Preekopnames: 1. https://tinyurl.com/5n7carr7
2. https://tinyurl.com/55d2n9z9
Daar is beswaarlik 'n meer fundamentele paragraaf in die Bybel as hierdie verse. Die sondeval het pas plaasgevind. Nou spel God die gevolge daarvan uit. In die proses praat Hy agtereenvolgens met die slang (14-15), met die vrou (16), en met die man (17-19). Hy volg die orde waarin hulle gesondig het.
'n Kosmiese drama speel hom hier af. Wat God hier afkondig, het geweldige implikasies vir mens en skepping deur die millennia wat sou volg. En selfs nog meer versoberend, is die feit dat 'n ewigheidsvonnis implisiet hier uitgespreek word oor miljoene der miljoene mense wat uit die eerste mens se lendene sou voortkom. Maar terselfdertyd hoor ons ook hier die eerste note van die genadeverbond se wonderskone verlossingsmusiek.
God se woorde aan satan (Gen 3:14-15)
Is dit 'n slang of die duiwel?
Vroeër in die hoofstuk praat die slang. En hier word hy aangespreek. Net 'n rasionele wese kan praat; net 'n verantwoordelike wese kan geoordeel word. Dit sê onmiddellik dat ons met meer as 'n slang te doen het. Slange is nóg rasioneel, nóg aanspreeklik.
Ons kan nie met dogmatiese sekerheid sê of Satan hier deur 'n slang gesimboliseer word, en of hy die slang beset het en deur hom werk nie. Dit maak waarskynlik nie werklik saak nie. Maar vir seker moet ons die duiwel agter die slang sien.
God se vloek (3:14)
Die slang het die vrou verlei (2Kor 11:3; 1Tim 2:14) deur haar te oortuig dat die Skepper se opdragte onbelangrik is en dus geïgnoreer kan word. Daarom word hy vervloek. Hy sal op sy pens in die stof seil en stof vreet. Dis die taal van diep vernedering. Teen God se kinders sal hy nooit 'n finale oorwinning behaal nie. En vir hom bestaan geen vergiffenis en ontkoming van ewige oordeel nie.
Die protevangelium, die moederbelofte (3:15)
Hier is die eerste stuk evangelieverkondiging in die Bybel – uit die mond van God self – gerig tot niemand minder as die duiwel self nie.
Luther het dit so gestel: "Hierdie teks bevat reeds alles wat edel en heerlik in die res van die Bybel is." Luther bedoel natuurlik dat die hele evangelie embrionaal reeds hier teenwoordig is.
# Voorop en beklemtoon in die Hebreeus, is die vyandskap en stryd wat voorlê. Die regstel van die sondeval gaan nie maklik en gou-gou wees nie. Dit gaan 'n ontsaglike konflik wees. En ons weet vandag hoe wáár dit is, en dat dit oor baie eeue sou strek.
Laat ons onthou dat die ware geloofslewe nie 'n ruggraatlose liefde vir alles en almal is nie. Dit behels ook intense vyandskap en stryd. Daarom is egte dissipelskap nooit 'n Sondagskoolpiekniek nie. Wil jy só 'n Christenskap hê, moet jy noodwendig in iets minder as die waarheid opgaan.
Nee, die ware Jakob vereis 'n baie besliste en permanente kwaliteitsbesluit. Daarsonder hou jy nie lank nie.
Hierdie konflik, wat die geskiedenis sou beheers, is deur God self daargestel. Dit is Sý inisiatief. Satan se aanslag op die mens is dus nie vir Hom 'n verrassing nie. Hy is en bly soewerein in beheer.
Ewemin het ons hier 'n bevel aan die mens. Dis 'n feitestelling. So sal dit wees. Ons hoef nie konfrontasie met die duiwel te soek nie. Gehoorsaam God, en konflik met die bose is onafwendbaar.
# Die stryd wat hier voorsien word, vind plaas op drie fronte: daar sal vyandskap wees tussen Satan en die vrou; tussen sy saad en haar saad; en uiteindelik tussen Satan self en 'n geheimenisvolle "hy" (manlik, enkelvoud) (vgl. OAV; NIV).
+ Eertstens word die vróú hier in vyandskap met Satan geplaas.
Waarom nie die man nie? Die vrou is eerste verlei. Voorts sou die vrou deur die eeue 'n groot rol speel in hierdie geweldige stryd.
Maar sekerlik is daar 'n dieper rede. Miskien moet ons só hieroor dink: Christus is uit 'n vrou ('n maagd) sonder manlike betrokkenheid gebore. Sy menslike natuur sou Hy van haar kry – en dis in Sy menslike hoedanigheid wat Hy die oorwinning sou behaal.
+ Tweedens sal daar konflik wees tussen die duiwel se saad of nageslag, en die vrou s'n.
Wie of wat is die vrou se saad? Die voor die hand liggende antwoord sou die hele mensheid wees. Maar dit lyk nie of dit is hoe die Bybel dit beskou nie. Want net in die volgende hoofstuk vermoor Kain sy broer, Abel – en volgens 1Joh 3:12 het Kain aan die Bose behoort. Dit lyk dus asof die Skrif hom as deel van die Satan se saad beskou.
Praat die Skrif van Satan se saad? Daar is wel 'n paar sulke aanduidings. Neem byvoorbeeld Joh 8:44 waar die Here van die vyandiggesinde Jode sê dat hulle "kinders van die duiwel" is (Joh 8:44).
Ons kan dus hier in Gen 3:15 aanvaar dat die saad van die vrou die ware gelowiges deur die eeue is, en die saad van die duiwel die ongelowiges wat God se genadeverbond sou verwerp.
+ Derdens is die finale konflik díé tussen die geheimenisvolle individu en die slang self.
Ons kan aanvaar dat die vernouing van 'n groep na 'n individu – soos van Satan se "nageslag" in v.15b, vernou na die Satan self in v.15c – in beide bene van hierdie uitdrukking moet geld. Dit sou dan beteken dat die "haar nageslag" in v.15b, ook hier vernou tot die "hy" in v.15c. Dit beteken dat ons aan 'n enkele persoon moet dink (die Hebreeuse voornaamwoord is dan ook enkelvoud en manlik).
Sonder twyfel word hier van die komende Messias gepraat. En hiervoor is daar inderdaad 'n sterk Skrifmandaat. Die hele strekking van die Bybel bevestig dit oor en oor. Eintlik word dit uitdruklik gesê as 1Kor 15:45-47 van Jesus Christus praat as die "laaste Adam" en die "tweede mens".
Só aanvaar Bybelgelowige Skrifverklaarders deur die eeue dit amper soos een man – naamlik dat alreeds hier na Jesus Christus verwys word, en as sodanig word dit die moederbelofte genoem.
+ Maar selfs vir Christus sou dit nie maklik wees nie. Die slang sou sy tande in Sý hakskeen slaan, met die doel om Hom te vernietig. Hiervan sou 'n bebloede kruis uiteindelik getuig. Máár God se Gesalfde sou in die proses die slang se kop finaal vermorsel. Ou Testamentiese mense kon hierdie belofte net in die geloof vasgryp. Óns kan egter terugkyk na die historiese vervulling, asook die wonderlike gevolge daarvan aan eie lyf ervaar.
Wat sê dit sover alles vir ons?
'n Radikale lewenskeuse en standpuntinname is noodsaaklik
Niemand kan in hierdie oorlog neutraal bly nie. Dis 'n integrale deel van menswees dat jy daarby betrokke is. Dis deel van die skering en inslag van ons bestaan. Want een en elkeen van ons se bloedlyn begin by Adam en Eva. Nog meer, die woorde van die Here Jesus is onontkombaar: "Wie nie vir My is nie, is teen My."
Ware Christenskap en geestelike konflik loop altyd hand aan hand
As jou Christenskap vol geestelike konflik is, moenie verbaas wees nie. Ons praat nie van konflik wat die gevolg van jou sonde is nie. Ons praat van konflik wat duidelik die gevolg is van jou gehoorsaamheid aan Christus – konflik wat jy dadelik kan vermy deur die pad van dissipelskap te los en ontrou aan die Here te raak.
Só onontkombaar is hierdie soort stryd vir die ware Christen, dat jou Christenskap onder verdenking is as jy nie baie goed verstaan waarvan ons praat nie.
Net in Christus is daar oorwinning
Dit geld nie net vir ons finale oorwinning nie, maar vir elke dag se stryd. Beswaarlik is daar 'n belangriker lewensles om te leer, as om ons oë in geloof op Christus, ons groot Oorwinnaarkoning, vas te nael. Natuurlik is dit die sleutel tot die ewige saligheid, maar vir seker ook vir oorwinning in die lewensaanslae van elke dag – stryd wat elke ware gelowige maar té goed ken.
Dit kan maklik aangetoon word dat elkeen van die ses stukke wapenrusting in Ef 6 op 'n aspek van ons erfenis in Christus dui. Trouens, dis die enigste manier om daardie gedeelte reg te verstaan.
Daar is geen twyfel oor die uiteindelike uitkoms van die stryd nie
# Aangesien die oorwinning oor Satan reeds in beginsel deur Christus behaal is, is daar geen twyfel oor die uiteindelike afloop van die konflik nie. 'n Hele aantal uitsprake in die Nuwe Testament beklemtoon dat Christus se oorwinning reeds 2000 jaar gelede die duiwel uit die hemel laat tuimel het. Daarom sê Jesus in Luk 10:17-18 dat Hy die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val het (vgl. ook Joh 12:31; 16:11; Heb 2:14; 1Joh 3:8; Op 12:7-17).
Maar, natuurlik, nou loop hy soos 'n brullende leeu op die áárde rond – en vandaar ons stryd.
+ 'n Welbekende illustrasie om die huidige situasie te verduidelik, kom uit die Tweede Wêreldoorlog.
Duitse magte het die hele Europa beheer. Op D-dag, 6 Junie 1944, het die geallieerdes egter met 'n magtige poging die Normandiese strande van Frankryk aangeval om weer 'n vastrapplek op Europese bodem te verkry. Toe dit inderdaad gebeur, het oorlogstrateë geweet wie die oorlog gaan wen. Duitsland was finaal op die agtervoet, en dit was net 'n kwessie van tyd voordat sy magte dan ook finaal die knie moes buig.
Wat dus ná D-dag oorgebly het, was vir alle praktiese doeleindes 'n opruimingsproses. Dit het egter elf maande geduur voordat die oorlog finaal teen middernag, 8 Mei 1945, verby was.
# Net so met Christus en Sy kerk se oorlog teen Satan. "D-dag" was tweeduisend jaar gelede. En daar is geen twyfel oor wie die oorlog finaal gaan wen nie.
Vir ons illustrasie is dit egter van belang dat die bloedigste gevegte van die Tweede Wêreldoorlog tydens daardie laaste elf maande plaasgevind het. Dit was letterlik 'n skoonmaakproses, soms van straatblok tot straatblok. Maar deurgaans was die geallieerdes op die voorvoet.
Al is ons geestelike stryd dus baie dae so fel dat ons moedeloos wil raak, laat ons ons oë vasnael op ons Oorwinnaarkoning. Oor die finale uitslag is daar vir seker nie die minste twyfel nie.
God se woorde aan die vrou (Gen 3:16)
God se seën
Die vrou sou kinders hê, en 'n nageslag. Natuurlik is vrugbaarheid altyd 'n seën. Maar hier gaan dit oor meer. Háár nageslag gaan die slang vermorsel.
Die smarte van ma-wees
Om kinders in die wêreld te bring, gaan nie 'n grap wees nie. Nege maande van naarheid en ongemak sal gevolg word deur 'n uiters pynlike bevalling. En deur die eeue – veral voor vandag se mediese sofistikasie – het tallose vrouens in die proses gesterf.
Maar waarskynlik sinspeel hierdie uitspraak ook op die swaar las van ouer-wees (en as 'n reël ervaar ma's dit pynliker as pa's). Oseane trane is al gestort oor kinders wat hulle skeie breek, wat nie die mas opkom nie, wat die huis uitgaan en in die niet verdwyn. Vir wie bid gelowige ouers meer as vir kinders en kleinkinders?
Die magstryd in die huis
As v.16 praat van die vrou wat na haar man sal hunker, word dit tradisioneel verstaan as seksuele- en koesteringsverlange. Maar dis waarskynlik nie die regte vertolking nie. In net die volgende hoofstuk (4:7) word presies dieselfde Hebreeuse woord gebruik: "begeerte" (OAV). Híér egter is dit 'n hunkering na oorheersing – dié van die sonde oor Kain. Dit lyk dus of God in Sy woorde aan die vrou bedoel dat sy oor haar man sal wil baasspeel. In haar sondegevalle staat sal sy nie kan vrede maak met die ondersteuningsrol wat Hy aan haar in die huwelik toeken nie. Sy sal nie rus of duurte hê voordat sy nie die broek in die huis dra nie.
Maar die man sal oor haar heers. Die Hebreeuse woord vereis dit nie, maar dit lyk asof hierdie uitspraak wil sê dat die man haar – desnoods met geweld – onder sy duim sal hou. En is onredelike, en selfs wrede manlike dominering van die vrou nie dikwels deur die eeue tipies in 'n gevalle wêreld nie?
God se woorde aan die man (Gen 3:17-19)
Die aarde sal steeds sy kant bring
Daar sal kos wees. En tot vandag toe is dit een van die uitstaande karaktertrekke van God se algemene genade, dat Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen (Matt 5:45).
Maar dit sal sweet kos
Die straf lê nie in die feit dat die mens sal moet werk nie. Dit was al 'n skeppingsverordening vóór die sondeval. Nee, dit lê in die moeite en inspanning waarmee alles sou geskied. Dit sou 'n rugbreekstryd wees om die wolf van die deur af weg te hou.
Van stof tot stof
Ergste van alles in die mens se bestaan, gaan die wagtende graf wees. Die smarte van geliefdes wat heengaan sal kort-kort op hom toeslaan, en uiteindelik sal ook hy die verskrikking van die fisiese dood moet aandurf. Afgesien van enkele wonderwerke, is die mortaliteitskoers van die biljoene wat al geleef het – eenhonderd persent!
Het jy al só daaraan gedink?
Ongeloofsteoloë voer dikwels aan dat ons hier in Gen 3 'n volkslegende het. Dit sou vertel word om vir kinders te verduidelik waarom slange nie pote het nie, of iets soortgelyks.
Maar die eerste verteller van hierdie storie moes dan méér as geniaal gewees het. Want, ten spyte van ons gesofistikeerde samelewing vandag, oorheers die beginsels wat in hierdie paar verse uitgespel word steeds elke dag biljoene lewens. Is almal van ons nie maar tot 'n mindere of meerdere mate besig om te stoei met die vraagstukke van broodvoorsiening, pynverligting, werksinspanning, kinderopvoeding en die dood nie?
Adam se geloof
Onmiddellik na die uitsprake van v.16-19, reageer Adam in die geloof op God se belofte (20). Hy noem sy vrou "Eva": Lewegewer (Heb). Daarmee bely hy sy geloof dat sy vrou die moeder sou word van die lewendes. Meer nog, hy glo dié Lewegewer (15) gaan uit haar nageslag voorsien word.
Adam reageer in eenvoud op God se woord. Bes moontlik was dit genoeg geloof vir redding. Terwyl 'n ton vals geloof nie kan red nie, was selfs net 'n greintjie ware geloof nog altyd genoeg vir redding.
Nie groot geloof is nodig nie, maar egte geloof
En
Dis geloof in álles
wat tot op 'n betrokke stadium
spesifiek van die Nuwe en Laaste Verbondshoof geopenbaar is
God aanvaar Adam en Eva se geloofshandeling. Daarom maak Hy vir hulle velklere (21). Daarvoor moes Hy diere slag, en waarskymlik het ons alreeds hier 'n vooruitwysing na die komende offerstelsel, wat op sy beurt weer vooruit gewys het na Christus se groot offer. Die Hebreeuse woord "versoening" beteken immers om te bedek.
Wat sê dit alles vir ons?
1. Laat ons nie net die vreugde van ouerskap gelowig omhels nie, maar ook die smarte wat dikwels daarmee saamhang.
In Sy groot genade seën die Here baie van ons met die heerlikheid van ouerskap en grootouerskap. Maar helaas is die kosbaarste dinge in ons lewens meermale ook die bron van ons diepste hartseer. Want die smarte wat kinders ouers kan aandoen, word deur min dinge in hierdie lewe geëwenaar. So vermoor Adam en Eva se oudste dan ook sy jonger broer. Kan daar 'n erger hartseer vir ouers wees?
Laat ons nie net dankbaar wees oor die Here se goedheid nie, maar ook in stille verootmoediging voor Hom buig wanneer van Sy oordele oor 'n sondegevalle mensheid ook óns eie wêreld binnespoel. Onthou, die Hoë en Verhewene woon nie net in die hoogte en heilige plek nie, maar ook by die verbryselde en nederige van gees (Jes 57:15; vgl ook 66:2; Miga 6:8; Matt 5:3-12).
Ons kan aanvaar dat Adam en Eva se trane nie net dié van verlies was nie, maar ook dié van selfverwyt en verootmoediging. En gewis sou hierdie trane 'n welriekende offer voor die Here gewees het
2. As ons steeds die gevolge van voorbekeringsonde moet dra, beteken dit nie dat ons nie vergewe en gered is nie.
Soos Adam en Eva, het baie van ons (eintlik almal van ons, tot 'n mindere of meerdere mate) onkruid en wilde hawer voor ons bekerings gesaai. En dikwels bring dit steeds bitter vrug in ons lewens voort – vrug wat pyn en verleentheid veroorsaak. Ons sou wát wou gee om daarvan ontslae te raak. Maar die aalwynsmaak blý eenvoudig. Mens kry dit nie uit jou mond gespoel nie.
Ná Batseba is Dawid vergewe, maar tog het smarte op sy huis bly rus.
Wat staan mens in so 'n situasie te doen? Jy moet 'n offer bring – 'n offer wat God innig behaag: Die offer van verootmoediging en aanvaarding.
3. Ek is gered, maar ek moet ook nog gered word.
Iemand mag vra, is dit reg dat ons wat uit Adam uitgehaal is en met Christus verenig is, steeds soveel van die sondeval se gevolge moet verduur? Waarom is ons steeds onderworpe aan die gebrokenheid van 'n gevalle wêreld? Waarom moet ons nog deur die verskrikking van die dood gaan?
Die rede lê in die feit dat ons redding in die volste sin van die woord nie 'n enkele gebeurtenis is nie, maar 'n proses. Die Nuwe Testament praat van ons redding in die verlede tyd, maar ook in die teenwoordige, sowel as in die toekomende. Ons is gered, ons word gered, en ons sal gered word.
Dis soos 'n minderjarige kind wat 'n fortuin erf. Wetlik is dit onvervreembaar syne. Maar die volle gebruik daarvan kan hy eers kry as hy mondig is. Tot tyd en wyl word hy weliswaar uit die boedel versorg. Hy kry alles wat hy nodig het. Maar dis ál. Die fortuin kom eers ééndag.
In beginsel staan die redding van die van ons wat waarlik met Christus verenig is, so vas soos die berge. Maar baie van die realiteite daarvan moet nog in ons gestalte kry. Heerlikmaking is nog toekomstig. So ook lê die finale afskud van ons gevallenheid, en wat daarmee saamhang, nog voor.
4. Nêrens behoort die werklikheid van ons herskepping duideliker tot uitdrukking te kom as in die verhouding tussen man en vrou nie.
As ons verlossing in Christus dan die ommekeer van die sondeval se effekte is, móét dit mos in ons huwelike wys – die plek wat volgens ons Skrifgedeelte in die eerste instansie deur die sondeval geraak is. Daarom mag ons nie swig voor die wêreldse aandrange dat die vrou die man na die kroon moet steek nie. En ons as mans moet ons vrouens koester en versorg. Ons móét eenvoudig die realiteite van ons herskepping demonstreer. Beswaarlik kan ons 'n kragtiger getuienis teenoor die wêreld lewer as om die Bybelse rolle van mans en vrouens te handhaaf. Laat ons mans dus mans wees, en ons vrouens, vrouens.
Dis waarom die Nuwe Testament soveel maak van godsvrug in die Christelike huwelik en gesin. Dis waarom Ef 5 sê dat Geesvervuldheid by uitnemendheid in die huis tot uitdrukking kom.
5. Laat ons vreugde en vervulling put uit die verordening van arbeid
As oorspronklike skeppingsverordening, is arbeid waarskynlik hier om tot in ewigheid te bly.
Sinvolle, vreugdevolle en vervullende werk was 'n sentrale werklikheid reeds voor die sondeval. En die huidige verlossingsproses is méér, maar ten minste óók 'n herstel van daardie staat. Ons gaan vir seker nie verveeld leeglê op die nuwe aarde nie.
Al is die arbeidslas hier en nou dus meermale swaar om te dra, mag ons nie voor die versoeking tot opstand swig, wanneer die juk daarvan soms pynlik skaaf nie.
Duidelik is hier dus nóg 'n lewensarea waarin die getuienis van ons verlossing helder moet skyn.
6. Weet ons dalk wie die nederigste en dankbaarste mense in die hiernamaals sal wees?
Laat ons nie té verbaas wees as Adam en Eva eendag saam met ons op die nuwe aarde is nie.
Indien wel, sal hulle die nederigste, maar ook dankbaarste van ons almal wees.
Dink jou in: Die man en vrou wat ten diepste die oorsaak is van die smarte in dermiljoene lewens deur alle eeue – met geloof en redding en ewige saligheid begenadig!
In die hiernamaals, dink ek, sal ons voor-op emosie aanbiddingsverwondering wees. Maar in die voetspore daarvan sal liefdesdankbaarheid volg.
En niemand sal dit intenser ervaar as Adam en Eva nie. Want wie se sonde het groter en méér omvangryke ellende veroorsaak?
Die wat die meeste vergewe is
het die meeste lief.
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev