Preekopname: https://tinyurl.com/4rnuh2fm (Preek begin 22:15)
As ons die woord "heerlikheid" hoor, dink ons aan glans, en luister, en majesteit. En dis nie verkeerd nie. Die Bybel praat dikwels só daaroor. Maar is dit waarvan Johannes híér praat?
Die apostel bied immers "heerlikheid" in hierdie vers aan as aan die hart van wie en wat Jesus was – maar in sy evangelie, anders as Matteus, Markus en Lukas, maak hy géén melding nie van die één, en sekerlik onvergeetlike geleentheid waar hulle Jesus gewis wel in glans en majesteit gesien het – op die berg van verheerliking (Matt 17:1vv). Voorts is dit so dat die Here Jesus se lewe veeleerder gekenmerk is deur eenvoud en nederigheid as deur luister en vertoon. Dís trouens wat die apostels oor en oor beklemtoon. Laat ons daarom deeglik na ons teks kyk.
Hy het onder ons gewoon
# Johannes se werkwoord, dat die Seun onder ons gewoon het, is 'n insiggewende sleutel. Basies beteken die woord om tent op te slaan, of in 'n tent te bly. Hy sê dus dat die Woord by ons in 'n tent gewoon het – Hy het onder ons "getabernakel".
# Nou dink baie mense dat Johannes met hierdie woordkeuse wil sê dat Jesus net vir 'n kort tydjie by ons gebly het. Natuurlik was Hy net tydelik hier op aarde. Maar Johannes gebruik ook hierdie woord om van permanente bewoning te praat – spesifiek in die hemel. En wat is meer permanent as dit? (vgl. Op 7:15; 12:12; 13:6; 21:3).
God se "shekina"
# Johannes se manier van sê sou die tipiese Jood nie laat dink het aan 'n tent nie, maar aan díé tent. Voor die tyd van die tempel het die tabernakel 'n sentrale rol gespeel in die godsdiens van Israel. En hierdie tabernakel was basies 'n tent wat op- of afgeslaan kon word. Daar is dikwels ook na verwys as die "tént van samekoms" (OAV) of "ontmoeting" (NAV; 2020) (Eks 40:34-38).
# Die heerlikheid van die Here het die tabernakel sigbaar gevul toe dit in gebruik geneem is. Daarna het dit meermale gebeur (Lev 9:23; Num 14:10). In die Joodse gemoed was die tent van ontmoeting, en later die tempel (1Kon 8:10-11) – die plek waar die Here se heerlikheid gewoon het. Tot so 'n mate was die twee dinge vir hulle verbonde dat daar in die buite-Bybelse Joodse wêreld 'n woord ontstaan het wat beide in 'n enkele idee saamvat. Dis die woord "Shekina". Dit is nóú verwant aan die Hebreeuse woord vir tent, en dui op die heerlikheid van God in die tempel – soos aan mense gemanifesteer.
# Presies hierdie twee begrippe word deur Johannes in v.14 saamgebind: "om in die tent of tabernakel te woon" en "heerlikheid". Daarmee sê hy:
Die heilige heerlikheid van die Here,
wat meermale in Ou Testamentiese tye in die tabernakel en tempel aan die volk getoon is, het ten volle oopgeblom in die persoon, lewe en werk van Jesus,
terwyl Hy as mens op aarde onder ons gewoon het
Die heerlikheid van nederigheid
# Hoe sien ons God se heerlikheid in Christus, veral soos Hy hier op aarde gewoon en gewerk het? Wat het die dissipels beleef? Dit is wat Johannes in sy evangelie beskryf. En anders as wat mens dalk sou verwag, skets hy nie vir ons 'n magtige en glansryke vors van heerlikheid wat triomfantelik vyand na vyand onderwerp nie. Nee, hy (en ook die ander drie evangeliste) teken vir ons 'n nederige man wat na jare van handearbeid in die armoedige platteland van Gallilea, Sy lewe in algehele selflose diensbaarheid neerlê vir Sy medemens.
+ Wat sien ons in die evangelie van Johannes? Ons sien hoe Jesus vreugde bring vir 'n klomp eenvoudige en arm arbeiders tydens 'n troue in Kana. Ons sien hoe Hy tyd deurbring om 'n veragtelike en onsedelike Samaritaanse vrou die pad na die ewige lewe te wys. Ons sien hoe Hy 'n sterwende seuntjie gesond maak; hoe Hy 'n blinde man laat sien; hoe Hy die dooie Lasarus weer lewendig maak. Ons sien hoe Hy kos gee vir duisende hongerige armes. En so kan ons aangaan.
+ Wanneer mense hulp nodig het, help Hy hulle. As hulle siek is, maak Hy hulle gesond. As hulle onkundig is, leer Hy hulle. As hulle honger is, gee Hy vir hulle kos.
Deurgaans soek Hy mense in nood – die wat weet hoe algeheel afhanklik hulle van God se genade is, die wat honger en dors na dit wat reg is. Deurgaans tref ons Hom tussen sulke mense aan. In paleise kry ons Hom nie. En die drumpels van selfvoldane rykes trap Hy nie deur nie. Nee, soos Lukas dit stel: Hy het "gekom om te soek en te red wat verlore is" (Luk 19:10. Vgl. ook Matt 18:11).
+ En reg aan die einde van Sy lewe gee Hy vir Sy dissipels 'n aanskouingsles wat hulle nooit weer sou vergeet nie. Die aand voor Sy kruisiging was Hy in die bovertrek hulle voete. Hy doen wat die geringste van 'n huishouding se slawe moes doen as daar gaste vir 'n maaltyd gekom het. Hierdie aand is daar nie so 'n slaaf nie, en die Here staan vir hom in. Maar dit gaan nie oor vuil voete nie. Jesus se eie voete is nooit gewas nie. Nee, dit gaan oor selfaflegging en diensbaarheid.
Maar hier hou dit nie op nie. Vir Sy volgelinge sê Jesus dan: "Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek ís dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen" (Joh 13:12-17).
Die hoogste verheerliking
# Dis hoogs betekenisvol dat die Here Jesus by ten minste twee geleenthede in Johannes na Sy komende kruisdood as Sy "verheerliking" verwys. In Joh 12:23 sê Hy: "Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word." En in Sy Hoëpriesterlike gebed bid Hy: "Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik" (Joh 17:1).
Hoe moet ons dit verstaan?
# Destyds is die kruis met afsku bejeen.
Die Romeine het slegs in uitsonderlike gevalle van hoogverraad hulle eie burgers op hierdie heel wreedste manier tereggestel. En wat heidene betref, het hulle dit as 'n reël beperk tot moordenaars, rebelle en gewapende rowers.
Voorts, die Jode het geen onderskeid gemaak tussen 'n boom en 'n kruis nie. Om opgehang te word, en om gekruisig te word, was vir hulle ewe skandelik en veragtelik. Hulle het dus geglo dat die vloek van Deut 21:23 op elkeen rus wat gekruisig word: "wie opgehang word, is deur God vervloek."
Dit verklaar waarom hulle nie kon aanvaar dat die Messias só sou sterf nie.
Tog, vir ons wat die hele Nuwe Testament het en ken, en God se raadsplan verstaan, is dit nou duidelik: Nooit het die Here Jesus Sy mense met groter oorgawe en meer diepgaande effekte gedien nie, as toe Hy Homself ter wille van hulle aan hierdie ergste van alle verskrikkinge oorgegee het – toe Hy Homself onderwerp het aan hierdie mees veragtelike manier van sterf.
# Sien jy dit?
Die heerlikheid wat die apostels in Jesus se lewe gesien het
was die heerlikheid van selflose liefde en diensbaarheid
Die kruis, ja, die krúís – vloekhout
was 'n troon van heerlikheid!
Enkele punte van toepassing
1. Elke Christen het die onontkombare roeping om 'n lewe van selfaflegging te leef
Die boodskap is duidelik; die roeping onontkombaar. Ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen. Máár ware, reddende geloof moet, nee, sál altyd uitmond in goeie werke. En as ons hierdie goeie werke in 'n neutedop moet saamvat, dan is dit selfafleggende diens vir die Here, en ter wille van andere.
Wie is hierdie andere? In die eerste instansie die Here self, maar dan ook ons broers en susters in die Here, trouens, álle mense met wie ons te doen kry.
Hierdie waarheid was op Johannes se hart gegrafeer. Hy het dit nooit vergeet nie. In sy eerste brief skryf hy: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Joh 2:6). Hierop kom dit dus neer vir 'n "Christen": Óf jy lewe dit uit in integriteit. Óf jy is 'n huigelaar. En dan is jou geloof níé die ware Jakob nie. En let op, ons praat van méér as plig; ons praat van 'n noodwendige merkteken van wedergeboorte.
Onthou julle, Johannes sê vir ons waarom hy hierdie brief skryf: "Hierdie brief skrywe ek vir julle sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het ..." (1Joh 5:13). Maar dan skryf hy ook: "Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood ... Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het Sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê" (1Joh 3:14-16).
2. Dis waarom ons van die "bediening" praat
Baie dikwels as mense van die "bediening" praat, dink hulle in terme van status, geleerdheid, titels en selfs spesiale ampsdrag.
Niks kan verder van die Bybelse idee wees nie! As die Here iemand roep om 'n voorganger in Sy gemeente, of 'n sendeling te word, bedoel Hy dat so 'n persoon sy lewe vrywillig moet slyt in slawerny – 'n begrip wat dikwels in die Nuwe Testament gebruik word vir Christelike dienswerk. En laat ons onthou, slawe het nie regte of byvoordele nie – en allermins het hulle status.
3. Hier is díé merkteken van ware kerkwees
Té maklik word dit aanvaar dat elke groep mense wat sê dat hulle 'n gemeente is, inderdaad ware kerk van Christus is. Maar 'n tabernakel waarin Christus in Sy heerlikheid woon, word noodwendig – sonder uitsondering – gekenmerk deur lidmate wat in nederige diensbaarheid hulle lewens vir mekaar aflê.
Waar selfsug en eiesinnigheid nog aan die orde van die dag is
het jy nie kerk nie
maar 'n rowerspelonk van huigelaars
Waarom het ons hier 'n onfeilbare suurtoets vir ware kerkwees? Waarom verheerlik só 'n dienende gemeente dan vir Christus? Omdat net Hý die wonder van wonders kan doen: Om 'n klomp selfsugtige sondaars só te herskep dat hulle in liefde hulle lewens vir mekaar neerlê.
Onthou dit altyd:
ware heerlikheid word nie gevind in glans, vertoon en luister nie
maar in nederigheid en selfafleggende dienswerk
><(((*>
Nico van der Walt
Tel: 082 848 9396
Epos:
www: http://www.imagodei.co.za/
YouTube: Nico van der Walt – Imago Dei
YouTube direk: https://tinyurl.com/69suvbev