Preekopnames:
Soos die kraai vlieg, was Efese omtrent 50 km van Milete af. Dit was egter 'n moeilike pad en dit het drie dae se harde stap geverg om af te lê. Vir Efese se ouderlinge was dit dus groot moeite om by Paulus uit te kom. Maar hulle het dit met vreugde gedoen, want hulle het geweet dat kontak met die Here se apostel altyd wonderlike dividende oplewer.
En so het dit inderdaad geblyk. Daarbenewens het óns 'n stuk Skrifopenbaring gekry wat boordevol betekenis is.
# Dit is sekerlik betekenisvol dat ons hier die enigste rede in Handelinge het wat tot Christene gerig is. Die ander toesprake is óf evangelisties van aard – 3 maal teenoor die Jode (2:14vv; 3:12vv; 13:16vv), en 3 maal teenoor nie-Jode (10:34vv; 14:14vv; 17:22vv). Of dis stukke regsverdediging – 3 maal voor die Sanhedrin in die vroeë dae (4:8vv; 5:29vv; 7:1vv), en 5 maal voor Joodse en Romeinse owerhede teen die einde van die boek (22-26).
# Net nog 'n betekenisvolle opmerking. Die leiers van Efese word op 3 maniere genoem: "ouderlinge" ('n woord wat dui op ouer en meer ervare manne) (17); "opsieners" (regeerders) (28, OAV); "herders" (oppassers van die Here se kudde) (28, OAV).
Hierdie benaminge is konsekwent in die meervoud. So is dit regdeur die Nuwe Testament. Elke gevestigde en volwaardige gemeente moet deur 'n span ouderlinge gelei en versorg word – nie net deur een persoon nie.
'n Oorsig oor die gedeelte
'n Terugblik (20:18-21)
Die dinge wat die apostel noem, suig hy nie uit sy duim uit nie. Die Efesiërs "weet" dat dit wat hy sê die waarheid is (18,34). Hy het hard onder hulle gewerk – sy hele lewe in hulle uitgestort.
Paulus onderstreep veral 5 dinge:
+ Wat hy vir die Efesiërs gedoen het, was in die eerste instansie en ten diepste vir die Here (19).
+ Hy het hom nie oor die Efesiërs verhef nie, maar sy werk in nederigheid gedoen (19).
+ Dit was nie maklik nie, maar het met baie hartseer en swaarkry gepaard gegaan (19).
+ Hy het die volle raad van God onvermoeid, en getrou vir hulle geleer (20).
+ Hy was pastoraal besig, maar het ook voortdurend geëvangeliseer (21).
'n Voortblik (20:22-27)
Die Heilige Gees het aan Paulus gewys dat swaarkry en gevangenskap op hom wag (23). Tog kan – en wil – hy dit nie vermy nie. Die Gees dring hom Jerusalem toe, hoewel hy weet dís waar hy probleme gaan kry (22).
+ Beheersend hier is Paulus se oortuiging dat hy die Efesiërs nie wéér gaan sien nie. Wat ook al die rede, weet hy dat dit mag beteken dat sy lewe spoedig tot 'n einde mag kom (25).
Dit laat sy gedagtes loop na Eseg 3 en 33, en die gewigtige vooruitsig van verantwoording aan God oor die rentmeesterskap van sy lewe en bediening hier op aarde. Maar alles wat hy kon, het hy gedoen – sy gewete is skoon. Daarom kan hy in vrymoedigheid vir die Efesiërs sê dat hy "rein is van die bloed van almal" (26, OAV).
+ Waarom kan hy so 'n oortuigde stelling maak? Vers 27 gee die rede: "want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie." As daar dus van die Efesiërs verlore gaan, is dit nie sý skuld nie.
'n Oproep (20:28-35)
Paulus het agtertoe en vorentoe gekyk. Nou maak hy in die lig daarvan 'n appèl op sy mede-gelowiges: Volhard in getrouheid en waaksaamheid! (28-31).
+ In die eerste instansie moet die ouderlinge hulleself oppas (28a). Per slot van rekening is ook hulle net skape, wat niks vir die kudde kan beteken as hulle self geestelik veragter nie.
+ Tweedens moet hulle na die Here se kudde omsien. Dis 'n gewigtige opgawe, want die kudde is oneindig kosbaar. Met Sy eie bloed het Christus hulle gekoop (28b).
+ 'n Groot rede waarom Efese se ouderlinge waaksaam moet wees, is dat "wrede wolwe" na Paulus se vertrek onder hulle gaan indring (29).
Hierdie gewetenlose en leuenagtige dwaalleraars sou selfs uit die gemeente se eie geledere na vore kom – en "die gelowiges agter hulle aan ... probeer verlei" (30).
Tot vandag toe is dit 'n belangrike lakmoestoets vir die egtheid al dan nie van herders: bind hulle die Here se kudde aan Hóm, of aan hulleself vas?
'n Hartseer afskeid (20:36-38)
Uiteindelik dra Paulus die gemeente aan God op en aan die woord van Sy genade (32).
+ Ten slotte herinner hy hulle weer aan sy voorbeeld (33-35). En wat was die essensie van sy dienswerk onder hulle? Hy het geen teenprestasie of kompensasie van hulle verlang nie. Finansiële vergoeding wou hy geensins van hulle ontvang nie. Hy was soos 'n slaaf onder hulle. Ja, hy was húlle slaaf, maar ten diepste was hy eintlik Jesus Christus s’n!
Duidelik het Paulus 'n hoë premie geplaas op so 'n bedieningsbenadering (vgl. ook 1Kor 4:12; 9:12b, 15-19; 2Kor 7:2; 11:7-12; 1Tess 2:8-12; 2Tess 3:7-9). Dit is die heel laaste ding wat op die Efesiërs se harte gedruk word, en drie verse word daaraan gewy. Die implikasie is onontkombaar. Paulus wil vir die Efesiërs sê – en Lukas vir ons – volg hierdie voorbeeld na! Dis immers hoe die Here Jesus geleef het (Luk 8:3). En dis hoe Hy Sy dissipels geleer het (Matt 10:9-10; Mark 6:8-9; Luk 9:3; 10:4).
+ Aangrypend is die wonderlike liefde tussen apostel en ouderlinge as hulle saam bid, en dan onder trane vir die laaste maal afskeid neem.
Die merkwaardige Woord
# Vers 32 bevat 'n besondere uitspraak. As Paulus op die punt staan om finaal van die Efesiërs afskeid te neem, vertrou hy hulle nie net aan God toe nie, maar ook aan die "woord van sy genade". Sonder twyfel verwys hy hier na die besondere openbaring van God. Die Ou Testament was reeds op skrif. En die Nuwe Testament was in die proses om op skrif gestel te word. Vir alle praktiese doeleindes het die apostel dus dit wat ons as die Bybel ken hier in gedagte.
Hierdie is 'n gewigtige geleentheid. Hy weet, in hierdie lewe gaan hy hierdie geliefde broers nie weer sien nie. Dis soos sterfbedwoorde. Hy bepaal hom in sy uitspraak net by die wesentlike. Elke woord is geweeg en gelaai.
# Waarom vertrou Paulus hierdie mense nie net aan God toe nie? In respek gevra, kan die Here nie op Sy eie na hulle omsien nie? Moet die Woord Hom help?
+ Ons is hier by 'n kardinaal belangrike beginsel. God werk middellik! Hy gebruik instrumente! En as dit oor die instandhouding en opbou van 'n gemeente gaan, is geen instrument belangriker as die Woord nie. Die Gees werk deur die Woord! Tot so 'n mate is dit waar, dat die kerk deur die eeue 'n beginsel geformuleer het: Woord en Gees moet onderskei word, maar skei mag mens dit nooit nie.
+ Maar let op, Paulus kwalifiseer die Woord. Dis die Woord van God se genade. Die Griekse konstruksie wil sê: Die woord met as inhoud God se genade. Paulus het dus die Evangeliewoord in gedagte (20:24) – die Woord wat die goeie nuus oor God se genade in Christus dra.
Te veel mense dink aan prediking as bloot moralistiese aansporings en vermanings. 'n Duisend maal nee! Ware prediking is Godgesentreerde en Christusgefokusde proklamering van God se vrye genadeheil vir sy kinders, en genade vir sondaars wat die water van die lewe kom drink. Prediking wat nie Christosentries is nie, is geen prediking nie – en dit doen meer kwaad as goed.
+ Van hierdie Woord sê Paulus dat dit "magtig" is. Dit kan twee dinge vir die Efesiërs doen – en sekerlik ook vir ander mense.
= Eerstens is die Woord magtig om hulle "op te bou". 'n Lewende gemeente is soos 'n groot gebou wat onder konstruksie is. Die uitdagings is elke dag nuut. Nuwe mense word gedurig bygevoeg. Elkeen in die kudde se omstandighede is verskillend en verander voortdurend. Altyd is daar sowel ryp gelowiges as dié wat nog met die eerste beginsels worstel. En deurgaans is een van die belangrikste oogmerke dat elkeen toeneem in kennis van God, in gelykvormigheid aan Christus, en in bruikbaarheid as werker in die wingerd.
En hierin speel bediening van die Woord 'n sentrale rol.
= Tweedens is die Woord magtig om hulle te laat deel in die kinders van God se erfenis. Die Woord, veral die prediking daarvan, is 'n kardinaal belangrike instrument om die gelowiges deur te dra tot by die wenpaal. Te veel Christene verwaarloos hierdie beginsel. Dan is hulle verbaas dat hulle in die geloof veragter as hulle nie gereeld met die Woord omgaan, en onder waarheidsprediking sit nie.
+ Let verder op dat hierdie primêr 'n opdrag aan die ouderlinge van Efese is. Soos hy, Paulus in die verlede met onvermoeide ywer en hartstogtelike erns by elke geleentheid en plek die heilsplan van God in sy volle omvang verkondig het (27, 31), so moet hierdie herders dit ook doen. Waarom is dit so belangrik? Omdat dit die één waarborg is dat hulle nie tevergeefs sal arbei nie. En so is dit tot vandag toe. Die Here se werkswyse en gereedskap het nie verander nie.
Enkele praktiese opmerkings
1. Die krag van die Evangeliewoord word sigbaar op talle maniere
# Die Woord werk op talle maniere.
+ Soms werk dit stadig en diep, ander kere blitssnel soos 'n pyl. Maar altyd is dit onweerstaanbaar en onfeilbaar effektief as die Gees dit laat tref. Waarom? Dit werk in jou hart, in die sentrum van jou persoonlikheid – daar waar alles wat jy is en glo bepaal word.
+ Alle soorte mense word daardeur geraak.
Deur die eeue het tallose magtiges en invloedrykes laag voor die Woord van God, en die God van die Woord gebuig. Hooggeleerdes het soos kindertjies geglo. Maar ook eenvoudiges wat maar min van hierdie wêreld en sy dinge begryp, het wys en verstandig geword wanneer dit gegaan het oor dit ßwat regtig saak maak. Die mees verdorwe mense in die samelewing is keer op keer onherkenbaar deur die evangeliewoord omgedop.
# Die krag van die Woord word sigbaar in die effekte daarvan op mense.
As die Woord regtig diep werk, verander mense se persoonlikhede dikwels só dat hulle haas onherkenbaar is. Muise word mans; geitjies word dames; ape word wys; jakkalse, buffels en varke is nooit weer dieselfde nie. Aan eie lyf het Paulus dit self beleef: "Die man deur wie ons vroeër vervolg is, verkondig nou die geloof wat hy destyds probeer uitroei het" (Gal 1:23).
Ook word mense se prioriteite alles behalwe onaangeraak gelaat deur die Woord. Hoeveel wat eers rykdom, eer en plesier nagejaag het, het nie deur die geskiedenis hoon of armoede of selfs die dood ter wille van Christus en Sy evangeliewoord omhels nie! En ken óns wat deur God se genade herskep is, nie die ervaring nie? Ons wat eens eindeloos geïrriteer is deur ware Christene, kan nou nie wegbly waar die dissipels van Jesus vergader nie.
2. Die krag van die Woord het 'n baie spesifieke oorsprong.
# Die krag sit nie in die Woord self nie.
Die Bybel het nie magiese krag nie. Op sigself kan dit niks bereik nie. Nee, die Woord is soos die bad van Betesda se waters – dit het nét genesende krag as 'n engel by wyse van spreke dit kom roer – in hierdie geval die Heilige Gees (Joh 5).
# Die krag sit nie in die instrument wat dit bedien nie.
Hulle wat plant en nat maak is niks nie (1Kor 3:7). Natuurlik is hulle nodig – want God werk middellik (Rom 10:14-17). Maar op sigself het hulle geen krag nie. En dis 'n groot genade, want indien predikers in beheer was van die Woord se effekte, sou die bloed van elkeen wat onder hulle bediening verlore sou gaan, van hulle hand ge-eis kon word.
Vroeër jare het die sendelinge wat in Wellington opgelei is, hulleself "die donkies" genoem. Hulle het hulleself bloot as die pakdiere beskou wat die kragtige evangelie die wêreld moes indra.
# Die Woord het net krag wanneer die Heilige Gees daardeur werk.
As die Gees die Woord bekragtig, is dit magtig, maar ook net dán.
Soewerein bepaal die Heilige Gees watter getuie om te gebruik in die bekering of opbou van 'n persoon of persone, watter Skrifgedeelte instrumenteel is, watter mense daardeur geraak word. En Hy besluit oor die geleenthede en seisoene van krag.
Laat dit egter vir ons tot wonderlike bemoediging wees om te weet dat die Gees vreugde daarin het om die Woord te bekragtig. En dit hoef ons nie te verbaas nie. Hy word immers genoem: "die Gees van die waarheid" – en die Woord van God is waarheid. Hy is "die Gees van die oes" – en dis die evangeliewoord wat sondaars red, opbou en bewaar. Les bes is Sy basiese taak om Christus te verheerlik (Joh 16:14) – en Hý is die Hoofkarakter van die Woord.
3. Hóé herders in 'n kudde werk, is van die allergrootste belang.
# Wat is die ouderlinge se taak in 'n gemeente?
Hulle moet volgens die Woord en in afhanklikheid van die Heilige Gees, na die beste van hulle vermoë, die kudde wat die Here wat Hy aan hulle toevertrou het, opbou na die beeld van Christus. Dit is om God te ken en lief te hê, asook om hulle naaste diensbaar lief te hê – om só toe te neem in heiligmaking en Godsverheerliking.
# Hoe gebeur dit prakties?
+ Hulle moet die volle waarheid van die Here vir hulle leer – dus God se Woord en weë.
+ Hulle moet pastoraal en geestelik na die kudde as individue omsien.
+ Hulle moet leiding in die gemeente gee.
+ Hulle moet die liggaam toerus om dienswerk in die gemeente en daarbuite te doen.
+ Hulle moet die kudde beskerm teen wolwe en dié se dwaalleer.
+ Hulle moet (helaas is dit óók soms nodig) daardie skape wat hulle soos bokke gedra, of inderdaad bokke is, dissiplineer – soos die situasie dit mag vereis.
# Die Opperherder gee drie stukke gereedskap aan Sy onderherders – en net drie.
+ Eerstens het hulle die Woord as kragtige instrument.
+ Tweedens het hulle gebed – dus inspraak by die almagtige Hoof van die kerk (Hand 6:4).
+ Derdens is daar die invloed van hulle voorbeeld. In 1Pet 5:3 sê die apostel vir die ouderlinge dat hulle nie moet baas speel oor diegene wat God aan hulle sorg toevertrou het nie, maar dat hulle ’n voorbeeld vir die kudde moet wees. En in 1Kor 11:1 roep Paulus die gelowiges op om sy voorbeeld te volg, soos hy die voorbeeld van Jesus navolg.
# Die ouderlinge se gesindheid in hulle dienswerk is van die allergrootste belang.
+ Liefde vir elke lidmaat.
+ Begrip, geduld en verdraagsaamheid, want dis bloot "skape" waarmee die herders werk.
+ Respek vir elke broer en suster, aangesien elkeen só kosbaar deur die Here Jesus geag word dat Hy Sy lewe vir hom of haar afgelê het.
+ Diensbaarheid, omdat die grootste in die koninkryk diegene is wat dien – en omdat voorbeelde trek.
+ Vertroue in elke gelowige se integriteit, erns en toewyding aan die Here.
# Laasgenoemde gesindheid van die onderherders vereis 'n opmerking of twee.
+ Die Skrif leer onmiskenbaar dat die Here deur Sy Gees gawes of spesiale bekwaamhede vir Sy liggaam gee. En elke lid van die liggaam het deel daaraan. Ouderlinge moet dus vertroue hê in die Gees se werkinge in die liggaam. Hulle moet erns maak met die priesterskap van die gelowiges. Nog meer, as mense nie die geleentheid gebied word om hulle gawes te oefen nie, sal hulle nooit ontwikkel daarin nie.
Wat die dienswerk in 'n gemeente betref, moet die herders hulleself algaande so ver moontlik oortollig maak.
+ Voordat so 'n vertroue in mense gegrond is, vereis dit dat ouderlinge, sover menslik moontlik, seker sal maak dat voornemende lidmate inderdaad skape is, en nie bokke wat hulle as skape voordoen nie. Word dit nagelaat, ontstaan 'n gemeente baie maklik met meer as die helfte onwedergebore lidmate op die boeke. Trouens, ek het geen twyfel daaroor nie dat presies dit wáár is van tragies baie gemeentes – ook hier in ons land. Dis godonterend in die volste sin van die woord!
Natuurlik kan ons nie in 'n ander se hart sien nie en elke gemeente het sy huigelaars. Selfs Jesus het so 'n dissipel gehad, en Paulus sulke medewerkers. Maar dis één saak. Om egter jou lidmaatskaplys ongekwalifiseerd oop te gooi ter wille van getalle, is iets totaal anders.
En dan praat mens nie eers van godonterende dwalinge nie – soos die veronderstelde wedergeboorte van sogenaamde "verbondskinders"; soos die beskouing dat daar soiets is soos "vleeslike" Christene; soos die versekering dat jy sonder meer gered is nadat jy "uitgekniel" het, of 'n "sondaarsgebed" agter iemand anders aan gebid het.
Niks lê 'n gemeente so lam soos 'n klomp mense in sy midde wat die Here nie regtig ken nie. Dit is waarom volkskerke in 'n samelewing onbeskryflike skade doen aan die kerk en evangelie se goeie getuienis, asook die Here se eer. Die kerk is die Corpus Christi (liggaam van Christus); nie 'n Corpus Christianum (liggaam van Christelikes) nie!
+ 'n Balanserende opmerking is egter óók nodig. In reaksie teen kerke wat vol onwedergebore mense sit, is daar ander kerke wat súlke hoë standaarde vir toetrede verg, dat hulle amper eksklusiewe klubs raak. Nie alleen is so 'n mentaliteit onbybels nie, dit veroorsaak 'n skadelike en Godonterende fariseïsme. G'n wonder nie dat sulke gemeentes in hulleself gekeerd raak, en jaar in en jaar uit net 'n handjievol bly.
Nee! As iemand regtig tot bekering kom, kwalifiseer hy of sy dadelik vir lidmaatskap. So 'n persoon is immers onmiddellik in Christus en deel van Sy liggaam. Dan moet hy uiteraard geleer word "om alles te onderhou" wat die Here Jesus beveel het (Matt 28:19). Maar dit moet binne die gemeentemure geskied.
Die kerk is 'n werkswinkel
nie 'n museum nie
# Wat die gesindheid van herders betref, móét ek verwys na 'n anekdote wat my eie hart op 'n stadium deurboor het:
Oor een van die grootste predikers en pastors van alle tye, C.H. Spurgeon, vertel sy seun ná sy dood hierdie storie. Hy en sy pa was vir 'n lang tyd uit die gemeente weg. Met hulle terugkoms is 'n geselligheid gehou, omdat die mense vol uitbundige vreugde was dat hulle herder terug is. Terwyl die seun die mense se blydskap so gadeslaan, sê hy toe vir homself: "Hulle het hom baie, baie lief – amper so lief soos hy húlle het!"
Sekerlik was hierdie een van die sleutels tot Spurgeon se bedieningsukses.
# In sy dienswerk was Paulus die toonbeeld van deeglikheid.
+ Hy het alle moontlike waarheid, aan alle moontlike mense, op elke moontlike wyse verkondig. Met al sy krag het hy die hele evangelie aan die hele stad gebring.
G’n wonder dat hy 'n inspirasie vir Efese se ouderlinge was nie. En natuurlik is hy tot vandag toe 'n voorbeeld vir alle pastors en predikers – en Christene in die algemeen.
+ Paulus was deeglik in die lering wat hy gegee het.
Hy het "die evangelie van God se genade" gepreek (24); hy het die "koninkryk van God" verkondig (25); en oor die noodsaak van bekering en geloof het hy nie geswyg nie (21). Niks wat vir die gemeente voordelig was, het hy teruggehou nie (20). Hy het die heilsplan van God in sy volheid vir die gemeente geleer (27).
+ Paulus was deeglik in sy werkswyse.
Hy het in die openbaar, en in huise gepreek en geleer (20). Hy het dag en nag gewerk, by wyse van spreke. Hy het hom nie aan werksure gesteur nie. Hy het baie keer met trane vermaan en bemoedig (31).
# Oor sy eie prediking het die ou Puritein, Richard Baxter, gesê: "I preach as never sure to preach again – as a dying man to dying men!"
4. Vals herders en dwaalleraars is 'n werklikheid.
# Oor en oor waarsku die Nuwe Testament teen diesulkes. Die Here Jesus noem hulle roofsugtige wolwe in skaapklere (Matt 7:15). Hulle was destyds aktief. Hulle was deur die eeue bedrywig. Hulle is vandag steeds met ons – oraloor.
Predikers moet in die eerste instansie positief die wonders van God se genade-evangelie verkondig, vir seker. Maar oor die wolwe mag hulle ook nie vir baie lank swyg nie.
5. Om Sy heiliges in gemeentes saam te bind, is in die hart van die Here se verlossingsplan.
# Só sentraal is die gemeente in God se ordes en raadsplan, dat al drie persone van die Drie-eenheid betrokke is by die heiliges se redding en versorging in gemeenteverband. Dit is immers God die Vader se gemeente.
Christus het hulle met Sy eie bloed gekoop. Hy is hoof van die kerk. Dis sý liggaam.
Die Heilige Gees stel herders aan en rus hulle toe as die Here se medewerkers (28).
Waarlik, om deel van 'n egte en lewende gemeente van die Here Jesus te wees, is een van die grootste voorregte wat enigeen in hierdie lewe kan smaak.
# Ontstellend baie mense wat hulleself as Christene beskou, is traak-my-nieagtig oor die deelhê aan 'n ware en lewende gemeente. Sulke mense verstaan nie die ordes van God nie. Bybels-gesproke is eiesinnige, alleenloper Christenskap nie in orde nie. Lees mens die Nuwe Testament, besef jy baie gou dat dit deurgaans ons Christenskap in die konteks van 'n liggaamslewe plaas. Let net op hoeveel van die opdragte aan dissipels te doen het met verhoudings in die kring van mede-gelowiges. Só veronderstel die mekaar-tekste, waarvan daar talle is, ons lewens as ingeweef in 'n liggaam van broers en susters.
Mense wat op hierdie punt God se ordes minag, moet verwag dat hulle geloofslewe ernstige skade gaan kry. Dis natuurlik ás hulle geloof hoegenaamd eg is, want liefde vir die broers en susters is sonder uitsondering 'n uitvloeisel van die wedergeboorte (1Joh 3:14-20; 4:7-21)].
En ewe erg, mense wat hulle Christenskap buite gemeenteverband probeer uitleef, maak – menslik gesproke – amper altyd seker dat hulle kinders eendag kerklos en ongelowig sal wees.
# Natuurlik is nie álle gelowiges bevoorreg om 'n aktiewe deel van 'n lewende gemeente te wees nie. Soms leef sendelinge baie afgesonderd. En sommige mense moet in omgewings woon en werk buite bereik van 'n gemeente. Vir Sy gunsgenote wat hulle buite hul beheer in sulke omstandighede bevind, het die Here egter spesiale genade. Wat meer is, die roeping rus dalk op hulle om instrumenteel te wees in die vorming van 'n gemeente in daardie uithoek waar hulle hul bevind.
En natuurlik, as troos en noodmaatreël, stel moderne tegnologie ons vandag in staat om ten minste altyd toegang te hê tot klank- en video-opnames van goeie prediking.
# In die bespreking hierbo moet ons die begrip "kerk" of "gemeente" (Gr. dieselfde woord: ekklēsia) nie verkeerd verstaan nie. 'n "Kerk" is nie 'n denominasie, en 'n "gemeente" 'n lokale vertakking daarvan nie. Daarvan is daar geen sprake in die Skrif nie.
Weliswaar gebruik die Nuwe Testament die woord vir die universele kerk – histories- oorspannend, en wêreldwyd. Maar verreweg die meeste kere verwys dit na die plaaslike gemeenskap van heiliges. Trouens, 'n handjievol mense kan so 'n gemeente vorm, selfs net 'n gesin – as omstandighede dit noodsaak en dit regtig, régtig nie anders kan nie.
Voorts is so 'n plaaslike uitdrukking van alles wat homself 'n kerk of gemeente noem, dit nie noodwendig nie – dikwels nie naastenby nie. Van baie, baie daarvan moet gewoon gesê word dat dit allermins die geval is – tot tragiese oneer van God (lees maar die briewe aan die sewe gemeentes in Op 2-3).
Ten minste – ten mínste – sal 'n ware gemeente 'n baie hoë premie plaas op suiwer Woordverkondiging, op aanbidding en beoefening van die sakramente in gees en waarheid, en op dissipline volgens Nuwe Testamentiese standaarde. Maar dalk is onderstaande nóg nader aan dit wat die Bybel ekklēsia noem:
As die Skrif van 'n "gemeente" of "kerk" praat
praat dit van 'n groep dissipels van Jesus Christus
wat doelbewus en in erns by mekaar ingehaak het
om hulle Hóóf gesamentlik in eenheid en toewyding te dien
volgens Sý opdragte en dus volgens Skrifbeginsels
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev