Video-opname: https://tinyurl.com/2h44pkuy
Ons het laas gekyk na die uitdruklike en meer subtiele begrondings vir die wederkoms van Jesus Christus, soos Petrus dit hier aanbied.
Nou moet ons kyk na wat die apostel in hierdie verse oor die wederkoms sê, en watter praktiese implikasies dit vir ons inhou.
Die wederkoms
As Petrus die einde van die geskiedenis hier beskryf, gaan hy nie op detail in nie. Hy praat in algemene terme waarskynlik omdat niks méér aan hom geopenbaar is nie.
Kom ons kyk vinnig na 4 verse, v.7, 10, 12, 13.
Petrus beskryf 'n gebeurtenis van ondenkbare en ongeëwenaarde omvang, en skrikwekkende intensiteit
Die lang geskiedenis van hierdie aarde en sy bewoners sal eensklaps en dramaties tot 'n einde kom. Niks of niemand sal dit ontkom nie. Dit sal die ganse skepping vernietigend tref, en elke lewende mens sal dit intens beleef.
Dit word herhaaldelik beklemtoon dat veral vuur deur God gebruik sal word om die ou orde te laat vergaan. Die sterrehemel sal met 'n gedruis verdwyn, die elemente sal versmelt, en die aarde en alles daarop sal verbrand.
Dink jou in! Elke wêreldstad en elke gehuggie, sal 'n Hirosjima en 'n Nagasaki wees — nee, veel erger! Niks, nêrens sal ontkom nie.
Petrus beklemtoon dat die oordeelsdag onverwags sal kom.
Net soos wanneer 'n dief toeslaan, sal die dag van oordeel die aardbewoners onverhoeds betrap.
Dit is natuurlik wat die Here Jesus ook by herhaling beklemtoon het (Matt 24:36-44; Mark 13:33-37; Luk 12:39v). Ook die apostel Paulus het dit geleer (1Thess 5:2). Vergelyk ook Op 3:3; 16:15.
Laat ons nie te veel peil trek op die sogenaamde tekens van die tye waarmee talle wederkomspredikers so goël nie. Baie van die tekens waarvan die Skrif praat, is reeds vervul voor en tydens die val van Jerusalem in 70 n.C.
Hierdie dag is noodwendig in lyn met die voorafgaande geskiedenis, en 'n voorvereiste vir dit wat God daarna gaan doen.
Aan die een kant word die huidige hemel en aarde bewaar vir die oordeelsdag (v.7). Van die sondeval af is die dag 'n onvermydelikheid. God se geregtigheid vereis dit. Die onreg van die verlede moet aangespreek word. En daarbenewens mag daar nie 'n kriesel sondigheid en gebrokenheid saamgesleep word in God se volmaakte ewigheid in nie.
Aan die ander kant vereis 'n núwe hemel en 'n núwe aarde (13) — en die boustowwe daarvan, en die mense daarop — 'n totale en radikale raffinering van alles. Maar tog bly dit steeds die hemel en die aarde. Laat ons dus in ons ewigheidsverwagting vashou aan sowel die diskontinuïteit as die kontinuïteit tussen die huidige en die toekomstige.
Vanuit die puin sal 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde verreis
Watter gelowige word nie weer en weer bekoor deur Op 21-22 nie? Luister na die 2020:
"Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien ...
En ek het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal.
Sy is gereedgemaak, soos 'n bruid wat versier is vir haar man.
Ek het toe 'n harde stem van die troon af hoor sê:
Kyk, God se woonplek is by die mense.
En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees,
en God self sal by hulle wees as hulle God.
Hy sal elke traan uit hulle oë uit afdroog.
En die dood sal daar nie meer wees nie;
ook nie rou of 'n gehuil of pyn sal meer bestaan nie;
want die eerste dinge het verbygegaan."
(Op 21:1-4)
Implikasies van die komende wederkoms
Geloof en oortuigings bepaal gedrag. Sonder twyfel sou die dwaalleraars se weiering om in die wederkoms van Christus te glo, hulle lewens beïnvloed het — ten kwade.
Net so sny die gelowige se vooruitsig op die wederkoms diep in sy hart in, en het dit ingrypende effekte op hoe hy leef — ten goede.
Dit lê aan die hart van die Christelike hoop.
Laat dit ons daarom nie verbaas nie dat Petrus heelwat aandag gee in ons verse aan die praktiese implikasies van wat hy hier leer.
1. Omdat Christus terugkom, maak seker jy is gered (v.7).
Hierdie aandrang van die apostel is, is onontkombaar duidelik in hierdie gedeelte. Die dag as die Here Jesus terugkom, sal ook 'n dag van oordeel en afrekening wees (v.7). Vlug daarom vir die toorn wat aan die kom is!
In hierdie verband dra ons verse 'n heerlike versekering: Só genadig is God dat Hy die wederkoms terughou sodat soveel moontlik sondaars die geleentheid kry om hulle met Hom te versoen (v.9).
Laat dit dus as aansporing dien vir diegene wat glo dat hulle te sleg is vir die koninkryk. Niks behaag God meer nie as om die skuim van hierdie wêreld te verander in goud wat tot in ewigheid sal skitter. Nooit het die apostels daarvoor moeg geword nie om hulle lesers te herinner dat sondaars deur die genade van God gered word — nie op grond van verdienste nie.
In v.15 kom Petrus dan tot die slotsom: "beskou die geduld van ons Here ... as geleentheid om gered te word."
En, sê hy, julle weet tog dat dit nie net ék is wat hierdie beklemtoning preek nie. Dit is ook voorop in Paulus se verkondiging. En moontlik dink hy aan Rom 2:4: "God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?"
Laat ook óns dit verstaan: as die Skrif oor en oor vir ons vertel dat die Here terugkom, is dit meteen 'n oproep tot bekering en redding.
2. Omdat Christus terugkom, jaag heiligmaking na (v.11; 14).
In die lig van die komende oordeelsdag, sê die apostel, "hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?" (11, OAV).
In v.14 skryf hy: beywer julle "om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe."
+ Glo ons dan nie as Nuwe Testamentiese gelowiges dat dit ons regverdiging in Christus alleen sal wees wat op daardie dag die grond vir ons beërwing van die ewige saligheid sal wees nie? Sekerlik! Maar dis nie al wat oor die saak te sê is nie. Die Woord sê óók dat ons die heiligmaking moet najaag as ons die Here wil sien (Heb 12:14).
Tyd laat ons nie nou toe om in te sak op die verhouding tussen geloof en werke nie. Hieroor het ons tog al male sonder tal in hierdie gemeente gepraat. Kom ek volstaan dus hiermee: Ons word gered deur God se genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur die geloof alleen — maar in dieselfde asem moet gesê word dat ons gered word tót goeie werke en 'n heilige lewe, en daarom uiteindelik ook daarvólgens.
Terug na ons teks: Hoe is dit dat die vooruitsig op die wederkoms van Christus ons aanspoor tot 'n heilige lewe? Volgens Petrus gebeur dit op ten minste drie maniere.
+ Eerstens, hoewel die OAV en NAV dit nie na die oppervlak bring nie, sê die beste Griekse grondtekste dat die werke wat op die aarde gedoen is, blootgelê sal word (v.10) (NAV: "ontbloot"; ESV: "exposed").
Die Nuwe Testament is duidelik daaroor dat ons almal — óók diegene in Christus — eendag voor die regterstoel van Christus sal verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het (Matt 25:14-30; Luk 19:11-27; 1Kor 3:11-15; 2Kor 5:10 en talle ander plekke).
Ons sal dus verantwoording moet doen oor wat ons met ons lewens gedoen het en waarmee ons ons besig gehou het.
Ek weet nie van julle nie, maar as daar één ding is wat die vrese van die Here in my laat leef, dan is dit hierdie vooruitsig. Male sonder tal het ek al gebid: "Here help my tog dat ek op daardie dag nie beskaamd weggestuur sal word nie."
Kan daar 'n kragtiger aansporing tot die najaging van heiligmaking, gehoorsaamheid en vrugdra wees?
+ Tweedens, al die behepthede van hierdie ou wêreld sal vergaan (11).
Soveel dinge wat nou vir mense só belangrik is dat hulle hul lewens daarvoor neerlê, sal in die hiernamaals nie die gewig van 'n donsveertjie hê nie.
Nou sou ons maklik kon aantoon hoe 'n ongelowige wêreld agter prioriteite aanhardloop wat geen ewigheidswaarde het nie. Maar is dit nie onuitspreeklik tragies dat sovele toegewyde kerkmense presies dieselfde gerigthede het as die ongelowiges nie! Daar kan net een verklaring voor wees, hulle glo nie régtig dat ons aan die Here sal gaan verantwoording doen nie — of hulle word dit nie geleer nie. Want as dit jou hartsoortuiging is, móét dit jou lewe en jou prioriteite mos ingrypend beïnvloed. Dis so logies soos twee plus twee wat vier maak.
Onthou julle die ryk man wat sy skure al hoe groter gebou het (Luk 12:13-21)? Onthou julle die Here se woorde aan hom op die laaste dag? "Jou dwaas!" "You fool!"
"So gaan dit", sê die Here dan in v.21, "met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie."
Hierteenoor, sê Petrus, moet ons ons beywer om eendag vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind te word (v.14).
Johannes het ook verstaan dat jou oortuigings oor die toekoms 'n radikale invloed op jou prioriteite hier en nou het: "Elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is" (1Joh 3:3).
+ Derdens, die feit dat ons onderweg is na "nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon" (13), moet ons tog nou reeds aanspoor om ons daarvoor voor te berei. Is ons bestemming nie 'n heilige ewigheid nie voorgestel in Openbaring deur 'n heilige stad waarin niks onreins, en niemand wat losbandig en vals is, ooit sal inkom nie (Op 21:27).
3. Omdat Christus terugkom, moet ons alles in die stryd werp om Sy koms te verhaas.
Die Here gebruik ons as Sy medewerkers om die wêreld en die geskiedenis ryp te maak vir die wederkoms. En wat hierdie voorreg en verantwoordelikheid betref, moet ons alles in die stryd werp.
Weereens kan ons sonder enige vrees vir teenspraak sê dat enige mens, tot die mate wat hy glo dat Christus sal terugkom, en tot die mate wat hy dit as 'n voorreg beleef om medewerkend hierin 'n rol te speel, sy volle gewig sal ingooi in die versameling en opbou van die uitverkorenes. Die volmaking van die getal van God se kinders, en hulle gereedheid om Hom te ontmoet, is immers die essensiële voorwaarde vir die wederkoms.
Hier is ons by die twee fokusbedieninge van die kerk — pastorale versorging en opbou, enersyds; en sending en evangelisasie andersyds.
4. Omdat Christus terugkom, kan en moet die Christelike hoop net so 'n sentrale plek in ons belewing geniet as die geloof en die liefde.
"Leef in verwagting dat die dag van God kom ..." (12). Ons moet uitsien na die dag — en dit moet 'n beheersende rol in ons lewens speel.
Kan mens uitsien na so 'n skrikwekkende gebeurtenis? Inderdaad! Ons verwag, sê v.13, 'n nuwe hemel en aarde, waar die wil van God sal heers. Daar sal geen sonde meer wees nie. Trouens, ons sal nie meer kán sondig nie.
Kan daar 'n heerliker belofte in die Skrif wees? Dink net, daar sal nie meer siekte of dood of armoede wees nie, geen wanhoop en verhoudingsintriges nie. En geen sonde nie.
Nee, daar sal vrede en vreugde en liefde en algehele vergenoegdheid wees. En dit sal vir ewig en ewig aanhou, sonder ophou!
En bowenal, ons sal by die Here wees. Ons sal Hom 'n duisend maal beter ken as nou; trouens, ons sal soos Hy word (1Joh 3:2).
Waarlik, laat ons die afsluiting van die Bybel gereeld bid:
"Amen! Kom Here Jesus!"
(Op 22:20).
><(((*>
Nico van der Walt
T: +27 082 848 9396
E:
YouTube: Nico van der Walt - Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev