Ps 19:2
"Die hemelruim verkondig die eer van God,
en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend."
Kwalifiksie
Hierdie is nie 'n Bybelstudie as sodanig nie. Dis 'n bepeinsing wat wil dien as 'n inleidende voorbereiding vir die volgende twee Skrifstudies oor Gen 1-2.
Inleiding
# Oor baie geslagte heen in ons westerse wêreld is teologie as die "koningin van die wetenskappe" beskou. Dit was díé bron van gesag en die maatstok waarmee min of meer alles gemeet is. Die Bybel was nie net in die wakis nie, dit is gelees, en was die fondament van geloof, en die hart van lewensoortuiging en -gerigtheid van baie.
Maar in die moderne era het die natuurwetenskappe sewe-myl-treë vooruit gegee. Geleidelik het dit oorgeneem as die sentrale riglyn vir meeste mense se lewens- en wêreldbeskouing. Beheersend oor amper die volle spektrum van filosofie en skeppingsleer, is die leer van Darwinistiese evolusionisme. En in die gesekulariseerde wêreld van ons dag gee dit steeds die toon aan.
Dit alles het meegebring dat daar tragiese verwarring onder selfs Christene ontwikkel het oor die betroubaarheid van die Woord van God. Want, so word gedink, reeds deur die heel eerste twee van die Bybel se 1189 hoofstukke trek die alwetende en almagtige wetenskap van ons dag 'n minagtende en grynslaggende swart streep: Die Bybel is 'n fabel! Ons kry die boodskap in die media, in die skole, in die universiteite – noem maar op.
# Hoe hanteer ware Christene dit? Hoe maak hulle hul kinders groot? Wat sê hulle vir jongmense wat na hulle eerste universiteitsjaar nie meer wil saamgaan kerk toe nie? Wat maak hulle van Jan Publiek se skeptiese oë en meewarige glimlaggies as hulle probeer evangeliseer?
# Uiteraard moes ek ook maar met hierdie vrae worstel. En in wat volg deel ek met beskeidenheid my oortuigings oor hoe ek die verhouding tussen die Boek van die Skriftuur, en die Boek van die Natuur verstaan, en hoe ek die twee met mekaar versoen.
Party geleerdes – selfs dalk Christene – sal my aanslag en argumente soms as naïef en oningelig afmaak. En baie konserwatiewe Bybelgelowiges sal my as Bybelkrities afmaak. Maar dít weet ek, ek hoef nóg in die kring van Christengelowiges, nóg midde-in die mees bitsig-ongelowige wêreld, my hoed oor my oë te trek.
# Laat ek sommer dadelik met die deur in die huis val. Vir baie jare reeds is ek oortuig van 'n ou skepping – met ander woorde veel, veel ouer as 6000 jaar.
Ek het steeds kompromieloos geglo dat die eerste twee hoofstukke van die Bybel God se geïnspireerde Woord is. Ek het eweneens geglo dat die Bybel en die natuurwetenskappe heeltemal versoenbaar is; trouens, móét wees!
Maar in 'n baie vol en bedrywige lewe het 'n in-diepte eksegetiese bestudering van Gen 1-2 net nooit vóór genoeg in my prioriteitstou gestaan nie.
My omstandighede het egter verander. Meer tyd vir so 'n fassinerende studie het mettertyd gekom. En my verstaan van Gen 1-2 volg hierna in nommers R018.02 & R018.03.
# In my studie het ek 'n doelbewuste benadering gevolg: Ek het redelik in diepte na Gen 1-2 gekyk – en daarna alléén.
Hoewel ek het gepoog om so neutraal moontlik na die Bybelteks te kyk, is totale neutraliteit in enige studie amper onmoontlik. Des te meer in my geval. Ek het 'n té sterk natuurwetenskaplike en ingenieursagtergrond. Maar nogtans het ek gepoog om so goed ek kon bloot die vraag te vra: Wat sê God se Woord?
# In híérdie huidige artikel probeer ek net om bloot 'n klompie basiese oortuigings, uitgangspunte en bepeinsinge – selfs mymeringe – oor die hele saak onder woorde te bring. Dít is my basiese vraag: Wat is die verhouding tussen skriftuur en die natuur?
'n Paar aanhalings, 'n belydenis, 'n verduideliking en 'n getuienis
'n Eerste aanhaling
Die groot Nederlandse geleerde en staatsman, Abrahan Kuyper (1837-1920), het gesê (ek kwoteer dit asof my eie woorde): "Al die skrywers van die Bybel is beweeg en gestuur deur die Heilige Gees sodat elke bladsy van God se Woord só onveranderlik en foutloos neergeskryf is dat dit so goed soos 'n direkte skepping van God is. ... Die Skrif is God se Woord, sowel in sy geheel as in sy dele. Dit is woordeliks geïnspireer, nie meganies deur 'n influistering in 'n mense-oor nie, maar organies – deur die woorde te laat ontspring vanuit die betrokke skrywer se eie bewussyn en deur gebruik te maak van daardie woorde wat voorhande was in die skrywer se denke en gees." [1]
'n Persoonlike belydenis
As ek na die natuur kyk, des te meer in die lig van die nuutste natuurwetenskaplike ontdekkings, sien ek tot só 'n oorbluffende mate die vingerafdrukke van 'n ewige, onveroorsaakte Oorsaak en almagtige Skepper, dat, as dit sou blyk dat die Drie-enige God wat Hom in Jesus Christus aan ons geopenbaar het, níé die ware Outeur is nie (ondenkbaar!), sal ek van voor af na 'n ánder Skepper begin soek. Want dis oorweldigend en onontkombaar seker dat Hy ís!
'n Verduideliking
Ek het geen ambisie om oor hierdie dinge iets nuuts te sê nie. Ek het geen ambisie om 'n geleerde studiestuk, 'n akademiese verhandeling te skryf nie. Ék wil bloot verstaan hoe die skriftuur en die natuur met mekaar rym. Ek wil vrede in my gemoed kry. En ek wil in staat wees om vrymoedig met sowel gewone Christengelowiges (en baie geleerde teoloë), asook met natuurwetenskaplikes (gelowig én ongelowig) te kan gesels.
Per slot van rekening deel ek die oortuiging van Elizabeth Barrett Browning: "Earth is crammed with heaven, and every common bush afire with God".
'n Tweede aanhaling
"Op hierdie terrein (die van die natuur) moet nie te haastig iets in stryd met die Skrif geag word nie, en moet 'n mens nie saampraat, voordat jy nie ernstige studie gemaak het nie – anders kan jy jouself deur jou onkunde belaglik maak in die oë van die ongelowige wetenskap." [2]
As dit 1600 jaar gelede woorde van groot wysheid was, is dit vandag 'n honderd maal meer die geval.
'n Derde aanhaling
Vir seker sal party van my Bybelgelowige broers en susters wat lees wat ek vorentoe skryf (ook in my studies oor Gen 1-2), bekommerd raak oor my geloofsregsinnigheid. Daarom haal ek 'n paar sinne aan uit Charles Hodge (1797-1878) se drie-volume Systematic Theology (gepubliseer in 1872/73). Hodge was een van die grootste teoloë in die geskiedenis. Hy was 'n onkreukbaar-regsinnige Bybelgelowige, en was reeds 'n eeu-en-'n-half gelede vas oortuig dat wetenskap en Bybel, reg verstaan, nie in disharmonie is nie. Hy was hy gekonfronteer deur Charles Darwin se On the Origen of Species (1859), en het baie duidelik daarmee geworstel. Dit het hy, anders as sovele ander, met groot intellektuele en akademiese integriteit gedoen. So het hy, in 'n tyd toe amper deur die bank geglo is dat die aarde net 'n paar duisend jaar oud is, nooit paniekerig of selfs venynig gereageer toe geoloë, byvoorbeeld, begin verkondig het dat die aarde baie, baie ouer is nie.
So skryf Hodge dan: "It will (one day) be found that the first chapter of Genesis is in full accord with the facts, and that the last results of science are embodied on the first page of the Bible. It may cause the church a severe struggle to give up one interpretation and adopt another, as it did in the seventeenth century [3], but no evil need be apprehended. The Bible has stood, and still stands in the presence of the whole scientific world with its claims unshaken." [4]
+ Miskien kan ek hier noem dat ek my standpunt oor 'n ou skepping deel met talle uitstaande en regsinnige Bybelgelowiges in die resente geskiedenis en hedendaagse teologiese en kerklike wêreld van ons dag. Almal wat ek noem is predikers en teoloë.
Ek noem enkele bekende en gerespekteerde name: B.B. Warfield, R.A. Torrey, C.S. Lewis, Francis Schaeffer, Billy Graham, J.I. Packer, Wayne Grudem, Millard Erickson, Norman Geisler, William Lane Craig, Alvin Plantinga, Walter Kaiser, John Piper, Tim Keller.[5]
Natuurlik is ek goed bewus daarvan dat ander ewe bekwame en beroemde teoloë 'n sewe kalenderdae skepping huldig. Ek haal bloot bogenoemde name aan om te toon dat daar vir seker ook 'n sterk saak uitgemaak kan word vir 'n ou skeppingsbeskouing, sonder om die algehele betroubaarheid van die Skrif onder verdenking te plaas.
+ Wat my wel die hoenners in maak, is as aanhangers van 'n sewe kalenderdae skepping almal wat in 'n ou skepping glo, onder verdenking plaas deur te suggereer dat hulle Darwinistiese ewolusionisme aanhang (per implikasie ongeloofsewolusie) – want dit is alles behalwe waar!
Les bes is die ou skeppingsbeskouing, anders as die sewe dae beskouing, nie belas met die aanklag dat dit feitlik die ganse natuurwetenskaplike konsensus geringskat nie.
'n Getuienis
My dieper kyk na Gen 1-2 was en bly vir my 'n wonderlike bydrae tot my groei in Godskennis. Om te dink dat hierdie aarde wat iewers op die rand van die heelal lê – 'n stoffie in die sonnestelsel, wat 'n stoffie in die melkweg is, wat 'n stoffie in die heelal is, wat 'n stoffie in die ewig-ongeskape Skepper se handpalm is – in die hart van sy plan is om Homself te verheerlik! Kan dit wees dat ék, 'n stoffie op hierdie stoffie wat ons aarde noem, bevoorreg is om Hom te ken en lief te hê en te verheerlik!
My dieper besinning oor die skeppingshoofstukke in Genesis en redelik wye opleeswerk oor hierdie onderwerp, het my geloof in, my lof vir, en my aanbidding van die Drie-enige God wonderlik verryk – want al drie Persone van die Godheid was en is steeds betrokke by die skepping en instandhouding van die heelal. Keer op keer droog my woorde op as ek in oorstelpte verwondering en liefdesaanbidding in sy teenwoordigheid verkeer.
Ek het allermins in hierdie ontdekkingstog gearriveer, inteendeel. As ek die lewe en gesondheid behou, hoop ek om nog talle kere verras en verryk te word met nuwe insigte. Daarom is dit wat ek vorentoe skryf nie in beton gegiet nie. Daar sal seker nog baie aanpassings, regstellings en byvoegings kom – en selfs dalk belydenisse.
Les bes, mag my ontdekkingstog dalk (wie weet) net 'n paar medegelowiges help in húlle soeke na klarigheid oor 'n saak wat baie aktueel geword het. Dalk mag dit studerende jongmense help om perspektief te behou onder die geklank van ongeloofskateders. Mag dit 'n hupstoot verleen aan ons roeping om lig en sout te wees in 'n ontnugterde samelewing waarin die kerk meermale die pad byster is – en soms ook skuldig is aan dit waarteen Augustinus hierbo waarsku. Dalk mag dit ouers help in die koersgewing van hulle kinders in 'n gesekulariseerde wêreld (sommige wat hier lees sal dalk dink dit sal 'n hulp vanaf die wal tot in die sloot wees; maar ek verstout my om eerder te hoop dat dit 'n hulp vanuit die sloot tot bo-op die wal sal wees.)
Persoonlike geloof, oortuigings en uitgangspunte
1. Wat ek hieronder skryf, skryf ek skaamteloos, vanuit sterk oortuigings – Christelike en Bybelse oortuigings. Ek weet dat daar oor my onderwerp uiteenlopende oortuigings bestaan – wat meermale gepaardgaan met sterk en vurige opinies. Maar dikwels, trouens meestal, is dit niks méér as net opinies en sentimente nie.
Maar in die finale analise moet elke leser self besluit wat hy of sy maak van dit wat ek probeer oordra. Dis immers elkeen se prerogatief en verantwoordelikheid – onontkombaar.
2. Dit gaan egter oor meer as oortuigings. Dit gaan oor méér as die intellektuele. Ek is 'n Christen, 'n dissipel van die Here Jesus Christus. In Hom alleen skuil ek vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. Al vir vyftig jaar as ek hier skryf. Dis die hart van my bestaan. Niks is belangriker nie. Dit hou uiteraard in dat ek 'n Bybelgelowige is. Ek glo die Bybel is die geïnspireerde Woord van God – van Gen 1:1 af tot en met Op 22:21. En uiteraard het dit enorme en lewensbepalende implikasies vir my.
Om bogenoemde te glo, is egter één saak; om alles te verstáán, 'n ander saak.
3. Vir Christene is waarheid uiters belangrik. Ons is mense van die waarheid. Geen waarheid kan ons daarom ooit bedreig nie. Nóóit hoef ons waarheid te vrees nie! Nooit nie!
As ons dan inderdaad in Christus is, is ons veranker in Hom wat die weg die waarheid en die lewe is. En indien dit wat navorsing in die natuurwetenskappe aan die lig bring dan inderdaad die waarheid is (dit bly natuurlik altyd die vraag), kan dit ons en ons geloof in die Skeppergod en sy waarheidswoord nóóit bedreig nie – net verryk. En dit kan ons net dieper inlei in die summum bonum van ons bestaan: Om God steeds beter te ken – sodat ons Hom steeds meer lief kan hê – sodat ons Hom steeds meer kan verheerlik!
Een stel waarhede kan nooit 'n ander stel waarhede kanselleer of verplaas nie – net bevestig en ondersteun. Waarheid én waarheid is altyd in harmonie. Ek praat uiteraard van "ware waarheid." Christene hoef die natuurwetenskappe nooit te vrees nie – in elk geval nie as dit die geskapene reg verstaan nie!
4. Nog iets speel noodwendig 'n groot rol in my lewe.
Ek het meer as 'n dekade se universiteitstudie agter die blad, min of meer gelykop verdeel tussen die natuurwetenskappe en ingenieurswese, enersyds, en die klassieke tale (so 'n blerts daarvan) en teologie, andersyds. Nou mag dit vir party mense klink of ek 'n geleerde man is. Glad nie! Daarvoor is daar nog veels te veel wat ek nie weet of verstaan nie. Daar is baie wat ek só graag beter wil begryp, maar keer op keer vind dat ek eenvoudig verstandelik nie bykom nie. My grysstof is eenvoudig te min.
Ek is egter nuuskierig en ek hou van verstaan. En ek het 'n passie vir die waarheid. Ek het veral 'n hartstog vir die regte verstaan van God se selfopenbaring aan ons. Ek wil Hom meer en beter leer ken! Daarom wil ek ten alle koste nie 'n pypiekyker wees nie! Dit kon ek in elk geval nog nooit regkry nie. Ek raak maklik benoud as dinge te eng en bekrompe raak (dit het my al meermale ernstig in die moeilikheid laat beland!).
Les bes het die Here Jesus Christus my baie jare gelede geroep om Hom en sy waarheid so goed ek kan te ken en te verstaan, en om dit dan so wyd moontlik te verkondig – óf deur die gesproke óf deur die geskrewe woord.
Gegee my agtergrond en my nuuskierigheid, is dit seker nie verbasend dat ek gefassineer is deur die skepping nie. Maar my heel diepste hartstog is die Woord van God – nee, eintlik die Gód van die Woord. Daarom wy ek my al vir dekades aan die verkondiging van Bybelwaarheid – deur sowel prediking as skryfwerk.
5. Ek is absoluut oortuig daarvan dat God se besondere openbaring in die Heilige Skrif en Sy algemene openbaring in die mikro- en makroskepping, mekaar nie weerspreek nie. As ons beide reg verstaan, sal die twee openbaringe in volkome harmonie wees. As skriftuur en natuur nog uit pas is in ons verstaan daarvan, is dit omdat ons óf die een. óf die ander, óf beide nog nie reg begryp nie. Dit staan vir my aksiomaties vas! Waarom? Vir my lyk die antwoord voor die hand liggend en onontkombaar.
Dis omdat die enige, ware, lewende en almagtige Skeppergod die Maker en Gewer van beide is!
Ek stel die eerste sin hierbo doelbewus negatief. Want die twee openbarings se aard is verskillend en hulle het grootliks uiteenlopende gerigthede. Hulle praat grootliks oor verskillende sake. Daar is nie baie oorvleueling nie. En tóg is daar wel raakpunte. Dis met die eerste oogopslag maar gering, maar soos mens meer daaroor nadink, meer daaroor oplees, en meer insig verkry, kom jy agter dat die oorvleuelings kardinaal belangrike sake aansny – wesentlike en lewensbelangrike sake.
Dis waarom dit so belangrik is om Gen 1-2 reg te verstaan!
+ 'n Aanhaling van die Bybelgelowige Charles Hodge is hier gepas. Sy nugterheid en gesonde verstand blyk duidelik as hy skryf: "It is of course admitted that, taking [the Genesis creation] account by itself, it would be most natural to understand the word ["day"] in its ordinary sense; but if that sense brings the Mosaic account into conflict with facts, and another sense avoids such conflict, then it is obligatory on us to adopt that other ...The Church has been forced more than once to alter her interpretation of the Bible to accommodate the discoveries of science. But this has been done without doing any violence to the Scriptures or in any degree impairing their authority." [6]
Let op, wat Hodge hier sê, is dat ons nie maar sommer wetenskaplike bevindings moet geringskat en afskryf nie. Sy implikasie is duidelik: Laat ons as Bybelgelowiges maar nederig wees as óns vertolking van die Skrif en die bevindings van die wetenskap mekaar weerspreek. Laat ons onsself dan in eerlikheid afvra of ons inderdaad die Skrif reg verstaan.
Hodge gaan dan voort om sy geloof in die Bybel se inspirasie en gesag te bevestig. Maar dis één saak. Of ek die geïnspireerde en daarom gesagvolle Woord van God rég verstaan, is egter eweneens 'n noodsaaklike vraag. En dis 'n baie gesonde en volwasse vraag om maar gedurig te vra. Les bes sê Hodge dat ons die getuienis van die algemene openbaring, en dus van verantwoordelike wetenskap, ernstig moet opneem.
En gewis was hy reg. Ek is van harte eens met hom.
+ Ek meen dat meeste nugter, ingeligte en verantwoordelike gelowiges, sedert die natuurwetenskappe sterk begin ontwikkel het, dit nie geringskat nie. Die miskenning van die wetenskap m.b.t. die ouderdom van die skepping op so 'n groot skaal soos vandag, is 'n relatief onlangse ontwikkeling.
So begin Thomas Key sy goeie artikel, How Long Were The Days of Genesis?: "Since the Darwin Centennial of 1959, there has been a growing enthusiasm among Bible believers for Young Earth interpretations of creation. Prior to 1959, fundamental and conservative Bible scholars, ministers, and others commonly accepted Old Earth interpretations."
Bogenoemde kommentaar het in die eerste instansie betrekking op Amerika, en geld veral daar in die kringe van die wydverspreide fundamentalistiese kerke. Maar ook wat hierdie saak betref, geld die gesegde: As Amerika nies, kry die res van die wêreld verkoue (en ongelukkig sluit dit Suid-Afrika baie dikwels in).
6. Ons leef in 'n wêreld wat die Christelike geloof en norme toenemend verwerp. Die akkuraatheid en betroubaarheid van die Bybel is één van die kwessies aan die hart van hierdie verskuiwing.
Die persepsies is dat die wetenskap klinkklaar sou bewys dat dit onsinnig is om nog aan die Bybel vas te hou. En niks is 'n sterker dryfveer van hierdie tragedie, as die wyd-verspreide en ateïstiese idee dat Darwinistiese Evolusionisme onbetwisbaar en finaal afgereken het met die fundamentele aandrang van die Bybel dat God die hemel en die aarde geskep het. As sodanig word veral Gen 1-2 as 'n mite beskou.
Die harmonie tussen Algemene Openbaring en Besondere Openbaring word dus totaal-en-al verwerp – selfs al word een of beide aanvaar. En dit word amper deur die bank dwarsoor die spektrum van opvoedkundige inrigtings geleer.
Gevolglik gooi derduiduisende die Christelike geloof teen 'n toenemende tempo oorboord. Dit geld veral jonger en goed-opgeleide mense.[7]
+ Soos Meyer in die video waarna ek in die voetnota verwys tereg sê, is daar natuurwetenskaplike ontdekkings oor die afgelope eeu wat ateïstiese Darwinistiese Makro-volusionisme logies onhoudbaar maak.
Dit geld veral 3 ontdekkings:
= Die heelal het 'n begin gehad, oënskynlik in 'n enkele moment.
= Die aarde vertoon, wat dosyne onmisbaar-noodsaaklike eienskappe betref, verbysterende klein toleransies waarbuite alle lewe van die begin af onmoontlik sou wees (Eng: "The universe has been extremely fine-tuned for life from the very beginning.")
= Die ontdekking van verstommende digitale kodering in ons DNA . Dit maak dit onmiskenbaar duidelik dat lewe "ontwerp" is.
+ Meyer haal dan die wetenskaphistorikus, Frederick Burnham aan: "The idea that God created the universe is a more respectable hypothesis today than at any time in the last 100 years."
Meyer self stel dit nóg sterker: "The postulation of a trancendant, intelligent and active Creator (the kind of Creator we find in the Judeo-Christian Scriptures) provides the best overall explanation for biological and cosmological origens (i.e. where everything came from). ... This creates a kind of Renaissance in the field of Apologetics in our day."
7. Hierdie harmonie tussen skriftuur en natuur staan ten diepste in diens van ons Skeppergod se verheerliking (die summum bonum van ons bestaan). Gevolglik het dit te doen met die egtheid, meer nog, die gespierdheid van ons Bybelgeloof, asook die outentisiteit van ons getuienis in 'n grootliks Godvervreemde samelewing. 'n Verkeerde verstaan van hierdie verhouding tussen skriftuur en natuur – weerspreking i.p.v.omhelsing – het al, soos reeds gesê, derduisende mislei om die Woord as onbetroubaar te verwerp.
+ Dit verlei ongelukkig baie opregte, maar oningeligte gelowiges om talle onbetwisbare, oorkruisbevestigende, en 'n duisend keer oorgetoetse bevindings van die natuurwetenskappe sommer maklik-maklik af te maak as verkeerd. Dis veral 'n gesindheid van onkundige en fundamentalistiese Christene wat halstarrig-konserwatief daarop aandring om omtrent alles in die Bybel letterlik te verstaan – en dat die skepping dus 6000 jaar oud is. In die proses weier hulle om óók na die wonderskone en Godverheerlikende musiek van die algemene openbaring te luister. Dis niks anders nie as 'n volstruisbenadering. En dit doen ontsaglik baie skade!
Ons kan eenvoudig nie alles in die Bybel letterlik wil lees nie; die Heilige Skrif is geskryf in talle genres, en maak oor en oor gebruik van, noem dit maar, beeldspraak.
8. Wat ek in paragraaf 6 skryf, gaan al hoe meer belangrik raak. Ons beleef 'n ontploffing van die mens se verstaan van die mikro- en makrokosmos. Soos ek reeds hierbo gesê het (en Charles Hodge lank voor my), hoef hierdie nuwe insigte in die wetenskap Bybelgelowiges nie te bedreig nie.
Wat die skeppingsmusiek steeds mooier en aangrypender maak as ooit vantevore, is die huidige ontdekking ná ontdekking van die natuurwetenskappe wat die lewende Skepper se lof al hoe duideliker besing. En elke keer word nóg 'n spyker ingeslaan in die doodskis van ateïstiese Darwinistiese ewolusionisme. Waarlik, om 'n gelowige in hierdie dae te wees, is 'n uitnemende voorreg. Na baie jare se intimiderende en intellektuele aggressie teen Christene se Bybelgeloof, word van die mees gesofistikeerde en verstommende ontdekkings in ons dae kragtige bondgenote in ons geloofsgetuienis.
+ As 'n ouer kan jy egter jou kop op 'n blok sit dat jou kinders wat in die natuurwetenskappe en filosofiese dissiplines gaan studeer met ongelowige Darwinisme van baie slim (en "baie slim") dosente te doen gaan kry. As sulke kinders op hoogte is met die wonderlike harmonie tussen skriftuur en natuur – en veral met ontwikkelinge hieroor die afgelope dekades – sal dit hulle harnas in die geloof wat hulle in die huis geleer het (dit mag hulle dalk ook ongewild maak by wetenskaponderwysers en -dosente wat nog vasgeval rondmaal in dit wat hulle dertig jaar of langer gelede geleer het). Waarlik, ons kinders en kleinkinders moet alreeds so gespierd móóntlik wees as hulle grootogig op kampusse aankom.
Tragiese skade word egter steeds gedoen aan talle jongmense wat opgevoed word in tradisionele Christenwaarheid en -waardes, maar dan gekonfronteer word met allerlei geleerde en indrukwekkende ongeloofstandpunte as hulle die ouerhuis verlaat. Dit lei daartoe dat talle die geloof versaak.
Máár al sou nie almal die rug draai op die Here en sy Woord nie; talle raak bloot ontnugter. Hulle begin waggel tussen geloof en twyfel. En 'n onsekere Christen word 'n louwarm Christen. En oor diesulkes spreek die Here homself in geen onduidelike terme uit nie (Op 3). Uiteindelik doen sulke "Christene" meer skade aan die eer van die Here en die welsyn van die kerk as selfs die uitgesproke godloënaars. Helaas sit kerke vol sulke lidmate.
Waarlik, baie nodig het ons ouers, dosente en onderwysers wat die harmonie tussen skriftuur en natuur behoorlik en met wysheid, takt en insig aan hulle kinders, leerlinge en studente kan oordra. Dis 'n wonderlike manier om 'n deur vir die evangelie oop te maak.
9. Teenoor bogenoemde is die situasie tog stadig aan 't verander in akademiese kringe, veral natuurwetenskaplike kringe. Sommige top wetenskaplikes kom – weliswaar drupsgewyse – tot die oortuiging en verklaar dit openlik dat ontwikkelinge oor die afgelope klompie dekades inderdaad daarop dui dat daar sonder enige twyfel 'n onbeskryflik-magtige en intelligente Ontwerper en Skepper vir die ontstaan van sowel die mikro-kosmos as die makro-kosmos verantwoordelik is. Eintlik het die proses al, baie stadig, 'n honderd jaar gelede begin met Einstein se formulering van sy relatiwiteitsteorie, en ander ontwikkelings kort daarna. Dit het onteenseglik bewys dat die kosmos nie ewig is nie (soos algemeen geglo word in natuurwetenskaplike kringe), maar 'n ontstaan gehad het. En dit is natuurlik net 'n halftree weg van die vrae: Wie het dan die kosmos geskep? Hoe is dit veroorsaak? Waar kom dit vandaan?
Maar soos dit met dié soort ding gaan, vat dit lank om deur te suur tot op straatvlak. Want fanatiese Darwinistiese ewolusioniste doen alles in hul vermoë om die proses te stuit. Maar die nuwe insigte is egter wel 'n skeurploeg wat in God se genade party denkers se ongeloofsharte begin omdolwe. Nie almal aanvaar die Christelike geloof nie. Talle kom nie verder as die deïsme [8] of agnostisisme [9] nie. Dit was volgens aanduidings die geval met Einstein. En in ons dag verklaar Michael Denton, die bekende skrywer van die grondbrekende boek, "Evolution – A Theory in Crisis" (waarin hy "Intelligent Design" verdedig), dat hy steeds 'n teruggeglye Christen, en op die rand van agnostisisme is.
Maar ek wil graag glo en vertrou dat meer van hierdie mense uiteindelik wél tot 'n lewende Bybelse en evangeliese geloof sal kom. Sommige het al. Waarom nie meer nie?
10. Uiteenlopende, selfs vurige oortuigings oor die verstaan van veral Genesis 1-2 is aan die orde van die dag onder Christene. En dikwels kry mens die indruk wanneer daaroor gedebatteer word dat daar meer hitte as lig is. Ek praat van "hitte", want meermale ontaard 'n gesprek oor die saak in 'n onverkwiklike, bitsige en Godonterende gestry. So hoort dit nie tussen Christene nie! Daarmee wil ek egter nie sê dat ons tema 'n eenvoudige en onbelangrike saak is nie, allermins.
Dit is helaas so dat ons as mense dikwels maar té geneig is om klippe te gooi oor sake wat ons nooit werklik deurdink of nagevors het nie. My waarneming is dat die meeste gelowiges nog nooit in diepte oor ons onderwerp nagedink of nagevors het nie. Ek was al meermale in gesprek met gelowige en gevorderde natuurwetenskaplikes oor ons onderwerp, maar min van hulle het 'n ingeligte, verantwoordelike en gewortelde standpunt oor die verhouding tussen die wetenskap en die geloof. En ek is bevrees, dieselfde geld ook van té veel teoloë.
En vir baie van die wat wel daaroor gewonder, is 'n volstruisbenadering uiteidelik die beste oplossing waartoe hulle kan kom. Hulle besluit om hulleself liewers nie moeg te maak oor kwessies wat hulle grysstof te veel uitdaag nie. Dis soveel makliker om sulke dinge maar so gou as moontlik te systap en te vergeet.
Natuurlik, ek verstaan dit goed, nie alle Christene het 'n aptyt vir die dinge waarmee ek stoei nie. Dis goed so. Maar moet jou dan nie aanmatig om vurige standpunte uit te spreek oor dit wat jy nie behoorlik onder die knie het nie. Nederigheid is deel van die vrug van die Gees. Nog meer, ek het 'n oom geken wat altyd gesê het: " 'n Toe bek is 'n heel bek! As jou pypie leeg is, hou maar jou teppie styf toe."
Maar uiteindelik bly ek oortuig daarvan: Dis belangrik, baie belangrik, dat Christengelowiges (en -wetenskaplikes) "hulle eendjies in 'n ry moet kry".
11. My standpunt huldig ek in nederigheid. Want alles is nie klinkklaar nie, allermins in my gemoed, maar ook nie in ons verstaan van die skriftuur en die natuur nie.
Ek is oud genoeg om te weet dat, soos meer lig op mens daag, oortuigingverstellings soms onafwendbaar is. Soms is dit nie maklik nie, maar wanneer dit wel gebeur, staan jou voete daarna op hoër grond. In my lewe is sulke "reformasies" nie onbekend nie; inteendeel.
Natuurwetenskaplike ontdekkings raak al hoe meer verbysterend. En die tempo daarvan neem toe. Sou die Here talm om te kom, gaan mense oor vyf, ses dekades in 'n wêreld leef waarvan ons oueres tans geen benul het nie (dink maar vyf, ses dekades terug!). Wetenskap en tegnologie gaan grootliks daarvoor verantwoordelik wees. En laat ons nie té seker wees dit gaan nie verdere copernikaanse omwentelings meebring nie. Dit waarby die wetenskaplike wêreld vandag staan en val, mag nog weer radikale verstellings ondergaan.
En ons kleinkinders en agterkleinkinders sal glimlag oor oupa en ouma se naïwiteit!
Slotsom
Niemand hoef egter te vrees dat die wetenskap God se Woord van die tafel sal afvee nie. Ek is oortuig daarvan dat dit net die waarheid van die Skrif meer en meer sal bevestig. Dit mag wel ons nageslag laat teruggaan Bybel toe om te kontroleer of oupa en ouma dinge reg verstaan het. Sou hulle dan vind dat ons nie alles behoorlik in fokus gehad het nie, sal díé onder hulle wat tóg wysheid het vir mekaar sê: "Húlle mag dalk nie al ons insig gehad het nie, maar laat ons steeds onthou, óns staan op hulle skouers.
Die wetenskap is Bybelgelowiges se bondgenoot
nie hulle vyand nie
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev
[1] Uit 'n toespraak van Kuyper: "De hedendaagsche Schriftcritiek in hare bedenkelijke strekking voor de Gemeente des levenden" — Litterarische Fantasieen and Kritieken XV, 167.
[2] Aurelius Augustinus, 354-430 nC: De genesi ad litteram.
[3] Hodge verwys hier na Copernicus wat in 1543, en Galileo, wat in 1632 getoon het dat die son nie om 'n plat aarde roteer nie, maar dat 'n bolvormige en roterende aarde om die son roteer. Hierdie nuwe insigte was natuurlik strydig met wat vir eeue vers en kapittel op grond van 'n letterlike vertolking van 'n hele klompie Bybelverse geglo is. Vandag weet ons dit is poëtiese uitdrukkings, oftewel beeldspraak in die Bybel. Lees maar die geskiedenis, en jy sal sien dat die genoemde twee manne nie baie gewild was in die kerk van destyds nie.
[4] Hodge 1872, p.171.
[5] Kenneth D. Keathley & Mark F. Rooker: Forty Questions about Creation and Evolution; Q20: What are the Evidences that the Universe is old?; Kregel; 2014.
[6] Aangehaal deur C. John Collins, Science & Faith, Friends or Foes?; p.81.
[7] Ek wil die leser aanmoedig om na hierdie hoogs-betekenisvolle video-opname te kyk: Stephen Meyer: Has Humanity Forgotten God? (2023 Dallas Conference on Science and Faith): https://youtu.be/v7rBc86tYSc
[8] Deïsme is die geloof in 'n oppermagtige, maar onbekende en afsydige godheid wat wel geskep het, maar onbetrokke is by hierdie wêreld en die gebeure daarin. Hy is wel die Skepper maar nie die Bestuurder van die heelal nie.
[9] Naby verwant aan Deïsme. Die beskouing dat, as daar dalk 'n God is, ons niks oor Hom of die hiernamaals weet nie.