antwoord Jesus. En inderdaad, selfs die opperste bedrieër, Saggeus word 'n nuwe skepsel.
Die Woord vertel ons van baie ryk mense wat kinders van God was: Abraham, Job, Dawid en talle meer (ook in die Nuwe Testament en deur die kerkgeskiedenis).
Máár hulle het een en almal die Here enkelhartig gedien. In geen geval was hulle geld en besittings hulle baas nie. Dink maar aan hoe die Skrif hulle vir ons skets.
En lees biografieë oor ryk Christene se lewens. Is hulle rykdom ooit voorop in hulle lewens? Nee! Veel eerder is hulle mense wat met beide hande uitdeel. Die Here het hulle harte bevry van die wurggreep van hebsug, en dit vervang met liefdesempatie vir diegene wat gebrek ly en met 'n hartstog dat sondaars die evangelie moet hoor.
Tot so 'n mate word uitdeling vir saggeus'e belangrik, dat dit hulle lewenstyl en lewenstandaard beïnvloed – afwaarts! As rentmeesters draai hulle hul sente versigtig om – nie omdat hulle gierig is nie, maar omdat hulle liefdesrentmeesters geword het.
Álle nuutgeskape mense word uitdelers.
Maar vir nuutgeskape rykes word dit nog méér:
'n Uitbundige bediening!
6. Die beloftes van voorsiening en versorging word oor en oor in die Skrif herhaal – in sowel die Ou Testament as die Nuwe
# Ontelbaar baie van sy dissipels het die vervulling die Here Jesus se beloftes hier in ons teks, proefondervindelik deur die eeue leer ken.
# Daar is 'n koninkryksbeginsel waarvoo ons kop op 'n blok kan sit: "Gee en vir jou sal gegee word."
Só stel Matt 10:8b dit: "Julle het dit verniet gekry, verniet moet julle dit uitdeel". Vir Jesus se dissipels gaan dit in hulle naasteliefde en rentmeesterskap oor uitdeling en diensbaarheid en voetewas!
Dis die ongelowiges wat aandring op vergoeding vir dienste gelewer.
In die wêreld is die reël, koop en verkoop.
In die koninkryk van God is dit, gee en ontvang.
# Die Skrif is vol beloftes en mededelings dat die Vader Sy kinders se gebede verhoor en hulle materiëel versorg – te veel om nou op te noem.
Miskien is die locus classicus Matt 6:19-34. In hierdie deel van die bergrede verseker Jesus sy dissipels dat ál hulle behoeftes deur die Vader voorsien sal word – indien hulle allereers die koninkryk van God soek (v.33).
Of luister na Hom in Lukas 6:38: "Gee, en aan julle sal gegee word – 'n goeie maat, saamgepers, ingeskud en tot oorlopens toe vol, sal in julle skoot val. Want die maat
waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word."
En so kan ons aanhou met Skrifbelofte na Skrifbelofte.
# Nog twee verse – beide in 'n finansiële of materiële konteks – is besonder kosbaar.
+ Eerstens, 2 Kor 9:8 met sy 5 Griekse "pantas". Ek haal die ESV aan, wat reg laat geskied aan die Grieks: "And God is able to make all grace abound to you, so that having all sufficiency in all things at all times, you may abound in every good work."
+ Tweedens, die Grieks van Heb 13:5 met sy 5 negatiewe: "Ek sal jou nie loslaat nie. Nooit! Nee! Nooit en op geen wyse sal Ek jou in die steek laat nie" (eie parafrase van die Grieks; vgl. ook Amplified Bible).
# Let op dat bogenoemde Skrifuitsprake tot alle Christene gerig word. 'n Bekering wat geen impak op jou sak en lewenstyl het nie, is ernstig onder verdenking!
Maar ek herinner weer: Die beginsels waarna ons gekyk het, geld vir al die gawes wat ons Vader aan ons toevertrou het – nie net die materiële nie.
Sit jy tans nog met 'n doodsonde wat jou magteloos in sy greep het?
Maak nie saak wat dit is nie:
hebsug, wellus en onsedelikheid,
woede, bitterheid, jaloesie,
verslawing, luiheid, trots,
ongeloof, liefdeloosheid,
of wat ook al?
Vat dit nóú in nederigheid en eerlikheid na die Here toe.
Verootmoedig jou in opregte gebrokenheid voor Hom.
Draai jou rug met beslistheid op jou sonde.
Neem standpunt in daarteen.
Bely dit sonder om terug te hou.
Vra Hom dan om jou te vergewe,
en om jou te verlos uit die wurggreep
ÉN BEGIN DAN MET BESLISTHEID GEHOORSAAM!
Niemand sê dit sal altyd maklik wees nie.
Dit mag van jou 'n lang en uitgerekte stryd verg – selfs dalk lewenslank.
Maar sy roeping staan dwarsdeur die eeue vas:
"EN JY, KOM HIER, VOLG MY" (Mark 10:21).
><(((*>
Nico van der Walt
T: 082 848 9396
E:
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
[1] In die eerste helfte van hierdie studie loop ek in pas met Walter Chantry se Today's Gospel. Ek is oortuig dis die enigste manier om hierdie stukkie geskiedenis reg te verstaan.
[2] Matt 16:27; 25:31-46; Rom 2:5-11; 2Kor 5:10; Op 19:8; 20:12-13; 22:12-15; ens.
[3] Die betrokke woord (Gr. hupogrammos) is destyds onder meer in die skoolwêreld gebruik. Kinders het geskryf in gladgepleisterde kerswas in 'n vlak pannetjie. Om kleintjies te leer skryf, het die onderwyser met 'n stilus, syfers of letters in die was gekrap. Dan moes die kind die syfers of letters leer vorm deur oor en oor en presies met sý stilus versigtig in die groefies te volg.
Petrus se gedagte is dus dat ons die beginsels van Jesus se voorbeeld baie puntenerig moet navolg.