PREEKOPNAMES: https://tinyurl.com/yt685xkt (1) https://tinyurl.com/ycyabykp (2)
"Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins ..." (Fil 1:21).
Dr. Martyn Lloyd-Jones sê in 'n preek oor v.21: "We stand here face to face with one of the sublimest and greatest statements ever made, even by this mighty Apostle of our Lord and Saviour Jesus Christ."
Dis slegs 9 woorde in die Grieks, maar hoe kom mens by die bodem daarvan uit?
Inleiding
# In hierdie brief stel Paulus die Filippense in hulle bekommernis oor hom gerus.
Ja, sê hy, hy is wel in die tronk en het inderdaad deur baie beproewinge gegaan, maar die Here het in Sy soewereiniteit alles gebruik om Homself te verheerlik. Anders as wat mens sou verwag, het dit selfs gelei tot 'n wyere uitdra van die evangelie (v.18). Wat sy toekoms betref, is hy heeltemal onseker: hy mag vrygelaat word, maar hy mag ook tereggestel word. Uiteindelik maak dit nie veel saak nie. Al wat saak maak is dat Christus verheerlik sal word. Solank dít gebeur, is dit vir hom om 't ewe of hy leef en of hy sterf (v.23) – want die lewe is vir hom Christus en die sterwe is wins. Daarom moet die Filippense hulle nie te veel oor hom bekommer nie.
In v.22-26 openbaar die apostel iets van sy hartsgesteldheid. As dit van hom afgehang het, sou hy verkies het om heen te gaan en by Christus te wees. Maar hy weet dat sy broers en susters hom nog nodig het – en daarom glo hy tog dat die Here hom sal spaar.
'n Nadere kyk na v.21a: "Want vir my is om te leef Christus ..."
# Paulus se uitspraak begin met "Want", en is daarom 'n voortsetting en verduideliking van die voorafgaande. Hy sê dus: Christus sal "groot gemaak ... word in my liggaam (v.20, OAV) ... want vir my is om te leef Christus ..." (v.20-21a, DAV).
# In die Grieks lê die klem op die woorde "vir my". Christus word dus nie in elke mens se lewe sondermeer verheerlik nie; dit gebeur net as die lewe vir jou Christus is.
# Die uitdrukking, "om te lewe", praat van 'n manier van lewe. Dit dui nie net op 'n opinie of filosofie oor die lewe nie.
# Wat presies bedoel die apostel met hierdie kernagtige stelling wat so ontsaglik baie omvat? Miskien sal dit help as ons die vraag in twee meer spesifieke vrae opbreek:
Eerstens,wat bedoel hy as hy oor sy manier van lewe praat?
Tweedens, wat bedoel hy as hy sê dat dit Christus is?
Die lewe is vir my Christus
# Wat is die lewe? Waarom leef ek? Hieroor net eers drie algemene opmerkings:
+ Eerstens, baie mense dink natuurlik nooit oor die betekenis van die lewe nie. Hulle het hierdie verbysterende gawe van bestaan ontvang, van persoonlikheid, van individualiteit, van syn (soos die filosowe sê) – en hulle verwonder hulle nooit daaroor nie! Hulle gaan maar net van dag tot dag aan – soos diere. Hulle dryf bloot voort soos kurkproppe op die see.
+ Tweedens beskryf 1Joh 2:16 wat die lewe vir die meeste mense is: "... die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe ..." (OAV). Hierdie 3 dinge laat die aarde vir Jan en alleman draai.
= Daar is diegene vir wie die lewe oor die laere drifte van die vlees gaan. Wine, women and song!, is hulle motto. Hulle is die Epikureërs, met as lewensfilosofie: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons. Hulle is hedoniste wat deur elke week se werk wroeg om só genoeg geld vir naweke te verdien. Hulle is adrenalienslawe. En die summum bonum kan enigiets wees van 'n kan wyn tot 'n vier-by-vier.
= Vir ander gaan die lewe oor die sogenaamde mooi en verhewe dinge: menswaardigheid (en diere- waardigheid!), welwillendheid, offervaardigheid; die kuns, die akademie, die wetenskap, die omgewing, ens., ens. Al hierdie dinge is prysenswaardig. Maar as daar meer van die geskapene gemaak word as van die Skepper, word dit afgodery.
= Dan is daar díé vir wie die lewe oor status en mag gaan. Ambisie, bevordering, meer besittings, nog toekennings! Dis wat vir hulle alles die moeite werd maak. En om dit te bereik, sal hulle niks of niemand ontsien nie. Besigheid is besigheid!, is hulle leuse; All is fair in love and war!, hul motto.
+ Derdens, vir dermiljoene is godsdiens hulle lewe. Hierdie tyd op die ondermaanse is gegee, sê hulle, om na God toe op te klim – teen die leer van moralisme en seremonies en sakramente. Mens moet jouself aanvaarbaar maak vir jou Skepper; jy moet 'n beter hiernamaals beding.
# Vra mens egter vir Paulus wat die lewe vir hom behels, waaroor dit vir hom gaan, antwoord hy kort en kragtig, beslis en sonder huiwering: Christus!
Om die volle implikasie van die apostel se antwoord te verstaan, moet ons vra: Waarin kom die lewe tot uitdrukking, hoe word dit beleef?
Die antwoord het ten minste drie komponente:
+ 'n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy dink en glo, in jou gedagtes en oortuigings.
Vir Paulus was die middelpunt van sy oortuigings: Christus en Christus se werk – Sý koninkryk, Sý evangelie, Sý gemeente, Sý eer. Dit neem maar weer en weer die apostel se gedagtes in beslag. As hy loop en peins, is dit Christus; as hy met vriende gesels, is dit Christus; as hy skryf, is dit Christus.
+ 'n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy voel, in jou emosies en oortuigings.
Oor niks of niemand het Paulus intenser belewinge gehad nie, as oor Christus – Sy faam en Sy saak. Om die Here te behaag en te verheerlik, was die hartstog van sy lewe. Om Hom steeds inniger te ken, was sy verlange dag na dag.
+ 'n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy doen, in jou elke dag se aktiwiteite, in die prioriteite wat jy najaag.
Ook hierin was Christus vir Paulus in die middelpunt. Dis vir Hóm wat hy hom ingespan het, vir Wie hy elke greintjie energie aangewend het. Dis vir die verbreiding van Sý evangelie wat hy alles prys gegee het en geen swaarkry ontsien het nie.
# Dink vir 'n oomblik na oor die apostel se lewe. Dan besef jy dat sy belydenis in v.21 waarlik die werklikheid van sy hele bestaan was.
Die lewe is vir my Christus
# Wat is van 'n mens wáár as Christus vir jou die lewe is? Hoe het Paulus dit beleef? Hoe ervaar alle ware Christene dit deur die eeue?
+ Christus is die onwankelbare sekuriteit van jou lewe. Die belangrikste van alle vrae – hoe sal ek eendag regverdig voor my Maker staan? – is net nie meer die allesoorheersende verskrikking van jou lewe nie. Nou is daar 'n ewige rots onder jou voete.
+ Christus is die vreugde en sin van jou lewe. Hy is vir jou die wysheid wat van God kom, die geregtigheid, die heiligmaking en die verlossing (1Kor 1:30-31). Kortom, Hy is jou alles. Mens kan jou van alles stroop – van jou besittings, jou waardigheid, jou dierbares en jou vryheid – dan bly die Here Jesus Christus steeds jou vreugde, sin en sekuriteit.
+ Christus is die bron van jou lewe. Hy is die wingerdstok en jy die loot (Joh 15). Jy leef nie meer nie, maar Christus leef in jou (Gal 2:20). Dis waarom die apostel in Fil 3:10 kan sê dat dit sy ambisie is om te leef vanuit die krag van Christus se opstanding – die krag wat die opgestane Christus deur sy Gees in jou werk.
Miljoene ken dit as 'n ervaringswerklikheid. Lees maar die biografieë van God se begenadigdes in dosyne lande en deur die eeue.
+ Christus is die gerigtheid van jou lewe. Om Hóm te ken, die verbreiding van Sý evangelie, die welsyn van Sý gemeente, die bevordering van Sý eer – dit is die dryfveer, motief, en ambisie van jou hele bestaan. Dis wat Paulus in Rom 14:8 bedoel: "As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here."
Andersom gestel, neem Christus weg, en die lewe word vir jou die dood. Want Hy het inderdaad vir jou "die weg, die waarheid, en die lewe" geword.
# Bogenoemde lê aan die hart van wat dit beteken om die Here Jesus Christus lief te hê met jou hele hart, siel, verstand en al jou krag. Dis die essensie van 'n persoonlike verhouding met Hom.
Dít dan, is die hart van ware christenskap!
'n Nadere kyk na v.21b: "... en om te sterf wins ..."
Mense is bang vir die dood. Niemand dink of praat graag daaroor nie. Só stel Heb 2:15 dit: Mense leef uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny.
Maar ons teks plaas die saak vierkantig voor ons. En dis goed so. Enersyds móét ons eenvoudig nadink oor hierdie saak wat so onontkombaar op elkeen van ons wag. Andersyds bring 'n oordenking van hierdie Skrifgedeelte wonderlike bevryding, bemoediging en vertroosting vir ware gelowiges.
Enkele algemene opmerkings
# Anders as wat baie dink, leer die Bybel nie bloot dat daar vir diegene in Christus twee toestande van bestaan is nie: die huidige lewe hier op aarde, en die uiteindelike lewe ná die opstanding. Daar is ook 'n derde toestand: Dié wat onmiddellik na die dood intree, tot en met die opstanding – as 'n liggaamlose gees in die paradys by Christus.
Oor hierdie tussentoestand, meen ek, het Paulus dit in die eerste instansie hier. In hierdie salige toestand verkeer die apostel by skryf hiervan alreeds ongeveer negentien-en-'n-half eeue.
# Ons is geneig om aan die dood as 'n verlies te dink. Inderdaad ís dit dikwels 'n verskriklike verlies vir diegene wat agter bly. Maar vir 'n ware Christen wat heengaan, is dit "wins". Vir ons is die lewe ná die dood beter as wat dit hier is – "verreweg" beter (v.23).
# Paulus het nie 'n sieklike doodsverlange nie. Ewe min is daar by hom 'n minagting vir die lewe hier en nou. Daarvoor is hy té bewus van die berge sinvolle werk wat steeds hier gedoen moet word (v.22-24). As hy in v.23 sê dat hy in 'n tweestryd verkeer – om heen te gaan, of om hier te bly – dan is dit nie 'n kontras tussen sleg en goed nie, maar tussen goed (om te bly) en beter (om te gaan). Die apostel is 'n goeie soldaat. Hy verlang om klaar te kry met die oorlog en om huis toe te gaan, maar in sy pligsbesef kners hy nou nog op sy tande, beur vorentoe, en weier om te dros.
# Nêrens leer die Bybel dat die dood op sigself 'n seën is nie. Behalwe wanneer dit oorrompel word deur verlossingsheil in Christus, is dit 'n meedoënlose vyand. Dis 'n roofdier wat die liggaam en die gees wreed uitmekaar skeur (Pred 12:7).
Die dood bly dus ook vir ons wat met Christus verenig is 'n laaste vyand (1Kor 15:26). Op sigself was dit sekerlik vir die apostel – soos vir ons – geen grap nie. Om te sterf is ook vir die ware gelowige 'n donker, diep rivier waardeur hy of sy moet gaan, soos Bunyan dit beskryf. Maar deur moet mens deur, want die volle erfenis lê op die oorkantste oewer.
# Selfs in die hemelse tussentoestand sit nog 'n stuk voorlopigheid. Die gees is nog sonder sy verheerlikte liggaam. Dis 'n toestand van onvoltooidheid. Dis nog 'n toestand van "naaktheid" (2Kor 5:1-10) voordat ons finaal met ons verheerlikte liggaam aangetrek gaan word – wanneer die heerlikmaking tydens die finale opstanding uit die dood plaasvind.
Daarom kyk die Nuwe Testament meestal dwarsdeur die tussentoestand. Dis immers net 'n tydelike deurgang, 'n halfwegstasie. Dis 'n verdere tree onderweg na my volmaakte en ewige erfenis in Christus. Daarom nael die apostels hulle blik vas op die opstanding!
Tóg, sê Paulus, om te sterf is wins! Selfs die tussentoestand is beter as ons lewe hier en nou, baie baie beter.
# Die woord in v.23, "om heen te gaan" (OAV; NAV), is beskrywend. Eén gebruik daarvan destyds was vir die opbreek van 'n kamp. Hier, asook elders in die Nuwe Testament, dra dit dus die gedagte van 'n klaarkry met die tydelike en onsekere lewe van 'n swerwer.
Só stel 2Kor 5:1 dit: "Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan." En 2Pet 1:13-14: "En ek beskou dit as reg, solank as ek in hierdie tentwoning is, om julle ... op te wek, omdat ... die aflegging van my tentwoning ophande is ..." (OAV).
Die Bybel beklemtoon deurgaans dat hierdie lewe tydelik is; trouens, die gelowige is hier 'n vreemdeling en 'n bywoner (1Pet 2:11). Ons is bloot pelgrims. Ons is onderweg déúr. Hierdie wêreld is nie ons woning nie.
Waarom is dit wins om te sterf?
# Vir die gelowige is die dood 'n huis toe gaan. Dis 'n verlaat van die verblyf in die verganklike liggaam, ten einde by die Here te gaan inwoon (2Kor: 5:6-9). Dis 'n vertrek na ons ewige woning toe (Pred 12:5) – na ons vaderland, ons tuisstad (Heb 11:13-16). En waar is mens gelukkiger as op jou eie plek? Dis waar ons hoort – daar by die Here!
# Een van die heel wonderlikste dinge is dat ons finaal klaar sal wees met sonde wanneer ons ons laaste asem uitblaas. Wat veroorsaak méér frustrasie en hartseer in 'n gelowige se lewe as sy of haar sondemislukkings? Maar as ons eers by die Here is, sal ons nie meer kán sondig nie.[1]
# 'n Koning se vrou deel in sy besittings en status.
Toe Christus uit die dood opgestaan het, het Hy dit nie bloot in Sy persoonlike hoedanigheid gedoen nie, maar as amptelike Hoof van die nuwe mensheid (Ef 2:5-6). Toe Hy na die hemel opgevaar het, het Hy nie net die loon en erfenis vir Homself in besit geneem nie, maar ook vir Sy bruid. Óns inbesitname daarvan is 'n proses – en óns het skaars begin – maar die beginsel staan vas: Ons wat in Christus is, is nou reeds "erfgename saam met Christus" (Rom 8:17).
Presies hoeveel van ons erfenis in Christus ons dadelik gaan ontvang, en hoeveel sal moet wag vir die finale opstanding, is nie geopenbaar nie – behalwe natuurlik dat ons dán eers ons verheerlikte liggaam sal kry.
Maar dat daar vir ons 'n "onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis" in die hemel bewaar word, dit weet ons wel (1Pet 1:4). "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet" (1Kor 2:9).
# Die dood is 'n deurgang na 'n begrip en kennis van die Here wat ons nou nie kan bedink nie. Weereens weet ons nie hoeveel daarvan sal moet wag vir die vervolmaking van ons verlossing met die wederkoms en opstanding nie. Maar gewis sal ons reeds oorstelp besig wees met nuwe waarhede en oopgebreekte geheimenisse terwyl ons naasbestaandes diep hartseer met begrafnisreëlings besig is. "Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken" (1Kor 13:12).
Ons gaan die ewigheid deurbring in die land van verstommende, onuitputlike en ewige ontdekkings! En aan die hart daarvan is 'n steeds dieper kennis van ons Drie-enige God. Om Hóm te ken, is immers die ware en ewige lewe (Joh 17:3). Om Homself voor Sy skepsele te verheerlik, is per slot van rekening waaroor alles gaan. Sal daar ooit 'n punt van afplatting en uitputting kom? Die ewigheid is nie lank genoeg om God en Sy werke te deurgrond nie!
# Maar v.23 openbaar die éintlike rede waarom Paulus so daarna uitsien om heen te gaan: Dit sal hom na Christus toe vat! Die essensie van die gelowige se hiernamaals is dat hy of sy "by die Here gaan woon" (2Kor 5:8). Vir die misdadiger kon Jesus sê: "Vandag sal jy saam met My in die paradys wees" (Luk 23:43).
As ons nóú reeds Christus se bruid is – oftewel, by wyse van spreke, sy "verloofde" – hoe groot sal ons verwelkoming in die hémel nie wees nie! Gewis sal ons dáár 'n inniger gemeenskap met Hom beleef as wat selfs die dissipels destyds hier op aarde geniet het.
Wat sê dit vir ons?
1. Hierdie vers gee vir ons miskien die mees fundamentele lakmoestoets vir outentieke Christenskap in die ganse Bybel
Al kan hulle dit nie onder woorde bring nie, ken alle ware Christene proefondervindelik ten minste iets hiervan. Daarenteen verstaan 'n nie-Christen niks hiervan nie, maar diep binne-in hom weet hy wél dat dit nie van hóm waar is nie.
Die getuienis van die sending- en kerkgeskiedenis is onweerlegbaar: Dis die mense wie se lewens beheers is deur die dinge waarvan ons praat, wat werklik die verskil gemaak het. Dis húlle wat blywende vrug gedra het. Dis deur húlle wat die Here sy grootse werke gedoen het.
Haal 90% kerkmense se lewens uit die afgelope 2000 jaar se kerkgeskiedenis, en, meen ek, die koms van die koninkryk van God sou net so ver gestaan het soos vandag. Trouens, sonder hulle was die kerk se taak hier op aarde bes moontlik baie verder gevorder. Die slegte getuienis wat sulke "passasiers" na die wêreld sein, doen die aantreklikheid van die evangelie oneindige skade. Nog meer, in die Here se saak vaar 'n Gideonsbende altyd beter!
2. Kardinaal belangrik is dit om te onthou dat die apostel nie hier vir ons 'n bevel gee nie, maar 'n feitestelling maak
Dit waarvan Paulus hier praat, kan ons nie self opklits nie. Nee, dis die gevolg van God se genadewerk in 'n mens. Húlle ervaar dit wat deur die Here in Sy reddende guns en herskeppingswerk aangeraak is. En dit is net waar van mense wat "in Christus" is.
3. 'n Christen se liefde vir die Here is 'n wederliefde – 'n respons
My liefde vir Hom is 'n uitvloeisel van God se inisiatiefnemende verlossingswerk. Dis daarom die liefde van dankbaarheid en verwondering. Dis die liefde van lewenslange gefassineerdheid en verknogtheid en toewyding.
Kan 'n vreemdeling hiervoor iets doen om dit te ervaar? Vir seker!
Draai met beslistheid, en alle opregtheid weg
van jou selfgerigte en ongehoorsame lewe af,
en vlug dan met alle erns – en ongekwalifiseerd,
vir tyd en ewigheid, in die Here Jesus Christus in
– as jou groot en finale Profeet, Priester en Koning.
En jy sal ervaar wat tallose mense deur die eeue beleef het. Die Here sal gewis deur Sy Gees Sy liefde in jou hart uitstort. En nooit sal jou lewe weer dieselfde wees nie.
Slot
# Ons moet seker maak ons bedrieg nie onsself nie. Miljoene doen dit. Wat kan méér dwaas wees as om jouself, sonder Bybelse begronding wys te maak dat alles uiteindelik tog wel reg sal uitwerk. As dít jou argument is, kan ek jou 'n brief gee, dit gaan juis níé reg uitwerk vir jou nie!
# As ons waag om daaroor te dink, het ons baie vrae oor ons eie dood: Wanneer? Waar? Waaraan? Maar volgens God se Woord is net een vraag regtig van belang: Hoe?
Ek praat nie van wat op jou doodsertifikaat as "Oorsaak van dood" ingevul gaan word nie. Ek praat van die geestelike toestand waarin jy gaan verkeer as jy sterf.
En daar is slegs twee moontlikhede: In Geloof. Of, In Sonde. Óf jy is deel van die nuwe skepping in die laaste Adam, óf jy is nog deel van die ou skepping in die eerste Adam,.
Die ergste ding wat met 'n mens kan gebeur, is nie dat hy sterf nie, maar dat hy in sy sonde sterf. Onthou, om dood te gaan, is om na 'n plek te gaan vanwaar mens nooit weer kan terugkeer om te kom regmaak wat jy verbrou of nagelaat het nie.
# Vers 21 is 'n onverbreekbare eenheid. Daarom het nét hulle vir wie die lewe Christus is, grond om te glo dat doodgaan vir hulle wins sal wees.
Die heidenprofeet, Bileam begeer: "Mag ek ook eendag as opregte sterwe ..." (Num 23:10). Wat hy egter vergeet het, is dat mens slegs as 'n regverdige sal sterf indien jy as 'n regverdige geleef het. In sy geval sou dit beteken het dat hy glo en vertrou in die lewende God en Sy beloftes oor die komende en volmaakte Offerlam wat vir alle ware gelowiges geoffer sou word. Want van die begin af het redding slegs deur geloof in Christus gekom.
# Sóvele dink aan genade as iets wat jy eers ontvang wanneer jy ná die dood voor God moet verskyn. Dis 'n fatale mistasting. Genade is iets wat jy in hiérdie lewe ontvang – of glad nie. Dis óf nou, óf dis nooit nie. En as jy dit inderdaad kry, het dit ingrypende effekte in jou – want dit maak die lewe vir jou Christus.
# Maar ons vir wie die lewe inderdaad Christus is, kan ons heengaan met vertroue en opgewonde afwagting tegemoet gaan. Ons gaan bloot ons Here volg deur die poort waardeur Hy alreeds is.
Wanneer dit kom, sal ek dit dalk vir 'n oomblik as 'n verskrikking beleef. Maar dit sal nie vir my 'n fatalistiese sprong oor 'n donker afgrond wees nie. 'n Gelowige gaan in die gelóóf daardeur. Psalm 23:4 sal 'n werklikheid wees: "Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my."
# Die ou Puritein, Richard Baxter (1615-1691), het dit só gestel: "As 'n man ellendig siek is, maar weet dat hy môre-oggend gesond gaan wees; of as hy brandarm is, maar weet dat hy 'n prins gaan wees as hy wakker word – sal hy bang wees om bed toe te gaan?"
Die pionier-sendeling in Burma, Adoniram Judson (1788-1850), het weer só daarna gekyk: "Ek is nie gedaan gewerk nie, en ek is allermins moeg vir hierdie wêreld, maar, wanneer Christus my roep, sal ek gaan met die uitbundige blydskap van 'n skoolseun wat vir die somervakansie by die skoolhek uithardloop."
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Hier is 'n formule wat mens baie help om te verstaan en te onthou: Van die mens vóór die sondeval geld: posse pecare; posse non pecare (die vermoë om te sondig; die vermoë om nie te sondig nie). Ná die sondeval geld: posse pecare; non posse non pecare (die vermoë om te sondig; nie die vermoë om nie te sondig nie). Na die wedergeboorte geld weer: posse pecare; posse non pecare (die vermoë om te sondig; die vermoë om nie te sondig nie). Na 'n gelowige se heengaan geld: posse non pecare; non posse pecare (die vermoë om nie te sondig nie; nie die vermoë om te sondig nie).