PDF WEERGAWE

Wat vir die verstaan van enige Skrifgedeelte geld, is ook waar van Gen 1-2. Daar is ten minste 5 elemente wat mens in ag moet neem:

            Eerstens die historiese konteks en geadresseerdes.

            Tweedens die genre of literatuursoort.

            Derdens die struktuur en uitleg van die teks.

            Vierdens wat presies sê die teks vir die geadresseerdes van destyds?

            Vyfdens wat sê dit vir my en vir ons, mense van die een-en-twintigste eeu?

#          Bogenoemde mag baie omslagtig klink, maar as jy net 'n doodnormale Bybelleser is, moet jy bloot aanleer om dit voortdurend asof vanself te doen. Dit hoef niks ingewikkeld te wees nie. Meestal is die antwoord só voor die hand liggend dat jy dit sommer in jou agterkop weet. Maar jy móét dit in ag neem. Neem byvoorbeeld die boek, Psalms. Enigeen weet jy het meestal met poësie te doen. Of Spreuke, wat wysheidsliteratuur is. Die belangrikste literatuursoorte of genres in die Bybel is: Geskiedenis. Preke. Briewe. Formele wetgewing. Poësie. Wysheidsliteratuur. Profesie. Apokaliptiek. Elkeen moet volgens sy eie aard verstaan word.

            Kom ek stel dit nóg eenvoudiger: Vra eerstens die vraag: Wat het die teks destyds vir die lesers beteken? Volg dit dan op met die vraag: Wat beteken dit vir ons vandag?

#          Ons is baie geneig om die eerste twee elemente hierbo af te skeep en direk met nommers drie tot vyf aan te gaan. Dikwels maak dit nie sóveel saak nie, maar soms is dit baie belangrik as jy hoegenaamd die Bybel reg wil verstaan.

            Hier in ons twee hoofstukke is dit byvoorbeeld uiters noodsaaklik dat ons goed rekening moet hou met die historiese konteks en die literatuursoort. Verwaarlosing hiervan het veral die afgelope dekades, baie skade gedoen deur tot verkeerde vertolkings te lei. En dis steeds aan die orde van die dag. Ons moet dus deeglik aandag daaraan gee – veral as na die skeppingsdae van Gen 1:3 gekyk word.

Eerstens, die historiese konteks en geadresseerdes

Die skrywer: Wie het die Pentateug geskryf – en dus ook Gen 1-2?

#          Dit word algemeen aanvaar dat die eerste vyf boeke van die Bybel in ongeveer die jaar 1440 voor Christus geskryf is, en wel tydens die uittog uit Egipte. Daar is ook mense wat dink in terme van 1260 vC.

#          Sowel die Joodse geloof as die Christelike kerk glo dwarsdeur die kerkgeskiedenis, van die eerste eeue af, dat Moses die pentateug geskryf het. Dit word algemeen aanvaar dat dit ook Gen 1-3 insluit.

            +          Daar is inderdaad sterk Bybelse getuienis dat Moses die outeur van die pentateug was. Niemand in daardie tyd was meer kundig en dus gekwalifiseerd om dit te skryf nie. Sekerlik was hy, te danke aan die voorregte van sy opvoeding in Egipte, die mees geleerde man onder die Israeliete – wat die vermoë om te skryf ingesluit het (Hand 7:22). En die inhoud van Eksodus tot Deutronomium sou hy amper alles vanuit eie ervaring kon beskryf.

            Daar is heelwat teksgetuienis in die pentateug dat Moses dikwels oor ervaringe en gebeure geskryf het (Eks 17:14; 24:4; 34:27; Num 33:2; Deutr 31:19; 31:24-26). Dat hy ten minste sekere dinge opgeteken het, word reeds deur Josua bevestig (Jos 1:7; 8:30-31).

            Ook die Nuwe Testament aanvaar Moses se outeurskap sonder meer (Joh 1:17; Rom 10:5; 2 Kor 3:14-15).

            Maar, en hierdie kwalifikasie staan vas vir 'n Bybelgelowige, dit het onder die verligtende en inspirerende leiding van die Heilige Gees geskied.

            +          Sekerlik het Moses, ten minste vir sommige gedeeltes, van bronne en oorgelewerde tradisies gebruik gemaak.

#          Vir wie het Moses geskryf? Vir die mense van sy tyd.

            +          Genesis is geskryf vir mense met 'n lewensuitkyk en kultuur van daardie tyd.

            Calvyn het dit korrek gesien. Hy skryf iewers: "Die Bybel is 'n boek toeganklik vir elkeen, en Moses het daarom sy skryfwerk by algemene gebruik aangepas."

            Wie dit nie voortdurend voor oë hou nie, dwaal onvermydelik kort voor lank in sy verstaan van Gen 1-2.

            +          As die klomp Israeliete die woestyntog aanpak na die land wat aan Abraham beloof is, het hulle reeds 4 eeue in Egipte agter die rug. Al Godsopenbaring wat hulle het, sover ons weet, is mondelinge oorlewerings van dit wat die aartsvaders eeue vantevore ontvang het – ook maar uiters beperk in vergelyking met dit wat Moses in die woestyn sou ontvang.

            Voeg daarby dat hulle waarskynlik grootliks ongeletterd en ongeleerd is – eintlik net 'n slawegespuis. Daar kan min twyfel wees dat hulle lewenstyl min verskil het van die heidenvolkere om hulle. Van die lewende Verbondsgod het hulle bloedweinig geweet.

            +          Selfs die geleerde Moses moes weer en weer lewensveranderende ontmoetings met Jahweh ervaar om hom voor te berei om sy mense te leer.

            +          Maar dit het nie net oor begrip gegaan nie. Bes moontlik het die Israeliete al grootliks verval in die heidense aanbidding van Egipte. Mens sien dit byvoorbeeld in die insident van die goue kalf, wat soortgelyk was aan die praktyke van die  vrugbaarheidskultusse in Egipte (Eks 32:1-6).

            +          As die Israeliete by Horeb aankom, verskil hulle wêreldbeeld, lewenstyl en aanbidding beswaarlik dus van díé van die heidenvolkere rondom hulle.

            Die vyf boeke van Moses moes instrumenteel wees om die Hebreërs 'n volk van God te maak, met 'n Godgegewe Godsbeeld en aanbiddingskultuur.

            Dis vir hierdie mense wat Gen 1-2 in die eerste instansie geskryf is!

            As ons dit uit die oog verloor, gaan ons ons hoofstukke verkeerd vertolk – dinge daarin lees wat dit nooit wou sê nie.

            +          Daar het 'n formidabele taak op Moses gewag. Die volk moes radikale veranderings ondergaan. Godsdienstig moes 'n totaal nuwe gerigtheid en Godsbegrip gevestig word. 'n Nuwe roepingsbewustheid moes by hulle posvat, en 'n gansnuwe kultuur. Hulle moes ware aanbidding en moraliteit aanleer.

            Hulle is uit Egipte gehaal, maar Egipte moes nog uit hulle gehaal word.

            Die maande wat Israel by Sinai gestaan het, het hierin 'n sentrale rol gespeel. Dit moes daar in die afsondering van die woestyn gebeur. In Gosen met sy rugbrekende slawediens en al sy afgodery en ander invloede, sou die vestiging van so 'n totaal nuwe ingesteldheid menslik gesproke onmoontlik gewees het. In elk geval moes Egipte en alles waarvoor daardie kultuur gestaan het eens en vir altyd in vergetelheid agter hulle gelaat word.

            +          Maar méér was nodig. Die radikale verstellings wat by Sinai plaasgevind het, moes ook in stand gehou word. En presies dit was die funksie van die pentateug. Moses se vyf boeke moes van die Israeliete die volk van God maak – en hulle die volk van God hou.

#          Dis noodsaaklik om beide onderstaande waarhede vas te hou!

            +          Terwyl bogenoemde paragraaf belangrik is om in ag te neem, is die pentateug egter ook vir ons wat in die 21ste eeu leef geskryf.

            Laat ons dit nooit vergeet nie: die Bybel is óók vir alle geslagte geskryf.

            Dis nie net tydgebonde nie; dis ook tydloos.

            +          Die Bybel is nie net deur 'n gewone mens, Moses van destyds, geskryf nie; dit is ook bonatuurlik deur die Heilige Gees geïnspireer, sodat dit steeds relevant bly vir mense wat 'n duisend maal meer van die skepping weet as destyds se Israeliete (onthou, ons kyk na Gen 1:1-2). Die Here God het uiteraard geweet dat mense van die een-en-twintigste eeu óók die skeppingsverhaal gaan lees, en sal wonder hoe dit versoenbaar is met wat hulle op húlle beurt van die skepping weet.

Tweedens, die literatuursoort van Gen 1:1-2

#          Genesis is oorspronklik in Hebreeus geskryf, en die heel eerste woord daarvan is meteen ook die naam van die boek – die enkele Hebreeuse woord wat ons vertaal, "In die begin".

            Die naam "Genesis" is gegee deur die eerste vertalers van die Ou Testament in Grieks – dis Grieks vir "oorsprong".

#          Genesis 1:1-2 vertoon die trekke van gewone geskiedskrywing in prosavorm. Dit het dus inderdaad en werklik gebeur – net soos wat dit aan ons meegedeel word.

Derdens, 'n paar opmerkings oor die struktuur

Die verband tussen Gen 1:1 en Gen 1:2

#          Is verse 1-2 een of twee sinne? Dis 'n belangrike vraag. Op 'n manier hang die hele verstaan van ons twee hoofstukke van die antwoord af. Ons gee dus heelwat aandag hieraan.

#          Soos aangetoon sal word, is die OAV en NAV korrek as dit v. 1 en 2 twee verskillende sinne maak. Dit is die konsensus van alle gesaghebbende Bybelvertalings (vgl. ESV; NASB; NIV; KJV; NKJV).

            Dit geld ook die tradisionele vertalings: die Griekse Septuaginta, die Latynse Vulgaat en die Siriese Peshitta.

            Dis 'n korrekte verstaan van die Hebreeus. Vers 1 is 'n volledige sin, en v.2 'n volgende.

#          Sou mens dit as een sin vertaal, soos sommige van die vryer vertalings en parafrases (bv. Die Lewende Bybel; Good News Bible; The Living Bible),[1] word v.1 'n inleiding tot v.2. Dan skep dit die indruk dat die twee verse van 'n vormlose "iets" praat – min of meer soiets: In die begin toe God die hemel en die aarde geskep het, was die aarde woes en leeg en donker. En die Gees van God het oor die waters gesweef.

#          Suiwer grammatikaal is bogenoemde nuwer vertalings dalk, ek sê dálk, 'n moontlikheid, maar waarom vertaal feitlik alle gerespekteerde en betroubare vertalings v.1 en 2 apart (vandag en ook deur die geskiedenis)?

            Collins, 'n gerespekteerde kenner van Hebreeus en teoloog skryf: " ... the traditional one (translation) is what the Hebrew text actually says; you have to modify the text (be it ever so slightly) to get the newer version... the traditional rendering is good Hebrew grammar: it follows the conventions for giving us an event that took place before the main story ... and then telling us what the conditions were when the event in the main story get under way (that's what v.2 does).[2]

 

#          'n Belangrike waarneming: Die Skrif gee geen aanduiding óf, en hoe lánk v.1 en v.2 kronologies geskei is nie.

            Ook is daar geen aanduiding van hoe lank die Gees oor die waters gesweef het nie.

            Maar die Hebreeus wil amper vir seker suggereer dat v.2 die toestand was toe v.3, oftewel Dag 1 aangebreek het (vgl. Collins hierbo).

Die verband tussen Gen 1:1-2 en Gen 1:3vv

#          Die skeiding tussen v.1-2 en v.3 evv, is onmiskenbaar as jy behoorlik na die teks kyk.

            Die "hemel en die aarde" dui in v.1 op die ganse skepping, oftewel die ganse heelal (vgl. ook 2:4).

            Daarenteen fokus v.3vv op die "aarde" en sy "uitspansel" (v6-8). In v.8 word die uitspansel ook die "hemel" genoem. Die ESV sê dan in 'n voetnota dat die woord "heaven" ook met "sky" vertaal kan word. Ons kan dus aflei dat die "uitspansel" op die atmosfeer rondom die aarde dui.

            Verse 1-2 en die verse vanaf v.3 is dus verskillend gerig. Die eerste twee verse praat van die ganse kosmos. Vanaf v.3 word spesifiek op die aarde gefokus.

#          Die volgende stukkie Hebreeuse eksegese is ongelukkig 'n bietjie tegnies en sal dalk nie so maklik verstaanbaar wees vir lesers wat nie Hebreeus ken nie (ek impliseer nie ek is so 'n kenner nie; inteendeel. Maar ek weet darem watter naslaanwerke om te raadpleeg).[3] Dis egter kardinaal belangrik en in die finale analise deurslaggewend vir die regte vertolking van die verhouding tussen Gen 1:1-2 en Gen 1:3vv.

            Jy kan dit rustig oorslaan as jy wil, behalwe vir my kursiewe slotsom aan die einde van hierdie paragraaf.

            Ek sal dit nogtans so eenvoudig moontlik probeer verduidelik.

            +          In Hebreeus is daar verskillende werkwoordvorms. Elkeen vorm dra 'n bepaalde idee – 'n boodskap. Een so 'n vorm staan bekend as die "wayyiqtol-vorm" van die werkwoord.[4] Sulke werkwoorde het altyd 'n bepaalde Hebreeuse letter vooraan gevoeg – die letter waw. Dis aanduiding van 'n tydsdimensie en beklemtoon die hoofgebeure waaroor dit eintlik gaan.

            Werkwoorde sónder die waw skets die agtergrond, die dekor wat reeds in plek is voordat die hoofgebeure plaasvind – die wayyiqtol-verse.

                        =          Collins skryf in genoemde kommentaar op p.51-52: "Most narrative pericopes in the Pentateuch actually begin with a wayyiqtol verb, as in Genesis 12:1 ("now the Lord said"). A number do begin with a verb in the Perfect, and they do so in order to describe an event that precedes the main storyline. For example, consider Genesis 24:1. ... The action of blessing took place prior to the main action." [5]

            +          Genesis 1:1-2 het 3 werkwoorde: Om te skep (v.1). Om te wees (v.2a). Om te sweef (v.2c). Vers 2b het nie 'n werkwoord in die Hebreeus nie, maar vertalings voeg, "om te wees", in ter wille van verstaanbaarheid.

                        =          Die eerste werkwoord, om te skep, is in die perfektum en dui op 'n handeling vooraf, maar steeds geldig as die hoofgedagte plaasvind.

            Dit is níé in die wayyiqtol-vorm nie.

                        =          Die tweede werkwoord, om te wees, is ook in die perfektum.

            Dit is níé in die wayyiqtol-vorm nie.

                        =          Die derde werkwoord, om te sweef (v.2a), is 'n deelwoord en beskryf 'n voortgaande handeling.

            Dit is níé in die wayyiqtol-vorm nie.


            +          Die eerste wayyiqtol-vorm kry ons dan in v.3: "En God het gesê". En so hou dit konsekwent aan deur die volgende skeppingsdae.

            Dis 'n aanduiding dat hierdie gebeure ná dit wat in v.1-2 beskryf word, volg.

            In v.3 begin die hooffokus van Gen 1 dus. Dit is waaroor die skrywer eintlik wil skryf.

#          Om soos hierbo 'n agtergrondskets te gee voordat die storie waaroor dit eintlik gaan, onderweg kom, is tipies, nie net in Hebreeus nie, maar waarskynlik in enige taal. Mens kry byvoorbeeld iets soortgelyk in Gen 16:1 & 24:1.

#          Slotsom: Onmiskenbaar duidelik beskryf Gen 1:1 die eerste begin van die geskape werklikheid, van die kosmos. Voor dit was daar niks nie – slegs die ewige God self, die ongeskape Skepper van alles buite Homself.

            Dan beskryf vers 2 (waarskynlik) die toestand op aarde met die aanbreek van dag een in v.3.

Dus het die hemel en die aarde reeds bestaan

toe dag een van die skeppingsweek,

soos beskryf vanaf v.3,

aangebreek het!

Vierdens, eksegetiese opmerkings oor Gen 1:1-2

 

'n Nadere kyk na Gen 1:1

#          As vers 1 van "die begin" praat, moet ons dit werklik as die begin verstaan. Voor dit was daar absoluut géén skepping nie. Behalwe God self, die ewige ongeskape Skepper van alles buite Homself, was daar niks nie – niks, niks, niks nie! [6]

            So stel Collins dit: "The words 'the heavens and the earth' refer to everything; and 'in the beginning' tells us when it happened – and in fact points to an absolute beginning. .... before the beginning there was – well, nothing." [7]

#          Hierdie eerste sin van God se Woord is kort, net sewe woorde in die Hebreeus. Was daar ooit dwarsdeur die geskiedenis so 'n gelaaide uitspraak? Net sewe verbysterende woorde. Niks méér word gesê nie. Nét dit: "In die begin het God (Heb. Elohim) die hemel en die aarde geskep!"

            +          Niks word gemeld oor die voorkoms of inhoud van die geskapene nie. Niks oor die werkswyse van die Maker nie. Niks word gesê of dit in 'n oomblik gebeur het, of oor 'n tydperk nie. Niks oor hoe lank terug dit gebeur het nie – 'n paar millennia gelede, of 'n paar miljoen jaar, of 'n paar biljoen jaar terug.[8] Daar is geen, maar geen aanduiding nie. Dit is per slot van rekening God die almagtige, ongeskape en ewig-tydlose wat dit doen.

#          Dadelik, in hierdie eerste vers van die Bybel, word die groot metafisiese gaping tussen God die Skepper aan die een kant, en al die res aan die ander kant, aan die orde gestel.

            Dis presies híérdie God vir wie Moses en die volk daar in die Sinaiwoestyn nou as hulle Skepper, Redder, Bevryder en Versorger moet leer ken.[9]

#          Nie 'n enkele poging word aangewend om die bestaan van God te bewys nie.

            Wel word baie oor Hom geopenbaar: Hy is ewig; reeds voor die begin was Hy daar. Hy is almagtig; wat Hy skep is duiselingwekkend groot en heerlik en kompleks. Hy is persoonlik; nie net 'n eerste oorsaak of krag nie.

#          Vers 1 dra die idee van nuutheid en buitengewoonheid. Die Hebreeuse werkwoord, om te skep of te vorm, word net van God gebruik in die Ou Testament, nooit van mense nie.[10]

            Benewens hier in v.1, word dit slegs nog in Gen 1:21, 27 in ons hoofstukke gebruik.

            Vir mense se kreatiewe werk word ander Hebreeuse woorde gebruik.[11]

            Híérdie skeppingswerk van God is geensins die verwerking van iets wat reeds bestaan het nie. Daar was geen voorafbestaande materiaal nie.

            Nee, hier spreek die begrip van 'n Goddelike magswoord wat vanuit niks – absoluut niks – iets duiselingwekkends tot stand bring.

#          Die frase "die hemel[12] en die aarde" in Gen 1:1 is omvattend en alles-insluitend (dit word in Gen 2:4 herhaal). Behalwe die Skepper self, is niks uitgesluit nie.

            Die frase praat in die res van die Ou Testament altyd van die heelal soos ons dit tans al hoe beter leer ken.[13] Dit sluit die mikrokosmos en die makrokosmos in – dit wat ons bevoorreg is om al hoe beter deur mikroskoop en teleskoop te leer ken.

            +          Hoewel Moses en sy mense nie 'n benul gehad het van dit wat ons vandag alles van die skepping weet nie, was hulle in ander opsigte meer bevoorreg as ons. Daar in die woestyn het hulle baie nader aan die natuur gelewe as vandag se stadsbewoners. Hulle kon hulle elke aand verkyk aan die sterrehemel in die droë en totaal onbesoedelde en meestal wolklose sterrehemel. Sekerlik was hulle verstom oor al die groter diere en kleiner diertjies en ander lewende organismes wat hulle in die woesteny gesien het.

            En, natuurlik, God se wonderwerkende ingrypings het elkeen van hulle oor en oor beleef.

#          Sonder enige twyfel was hierdie pasgeskape hemel en aarde die heerlikheid en volmaaktheid van sy Skepper waardig. Aangrypend skets die Here dit poëties as Hy ná Job se verwyte hom vermanend antwoord: "Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? ... Wie het die aarde afgemeet? ... Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemellinge gejubel het?" (Job 38:4-7).

#          Drie Nuwe Testamentiese uitsprake werp verdere lig op Gen 1:1.

            +          Johannes 1:1-3 (OAV): "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie."

            +          Hebreërs 11:3 (2020): "Deur geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is, met die gevolg dat dit wat gesien kan word, ontstaan het uit dit wat nie gesien kan word nie."

 

            +          Openbaring 4:11 (2020): "U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep."

'n Nadere kyk na Gen 1:2

#          Vers 2 kom ná die wondere van v.1 as 'n ontnugtering, 'n skok! Die vers skets 'n onherbergsame, neerdrukkende toneel. Dis amper spookagtig!

            +          Hoe rym ons dit met vers 1 se triomf? Hoe verstaan ons dit in die lig van die aanhaling uit Job hierbo – veral die frase, ".... daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemellinge gejubel het?" (sien hieroor Aanhangsel 1 aan die einde).

#          Vers 2 val in drie dele uiteen.

            +          Een. Die woorde "woes en leeg" in v.2 (OAV; ESV: "without form and void"; Heb: tohu wabohu)[14] is belangrik. Hierdie woorde skets die lewelose, troostelose en onherbergsame toestand van spesifiek "die aarde" ná die triomf van v.1 – maar vóór die wondere van die skeppingsdae vanaf v.3.

                        =          Die Hebreeuse woord, tohu, word ook in die Psalms en profete aangetref. Dit word 19 keer in die Ou Testament gebruik (11 keer in Jesaja). Die basiese betekenis is leegheid, ydelheid, onbeduidendheid, nietigheid.

            Vir die Israeliete het hierdie woord 'n onheilspellende betekenis gehad. So word dit gebruik om die onherbergsaamheid van die woestyn te beskryf (Deut 32:10; Ps 107:40; Job 6:18; 12:24).

            Ook verwys dit na die futuliteit en leegheid van afgodery (1Sam 12:21; Jes 41:29; 44:9).

                        =          Die Hebreeuse woord, bohu, word nét in verbinding met tohu gebruik (Gen 1:2; Jes 34:11; Jer 4:23). Laasgenoemde twee Skrifgedeeltes bring die idee daarvan uit.

            In Jes 34 het ons 'n oordeelsaankondiging oor Edom. Die OAV sê dan in v.11 dat die Here die riglyn van tohu (woestheid) daaroor span, en die skietlood van bohu (vormloosheid). Die ESV vertaal onderskeidelik met "confusion" en "emptiness". Op Edom wag dus chaos en 'n lewe gehul in sinloosheid en wanhoop.

            'n Ewe onheilspellende oordeelsaankondiging kry ons in Jer 4:23: "Ek het na die aarde gekyk en dit was tohu wabohu ..." Die wêreld waarin hierdie mense vorentoe gaan leef, sal vergelyk kan word met die skrikwekkende toestande op aarde soos in Gen 1:2.

            +          Twee: Die onheilspellende en troostelose toestand van die aarde word verder beklemtoon deur die "duisternis" en die "wêreldvloed".


                        =          In die Ou Testament suggereer "duisternis" verlatenheid, uitsigloosheid, bedreiging, onheil, spookagtigheid. Dit dra sterk negatiewe konnotasies.

            Daarenteen gebruik die Bybel uitdrukkings soos môre en oggend om van lig en lewe te praat (Ps 90:14). Dis die tyd van gebedsverhoring, heil en nuwe lewe (Ps 88:14).

                        =          "Wêreldvloed" dui waarskynlik hier in v.2 op baie water – onder, op en bo die aarde. Eers later, in v.6-10, bring God orde wat dit betref (sien hieroor Aanhangsel 2 aan die einde).

            +          Drie: Fassinerend is die feit dat die Gees van God oor die waters gesweef het.

            =          Dis 'n algemene idee dat "sweef" die idee dra, om te broei. Vergelyk mens dit egter met Deut 32:11, waar dieselfde woord gebruik word, blyk dit as waarskynlik nie korrek nie.

            In Deuteronomium fladder of sweef 'n arend bokant haar kleintjies; sy is nie nog besig om op hulle te broei nie.

            Maar dis nodig om by te voeg dat die betekenis van die betrokke Hebreeuse woord nie absoluut seker is nie. Dis egter baie redelik om te aanvaar dat die OAV en NAV se vertaling, "sweef", die beste is. Die idee van fladdering is dalk nog nader aan die regte vertolking (die NIV en ESV vertaal met "hovering").

            Tog aanvaar sekere kommentatore dat dit wel daarop mag dui dat die Heilige Gees iets van 'n "bevrugtende werking op die ongevormde massa uitgeoefen het".[15]

            Nog Skrifuitsprake wat in hierdie verband betekenisvol is, is Job 26:13; 33:4; Ps 104:30; Jes 40:13; 1Kor 2:10.

                        =          Volledigheidshalwe moet mens onthou dat die Hebreeuse woord wat met "Gees" vertaal word, ook "wind" kan beteken. En inderdaad is daar heelwat kommentatore wat reken dis eerder die idee hier.

            Selfs al sou met "wind" vertaal word, sal dit hoogs waarskynlik bloot 'n manier wees om na die Heilige Gees te verwys.

            Die OAV, NAV, ESV, NASB en NIV vertaal egter konsekwent met hoofletters – die Heilige Gees. Ons kan dit sekerlik so aanvaar.

#          Vers 2 skets dus 'n onherbergsame aarde voordat God vanaf v.3 sy verdere skeppingswoorde begin spreek.

            Maar oor hierdie antieke aarde het die Heilige Gees gesweef – bes moontlik belofteryk en selfs dalk voorbereidend.

            Vers 3 is dus soos 'n jubelende uitroep van triomf: "En God het gesê ....!"

#          As "God" die Skepper van die hemel en die aarde genoem word, moet ons waarskynlik in die eerste instansie aan God die Vader dink.

            Maar soos hieronder aangetoon, leer die Bybel óók die betrokkenheid van die Seun by die skeppingsproses.

            +          Die Seun word meermale beskryf as die Persoon deur wie die skepping tot stand gebring is. In die Nuwe Testament word Hy konsekwent voorgehou as die aktiewe agent deur wie die skepping ontstaan het (Joh 1:3; 1Kor 8:6; Kol 1:16; Heb 1:2).

            Let op die konsekwente herhaling (in al 4 verse) dat die heelal "deur" Hom geskep is.

#          Voor my lê 'n dik, konserwatiewe en goeie kommentaar.[16] Op p.106 word aangevoer dat v.1 'n inleidende en opsommende neutedop-samevatting is van dit wat tydens die ses skeppingsdae gebeur het. 'n Behoorlike kyk na die Bybelteks toon egter dat so 'n vertolking geensins water hou nie.

            +          As v.1 direk deur v.3 gevolg is, sou mens dalk nie van bogenoemde skrywer verskil het nie. Maar die stok in die speke van sy verklaring is v.2. As sy stelling korrek sou wees, wat maak mens van die feit dat v.2 sê die aarde was woes en leeg en in duisternis? Want die skeppingsdae vanaf v.3 skets juis die orde wat God bring. En alreeds op dag 1 word lig geskep. Wanneer was dit woes en leeg en donker?

            +          Daar is, lyk dit vir my (en ek is daarvan oortuig), net één manier om hierdie eerste drie verse te verstaan:

God het aanvanklik die hemel en die aarde geskep.

Dan volg 'n toestand van woestheid, leegheid en duisternis.

Eers daarna word lig op die eerste dag van die skeppingsweek voortgebring.

Samevatting en slotsom

#          Hoe lank die toestand van v.2 geduur het, sê die Bybelteks nie vir ons nie. Logies kán dit praat van 'n kort tydperk onmiddellik voor dag een in v.3. Maar dit kan óók dui op 'n baie, baie lang bedeling.

            Dít staan egter vas: Hoe mens ook al dink oor die ouderdom van die skepping, en hoe jy ook al die "dae" van v.3vv vertolk, die Bybel sê vir ons niks oor hoe lank verloop het vanaf die oomblik toe God die hemel en die aarde geskep het, totdat dit wat v.3vv beskryf, gebeur het nie.

            Selfs die uiters konserwatiewe A.W. Pink gee dit toe –  reeds 'n eeu gelede, ten spyte van sy baie sterk oortuiging dat Gen 1:3vv praat van sewe 24-uur kalenderdae, 6000 jaar gelede. Hy skryf: " ... if the surmises of geologists could be conclusively established there would be no conflict at all between the findings of science and the teaching of Scripture. The unknown interval between the first two verses of Genesis 1, is wide enough to embrace all the prehistoric ages which may have elapsed ..."

 

Daar is geen noodwéndige en logiese konflik tussen Gen 1

en

die universele konsensus in wetenskaplike kringe

dat die skepping 13,7 biljoen jaar gelede ontstaan het nie

Wat ook al jou standpunt oor die regte verstaan van Gen 1 is, moet jy saamstem dat 'n baie óú skepping op grond van Gen 1:1-2 nie uitgesluit is nie. Om hierdie implikasie te ontkom, moet mens die eksegese van verse 1 en 2  hierbo verkeerd bewys.

-o0o-

Aanhangsel 1

Kan ons die dramatiese verskil tussen Gen 1:1 en 1:2 (soos bo uitgewys) vanuit die Bybelteks verklaar? Die antwoord is eenvoudig: Nee!

            #          Tog is daar dalk 'n verklaring. Maar dis spekulatief. In elk geval is dit interessant, en indien korrek, baie insiggewend.

#          In plaas van v.2 se "die aarde was woes en leeg" kan dit ook vertaal word: "die aarde het woes en leeg geword ...". (Sien die voetnota by Gen 1:2 in die NIV). Die bekende en regsinnige Skotse predikant, Dr. Thomas Chalmers (1780-1847) het al hierop gewys.

            Toegegee, die algemene vertaling is 'n meer natuurlike verstaan van die Hebreeus, maar as ons dan 'n tydsverloop tussen v.1 en v.2 aanvaar,  (en dis heeltemal moontlik, selfs waarskynlik) volg die vertaling "geword" baie maklik (vgl. Gen 19:26).

#          In Gen 3 lees ons die eerste keer van die Satan, waar hy "die slang" genoem word. Daar verlei hy Adam en Eva om die proefgebod te oortree. En so misluk die mens in sy hoë en verhewe roeping – en die katastrofiese sondeval word 'n werklikheid.

#          Ons weet niks nie, in elk geval bloedweinig van die Satan se ontstaan. Baie teoloë verwerp dit, maar tradisioneel word dit allerweë aanvaar dat Jes 14:12-14 en Eseg 28:12-15 die gordyn effentjies ooptrek op die Satan as 'n gevalle engel. Ek aanvaar dit so, hoewel ek nie bereid is om oorlog te maak daaroor nie.

            Ook weet ons nie hoe lank die duiwel vóór Gen 3 bestaan het nie. Maar dis gewis moontlik – dalk waarskynlik (?) – dat sy val vanaf sy verhewe posisie in die hemel, en sy gevolglike vyandskap teen God, tussen Gen 1:1 en Gen 1:2 kon plaasgevind het – dus vóórdie skeppingsdae van 1:3vv. 

#         As die méns se sondeval so 'n enorme negatiewe impak op die skepping gehad het (Rom 8:19-22), ontstaan die vraag noodwendig: Is dit nie dalk moontlik dat die val van die hoof van die engeleryk 'n soortgelyke katastrofe vir die oorspronklike skepping van Gen 1:1 kon meegebring het nie – met Gen 1:2 tot gevolg?

            Totdat ek anders oortuig word, aanvaar ek dit as die waarskynlike verklaring vir die dramatiese verskil tussen v.1 en v.2.

Aanhangsel 2

Ek het gewys op die dramatiese verskil tussen die eerste twee verse van Gen 1.

            Onder meer praat vers 2 van baie water op die aarde – iets wat totaal teenstrydig sou wees met wetenskaplike konsensus tot nou toe. Dit word aanvaar dat die aarde bar en waterloos was vir 'n baie lang tyd – soos 'n 'n maan-landskap – voordat die mees basiese vorms van lewe begin ontwikkel het. So sou die wetenskap dan kwansuis "bewys" dat die Bybel, en spesifiek sy skeppingsbeskrywing, alreeds in sy tweede vers blyk totaal onbetroubaar te wees.

            Terwyl ek 'n dag of wat gelede besig is om hierdie spesifieke studie vir my webwerf voor te berei, kry ek onderstaande baie resente artikel per epos uit die VSA.

            Let net daarop, ons praat nie van 'n naïewe wolhaarstorie om kwansuis te "bewys" hoe betroubaar die die Bybel is nie. Hierdie artikel het 'n gerespekteerde bron – sowel wat navorsers as wetenskaplike publikasie betref.

            Natuurlik is dit vroeë dae. Die toekoms en verdere navorsing is uiteraard nodig om die inhoud van onderstaande te bevestig.

Study findings line up with Biblical creation account

By Julie Borg

Posted 10/22/20

 https://tinyurl.com/skkdcakc

A recent scientific paper challenges widely believed ideas about water on our planet.

Although the study by secular scientists assumes a naturalistic beginning to Earth, it nevertheless suggests what the Bible has said all along: Water covered our planet from the very beginning.

Most modern scientists believe the newly formed Earth was dry because the intense heat of the inner solar system would have evaporated any moisture. They hypothesize that comets or asteroids delivered water from the cooler, outer solar system beyond Jupiter long after the rocky Earth came into existence.

But in a study published recently in Science, researchers found a type of meteorite called enstatite chondrites existed in the inner solar system when Earth formed. They contained enough hydrogen to produce at least three times the amount of water in Earth’s oceans. The researchers suggested that hydrogen combined with oxygen to generate water on Earth.

“It’s in perfect alignment with what the Scripture says, that in the beginning, God created the heavens and the Earth, the Earth was formless and the spirit of God was hovering over the surface of the waters,” said Jeff Zweerink, an astrophysicist and research scholar at Reasons to Believe. He noted God separated the waters on the second day of creation, creating a stable water cycle and liquid oceans.

By analyzing pristine enstatite chondrites that remained unaltered, the researchers also discovered they contained oxygen, titanium, calcium, hydrogen, and nitrogen in similar proportions to the composition of Earth. This suggests these meteorites existed when the planet came into being. They might also have contributed to the large amount of nitrogen in our atmosphere. Enstatite chondrite encounters today are rare, making up only about 2 percent of known meteorite collections.

“As science has progressed, we have a much better picture of how the early Earth worked, and as we have gotten that more complete picture we see it aligns with the way Scripture describes things,” Zweerick said. “To me, that is great evidence that God is who He says He is.”

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           'n Parafrase is 'n poging om die Bybel sin vir sin, of selfs soms paragraaf vir paragraaf (en nie woord vir woord nie) op 'n populêr-bevatlike wyse te vertaal – meermale deur net een persoon. Die vertaler besluit wat die oorspronklike skrywer eintlik bedoel het, en skryf dit dan in sy eie woorde om dit maklik verstaanbaar te maak. Die probleem is dat die vertaler dan nie anders kan as om sy eie subjektiewe verstaan en vertolking – en sy eie teologie – in so 'n parafrase in te bou nie (ons sien presies dit hierbo). Sulke baie gewilde parafrases mag dalk lekker lees, maar is meermale nie betroubaar nie. In elk geval is hulle beswaarlik geskik vir behoorlike in-diepte bybelstudie.

            Ek beveel hulle gebruik nie aan nie – in elk geval nie as jy wil seker maak jy verstaan kardinaal belangrike uitsprake in die Bybel korrek nie (waarmee wil ek nie impliseer dat parafrases noodwendig altyd die bal misslaan nie).

            Hierteenoor is dosyne hoogs uitgelese en geloofwaardige taalkundiges, teoloë en ander geleerdes – gewoonlik van meer as een denominasie – in groepsverband verantwoordelik vir amptelike Bybelvertalings. Te danke aan hulle deeglikheid werk hulle dan ook jare aan so 'n vertaling.

[2]           C. John Collins; Science and Faith – Friends or Foes?; Crossway Books; 2003; p.67.

[3]           Ek skryf hier veral aan die hand van C. John Collins: Genesis 1-4, A Linguistic, Literary, and Theological Commentary; P&R Publishing; 2006; p.42.

[4]           Uitgespreek: whajiktol (sommer my eie "fonetiese skrif"!).

[5]           Vgl. ook Gen 3:1; 4:1; 15:1; 16:1; 21:1; 39:1; 43:1; Eks 5:1; 24:1; Num 32:1.

[6]           As ons sê dat niks voor die skepping bestaan het nie, praat ons uiteraard nie van God self nie. God Drie-enig is ewig. Sonder so 'n ewige ongeskape Skepper van alles, sou niks bestaan het nie. Absoluut niks nie. Niks kan uit niks ontstaan nie! As God nie ewig sou wees nie, vereis Sy bestaan 'n ánder ongeskape en ewige skepper vóór Hom, groter en heerliker en magtiger as Hy!

[7]           C. John Collins; Science and Faith – Friends or Foes?; Crossway Books; 2003; p.68.

[8]           Dis word algemeen in wetenskaplike kringe aanvaar (reg of verkeerd — dis nie waaroor ons dit nou het nie) dat die ontstaan van die kosmos in 'n oomblik plaasgevind het, dat die ouderdom van die kosmos 13,7 biljoen jaar is, en die van die aarde 4,5 biljoen jaar.

[9]           Onthou, hierdie woorde word eerstens vir daardie klomp ongepoleerde woestyntrekkers gegee; nie vir gesofistikeerde mense van die 21ste eeu nie.

[10]         Bara' (in die Qal): om te skep of te vorm, word net van God gebruik. Die betekenis is egter nie beperk tot die idee om vanuit niks iets te skep nie, maar dalk veral om iets nuut, vars en volmaak tot stand te bring.

[11]         Asa (om te maak); yasar (om te formeer); bana (om te bou).

[12]         Die meervoud in Hebreeus: "die hemele" (vgl. ESV, NIV).

[13]         Daar word wel weer van "die hemel" gepraat in v.9; 14; 15; 17; 20; 26; 30 (weer die meervoud), maar alleen — sonder "die aarde". Híér dui dit egter op die atmosfeer om die aarde.

[14]         Die voorvoegsel "wa-" beteken gewoon die Afrikaans, "en".

[15]         Prof. S. du Toit: Bybel, Skepping Evolusie, Voortrekkerpers, 1964.

[16]         Allen P. Ross: Creation and Blessing – A Guide to the Study and Exposition of Genesis, Baker Books, 1996 (eerste gepubliseer in 1988).