PDF WEERGAWE

Die afgrensing van die gedeelte waarna ons kyk

#          Dis reeds in die vorige studie getoon dat daar 'n onmiskenbare grens tussen 1:2 en 1:3 is. Ons Skrifgedeelte begin dus met 1:3. Maar waar eindig ons gedeelte?

#          Dis redelik algemeen in Skrifkritiese kringe om Gen 1 en 2 as twee verskillende en weersprekende skeppingsbeskrywings te beskou – elkeen, sogenaamd, vanuit 'n ander tradisie. Maar so 'n beskouing het geen Bybelse mandaat nie.

            Lees mens gelowig en baie aandagtig deur die twee hoofstukke, blyk dit duidelik dat presies dieselfde skeppingsgeskiedenis beskryf word – vanuit twee gesigshoeke beskou.

            Eers gee Genesis 1:3-2:3 (soos getoon sal word) die oorsigtelike groot prentjie.

    Dan konsentreer Gen 2:4-25 op die sesde dag, en in die besonder op die mens as man en vrou, hulle woonplek, hulle verantwoordelikhede in die tuin en hulle waarskuwing teen die eet van die boom van die kennis van goed en kwaad.

            Die twee gedeeltes is dus onlosmaaklik verbonde. Die eerste trek groot buitelyne. Die tweede fokus op meer detail en veral op die kroon van die skepping, die mens.

#          Daar is egter verskil van opinie – ook in Bybelgelowige kringe – oor waar presies die naat tussen bogenoemde twee gedeeltes is: tussen Gen 2:3 en Gen 2:4 (OAV; ESV; NASB; KJV) of tussen Gen 2:4a en Gen 2:4b (NAV). Daar is ook ander voorstelle, waarna ons nie hoef te kyk nie.

#          Noukeurige bestudering van die teks maak dit duidelik waarom die beste vertalings, heeltemal korrek, die lyn tussen verse 3 en 4 trek. Daar is meer as een argument.

            +          Die Hebreeuse frase in Gen 2:4, "die geskiedenis" (OAV; NAV) of "the generations" (ESV), word nóg tien keer in Genesis gebruik (5:1; 6:9; 10:1; 11:10, 27; 25:12, 19; 36:1, 9; 37:2). Elke keer dien dit as 'n struktuurmerker deur 'n nuwe paragraaf in te lei.[1] Dit is daarom net redelik om te aanvaar dat dit ook hier in Gen 2 die geval is – wat sou beteken dat die breuklyn tussen v.3 en 4 is.

            +          Die uitdrukkings in Gen 2:4 "die hemel en die aarde toe hulle geskape is" en "die dag toe die Here die hemel en die aarde gemaak het" vorm 'n a-b-c spieëlpatroon ('n chiasme) in die Hebreeuse teks. Ons praat dus van 'n stilistiese eenheid. Ongelukkig vertoon ons Afrikaanse vertalings dit nie so goed soos die ESV en die NASB nie:

                                  " ... of the heaven and the earth when they were created ..."

                                                        a                      b                                    c

                                  "   the Lord God made the earth and the heavens ..."

                                                                c'              b'                     a'

Kan jy die omgekeerde spieëlbeeld sien? Dis 'n tipiese manier van skryf in Hebreeus. Die twee frases van die chiasme moet as 'n eenheid gesien word en wil iets onderstreep of beklemtoon. Dit geld soveel te meer as daar drie elemente (en nie net twee nie) in chiasme soos hierbo is. Dis die skrywer se manier om te sê: Het jy kennis geneem, baie goed kennis geneem? Dis belangrik!

            Om die chiasme in twee te deel (soos byvoorbeeld die NAV en die NIV) eksegeties duidelik nie op nie.

            +          Daar is nog 'n aanduiding dat die breuklyn tussen v.3 en v.4 is. Genesis 1:1-2:3 gebruik konsekwent net "God" (die Maker en Regeerder oor die ganse skepping) as dit na die Skepper verwys. Maar dan kom 2:4-25 en praat konsekwent van "Here God". "Here" is God se verbondsnaam (Jahweh), Sy persoonlike naam.

            Dit wil hier in hoofstuk 2 onderstreep dat Hy in verhouding met die mens – oor wie dit grootliks in hierdie gedeelte gaan – wil leef (Eks 3:13-17).

Die literatuursoort van Gen 1:3-2:3

#          Soos in die vorige studie gesien, is Gen 1:1-2 gewone geskiedskrywing. Ook Gen 1:3-2:3 openbaar geskiedenis, in die sin dat dit werklik gebeur het.

#          Maar Gen 1:3-2:3, hoewel geskiedenis, is nie gewone prosa nie, ewemin is dit kronologies geskryf – dit is baie duidelik, en onmiskenbaar in poëtiese styl geskryf. Dit is uiteraard bepalend vir hoe die 32 verse verstaan moet word.

            Ek sal hieronder poog om dit oortuigend aan te toon.

#          Dus, terwyl die historiese feitelikheid geensins verwaarloos mag word, moet ons nie noodwendig 'n chronologiese uiteensetting verwag nie – van een na twee, en van twee na drie, van drie na vier, ensovoorts.

#          Vir 'n verantwoordelike vertolking van die gedeelte is die dubbele karakter, die van geskiedskrywing én poësie, van die allergrootste belang.

            +          Aan die een kant bewaar die historiese van 'n miskenning dat God self, persoonlik en bonatuurlik – en régtig – in die geskiedenis geskep het (Eng. hands-on). Dit bewaar ons van 'n algehele versimbolisering wat die historiese, asook van 'n miskenning van God se persoonlike en praktiese betrokkenheid.

            'n Ontkenning van die historiese is 'n halftree weg van die aanvaarding dat Gen 1-2 net 'n fabel is. Dan kan mens wel wonder of God hoegenaamd geskep het – of Hy hoegenaamd betrokke was – en of Darwiniese ewolusionisme nie tog in die kol is nie. In elk geval voer dit jou tot op die rand deïsme of agnostisisme.

            +          Aan die ander kant bewaar die poëtiese en beeldspraak van 'n enkelvoudige, simplistiese en letterlike vertolking van die skeppingsgebeure wat die lesers laat vasloop teen teenstrydighede (soos byvoorbeeld die skepping van lig op die eerste dag, en die skepping van die son, die maan en die sterre op die vierde dag).

            'n Letterlike 24-uur vertolking hou ook nie rekening met al die gebeure nie. Dit word op sy duidelikste gesien as mens nader na die sesde dag kyk – soos ons aanstons sal doen.

            En les bes wil so 'n letterlike vertolking eenvoudig nie rym met die getuienis van die algemene openbaring nie.

            Daarenteen bewaar 'n aanvaarding van die poëtiese in Gen 1 die skeppingsbeskrywing gemaklik van 'n botsing met die algemeen aanvaarde getuienis van die oor en oor getoetse bevindings van die natuurwetenskappe.

            Skriftuur en natuur is dan nie meer in botsing nie.

#          Die Ou Testament is boordevol van die simboliese en die poëtiese. Dit hoef geen verassing te wees nie. Die Hebreeuse taal – enige taal tot vandag toe – is ryk in beeldspraak en keer op keer word simbole en metafore gebruik om 'n boodskap oor te dra. Dit geld ook vir die poëtiese.

            Laat ons nie in die slaggat trap om te dink dat prosa feite oordra, terwyl poësie en beeldspraak fiksie is nie.

            +          Wat die mense van die Ou Testament betref, sien mens nêrens die belangrikheid van simboliek beter as in die verboldsvolk se voorgeskrewe godsdiensvoorskrifte nie. Die offerdiens was baie letterlik en in verstommende detail voorgeskryf, maar dit was van hoek tot kant vol simboliek. Om 'n lam te verbrand kon tog nooit op sigself versoening vir 'n individu of vir die volk bewerkstellig nie. Die seremoniële voorskrifte was deur en deur Christusverkondiging. Ook die Ou Testamentiese gelowiges is immers gered deur met geloofsoë vooruit te kyk en hulle vertroue in die komende, finale en volmaakte Lam van God te stel. Hiertoe was die seremonies 'n wonderlike hulpmiddel.

            Ek weet ek praat nou van simboliek en in Gen 1 van poësie. Maar dis tog twee begrippe wat hand aan hand loop. Poësie is deurtrek van simboliek.

            Gen 1:3-2:3 openbaar letterlike waarheid, sonder dat dit letterlik vertolk moet word.

#          Hoewel dit steeds algemeen in die letterkunde van ons dag is dat 'n storie nie altyd letterlik en kronologiese vertel word nie, het ons baie gewoond geraak aan 'n formele manier van skryf in wetenskaplike artikels, juridiese verklarings, historiese beskrywings en ander formele dokumente. Ons is gewoond daaraan om 'n storie kronologies-opeenvolgend oor te dra – gewoonlik met 'n logiese ontwikkelingsgang.

            Maar die Bybel is in 'n ander wêreld geskryf. Logika en kronologie was dikwels nie só belangrik nie. Ons sien dit selfs in die Nuwe Testament. In die Evangelie van Johannes bepaal afwisselende wondertekens en stukke lering byvoorbeeld die struktuur. Kronologie is nie voorop nie.

            Die evangelie van Johannes is nie kronologies geskryf nie. Daar is egter 'n fyn letterkundige struktuur en die historiese akkuraatheid daarvan is nie te betwyfel nie.

            Om bykans alles in die Bybel chronologiese letterlik te wil lees, is om die bal meermale – nee, baie dikwels – totaal mis te slaan!

'n Nadere kyk na die poëtiese in Gen 1:3-2:3

#        Moses se merkwaardige en duidelik doelbewuste poëtiese struktuur in die beskrywing van die "sewe dae", spreek van intelligensie, volwasse nadenke en letterkundige vaardigheid. Duidelik het hy nie net noukeurig aandag gegee aan die inhoud van wat hy geskryf het nie, maar vir seker ook aan die vorm of struktuur daarvan.

          Gewis het sy Maker hom toegerus met 'n besondere intellek met die oog op sy grootse roeping. Hy het voorwaar geïnspireerd geskryf.

#        Die simboliese syfers, 3 en 10 is prominent. Daar is 3 "probleme" op die aarde van Gen 1:1-2 wat aangespreek moet word ('n aarde wat woes en leeg is; duisternis; diep waters). Dit word reggestel tydens twee stelle van 3 dae elk (sien hieronder).

         Die uitdrukking, "volgens hulle soorte", word 10 keer gebruik (v. 11, 12, 12,  21, 21, 24, 24, 25, 25, 25).

          Die werkwoord "om te skep" word op 3 plekke gebruik en die derde keer 3 maal (v.1; 21; 27, 27, 27).

#        Daar is duidelik beeldspraak en simboliek.

          Daar is alliterasie en 'n patroonmatige manier om die gebeure te beskryf. Neem as voorbeeld die oor-en-oor refreine: "en dit was so"; en "toe sien God dat dit goed was"; "Laat daar ...". Ensovoorts.

          Voorts vind mens antropomorfismes (segwyses wat God voorstel asof Hy 'n mens is). God praat, sien, werk, rus.

          Enigeen van bogenoemde, of selfs tesame, sê nog nie op sigself dis poësie nie. Maar saam met onderstaande is dit tog wel 'n verdere bevestiging daarvan.

#        Daar is kort stukkies poësie in hierdie verse.

          +          Gen 1:27 het 'n ab – ba – ba uitleg. Die ESV dui duidelik daarop.

           

"So God created man in his own image,

             a                                b

in the image of God He created him;

b'                     a'

male and female He created them"

b''                         a''

            +          Die stukkie digterlike ekstase in 2:23 (ESV) – as Adam sy nuwe vrou sien –  laat my glimlag (want verstaan ons mans dit nie!):

"This at last is bone of my bones

and flesh of my flesh;

she shall be called Woman,

because she was taken out of man."

          +          'n Sekere simmetrie is bespeurbaar as mens aandagtig na die ses skeppingsdae kyk. Die herhaling van die lig-tema op dae 1 en 4 suggereer dit reeds.

          Vroeg in die kerkgeskiedenis het Augustinus al hierdie raamwerk raakgesien (dae 1-3 en dae 4-6).

          Hierdie simmetrie word baie algemeen aanvaar, hoewel verskillende kommentatore dit op verskillende maniere bewoord – maar elke keer kom dit op dieselde neer.

+   +   +   +   +

TABEL 1: DIE STRUKTUUR VAN GEN 1:3-2:3 : DIE WOONPLEK EN DIE BEWONERS

                      Die woonplek                                                     Die bewoners

Dag Geskep                Wat geskep                         Dag Geskep               Wat geskep

        1                         Lig en Donker                               4                          Ligdraers

        2                          See en Lug                                  5                    Seediere, Voëls

        3                      Land, See, Plante                            6                        Diere, Mense

Dag 7: God se voortgaande rus van sy skeppingswerk

 

+   +   +   +   +

#        Miskien mag 'n leser voel dat die ligdraers van Dag 4 nie bewoners as sodanig is nie. Ek verstaan die beswaar. Maar miskien lê die oplossing daarin dat die steeds bewegende ligdraers deur daardie eenvoudige woestynreisigers gepersonifiseer is. Dit was algemeen in die antieke wêreld. En onthou, ons kyk na 'n gedig.

#        Die verdeling hierbo word waarskynlik bevestig deur Gen 2:1: "So is dan voltooi die hemel en die aarde (die woonplek) met hulle ganse leërmag (die bewoners)".

#        In Gen 1 word agt keer beklemtoon dat God met sy woord tot stand gebring het. Elke keer is dit die inleiding tot 'n sukkie vier- of driereël poësie – gesamentlik die skeppingsgedig – soos hieronder getoon. Sonder twyfel is die "skeppingsverhaal" doelbewus so geskryf.

+   +   +   +   +

TABEL 2: DIE SKEPPINGSGEDIG

       Gedig      Dag                               Gedig                                Vers     Reëls    Oop

            1          1          (a)  God het gesê: laat ...                                3

                                    (b)  en daar was / en dit was so                     3          4                                                          (c)  toe sien God dit is goed                           4

                                    (d)  dit was aand en môre, die eerste dag     5         

    

            2          2          (a)  God het gesê: laat ...                               

                                    (b)  en daar was / en dit was so                     7          3          c                                              (c)                                   

                                    (d)  dit was aand en môre, die tweede dag    8

            3          3a        (a)  God het gesê: laat ...                                9

                                    (b)  en daar was / en dit was so                     9          3          d

                                    (c)  toe sien God dit is goed                         10

                                    (d)                      

                                           

            4          3b        (a)  God het gesê: laat ...                                11

                                    (b)  en daar was / en dit was so                     11        4          —

                                    (c)  toe sien God dit is goed                           12

                                    (d) dit was aand en môre, die derde dag       13       

            5          4          (a)  God het gesê: laat ...                                14

                                    (b)  en daar was / en dit was so                     15        4          —

                                    (c)  toe sien God dit is goed                           18

                                    (d)  dit was aand en môre, die vierde dag     19       

            6          5          (a)  God het gesê: laat ...                                20

                                    (b)                                                                                3          b

                                    (c)  toe sien God dit is goed                           21

                                    (d) dit was aand en môre, die vyfde dag        23

            7          6a        (a)  God het gesê: laat ...                                24

                                    (b)  en daar was / en dit was so                     24        3          d

                                    (c)  toe sien God dit is goed                           25

                                    (d)                                

                                  

            8          6b        (a)  God het gesê: laat ...                                26

                                    (b)  en daar was / en dit was so                     26        4          —

                                    (c)  toe sien God dit is goed                           31

                                    (d)  dit was aand en môre, die sesde dag      31

                                                                        Opgesom

Dae                 1          2          3a        3b                                4          5          6a        6b

Aantal reëls                 4  3  3  4                                                          4  3  3  4

Oop reël                      –   c   d   –                                                       –   b   d   —

+   +   +   +   +

Konkluderend

 

As Gen 1 in poëtiese vorm neergeskryf is, hoef dit geensins die historisiteit daarvan in gedrang te bring nie.

            Beide die eerste en die laaste gedeeltes van die Skrif bevat Godsopenbaring wat tussenin deur geen mens dwarsdeur al die eeue beleef is nie. Nog meer, dit handel oor gebeure en werklikhede wat ons denke totaal te bowe gaan. Trouens, ons beskik eenvoudig nie oor woorde om dit eksak te beskryf nie.

            Is dit dus verrassend dat die Here God (noem dit maar) "simboliese" taal gebruik om dit aan ons oor te openbaar? Onontkombaar moet beide skrywers beeldspraak gebruik om dit wat hulle sien oor te dra. In Genesis poësie. In Openbaring apokaliptiek!

            Trouens, dit gebeur ook oor en oor elders in die Woord, veral in die Ou Testamentiese profete. Wie, sê maar, Esesgiël of Daniël letterlik wil verstaan, slaan vir seker die bal totaal mis.

 

'n Nadere kyk na die teks self (Gen 1:3-2:3)

Die eerste dag (Gen 1:3-5)

#          "En God het gesê ...".

            Hier, onmiddellik, is die Bybel in onversoenlike konflik met Darwinistiese evolusionisme.[1] God, en Hy alléén, is die Skepper!

            Dis net Hy wat dit doen. En Hy skep deur slegs 'n bevel te gee. So is dit deurgaans (v.6, 9, 11,14, 20, 22, 24, 26). Die Hebreeuse woord (amar) het meer as een betekenis, maar hier dui dit op God se skeppende bevel. Hy praat en dit gebeur!

            Só stel Ps 33:9 (NAV) dit: " ... Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar." Psalm 148:5: "Hy het bevel gegee – en hulle is geskape." Ook Heb 11:3 sê, die wêreld is deur die woord van God geskep.

            Laat ons daarteen waak om ons besinning oor die skeppingsbeskrywings vorentoe anders as Godgesentreerd te lees. Dis Hy en nét Hy wat skep. En Hy doen dit ter wille van Homself en Sy verheerliking.

#          In teenstelling met die duisternis en onheil van v.2, skep God nou lig.

            Lig is meermale in die heidendom van destyds as ewig en goddelik beskou. Maar hierdie natuurwonder toon dit as net nóg 'n geskapene. Ten diepste wys v.3-5 heen na die almagtige en soewereine Skepper – Hy en Hy alleen is die Lig.

#          "Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis." Dis oorwinningskrete. God het mag oor die duisternis – oor "tohu wabohu", oor onheilspellende leegheid, sinloosheid, onbeduidendheid, onherbergsaamheid.

            Daar is waarskynlik 'n rede waarom lig eerste aan die orde is. Ten diepste wil hierdie verse oor méér praat as energiegolwe of fotone wat teen 300 000 km/sek beweeg. Ja, natuurlik. Maar dit wil ons ten diepste herinner aan die Skepper, die almagtige Skepper van lig – meteen ook die Oorwinnaar oor duistere boosheid.

            Só stel Joh 1:5 dit: "Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie." En Joh 8:12 dit: Jesus het vir die mense gesê: "Ek is die lig vir die wêreld. Wie my volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee." En 2Kor 4:6 dit: God wat gesê het: "Laat daar lig skyn uit die duisternis, het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal."

            Die drie uur pikdonkerte op Golgota spreek van die helse smarte, leiding en onheil wat Christus moes verduur om diegene wat in die mag van die duisternis is te verlos. Hy het verduur wat hulle toegekom het, sodat hulle die ewige lig en lewe kon kry!

Die tweede dag (Gen 1:6-8)

#          Weer vind skeiding plaas – nou tussen waters bo en waters onder – met die uitspansel as skeiding tussenin. Weer moet ons dit lees in die lig van v.2, die "wêreldvloed". Dit wat onheilspellend was se mag word gebreek. Daar kom orde en skoonheid.

#          Die woord, "uitspansel" (OAV), of "gewelf" (NAV) (ESV: "expanse" en in die voetnota, "canopy" of "sky") is verwant aan die Hebreeuse werkwoord "om uit te sprei". Dis 'n beskrywing van die semisferiese atmosfeer wat ons vanaf die aarde van horison tot horison sien. Hier in Gen 1 kom dit meermale voor, sewe keer (v. 6; 7; 8; 14; 15; 17; 20).

Die derde dag (Gen 1:9-13)

#          Nógeens is daar skeiding: God skep 'n woonplek vir die mens en landdiere op droeë grond deur die waters eenkant te versamel. Hierin sit 'n voorlopigheid, 'n voorwaardelike. Ná die vloed word die skeiding permanent (Gen 9:11vv). Die belofte word elders in die Skrif herbevestig (Job 26:12; Ps 89:10; Ps 104:7-9; Jer 5:22).

            Het jy opgelet? Elke keer as God in hierdie eerste drie dae skeiding bring, bewerkstellig Hy meerdere orde. Dis elke keer 'n verdere regstelling van v.2 se wanorde.

#          Daar gebeur egter méér op die derde dag. Plante word op die land geskep – elkeen na sy eie aard Dit word drie maal herhaal. Let op die groot verskeidenheid.

Die vierde dag (Gen 1:14-19)

#          Die aarde is reeds versier; nou volg die atmosfeer. Die hemelliggame word geskep, maar hulle sal gewoon tekens en diensknegte wees – net "ligdraers". Die son en die maan sal prominent wees, elkeen op sy manier. Binne die grense van sy skeppingsrol sal elkeen wel 'n heersersfunksie hê. Maar dit sal dienende heerskappy wees (v.14-15).

            Betekenisvol is dat die son en die maan bloot die "groot lig" en die "klein lig" genoem word. Waarskynlik is dit om Israel se godsdiens duidelik te onderskei van die talle heidense godsdienste wat veral die son en die maan vergoddelik het (Deut 4:19; Job 31:26-28).

Die vyfde dag (Gen 1:20-23)

#          Nou breek die skepping van allerlei diere aan – waterdiere en lugdiere. Die aarde is besig om bevolk te raak met lewende wesens.

#          Opvallend is dit dat spesifiek van die "groot seediere" gepraat word. Die vertaling "seemonsters" sou ook in orde wees. Die bepaalde Hebreeuse woord dui elders op bose en onheilspellende magte in die waters. Weereens is hierdie wesens deur party heidenvolkere aanbid, maar hier word uitdruklik gesê dat ook húlle bloot skeppinge van die ware God is.

            'n Verdere bevestiging van bogemelde verdeling van die skeppingsdae in twee afdelings, is die feit dat nou eers weer vir die eerste keer ná v.1 die die woord, "om te skep" (Heb. bara), gebruik word. Dalk is dit nog 'n beklemtoning dat selfs reuse van die see niks anders as skepsele van die lewende God is nie. Dit herinner aan Ps 148:7: "Loof die Here ... groot seediere en alle dieptes."

#          Nog iets wat waarskynlik betekenisvol is, is dat God hier vir die eerste keer sy seën uitspreek oor een van sy skeppingsdade. En let op, die seën hou verband met die seediere en voëls se voortplanting. En inderdaad is verwekking en geboorte een van die wonderlikste verskynsels in die skepping. Sekerlik kan ons ook hierin God se waarborg sien dat lewe op hierdie aarde sal bly voortbestaan.

Die sesde dag (Gen 1:24-31; vgl. ook Gen 2:7, 21)

#          Nou bereik ons sonder twyfel die hoogtepunt van God se skeppingswerk.

            Die sesde dag – soos die ooreenstemmende derde – word in twee verdeel. Eers word die skepping van die landdiere beskryf (v.24-25). Dan word die skepping van die mens beskryf (v.v.26-31).

            Let op hoe duidelik, met 'n aparte "En God het gesê" in v.27, die mens se skepping onderskei word van díé van die diere.

#          In die hele skepping is die diere naaste aan die mens; anatomies verreweg nader as enige ander skepsel. Tot so 'n mate gee God se Woord erkenning daaraan dat selfs die verbond met Noag ook met die diere gesluit word (Gen 9:9-10).

            Maar tog verskil mens en dier wesentlik.[2] Die dier is geheel-en-al die mens se mindere. Adam kan daarom ook nie 'n metgesel onder hulle vind nie (Gen 2:20).

#          Vir die eerste keer word daar klem geplaas op die drie Persone van die Drie-eenheid wat saamwerk: "Laat ons mense maak ..." (v.26).

            Van al die skeppingsdae is hierdie die gewigtigste – en die klimaks kom nog.[3]

#          As dit oor die mens gaan, word die woord, om te skep, beklemtoon. In teenstelling met die amper huiwerige gebruik van die werkwoord tydens die voorafgaande dae (slegs v.21), word dit nou drie maal in 'n enkele vers herhaal en dus sterk beklemtoon – amper uitbundig (v.27): God het die méns geskep! (v.27). Hier is ons by die kroon van die skepping!

            Hier is die klimaks van die totale skeppingsgebeure. Die mens word radikaal van al die ander skepsele onderskei – hy word na die beeld van God geskep!

            Hierdie kwalifikasie is kardinaal belangrik vir die regte verstaan van ons onderwerp. Die driedubbele herhaling beklemtoon dit onmiskenbaar (v.26-27). Die mens is die kroon, die piek, die kulminering van God se skeppingswerk – die beelddraer van God om oor die aarde te heers. (v.26).

            Tog, hoewel die kroon en van die skepping, bly die mens niks meer as net 'n skepsel nie.

#          Betekenisvol is dit dat hier, reeds voor hoofstuk 2 se meer uitgebreide aandag daaraan, baie uitdruklik vermeld word dat die mens as man en vrou geskep is (v.27).

            Maar man en vrou verskil – hulle is nie net mense nie; hulle is man en vrou. Saam moet hulle oor die aarde regeer (v.26). Elkeen het egter 'n eie rol.

Die sewende dag (Gen 2:1-3)

#        Daar is 'n baie groot verskil tussen die eerste ses dae en die sewende dag. Die twee periodes word onmiskenbaar onderskei.

            Die skeppingswerk van dae 1-6 word baie uitdruklik en formeel in 2:1 afgesluit voordat oorgegaan word tot mededelings oor die sewende dag: "So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag."

            Die fokus skuif nou weg van die geskapene na die Skepper self. Die debat oor hoe Gen 1-2 verstaan moet word is dikwels té skeppingsgesentreerd – i.p.v. Godgesentreerd.

            Ten diepste en in die finale analise gaan alles oor Hóm, sy soewereine almag, sy eer! Dis sekerlik betekenisvol dat in Gen 1 die Godsnaam 32 keer voorkom en 14 keer in

Gen 2.

#          Opvallend is die feit dat daar nou geen mededeling is dat die sewende dag afgesluit is nie. Daar is geen aand nie. Meeste kommentatore vertolk dit as 'n aanduiding dat God se skeppingswerk inderdaad afgehandel is, en dat sy rus steeds voortduur.

            Natuurlik moet ons nie onaktiwiteit hierin lees nie. God se aktiewe instandhouding van die skepping en sy regering daaroor gaan voort. Maar die verhoog vir die afspeel van die Godverheerlikende drama wat volg, is in posisie geplaas. Alles is nou gereed om te begin.

#          Uitdruklik word beklemtoon dat hierdie sewende dag deur God geseën en geheilig word (2:3). Nie alleen die skeppingswerk self nie, maar ook die verdere verloop van die geskiedenis (insl. Gen 3) sal die eer en verheerliking van die Drie-enige Skepper dien!

#          Hier lê die wortels van die Sabbatsgebod. Dis is 'n skeppingsverordening. Dis nie vir die eerste keer in die Tien Gebooie nie.

            Dis nie net 'n tydsgebonde saak nie (Gal 3:28).

            Laat ons die gewigtigheid hiervan nie miskyk nie.

Die betekenis van "dag" (Heb: yôm)

#          Daar is reeds vroeër beklemtoon (en hopelik oortuigend uitgewys) dat Gen 1:3-2:3 'n onmiskenbare poëtiese karakter het.

            Ons het dit Die Skeppingslied genoem.

            'n Tipiese karaktertrek van poësie is dat gewone alledaagse begrippe simbolies gebruik word om 'n 'n dieper betekenis te dra.

            Dit behoort ons te waarsku dat die lengteduur van die skeppingsdae glad nie voorop is in Gen 1 nie. Of die skeppingsdae 24-uur lank was of nie – hoe lank die "dae" dus geduur het – is glad nie wat God se Woord hier wil beklemtoon nie. Dit sou goedskiks lang tydperke kon wees – selfs baie, baie lang bedelings.

            Mens mag jou opinie hieroor hê, maar op Gen 1 kan jy dit nie begrond nie.

#          Wat myself betref, handel dit eintlik die dag-kwessie af.

#          Maar dalk is daar lesers wat steeds nie oortuig is van die poëtiese aard van Gen 1 nie, en gevolglik daarop aandring dat ons i.t.v. gewone en letterlike 24-uur dae moet dink.

            Baie mense redeneer só: "Die Bybel praat van ses dae, en vir my is dit genoeg! So, en nét so vat ek dit! Dit staan geskryf en daarvan kan niemand verskil nie. 'n Dag is 'n dag!"

            Maar só eenvoudig is dit nie!

            Kom ons praat dus kortliks oor die begrip "dag" in die Ou Testament.

            +          In enige taal word letterlike uitdrukkings gebruik as beeldspraak. En almal verstaan dit. Ek sou kon sê: Op sy dag was hy 'n haan onder die henne! Ek gebruik gewone woorde met letterlike betekenisse. Maar niemand dink ek praat van regte hoenders nie.

            Net so kan "aand" en "môre" dui op die aanvang en einde van 'n korter of langer periode: Oom Klaas het nou die aand van sy lewe bereik; hy dur nie langer sy kar self bestuur nie. Dis beeldspraak wat almal verstaan,en begryp dat dit nie letterlik bedoel word nie.

            Die Bybel – alle tale – is van hoek tot kant vol beeldspraak. Woorde met 'n letterlike betekenis word "onletterlik" gebruik om allerlei idees te kommunikeer.

            Dit geld ook vir die begrip "yom" in die Ou Testament, waar dit dosyne kere voorkom en talle inhoude het.

            As ons die ses dae letterlike wil vertolk vind ons reeds in Gen 1-2 drie verskillende betekenisse die woord "dag".

                        =          Een rotasie van die aarde om sy eie as – dus 24 uur. Ons praat van die refrein, "dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die soveelste dag." Hier word gepraat van 'n dag van 24-uur (Gen 1:5b; 8; 13; 19; 23).

                        =          Die tyd van daglig teenoor die tyd van donkerte: "God het die lig toe dag genoem, en die donker het Hy nag genoem" (Gen 1:5; 14; 16; 18). Dis daardie tyd van die dag as die son skyn.

                        =          Enige tydperk waar horlosietyd nie ter sprake is nie – gewoonlik langer as 24 uur (benewens Gen 2:2, 2; 2:3, ook Gen 2:4; 2:17). Dis gewoon 'n tydperk, ongeag hoe lank. Tydsverloop is glad nie ter sprake nie.

            +          Hoe lank was die skeppingsdae? Die antwoord is eenvoudig: Ons weet nie! Suiwer volgens die betekenis van die woord kan mens nie uitsluitsel kry nie.

            En let op, as ons in terme van tydperke dink, hoef die "dae" nie ewe lank te wees nie. Of dit 24 uur is, of dermiljoene jare, maak dan nie meer saak nie; dit was skeppingsbedelinge.

Nog 'n keer: die sesde dag

#          Oor die dúúr van die skeppingsdae, is die sesde dag baie insiggewend.

#          Op die sesde dag het volgens Gen 2:7-25 ontsaglik baie gebeur.

            Wat beskryf word het onmiskenbaar duidelik veel langer as 24 uur geduur. Ons praat van jare, dalk dekades, selfs dalk baie langer.

            +          God skep "uit die grond" (NAV) drie soorte diere – mak diere, kruipende diere en wilde diere – al die verskillende soorte (Gen 1:24-25; 2:19-20; NAV).

            Hy bring dan ál die wildediere en voëls na Adam toe (2:19-20). Die indruk word geskep dat ons nie net aan 'n paar soorte moet dink nie, maar bes moontlik aan 'n groot getal spesies.

            Adam gee dan name vir die diere en voëls, "volgens hulle aard". Die NAV vertaal: hy moes vasstel hoe hy elkeen sou noem (Heb. "om te sien" hoe hy hulle sou noem. Vgl. ESV, NASV, NIV: "to see"). Kennelik moes hy hulle dophou en bestudeer, volgens hulle karaktertrekke benaam. Dit moes noodwendig baie tyd geneem het, dalk jare, selfs langer.

            +          Dit lyk verder of Adam, terwyl hy met die diere besig was, na 'n vrou verlang het – n.a.v. wat hy in die dierewêreld gesien het.

            So 'n behoefte het hy aan 'n vrou gehad, dat hy onder die diere na een gesoek het. Maar onder hulle kon hy nie een vind nie (2:20).

          +          Eers het God Adam geskep; nog nie vir Eva nie (2:7). Let daarop dat verse 15-16 van Adam in die enkelvoud praat (vgl. ESV).

            +          Ons kan dit nie met sekerheid sê nie, maar dit lyk of Adam dan 'n tuin geplant het wat hy moes bewerk en bewaak (2:15).

            +          Dit lyk verder of die bome groot geword en begin vrugte dra het, wat Adam kon geniet (2:8-9; 16-17).

#         Eers dán, nadat al bogenoemde verloop het, word Eva geskep (1:26-29; 2:7; 2:15-18; 2:21-25). In hoofstuk 1 word die skepping van Adam en Eva in dieselfde asem genoem (1:26-29). Maar hier lyk dit asof 'n lang tyd verloop het tussen die twee se skepping.

          +          In v.23 is daar 'n mededeling wat mens maklik miskyk. As God in v.22 vir Eva na die mens toe bring, roep die mens uit, "eindelik"! Die Hebreeus sê letterlik, "nou uiteindelik!". Die ESV vertaal, "This at last is bone of my bones ...". Dis 'n opgewonde uitroep na 'n lang wag!

#        Duidelik het ten minste die sesde dag nie net 'n dag geduur nie, maar baie langer. Ons mag dalk van dekades praat, of nog langer, selfs dalk baie, baie langer. Daar was genoeg tyd voor, want Adam het horingoud geword – 930 jr (Gen 5:5). 

#        En as bogenoemde dan van die sesde dag geld, waarom nie ook van die voorafgaande dae nie? 

'n Paar gevolgtrekkings

#        In hierdie en die vorige studie het ons redelik deeglik na Gen 1-2 gekyk. Dit stel ons in staat om 'n paar ankerpenne in te slaan.

1.       God se besondere openbaring, en Sy algemene openbaring

#        Dit staan so vas soos die berge: God se besondere openbaring in die Heilige Skrif, en Sy algemene openbaring in die mikro- en makroskepping, weerspreek mekaar nie.

            As skriftuur en natuur nog uit pas is in ons verstaan daarvan, is dit omdat ons óf die een, óf die ander, óf beide nog nie reg begryp nie.

            Dit staan aksiomaties vas!

            Waarom? Die antwoord is voor die hand liggend en onontkombaar: Die enige, ware, lewende en almagtige Skeppergod is die Maker en Gewer van beide!

          +          Ek stel die eerste sin hierbo doelbewus negatief. Want die twee openbarings se aard is verskillend en hulle het grootliks uiteenlopende gerigthede. Hulle praat grootliks oor verskillende sake. Daar is nie baie oorvleueling nie. Maar nêrens weerspreek hulle mekaar nie. Tóg is daar inderdaad belangrike raakpunte – soos hier in Gen 1-2.

#          Die Bybelgelowige en regsinnige Charles Hodge skryf iewers: "It is of course admitted that, taking [the Genesis creation] account by itself, it would be most natural to understand the word ["day"] in its ordinary sense; but if that sense brings the Mosaic account into conflict with facts, and anóther sense avoids such conflict, then it is obligatory on us to adopt that other .... The Church has been forced more than once to alter her interpretation of the Bible to accommodate the discoveries of science. But this has been done without doing any violence to the Scriptures or in any degree impairing their authority." [4]

            Let op, wat Hodge hier sê, is dat ons nie maar sommer wetenskaplike bevindings moet geringskat en afskryf nie. Sy implikasie is duidelik: Laat ons as Bybelgelowiges maar nederig wees as ons verstaan van die Skrif en die bevindings van die wetenskap mekaar weerspreek. Laat ons onsself dan in eerlikheid afvra of ons tog wel die Skrif reg verstaan.

            Laat ons dus maar weer en weer teruggaan na die Bybel toe. Semper Reformanda!

2.       Genesis 1:1-2 leer onmiskenbaar dat "die hemel en die aarde" bestaan het vóór die aanvang van die ses skeppingsdae wat vanaf v.3 beskryf word

#          Hoe lank terug dit wat hierdie verse beskryf, gebeur het en hoe lank dit geduur het, word glad nie vermeld nie.

 #         Dit is algemene konsensus in die natuurwetenskappe dat die kosmos 13,7 biljoen jaar gelede ontstaan het, en die aarde 4,5 biljoen jaar (oor die korrektheid daarvan kán en durf ek myself nie uitspreek nie). Natuurlik is hierdie syfers nie die wet van Meders en Perse nie, en dit mag nog weer verstel word.

            Sekerlik skep Gen 1:1 die indruk dat die hemel en die aarde sáám geskep is. Maar om dogmatisties daarop te staan, sou te veel in v.1 inlees. Laat ons onthou vir wie hierdie hoofstukke geskryf is. Ons het nie met 'n wetenskaplike dokument te doen nie.

3.         Wat die duur van die skeppingsdae betref, waarsku die duidelik poëtiese aard van die beskrywing ons om nie halstarrig aan te dring op 24-uur dae nie

#          Die "dae" sou Bybels goedskiks kon dui op lang tydperke – selfs baie, baie lang bedelings. En as ons die getuienis van die wetenskappe in ag neem, dui alles daarop dat dit inderdaad die geval was.

            Hierdie "dae" was ook nie noodwendig ewe lank nie.

4.         Mens moet nie té veel maak nie van die skeppingsvolgorde soos in die ses dae uitgespel

Daarvoor is daar 'n té onmiskenbare oorvleueling tussen dag 1 en dag 4. Voeg daarby die digterlike aard van die beskrywing.

5.         Die historiese van die skeppingsbeskrywing moet egter vasgehou word

Dit mag dalk nie chronologies uiteengesit wees nie, maar dit hét gebeur. En die ewige ongeskape Skepper het dit soewerein en baie doelbewus en ordelik tot stand gebring – in sy eie tydsraamwerk, almag.

6.         Daar is niks in Gen 1-2 wat Bybelgelowiges in 'n onversoenbare botsing met die wetenskap van ons dag bring nie

#          Die snel-ontwikkelende natuurwetenskappe bevestig die waarheid van Gen 1-2 (uiteraard reg verstaan) trouens ál hoe meer. Dit is inderdaad so. Wêreldwyd het baie top- wetenskaplikes reeds Darwiniese ewolusionisme die rug gekeer, en ten minste tot 'n deïstiese oortuiging gekom. Maar talle het inderdaad Bybelgelowiges geword.

            +          Ek suig bogenoemde stelling nie uit my duim nie. Daar is baie hoogs gesofistikeerde wetenskaplike publikasies, webwerwe en debatte op internet wat dit bevestig. Boeke en artikels hieroor maak maandeliks hulle opdaging.[5]

            Natuurwetenskaplike ontwikkeling groei eksponensiëel – veral sedert die begin van die 21ste eeu. En dit bevestig oor en oor, en toenemend, dat skriftuur en natuur baie goeie bure is.

            +          Wat egter óók waar is, is dat daar venynige besware vanuit Darwinistiese geledere teen hierdie vrienskap is. Sal die toekoms toon dat dit tevergeefs was? Ek dink so.

#          Natuurwetenskaplike ontwikkelings, veral die afgelope honderd jaar, en in die

besonder sedert die begin van hierdie eeu, beweeg onstuitbaar en onverstoorbaar voort om te getuig van 'n ewige, almagtige en alwyse ongeskape Skepper wat, wonder bo wonder, nie afsydig en onbekend is nie, maar wat Homself aan ons geopenbaar het – by uitnemendheid in sy Seun, Jesus die Christus, wat mens geword en onder ons gewoon het.

7.       Slotsom

#          Ja, daar is nog sekere onsekerhede oor die harmonie tussen Gen 1-2 en die huidige algemeen aanvaarde verstaan van die skepping.

            Op sommige van hierdie skemerkolle sal die wetenskap algaande meer lig werp soos dit ontwikkel, of tot beter insigte kom.

            En, natuurlik, Bybelgelowiges moet weer en weer oor hierdie sake na die Skrif kyk en ons verstaan daarvan beoordeel.

            Maar wat baie ander onsekerhede betref, sal ons beslis eers in die hiernamaals die kloutjie by die oor kry.

><(((*>

 

Nico van der Walt

Tel:  082 848 9396

Epos:  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

www:   http://www.imagodei.co.za/

YouTube:  Nico van der Walt - Imago Dei

YouTube direk:  https://tinyurl.com/69suvbev

 

[1]           Let op dat ek spesifiek van Darwinistiese ewolusionisme praat. Die "isme" suggereer dat ons van 'n hele filosofie praat, in hierdie geval feitlik altyd ateïsties. Die kwalifikasie, Darwinisties, beteken dat die wortels hiervan in die leringe van Charles Darwin (1809-1882) gewortel is.

            Ek praat m.a.w. nie van Teïstiese Ewolusie nie. Daar is wel Bybelgelowiges wat so 'n beskouing huldig. Van hulle is trouens baie toegewyde Christene. Hoewel mens nie met hulle hoef saam te stem nie (ek is een van diegene), sal net 'n oningeligte hulle sonder meer verketter.

[2]           God se skeppingswerk kan in vier ryke ingedeel word: stof, plant, dier, mens. Wat ook al in terme van natuurlike ontwikkeling en aanpassing in elke sfeer gebeur, bly hierdie grense tussen hierdie vier ryke ondeurdringbaar.

[3]           Sien www.imagodei.co.za , Langer Studies (001) vir 'n studie van die mens se skepping na die beeld van God.

[4]           Aangehaal deur C. John Collins, Science & Faith, Friends or Foes?; p.81.

[5]           Vergelyk byvoorbeeld: 'n Ensiklopedie en skitterende naslaanwerk wat sy aansienlike gewig in goud werd is, is: Paul Copan; Tremper Longman III; Christopher L. Reese; Michael G. Strauss (General Editors) – Dictionary of Christianity and Science; Zondervan; 2017; 691pp. Die goudmyn staan op die meter-en-'n-half rakkie binne armlengte van my lessenaarstoel.

            Die volgende webwerwe is meer as die moeite werd: discovery.org/id ; johnlennox.org ; reasons.org ; network.asa3.org ; veritas.org ; cis.org.uk . Hier is nie ure nie, maar jare se lees- en luisterstof.